God se wonderlike bevryding van sy gesalfde Dawid uit die hande van die moordlustige koning Saul.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-11-17
Teks: 
I Samuel 19
Preek Inhoud: 

1 Samuel 19

Ds C Kleyn - Sondag 17 November 2002

Lees:

1 Samuel 19.
Sing: Ps 23:1,2 (2de beryming); Ps 23:3; Ps 34:5,6; Ps 34:1,2,4; Ps 68:1,2.

Tema: God se wonderlike bevryding van sy gesalfde Dawid uit die hande
van die moordlustige koning Saul.

 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat ’n kontras tussen die laaste sin van 1 Sam 18 en die eerste sin van 1
Sam 19. Hoofstuk 18 sluit af met die woorde: "En die vorste van die
Filistyne het uitgetrek; en so dikwels as hulle uittrek, het Dawid meer
voorspoed gehad as al die dienaars van Saul, sodat sy naam hooggeëerd
was." Hoofstuk 19 begin met die woorde: "Daarna het Saul met sy seun
Jonatan en met al sy dienaars gespreek om Dawid dood te maak". Saul se
vorige komplot teen Dawid se lewe het misluk. Pleks om deur die Filistyne gedood
te word, oorwin Dawid die Filistyne. Die gevolg is dat Dawid meer as voorheen
deur sy volkgenote geëer word. Hy verkry groot aansien.

Dit maak Saul nog meer desperaat. Hy gaan ’n stap verder in sy haat teen
Dawid. Behalwe die twee uitbarstinge van woede teen Dawid toe hy sy spies na
Dawid gegooi het, het Saul tot nou toe nog geprobeer om sy haat teen Dawid te
verberg. Hy het nie aan sy offisiere laat weet wat sy ware motiewe was om Dawid
teen die Filistyene te stuur nie. Hy het nie verklap dat hy gehoop het dat Dawid
deur die Filistyne gedood sou word nie. In hoofstuk 19 is die situasie egter
anders. Saul praat nou openlik oor sy plan om Dawid dood te maak. Ja, hy praat
daaroor met sy seun Jonatan en met al sy dienaars. Hy noem dit as ‘t ware
tydens ’n kabinetsvergadering en plaas dit op sy politieke agenda. Dawid moet
doodgemaak word.

Geliefdes, as u ’n opskrif aan hierdie hoofstuk wil gee dan kan u praat van
Saul se verharding van hart in sy haat teen Dawid. Hier sien u die vyandskap van
die slang teen die saad van die vrou. Hier sien u Satan in sy vyandskap teen die
Christus. Die haat teen Dawid is ’n haat teen Dawid se groot Seun Jesus
Christus. Satan is daarop uit om te voorkom dat die verlosser Jesus Christus
ooit gebore sal word. Tegelykertyd sien ons God se oorwinning. God is in beheer.
Hy beskerm sy kneg Dawid. God laat nie toe dat Saul en deur hom satan sy werk
van verlossing blokkeer nie. Saul mag dan spiese na Dawid gooi en probeer om hom
te arresteer om hom dood te maak, maar die verlossingsdoele van God word eerder
bevorder as om gehinder te word. God hou soewerein die pad oop en baan die weg
vir Dawid se koningskap en die ewige koningskap van Dawid se Seun en Heer, Jesus
Christus. Broeders en susters, dis die dinge waarop julle moet let wanneer julle
hierdie hoofstuk lees. Aan die een kant sien ons dat Saul verhard in sy
vyandskap teen Dawid. Aan die ander kant sien ons dat God Dawid op wonderlike
manier beskerm en so ook ons verlossing veilig stel.

Ek vat die boodskap saam met die woorde: God se wonderlike bevryding van sy
gesalfde Dawid uit die hande van die moordlustige koning Saul.

Broeders en susters, stel jou voor dat jy een van Saul se dienaars was, aan
wie Saul sy plan om Dawid dood te maak bekend gemaak het. Sou jy jou nie diep
skaam vir so ’n koning wat homself deur jaloesie laat beheers nie. Moet so
’n koning aan God se volk leiding gee? Salomon vertel ons in Spr 25:28:
"’n Afgebreekte stad sonder muur, so is ’n man wat sy gees nie kan
inhou nie," iemand wat homself nie kan beheers nie. So weerloos soos ’n
afgebreekte stad sonder muur! Dis ’n skerp woord, veral wanneer dit ’n
koning betref. Want in Israel was die koning ’n persoon van wie die mens iets
positiefs verwag het, die gesalfde van die Here, ’n voorloper van die
Christus. Maar nou hoor jy hierdie koning openlik oor sy moordadige planne
praat, en dit teen die een wat werklik ’n godgegewe verlosser is.

