God beloon my goeie werke.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-05-04
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 24
Preek Inhoud: 

Sondag 24, Vraag en Antwoord 63

Ds C Kleyn - Sondag 4 Mei 2003

Lees: Matthéüs
19:27-20:16; Sondag 24, Vraag en Antwoord 63.
Sing: Ps 34:1,2; Ps
34:4,6; Ps 19:4; Ps 19:5,6; Ps 63:2,3.

Tema: God beloon my
goeie werke.

  1. God is my niks verskuldig nie; maar
  2. God gee my alles.

 

Geliefde gemeente van ons Here
Jesus Christus,

God belowe dat Hy ons goeie werke
in hierdie en in die toekomstige lewe wil beloon.  In Ps 19 lees ons dat daar in die onderhouding van die Here se
wet groot loon is.   Die Bybel vertel
ons dat God hulle wat Hom soek beloon.

Maar nou die praktyk van die
lewe.  Party mense soek getrou die
Here.  Hulle bid voortdurend.  In hul gesinslewe en in hul werk soek hulle
voortdurend die eer van God.  Hulle
ervaar dat die Here hulle seën in alles wat hulle doen.  Hulle is voorspoedig in alles wat hulle
onderneem.  Ander mense soek ook die
Here in hul lewe en strewe.  Maar hulle
ondervind een teenslag na die ander.  Is
hulle dan minder trou en minder opreg as die eerstes wat ek genoem het?  Die teendeel kan waar wees.  Tog het hulle een teenslag na die
ander.  Waar is dan die beloning wat ook
vir hierdie lewe belowe is?  Hulle
ervaar wat Asaf in Ps 73 genoem het toe hy die sorgelose en voorspoedige lewe
van die goddeloses gesien het. 
"Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in
onskuld gewas.  Die hele dag tog is ek
geslaan, en my tugtiging was daar elke môre." (Ps 73:13,14).  In die daaglikse lewe worstel gelowiges
dikwels met die beloning wat God belowe het. 
Hoe moet ons dit sien?  Is God
onregverdig in sy beloning?  Die
gelykenis van die arbeiders in die wingerd wat op verskillende ure gehuur is,
kan ons help om sommige van die vrae te beantwoord.

Ek verkondig vir julle: God
beloon my goeie werke

  1. God is my niks verskuldig nie
  2. God gee my alles

Die gelykenis van die arbeiders
in die wingerd spreek ons in ons samelewing aan.  Ons het mos baie dagloners wat op bepaalde plekke in die stad, bv
by Builders Warehouse, staan, op soek na iemand wat hulle vir die dag of langer
wil huur.  Op verskillende tye van die
dag sien jy hulle nog wag vir werk.  So
kry ons ook dagloners by die hek op soek na werk.  In die gelykenis sien ons die boer vroeg in die oggend reeds
uitgaan om arbeiders te huur.  Hulle
word die gewone dagloon belowe.  Die
eerste werkers werk die hele dag hard in die warm son.  Later op die dag blyk dat die boer nog meer
arbeiders kan gebruik.  Teen nege uur
huur hy nog enkele arbeiders.  Hy doen
dieselfde teen twaalf uur en teen drie uur. 
Jy selfs om vyf uur in die middag gaan hy weer uit en huur hy arbeiders
wat daar nog rond staan. 

Wanneer die arbeiders rond ses
uur klaarmaak en betaal word, dan gebeur daar iets wonderliks.  Die voorman moet begin om die laaste arbeiders,
die wat eers om vyf uur begin werk het, te betaal.  Hulle kry die gewone dagloon. 
Daarna volg die betaling van die werkers wat vanaf drie uur gewerk het.  Ook hulle kry die gewone dagloon.  Ten slotte word die dagloners wat die hele
dag vanaf ses uur in die oggend gewerk het betaal.  ’n Mens kan voorstel dat hulle gedink het dat hulle meer as die
ander arbeiders wat baie later begin het sou ontvang.  Maar nee, hulle kry ook die gewone dagloon. 

