In die geskiedenis van die boetvaardige gekruisigde misdadiger, wys Christus opnuut sy onbegryplike liefde.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-04-18
Teks: 
Lukas 23
Preek Inhoud: 

Lukas 23:42,43

Ds C Kleyn - Goeie Vrydag, 18 April 2003

Lees:

Matthéüs 27:32-44; Lukas 23:33-49.
Sing: SB 27; Ps 22:9,10; SB 24:3,7; SB 8:2.

Tema:


In die geskiedenis van die boetvaardige gekruisigde misdadiger, wys
Christus opnuut sy onbegryplike liefde.

  1. Die liefde bring die misdadiger tot bekering; en
  2. Die liefde maak die paradys vir hom oop.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Kan jy jou voorstel dat ’n mens, terwyl hy aan
’n kruis hang, deur mense verwerp en verag, vir sy vyande bid?  Kan jy jou voorstel dat jy, terwyl jy aan
die kruis intense smart en pyn ly en deur mense bespot word, dat jy vir die
mense wat jou aan die kruis laat hang het en jou bespot sou bid?  Kan jy dit voorstel?  Wel, dis presies wat die Here Jesus gedoen
het.  Dis die eerste ding wat Hy aan die
kruis gedoen het.  Hy het vir sy vyande,
sy moordenaars, sy bespotters, gebid. 
Hy het gebid: "Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle
doen nie."  Straf hulle nie.  Straf My. 
Gee hulle nog ’n tyd van genade, om hulle te kan bekeer.  Wat ’n soekende en selfopofferende liefde!

Broeders en susters, wat sou jy doen as ’n
gevaarlike misdadiger, skuldig aan gewapende roofaanvalle, na jou sou kom met
die versoek om vir hom te pleit en om hom in jou besigheid aan te neem?  Wat sou jy doen as dieselfde misdadiger jou
kort tevore nog bespot en beledig het? 
Sou jy hom gunstig gesind wees? 
Wel, wat sien jy Christus op die kruis doen?  Midde in sy bittere lyding bewys Christus dat hy die verlorene
aanvaar en red.

In sy eerste kruiswoord het Christus vir
verlore sondaars gebid.  Christus het
die verskriklike lyding terwille van hulle aanvaar.  Hy het God genooi om Hom te bly straf vir die sondes van die
wêreld.   In sy tweede kruiswoord, die
woorde van ons teks, verwelkom Christus ’n verlore sondaar in sy
koninkryk.  Christus se gebed vir vyande
word reeds verhoor.  Hier ontvang hy die
eerste vrug van sy lyding.  Een van die
spotters wend hom tot Hom in geloof: 
"Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom." 

Kort tevore het die misdadiger saamgedoen aan
die bespotting van die Here Jesus aan die kruis.  Ons lees daarvan in Mt 27. 
Die owerpriesters, die skrifgeleerdes en ouderlinge het gespot en gesê:
"Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie.  As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou
van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo. 
Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het;
want Hy het gesê: Ek is die Seun van God."  Mt voeg daaraan toe: "En op die dieselfde manier het die
rowers wat saam met Hom gekruisig was, Hom ook beledig."

Nou lees ons dat een van die rowers, een van
die spotters begin om Christus te eer. 
Laat ons nader let op die gebed van die misdadiger en Christus se
antwoord daarop.  Ek verkondig vir
julle: in die geskiedenis van die boetvaardige gekruisigde misdadiger, wys
Christus opnuut sy onbegryplike liefde.

  1. Die liefde bring die misdadiger tot bekering
  2. Die liefde maak die paradys vir hom oop.

Een van die misdadigers gee homself aan
Christus oor.  Hoe is dit moontlik?  Probeer die situasie in beeld te kry.  Die omstandighede kon nie ongunstiger gewees
het as toe vir iemand om tot geloof in Christus te kom nie.  Christus hang aan die kruis.  Hulpeloos en verag.  Hierdie misdadiger het waarskynlik nooit
Jesus gesien tot op hierdie dag nie. 
Nou hy Hom wel sien, is dit in ’n situasie van swakheid en skande.  Sy vyande triomfeer oor Hom.  Die publieke opinie is teen Hom
verenig.  Kan so ’n gekruisigde Jesus
die Messias wees?  Die kruis is ’n
struikelblok vir die Jode. 

