Christus het opgestaan om vir ons die lewe te gee.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-02-09
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 17
Preek Inhoud: 

Sondag 17

Ds C Kleyn - Sondag 9 Februarie 2003

Lees:

1 Korinthiërs 15:1-23; Sondag 17.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 9:7,8; Ps 9:9,10; Ps 21:1-3; Ps 118:7, 14.

Tema: Christus het opgestaan om vir ons die lewe te gee.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Tema: Christus het opgestaan om vir ons die lewe te gee.

Hoe ervaar ons ons geloof? Hoe ervaar ons ons geloofslewe? Is dit nie so dat
ons dikwels ervaar dat ons onder die maat lewe nie? Ons ervaar dat ons as
christene eintlik beter moes gaan lewe, maar dit gebeur gewoon nie. Miskien
worstel ek met bepaalde sondes in my lewe. Ek herken die slegte dinge in my
lewe, bv dat ek so selfsugtig kan wees, so liefdeloos, so gierig, of
verkwistend. Maar ek kan dit maar nie oorwin nie. Miskien ly ek aan ’n sekere
verslawing, ook al wil ek dit nie altyd eerlik erken nie. Miskien is ek verslaaf
aan drank, verslaaf aan lekker eet, verslaaf aan pornografie, verslaaf aan
nikotien. Elke jaar het ek die voorneme om daarmee te breek, maar dit gebeur
gewoon nie. Ek bly nog ewe verslaaf. Miskien is daar moeites in my lewe waarin
ek bly vassteek, bv negatiewe ervarings uit die verlede. Ek wil dit van myself
afskud, maar kan maar nie daarvan loskom nie. Die dinge bly my lewe domineer,
pla. Ek voel my daardeur onseker, bedreig of selfs kwaad.

Gemeente, by al hierdie voorbeelde kan geld dat ek dit opreg wil verander. Ek
wil graag anders wees. Dit ontbreek nie aan goeie voornemens nie. Ook nie aan
skuldbesef nie. Ek voel my sleg oor die dinge wat ek dink of doen. Ek besef ook
wel dat ek tydens hierdie lewe nooit volmaak sal wees nie, maar ’n verandering
ten goede mag ’n mens tog verwag? Wat is fout? Waarom kom daar geen
verandering in my lewe nie?

Ons lees in die Bybel van die verandering wat die evangelie in menselewens
tot stand bring. Wanneer Paulus aan die Korintiërs skryf dan noem hy dat
sommige van hulle hoereerders was of afgodedienaars of egbrekers of mense wat
homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters
of bedrieërs. Maar sê Paulus, julle het jul laat afwas, maar julle is
geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die
Gees van onse God. Julle was dus so, maar julle is nie meer so nie, sê Paulus.
Is dit wel werklikheid in my en in jou lewe? Dat jy so was, en nie meer so is
nie, ook al besef jy dat jy nog nie volmaak is nie? As dit nie die geval is nie,
wat kan dan fout wees?

Gemeente, ’n vraag wat elkeen homself moet stel is: in watter Christus glo
ek eintlik. Glo ek in die edele mens Jesus wat 2000 jare gelede geleef het? Die
historiese Jesus wat wonders verrig het, wat blindes weer laat sien het en dowes
laat hoor? Die man wat mense geleer het om mekaar lief te hê en uiteindelik aan
die kruis gesterf het? Met ander woorde: glo ek in die mens Jesus? Of glo ek in
Jesus Christus wat God is en mens geword het, wat weer opgewek is uit die dood?
Glo ek in Hom wat Here is en vandag leef? Die Here Jesus wat in my wil woon en
sy lewe vir my wil gee?

Miskien dink u: wat ’n vreemde vraag. Natuurlik het ek Jesus Christus die
Seun van God aanvaar en nie net Jesus as mens nie. Ek het tog grootgeword in die
gereformeerde leer? Ek het die gereformeerde leer tog bely toe ek belydenis van
my geloof afgelê het? Tog is die vraag nie so vreemd nie. Dit kan wees dat ek
goed geleer het en bely het dat Jesus Christus beide God en mens is en dat Hy
gesterf het en opgestaan. Ek dink ook werklik dat ek dit glo. Maar in die
praktyk van die lewe kan dit gebeur dat ek Christus eintlik nie aanvaar as my
lewende Heer wat in my woon en werk nie. Dit kan wees dat ek in die praktyk net
fokus op Christus se dood aan die kruis terwyl ek sy opstanding negeer.