Vir ons gevoel is die
verontwaardiging van die arbeiders wat die hele dag gewerk het tereg.  Hulle sê dan ook vir hul baas: Hierdie
laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons
wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.  Hulle moes tog meer betaal word as diegene wat net een uur gewerk
het? In die konteks van arbeidsverhoudings sou ’n mens dit verwag.  ’n Mens behoort betaal te word ooreenkomstig
die aantal ure wat hy gewerk het.  Die
eienaar van die wingerd lyk onbillik te wees.

Maar gemeente, Jesus is nie besig
om ons die beginsels van arbeidsverhoudings te leer nie.  Hy is besig om ons die beginsels van genade
te leer.  Hy sê: "die koninkryk van
die hemele is soos ’n huisheer"…en vertel vervolgens die gelykenis.  Feitelik sê Jesus:  in die koninkryk van die hemele is die beginsel nie verdienste
nie, maar genade.

Daar is een groep mense wat die
eienaar beslis nie as onbillik gesien het nie, naamlik die arbeiders wat net
een uur gewerk het.  Jesus vertel ons
nie wat hulle reaksie is nie.  Maar ons
kan aanneem dat hulle baie verheug en dankbaar is.  Hulle sien die eienaar nie as onregverdig nie, maar as
grootmoedig en vrygewig. 

Broeders en susters, waarom sou
so veel mense oor die gelykenis val en die eienaar onregverdig vind?   Kan dit wees omdat ons amper outomaties onsself
identifiseer met die arbeiders wat die hele dag gewerk het?  Ek verplaas myself dan in hul situasie pleks
van in die situasie van hulle wat net een uur gewerk het.  Ek kyk dan na die mense rondom my, pleks van
na Jesus Christus.  Ek begin om dan goed
oor myself te dink.  Ek beskou myself as
’n arbeider wat 12 ure hard gewerk het en ek verwag om daarvolgens beloon te
word. 

Dis hoe Petrus gevoel het en dis
hoe baie mense vandag voel.  Daarom word
daar soms gedink of gesê: na alles wat hy of sy vir die Here gedoen het, hoe
kan die Here hom of haar dit aandoen? 
Na alles wat ek vir God gedoen het, ontvang ek niks anders as moeite en
verdriet nie.  Geliefdes, wanneer ek so
’n houding aanneem, is ek besig om myself in die posisie van die volle dag
arbeiders te plaas.  Ek suggereer dan
vir God dat ek ’n spesiale behandeling verdien vanweë my diens aan Hom.  Met so ’n houding kan ek verontwaardig wees
oor die seëninge wat ek nie ontvang het nie, pleks om dankbaar te wees vir dit
wat ek wel ontvang het.

Ons kan nooit God deur ons
gehoorsaamheid of diens verplig nie. 
Ook al sou ek in al my Christelike pligte volmaak gehoorsaam wees, dan
sou ek nog moet sê: Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen
wat ons verplig was om te doen (Lk 17:10).

Gestel dat jy alle verkeersreëls
volkome gehoorsaam.  Jy hou jou altyd
aan die snelheidsbeperkings, jy stop altyd heeltemal by die stoptekens, jy ry
altyd op die juiste baan, jy gebruik altyd jou rigtingswysers, jy gehoorsaam
elke reël.  Ontvang jy daarvoor ’n beloning?  Nee, dis wat jy behoort te doen.  Jy het net jou plig gedoen.  Deur die verkeersreëls volkome te
gehoorsaam, verplig jy nie die staat om jou op enige manier te beloon nie.  Al wat jy kan sê is: ek het net my plig
gedoen.

As jou soewereine Skepper en
Verlosser het God alle reg om volmaakte gehoorsaamheid en troue diens van
elkeen van ons te eis, sonder om enigsins homself te verplig.  Ek skuld Hom so ’n gehoorsaamheid en diens.  Al sou jy elke gebod van God volmaak
gehoorsaam, al sou jy elke plig trou vervul - wat jy natuurlik nooit sal kan
doen nie -  dan kan jy nog net sê: Ek
het net my plig gedoen.  Ek kan God op
geen enkele manier verplig nie.

