Christus se skrywe aan die gemeente wat op die punt staan om te sterwe.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-08-31
Teks: 
Openbaring 3
Preek Inhoud: 

Openbaring 3:1-6

Ds. C. Kleyn - Sondag 31 Augustus 2003

Lees: Matthéüs 24:36- 25:13; Openbaring 3:1-6.
Sing: Ps. 63:1,2; Ps. 139:1-3; Ps. 63:3,4; SB.
42; Ps. 139:12.

Tema: Christus se skrywe aan die gemeente wat op die
punt staan om te sterwe.

  1. Die situasie van die gemeente;
  2. Die roeping van die gemeente;
  3. Die bedreiging van Christus; en
  4. Die belofte van Christus.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Dis die Gees wat lewend maak. Dis die Gees wat dit wat dood
is, weer tot lewe bring. Die Gees is die Gees van wedergeboorte.
Dis in verband met die werk van die Heilige Gees dat Christus
homself aan die gemeente van Sardis bekendmaak as diegene wat die
sewe Geeste van God het. Die getal sewe wys op die volheid van
die Gees. Christus beskik oor die volheid van die Gees. As die
gemeente wil lewe, opnuut lewend gemaak wil word, het dit Jesus
Christus nodig.

Ook vir hul lig is die kerk van Jesus Christus afhanklik.
Christus stel homself nie net voor as Hy wat die sewe Geeste van
God het nie, maar ook as Hy wat die sewe sterre het. Hy het die
sewe sterre in sy regterhand. Hulle is daar om lig te versprei.
Die sewe sterre verteenwoordig die sewe voorgangers van die
gemeentes. Hulle is daar om die woord van God te laat skyn. Vir
hul lig is hulle weer afhanklik van die sewe Geeste van God.
Christus het albei tot sy beskikking: die sewe geeste en die sewe
sterre. Vir jou lewe en jou lig moet jy by Jesus Christus wees.
Daar is nog hoop vir hulle wat hulle bekeer. Christus verskyn as
diegene wat die sewe Geeste van God het. As jy op Hom vertrou dan
mag jy lewe en lig verwag.

Maar dis ook waar: Christus kan ook sy lewendmakende Gees
weerhou. En dan is alle hoop verlore. As die kerk, as jy nie nou
luister nie, dan kan dit te laat wees. Dan sal jy leweloos bly,
dood. Ja, dan sal jy volkome sterwe.

Julle sien, gemeente, dat die Here nie sonder rede homself op
daardie manier voorstel aan die gemeente van Sardis nie. Sy
selfbenaming – Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe
sterre het, hou duidelik verband met die konkrete situasie van
die gemeente. Juis te Sardis is die selfbenaming baie toepaslik.

Laat ons nou nader daarna kyk wanneer ek vir julle verkondig:
Christus se skrywe aan die gemeente wat op die punt staan om te
sterwe

  1. die situasie van die gemeente
  2. die roeping van die gemeente
  3. die bedreiging van Christus
  4. die belofte van Christus

In vergelyking met die vorige briewe ontvang ons nou maar min
besonderhede oor die gemeente. Ons hoor niks van interne moeites
vanweë valse leer nie. Ons lees ook niks oor eksterne moeites,
teenstand of vervolging nie. Ons lees slegs: jy het die naam dat
jy leef, en jy is dood. Veelseggende woorde. Die gemeente word
dood genoem.

Waaraan dink jy wanneer jy hoor van ’n kerk wat dood is?
Dink ons nie gou aan ’n gemeente wat in ou vorme vasgevang
sit en waar geen krag meer van uitgaan nie? Mense gaan keurig
kerk toe. Hulle doen allerlei dinge wat van hulle verwag word.
Maar daar sit geen lewe in, geen warmte en entoesiasme nie. Dit
lyk niks meer as tradisie en vormediens. Die ou vorme, patrone is
die enigste wat tel. Daar gaan geen krag of invloed van die
gemeente uit nie. Geen buitestaander word deur so ’n dooie
gemeente getrek nie.

