Die ware geloof.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2002-10-06
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 7
Preek Inhoud: 

Sondag 7

Ds C Kleyn - Sondag 6 Oktober 2002

Lees:

Hebreërs 11:1-19; Sondag 7.
Sing: Ps 122; Ps 97:1,2; Ps 27:1,2; Ps 27:4,6; Ps 97:7.

Tema: Die ware geloof.

  1. Waarom dit nodig is;
  2. Wat moet ek daarvoor doen; en
  3. Wat is dit?

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat verwag jy van hierdie diens? Wat verwag jy van die preek? Hoe ervaar jy die diens? Iets wat jou nog warm nog koud maak? Is die preek iets wat jou onverskillig laat? Iets wat jou nie raak nie?

Geliefdes, elke mens wil graag iets beleef. Maar hoe dink jy sal jy hier iets beleef? Moet die predikant dit doen? Deur sy welsprekendheid of entoesiasme? Moet die predikant deur ’n pakkende preek julle almal in beweging bring? Jy wil getref, beweeg word? Tereg! Maar wil jy eers beweeg word, voordat jy werklik begin om te luister? Moet die preek eers iets vir jou doen voordat jy jou wil inspan om te luister? Vergeet dit maar!

As dit die geval is, dan staan jy in jou eie pad en in die pad van ander. Jy doen jouself en ander geen slegter diens as wanneer jy hier sit sonder om te konsentreer en onverskillig. Waarskynlik sal die diens dan nie ’n erediens vir jou wees nie. Waarskynlik sal dit jou nie raak nie. Want waaroor gaan die diens? Dis nie sonder rede dat ons praat van ’n erediens nie. Dit gaan oor die eer van God, die aanbidding en verering van God. Ons is hier nie die sentrale persone nie. Ons is nie die belangrikste nie. Ons ervaring is nie die belangrikste nie. God is die belangrikste, sy eer.

As ek myself voorrang gee, dan sal ek hier min ervaar. Dan sal ek nou nou huis toe gaan met leë hande. Maar as ek God voorrang gee, dan het ek baie om te ervaar. Dan kan ek nou nou verryk en versterk huis toe gaan. As ek op die Here fokus, dan is daar baie om te ervaar. Daarom, moenie die sake omkeer nie, sodat dit word: eers my ervaring, dan sal ek op die preek konsentreer, dan sal ek glo. As ek dit doen, dan is ek besig om die kar voor die perde te span.

Nee, ek moet eers op die Here konsentreer, dan sal my ervaring daarop volg. Wil jy iets ervaar? Wees dan ontvanklik vir die Here, vir sy evangelie. Aanvaar die posisie van ’n aandagtige luisteraar. So wil die Gees jou beweeg. Dan is die luister op sigself reeds ’n geweldige ervaring. Wat ’n ongelooflike wonder dat God met my wil praat. Wat ’n ervaring: ek mag na God Almagtig luister. Laat ons dan vol verwondering en aanbidding luister na sy goeie nuus.

Ek verkondig vir julle: die ware geloof

  1. Waarom dit nodig is
  2. Wat moet ek daarvoor doen
  3. Wat is dit?

’n Ware geloof, alles lyk daarvan afhanklik te wees. Dis ’n saak van lewe en dood. Dis duidelik uit die vraag van die kat: "Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?" Hier word salig word en verlore gaan teenoor mekaar gestel.

Al die mense het deur Adam verlore gegaan. Dis na die sondeval die uitgangspunt. Ook vir die klein kinders wat gedoop word. Dis nie verniet dat die water van die doop gebruik word nie. Die babas moet simbolies gewas word. Elke mens is sondig en deur sy band met Adam aan die oordeel onderworpe.

Gelukkig is dit nie die hele verhaal nie. Die vorige Sondag van die Kat het die middelaar Jesus Christus genoem. Hy is vir ons tot ’n volkome verlossing gegee. Hy kan ons van die oordeel red. Hy kan ons die lewe teruggee, in ewigheid. Maar nou die knellende vraag: vir wie geld dit? Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Die antwoord mag teleurstellend lyk. "Nee, maar slegs die wat deur ’n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem." Wanneer jy Christus met Adam vergelyk dan lyk dit asof Christus minder invloed het. Adam het alle mense met hom in sy val saamgesleep, nie een uitgesonder nie. Maar Christus, hy red nie alle mense nie, hy herstel nie almal wat in Adam geval het nie.