En, geliefdes, mense kan nie agter die skerms
kyk soos ons dit vandag kan doen nie en die heerlikheid van Christus na sy
lyding sien nie.  Die doel van Christus
se lyding is in daardie tyd nog nie duidelik nie.  Selfs Christus se dissipels verstaan dit nog nie.  Die misdadiger het dus alle uiterlike tekens
teen hom.  Tog bekeer hy hom tot
Christus.  Dis waarlik ’n wonder.  Christus hang langs hom aan die kruis.  Hy word verag en verwerp, bespot, maar die
misdadiger bid ootmoedig: Here, dink aan my, wanneer U in u koninkryk kom.

Let op wat hy in die omstandighede bely.  Hy bely Jesus se koningskap, "dink aan
my, wanneer U in u koninkryk kom." 
Sou jy onder sulke omstandighede Jesus as Koning erken?  Luister na die spot van die omstanders:
"As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom en ons
sal in Hom glo."  Tog herken die
misdadiger in hierdie gekruisigde Jesus die koning van Israel, die beloofde
Messias.  Hy is oortuig dat Jesus sy
koninkryk in heerlikheid sal oprig.

Die man verwag ook dat Jesus iets vir hom kan
doen.  Jesus, dink aan my.  Wonderlike woorde.  Jesus is aan die kruis gespyker, die voorwerp van Joodse spot en
haat.  Die misdadiger het die skimpende
uitdaging van die priesters gehoor: "as u die Seun van God is, kom af van
die kruis."   Maar niks het gebeur
nie.  Deur geloof en nie deur aanskouing
nie, erken die misdadiger Christus se mag om tot sy heil in te gryp.

Die misdadiger erken ook sy eie
sondigheid.  Hy sê vir die ander
misdadiger: ons word regverdiglik gestraf, want ons ontvang die verdiende loon
vir ons dade.  Hy erken dat hy ’n
verlore sondaar is wat God se oordeel verdien. 
"Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel
is?"  sê hy vir die ander
misdadiger.  Let daarop dat hy nie sê:
Vrees jy die straf nie; maar vrees jy God nie? 
Hy weet dat hy met God te doen het. 
Hy erken sy skuld voor God. 
Ootmoedig wend hy hom tot Jesus as sy verlosser.  Hy erken dat hy ’n verlosser nodig het. en
dat Jesus die gekruisigde langs hom die verlosser is: Dink aan my, Here,
wanneer U in u koninkryk kom.

Hierdie man erken ook Jesus se onskuld.  Ons word regverdiglik gestraf, maar Hy het
niks verkeerds gedoen nie.

Wat ’n groot geloof.  Ook wat ’n moed om die geloof te bely in sulke
omstandighede.  Al die oë is op Jesus
gerig.  Mense is besig om Hom te
bespot.  Die owerpriesters,
skrifgeleerdes en ouderlinge, Israel se geestelike leiers, is besig om Hom te
beskimp.  Die misdadiger het aanvanklik
saamgedoen.  Maar nou keer hy hom tot
die ander misdadiger en bestraf hom openlik ten aanhore van die omstanders wat
rond die kruise staan: Vrees jy ook God nie … en  … Hy het niks verkeerds gedoen nie.  Deur so te praat veroordeel Hy openlik die Joodse leiers en al
die spottende omstanders.  Bowendien, hy
verdedig nie net Jesus se onskuld nie. 
Hy bely ook sy koningskap.  So
haal hy die onguns van sy mede gevangene en van die skare op hom neer.  Ons praat vandag van moed wat nodig is om
openlik vir Christus te getuig.  Wel,
wat ’n moed het hierdie sterwende misdadiger aan die kruis gewys.  Wat ’n geloof!

