Die engel verkondig aan die soekende vroue die goeie nuus van die leë graf.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-04-20
Teks: 
Matthéüs 28
Preek Inhoud: 

Matthéüs 28:5,6

Ds C Kleyn - Sondag 20 April 2003

Lees:

Matthéüs 28.
Sing: Ps 118:12,13; Ps 62:1,5; Ps 21:1-3; SB
10; Ps 118:7,14.

Tema:


Die
engel verkondig aan die soekende vroue die goeie nuus van die leë graf.

  1. Die engel toon begrip vir hulle; en
  2. Die engel korrigeer hulle.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Pase is die Christelike fees.  Ons kan nie voorstel dat dit geen fees sou
wees nie.  Die feite van Pase gee alle
rede tot vreugde en feesviering.  Pase
is mos die groot keerpunt in die Christelike lewe: Jesus leef!  Elke Sondag word ons daaraan herinner.

Tog, gemeente, is Pase nie outomaties ’n fees
nie.  Dit hang daarvan af wat die opgestane
Here Jesus vir jou beteken.  Ons sien
dit reeds op die eerste Paasmôre.  Pase
is beslis geen fees vir die wagte by Jesus se graf of vir die Joodse leiers
nie.

Op die Paasmôre is daar skielik ’n groot
aardbewing.  God laat weet dat iets baie
belangriks plaasvind, net soos by Jesus se dood.  En ’n engel van die Here daal neer so blink soos weerlig en sy
klere so wit soos sneeu.  Hy rol die
steen voor die opening van die graf weg en gaan daarop sit.

Onder normale omstandighede was die wagte sterkte
en dappere manne.  Hulle was
soldate.  Maar wanneer die aarde onder
hulle skud en die engel so blink soos weerlig neerdaal en die klip voor die
opening wegrol, bewe hulle van skrik en word hulle soos dooies.  Wat ’n ironie!  Die dappere manne wat ’n dooie liggaam moet bewaak, word self
soos dooies, terwyl die dooie persoon wat hulle moet bewaak lewend word.  Wanneer hulle ’n bietjie herstel is van die
groot skok, vlug hulle in paniese angs van die graf weg asof die dood self
hulle op die hiele sit.

Wanneer hulle die gebeure aan die Joodse
leiers berig, ontstaan daar ook die nodige opskudding.  Die Joodse leiers kan die feite nie negeer
nie.  God moet hier ingegryp het.  Die aardbewing en die hemelse verskyning
soos weerlig is duidelike tekens van God se aksie.  Dit plaas die leiers in ’n moeilike posisie.  Hulle kan hulle slegs daaruit red deur ’n
growwe leuen en deur groot geld aan die wagte te gee om die leuen te versprei.

Pase beteken dus nie outomaties ’n fees
nie.  Die teendeel is waar vir die soldate
wat die graf bewaak en vir die Joodse leiers. 
Pase word eers werklik ’n fees vir die geloof wat deur liefde werk.  Die vroue wat in die vroeë oggend na die
graf toegaan, hoor die engel vir hulle sê: Moenie vrees nie.  Ook al het die wagte alle rede om bang te
wees, julle nie.  Julle hoef werklik nie
bang te wees nie, selfs nie as julle die engel sien wat blink soos
weerlig.  Die oorsaak van die vrees is
vir julle weggeneem.  Daarom: laat al
jul vrees vaar.

Laat ons nou luister na die goeie nuus vir die
vroue.  Ek verkondig vir julle: die
engel verkondig aan die soekende vroue die goeie nuus van die leë graf.

  1. Die engel toon begrip vir hulle
  2. Die engel korrigeer hulle

Die liefde vir die Here Jesus is duidelik
sigbaar op die Paasmôre.  Dit begin nog
maar net lig te word wanneer die vroue in die skemer op stap gaan graf
toe.  Christus se dood het hulle diep
aangegryp.  Maar dit het nie hul liefde
vir die Here Jesus weggeneem nie.  In
hul harte bly hulle nou aan die Here verbind.