Ja, God self het die feit dat Hy
vry van enige verpligting is, genoem toe Hy vir Job gesê het: "Wie het
eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? 
Wat onder die ganse hemel is, is myne" (Job 41:2).  God noem daar nie slegs ’n abstrak
teologiese beginsel nie.  Hy is besig om
Job se houding tereg te wys, die houding van: Ek ontvang nie wat ek verdien nie.  Terwyl Job homself teenoor die valse
beskuldigings van sy vriende verdedig, val hy van die houding van genade na die
gedagte dat hy ’n betere behandeling van God verdien.  Hy val van die houding van: "die Here het gegee, en die Here
het geneem: die Naam van die Here sy geloofd" (Job 1:21) na die houding
van "Dit baat ’n man niks dat hy ’n welgevalle aan God het nie" (Job
34:9).  Oor die periode van sy swaar
lyding verskuif Job van die posisie van die elfde uur arbeider na die posisie
van een wat dink dat hy die las van die dag en die hitte gedra het.  God spreek Job se houding aan.

Broeders en susters, as God
vandag met ons sou handel soos Hy dit met Job gedoen het, hoe veel van ons sou
’n soortgelyke teregwysing ontvang?  Die
apostel Paulus bevestig God se vryheid van enige verpligting wanneer hy in Rom
11:35 skryf: "Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet
word?"  God is aan niemand iets
verplig nie.

In ons moderne samelewing is daar
’n sterk gevoel van reg hê op iets. 
Ouer mense voel dat hulle reg op ’n sekere uitkering van die staat
het.  Ander mense voel dat hulle
geregtig is op ruime voordele van hul werkgewers.  Jong mense voel dat hulle reg het om onmiddellik te geniet van
dieselfde lewenstandaard waarvoor hul ouers jare lank hard gewerk het om dit te
verkry. 

Hierdie sterk gevoel van reg op
iets hê is baie gevaarlik vir Christene. 
Dit kan maklik toegepas word op ons verhouding met God.  Jy begin dan om net so jou regte teenoor God
opeis soos jy dit doen teenoor mense. 
Om die houding te hê dat God jou iets skuld, is baie gevaarlik vir jou
geestelike welsyn.  Dit sal jou
verhouding met God stukkend maak.  Dit
sal jou vrugteloos maak in diensbetoon. 
Dit kan jou bitter en klaerig maak. 
Anders as jou regering, werkgewer ouers sal God nooit toegee aan jou
sogenaamde regte nie.  Hy sal nooit
onder jou druk beswyk nie.  Ek sal nooit
die stryd oor regte met God wen nie. 
God gee vir my teveel om dit te laat gebeur.

Maar broeders en susters, waar
laat die nadruk op die feit dat God ons niks skuld nie ons dan?  Dit laat ons in die geseënde posisie van die
elfde uur arbeider in God se koninkryk. 
Dit laat my aan die einde van die dag huis toe gaan van God se wingerd
diep dankbaar, in die besef dat die genadige eienaar buitengewoon vrygewig
was.  Dit laat my vergenoeg.  Paulus skryf in 1 Tim 6:6 dat die
godsaligheid met vergenoegdheid ’n groot wins is.

Daar is nog ’n ander waardevolle
les wat ons van die gelykenis van die vrygewige boer kan leer.  God is nie net vrygewig nie.  Hy is ook soewerein.  Dit beteken, God het die reg om sy seëninge
te gee soos Hy dit kies.  Jesus benadruk
duidelik die reg van God met die vraag van die boer: "Of staan dit my nie vry
om met my eie goed te maak wat ek wil nie?"

Ons ontmoet voortdurend Christene
wat meer geseën as ons lyk.  Sommiges
het meer geestelike vermoëns ontvang, ander lyk altyd voorspoedig te wees met
min inspanning, nog ander lyk min probleme of sorge te hê ens ens.  Waarskynlik is nie een van ons vry van die
versoeking om ander se seën te beny en heimlik teen God te mor nie.

