Judas vermaan ons om te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-03-09
Teks: 
Judas 20
Preek Inhoud: 

Judas 20-23

Ds C Kleyn - Sondag 9 Maart 2003

Lees:

Judas.
Sing: Ps 96:1,2; Ps 11:3-5; Ps 141:1-5; Ps 133:3-5.

Tema:


Judas vermaan ons om te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges
oorgelewer is.

Ons moet

  1. Bewus van die gevare wees;
  2. Onsself in die liefde van God bewaar; en
  3. Sondaars in liefde terugroep.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Soms is dit nie maklik om goed die verskil te sien tussen kerk en wêreld
nie. Die lyk asof tendense in die maatskappy na ’n rukkie ook tendense in die
kerk word. Dink aan die agteruitgang van die morele waardes oor die jare. Daar
is ’n agteruitgang in die samelewing, maar ook in die kerk. Ons is nie meer so
geskok nie wanneer ons seker immorele gedrag hoor of sien nie. Ons word
voortdurend daarmee gekonfronteer in boeke, koerante en baie sien dit ook op die
TV of video's. Immorele gedrag het normaal geword, algemeen aanvaarbaar. Wie
maak daar nog ’n ophef oor wanneer twee ongehude mense saamleef? Wie is nog
geskok deur wilde partytjies waar ’n oormaat van drank gebruik word en waar
oorverdowende musiek gespeel word?. Wie is nog geskok wanneer getroudes uit
mekaar gaan en ’n nuwe verhouding begin? In die samelewing is dit redelik
normaal en aanvaarbaar. Hoe is dit in die kerk? Maak ons soms ook nie asof dit
nie so sleg is nie? Bowendien, hoe benader ons hulle wat in sulke sondes lewe of
deur die sondes beïnvloed is? Die teks kan ons daarin help.

Judas vermaan ons om te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges
oorgelewer is.

Ons moet

  1. Bewus van die gevare wees
  2. Onsself in die liefde van God bewaar
  3. Sondaars in liefde terugroep.

Wat is die aanleiding van Judas se brief? Vers 4 vertel ons dat sekere
persone in die kerk ingesluip het. Hulle het onopgemerk binnegekom. Maar hulle
is ’n groot gevaar vir die kerk. Judas noem die saak by die naam. Die persone
is goddelose mense sê hy, wat die genade van onse God verander in
ongebondenheid en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.
Maar die lidmate van die gemeente is nie bewus daarvan nie of nie voldoende
daarvan bewus nie. Hulle laat die mense hul gang gaan.

Wat is so gevaarlik met hierdie mense? Judas praat van ongebondenheid. Die
woord wys meestal op drinkpartytjies en seksuele sondes. Die mense leef ’n
sorgelose lewe. Hulle bedwing hulleself nie in hul gedrag nie. Dis natuurlik
’n baie ernstige saak. Maar geliefdes ken ons nie almal wel mense wat so
sorgeloos lewe nie? Waarom maak Judas ’n groot ophef hieroor? Waarom maak hy
so hewig alarm?

Omdat hy geskok is deur die manier waarop hierdie mense hul wêreldse gedrag
verdedig. Hul maak asof daar niks verkeerd daarmee is nie. Hulle beroep hulle
selfs op die Skrif. Soos Petrus dit noem in sy tweede brief hoofstuk 3:16: hulle
verdraai die Skrifte tot hul eie verderf. Die mense sondig nie net uit swakheid
nie. Hulle erken ook nie dat hulle verkeerd doen nie. Hulle dink ook nie daaraan
om met die kerk te breek nie. Nee, hulle wil christene wees en hulle wil in die
kerk bly. Hulle beskou hul manier van lewe aanvaarbaar.

Wat is verkeerd met ’n drinkpartytjie? Wat is verkeerd met die genieting
van seks voor en buite ’n wettige huwelik? Hulle noem dit genade. Hulle
verander die genade van onse God in ongebondenheid. Hulle beskou dit as ’n
vrybrief om sedeloos te handel. Christus het jou tog vry gemaak, sê hulle. Wel
geniet jouself as vrye burgers. Bevredig die begeertes van jou hart. Eet, drink
en wees vrolik.