Dis verbasend dat geen van Saul se dienaars protesteer wanneer Saul sy
moordadige planne bekendmaak nie. Miskien is dit nie so verbasend nie. In sulke
situasies kan vrees jou maklik beheers, vrees vir jou eie lewe en posisie. As
Saul so vasbeslote is om Dawid dood te maak, kan hy jou ook doodmaak, indien jy
durf om Dawid te verdedig. Miskien kan jaloersie ook ’n rol speel. Dis nie
altyd maklik om te sien dat een van jou kollegas so suksesvol en populêr word.
Om dit te kan waardeer moet jy nederig en dankbaar teenoor God wees, moet jy
werklik geestelik wees.

Hoe dit ook is, ons lees slegs van Jonatan dat hy teen Saul se plan om Dawid
dood te maak protesteer. Jonatan waarsku Dawid vir sy pa se bose bedoelings. Wat
’n heilige ironie. Die Here gebruik Saul se eie seun om Dawid uit Saul se
hande te red. Jonatan pleit ook vir Dawid by sy vader. Dis pragtig om te sien
hoe hy as ’n ware vriend van Dawid voorspraak vir Dawid doen, met die gevaar
dat hy Saul se woede oor homself uitroep. Hoe kosbaar is dit om so ’n vriend
te hê! Dit moet vir Dawid ’n groot bemoeding gewees het. ’n Straal lig in
’n donkere situasie. ’n Teken van God se goeie sorg.

Jonatan se voorbede is ’n sterke waarskuwing vir Saul. "Laat die
koning hom tog nie besondig aan sy dienaar Dawid nie, omdat hy nie teen u
gesondig het nie." Jonatan wys ook daarop dat dit nie tot sy voordeel en
tot voordeel van sy land is om Dawid dood te maak nie: "omdat sy handelwyse
u geheel ten goede kom." Die sterkste argument is egter: dink aan wat die
Here deur Dawid gedoen het. "Hy het sy lewe gewaag en die Filistyn
verslaan, en die Here het aan die hele Israel ’n groot oorwinning besorg. U
het dit gesien en u was bly." Dis ook die sterkste waarskuing vir Saul.
Indien hy sy plan deurvoer om Dawid dood te maak, dan weerstaan hy God se werk
van verlossing. Dit sou ’n baie ernstige misdryf wees veral vir ’n koning
van Israel. Dit sou werklik antichristelik wees. En Saul kan nie agter onkunde
skuil nie. Hy het die werk van die Here gesien en was bly daarmee. Ook al was
die vreugde gou gemeng met naywer. Maar Saul was bly met wat God deur Dawid
gedoen het. "Waaarom sal u dan aan onskuldige bloed u besondig deur Dawid
sonder oorsaak dood te maak?"

"Sonder oorsaak’, hier hoor ons ’n ego van die lyding van ons Here
Jesus Christus wanneer Hy die woorde van Ps 69 op homself toepas: "Hulle
het My sonder oorsaak gehaat" (Joh 15:25). Saul het geen wettige rede om
Dawid te wil doodmaak nie. Dieselfde is waar vir die wêreld wat Christus en sy
kerk bestry. Die kerk is nie sonder sonde nie, maar wanneer jy oordink waarom
die kerk deur die hele geskiedenis heen vervolg is, dan moet jy sê: sonder
oorsaak. Dit was die vyandskap van die slang teen Christus en sy kerk.

Jonatan laat die waarskuwingsligte flikker. Pa, pasop! Gaan nie voort met u
planne nie. Waarom sou u teen Dawid sondig, ja, erger nog, waarom sou u teen God
sondig, teen God wat deur Dawid so ’n groot oorwinning gegee het. Jonatan se
voorbede is suksesvol. Saul los sy plan, tenminste vir die oomblik. Hy lê selfs
’n eed af: "So waar as die Here leef, hy sal nie gedood word nie."
’n Ander voorbeeld van ’n haastige en onbesonne eed. Dit was nie nodig nie
en dit word nie ondersteun deur ’n egte verandering van hart nie. Die vervolg
wys hoe waardeloos die koning se eed is. Hy verbreek sy eed net so maklik as wat
hy dit gemaak het. Dit kan ons waarsku om nie groot vertroue te stel in die
vrome uitsprake van onbekeerde mense nie. Die beloftes van wêreldse leiers blyk
later dikwels waardeloos te wees. Deur ’n eed af te lê het Saul sy
toekomstige optrede teen Dawid feitelik baie ernstiger gemaak. Dit word eedbreuk
wat God se oordeel uitroep.