Maar, geliefdes, dis nie die prentjie wat ons van die Sardis
gemeente ontvang nie. Die kerk lyk tenminste asof dit ’n
lewende gemeente is. "Jy het die naam dat jy leef". Jy
het ’n positiewe reputasie. Die buitestaanders praat met lof
oor die gemeente: dis nou ’n goeie gemeente. Daar is geen
onderlinge stryery, geen leer of tug sake nie. Daar herken jy die
goeie harmonie, vrede onder mekaar. En hulle beywer hulle om kerk
in en vir die wêreld te wees. Mense is beïndruk deur hulle.
Hulle het ’n goeie naam. Dis nou ’n gemeente wat leef.
Die kerkvisitatore rapporteer waarskynlik dat dit ’n mooi
gemeente is.

Maar nou sê Christus: jy het die naam dat jy leef, maar jy is
dood. Skokkende woorde! Is die gemeente dood? Dit gaan tog goed
in die gemeente? Die kerklike lewe bloei tog? Hoe kan Christus
dan sê: jy is dood?

Gestel dat dit vir ons as gemeente te Pretoria gesê sou word.
Jy is redelik tevrede met jouself. Jy is bly met die manier
waarop dinge gebeur en dan hoor jy: jy is dood.

Broeders en susters, sulke woorde kom hard aan. So iets het jy
heeltemal nie verwag nie. Met opset begin Christus egter met so
’n skerp oordeel. Hy wil die gemeente laat skrik. Hy wil
daardeur uit die droom, uit die roes wakker skud. Hy wil dwing om
na te dink. Daarom begin Christus met so ’n radikale
uitspraak. Jy kan as gemeente so ’n uitspraak nie negeer nie.
Dit moet jou wel laat opskrik. Indien Christus net van
insluimering sou gepraat het, dan was die kans groot dat die
gemeente maar min daardeur geraak sou gewees het. Hulle sou dan
rustig kan bly sluimer. Maar so ’n skerp woord prikkel om na
te dink, forseer ’n mens om weer reg te gaan sit en te
reageer.

Uit die res van die brief blyk dit dat die gemeente nog nie
heeltemal dood is nie. Die radikale begin word ietwat
gerelativeer wanneer opgeroep word om wakker te wees. Blykbaar
het daar nog iets goeds oorgebly, daar is nog kieme van lewe.
Christus sê immers: versterk die dinge wat oorbly, wat op die
punt staan om te sterwe. Die dood het nog nie volkome ingetree
nie. Daar is ook nog lidmate wat nie met die res saamgegaan het
nie.

Op watter manier is die gemeente dan dood? Die massa blyk in
slaap gesus te wees. Dit het in die kerk gemaklik geword. Geen
moeites van binne of van buite nie. Die lidmate is tevrede met
wat hulle bereik het. Hulle is tevrede met hulleself. Julle weet,
broeders en susters, hoe gevaarlik dit vir ’n gemeente kan
wees. Daar is geen ware geesdrif meer nie. Daar sit geen vaart
meer in die gemeentelewe nie. Mense jaag nie meer na die
volmaaktheid nie. Hulle is gearriveer, voldaan.

Daarom sê Christus: Ek het jou werke nie volkome voor God
gevind nie. Ja, julle doen nog wel werke. Pragtig voor die oog.
Dis nie sonder rede dat die gemeente ’n goeie naam het as
’n lewende gemeente nie. Baie mense sou daarop jaloers wees.

Maar Christus sê: dis nie beslissend wat mense dink of sê
nie. Volgens menslike maatstawwe doen jy miskien baie goed in
vergelyking met ander gemeentes. Maar volgens God se norm kry jy
’n onvoldoende. Jou werke – hoe pragtig ook al voor die
oog – is nie vol nie. Iets wesenliks ontbreek daaraan. Die
werke is feitelik hol, leeg, oppervlakkig. Jy kan binne of buite
die kerk baie aktief wees, maar dit sê nog nie baie nie.
Ongelowiges kan ook goeie dinge doen. Ongelowiges kan ook
hulleself volkome inset vir ’n bepaalde positiewe doele.
Maar as jou werke nie met ware geloof, vaste hoop en vurige
liefde vir God gedoen word nie, dan is hulle ydel, leeg. Sonder
die regte motief en gerigtheid is alle uiterlike gedrag leeg.
Vergelyk dit maar met ’n ballon. Jy kan ’n ballon met
lug opblaas. Dit lyk dan mooi en groot. Maar in werklikheid is
dit hol, leeg.