Wat hierdie manne daarom so gevaarlik maak is dat hulle ’n christelik basis
onder hul wêreldse lewenstyl probeer plaas. Hulle hou dit voor as aanvaarbaar
christelike gedrag. Hulle is nie net sedeloos soos die ongelowige heidene nie.
Nee, hulle hanteer die genade as ’n vrybrief vir sedeloosheid. Dis wat hulle
so verskriklik en gevaarlik maak. Wat God ongebondenheid noem, noem hulle
genade. Genade, sê hulle, bevry jou van alle bindinge. Weg met al die
tradisionele taboes. Leef en geniet die lewe ten volle. Julle verstaan wel hoe
gevaarlik en misleidend die situasie is.

Broeders en susters, herken julle dit in ons eie tyd? Die boodskap van die
valse profete klink bekend. Ons hoor dit elke dag, ook al word daar miskien
ander terme gebruik. Dit kom op dieselfde neer. Dink aan die verwatering van die
christelike norme in ons samelewing. Die moderne teologie probeer voortdurend om
brûe te bou tussen die christendom en die wêreld. Alle moontlike pogings word
gedoen om die bybel aan te pas aan ons moderne tyd. Die nuwe etiese waardes word
met die bybel in die hand verdedig. Dit sou ware genade en verlossing wees,
vertel mense ons, dat jy volkome jouself kan wees, dat jy kan doen wat jy voel
reg is. Jy moet moenie let op wat God sê nie, maar op wat jy voel is reg.

Die massamedia oorspoel ons met die boodskap: wees nie so ouderwets nie, wees
nie so vroom nie. Wat is verkeerd met ’n gesellige drink partytjie. Wat is
verkeerd met ’n bietjie hard rock? Wat is verkeerd met egskeiding as die
liefde tussen die eggenote nie meer gevoel word nie? Jy moet tog saam gelukkig
wees? God soek tog ons vryheid en geluk? Waarom dan saambly as daar geen geluk
meer is nie en waarom nie ’n nuwe verhouding opbou wat wel die gelukkige
gevoel gee nie? Wat is verkeerd met ’n verhouding buite die heilige huwelik?
So lank as jy maar die nodige maatreëls neem en so lank as die liefde maar
aanwesig is. Wat is verkeerd met lotery? Dis tog ’n spannende speletjie? En as
jy iets wen kan dit tog vir goeie doeleindes gebruik?

Wat God sedeloos noem word voorgestel as iets wat volkome normaal en
aanvaarbaar is. Die onderskeid tussen die christene en die wêreld verdwyn.
Hulle tree op dieselfde manier op. Mense doen wat hulle as lekker, plesierig of
nuttig beskou. Dit word dan goed genoem, selfs christelik. Is hulle nie
fatsoenlik burgers wat hierdie dinge doen nie, is hulle nie opregte christene
nie? Jy moet nie so ouderwets en vroom wees nie.

Geliefdes, Judas wys ons die ware prentjie. Is dit wat gaande is, onskuldig
en aanvaarbaar? Absoluut nie. Dis sedeloos. God haat dit. Hierdie mense is besig
om die genade te verander in ongebondenheid, sedeloosheid. Maar is hulle nie
opregte christene nie? Hulle wil tog deel van die christelike kerk wees, hulle
wil tog christene genoem word? Dit maak nie saak nie, sê Judas. Hulle is
goddelose mense. Hulle verloën ons enigste Heerser, God, en ons Here Jesus
Christus. Hulle weier gehoorsaamheid aan Jesus Christus. Hulle wys dat hulle
hulself beskou as hul eie Heer en meester.

Judas werk dit nader uit en vergelyk hulle selfs met die manne van Sodom. Sy
oordeel is vernietigend. Hulle besoedel hul eie liggame en verwerp die gesag van
die Here. Hulle is soos verstandelose diere wat hul natuurlike drange volg.
Hulle is wolke wat geen reën bring nie, vrugtelose bome, murmureerders wat
volgens hulle begeerlikhede wandel.