Dawid keer weer terug in die diens van die koning. Dawid aanvaar ootmoedig sy
posisie in Saul se diens. Dis wel opvallend na wat gebeur het. Sou jy iemand bly
dien wat jou troue insette nie kan waardeer nie, wat jou misbruik het en selfs
geprobeer het om jou dood te maak? Dawid gee sy posisie nie op totdat dit baie
duidelik geword het dat daar geen keuse meer is nie en hy moet vlug. Dawid werk
vir die welsyn van sy koning en van sy volk so lank as dit moontlik is. Wat ’n
bewys van vertroue op die Here. Wat ’n bewys van ware ootmoed. Hy speel selfs
opnuut die harp vir Saul. Met soveel militêre suksesse op sy naam sou jy kon
verwag het dat Dawid dit benede sy waardigheid sou beskou. Maar Dawid beskou
geen dienswerk te laag vir hom nie. Solank as hy maar diensbaar kan wees, aan
ander goed kan doen.

Maar geliefdes, ’n nuwe oorwinning oor die Filistyne wek opnuut die koning
sy jaloersie en woede op. Hy gee aan die duiwel weer ’n plek in sy lewe (sien
Ef 4:26,27). So kom ’n bose gees weer oor Saul en gooi hy sy spies weer na
Dawid toe. Waar daar geen egte verandering van hart is, waar jy jou nie aan God
se genade en Gees oorgee nie, daar misluk selfs die beste voornemens. Jy het dan
geen krag om die nuwe versoeking te weerstaan nie en satan kan sy sin kry.

Hoe wonderlik is die sorg van die Here vir Dawid. Hoewel onsigbaar, hoe reeel
is sy beskermende arme. Niks kan hom beseer, sonder die liefde van sy Vader nie.
Wat ’n vrede en rus bring dit wanneer jy in geloof besef dat die engel van die
Here ’n laer trek rondom die wat Hom vrees en hulle red (Ps 34:7) Mense kan
vol van haat teen jou wees, satan kan te kere gaan en jou verderf soek, maar nie
’n haar van jou kop kan val, sonder die wil van jou hemelse Vader nie.

Ontstel deur sy mislukte poging tot moord, stuur Saul manne na Dawid sy huis
om hom dood te maak. Hierdie keer is dit die koning se eie dogter Migal wat
Dawid red. Net soos haar broer Jonatan kies sy Dawid se kant. Haar trou vir haar
man is lofwaardig. Maar sy is nie so geestelik as haar broer Jonatan nie. Sy hou
van Dawid maar is nie so prinsipieel nie. Sy help op ’n manier waarop
ongelowiges kan help. Die noem van ’n huisgod wat sy gebruik om die koning se
manne te mislei is waarskynkik ’n indikasie van hoe sy is. Wanneer Saul haar
konfronteer met haar bedrog, maak sy gebruik van ’n leuen, wat Dawid in ’n
slegte lig plaas. "Hy het vir my gesê: Laat my gaan, of ek maak jou
dood." Asof Dawid haar met die dood sou gedreig het. Sy probeer om haar eie
lewe te red deur olie op die vuur van haar pa se haat teen Dawid te gooi. Nerens
gee sy blyk van vertroue op die Here vir die veiligheid van haar man of haarself
nie.

Terselfdetyd, moenie vergeet dat dit deur haar moed is dat die Here Dawid se
lewe wou red nie. Dit moet vir Migal tog baie moed gekos het om teen haar eie pa
in te gaan, haar pa wat grillig en soos ’n tiran kon optree. Laat ons bid dat
as ons ooit voor so ’n proef kom te staan, ons in staat sal wees om volkome op
die Here te vertrou en goddelike woorde te spreek.

Geliefdes, waar soek Dawid sy toevlug nou hy in die paleis of by die huis nie
meer veilig is nie? Dawid gaan na die man wat hom gesalf het en aan hom die
beloftes van die Here bekend gemaak het. Dawid gaan na die predikant, die
profeet Samuel. Dawid soek die Here se leiding en krag. Watter beter plek kan jy
as kind van God, as die Here se gesalfde, na toe gaan vir raad en troos?

