Die gemeenskap van die heiliges ken twee sleutelwoorde: dankbaarheid en liefde.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-03-23
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 21
Preek Inhoud: 

Sondag 21, vraag & antwoord 55

Ds C Kleyn - Sondag 23 Maart 2003

Lees:

1 Korinthiërs 12:12-13:13; Sondag 21, vraag & antwoord
55.
Sing: SB 27; Ps 131; Ps 133; Ps 134:1-3.

Tema:


Die gemeenskap van die heiliges ken twee sleutelwoorde: dankbaarheid en
liefde.

Daarom,

  1. Sê nie: kyk hoeveel ek mis nie, maar, kyk hoeveel ek besit; en
  2. Vra nie: hoeveel ontvang ek nie, maar, hoeveel gee ek.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die bybel gebruik ’n pragtige beeld vir die kerk: dit word ’n liggaam
genoem, die liggaam van Christus. Wat tipeer ’n liggaam? Dit is die hegte
eenheid van al sy lede. Die kerk is ’n geestelike eenheid. Alle lidmate het
mekaar nodig. God het die liggaam so saamgestel, sê Paulus, dat die lede gelyke
sorg vir mekaar mag dra. As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer
word, is al die lede saam bly.

Ek sal dus moet erken dat ek die ander nodig het en dat die ander lidmate my
nodig het. Dit sou bespotlik wees om te sê: ek het jou nie nodig nie. Paulus sê:
"die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die
hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie." Ek is op my eie nie
kompleet nie. Ek kan op my eie nie goed funksioneer nie. Oë en ore is hoog
ontwikkelde liggaamsdele, hulle is fantasties mooi gemaak. Maar op hul eie is
hulle niks werd nie. Hulle het bv ’n hoof en ’n nek nodig om te funksioneer.
So het alle lidmate van die gemeente mekaar nodig. Saam vorm ons ’n hegte
eenheid.

Maar, geliefdes, is dit werklik so? Is die Bybel nie te idealisties nie? Gee
die bybel nie ’n onwerklike tekening van die kerk nie? Vorm ons hier in die
Pretoria gemeente werklik so ’n hegte geestelike eenheid? Sien ons nie in elke
gemeente dat sekere lidmate aan die kant staan en dat die eenheid slegs ten
volle deur ’n deel van die gemeente beleef word nie? Ontstaan daar dikwels nie
’n sekere verwydering tussen die lidmate wat tot tweedrag kan lei nie? Die
gemeente van Korinte was hierin allermins voorbeeldig met sy verdeeldheid en
partygees.

En hoe is dit onder ons? Sommiges ervaar intens die gemeenskap van die
heiliges. Ander vind dat dit ontbreek. Telkens weer is daar die gevoelighede wat
die belewing van die eenheid versteur. En dit is vandag mode om mekaar uit te
los, om nie baie met mekaar te make te hê nie. Ek doen my eie ding en fokus op
my vriende of familie kring. Hulle wat daarbuite val moet hulleself maar red.
Ja, hoe gaan dit met die gewone daaglikse omgang met mekaar? Is daar nie baie
tekortkomings en sondes nie?

Beteken dit, gemeente, dat die Bybel ’n onrealistiese tekening van die kerk
gee wanneer dit die kerk as ’n liggaam teken nie? Moet ons die beeld van die
liggaam, waarby elke lid die ander nodig het en aanvul, maar los? Nee, in
Christus bly dit ’n werklikheid dat die kerk ’n liggaam vorm. Die kerk is
die liggaam van Christus, ’n hegte geestelike eenheid. As jy dit los dan kan
jy wel heeltemal vergeet van die kerk van Christus. Dan het jy jou neergelê by
’n verworde situasie en dan het jy die kerk gedegradeer tot ’n puur menslike
geselskap. Dan het jy geen grond meer om die gemeente op te roep om in die
praktyk te wys wat hulle in Christus is nie.

Ons bly dus volhou: die gemeente is ’n liggaam, ’n organiese eenheid.
Vanuit die werklikheid stel ons die gebreke en ongerymdhede aan die kaak. Sodat
die gemeente meer en meer in die praktyk mag gaan wys wat sy in Jesus Christus
is. Wanneer ons gebreke sien, dan sê ons nie: die kerk is geen liggaam nie.
Tensy die gemeente natuurlik nie meer gemeente van Christus is nie. Maar met die
krag van ’n appel sê ons: is julle ’n liggaam, die liggaam van Christus? En
gaan julle so met mekaar om? Dit kan tog nie? Wys wat julle in Christus Jesus
is. Anders kan dit inderdaad gebeur dat jy ophou om kerk van Christus te wees.

So sal ons mekaar bly aanspreek en aanspoor. Dis baie belangrik dat elkeen sy
eie plek ken en die plek ook inneem tot opbou van die hele liggaam.