Wees nie verbaas oor hul aanwesigheid en invloed nie. Daar is niks nuuts
onder die son nie. Christus het reeds vir sulke spotters gewaarsku wat volgens
hul eie goddelose begeerlikhede wandel.

Geliefdes hier ontvang ons ’n ernstige waarskuwing. Die sonde wat hier
genoem word is ’n sonde wat nie deur heidene gedoen kan word nie. Heidene is
sedeloos in hul gedrag. Maar hulle kan nie die genade verander in sedeloosheid
nie. Om dit te doen moet jy eers weet wat genade is. Daarom kan net kerkmense,
christene hierdie sonde doen en deur hierdie sonde bedreig word. Is julle nog
almal gelukkig met die ware christelike vryheid wat bestaan in jou gebondenheid
met liggaam en siel aan ons Verlosser Jesus Christus? Ook onder ons kan daar
maklik mense opstaan wat ’n onskriftuurlike inhoud aan die christelike vryheid
gee. Hoe moet ons sulke gevare afweer?

Dit bring ons by die tweede gedagte: ons moet onsself in die liefde van God
bewaar.

Judas skryf: "Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul
allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van
God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die
ewige lewe verwag." In die oorspronklike teks is dit duidelik dat die
hoofsin is: bewaar julleself in die liefde van God. Al die ander sinne is
daaraan ondergeskik.

Judas roep ons op om tydig antistowwe te ontwikkel wat verdere besmetting kan
voorkom. Die geestelike medisyne moet tydig ingeneem word. Verwêreldliking is
nou eenmaal ’n siekte met ’n lang inkubasietyd.

Die sentrale gedagte is dus: bewaar julleself in die liefde van God. Die
teenstanders praat voortdurend oor die liefde. In die nuwe moraliteit is die
liefde die sentrale woord. Wat die Skrif as sedeloos verwerp, word op grond van
die liefde verdedig.

Maar die liefde waaroor die Bybel praat, is iets totaal anders. Die liefde
van God is eers die liefde dat God ons in Christus gesoek het. Van nature wil
ons die liefde nie, ons haat dit selfs. In Betlehem het God ons gesoek. Christus
wat ryk was, het vir ons arm geword om ons ryk te maak. Christus het vir ons op
die kruisberg gesterf. Wat ’n liefde van God. Die kruis praat van oordeel oor
die sonde en genade vir bekeerde sondaars. Die liefde van God wil ons liefde vir
God wek. Daarom wys die liefde van God op beide God se liefde vir ons en ons
liefde vir God.

Wel, ons moet alles wat moontlik is doen om onsself in die liefde van God te
bewaar. As ek die ware liefde uit die oog verloor, dan gaan dinge verkeerd en
dan gaan die lewe en die moraliteit agteruit. Daarom bly in die sfeer van die
liefde. Groei in liefde. Groei meer en meer na Jesus Christus toe. Geniet van sy
liefde en wys jou liefde vir Hom in dankbare gehoorsaamheid.

Hoe kan jy jouself in die liefde van God bewaar? Eerstens deur jouself op te
bou in jou allerheiligste geloof. Bou op die fondament van jou allerheiligste
geloof. Dit is: op die geloofswaarheid wat vir julle verkondig is, die leer van
die apostels en profete. In vers 3 het Judas ons vermaan om te stry vir die
geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Die moderne christene kom met
nuwe idees. Hulle vertel jou dat die ou geloof uit die tyd is, dat jy ouderwets
is wanneer jy die ou bybelse waardes vashou.

Maar laat hulle jou nie mislei nie: God het sy woord eenmaal gespreek, eens
en vir altyd. Daarom hou vas aan die geloof wat eenmaal aan die heiliges
oorgelewer is. Bly daarvoor stry. Laat niemand dit van jou af wegneem nie. Bou
jouself op in die christelike geloof. Die geloof word in die teks die
allerheiligste geloof genoem. Dit is deur die Heilige Gees geinspireer, gegee.
Dit is gefokus op die heilige God en staan teenoor die sonde. Die allerheiligste
geloof vereis ’n allerheiligste lewe.