Gemeente, hoekom so ’n geloof in sulke
omstandighede?  Dis slegs moontlik deur
die werk van die Heilige Gees.  God het
ingegryp in antwoord op Christus se gebed. 
Hoe kon die misdadiger praat van Christus se onskuld en koningskap?  Wel, vlees en bloed het dit nie aan hom
geopenbaar nie.  Die uiterlike situasie
het juis die teenoorgestelde boodskap uitgestuur.  Net die Vader in die hemel kon dit vir hom openbaar en Hy het dit
vir hom bekendgemaak.  God laat hom die
evangelie hoor.  Terwyl hy in die
gevangenis was, het hy moontlik van Christus se segetog in Jerusalem gehoor,
toe mense hul klere op die pad uitgesprei het, voor Jesus op die esel, en
uitgeroep het: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!  Alle mense het daaroor gepraat.  Hierdie misdadiger kan die opskrif bokant
Jesus se kruis gesien het waarop staan: Hy is die koning van die Jode.  En as hy dit nie self kon lees nie, dan het
hy in ieder geval die bespotters daarna hoor verwys.  Dit verander hom nie onmiddellik nie.  Aanvanklik voeg hy hom by die spotters.

Wat het dan die verandering gebring?  Dit het gebeur na Jesus se gebed vir sy vyande.  God gebruik die gebed om tot die hart van
hierdie sondaar deur te dring, om die hart te versag.  Na die gebed begin die misdadiger Christus se verstrekkende
liefde te herken.  Hy herken skielik die
evangelie van genade.  Christus se
liefde bring hom op sy knieë.  Daarom sê
hy feitelik: Here, U het nou-nou vir u moordenaars gebid.  Ek is ook ’n moordenaar.  Ek het u vermoor met my spot en sonde.  Bid vir my. 
Dink aan my.

Maar, geliefdes, hoekom kom net een van die
misdadigers tot geloof?  Albei verkeer
in presies dieselfde situasie.  Hulle
hang albei langs Jesus aan ’n kruis. 
Albei sien en hoor wat daar op Golgotha gebeur.  Albei hang aan die kruis vanweë gewapende
roofaanvalle.  Albei het urgent
vergewing nodig. Albei het Christus se gebed gehoor.  Albei het die verwysing na Christus se koningskap gesien of
gehoor.  Tog bly een teen Jesus sondig,
terwyl die ander in geloof Jesus aanbid. 
Een sterf in sy sondes, die ander vra om genade.  Hoekom? 
Hier staan ons voor die soewereine liefde van God.  Ons sien dieselfde vandag gebeur.  Onder presies dieselfde omstandighede word
een diep in sy hart getref, terwyl ’n ander nie geraak word nie.  Onder dieselfde preek sal een persoon
onverskillig bly, terwyl ’n ander persoon se oë in verwondering oopgaan vir die
evangelie van genade.  Hier sien jy die
God se soewereine genade.

In sy genade versag God harte en maak Hy die
harte ontvanklik vir die evangelie.  In
sy genade verander God vyande na mense wat Hom aanbid.  Dis God wat geloof en bekering werk.  Dit lyk asof baie Christene dink dat dit in
ons mag is om mense tot Christus te bekeer. 
Solank as jy maar onder die onkerklikes aktief genoeg is , solank as jy
maar genoeg vir hulle bid, solank as jy maar die regte tegnieke gebruik, kan jy
verseker wees van baie bekeerlinge, word dan gedink.  Is dit so?