Broeders en susters, wat beteken dit vir jou om gered te word? Miskien
antwoord jy: dat Jesus vir my sondes gesterf het sodat ek in die hemel kan kom.
In die reël het mense geen probleem met die vraag: wat beteken Christus se dood
aan die kruis vir jou? Christus het mos gesterf vir my sondes. Maar dan die
vraag wat beteken Christus se opstanding vir jou? Dikwels is mense daarmee verleë.
Ja, Christus leef. Deur sy opstanding het Hy gewys dat Hy die Seun van God is.
Dis reg, maar wat beteken dit nou konkreet vir jou in jou daaglikse lewe? Dit
word dikwels nie gesien nie.

Tog het ons, broeders en susters, na die nagmaal in die lofverheffing Rom
5:10 op die lippe geneem, die woorde: "As ons, terwyl ons nog vyande was,
met God versoen is deur die dood van sy Seun, hoeveel te meer sal ons deur sy
lewe gered word noudat ons met Hom versoen is." Let op die woorde:
"hoeveel te meer sal ons deur sy lewe gered word." Christus se dood is
baie belangrik maar sy lewe nie minder belangrik nie. Inteendeel, sy lewe
beteken nog meer vir ons.

Wat is die mees vanselfsprekende gevolgtrekking van die woord opstanding? Dit
praat van die herstel van die lewe. Die woord ‘lewe’ staan sentraal in die
Bybel. Dit kom voor deur die hele Bybel heen. Veral die evangelie volgens
Johannes noem die woord baie. Dink aan Joh 10:10 waar Christus sê: "Ek het
gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê." Of Joh 5:24: "Wie my woord
hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel
nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe." Ook die bekende woorde
van Joh 3:16 tref ons opnuut: "Want so lief het God die wêreld gehad, dat
Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag
gaan nie, maar die ewige lewe kan hê."

Waarom het God sy Seun gegee? Sodat elkeen wat in Hom glo die ewige lewe kan
hê. Jesus Christus het gekom om die lewe te gee. Watter soort mens het die lewe
nodig? Die antwoord is vanselfsprekend: slegs hy wat dood is. So kom Ef 2:1 in
ons gedagte: "En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade
en die sondes. "

Wat is die groot probleem met die mens? Ons is geneig om onmiddellik te
antwoord: dit is dat die mens sondig is en God se vergewing nodig het. Dit is
waar, maar die probleem is nog dieper. Die probleem is nie net dat ek ’n
sondaar is en vergewing nodig het nie. My probleem is dat ek van nature dood is
en die lewe nodig het.

Die saak waaroor dit in die evangelie gaan is lewe en dood. Jesus Christus
het sy lewe vir my gegee. Waarom? Sodat ek deur Hom kan lewe. Waarom het ek die
lewe nodig? Omdat ek van nature geestelik dood is. Gemeente, dit kan so maklik
gebeur dat ek basies met ’n halwe evangelie leef. Ek weet dan hoe baie ek die
vergewing van sondes wat Christus verwerf het nodig het. Ek is daar baie
dankbaar voor. Maar terwyl die evangelie van God se vergewing deur die kruis my
van die skuld ontslaan, gee dit my nie die krag om hier en nou te lewe nie. Dis
deur Christus se opstanding dat enige persoon wat glo die lewe ontvang deur sy
Gees. Dis hoe ons leef. Luister maar na Ef 2:4,5: "Maar God, wat ryk is in
barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook
toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus - uit genade
is julle gered."

Gemeente, dikwels bid ons dat God ons wil help om bepaalde dinge te doen.
Here, help my om dit of dat te doen. Here, help my om my slegte eienskappe te
oorwin, Here, help my om my verslawing prys te gee, Here, help my om die moeites
in my lewe goed te hanteer en agter my te los. Ek wil hê dat God vir my hulp
bied. Die gedagte by so ’n bede kan wees dat ek dit self moet doen en dat ek
daarby God se hulp goed kan gebruik.