Is die krag van die sonde dan groter dan die krag van genade? Is Christus se krag dan minder as die krag van Adam wat in sonde geval het? Adam bereik mos alle mense, terwyl Christus slegs ’n deel van die mensheid bereik. Moenie jouself mislei nie. Die getal is nie beslissend nie. Ook al sou slegs een persoon gered word, dan nog sou Christus sterker as Adam wees. Dan nog sou die genade groter as die sonde wees. Hoekom? Wel, wat is makliker: om iemand dood te maak of om ’n dooie persoon weer lewend te maak? Adam het alle mense in die dood saamgesleep. Geen groot prestasie nie. Christus roep die dooies terug na die lewe. ’n Nuwe skepping! Verbasingwekkend! Wat ’n wonder!

Buitendien, jy kan nooit Christus die skuld daarvan gee dat baie nie gered word nie. Want – en hier haal ek die DL aan - "Hierdie dood van die Seun van God is…..van oneindige krag en waarde, oorvloedig genoeg om die sondes van die hele wêreld te versoen." Dis hoe groot jy mag dink en praat van Christus se werk. Dit is oorvloedig genoeg, van oneindige krag en waarde. Christus het mos die een toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra. Sy offer is voldoende vir alle mense. Elkeen kan na hom toegaan. Hy is ’n versoening (of versoeningmiddel) vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir die van die hele wêreld (1 Joh 2:2).

Maar dan moet die mense wel na Hom toegaan, hul heil wel by Hom soek. Dan moet jy wel die middel van versoening aanvaar. Geloof is nodig. Ons lees in Joh 3:16-18 die bekende woorde: "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word. Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie."

Julle het dit gehoor: geloof is nodig. Daar is twee moontlikheid. Of ek glo in die Seun van God. Dan word ek nie veroordeel nie. Dan word ek gered en ontvang ek die ewige lewe. Of ek glo nie. Dan is ek alreeds veroordeel omdat ek nie geglo het in die eniggebore Seun van God nie. Ja, ek is dan alreeds veroordeel. Ek verwag dan nie net veroordeling in die toekoms nie. Nee, ek is nou reeds aan die oordeel/verdoemenis onderworpe. My ongeloof getuig dan teen my, veroordeel my. ’n Verskriklike werklikheid.

Daar is dus twee moontlikhede: geloof of ongeloof. Dis die verskil tussen lewe en dood, ewige heil of ewige oordeel. Kies dan die goeie deel. Aanvaar Christus en al sy weldade. En jy sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe hê.

Dit sal nou duidelik wees waarom die ware geloof nodig is. Sonder ’n ware geloof is daar geen redding nie.

Nou die tweede gedagte: wat moet jy vir die geloof doen?

Sonder geloof geen redding nie. Is dit nie ’n huiweringwekkende werklikheid nie? Hoe is mos my geloof? Ja, is dit so dat elkeen van julle werklik glo? Hoe dikwels het ons nie ons twyfels en versoekings nie. Ek ontmoet by die skool, by die werk of langs die pad allerlei soorte mense wat die Bybel nie werklik glo nie. Oulike mense. Fatsoenlike mense. Maar hulle glo nie wat in die Bybel geskrywe is nie. Die vraag kan my pla: is al die mense werklik verkeerd? Is ons eintlik wel reg? Is alles wat vir ons geleer is waar? Ek kan soms skielik vassit in allerlei vorme van twyfel. Is die Bybel werklik die Woord van God? Is alles wat in die Bybel staan waar? Die vraag kan selfs heimlik opkom: bestaan God werklik? Sou dit moontlik wees dat God tog ’n produk van ons menslike inbeelding is?

Twyfel kan my skielik aangryp. Soms kan dit ’n mens vir lange tyd pla. Wat moet ek dan dink van die eerste punt: sonder geloof is daar geen redding nie? Is ek dan hopeloos verlore? Sonder uitsig?