Moenie my verkeerd verstaan nie.  Dis waar dat God daar dikwels behae in skep
om ons ywer en middele te gebruik vir die bekering van sondaars.  Hy wil ons gebede en insette om sondaars na Christus
te lei dikwels seën.  Ons sien dit baie
duidelik in die sendingsgemeentes.  Wat
’n genade!  Maar God is nie afhanklik
van ons menslike insette nie.  God se
genade is almagtig.   Wanneer God dit
wil is sy genade in staat om te red sonder die menslike insette en in die mees
ongunstige omstandighede.  So was dit
met die misdadiger wat gered is.  Ons
sou sê: in sulke omstandighede is dit onmoontlik vir enigiemand om tot Christus
te bekeer.  Maar dit het God behaag om
presies dit te doen.

En, geliefdes, hierdie bekering is deur genade
van begin tot einde.  Die misdadiger kon
hom nie beroep op goeie dinge wat hy voor sy bekering gedoen het nie.  Hy het ’n geskiedenis van gewapende
roofaanvalle.  Hy het totale veragting
van God se wet gewys.  Hy kon ook na sy
bekering nie ’n lewe van aktiewe diens wys nie.  Na sy bekering het hy byna onmiddellik gesterwe.  Soms word veronderstel dat ons eers deur ons
houding en gedrag onsself waardig moet maak voordat God ons wil aanvaar en dat
ons nadat Hy ons aanvaar het eers as 't ware ’n proeftyd moet ondergaan.  Tensy ons dan ’n sekere kwaliteit en
kwantiteit van goeie werke produseer sou ons weer uit die genade uitval en
verlore gaan.  Hierdie sterwende
misdadiger het egter geen goeie werke waarop hy hom kan beroep voor of na sy
bekering nie.  Sy situasie wys dat dit
van begin tot einde genade is.

Die misdadiger pleit ootmoedig vir
genade.  Here, dink aan my, wanneer U in
u koninkryk kom.  Wees my sondaar
genadig.  Dink aan my.  Pleit vir my.  Wie sou aan so ’n uitgeworpene uit die samelewing wil dink?  Die mense wil beslis nie meer aan hom dink
nie.  Sy familie en vriende sal bly wees
om hom te kan vergeet na die skande wat hy oor hulle gebring het.  Maar daar is een vir wie hy vra: Here, dink
aan  my.  Hy het geen groot eise nie. 
Dis ’n eenvoudige versoek van ’n boetvaardige hart.  Hy vertrou homself toe aan die Here
Jesus.  Sy geloof is gegrond op slegs
basiese kennis.  Maar dit is groot in
diepte.  Hy glo met sy hart en bely met
sy mond dat Jesus sy Heer en verlosser is.

Geliefdes, ons sal onsself nie gou met hierdie
misdadiger wil vergelyk nie. Ons lyk baie meer beskaafd en godsdienstig.  Maar is jou geloof so groot as die geloof
van hierdie man?  Ons weet soveel meer
as die man.  Ons het soveel kennis van
God en die Bybel opgedoen.  Maar is daar
by jou ook ’n oorgawe van die hart aan jou Here Jesus?  Dis wat die Here soek.

En die Here sal hulle wat ootmoedig hom in
gebed toegaan nie afwys nie.  Sy
antwoord aan die boetvaardige misdadiger bewys dat Hy gewillig en in staat is
om almal wat na hom kom te red. 
Christus se liefde het die misdadiger tot bekering gebring.  Die liefde van Christus maak nou ook die
paradys vir hom oop.  Dis die tweede
gedagte van die preek.  Jesus antwoord:
Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.

Toe die spotters Christus bespot het, het
Christus nie geantwoord nie.  Hy het dit
in stilte verdra.  Maar nou ’n sondaar
hom tot Hom bekeer, open Hy sy mond. 
Selfs tydens sy mees bitter en smadelike lyding het Hy nog tyd en ’n
woord vir die sondaar.  Hy belowe vir
hom toegang tot God se paradys.

Dis die grootste troos wat Christus vir ’n
gebroke en berouvolle hart kan gee.  Die
misdadiger ly onder die straf wat hy verdien het, vervloek deur God en
mense.  Maar Christus belowe hom pleks
daarvan God se seën, vrede met God in die hemelse paradys.