Daartoe wil ek vanaand vir julle die gemeenskap van die heiliges verkondig.
Die gemeenskap van die heiliges ken twee sleutelwoorde: dankbaarheid en liefde.

Daarom, sê nie: kyk hoeveel ek mis nie, maar, kyk hoeveel ek besit.

En vra nie: hoeveel ontvang ek nie, maar, hoeveel gee ek.

Ja, daar is altyd wel teleurstellings binne die gemeenskap van die heiliges.
Die heiliges is allermins sonder sonde. Wat verenig ons hier in die gemeente?
Nie ons vroom gedrag nie. Wat ons verenig is dat ons weet dat ons sondaars is en
ons ons redding buite onsself in Jesus Christus soek. Binne die gemeenskap van
die heiliges is dit baie belangrik hoe ek die gebreke en tekortkomings van ander
hanteer. Ek kan myself en ander so maklik in die pad staan.

Die kat sê volgens die Skrif mooie dinge van die gemeenskap van die
heiliges. Dan moet ek goed let op die 'ten eerste' van die kat antwoord. Ons kan
dit so maklik oor die hoof sien wanneer ons oor die gemeenskap van die heiliges
praat. Waaraan dink jy eerste wanneer die gemeenskap van die heiliges genoem
word? Dink ons meestal nie eers aan die menslike kant van die saak nie, die
onderlinge liefde en omgang van die lidmate. En dan het ek baie om oor te praat
of om oor te kla.

Maar, geliefdes, as jy oor die gemeenskap van die heiliges wil praat, dat
moet jy begin met die 'ten eerste' van die kat. "Ten eerste dat die
gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus
gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het." Dit is die eerste en
belangrikste aspek. Moenie daar oorheen lees nie. As jy dit doen, dan is dit
logies dat jy in jou belewing van die gemeenskap volkome teleurgestel sal wees.
Die meeste klagte oor die gemeenskap van die heiliges kom daaruit voort dat
mense die vitale aspek oor die hoof sien. Hoe anders sou ons as gemeenskap
funksioneer as elkeen van ons die eerste aspek skerp sou bly raaksien.

Wat die kat vir ons as eerste noem is die wortel, die bron waaruit die
tweede, die beoefening van die gemeenskap van die heiliges, voortvloei. Eers is
daar die gemeenskap met die Here Christus. Eers daarna en as vrug daarvan is
daar die beoefening van die gemeenskap van die lidmate onderling. As ek egter
die vrug van die wortel losmaak dan word dit kil en doods, dan neem ek die lewe
daaruit weg en dan kan ek niks meer van die onderlinge gemeenskap verwag nie.

In die eerste plek is daar daarom die gemeenskap met Christus van almal saam
en elkeen afsonderlik. As gelowiges saam en as individuele gelowige het jy
gemeenskap met Christus soos die liggaam aan die hoof en die ranke aan die
wynstok verbind is. Soos die ranke geen lewe in hulleself het nie, maar die
wynstok nodig het, so het ek Christus nodig, die bron van krag en lewe. En ek
het Christus ook ontvang. Ek mag gemeenskap met Hom hê. Wat ’n wonder van
genade!

Hierin is ek nie alleen nie. Saam met ander het ek dit. Christus vergader vir
homself ’n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is. Saam mag ons leef
uit dieselfde bron en gedryf word deur dieselfde Gees. Is dit nie geweldig,
geliefdes? Ons is verstom! Hoe bestaan dit! Saam het ons deel aan Christus. Ons
is almal dierbaar vir Christus. Sy kosbare besit. Daarom ook kosbaar vir mekaar.
Watter prys het Christus nie vir ons almal betaal nie: sy kosbare bloed. Elkeen
van julle is daarom dierbaar. Skatte waarmee jy sorgvuldig omgaan.

En geliefdes, as jy eenmaal met Christus gemeenskap het, het jy ook deel aan
al sy skatte en gawes. Daar is ’n oorvloed van skatte en gawes. Verdienste van
Christus. Die heil wat Hy verwerf het. Die onverwelklike skatte van God se
koninkryk. Die kat noem as skatte die vergewing van sondes en die ewige lewe.
Dit is die heil in ’n neutedop.

Saam mag ons die vergewing van sondes besit. Dit die basis waarop ons leef en
die basis van ons gemeenskap met mekaar. Ek ken myself as ’n sondaar en ek ken
die ander as sondaars. Volkome afhanklik van die vergewing. Daarom hoef die
tekorte en die sondes in die gemeenskap my nie van my stuk te bring nie. Nee, ek
weet dat ek ook voortdurend vergewing van sondes nodig het. Daar is nie net die
sondige dade nie, maar daar is ook die sondige aard waarteen ek my hele lewe
lank moet stry. Die ander lidmate het dieselfde stryd as ek. Dit bepaal dan my
houding teenoor die medelidmate. Daar is geen rede om hulle te verwerp of te
verag nie, ook al het hulle my seergemaak nie. Hoe durf ons om hulle te verwerp
wat Christus ons Heer aanvaar het? Net soos hom of haar het ek ook voortdurend
vergewing nodig. En saam ontvang ons die vergewing. Dit bind ons saam.

