In Christus Jesus is ek dood vir die sonde.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-01-26
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 16
Preek Inhoud: 

Sondag 16 nav Romeine 6

Ds C Kleyn - Sondag 26 Januarie 2002

Lees:

Romeine 6; Sondag 16..
Sing: Ps 24:1,2; Ps 24:3; SB 33:1,3; Ps 16:1,4,5; SB 24:1,7.

Tema:


In Christus Jesus is ek dood vir die sonde.

  1. Omdat Christus vir die sonde gesterf het; en
  2. Daarom is my dood ’n deurgang tot die ewige lewe.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

"Vir die sonde dood", dit is hoe ek myself moet beskou. Hoor hoe
God dit letterlik vir julle sê in die skrifgedeelte wat ons gelees het, in vers
11: "So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is." Let
goed op wat hier beveel word. Julle word nie opgedra om dood vir die sonde te
word nie. Dit word inteendeel veronderstel. Julle word opgedra om te reken met
die feit dat julle reeds dood vir die sonde is. Beskou julleself as vir die
sonde dood. Hoe kan ek sê dat ek vir die sonde dood is? Dit is ’n gevolg van
die feit dat ek die sonde afgesterf het. Paulus noem dit in vers 2: Ons wat die
sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Dood vir die sonde, dit is
julle identiteit as gelowiges.

Vanoggend wil ek vir julle hierdie evangelie verkondig: In Christus Jesus is
ek dood vir die sonde.

  1. Omdat Christus vir die sonde gesterf het; en
  2. Daarom is my dood ’n deurgang tot die ewige lewe.

Wat bedoel Paulus met die uitdrukking: julle is vir die sonde dood? Die
apostel verwys hier na die definitiewe breuk met die sonde, eens en vir altyd.
Die sonde word geteken as ’n ryk of sfeer waarin mense lewe. As gelowige leef
ek nie meer in die ryk of sfeer nie. Vergelyk maar met die lewe in die sfeer van
hierdie wêreld. Mbt die lewe in hierdie wêreld word gesê dat die persoon wat
afgesterf het "daar nie meer is nie; ek het hom gesoek, maar hy was nie te
vinde nie" (Ps 37:36). So is dit ook met die sfeer van die sonde. As
gelowige is ek nie meer daar nie, omdat ek vir die sonde dood is. Die
beslissende breuk met die sonde het plaasgevind. Ek is vir die sonde dood.

Ja, dit klink pragtig, maar is dit wel realisties? Die sonde is nog heeltemal
nie dood in my lewe nie. Dis nog lewend en kragtig. Dis voortdurend besig om
skade te berokken, my vrede met God en my naaste te versteur. Ongelukkig moet ek
dit elke dag weer erken. Die sonde is definitief nog nie dood nie. Hoe kan ek
myself dan reken as dood vir die sonde? Let daarop dat Paulus nie sê dat die
sonde dood is nie. Hy sê dat julle vir die sonde dood is. Dis ’n groot
verskil. Julle amptelike status is: vir die sonde dood.

Hoe kan dit so wees? Dit ’n werklikheid in Christus Jesus, sê Paulus. In
verbondenheid aan Hom. As ek een met Christus is, dan is ek dood vir die sonde.
In hierdie verband wys Paulus na julle doop. Wat sê my doop vir my? Dis ’n
teken van my inlywing in Christus. Ek is in Christus gedoop. In die gemeenskap
met Christus. Ek is een met Hom. En as my doop my eenheid met Christus wys,
beteken dit ’n eenheid met Hom in alles wat Hy is en in alles wat Hy as my
Middelaar gedoen het. So wys dit op ’n eenheid met Hom in sy dood en
opstanding. Paulus skryf in vers 3: "Of weet julle nie dat ons almal wat in
Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?" Die doop neem ons so
te sê saam in Christus se dood. Wat daar met Christus gebeur het, het ook met
my gebeur. As ek met Jesus Christus in sy dood verenig is, dan is ek ook met Hom
begrawe, sê Paulus verder. My dood is net so reëel as Christus se dood. Sy
begrafnis het bewys dat Hy werklik gesterf het. Dit het ook die pad voorberei
vir sy heerlike opstanding. Die begrafnis beklemtoon die opstanding. So het ons
begrafnis met Christus die weg gebaan vir ons wandel in ’n nuwe lewe. Om deel
te hê aan Christus se opstandingslewe moes ek ook deel hê aan sy dood en
begrafnis.

Geliefdes, Paulus skryf verder: aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam
gekruisig is. My sondige bestaan is saam met Christus gekruisig. Dit is aan die
kruis veroordeel. Die sondige bestaan is daar reeds deur God se vloek getref,
gedood.