Ons moet onthou dat Christus nie net gekom het om my te help nie. Christus
het gekom om in my te woon en deur my te werk. Om deur die geloof te leef is om
in volkome afhanklikheid van Christus te leef. Ja, om te glo is om Christus sy
gang te laat gaan in jou lewe. Daarom skryf Paulus: "Ek is met Christus
gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in
die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het
en Homself vir my oorgegee het" (Gal 2:20).

Wanneer ek die waarheid loslaat, dan kan dit lei tot allerlei frustrasies en
selfs tot oorspanning. Ek probeer dit dan self te doen, met of sonder die hulp
van die Here. Ek probeer allerlei dinge in my lewe dan self te verander en
allerlei dinge te presteer in die diens van die Here. Om tot die ontdekking te
kom dat die christelike lewe nie net moeilik is nie, maar in feite onmoontlik.
Net Christus kan die lewe lei. En daarom is ons enigste hoop om te weet dat
Christus nie net gekom het om mense uit die hel te red nie. Hy het gekom om die
mens, om my, die lewe te gee, ja om in my te woon en werk.

Broeders en susters, laat ons ook oppas dat ons ons kinders die volle
evangelie vertel en voorleef. Ons kinders kan so maklik ’n verkeerde indruk
van die christelike geloof kry. Hulle kan die indruk kry dat hulle van alles
moet doen om gered te word. Hulle kan dit dan probeer, weer en weer probeer om
te ontdek dat dit hulle nie luk nie. Daardeur kan hulle gefrustreer raak met dit
wat hulle beskou as die christelike leer. Dit kan ook lei tot wanhoop en vrees.
Hulle sien hulleself as ’n mislukking, wat ’n gemors van die christelik lewe
maak. Dit raak ook die sekerheid van hul geloof. Is ons wel gered?

Gemeente, wat is dan sondag 17 van die HK oor die opstanding van Christus
baie vertroostend vir ons en ons kinders. Die evangelie praat nie net oor
Christus se dood vir ons nie, maar ook van sy lewe in ons. Dit gee ’n totaal
ander perspektief. Daardeur word ons anders. Ook al is dit dan nog nie volmaak
nie. Ons het Christus in ons. ’n Bron van onoorwinlike krag. ’n Bron van
nuwe lewe.

Die kat stel die vraag: watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
As antwoord hoor ons: "ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin
sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon
maak." Die opstanding van Christus maak my des te sekerder van die
vergewing van my sondes. Christus leef. Hy leef om my sy verdienste te gee, toe
te eien. Sodat ek metterdaad die vergewing van my sondes ontvang. Sou Hy wat vir
my gesterf het, my sy verdienste nie deelagtig maak nie? Dis onmoontlik! Daarom
is Christus se opstanding ’n waarborg van my vryspraak voor God. Wat ’n ryke
werklikheid wanneer ek kyk na die gemors wat ek van die christelike lewe gemaak
het. My sondes is versoen. Maak nie saak hoe erg die sondes was nie. My verlede
bepaal nie my verhouding met God nie. Christus se dood en opstanding bepaal my
posisie voor God.

So wys Paulus in 1 Kor 15 hoe onmisbaar Christus se opstanding is. Die hele
christelike geloof en lewe staan of val met die werklikheid van Christus se
opstanding. As Christus nie opgewek is nie, dan is alles verlore. Dan is die
prediking vergeefs, sonder inhoud, leeg. Dan is ook my geloof vergeefs. Dan maak
ek myself bly met iets wat nie bestaan nie. Die geloof het dan geen krag nie. As
Christus nie opgewek is nie, dan is my geloof nutteloos, sonder vrug.