Gemeente, vandag bou baie mense op hul eie subjektiewe ervaring. So val jy
maklik in allerlei vorme van sedelose, wêreldse gedrag. As ek my gevoel my laat
lei, dan bou ek op dryfsand. Daarom: bou jouself op in jou allerheiligste
geloof. Werk aan geestelike groei. Lees jou Bybel, bestudeer jou bybel, oorpeins
dit. Luister na die prediking. Sing geestelike liedere ens ens. Werk aan
jouself. Dit is ’n roeping. As jy die roeping negeer, dan gaan jou lewe
agteruit. Dan het jy geen weerstand teen die versoeking nie. Dan raak jy maklik
gevang deur moderne gedagtes en gedrag. Daarom, maak goed gebruik van die
geleenthede om jou toe te rus.

Bowendien, moet jy ook bid in die Heilige Gees. Bid sonder ophou. In die
Heilige Gees. Waarom in die Heilige Gees? Ons gebede kan maklik selfgesentreer
word, gefokus op ons belange en ons begeertes. Om in die Heilige Gees te bid,
maak daar ’n einde aan. As ek my deur die Heilige Gees laat lei, dan leer ek
om God eerste te plaas, sy eer, sy belange. Die Gees leer my om volgens die wil
van God te bid. Dan bied ek God nie ’n verlanglys aan van dinge wat ek graag
wil hê nie, maar dan vra ek vir dit wat ek nodig het om vir Hom te leef en te
werk. My gebede is dan gefokus op God en sy heerlikheid. God verhoor sulke
gebede. So kan ek die bose, die geslepe verleidinge, weerstaan en sterk staan.

Geliefdes, om jouself in die liefde van God te bewaar hoef jy nie net jouself
in die allerheiligste geloof op te bou nie, ook nie net in die Heilige Gees te
bid nie. Jy moet ook die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus tot die
ewige lewe verwag. Jy moet nie slegs terugkyk nie, die geloof wat eenmaal aan
die heiliges oorgelewer is vashou nie, ook nie net bo toe kyk nie, bid in die
Heilige Gees. Jy moet ook vooruitkyk. Die groot dag van Christus se wederkoms
verwag. Uitsien na die barmhartigheid wat op die dag gewys sal word: vryspraak
van hulle wat glo en toegang tot die vreugde van die Lam. Die ongelowiges, die
sedeloses, wag ’n verskriklike dag. Hulle verdoemenis is aanstaande. Jy kan
nie ’n grap maak van die enigste Heerser, God, en die Here Jesus Christus nie.
Een dag sal elkeen voor Hom moet verskyn. Daarom neem die dag van sy koms
ernstig op. Berei jouself daarop voor. Die dag kom naderby. Dan kan die
huweliksfees van die Lam begin. Wat ’n geweldige vooruitsig!

Maar broeders en susters, wat van hulle wat reeds onder die invloed van sulke
moderne denke gekom het? Wat moet ons met hulle maak? Hoe moet ons hulle
benader? Dit lei tot die derde gedagte: ons moet hulle in liefde red.

In die verse 22,23 onderskei Judas tussen twee of drie groepe mense,
afhanklik van hoe ons die teks lees. In ons vertaling lees ons van twee groepe,
terwyl die nuwe vertaling drie groepe noem. Luister maar: "Oor die wat in
twyfel verkeer, moet julle julle ontferm. Ander moet julle red deur hulle uit
die vuur te ruk. Oor ander moet julle julle met versigtigheid ontferm; en
verafsku selfs die klere wat deur hulle sondige luste besmet is." Ons hou
dit maar by die tweedeling van ons vertaling.

Uit die onderskeid wat Judas maak is dit duidelik dat ons nooit alle mense op
dieselfde manier mag benader nie. Een situasie is nie dieselfde is die ander
nie. Mense word nie almal op dieselfde manier en in dieselfde mate geraak deur
die sonde nie. In jou benadering van ander moet jy altyd die spesifieke situasie
in rekening bring en sensitief weer vir die individuele, persoonlike
omstandighede.

