Sagaria se gesig van die goue kandelaar en die twee olyfbome.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-11-24
Teks: 
Sagaría 4
Preek Inhoud: 

Sagaria 4

Ds C Kleyn - Sondag 24 November 2002

Lees:

Sagaria 4.
Sing: Ps 135:1,2; Ps 135:3,4; SB 27:4,5; SB 14; Ps 134:4; Ps 133.

Tema:


Sagaria se gesig van die goue kandelaar en die twee olyfbome.

  1. Die Gees doen dit; en
  2. Die Gees maak daarby gebruik van mense.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons mag in hierdie diens drie ouderlinge bevestig. Drie gewone broers moet
skielik as onderherders van Christus leiding aan die gemeente gee. Hulle moet
die lidmate van die gemeente getrou opsoek en pastoraal versorg. Geen eenvoudige
taak nie. Wie is daartoe in staat? As ampsdraer voel ’n mens homself soms, of
selfs dikwels, onttoereikend vir die taak. Ja, waar is ons as ampsdraers eintlik
mee besig? Watter waarde het die werk van die ampsdraer wat getrou die lidmate
van sy wyk besoek? Wat sien jy van die vrugte daarvan? In die gemeente en in God
se koninkryk? Moet jy daarvoor jou vrye aande opgee en jou so inspan?

So kan ons ook noem die amp van alle gelowiges. Wat kan ons as individuele
gelowiges nog bereik in God se kerk en koninkryk? Het al ons inspanning en
arbeid binne en buite die gemeente wel waarde? Wat beteken ons kerke in die
suid-afrikaanse kerklike wêreld? Ons kerkverband is baie klein in vergelyking
met die drie groot afrikaanse susterkerke. Wat kan ons maak in so ’n groot
land wat deur allerlei moderne en postmoderne gedagtes oorspoel word? En as ons
dan goed kyk na ons gemeentes, dan is daar ook nog soveel dinge wat teleurstel.
Wat ’n sondes en swakhede. Watter toekoms het ons in so ’n groot land?

Gemeente, Sagaria ontvang opnuut ’n gesig van die Here. ’n Gesig om
hulle, wat besig is om die tempel en Jerusalem te herbou, te bemoedig. Ongeveer
5 maande terug het die teruggekeerde ballinge die herbou van die tempel hervat.
Hulle staan voor ’n geweldig groot taak. Dit lyk amper ’n hopelose saak. Wat
’n arme vertoning in vergelyking met die bou van die tempel in Salomo se dae.

Geliefdes, in sulke omstandighede mag Sagaria profeteer: die herstel van die
tempel sal voltooi word. Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê
die Here van die leërskare.

Ek verkondig vir u: Sagaria se gesig van die goue kandelaar en die twee
olyfbome.

  1. die Gees doen dit
  2. die Gees maak daarby gebruik van mense

Die engel wek Sagaria op om goed te let op wat hy sien. Wat sien hy? Hy sien
’n goue kandelaar met ’n oliekan bo-oor hom. Daar is 7 lampe met aanvoerpype
na die lampe. Twee olyfbome, een aan die regterkant en een aan die linkerkant
van die oliekan, sorg vir die voortdurende toevloei van olie.

Die goue kandelaar moet ’n bekende beeld vir Sagaria gewees het. Wie sou
nie dink aan die goue kandelaar in die tabernakel en aan die 10 goue kandelaars
wat in Salomo se tempel gestaan het nie? Kandelaars wat elke aand met olie
aangevul moes word om die hele nag te kan brand.

Die kandelaar met sy 7 lampe sal weer brand. Met ander woorde: die tempel sal
herstel word. Die verbondsgemeenskap met die Here sal weer tot volle uitdrukking
kom. Die lig van die kandelaar simboliseer mos die gemeenskap met die Here. Lig
is ’n teken van lewe. Nebukadnesar het die lampe gedoof. Hy het die tempel
verwoes. Vanweë die toorn van die Here. Maar nou sal die lampe weer brand in
’n herstelde tempel. Die Here sal die gemeenskap met sy volk volkome herstel.
Hy sal weer in hul midde woon.