Waarom het dit gebeur? Sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou
word en ons nie meer die sonde sou dien nie. In die verlede was ons liggame
gekondisioneer en beheers deur die sonde. Dis nog so waar daar geen ware geloof
is nie. Ons was slawe van die sonde. Die sonde kon met ons maak wat hy wou. Die
slawerny is gebreek. Op Golgota het Christus aan die mag van die sonde ’n
einde gemaak.

Hoe dan? Wel, sê Paulus in vers 10, die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir
die sonde eens en vir altyd gesterwe. As ons plaasvervanger het Christus homself
met die sonde geïdentifiseer. Hy is tot sonde gemaak. Belaai met ons sondes het
Hy op die kruis gesterwe. Deur sy dood het Hy die krag van die sonde gebreek.
Die sonde moes sy wettige eise, sy greep op hulle wat aan Christus behoort, laat
vaar.

Geliefdes, glo julle in Jesus Christus? Dan mag julle weet dat dit vir julle
geld. deur geloof is ’n mens mos met Christus verenig. En jou doop is ’n
teken en seel van die eenheid. Wat Christus op die kruis gedoen het, het Hy vir
julle gedoen, in julle plek. Sy dood onder die mag van die sonde was my dood. Sy
dood onder die toorn van God was my dood. Wat op Golgota gebeur het, het regtens
met my gebeur. Daar is my sondige bestaan tot niet gemaak. Wat aan Christus
gebeur het, word my toegereken. Dit geld vir sy dood en begrafnis, maar ook vir
sy opstanding.

Christus is uit die dode opgewek. So is ek ook opgewek. "Want as ons met
Hom saamgegroei het deur die gelykvormigheid aan sy dood, sal ons dit tog ook
wees deur die aan sy opstanding." (vers 5). Die dood het nie langer
heerskappy oor Hom nie. Die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens
en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.

Hieruit trek Paulus die gevolgtrekking: so moet julle ook reken dat julle wel
vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. As
gelowige moet u ook die gevolgtrekking maak. In geloof moet ek sê: ek is vir
die sonde dood, maar lewend vir God in Christus Jesus. Die sonde kan van my geen
verdere eise stel nie. Christus Jesus het aan al sy eise voldaan.. Hy het vir
die sonde gesterwe. Hy het die straf van die sonde ten volle betaal. So het Hy
die mag van die sonde waaraan ek onderworpe was gebreek. Ek is nou vry van die
sonde, soos vers 7 dit formuleer: "Hy wat gesterf het, is geregverdig van
die sonde."

Waarom was ek aan die dood met al sy gevolge onderworpe? Vanweë my sonde.
Maar nou ontdek ek ’n ander werklikheid in my lewe. Nee, dis geen illusie nie.
Dis volle werklikheid in Christus Jesus. My nuwe identiteit. ’n Werklikheid
waar God my voortdurend aan herinner. Wat God in my doop uitgebeeld en verseker
het. Christus het vir die sonde gesterwe. Daarom geld vir elkeen wat in Hom glo
dat hy vir die sonde gesterwe het. Christus het uit die dood opgestaan, vry van
sy heerskappy. As jy Christus en al sy weldade deur geloof aanvaar, dan mag jy
bely: Ek is vir die sonde dood en lewend vir God in Christus Jesus. Die sonde
heers nie meer oor my nie. Want met Christus het ek gesterwe en opgestaan. En Hy
wat gesterwe is, is regtens vry van die sonde. Wat ’n geweldige evangelie.

Maar, broeders en susters, waarom was Christus se dood nodig om ons van die
sonde te bevry? Moes dit werklik op daardie manier gebeur? Kon God sy eise nie
verlaag het nie en Hom met minder tevrede gestel het nie?

Daarop antwoord die kat na die skrifte: dit kon beslis nie anders nie. Weens
die geregtigheid en waarheid van God kon nie anders as deur die dood van die
Seun van God vir ons sondes betaal word nie. Weens God se geregtigheid en
waarheid. Weens God se verbondstrou. In die verbond is dit altyd ’n kwessie
van lewe of dood. Onderhouding van die verbond, met ander woorde onderhouding
van die gemeenskap met die lewende God beteken lewe. Want God is die lewe. Maar
wanneer ek die verbond verbreek, wanneer ek van my kant my band met die lewende
God verbreek dan lei dit tot die dood. In die paradys het God gesê: die dag as
jy van die verbode vrug eet, sal jy sekerlik sterwe. Geen ander pad is moontlik
nie: die loon van die sonde is die dood. Vir die regverdige God is daar geen
ander pad nie. Hy wat die verbond verbreek moet sterwe. Dis wat God bepaal het.
En God wat die waarheid in eie persoon is hou sy woord. Ook al probeer die vader
van alle leuens steeds weer om jou van die teendeel te oortuig. God kan homself
nie verloën nie. Gelukkig nie. Nou het ons tenminste iemand waarop ons kan
staatmaak. Sy woord staan vas, onwrikbaar. In ’n wêreld vol van leuens kan jy
op Hom bou. Wie sou nie van sy geregtigheid en waarheid sing nie:

Die werk van God is reg en waar;
Onwrikbaar-vas, onwankelbaar
Wat sy bevel aan ons verkondig;
Bevestig is dit in sy stand,
Verwerklik word dit deur Gods hand
In trou en regtheid, diep en grondig. (Ps 111: 4)

Ja, gemeente, so is die Here julle God. Omdat God sy woord in trou en
regtheid verwerklik, moet ’n mens vir die sonde van die mensheid sterwe.
Daarom moes Christus ons plaasvervanger homself verneder selfs tot die dood. Hy
wou die doodstraf betaal wat ek verdien het.

Oordink daarom, geliefdes, julle sonde en vloek. En verneder julleself voor
julle heilige God. "Want God se toorn teen die sonde is so groot dat Hy -
eerder as om dit ongestraf te laat bly - sy geliefde Seun Jesus Christus met die
bittere en smadelike kruisdood gestraf het" (Formulier vir die viering van
die Heilige Nagmaal).

Wat ’n getroue en genadige God! God sou aan sy geregtigheid en waarheid
voldaan het indien Hy alle sondaars met die ewige dood gestraf het. Maar dit is
nie wat Hy wou doen nie. Hy kon dit nie doen nie vanweë sy genade. Daarom het
God sy geliefde Seun mens laat word om vir jou en my te sterwe. En Christus
Jesus het Homself in my plek laat straf deur die bittere en smadelike dood aan
die kruis te aanvaar. Wat ’n liefde! Hy het vir sondaars gesterwe soos u en
ek. Oor sy dood is daar is geen twyfel nie: beide vriende en vyande het dit
gesien: bloed en water het uit Jesus se sy uitgekom nadat ’n soldaat met ’n
spies in sy sy gesteek het (Joh 19:34). En sy dooie liggaam is in ’n graf gelê.
Die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde gesterwe. Sodat ons in Hom ook
dood vir die sonde sou wees en lewend vir God.

Maar broeders en susters, as Christus vir ons gesterf het, waarom moet ons
nog sterwe? Is dit nie ’n herhaling van wat reeds eens en vir altyd gebeur het
nie.

Nee, geen herhaling nie. Christus se dood was ’n betaling vir ons sondes en
ons hoef nie weer die prys te betaal nie. Christus het werklik vir die sonde
gesterwe, eens en vir altyd vir almal wat aan Hom behoort.

Tog word ons gekonfronteer met die werklikheid van die dood in ons lewe en in
die lewens van geliefdes van ons. Waarom tog? Dis opvallend dat die Kat feitelik
geen direkte antwoord op die vraag gee nie. Ons hoor nie waarom ons nog moet
sterwe nie, maar net wat ons dood nou beteken.

Dis goed om te besef dat ons dood nie nodig is in die strenge sin van die
woord nie. Ook al is dit op hierdie oomblik normaal dat ons almal eendag sterwe,
dis nie streng noodsaaklik nie. In 1 Kor 15:51 sê Paulus dat ons nie almal sal
ontslaap nie, maar dat ons almal verander sal word. Dit beteken dat die dood nie
’n lot is wat almal sal tref nie. Dis ook nie ’n straf wat ons almal nog
moet ondergaan nie. Nee, nie almal sal sterwe nie. Want by die wederkoms van
Christus, sal baie mense nog lewe. Die kinders van God sal dan in ’n oomblik
verander, in ’n oogwink, by die laaste basuin. Hulle sal weggevoer word die
Here tegemoet in die lug. Dit beteken dat God se geregtigheid en waarheid nie
hul liggaamlike dood vereis nie. Hulle hoef nie te sterwe nie. Hulle mag
onmiddellik verander en verheerlik word. Soos Henog en Elia. Vir God se kinders
is die dood geen straf meer nie.

Tog moet God se kinders in die reël nog sterwe. Waarom, terwyl daar nie meer
sprake is van straf nie? Die vraag is klemmend. Want die dood is en bly
verskriklik. ’n Werklike vyand. Waarom moet soveel christene nog die dood in
die gesig staar?