Behalwe die vergewing van sondes, is daar nog baie gawes, gawes wat elke
lidmaat afsonderlik ontvang ooreenkomstig sy eie funksie en posisie. Daar is
’n groot verskeidenheid van gawes ter wille van die heil van die hele liggaam.
In Rom 12 som Paulus ’n aantal gawes op wanneer hy skryf: "En ons besit
genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is: is dit
profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening;
of wie leer, in die lering; of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in
opregtheid; wie ’n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met
blymoedigheid."

In die gemeenskap van die heiliges, waar Christus sy skatte en gawes uitdeel,
pas dit dus nie om te kla: kyk hoeveel ek moet mis nie. As ek in ’n moeilike
situasie teregkom, as my moontlikhede my ontneem word en ek dinge moet mis wat
ander nog het, dan kan die gemis ’n groot stempel op my lewe sit. Dit kan my
gedagtes, ja, my hele lewe gaan beheers. Dit kan my sig op die gemeenskap van
die heiliges belemmer en my in die belewing daarvan teleurgestel laat voel.

Maar geliefdes, moenie vergeet hoe ryk jy is nie, ook wanneer jy ’n pynlike
verlies ly. Kyk hoe baie jy besit: ’n rykdom aan skatte en gawes. Wat ’n
weelde vir my, wat dood was deur my sondes, om te mag geniet van die gemeenskap
met Christus, die weg, die waarheid en die lewe. En dat ek so mag deel in al sy
skatte en gawes. Net wanneer ek dit bly raaksien, in verwondering, slegs dan kan
ek my plek binne die gemeenskap van die heiliges inneem sonder om gefrustreer te
wees. Dan sê ek nie steeds: kyk hoe baie ek moet mis nie, maar dan sê ek in
dankbaarheid en verwondering: kyk hoeveel ek besit: Christus en al sy skatte en
gawes, in kort die vergewing van sondes en die ewige lewe.

Broeders en susters, dan sal jy ook geen moeite hê om jou gawes gewillig en
met vreugde te gebruik tot nut en saligheid van die ander lede nie. Dis die
tweede gedagte: binne die gemeenskap van die heiliges is nie slegs dankbaarheid
die sleutelwoord nie, maar ook liefde. Daarom, moenie eers vra: hoeveel ontvang
ek nie, maar hoeveel gee ek.

Christus se onmeetlike liefde wek liefde in ons harte op. Ek is dan nie meer
so bekommerd oor myself nie, maar oor die ander: hoe kan ek hom of haar dien.
Liefde eis nie vir homself nie, maar liefde gee. Ek besef maar al te goed dat
alles wat ek besit genade gawes is. Niks is in die strikte sin van die woord my
eie nie. En wat ek ontvang het, is nie iets om in die grond te bêre nie of aan
die kant te skuif nie, vir watter rede ook al. Of ekself iets van ander ontvang,
is dan nie meer so belangrik nie, so lank as ek kan gee. Daar is niks wat ek
meer wil doen as dit. So lank as ek maar die rykdom wat ek ontvang het met ander
kan deel. So lank as ek my skatte en gawes diensbaar kan maak aan die opbou van
die hele liggaam. Die gemeente is mos ’n kosbaar geheel, duur gekoop deur
Christus se bloed, iets waar jy sorgvuldig mee omgaan, iets wat die moeite werd
is.

En broeders en susters, as ek dan sien dat ander nalatig is, dat hulle nie
hulleself met hul gawes inspan nie, dat hulle my verwaarloos, wat doen ek dan?
Dan begin ek nie om myself te bekla nie. Laat staan dat ek kwaad vir kwaad
vergeld, deur dieselfde te doen, deur hulle aan hul lot oor te laat. Nee, liefde
beantwoord kwaad met die goeie. Dan probeer ek deur my voorbeeld te wys hoe
Christus dit in die gemeente wil hê. Wat my die meeste seermaak is nie dat ek
self beledig is nie, maar dat Christus beledig word. Dit maak my seer dat
Christus se gawes nie opgemerk word en nie produktief gemaak word nie. My
bekommernis is dat Christus nie die eer en dank ontvang wat Hom toekom nie.