Dis nie alles wat die gesig van die kandelaar ons wil leer nie. Indien dit
alles was, kon die Here volstaan het om vir Sagaria ’n herstelde tempel te
laat sien. Maar die Here laat Sagaria nie ’n voltooide tempel sien nie. Die
Here laat hom slegs een element van die tempel sien, naamlik die goue kandelaar.

Waarom juis hierdie onderdeel? Die Here verklaar dit vir Serubbabel: nie deur
krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare.

Die kandelaar teken op ’n sprekende manier die styl van God se koninkryk.
Om te kan brand het die lampe olie nodig. Daarom moes die priesters ook elke
aand die olie aanvul sodat die lampe deur die nag sou kan brand. Wel, in die
Bybel is olie voortdurend ’n teken van die Heilige Gees. Dink aan die salwing
van die profete, priesters en konings. Die olie wat oor hulle uitgegiet was, het
die krag van die Heilige Gees gesimboliseer. So het die kandelaar gedui op lig
en lewe deur die Heilige Gees.

Hierdie punt word verder benadruk deur die besondere eienskappe van hierdie
kandelaar. ’n Kandelaar met 7 lampe was ’n vertroude beeld. Sagaria moet
egter verras opgekyk het om bo-oor die kandelaar ’n oliekan te sien wat
voortdurend deur aanvoerpype van olie voorsien word. Dit moet ook vir Sagaria
opvallend wees dat daar twee olyfbome is wat aan weerskante van die kandelaar
die oliekan van olie voorsien.

Die 7 lampe van die kandelaar wat Sagaria sien, word nie daagliks deur die
priesters gevul nie, soos by die tabernakel en Salomo se tempel. Nee, die olie
toevoer word gereël deur ’n sisteem van pype. Die lampe word voorsien deur
die oliekan, wat weer deur die twee olyfbome wat God geplant het, voorsien word.

As verklaring hoor ons: nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees,
sê die Here van die leërskare. Baie bemoedigende woorde. ’n Klein oorblyfsel
staan voor die groot taak van die herbou van die tempel. Ongeveer 16 jare na
hulle terugkeer uit die ballingskap staan hulle slegs aan die begin daarvan. Sal
hulle ooit klaarmaak? Waar gaan hulle die mannekrag, die geld of die materiale
kry? Hulle ervaar teenstand en vyandskap van die mense rondom hulle. Die
belemmeringe is soos ’n berg voor hulle, ’n berg waar ’n mens nie oorheen
kan kom nie. Hulle het geen krag of mag nie.

Maar nou sê die Here van die leërskare, die Here wat alle magte en middele
tot sy beskikking het: dit is nie nodig nie. Dit is nie waaroor dit gaan nie.
Die kerk is nie ’n organisasie volgens die styl van die wêreld nie. Die kerk
se bestaan en krag is nie ’n saak van groot getalle nie, ook nie ’n saak van
briljante leiers nie. Die kerk se bestaan en krag is van bo.

Die wêreld is afhanklik van kragte van benede. Hulle is afhanklik van mense
wat kom en gaan, hulpbronne wat na ’n tyd opdroog. Maar die kerk is nie
afhanklik van die moontlikhede van die aarde nie: nie deur krag of deur geweld
nie. Nie deur ’n magtige leer of ’n geweldige organisasie nie, nie deur
groot menslike hulpbronne of groot finansiële hulpbronne nie. Nie deur krag,
deur fisiese krag nie, maar deur my Gees. Die tempel sal herstel word deur die
onoorwinlike krag van my Gees, sê die Here. Hoe brand die kandelaar? Deur die
olie van die Gees. Indien die Gees dit nie doen nie, kan ’n mens maak wat hy
wil, organiseer wat hy wil, maar dit sal tevergeefs wees. Die Gees moet dit doen
en sal dit doen. Deur my Gees sal die tempel herstel word. Deur my Gees sal die
kerk gebou en onderhou word.