Die Here gee ’n mooi antwoord op die vraag. Die Here het die karakter van
die dood verander. Die dood het nie langer heerskappy oor Christus en oor hulle
wat aan Hom behoort nie. Die dood is nie langer ’n verskriklike tiran nie. Die
dood het ’n dienaar geword, ’n dienaar van God. ’n Slaaf. Want hy is in
beginsel oorwin. In 1 Kor 15 word die vraag gestel: Dood, waar is jou angel?
Doderyk, waar is jou oorwinning? Wat die laaste betref, moet die dood sy
nederlaag erken. Die dood kan nie maak wat hy wil nie. Die dood kan nie sommer
enige persoon in sy mag neem nie. Want Christus het oorwin. Hy het die sleutels
van die dood en die doderyk.

Dood, waar is jou angel? Waar is jou wapen waarmee jy mense kan seermaak en
dodelik kan tref? Daarop antwoord Paulus: "die angel van die dood is die
sonde en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die
oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus." Die angel van die dood is
die sonde. Die sonde is die wapen wat mense in die mag van die dood gebring het.
Die sonde lei tot die dood. Dit is die loon wat jy kry wanneer jy ’n sondige
lewe lei. "Maar nou dat julle vrygemaak is van die sonde" skryf Paulus
in Rom 6, "en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot
heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe. Want die loon van die sonde is die
dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse
Here." Daarom ook: "Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur
onse Here Jesus Christus." Die dood het vir die gelowiges sy angel verloor.
Die dood het geen werklike mag oor hulle nie. Ons het oorgegaan van die dood na
die lewe.

Die enige mag wat die dood nog oor God se kinders het is om te dien, om God
te dien. Wanneer God dit bepaal mag die dood ’n einde aan my lewe hier op
aarde maak. Maar wanneer die dood wel ’n einde aan my aardse lewe maak, moet
dit my onmiddellik prysgee en deurlaat na die ewige lewe. Die dood moet die deur
na die hemel oopmaak, na ’n lewe in heerlikheid. Is dit nie ’n groot wonder
nie?

Die verrassing is nog groter. Want die dood moet my heeltemal vrymaak. So
kompleet moet die dood my bevry dat ek dan nooit weer sonde kan doen nie. Dit
moet ’n radikale einde aan die sonde maak. Met ander woorde: die dood, die
oorwonne tiran, moet God dien om tot stand te bring dat ek nooit meer sal sondig
nie.

Gemeente, ons bely in ons daaglikse lewe en stryd dat God al die kwaad wat Hy
in hierdie jammerdal oor ons beskik, tot ons beswil verander. Die kwaad bly ’n
kwaad. Maar God gebruik dit vir ’n positiewe doel. Wel, die dood van God se
kinders is ’n duidelike voorbeeld daarvan.. God laat selfs die dood tot my
saligheid dien. Ja, die dood bly ’n vyand. Wie ervaar dit nie so nie? Wanneer
jou gesondheid of die gesondheid van jou geliefde so agteruit gaan, wanneer jy
die gebrokenheid van die lewe sien en ervaar, wat ’n verdriet en stryd. Die
tonnel van die dood kan baie donker wees. Maar in die donker tonnel is die Here
met my. En as ek eenmaal daar deurheen is, mag ek in verwondering in die
heerlikheid van God se nabyheid verkeer. Ja, God se woord is waar: ek is
vrygemaak van die sonde. Die dood wat Christus gesterf het, het Hy vir die sonde
gesterwe. Daarom kan die sonde en die dood niks verder van my eis nie. Die dood
het nie die laaste woord nie, maar die lewe. Want die loon van die sonde is die
dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse
Here.

En nou, broeders en susters, wat doen u met hierdie ryke evangelie? Wat doen
jy met die kennis van Christus se lyding en dood vir jou? Wat doen jy met die
waarheid dat jy vir die sonde dood is en lewend vir God in Christus Jesus? In
Rom 6:6vv wys Paulus op die praktiese implikasies van sulke geweldige waarhede.
"Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy
begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie." Jy is in Christus dood vir die
sonde. Wel, wys dit in die praktyk van jou lewe. Toon dat jy vir die sonde dood
is en lewend vir God. "Moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde
as werktuie van ongeregtigheid nie." Gebruik jou oë en ore, jou hande en
voete, jou verstand en tong nie vir die sonde nie. Jy wat die sonde afgesterf
het, kan tog nie in die sonde bly voortlewe nie? Inteendeel, stel julleself tot
beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as
werktuie van geregtigheid in die diens van God.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)