In die gemeente is die maklik om na ander te wys, om te praat van hul
nalatigheid. Veral as ek nie die aandag ontvang wat ek graag sou ontvang en dink
dat ek sou moet ontvang nie. Daar is inderdaad baie tekortkomings. Ons is ’n
klomp sondaars in ’n gebroke wêreld. Soms kan lidmate tereg kla oor die
gebrek aan meelewe en sorg. Maar selfs dan bly die eerste vraag: wat doen ek
self met my talryke skatte en gawes? Dalk is God besig om my liefde op die proef
te stel. Doen ek wat ek kan vir die ander lidmate of is my liefde afhanklik van
wat hulle vir my doen? Wys ek onselfsugtige liefde binne die gemeente sodat
ander daardeur gestimuleer en gebou word in hul geloof? En as ander ’n tekort
aan begrip of fyngevoeligheid wys, gee ek dan ’n voorbeeld van fyngevoeligheid
wat deur die liefde van Christus en deur die ervaring van eie sondigheid gevoed
word?

Aan die ander kant, gemeente, dit gee natuurlik geen verskoning vir die
nalatigheid van ander nie. Elkeen van ons behoort tog aan Christus. Elkeen besit
die wonderlike skatte en gawes, of nie soms? Wel, wys dit dan dat jy met
Christus en al sy skatte gemeenskap het. Gebruik die gawes gewillig en met
vreugde, nie klaende nie, maar gewillig en met vreugde. Jy is tog bly met die
skatte en gawes? Wend hulle aan gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van
die ander lede. Moenie die ander lidmate verwaarloos nie. Niemand mag maak asof
hy of sy op sy eie is nie. Julle vorm tog ’n liggaam? Julle het mekaar nodig.
Christus het julle vir mekaar gegee om mekaar te dien. Paulus sê: God het die
liggaam so saamgestel "sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees
nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. As een lid ly, ly al die
lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly." Die ander
lidmate het, so te sê, jou eie vlees en bloed geword, deel van jouself geword.
Daarom raak hul situasie jou ook.

Gemeente, wat dikwels moeilik blyk te wees is om myself vir ander in te span
sonder om ’n positiewe respons te ontvang. Ons wil almal graag iets terug
ontvang, ook al is dit slegs ’n dankie. As ons die respons nie ontvang nie dan
het ons die neiging om die kontak te los. Die liefde wat ons wys word dikwels
bepaal deur die liefde wat ons terug ontvang. Maar, geliefdes, so ’n liefde is
nie anders as ’n humanistiese liefde nie. Dit is nie die liefde wat Christus
ons geleer het nie, die liefde wat Christus se liefde ons gewys het nie. Die
liefde wil gee, wil bly gee, in volkome selfverloëning. En as ek iets terug
ontvang, dan ervaar ek dit nie as ’n voorwaarde nie, maar as ’n toegif.

Dis duidelik uit die omskrywing van die liefde in 1 Kor 13. Die liefde is
lankmoedig, ek is nie onmiddellik beledig nie, ek kan baie verdra vir ’n lange
tyd. Ek ken myself as ’n sondaar wat van vergewing afhanklik is. Die liefde is
vriendelik. Dit verdra nie net baie nie, maar dit reageer ook positief op die
ander, dit beantwoord kwaad met die goeie. Die liefde is nie jaloers nie. Dit
wil sien dat ander gelukkig is en geëer word. Die liefde praat nie groot nie,
is nie opgeblase nie, handel nie onwelgevoeglik nie. Die liefde het ’n goeie
gevoel vir wat pas. Dit wil nie onnodig beledig nie. Die liefde soek nie sy eie
belang nie. Dis nie selfsugtig nie. Ek is nie die belangrikste nie, maar
Christus en so ook die ander. Die liefde word nie verbitterd nie, reken die
kwaad nie toe nie. Dit hou nie ’n lys by van al die kwaad van ’n ander nie.
Die liefde haat mos die kwaad en wil dit nie graag noem nie. Die liefde is nie
bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit bedek
alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Broeders en susters, so ’n selfverloënde liefde kan slegs getoon word
wanneer jy die onmeetlike liefde wat Christus vir jou gewys het, raaksien. Jou
medelidmaat in die kerk is dan dierbaar vir jou. Hy, sy is ook een met Christus.
Hy, sy het ook sy of haar daaglikse stryd teen die sonde. Jy is dan bereid om
alles vir hom of haar te doen, sodat hy of sy so goed as moontlik kan
funksioneer.

Binne die gemeenskap van die heiliges ken ons mos die sleutelwoorde
dankbaarheid en liefde. Daarom: sê nie: Kyk hoeveel ek mis nie, maar kyk
hoeveel ek besit. En vra nie eers hoeveel ontvang ek nie, maar hoeveel gee ek.

Geliefdes, slegs wanneer ons so lewe kan die gemeenskap van die heiliges
bloei. Eers as ek myself baie ryk voel, kan ek ander verryk. Dan is ons deel van
’n gemeenskap wat bestempel word deur Christus en sy skatte en gawes.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)