Broeders en susters, hoe opvallend hul liefde
vir Jesus ook al mag wees, dit geld egter ’n dooie Jesus.  Hulle gaan na die graf.  Dis waar hulle Jesus soek.  Hulle soek Hom tussen die dooies.  Hulle dink nie verder as dit nie.  Hulle dink slegs in terme van dood en
verderf.  Daarom haas hulle hul na die
graf met speserye om die dooie liggaam te versorg.  Op geen enkele manier dink hulle aan ’n opstanding nie.

Die opvallend gemeente hoe die engel hulle in
hul situasie met hulle vrae aanspreek. 
Hy noem dit wat hul gedagtes steeds besig hou en waarmee hulle
worstel:  Ek weet julle soek Jesus wat
gekruisig is.  Ja, die kruis, dit kan
hulle maar nie uit hul gedagtes kry nie. 
Gekruisig, dit beteken vir hulle die mislukking van Jesus se lewe en
werk.  Die kruis sit ’n punt agter
alles.  Dit beteken die einde van hul
verwagtings, die einde van hul vreugde. 
Gekruisig beteken: dit is afgelope met Jesus.  Dis afgelope met hul omgang met Hom.  Daar is nou niks meer wat hulle kan doen nie as om aan hul dooie
meester die laaste eer bewys en as om die herinnering aan Hom lewend te hou.

Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is, sê
die engel.  Die woorde skep
vertroue.  Die engel weet wat hulle hier
kom doen.  Hy is blykbaar geen vreemde
vir hulle nie.  Hy is op die hoogte van
hul bedoelings voordat hulle ’n woord vir hom kan sê.  Dis uit liefde dat hulle Jesus soek.  Die engel erken dit in die manier waarop hy hulle aanspreek.  Ek weet daarvan, sê hy, as 't ware.  Dit is nie niks om die gekruisigde Jesus te
soek nie.  Al jou geluk het
verdwyn.  Al jou hoop is die bodem
ingeslaan.

Dis hoe God sy engel die vroue laat
aanspreek.  Moes die engel hulle nie
bestraf het nie?  Hulle moes tog beter
geweet het?  Het die Here Jesus tydens
sy bediening op aarde nie duidelik oor sy opstanding gepraat nie?  Hoe dikwels het Hy hulle nie vertel dat hy
moes ly, gedood en op die derde dag weer opgewek word nie?  Hulle was goed ingelig.  Waar is dan hul geloof in Christus se
woorde?  Blykbaar het hulle niks met die
woorde van die Here gedoen nie.  Hulle
het die woorde slegs ter kennisname aangehoor en weer teruggekeer na hul ou en
vleeslike denke.  Daarom is Jesus vir
hulle op hierdie paasmôre net die gekruisigde, ’n dooie en begrawe
meester.  Dis al waaraan hulle op
hierdie oomblik kan dink.  Pleks dat
hulle hul vol entoesiasme na die graf haas om die vervulling van Christus se
woorde te sien, gaan hulle mismoedig, in rou. 
Hulle het Christus se woorde oor sy opstanding nie bewaar nie, dis die
droewige refrein op die paasmôre.  Hulle
is onverstandig en traag om te glo alles wat Christus vir hulle gesê het.

Daar is dus alle rede vir ’n bestraffing.  Ons het meestal onmiddellik ons oordeel
klaar, veral as dit ander mense betref. 
Hoe kon hulle tog so ongelowig wees? 
Hoe dwaas!  Christus het dit tog
dikwels en duidelik genoeg gesê?  Maar,
broeders en susters, laat ons tog beskeie wees.  Anders sou ons ’n groot gebrek aan selfkennis verraai.   In hul optrede tydens die Paasmôre bewys
die vroue baie groot liefde vir die Here Jesus.  Onselfsugtige liefde. 
Selfopofferende liefde.  Hulle
kan mos heeltemal niks terug verwag vir hul bewyse van liefde nie.  Hulle dink mos dat Christus nog dood
is.  Bowendien deur Jesus trou te bly
kan hulle die spot en veragting van hul eie mense verwag.

