Christus kondig vir Jerusalem, die tempelstad, sy oordeel aan.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-04-13
Teks: 
Matthéüs 23
Preek Inhoud: 

Matthéüs 23:37-39

Ds C Kleyn - Sondag 13 April 2003

Lees:

Matthéüs 21:33-46; 23:29-39..
Sing: Ps 90:1,9; Ps 38:15,17; Ps 100:2,4; Ps 36:2; Ps 61:3,4,6; SB 28:3,4.

Tema:


Christus kondig vir Jerusalem, die tempelstad, sy oordeel aan.

  1. Jerusalem het sy sorg afgewys;
  2. Jerusalem sal aan sy lot oorgelaat word; en
  3. Jerusalem sal uiteindelik gedwing word om hom hulde te bring.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Gestel jou seun kom ’n aand by die huis en vertel jou dat hy vigs opgedoen
het. Jy het alles gedoen om hom op die wee van die Here te lei. Jy het hom ’n
christelike opvoeding gegee. Jy het hom kerk toe geneem. Jy het hom na ’n
christelike skool gestuur, katkisasie laat volg. Maar hy wou nie werklik luister
nie, hy wou vry wees. Jy het hom bly waarsku. Jy het geprobeer om hom te
beskerm. ’n Paar keer het jy hom selfs na middernag uit ’n nagklub
weggehaal. Maar dit het nie gehelp nie. Hy het ’n ander lewe gekies, ’n
goddelose lewe. En nou die berig: ek het vigs. Daar is geen uitsig op genesing
nie. Dit kom neer op ’n doodsvonnis. Sou jy nie totaal verslae wees nie?

Broeders en susters, kan julle jul voorstel hoe die Here Jesus gevoel moet hê
toe Hy die tekswoorde uitgespreek het? Jerusalem die kerkstad het alle voorregte
van God se volk ontvang. Nou nou het Jesus nog as Koning die stad binnegekom op
’n esel. Hy het die mense sy koms laat uitroep sodat elkeen sou weet: hier is
julle koning wat in die naam van die Here tot jou kom. Maar die massa, die
geestelike leiers voorop, wil hierdie koning nie. Hy is nie welkom in hul
godsdienstige sentrum nie. Hulle gaan hom vir goed daaruit uitwerp. Hulle weier
gehoorsaamheid. Christus weet: daarmee is hul vonnis gevel. God se geduld raak
op. Hul ondergang is seker. Vandaar Christus se ontroerende klag in ons teks.

Die woorde spreek ook ons, die Nuwe Testamentiese volk van God, aan. Jy en ek
het ook grootgeword met God se beloftes en eise. Die meeste van ons het
grootgeword of groei nog op in ’n christelike gesin. Jy is saamgeneem kerk
toe. Jy het die voorreg om God te leer ken. God het sy besondere sorg vir jou
gewys, sy hand na jou bly uitstrek. Wat doen jy nou daarmee? Is jy ook werklik
gehoorsaam aan jou Heer Jesus Christus? Of wil jy jou eie gang gaan, maak wat jy
wil, maak nie saak wat die Here deur jou ouers of ander christelike vriende en
leiers sê nie. God se geduld met verbondskinders is nie eindeloos nie. As jy
bly weier om jou in gehoorsaamheid te onderwerp, dan kan die deur vir goed
toesluit. Dis die erns van die woorde van die teks. Die erns veral vir hulle,
dus ook vir jou en my, wat in die verbond en in die kerk groot geword het of
groot word. Ja, dis so maklik om te wys op die ongelowige wêreld of moderne
christendom. Maar hierdie woord is in die eerste plek vir jou en my bestem. Laat
ons onsself betyds waarsku? Om in die verbond te lewe is geen kleinigheid nie.
God se geduld kan opraak. Dan is dit te laat om nog ernstig te gaan word.

Laat ons dan nader let op ons teks.

Ek verkondig vir julle: Christus kondig vir Jerusalem, die tempelstad, sy
oordeel aan.