Maar in sy soewereiniteit het God
die reg om elkeen van ons te seën soos Hy dit kies.  Bedink die woorde van Paulus: "Maar tog, o mens, wie is jy
wat teen God antwoord?  Die maaksel kan
tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?  Of het die pottebakker nie mag oor die klei,
om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak
nie?" (Rom 9:20,21).

Ongeag die spesifieke toepassing
van Paulus se woorde, die basiese beginsel in die gedeelte is duidelik: God is
soewerein.  En Hy is soewerein in alle
areas van die lewe.  Aangesien God geen
verpligtings teenoor enigiemand het nie, is Hy vry om sommiges meer te seën as
ander, soos Hy verkies.  Hy is geregtig
om met sy seën te doen wat Hy wil doen.

Gewoonlik verheug ons ons in die
vrygewigheid van God se genade wanneer dit ons, ons familie of ons vriende
betref.  Maar hoe voel jy wanneer iemand
van wie jy dink dat hy dit nie verdien nie, deur God geseën word?  Is jy afgunstig vanweë die vrygewigheid van
God vir die persoon?  Voel jy soos die
arbeiders van die gelykenis dat jy die las van die dag en die hitte gedra het
en tog nie meer as die ander geseën nie?

Die arbeiders wat die hele dag
gewerk het, het nie gemopper omdat hulle te min loon gekry het nie, maar omdat
die arbeiders wat minder verdien het, dieselfde as hulle ontvang het.  Maar geliefdes, die werklikheid van die
Christelike lewe is dat niemand van ons werklik iets verdien by God nie.  Sommiges is miskien gehoorsamer as ander,
werk miskien harder as ander, maar niemand van ons ontvang wat ons werklik
verdien nie.  Ons verdien mos die ewige
dood.  Ons het almal genade nodig, maar
ons kan nie genade geniet nie wanneer daar ’n houding is wat uitgaan van
vergelyking met ander.

Broeders en susters, as jy verder
wil kom in die lewe uit genade dan sal jy klaar moet kom met die feit dat God
soewerein is in die uitdeling van sy gunsbewyse.  God skuld niemand ’n verklaring wanneer sy dade nie ooreenstem met
ons sisteem van verdienste nie.  Paulus
sê:: "Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!  Want wie het die gedagte van die Here geken,
of wie was sy raadsman gewees?" 
(Rom 11:33,34).

Daar is geen rede om te murmureer
oor die behandeling wat ons van God ontvang nie.  God verskuldig ons niks nie. 
Tegelykertyd behou God die reg om elkeen van ons anders te behandel
wanneer Hy sy seëninge uitdeel soos Hy kies.

So kom ons by die tweede gedagte:
God gee my alles.

God is inderdaad genadig en
vrygewig vir al sy kinders.  Die
gelykenis leer ons nie net oor God se soewereiniteit in die uitdeling van sy
genade nie.  Dit leer ons nog meer oor
God se genadige vrygewigheid.

Hier is dit goed om onsself aan
die konteks van die gelykenis te herinner. 
Die gelykenis het ontstaan uit Christus se ontmoeting met die ryk
jongman.  Jesus het hom vertel om al sy
goed te verkoop, dit aan die armes te gee en Jesus te volg.  Terwyl hy hieroor nadink sê Petrus vir
Jesus: "Kyk ons het alles verlaat en u gevolg.  Wat sal daar dan vir ons wees?"   Soos die ander Jode van sy dae dink Petrus dat Jesus op die
basis van verdienste optree en hy is reeds besig om sy verdienste na te reken.