Dis opvallend dat Christus van die paradys
praat, pleks van sy koninkryk.  Die
misdadiger het Christus gevra om aan hom te dink wanneer Hy in sy koninkryk
kom.  Christus noem nou nie die
koninkryk nie.  Christus belowe hom die
paradys.

Sedert die geskiedenis van Gen 3 was die
paradys verlore.  Daar was geen toegang
nie.  ’n Vlammende swaard het die
toegang versper.  Maar nou is die
paradys herstel.  Die vlammende swaard
is weg.  Hierdie man kry vrye
toegang.  Hoe kan dit?  Dis moontlik deur Christus wat die swaard
teen homself laat keer.  Christus laat
homself verwond en doodmaak om ons sondaars weer toegang tot die paradys te
gee.

So wys Christus in hierdie tweede kruiswoord
opnuut sy selfopofferende liefde. 
Christus praat heel nadruklik: Voorwaar ek sê vir jou, dis waar en seker
wat ek nou gaan sê.  Daar is geen twyfel
aan nie.  Omdat Ek my verlossingswerk
gaan voltooi.  Ek gaan deur die hel heen
om God se toorn te stil.  Daarom kan jy
weer by God wees in die paradys.

Die misdadiger ontvang baie meer as waarvoor
hy gevra het.  Die genade oortref ons
menslike verwagtings.  Hy het gedink aan
’n verre toekoms, wanneer Christus in heerlikheid verskyn.  Maar Christus verseker hom dat hy met Hom
sal wees tydens hierdie selfde dag.  Hy
het slegs gevra dat Christus aan hom sou dink. 
Maar nou ontvang hy ’n plek in die paradys.

Die teks benadruk ook die woorde: met My.  Christus verlang na saamwees en laat
sondaars in sy gemeenskap deel.  Hy sê
feitelik: waar Ek is, daar sal jy ook wees. 
Wanneer Ek die vreugde van die paradys binnegaan, sal jy met my
binnegaan.  Nie net agter My nie, maar
met my.  Ons behoort by mekaar.  Selfs die dood sal ons nie skei nie.

Dis, broeders en susters, julle verlosser in
sy liefde vir verlore sondaars.  Hy
verhef Hom nie bo my ’n sondaar nie.  Hy
hou Hom nie afsydig, op ’n afstand nie. 
Hy is nie ’n vreemde nie.  Hy
noem Homself my broer.  Hy verneder
Homself en gaan staan langs rowers en moordenaars.  En Hy sê: broer, saam sal ons na God gaan, saam sal ons voor God
staan, jy met My, Ek met jou.

Reeds aan die kruis sien Christus die vrug van
sy lyding en dood.  Hy het in die wêreld
gekom om sondaars te red.  Hy sal die
aarde verlaat en die paradys ingaan vergesel deur ’n verloste misdadiger, die
eerste trofee van sy versoenend lyding.

Dis hoe Christus se liefde sondaars
oorwin.  Die liefde begin wanneer ons
nog vyande is.  Dit wys homself in ons
geloof en bekering.  En vir boetvaardige
sondaars gaan die paradys oop.

Wat ’n ryke troos vir jou en my.  Hoe verstrekkend is Christus se liefde en
genade.  Midde in sy mees verskriklike
lyding en pyn reik Christus uit na die verstoteling, die gekruisigde
misdadiger.   Wanneer jy deur God se Gees
jou sondes ontdek, vlug na die kruis en moenie twyfel of Christus jou sal
aanvaar nie.  Jou sonde kan nooit te
groot wees vir God om te vergewe nie. 
As Christus hierdie boetvaardige misdadiger aanvaar, dan sal Hy elkeen
verwelkom wat na Hom kom.  Christus het
mos gekom om verlorenes te soek en te red. 
Niemand kan dieper as dit wegsink nie. 
Geen boetvaardige sondaar sal geweier word nie.  Daaroor is geen twyfel nie.  As jy jou lewe aan Hom toevertrou, dan sal
jy mag deel in die vreugde van God se paradys.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)