  1. Jerusalem het sy sorg afgewys
  2. Jerusalem sal aan sy lot oorgelaat word
  3. Jerusalem sal uiteindelik gedwing word om hom hulde te bring

Jerusalem, Jerusalem. Proe julle die ontroering in Jesus se woorde? Herhaal
ons ook nie dikwels die naam van die persoon wat ons aanspreek wanneer ons diep
bewoë is nie, bv Koos, Koos, hoe kon jy dit tog laat gebeur het?

So spreek Christus die Jerusalem van sy dae aan: Jerusalem, Jerusalem.
Christus is diep bewoë wanneer Hy die tempelstad sien, ja wanneer hy aan sy
verbondsvolk wat daar woon dink. Wat Hy nou moet sê, gee hom baie verdriet.

In die herhaling van die naam hoor jy ook ’n dringende oproep tot bekering.
Christus spreek die hart aan. Besef tog waarmee jy besig is? Bekeer jou daarvan
voordat dit te laat is. So klink selfs in die aankondiging van die oordeel
Christus se soekende liefde. Tot die einde toe soek Christus die bekering van
sondaars, dat hulle mag lewe.

Wie spreek Christus hier aan? Die volk van Jerusalem, verteenwoordig deur sy
geestelike leiers. Jesus het nou nou die leiers berispe met sy sewevoudige 'wee
julle'. Die stad as geheel blyk in navolging van die leiers ongehoorsaam te
wees. Die massa verwerp die Christus. Die Here praat dus nie oor individuele
leiers wat wel Jesus wil volg nie. Hy spreek die stad aan, die massa onder
leiding van die geestelike leiers. Die stad as sodanig het Hom verwerp. Die Here
het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie (Joh 1:11).

Let daarop hoe Jesus Jerusalem tipeer? Waarvoor staan Jerusalem bekend? Dit
staan bekend vir die doodmaak van profete. Jesus sê: "Jerusalem,
Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig die wat na jou gestuur
is." Jesus gebruik die teenwoordige tyd om aan te dui dat die doodmaak van
die profete nie net een of twee keer gebeur het nie, as iets insidenteels nie.
Nee, dis iets wat Jerusalem getipeer het en nog tipeer. So is Jerusalem.
Dienaars van God wat getrou God se woord vir die mense bring, word gedood. Hulle
word as vyande behandel, ketters. Hulle word gestenig. Dis wat Jerusalem, die
stad van God met God se troue boodskappers doen.

Dis geen onbeduidende aanklag nie. Gestel dat dit vir julle gesê sou word:
julle maak God se boodskappers dood. Is dit nie oordrewe nie? Hulle maak tog nie
steeds die profete dood nie? Tog tipeer dit Jerusalem. In die gelykenis van die
landbouers sien ons dat hulle God se diensknegte doodgemaak het en ook die seun
van die huisheer wil doodmaak. Dis nie net ’n eenmalige aksie nie. Dis ’n
houding. Sonder om letterlik iemand dood te maak kan ek nog ’n moordenaar
wees. Luister maar na wat Christus in Mt 23:29- 35 sê. Die geestelike leiers
maak asof hulle die profete eer. Hulle bou die grafte van die profete en versier
hul grafstene. Hulle maak asof hul anders as hul vaders is wat die profete
vermoor het. Hulle keur dit wat in die verlede gebeur het af.

Dit laat ’n mens dink aan die manier waarop baie vandag oordeel oor die
behandeling wat die Hervormers in die kerk gekry het. Mense sê nou: die
Hervormers moes nooit vervolg of gedood gewees het nie of uit hul amp geset nie.
Hul grafstene word nou versier, so te sê. Maar dieselfde mense gaan aan om ware
profete te vermoor. Op watter manier dan? Deur hul Bybelse onderrig af te wys.
Is hulle werklik beter as hul vaders wat die profete gedood het? Hulle wys dat
hulle die kinders is van die wat die profete vermoor het, ondanks hul meer
tolerante houding. Hulle bly weier om hul te onderwerp aan die bybelse leer wat
die boodskappers verkondig het.