"En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartig wees" vertel
Judas ons. Ons eerste opdrag is om barmhartig te wees. Die beheersende deug wat
ons vir ons medelidmate moet wys is barmhartigheid. By die ander lesing word dit
ook herhaal in vers 23. Om mekaar te vermaan moet ’n saak van barmhartigheid
wees. Barmhartigheid wat deur die groot barmhartigheid van God opgewek is, die
groot barmhartigheid wat God ons in Jesus Christus gewys het, die barmhartigheid
wat ons by Christus se verskyning verwag. As ek die barmhartigheid ken en verwag
dan wil ek ook barmhartigheid betoon. As ek deur God se groot barmhartigheid
gered is, sou ek dan ook nie bekommerd wees ook die redding van my medelidmaat
nie? Dis ’n barmhartigheid wat ook gewek is deur die swakheid, lyding of
kwesbaarheid van die ander wat hulp nodig het.

Die eerste groep wat genoem word is die twyfelaars. Jy het onder die invloed
van die moderne denke gekom, maar jy het jouself nog nie daaraan oorgegee nie.
Jy word van twee kante getrek, heen en weer geslinger. Die moderne denke het sy
aantrekkingskrag. Miskien het jou vriende reeds daaraan toegegee. Maar jy het
nog nie vrede daarmee nie. Dis nog nie heeltemal duidelik vir jou wat God van
jou verlang nie. Jy twyfel. Jy het ondersteuning nodig. Daarom: help sulke mense
in liefde. Stel hulle gerus sodat hulle die onchristelike leringe en praktyke
kan weerstaan en ’n duidelike christelike standpunt kan inneem.

Die tweede groep is hulle wat reeds deur die vuur van die sonde
geskroei/verbrand is. Jy is reeds daardeur gevang en loop gevaar daardeur
verteer te word. Red sulke mense deur hulle uit die vuur te ruk. Om
barmhartigheid te wys is nie dieselfde as om sag te wees in jou benadering nie.
Wanneer jy sien dat iemand in die vuur lê, dan vra jy hom tog nie beleef of hy
uit die vuur wil stap nie. Nee, ’n vinnige en vasberade aksie is nodig. Jy ruk
die persoon uit die vuur. Dit is in die situasie barmhartigheid. Anders sou die
persoon heeltemal verlore gaan. Daarom moet jy soms ook skerp woorde gebruik. So
lank as dit maar in liefde gedoen word, met die opregte begeerte om te red.

Om uit die vuur te ruk wys dat jy die persone nooit mag negeer nie. Daar is
teveel op die spel. Jy soek hulle op. Jy praat met hulle. Jy maak vir hulle
duidelik die kontras tussen God se lewendmakende genade en die dodelike
sedeloosheid. Wys wat ware vryheid in Christus werd is. Is dit wat jy en ek
doen?

In jou liefde vir die sondaar moet jy alles haat wat met die sonde te doen
het, uit vrees dat jy self besmet sou word. Haat selfs die kleed wat deur sonde
bevlek is. Oorskat jouself nie in jou kontak met sulke sondaars nie. Moenie dink
dat dit jou nooit sal kan raak en beinvloed nie. Moenie dink dat jy met hulle
’n entjie kan saamgaan om die kanale oop te hou en hulle moontlik terug te wen
nie. Maak seker dat jy niks met hul sonde te doen het nie. Wys in alles ’n
radikale afwysing van hul denke en gedrag. So is jy barmhartig. Laat hulle
ontdek hoe ernstig hul situasie is en dat hul sonde ’n sekere afstand
veroorsaak.

Broeders en susters, is ons radikaal genoeg in ons afwysing van sonde en in
ons barmhartigheid teenoor die sondaar. Stry ons nog vir die geloof wat eenmaal
aan die heiliges oorgelewer is. Om dit te doen moet jy volkome bewus van die
gevare wees. Jy moet jouself in die liefde van God bewaar en jy moet sondaars in
liefde probeer red.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)