Ondanks die feit dat die kruis die einde van
al hul verwagtings van Jesus beteken, bly hulle dus trou in hul liefde vir
Hom.  ’n Liefde wat alle dinge oorwin,
selfs die grootste teleurstelling.  ’n
Liefde wat nimmermeer vergaan nie.  
Selfs waar hul geloof vervaag en hul hoop verdwyn, bly daar die liefde
wat in dade gewys word.

Geliefdes, voordat ons begin om  hierdie vroue te veroordeel vir die swakheid
van hul geloof, laat ons na onsself kyk. 
Hoe is jou liefde vir die Here Jesus? 
Jy weet vandag baie meer oor Jesus as die vroue toe kon geweet het.  Jy weet dat Jesus leef en met eer en
heerlikheid gekroon is aan Vader se regterhand.  Nou dit vir jou soveel duideliker is, mag ’n mens verwag dat jou
liefde vir Christus ook soveel groter en dieper as die van die vroue sou
wees.  Is dit die geval?  Oortref jou liefde vir en trou aan Jesus
Christus werklik die liefde van hierdie vroue op die paasmôre?  Is Jesus Christus werklik alles vir jou?  Is jy werklik bereid om alles vir Hom te
doen in selfopofferende liefde.  Wat dit
jou ook al mag kos?  Ook al kom jy
daardeur alleen te staan en word jy daaroor deur jou maats en kollegas verag en
bespot?

Bowendien, hou ek in my daaglikse lewe werklik
rekening met die feit dat Christus opgestaan het en leef?  Met ander woorde doen ek wel iets met die woorde
wat Christus vir my oor Homself gesê het. 
Die hele Bybel vertel ons dat Christus leef en regeer.  Maar wat doen ek daarmee in my gewone lewe
en werk hier in SA, ook wanneer ek moeites ondervind, vir moeilike keuses
staan.  Glo ek dat Jesus leef?  Dat Hy leef om my te lei en help?  Vertrou ek myself toe aan sy woorde?  Is ek dus beter as die vroue op die
Paasmôre?

Nee, dan wys die engel meer geduld en begrip
as wat ons geneig is om te doen.  Die
engel kom nie onmiddellik met ’n teregwysing nie.  Hy wek eers vertroue op deur dit wat positief is te noem: Ek weet
julle soek Jesus wat gekruisig is.  Die
engel wys begrip.  Hulle soek tenminste
Jesus in liefde.  Ook al is hul geloof
swak en het hul hoop verdwyn, hulle wys nog tenminste ’n sterk liefde.  Hulle soek die gekruisigde.  Hulle deins nie terug vir publieke
veragting, afwysing en bespotting nie. 
Hulle skaam hulle nie om gesien te word as sy vriende, ook nie na so ’n
skandelike dood aan die kruis nie. 
Hulle wat op die paasmôre Jesus soek, ook al is dit met ’n jammerlike
tekort aan insig en geloof, hoef nie te vrees nie: Moenie vrees nie, sê die
engel, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.

Maar, geliefdes, daar is meer wat gesê moet
word.  So sien ons dat die engel die
vroue ook korrigeer.  Dis die tweede
gedagte van die preek: die engel korrigeer die soekende vroue.  Triomfantelik klink dit: Hy is nie hier
nie.  Julle is op die verkeerde
plek.  Julle sal Hom hier nie meer vind
nie, hier in die begraafplaas, tussen die dooies.  Hy is nie hier nie.

Die vroue dink dat hulle Hom nog daar moet
soek.  Daar het hul hoop
doodgeloop.  Maar die engel korrigeer
hulle.  Hy open tegelykertyd nuwe
perspektiewe.  Jesus is inderdaad die
gekruisigde.  Hy het inderdaad gesterwe
en is begrawe.  Hy was inderdaad hier in
die graf.  Maar nou nie meer nie.  Sy dood was nie die einde nie.  Hierdie graf hoef daarom ook nie die einde
van julle hoop te wees nie.  Jou
Verlosser het die dood oorwin.  Hy het
opgestaan.  Wat soos ’n nederlaag gelyk
het, het sy oorwinning geword.  Na die
kruis was daar die kroon.  Om jou
verheerlikte Here te wees, moes Hy eers die gekruisigde wees.  Jou gekruisigde Heiland het opgestaan.