So kan ek, jy ook ’n moordenaar wees. Hoe? Jy vermoor tog nie mense nie?
Inderdaad, maar wanneer jy weier om die woorde van God te aanvaar dan is jy ’n
moordenaar van die profete. Wanneer jy weier om te luister na bybelse onderrig,
weier om te luister na getroue prediking van die Woord, wanneer jy gewoon jou
eie pad volg, dan is jy skuldig aan moord.

Hierdie doodmaak van die profete kan selfs in ’n meer letterlike sin
gebeur. Hoeveel godvresende ouers word nie gebreek deur hul opstandige en
ongehoorsame kinders nie? Hoeveel ampsdraers raak nie uitgeput nie vanweë
lidmate wat gewoon nie wil luister nie? Vermoor van profete in byna letterlike
sin.

Dis hoe dit is met die Jerusalem van Jesus se dae. Met hul lippe veroordeel
hulle die doodmaak van die profete in die verlede. Maar in werklikheid is hulle
nie beter as hul voorouers nie. Daarom sê Jesus: kyk, Ek stuur profete en wyse
manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en
kruisig en sommige van hulle in julle sinagoges gesel en van die een stad na die
ander vervolg (vers 35). Dit is Jerusalem, die kerkstad, moordenaars van
profete.

Maar geliefdes, wat ’n geduld het God bewys. Ondanks die moorde uit die
verlede, het Christus tot sy eie mense gekom. Vol bewoënheid sê Christus: Hoe
dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die
vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!

Wat ’n tere sorg het Ek gewys, sê Christus, soos ’n hen vir haar kuikens
sorg, met haar vlerke klap sodat die kuikens hul veiligheid onder haar vlerke
sou soek. Ja, dis hoe Christus besig was en is. Wanneer sien jy die hen haar
kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak? Dit gebeur wanneer daar gevaar is. So
wou Jesus Jerusalem beskerm teen die naderende gevaar. Daarom het hy die mense
weggeroep van die verkeerde leiers, die skrifgeleerdes en Fariseërs. In sy tere
sorg wou Hy hulle bevry van die komende oordeel van God. Hy wou hulle rondom
homself vergader, onder sy vleuels.

'Maar julle wou nie,' sê Christus. Wie is die julle? Dit kan wys op die
bewoners van Jerusalem. Dis egter opvallend dat Christus sê: hoe dikwels wou Ek
jou kinders bymekaarmaak, maar julle wou nie. 'Jou kinders' word onderskei van
'julle'. 'Jou kinders' sal waarskynlik sien op die mense van Jerusalem. 'Julle'
wys dan op die leiers van Jerusalem. Hulle wou dit nie. Hulle wou hul kinders
vir hulleself hou. Hulle wou die mense in hul beheer hê. Hulle wou nie die
aansprake van die Here Jesus erken nie. Nee, hul aansprake was belangriker. So
het hulle Christus se werk van kerkvergadering weerstaan. Christus wou die mense
rondom homself vergader. Hy wou hulle laat skuil by Hom in die vergewing van hul
sondes. Maar die leiers het hulle weerhou. En die mense het uiteindelik geweier
om te kom.

Dieselfde kan ook vandag gebeur. In die verbond sien ons nog steeds hoe
begerig God is om ons kinders bymekaar te maak, soos ’n hen haar kuikens onder
haar vlerke bymekaarmaak. Sien tog God se tere sorg. Vergelyk dit ook met die
doop van Maarten. God wil hulle geestelik laat groei, as dankbare kinders laat
grootword, kinders wat deur genade lewe onder die skadu van sy vlerke. Maar wat
doen ons as ouers en leiers? Dit kan gebeur dat ons as ouers en as leiers ’n
verhindering vir Christus se werk van vergadering word. Ons wil dan die kinders
vir onsself hou om hulle op ons paaie te lei, pleks dat ons Christus hul Heer
laat wees. Ons kan die geloof, hoop en liefde van ons kinders versmoor. Ons kan
hul vreugde bederf, hul groei verhinder deur ons houding en gedrag. Sodat hulle
uiteindelik die Here nie volg nie, omdat ons nagelaat het om ootmoedig met ons
God te wandel.