Saam met Samuel gaan Dawid na Najot. Waarskynlik is Najot nie ’n plek nie,
maar ’n kamp of ’n kompleks van geboue waar profete saamgewoon het,
profetekwartiere. Jy sou dit kan vergelyk met ’n teologiese skool met ’n
koshuis, ’n skool vir profete. In die tyd van die rigters was die profetiese
woord skaars in Israel. Daarom het Samuel manne rondom hom vergader wat
hulleself gewei het aan die bestudering van God se woord. God is besig om
reformasie onder sy volk voor te berei, deur sy gees, deur sy profete.

Drie maal stuur Saul manne na Najot om Dawid gevange te neem. Elke keer
ontmoet hulle ’n groep profete wat profeteer met Samuel as hul leier. Die
profete is oorweldig deur God se Gees. Hulle is buite hulleself in ekstase. Met
groot entoesiasme, wat hulle hele liggaam betrek, prys hulle die magtige dade
van God. Dit is ’n sigbare aktiwiteit van die Heilige Gees, ’n teken van die
nuwe begin wat God besig is om te maak. Die nuwe periode word ingelui, die
periode van die koningskap, wat onder Dawid sal floreer . Op ’n vergelykbare
wyse het God sy krag en heerlikheid in die vroeg christelike kerk gewys, toe
Christus ’n nuwe begin gemaak het: mense was buite hulleself en het in tonge
gespreek, oorweldig deur die Gees.

Wel, wanneer Saul se manne hierdie profete in Rama ontmoet, terwyl hulle
profeteer, gebeur wonderlike dinge. God se Gees gryp in. God se Gees kom tot
Dawid se hulp. Die Gees is soos ’n muur rondom Dawid. Dit is een van die mees
intrigerende en misterieuse ingrypings van God se Gees wat in die Bybel genoem
word. Saul stuur sy manne na Dawid om hom gevange te neem. Hulle kry hom nie in
hande nie. Pleks daarvan word hulleself gevange geneem deur die Heilige Gees.
Hulle begin om self te profeteer. Hulle het geen keuse nie. Hulle is profete
ondanks hulleself. Hierdie gebeure moet ’n duidelike boodskap vir Saul wees:
jou stryd teen Dawid is ’n stryd teen die Gees van profesie. Deur Dawid aan te
val is jy besig om die Heilige Gees te weerstaan.

Maar kyk hoe hardnekkig Saul se hart is. Hy het sy hart in sonde verhard. God
het hom drie keer gewaarsku: besef tog waarmee jy besig is, wie teen Dawid veg,
veg teen My. Deur die berigte wat hy van sy manne gekry het, kon Saul weet dat
die Gees van die Here Dawid beskerm. Maar tot twee keer toe stuur hy nuwe
soldate om Dawid gevange te neem. En na die derde keer besluit hy om self te
gaan. As die manne Dawid nie gevange neem, dan sal hy dit self gaan doen.

Maar kyk wat gebeur. Selfs voordat hy in Najot aankom, neem die Heilige Gees
hom gevange sodat hy ook begin profeteer. Saul word gereduseer tot volkome
hulpeloosheid deur ’n profestiese ekstase. Hy verloor beheer oor homself. Hy
is so ekstaties dat hy sy koninklike mantel uittrek en in sy onderklere of selfs
volkome naak op die grond lê ’n hele dag en nag. Daar lê hy op die grond,
heeltemal verneder, letterlik gevel deur die Heilige Gees. Dis hoe die Here met
sy vyande handel.

Uit hierdie geskiedenis is dit duidelik dat Saul se profetiese ekstase net
’n uiterlike saak is. Sy hart is nie geraak nie. Sy hart bly ewe boos as
voorheen. Dit moet ’n duidelike waarskuwing wees vir hulle wat beindruk raak
deur die ekstase wat soms binne die charismatiese beweging voorkom. Dink aan die
sogenaamde Toronto blessing van die negentiger jare. Mense het op die grond
geval in sogenaamde heilige gelag, in ekstase. Van hulle is gesê dat hulle deur
die Gees van God gevel, geslaan is. Wel, as jy die geskiedenis van ons teks
sien, dan besef jy dat dit nie noodwendig ’n positiewe ervaring is om deur die
gees van God gevel te wees nie. Dit was vir Saul ’n vernederende ervaring. Hy
sou dit liewer nooit meegemaak het nie. En so ’n ervaring impliseer nog nie
’n verandering van hart nie.