Jesus wys Petrus nie af nie.  Pleks daarvan verseker Hy hom dat daar
inderdaad loon vir hom en die ander dissipels sal wees.  Nie net dit nie, elkeen wat ter wille van
Christus dinge opgeoffer het, sal honderd maal soveel ontvang.  Uitgedruk in persent is honderd maal soveel
is tien duisend persent.  In die
finansiële wêreld word ’n investering wat na enkele jare verdubbel, beskou as
’n uitstekende investering.  Maar dit is
slegs 100% wins.  Jesus belowe ons nie
100 maar 10,000 persent rendement.

Waarom gebruik Christus so ’n
verbasende persent as 10,000%?  Dit laat
jou weet dat God se beloning buite alle proporsies staan in vergelyking met jou
diens en opofferings.  Hy maak duidelik
dat in die koninkryk van die hemele God se sisteem van beloning nie op
verdienste gebaseer is nie, maar op genade. 
En genade gee altyd meer as wat ons verdien het.

Let op wat Jesus vir sy dissipels
sê: "Elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of
kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel
ontvang en die ewige lewe beërwe." 
In Mk 10 word die beloning nog uitvoeriger beskryf.  Daar lees ons: "hy ontvang nou in
hierdie tyd honderdmaal soveel: huise en broers en susters en moeders en
kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige
lewe."

Jy mag daarom beloning verwag nie
net in die eeu wat kom nie, maar ook hier en nou, in die teenwoordige tyd.  Die beloning kan verskil.  Elkeen se omstandighede, gawes en behoeftes
is verskillend.  Jesus noem as beloning
vir die verlating van familie en goed: huise en broers en susters en moeders en
kinders en grond: die gemeenskap van die heiliges met al die liefde, sorg,
opvang, ondersteuning wat dit omvat. 

Jy ontvang loon vir die feit dat
jy nee vir sonde gesê het,  vir die
duidelike keuse wat jy vir die Here en sy diens gemaak het.  Dit kan jou baie kos, jy kan daardeur jou
familie, jou vriende selfs jou werk verloor. 
Maar die Here sal beloon.  Hy sal
voorsien.

Die tyd wat jy neem om te bid, om
jou Bybel te lees word deur God beloon. 
Dit verryk jou lewe met God.  Jy
ontvang die vrede wat alle verstand te bowe gaan.   Troue besoek van die eredienste, met ’n opreg en ontvanklike
hart, loon.  Daardeur maak God jou
geloof sterk en rus Hy jou toe vir jou lewe met Hom.  Daardeur kan jy die lewe met sy dreigings en uitdaging weer begin
hanteer.  Jy besef opnuut hoe ryk jy is
met jou getroue God en Vader.

Die Bybel is vol van God se
beloftes vir jou.  Hy belowe om jou
geestelik en fisies te versorg met alles wat jy nodig het.  Om nooit jou te verlaat nie.  Om jou vrede te gee in moeilike
omstandighede.  Om alle omstandighede te
laat meewerk tot jou heil.

Let daarop, Hy belowe nie dat jy
’n sorgeloos lewe sal hê nie, dat jy nooit moeites sal ondervind nie.  Dink aan die beloning wat Christus in Mk 10
noem: huise, broers en susters, moeders, kinders en grond, saam met
vervolginge.  Ja, saam met
vervolginge.  Dink aan wat die Psalmis
in Psalm 34 sê: Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit die
almal red die Here hom.  Wanneer Hy jou
uit die teëspoede gaan red, weet ons nie. 
In ieder geval aan die einde van jou aardse lewe.  En dan volkome.

Dink aan Ps 73 waar Asaf worstel
met die voorspoed van die goddeloses en sy eie moeites.  Die heiligdom van die Here het hom herinner
aan sy ware rykdom, in vergelyking met die verganklike rykdom van die goddelose.  Hy het die getroue Verbondsgod aan sy
kant.  God is sy deel.  En dit is alles vir hom.  Daarom eindig hy die Psalm met ’n positiewe
noot:  lees Ps 73:23-28.

In Rom 8:32 lees ons: "Hy
wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het,
hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?"  Ja, God sal ons alles genadiglik skenk.  Alles wat nodig is vir liggaam en siel.  As genadeloon.  Vir nou en vir ewig.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)