Hoe verskriklik, geliefdes, as dit die geval is. Daar bestaan geen twyfel
daaroor nie: Christus het sy tere sorg gewys. Hy het gewys dat Hy verlang om jou
en jou kinders te vergader soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke. Hy het
gewys dat Hy werklik omgee vir jou en jou heil. Hy het op die kruis gesterf. Hy
het opgestaan. Hy kom na jou toe met sy Woord en Gees. Hy het die meeste van
julle ’n christelike opvoeding gegee. Hy roep jou twee keer per sondag saam
vir die prediking van sy woord en die gemeenskap. Wat is jou antwoord? As ouers,
as leiers, as kinders? Laat jy jou kinders, laat jy jouself deur die Here
vergader? Of moet Christus konkludeer: jy wou nie? Jy het geweier om te luister.
Jy wou jou eie pad gaan. Jy wou die kinders nie toelaat om op hul eie voete te
staan as verantwoordelike christene nie. Hoe verskriklik sou dit wees, broeders
en susters. Want dit is die tweede gedagte van die preek: Jerusalem wat weier
word aan haar lot oorgelaat.

Die oordeel lui: julle huis word vir julle woes gelaat. Julle huis, is dit
die tempel? Of is dit die stad met sy inwoners? Ons hoef geen keuse te maak nie.
Albei kom op dieselfde neer. As God sy tempel los, los Hy ook sy stad. En
omgekeerd: as God sy stad los, los Hy ook sy tempel. Wanneer jy Jerusalem as die
tempelstad sien, dan besef jy dat beide by mekaar behoort.

Christus kondig sy oordeel oor Jerusalem, die tempelstad, aan. Dit sal woes
gelaat word. Die Here sal Hom terugtrek van sy stad. Hy sal die inwoners aan hul
lot oorlaat. Hulle sal sonder Hom moet regkom, sonder sy hulp en sorg. Sonder
beskerming teen gevaar. So sal Jerusalem deur die Romeine oorwin en verwoes
word.

Christus voeg daaraan toe: "Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou
af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat om in die Naam
van die Here." Jerusalem die kerkstad word aan homself oorgelaat. Christus
sal homself nie weer aan hulle vertoon totdat Hy terugkeer op die dag van
oordeel.

Dis wat gebeur met ’n stad wat bewus die sorg en beskerming van die Here
Jesus verwerp. As jy weier om jouself deur Christus te laat vergader, sal jy
uiteindelik aan jouself oorgelaat word. 'Geweldig', sal sommiges miskien sê.
Dan is ek tenminste vry, vry van al die moeite, vry van al die ampsdraers en
lidmate wat my lastig bly val. Nou kan ek doen wat ek wil. Dis hoe mense dikwels
redeneer wanneer hulle die kerk die rug toedraai. Laat die kerk, laat God my met
rus laat. Dis goed. Dis ’n oplugting. Ja, is dit ’n verligting? Is dit goed?
Die teenoorgestelde is waar. Jy moet dit dan doen sonder God se sorg en
beskerming. Sonder God en sonder hoop. Jy word eensaam, verlate agtergelaat. God
en sy Seun Jesus Christus onttrek hulle sorg. Jy wou dit self uitsorteer. Wel,
op ’n sekere oomblik sê God: soek dit self maar uit, red jouself maar. Doen
maar waar jy lus vir is. Grawe jou eie graf, as dit is wat jy wil doen.