Waar die Gees aktief is, daar staan jy verbaas oor wat skielik moontlik is.
Dan verbaas jy jou daaroor waar alles skielik vandaan kom, die mannekrag, die
geld, die materiale. Mense van God, die teenstand kan erg wees, maar laat
jouself nie aflei nie, gaan aan met die werk, voltooi die bou van die tempel in
my krag. Julle sien al die hindernisse soos ’n berg rys. As julle julleself
deur my Gees laat lei, dan sal die berge sommerso verdwyn. Die teks sê: wie is
jy groot berg? Wat is jy berg van vyandskap, teenstand, moeites, besware,
kleingeloof? Voor Serubbabel sal jy tot ’n gelykte word! Die Gees van God sal
die berge en heuwels gelykmaak. So sal die swak kerk van Sagaria se dae die
tempel voltooi onder die moeilikste omstandighede. Serubbabel sal die sluitsteen
te voorskyn bring onder gejuig.

Die gees van God maak die onmoontlike moontlik. Ongekende kragte kom vry.
Onoorwinlike kragte. Die Gees van God wek die gees van die bouers op sodat hulle
groot dinge kan doen. Die Gees neig die harte van die wêreld leiers sodat hulle
ondersteuning gee. Die Gees sorg vir die materiale en menslike hulpbronne. Hy
wek die Jode, wat in die land van ballingskap agtergebly het, op om hulle by die
tempel bouers in Jerusalem te voeg. So werk die Here aan sy huis volgens die
styl van sy koninkryk. So werk Hy ook vandag aan die bou van sy kerk. Wanneer
ons met die kerklike werk besig is, dan kan ons soms moed verloor. Wat ’n
werk! Wat ’n berg voor ons. ’n Berg van swakhede, bekommernisse, moeites,
kleingeloof. Ook die bespotting en laster van mense rondom jou.

Maar God laat ons weet: om jou taak te vervul is jy nie afhanklik van
menslike mag en krag nie, maar van my Gees. Hy gee wat nodig is vir die bou van
sy kerk. Hy sorg vir die middele en die mannekrag. Ons kan bekommerd wees oor
die toekoms van die kerk. Maar God beskaam dikwels ons vrees. Kyk maar na die
geskiedenis van die kerk, ook hier in Suid Afrika. Toe die mense deur die Gees
gedryf was, kon klein aantalle baie verrig. Die geld het gekom en die gewillige
hande. Die kerke en die skole is opgerig ondanks die feit dat die gemeenskap
kleiner was as dit nou is en dat hulle minder geld en besit gehad het as die
meeste van ons vandag. Die Gees het sorg gedra vir die bou van sy kerk.

Gemeente, die Gees doen dit. Dit was die eerste gedagte van die preek. Dit
beteken natuurlik nie dat ons agteroor kan sit om vir die Gees te wag om iets te
doen nie. As Serubbabel en sy tydgenote so sou gereageer het, sou niks van die
tempel tereggekom het nie. Nee, sê die Here: My Gees gaan dit doen, daarom
mense, aan die werk! In die krag van my Gees. Dit bring ons by die tweede
gedagte: die Gees maak daarby gebruik van mense.

Nadat die Here duidelik gemaak het dat sy Gees dit moet doen, praat Hy van
die hande van Serubbabel. "Die hande van Serubbabel het die fondament van
hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi." Met ander woorde:
Serubbabel sal die instrument van God se Gees wees.

God, die almagtige, kan dit natuurlik ook wel sonder die hande van Serubbabel
klaarkry. God het ons menslike hande nie noodwendig nodig nie. Tog, Hy wil nie
sonder ons hande dit doen nie. In die vergadering en onderhouding van sy kerk
maak God gebruik van swak en sondige mense soos u en ek. Ons hande is as t ware
sy hande. En deur die hande kom iets groots tot stand: die tempel sal voltooi
word, ja God se koninkryk sal voltooi word.

Die Gees gebruik dus swak en sondige mense kinders. Die werk wat hulle doen,
maak min indruk op die wêreld. Kyk maar na die tempel bou projek. Dis maar ’n
arme vertoning. Waar begin hulle aan? Die Jode self was ook nie vry van twyfel
en kleingeloof nie. Wat sal hiervan teregkom? In die situasie kom die Here met
die indringende vraag: "Wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie
sewe – die oë van die Here wat die ganse aarde deurloop – met blydskap die
skietlood aanskou in die hand van Serubbabel?"