En wat as ek worstel met sonde in my lewe? Ek sou my verskriklik skaam indien mense alles van my sou weet: wat ek soms dink; wat ek soms lees, waar ek na kyk, wat ek soms doen terwyl ander mense nie kyk nie? Wat moet ek dan in so ’n situasie van twyfel of sonde maak? Sluit die put nie bo my nie? Is ek dan verlore, sonder hoop?

Nee, broeders en susters, seuns en meisies. Die Bybel wys op die pad uit hierdie verskriklike moeras van twyfel en sonde. Hoe kan ek dan ooit daaruit kom? Nie op my eie nie. Ek het hulp nodig. En God wil help. Daarom moet ek altyd weer na God vlug. Hy is die enigste wat my kan help. En Hy wil my ook help. Het Hy nie gesê nie: "Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word."

Hier sien jy die weg uit die diepte uit. Gaan na God toe. Aanvaar sy hulp. Hoe help God my dan? Hoe bevry Hy my van twyfel? Hoe gee Hy my weer sekerheid en vertroue? Hy doen dit deur die evangelie. Die Bybel leer ons sê dat die Heilige Gees die geloof in my hart werk deur die evangelie. Wat moet ek dan doen om te glo? Ek moet hierdie middel van genade gebruik. Luister na die Woord van God. ’n Ware geloof is uiteindelik ’n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy woord aan ons geopenbaar het, vir waar aanvaar. Ek weet: God het dit gesê, daarom is dit waar. Maar dan moet ek natuurlik eers weet wat God gesê het. Daarom is die eerste vereiste dat ek na die Woord van God luister. Dat ek luister na die lees van die Bybel by die huis. Dat ek luister na die bybelse onderrig by die skool. Dat ek luister na die onderrig op die katkisasie. Dat ek luister na die prediking van die woord, luister na die woord wanneer dit tydens die bybelstudies bespreek word of wanneer ek die bybel vir myself lees. Dis hoe God die geloof in my wil werk. Dis hoe Hy my sekerheid en vertroue wil gee.

’n Mens kan net vertroue in ’n persoon hê, wanneer jy die persoon goed ken. Dit geld sekerlik mbt God. Dit is daarom vitaal dat ek Hom meer en beter leer ken uit die Bybel.

Wat doen ’n mens wanneer jy honger is? Honger vir die genade van God? Honger vir die liefde van God. Honger vir die vergewing van jou sondes. Honger vir die bevryding van jou twyfels? Wat maak jy wanneer jy honger is? En daar brood beskikbaar is? Dan neem jy tog van die brood? Dan gaan jy nie slegs bid: Here ek is honger, gee my dat ek kan eet van die lewende brood. Ja, dit bid jy ook. Maar dis nie al wat jy doen nie. Want die Here het die brood reeds gegee. Jy het dit reeds tot jou beskikking: die Bybel. Die woord van God. En in die woord ontvang jy: die Here Jesus, die brood van die lewe.

Gemeente, om die middel van genade, om die woord te gebruik is nie ’n maklike taak nie. Dinge is nie onmiddellik duidelik nie. Dit is nie nodig nie. Daarom moet jy ook nie ongeduldig word nie, wanneer iets nog nie vir jou duidelik is nie. Jy moet ook nie dink dat jy beter weet en ophou om te lees en te luister nie. Dinge gebeur nie almal onmiddellik nie. Jou geloof gaan ook deur ’n proses, ’n groeiproses. Jy begin om meer en meer te verstaan. Jy leer om die Here beter en beter te ken. Jy leer steeds beter wat jy van God mag verwag, hoe jy op Hom kan vertrou. Jy ontdek en glo meer en meer dat die Woord van God waar is. Waar ook vir jou.

Om die middel van genade te gebruik, dis is om die Bybel, die woord, te gebruik, maar ook om die sakramente te gebruik, om jou doop te gebruik. Elke keer as ’n kind gedoop word, word jy herinner aan jou eie doop. Onthou wat God daardie tyd belowe het. En nog steeds vandag belowe. Daardie tyd was jy slegs ’n baba. Maar God het toe reeds geweet hoe jy sou wees. Hoe jy vandag sou wees. Hy het dit heel goed geweet. En tog het Hy nie gesê: los die kind maar uit, doop hom of haar maar nie, want hy of sy is dit nie werd nie.