Saul word deur die Gees van God gevel, geslaan. Hy is skuldig aan die sonde
waarvan Stefanus jare later die Jode beskuldig: "Julle hardnekkiges en
onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos
julle vaders, so ook julle" (Hand 7:51). Saul is besig om die Heilige Gees
te weerstaan, die Gees van profesie, die profetiese woord. Hy beskou sy eie
insigte en drifte as belangriker as God se Woord. Daarom word hy ’n felle
vyand van God se gesalfde koning. As jy jou eie insigte, jou eie gevoelens, jou
eie wysheid en vermoëns bo God se Woord en wil verhef, volg jy dieselfde pad.
Dan word jy ’n vyand van God se gesalfde koning, wat Dawid se troon bestyg
het, Jesus Christus self.

Dit is Saul se sonde. Sy stryd teen Dawid is ’n stryd teen Chrsitus. En die
gees van Saul is nog nie dood nie. Dis die gees wat hom nie aan God se woord wil
onderwerp nie. Daar is net een ding wat jou teen die gees kan beskerm: dit is
die woord van God. Dawid het dit in die profetekwartiere gevind, by die
bedienaars van God se woord van die dae. Christus het die versoeking van die
vader van die leuen weerstaan deur sy toevlug in God se woord te vind:
"Daar is geskrywe … daar is geskrywe…daar is geskrywe." Laat die
woord van God jou toevlug en beskerming wees teen die versoekings van die bose.
Moenie die Gees van God weerstaan nie, maar onderwerp jou aan Hom. Onderwerp jou
aan sy Woord.

Saul het na Rama gegaan in vertroue op sy eie krag om Dawid, die man van God,
gevange te neem. Die Gees het hom weerhou, het hom teen sy eie wil laat
profeteer , het hom op die grond gegooi in uiterste hulpeloosheid ’n volle dag
en nag,

So leef die ou gesegde weer op: Is Saul ook onder die profete? Die gesegde
het eers ontstaan kort na Saul se salwing, by die begin van sy koningskap. Dit
was ’n uitdrukking van blye verrassing. Dat Saul onder die profete ook
geprofeteer het, was ’n godgegewe teken dat God hom werklik gekies het om
koning te wees en dat God hom tot sy taak wou toerus. Mense was verras toe hulle
so ’n dramatiese en onverwagse verandering in Saul se gedrag gesien het. Hulle
was so verras dat hulle uitgeroep het: Is Saul ook onder die profete?

In ons teks word die gesegde herhaal. Maar wat ’n verskil in konteks en
betekenis. Aanvanklik was dit ’n positiewe uitdrukking van verrassing,
verrassing oor God se bekwaammakende genade vir Saul. In die huidige konteks het
dit ’n negatiewe klank. Saul is gevel deur die Gees, verneder lê hy daar op
die grond, sonder enige waardigheid. Is Saul ook onder die profete, is nog ’n
uiting van verbasing, maar nou is dit ’n uiting van verbasing oor God se
optrede teen sy vyande. Kyk hoe hierdie groot, sterk man geval het, gevel deur
die Gees van God omdat hy God se werk weerstaan het.

Broeders en susters, hoe bemoegend moet hierdie ervaring vir Dawid gewees
het. Dis ’n ervaring wat jy nooit vergeet nie: God se Gees gryp in en
elimineer die gevaaarlikste vyand. God se gees trek waarlik ’n laer rondom die
wat hom vrees en red hulle uit. Met die versekering begin Dawid sy tyd van
vlugteling wees. Sy lewe is veilig by die Here. Niks kan met hom gebeur sonder
die wil van die Here nie. Saul kan sy lewe bedreig, maar God se bedoelings sal
vervul word. Saul en deur hom Satan mag probeer om die koms van die messiaanse
koning Jesus Christus te verhinder, God se plan van verlossing sal seevier. Alle
skepsels is so volkome in sy hand dat hulle hulle sonder sy wil nie kan roer of
beweeg nie. Wat ’n bemoediging ook vir ons, broeders en susters. In hierdie wêreld
van onsekerheid en boosheid het ons as gelowiges elke rede om vol vertroue voor
God en die mense te wandel. God is in beheer. Hy is naby hulle wat Hom liefhet.
Sy planne sal uitgevoer word. Sy koninkryk sal kom.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)