Wie verag die dag van klein dinge? Wie sien die vordering van die tempelbou
as van min waarde? Veral onder die ouer Jode wat die heerlikheid van Salomo se
tempel gesien het, kon daar mense wees wat min van hierdie projek gedink het.
Ons hoor die profeet Haggai sê: "Wie is onder julle nog oor wat hierdie
huis in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En hoedanig sien julle dit nou? Lyk
dit nie net soos niks in julle oë nie? Nou dan, skep moed Serubbabel, spreek
die Here, en skep moed, Josua, hoëpriester, seun van Josadak, en skep moed,
julle almal, volk van die land, spreek die Here, en werk! Want Ek is met julle,
spreek die Here van die leërskare" (Haggai 2:3,4).

Die Here verag nie die armoedige begin nie. Sy oë sien alles. Hy sien die
tempelbouers besig en Hy is verheug. Laat die mense maar lag. Wie die laaste
lag, lag die lekkerste. God se sewe oë straal van vreugde. Want die dag van
klein dinge is die dag van die groot aktiwiteit van die Gees. Die klein dinge
lei tot groot heerlikheid. Luister maar opnuut na Haggai: "Die toekomstige
heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre, sê die Here van
die leërskare" (Hag 2:9).

Wie verag die dag van klein dinge? Durf u om die werk wat God se Gees deur
mensehande begin het, te verag? Die werk is vol dinamiek. Die krag van die Gees
is daarin. Dit kan nie gestuit word nie. Uit hierdie klein begin, sal iets
groots te voorskyn kom. Dink aan die les van die mosterdsaadjie. Die mosterd
saadjie is baie klein, maar kyk wat daaruit groei. Dis hoe dit gaan met die
koninkryk van die hemele.

Broeders en susters, mense lag oor die klein dinge. Hulle lag oor die kind
wat in armoede in Betlehem gebore is. Hulle lag oor die man van smarte op die
kruis. Hulle lag oor die vissers van Galilea wat die getuienis van Jesus
Christus deurgegee het. Hulle lag oor die klein kerke, oor die eenvoudig
ampsdraers wat getrou hul wyke ingaan, oor die eenvoudige lidmate van die kerk
wat die onfeilbare gesag van die Skrif verdedig. Hulle dink: die kerke, die
ampsdraers en die lidmate kan tog niks bereik nie; hulle stry vir ’n verlore
saak. Dis nuttelose inspanning.

Maar, geliefdes, die Gees sê: wie verag die dag van klein dinge. Wie durf om
die werk wat Ek besig is om te doen te minag? Wie durf om die eenvoudige werk
wat in getrouheid aan My gedoen word te kleineer? God sien die werk met sy 7 oë.
En Hy is bly met wat Hy sien.

Geliefdes, klein dinge, dit kan wys op die werk wat in stilte vir die Here
gedoen word. Die eenvoudige christelike getuienis in woord en daad. Die
onderlinge bemoediging en vermaan. ’n Mens hoef nie sterk en briljant te wees
om vir God belangrik te wees nie. Belangrik is dat ons aan God en sy Woord
getrou is. Ook in die eenvoudige, gewone dinge van die lewe..

Klein dinge, dit kan wys op die werk van die Christelike ma in haar gesin,
wanneer sy daar is vir die kinders. Wanneer sy die kinders uit die bybel vertel
of voorlees, wanneer sy hul leer om te bid. Wanneer sy die kinders leer om
eerbied vir God en sy Woord te hê. Onderskat nie die waarde van die christelike
opvoeding nie. Dit het ’n onvoorstelbaar groot krag in God se koninkryk.
Belangrike leiers in die kerk het dikwels die posisie kan bereik deur die troue
sorg en opvoeding van hul mas, toe hulle nog jonk was.

Klein dinge kan wys op enige werk in die gemeente of daarbuite wat in
getrouheid aan die Here verrig word. Ons kan dink aan die prediking, die
onderrig wat aan die kinders en jeug van die kerk gegee word, gesamentlike
bybelstudie, die omgee vir mekaar in woord en daad, dat die ampsdraers getrou
die mense in hul wyke opsoek en pastoraal ondersteun en opbou, die werk van
sending en evangelisasie, die werk onder verontrustes, ens, ens. Dit lyk klein
dinge te wees. Onbeduidend in die oë van die wêreld. Maar geliefdes, vergis u
nie. Die werk wat in getrouheid aan die Here gedoen word, het dinamiese krag.
God se Gees is aan die werk. En niks kan Hom in sy werk van kerkvergadering stop
nie.