Nee, Hy het gesê: die belofte is vir jou en vir jou kinders. Dit was geen vergissing nie. Hy het jou by die naam genoem. En iedereen in die kerk kon dit hoor. Die Here het werklik jou bedoel. Hy het jou sy beloftes gegee. Watter beloftes? Laat ons goed daarna kyk. Dat jy ’n kind van God mag wees. Dat die Here Jesus deur sy bloed jou sondes wil wegneem. Dat die Heilige Gees in jou wil woon en jou wil vernuwe. Neem goed kennis daarvan. Aanvaar dit. Vertrou daarop. Ook wanneer jy weer in sonde val of verstrik raak in die bande van twyfel. Hy wil jou Vader wees. Hy wil jou sondes vergewe. Hy wil jou lewe vernuwe. Gryp dit vas. Dis hoe jy jou doop gebruik.

Op daardie manier wil God jou roep vir hulp beantwoord. So wil Hy die rustelose siel tot rus bring. Soos ’n baba aan moeder se bors rus en tevredenheid vind. So keer die vertroue, die sekerheid, terug. Dit bring ons by die 3de punt: wat is ’n ware geloof?

Die woord wat in die Ou Testament vir geloof gebruik word, is verwant aan die woord amen. Dit wys op sekerheid, vaste vertroue. Om te glo beteken soveel as om amen op iets te sê. Jy aanvaar iets as waar en seker.

Geloof is ’n vasstaande kennis en ’n vaste vertroue. Soos ons in Hebr 11 gelees het: "die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie." Wanneer ek glo, dan is ek seker van die dinge wat ek hoop en oortuig van die dinge wat ek nog nie sien nie. Ja, daar is nog baie dinge wat ons nog nie sien nie. Selfs die vergewing van sondes is iets wat jy nie kan sien nie. Wanneer ek dit glo, dan weet ek dit vir seker. God het dit gesê, dit is voldoende. Daarom is dit waar. Ook al sien ek op hierdie oomblik nog niks daarvan nie. Ook al lyk die werklikheid daarmee in stryd te wees. God het gespreek. Daarom is dit waar. Daarom sal dit gebeur. Ek weet: wat God sê is waar. Daarom vertrou ek daarop: alles wat hy beloof het, sal gebeur. Onherroeplik. Niks is mos te wonderlik vir hierdie almagtige God nie. Kyk maar na die skepping. "Die wêreld is deur die woord van God toeberei, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie." God skep voortdurend dinge wat nog nie is nie. Hy hoef slegs te spreek en dit is daar. Sou sekere dinge vir Hom te wonderlik wees? Sou hy dan nie sy woorde kan vervul nie?

In die verbond het God die vergewing van sondes en die ewige lewe belowe. Dink aan die woorde van die doopsformulier. God die Seun belowe ons dat Hy ons in sy bloed was en reinig van al ons sondes. God die Heilige Gees verseker ons dat Hy tot ons eiendom wil maak wat ons in Christus het, naamlik die afwassing van ons sondes en die daaglikse vernuwing van ons lewe.

Om te glo is om seker te wees van die beloftes. Om seker te wees dat God ook my sondes vergewe. Hy het dit mos belowe? Persoonlik, reeds by my doop. En as ek soms uit swakheid in sondes val, ook in die sonde van twyfel, hoef ek nie aan die genade van God te twyfel nie. Nee, God het dit gesê en bly dit sê: Ek wil jou sondes vergewe, ook jou sondes van twyfel. My twyfel moet oorwin en kan oorwin word. Hoe dan? Deur God op sy woord weer te vertrou. En dan is nie een van God se beloftes onmoontlik nie, selfs nie die vryspraak van ’n groot sondaar soos ek is.

Broeders en susters, elkeen van julle wat glo, mag daarom sê: Ek is gered, my sondes is vergewe. Die volkome verlossing, ook van die swakheid van my geloof, is nog nie werklikheid nie. Die mooiste deel moet nog kom. En dit sal kom. Ek weet dit seker. God het dit gesê. Daarom is dit waar. Daarom sal dit gebeur.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)