Gemeente, baie mense het groot moeite met
hierdie Bybelse waarheid.  Baie weier om
te glo dat Jesus werklik uit die dood opgestaan het.  Baie van die mense sê dat hulle nog wel in Jesus wil glo.  Hulle is beïndruk deur sy woorde en
werke.  Hy was ’n groot profeet.  Daardie woorde en werke inspireer
hulle.  Hulle wil dus Jesus Christus bly
bely.  Maar hulle sien Hom nie in sy
oorwinning nie.  Hul liefde, hul hoop is
net gefokus op ’n dooie Jesus.  ’n Jesus
wie se lewe in die graf geëindig het. 
’n Liggaamlike opstanding is vir hulle onmoontlik.  Jy kan in ons tyd dit tog nie meer glo
nie?  En is dit wel nodig?  Jy kan tog ’n goeie Christen wees sonder om
in so ’n opstanding te glo?

Broeders en susters, jammer genoeg is daar
baie mense wat so dink of praat.  Moenie
julle vergis nie.  Mense bly Jesus op
die verkeerde plek soek.  Hy bly vir
hulle ’n dooie Jesus.  Maar wat kan jy
van ’n dooie Jesus verwag?  Wat het jy
aan ’n Jesus wat sy solidariteit met ons mense gewys het, maar ondertussen
daaraan gesterf het?  So ’n Jesus kan
geen sekerheid, geen uitsig gee nie.  So
’n Jesus kon mos nie daarbo uitkom nie, maar het daaraan ten onder gegaan.  So ’n Jesus kan slegs funksioneer as ’n
simbool, as ’n voorbeeld.  Hy kan niks
meer vir jou doen nie.  Hy is nog dood.

Wat ’n armoede!  En dit na die duidelike verkondiging van die Paasboodskap deur
die engele en deur die Here Jesus self.

Hy is nie hier nie.  Jy hoef Hom nie meer hier te soek nie.  Hy behoort nie meer by die ryk van die dooies nie.  Want hy het opgestaan.  God die Vader het ingegryp.  Presies volgens plan.  Hy het opgestaan soos Hy gesê het.  Hy het julle tog daaroor vertel?  Dat hy gedood en op die derde dag weer
opgewek moes word?  Dis hoe God dit wou
hê.  En dis hoe dit nou gebeur het.  Presies volgens die goddelike plan.

God die Vader het Hom van die dood
opgewek.  Die dood moes Hom
loslaat.  En dit in ’n wêreld waarin die
dood nog so ’n mag het.  Die dood bly
lewens wegruk soos ’n skrikwekkend monster. 
En dit lyk so definitief, onkeerbaar. 
Dit lyk die einde van alles te wees. 
Maar geliefdes, Christus het opgestaan. 
Die dood kon Hom nie meer hou nie.

En broeders en susters, wanneer jy die dood
noem, praat jy oor God se straf oor die sonde. 
Die dood is volgens die Skrif nie net ’n natuurlike proses nie.  Dis God se straf oor die sonde.  Wel, wat beteken dit wanneer Christus uit
die dood opstaan?  Dit beteken dat Hy
die straf gedra het.  Die straf wat vir
ons die vrede aanbring het Hy gedra.

Sy opstanding beteken dan: die Vader het sy
offer aanvaar.  God die Vader is tevrede
gestel.  Aan sy regseise is
voldaan.  Die dood as straf op my sonde
lê nou agter die rug.

Wat ’n uitsig vir hulle wat in Hom glo. Hy het
opgestaan.  Die sonde is nie meer ’n
fatale mag nie.  Die dood het nie die
laaste sê nie.  Christus het die sonde
en die dood oorwin.  Deur Hom is daar
lewe aan die ander kant van die graf.