Broeders en susters, Sagaria verstaan nog nie alles wat hy sien nie. Hy vra
daarom: "Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regter en linkerkant van
die kandelaar? En wat beteken die twee olyftakkies aan die kant van die twee
goue pype wat goud uit hulle laat uitstroom?"

Sagaria kry as antwoord: "Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van
die ganse aarde staan."

Die lampe van die kandelaar word voorsien deur twee dienaars van die Here.
Ons kan dink aan die twee leiers van daardie tyd: Serubbabel, die leier uit die
huis van Dawid, en Josua, die priester. Deur die arbeid van hierdie ‘koning’
en priester sal die kandelaar weer brand, sal die tempel voltooi word. God maak
gebruik van menslike ampsdraers.

Maar, geliefdes, hoe kan die twee ampsdraers as olyfbome in die olie
voorsien? Slegs omdat hulle self olie ontvang het. Hulle word uiteindelik
‘gesalfdes’ genoem. Hulle het die Gees van God ontvang om die Gees ook deur
te gee, om God se volk toe te rus en te versterk. Die Gees van God wil hulle
daarvoor gebruik. Daarom het God hulle ook geplant. Die twee olyfbome leef van
God. Hy onderhou en bewaar hulle. Hulle staan by die Here van die ganse aarde.

Geliefdes, die beeld van die twee olyfbome keer terug in Openb 11. Joh sien
twee getuies wat mag ontvang om 1260 dae lank te profeteer, die simboliese getal
vir die nuwe testamentiese bedeling. Die situasie het sedert Sagaria se tyd
verander. In Sagaria se gesig staan die twee olyfbome langs die kandelaar om dit
van olie te voorsien. Die Ou Testamentiese kerk is nog minderjarig en afhanklik
van ampsdraers. In Openbaring word die twee olyfbome ook twee kandelaars genoem.
Olyfboom en kandelaar het een geword.

Hoekom? Wel, Christus ons priester-koning het alle Ou Testamentiese salwing
vervul. Hy het die plek ingeneem van die priester Josua en die leier Serubbabel.
Hy het hulle twee ampte in homself verenig en vervul. En wat het hierdie
priester-koning Jesus Christus met Pinkster gedoen? Hy het sy Gees uitgestort op
alle vlees. So word elkeen van ons gesalfdes van die Here genoem. Daarom het die
olyfbome en kandelaars in Openb 11 een geword. Die kerk is soos ’n lamp wat
skyn in hierdie wêreld. Elkeen van ons het ligdraers geword. Dis ons groot
voorreg, maar ook ons roeping.

Ons word nou kandelaar genoem. Daarvoor het Christus ons sy lewendmakende
Gees gegee. Maar die Gees is nie verniet gegee nie. Hy het dit gegee sodat ons
as ligte mag skyn in hierdie wêreld. Die lig moet bly brand. Hoe ander sou
mense Christus as die lig kan herken?

Broeders en susters, ampsdraers, sien daar julle groot voorreg en
verantwoordelikheid. Vertrou julleself toe aan die Gees van Christus. Laat julle
in alles tog deur Christus se Gees en Woord lei. Onthou, dis nie deur krag of
deur geweld nie, nie deur menslike mag en intellegensie nie, maar deur die Gees
dat dinge bereik word. Dit lyk miskien min wat ons kan bereik, klein dinge
waarmee ons besig is. Maar onthou, God se 7 oë sien alle dinge. Die klein dinge
wat julle in getrouheid aan die Here en sy woord doen, is van groot belang vir
God se kerk en koninkryk. Dit het ook groot krag vanweë die Gees wat daarin en
daardeur werk. Julle mag medewerkers van God wees, kerkbouers. Julle is betrokke
by die grootste bouprojek wat ooit bestaan het, die bouprojek wat die eeue en
die volke oorspan. ’n Projek wat onstuitbaar lei na die volheid van God se
koninkryk. Sien daar julle heerlike voorreg en verantwoordelikheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)