Waarom? Wat is die krag van die geloof? Die krag van die geloof vind ’n
mens mos in Hom aan wie jy jouself toevertrou. In jou verlosser Jesus Christus.
Maar as Jesus nie opgewek is nie, nog dood is, dan kan ek van Hom geen krag
verwag nie. ’n Dooie Jesus is ’n magtelose Jesus. En as ek my krag van ’n
magtelose Jesus moet ontvang, dan bly ek ewe magteloos as voorheen. My geloof is
dan sonder krag. My geloof kan dan niks uitwerk nie. Dit lewer geen vrug op nie.
"Dan is julle nog in julle sondes" vervolg Paulus. Jou lewe is dan nie
werklik versoen nie. Daar is dan geen bevryding van die skuld van die sonde nie.
Dan bly ek met my skuld sit. Dan is ek in skuld voor God verlore. Dan is daar
ook geen bevryding van die smet en mag van die sonde nie. Dan bly ek ewe sondig.

So kom ons by die tweede voordeel wat ons kat noem van die opstanding van
Christus. "Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot ’n nuwe lewe
opgewek." Deur Hom word ons nuwe mense. Let daarop dat daar staan:
"tot ’n nuwe lewe opgewek word." Daar staan nie: "dat ek deur
sy krag myself tot ’n nuwe lewe kan opwek nie." Ek kan myself nie werklik
vernuwe nie. Dit moet vir my gedoen word, gegee word. En Christus wil dit doen.

Waar kom dan die krag vandaan om my lewe te verander, om die Here trou te
dien? Jesus gebruik ’n duidelike beeld om ons lewe in Hom te beskryf. Hy sê:
"Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra
veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie" (Joh 15:5).

Christus noem Homself die wynstok en ons die lote. Watter plek neem die lote
in? Produseer die lote vrugte? Nee, die lote dra net vrugte. Wat gebeur as jy
die lote van die wynstok afhaal? Die lote gaan dan dood en daar kom geen vrugte
meer daaraan nie. Die lote het geen krag uit hulleself om vrug te produseer nie,
hulle is net vrug draers. Deur egter in die wynstok te bly en die sappe van die
wynstok te ontvang, kan die loot baie vrug dra.

Wat sê dit vir die christelike lewe? U en ek is nie in staat om die nuwe
lewe te produseer nie. Net Christus kan dit produseer. Wat is dan my
verantwoordelikheid? Om ’n afhanklike en ontvangende houding te handhaaf. Om
myself aan Christus oor te gee. Dan sal Christus die vrug van sy lewe in my
produseer. Dan sal ek deur sy krag tot ’n nuwe lewe opgewek word. Dit kom deur
die houding wat sê: Here, ek kan my lewe nie verander nie, maar U kan dit en U
wil dit doen.

Broeders en susters, dis ook die boodskap van die HN wat ons vandag gevier
het. Ons het bely: "Ons kom nie na die nagmaal om daarmee te kenne te gee
dat ons in onsself volmaak en regverdig is nie. Inteendeel, ons erken juis
noudat ons ons lewe buite onsself in Christus soek, dat ons midde in die dood lê."
Sonder die wynstok Christus is ons, wat lote is, dood en kan ons niks doen nie,
niks produseer nie.

Voor die nagmaal het ons gebid: "Ons bid U dat U deur u Heilige Gees
’n opregte vertroue in ons harte sal bewerk om ons al meer aan u Seun Jesus
Christus oor te gee. Laat hierdeur ons belaste en verslae harte met sy liggaam
en bloed, ja, met Hom gevoed word. Onderhou ons ook so deur u Heilige Gees met
die ware brood uit die hemel. Gee hierdeur ook dat ons nie meer in ons sonde
lewe nie, maar Hy in ons en ons in Hom." Christus in my en ek in Hom.
Vergelyk wat Christus in Joh 15:5 oor die beeld van die wynstok en die lote sê:
Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug.

Gemeente, Christus wil hê dat u weet: Ek is jou bron van lewe en krag. Bly
in My. Bly die lewendmakende sappe uit My trek. Leef deur die geloof. Onthou:
die oorwinning wat die wêreld oorwin het is die geloof. Ja, die oorwinning is
Christus wat deur die geloof toegeëien word. Bely met Paulus: "Ek is met
Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef is my. En wat ek
nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my
liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." Christus het mos nie net vir
my gesterwe nie, Hy het ook vir my opgestaan en wil in my lewe. Wat ’n
verandering moet dit teweegbring!

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)