Dis, broeders en susters, die ergste ding wat ooit vir jou kan gebeur. Dis
iets wat ek die meeste moet vrees, dat God my sou verlaat, my sou opgee, my sou
los. Dan word ek hulpeloos gelaat. Dis die einde. Want sonder Hom kan ek niks
doen nie. Vir Jerusalem het dit die verwoesting van die stad en tempel beteken.
Vir die ontroue kerke en ontroue christene beteken dit God se oordeel.
Uiteindelike verderf. Met verskrikking voor God verskyn.

Maar wat van die eerbetoning waaroor Christus in ons teks praat? "Julle
sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat
kom in die Naam van die Here". Die mense wat Hom nou afwys, sal dan,
wanneer Christus terugkom, hom hulde bring. Dis opvallend dat Christus dieselfde
woorde gebruik as wat die mense enkele dae eerder gebruik het toe Hy Jerusalem
ingery het op ’n esel. Wanneer Christus op die laaste dag in heerlikheid kom,
dan sal alle mense moet erken wat baie enkele dae gelede uitgeroep het. Dan sal
niemand meer kan ontken dat Hy waarlik die Koning is wat kom in die Naam van die
Here nie. Hy wat dit nie wil erken nie, sal dan gedwing word om dit te doen.

By Christus se wederkoms in heerlikheid, sal elkeen, ook hulle wat Hom nou
nog afwys, voor Hom moet buig, of hulle dit wil of nie. Hulle sal nie sy mag en
heerlikheid kan ontvlug nie. Hulle sal genoop word om Hom te erken en Hom hulde
te bring. Ons lees iets dergeliks in Fil 2:10,11 "sodat in die Naam van
Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemele en die wat op die aarde en
die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is
tot heerlikheid van God die Vader."

Elke knie, ook die vyande, sal tot onderwerping gebring word en elke tong sal
hom erken as Heer van die Here. Vir hulle wat ontrou is, vir die goddeloses sal
dit egter te laat wees om hulle te beroep op sy beskerming. Die tyd van genade
is dan verby. Met hul hulde roep hulle ’n oordeel oor hulleself uit vanweë
hul ongeloof en opstand. ’n Verskriklike oordeel.

So sien julle, geliefdes, dat alle mense uiteindelike gedwing sal word om die
Here Jesus hulde te bring, selfs sy grootste vyande. Hulle wat nou in ’n
geestelike sin die ware profete van God vermoor deur hul leer en prediking te
verwerp, sal, tensy hulle hul bekeer, later genoodsaak word om Christus as
Koning te eer. Die hulde wat hulle nou weier om te gee: Geseënd is Hy wat kom
in die Naam van die Here, sal hulle een dag gee. Maar dan te laat. Dit sal dan
hul eie oordeel wees.

Broeders en susters, seuns en dogters, elkeen word gewaarsku deur ’n
genadige God. God se geduld is lank. Hy verlaat ons nie sommerso nie. Hy wys
eers baie sorg en liefde. Hy bly jou roep na die eredienste. Hy bly jou na
homself roep deur jou ouers, deur christelike vriende, deur ampsdraers. Hy bly
jou oproep tot nuwe gehoorsaamheid, van die sonde weg. Deur sy Woord en Gees.
Maar sy geduld is nie oneindig nie. As jy bly weier om jou aan Hom te onderwerp,
dan kan dit gebeur dat jy na ’n rukkie nie meer anders kan nie. Want God laat
hardnekkige weieraars uiteindelik aan hul lot oor. As jy werklik nie wil, dan
sal jy dit uiteindelik self moet uitsoek. Uiteindelik sal jy dan ontdek, maar
dan te laat, tensy Christus voor die tyd in sy genade ingryp, dat jy die lewe
geweier het.

Geliefdes, wees tog dankbaar vir Christus se tere sorg hier en nou. Wees bly
met jou christelike opvoeding, wees bly met die eredienste, wees bly met die
gemeenskap van die heiliges. Wees bly met die ouers en die broeders en susters
wat aan jou bly trek. Soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak
so is die Here Jesus besig om ons sy kinders te vergader. Dit is nou nog ’n
tyd van genade. Wat is jou reaksie daarop?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)