Geliefdes, wanneer jy Hom in geloof as die
gekruisigde en die opgestane aanvaar, dan ontvang jy ook die lewe.  Hy was hier, maar Hy is hier nie meer
nie.  Albei is waar en essensieel vir
ons verlossing.  Hy het sy eiendom
liefgehad tot die einde toe.  Die vroue
het goed geweet waar sy liggaam neergelê is. 
Maar ook: Hy het hier nie gebly nie. 
Kom, kyk na die plek waar die Here gelê het.  Die graf is leeg.  Nie
omdat iemand die graf geskend, daarin ingebreek en die liggaam gesteel het
nie.  Nee, alles lê netjies op sy
plek.  Die windsels en die doek wat
rondom Christus se hoof was.  Dis nie
hoe rowers dit sou agterlaat nie.  Dis
die ordelike werk van God die Vader. 
God het Hom opgewek.

Hoe kan ek dit nou glo?  Die twyfel kan ook ons pla.  Hoe is die opstanding, die leë graf,
moontlik?  Ons kan verstaan dat mense
hul vrae het.  Dis moeilik om die dinge
wat met Pase gebeur het voor te stel. 
Ek moet myself voortdurend laat onderrig.  Ek moet bereid wees om eenvoudig te aanvaar wat God sê en wat sy
getuies vir my opgeskryf het.  Dis die
geheim van die geloof.

Was dit anders op die eerste paasmôre?  Hoe het die kortsigtige en kleingelowige
vroue tot geloof in Christus se opstanding gekom?  Veral deur wat hulle gehoor het. 
Die paasfeit moet vir hulle verkondig word.  En wie het dit as eerstes gedoen?  God se engele.  God skakel
die engele in om die Paasevangelie te verkondig.  Hier op aarde was daar mos nog geen getuies gereed nie.  Dit moet tot ons skande gesê word.  Engele moet praat waar ons mense verstek
laat gaan het.  En dit is nie eers ’n
nuwe boodskap wat hulle verkondig nie. 
Dis dieselfde boodskap wat Christus reeds voor sy dood verkondig
het.  Hy het opgestaan soos Hy gesê
het.  God se knegte, die engele, moet
die kinders van God aan die woord van Christus herinner.

Deur die woord van die engele begin die geloof
in die opgestane by die vroue deur te breek. 
Ons lees dat die vroue van die graf weggaan met vrees en groot
blydskap.  Die blydskap wys op hul
geloof.  Moontlik nog ietwat pril,
aarselend, hulle sal nog nie alles goed verwerk het nie.  Maar die groot vreugde maak hulle gewillig
en vaardig.  Dit laat hulle hardloop na
die dissipels toe. Sodat die dissipels ook die boodskap hoor: die Here het
waarlik opgestaan.

Gemeente, in die inleiding het ons gesê: Pase
is nie outomaties ’n fees nie.  Vir baie
mense is dit beslis geen fees nie, ook al doen hulle miskien van alles om dit
’n fees te maak.  Baie weet nie of weet
nie meer waar Pase werklik oor gaan. 
Hulle ken nie die opgestane Here nie. 
En hoe is jou situasie?   Jy ken
die paasfeite, maar gee jy daar ook aandag aan in die praktyk van jou
lewe?  Laat jy die heilsfeite jou lewe
ook beheers en bestempel?

Slegs wanneer ek my laat gesê deur die volle
evangelie van Pase, kan ek werklik fees vier. 
Dan mag ek, jy die woorde hoor: Moenie vrees nie.  Daar is ’n toekoms.  Daar is lewe in hierdie doodsdal.  Miskien voel jy jou eensaam en verlore.  Miskien gaan jy deur ’n diep dal, ondervind
jy allerlei moeites.  Moeites vanweë die
gebrokenheid van die lewe.  Moeites
veral vanweë die sonde.  Dit kan dan
uitsigloos lyk.  Maar moenie vrees nie.  Daar is uitsig uit die doodsdal.  Christus het opgestaan.  Die sonde en die dood het nie die laaste
woord nie.  Jesus Christus leef.  En in sy krag mag jy ook opstaan en
leef.  Ja, leef selfs oor die dood en
die graf heen.  Christus leef.  Hy is waarlik met jou tot die voleinding van
die wêreld,  aktief aanwesig tot jou
heil.  Sou jy dan bang hoef te wees?  Glo, verheug jou in jou opgestane Here en
leef. 

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)