U sal verstaan, geliefdes, dat Christus nie volmaakte werke
verwag nie. Jy sal nooit volmaakte werke hier op aarde vind nie.
Selfs ons beste werke is onvolmaak en met sonde bevlek. Christus
soek werke wat vol voor God is, werke wat werklike waarde en
inhoud voor God het. En werke is vol in God se oë wanneer hulle
uitdrukking gee aan ware geloof en vurige liefde vir Hom. Sonder
dit is hulle – hoe hulle ook al blink – klatergoud.
Mense mag daaroor roem, maar God is nie beïndruk nie. Voor Hom
is dit leeg.

Dis dan die situasie van die Sardis gemeente. Dis ’n
plesier om daar te wees, gerieflik, gemaklik. Die aktiwiteite kos
jou geen inspanning nie. Daar is geen krisis van binne, nog van
buite. Alles het gewoon geword, doodgewoon.. Mense val daarby in
slaap. Die skerp kante het verdwyn. Ja, die skerpte van die
evangelie - ’n twee snydende skerp swaard – het verdwyn
uit die harte en die lewens. Daarom is daar op die oomblik geen
krisis nie. En staan selfs die buitestaanders simpatiek teenoor
hulle. Mense word nie meer geplaas voor die radikale keuse vir of
teen Christus nie.

In verband hiermee noem Christus ook die besoedeling van hul
klere. Sulke slapende christene laat hulleself maklik
verontreinig deur die wêreld. Die christelike uniform word deur
humanistiese ywer ontsier. Die lidmate neem die dinge nie meer so
ernstig op nie. In so ’n knus gemeente met sy goeie
reputasie in die breë samelewing kan jy die dinge tog nie te nou
neem nie? Jy wil tog jou goeie naam behou? Dan moet jy tog
gemoedelik en welwillend bly. Ondertussen is jy besig om die
pragtige klere waarmee Christus jou beklee het, te besoedel. Die
klere: Christus se geregtigheid en heiligheid.

Met klem roep Christus die gemeente dan op om wakker te wees.
Dis die tweede gedagte van die preek: die roeping van die
gemeente.

Wees wakker, sê Christus, en versterk die wat oorbly, wat op
die punt staan om te sterwe. Pleks van ‘wees wakker’
sou ons ook kan vertaal met: ‘word waaksaam’. Die kerk
word opgeroep om waaksaam te wees. En dit nie net nou en dan nie,
maar voortdurend, aanhoudend. Jy kan dit nie bekostig om die
waaksaamheid te verslap nie. Die geskiedenis van Sardis bewys dit.
Die stad het twee maal in vyandelike hande geval vanweë ’n
gebrek aan waaksaamheid aan die kant van die wagters. Daar moet
die spanning bly met die oog op Christus se naderende koms, soos
ons gelees het in Mt 24,25. Jy moet jou bly uitstrek na wat voor
is en jou inspan om by die wenstreep te kom sodat jy die hemelse
prys kan behaal waartoe God jou geroep het in Christus Jesus (Fil
3:14). Daarom: wees wakker. Stel jou nooit tevrede met wat jy
bereik het nie. Gaan nie teer op jou goeie naam nie. Let goed op
Christus se uurwerk. Let daarop hoe alles na die einde dring. En
haas jou na die einde toe. Daar is geen tyd om te bly sit nie.
Gaan voort om te bou op wat jy reeds bereik het.

"Versterk dit wat oorbly, wat op die punt staan om te
sterwe", sê Christus. Deur gebrek aan waaksaamheid het
reeds baie afgesterf. Dit lewe het daaruit verdwyn. Gryp dan vas
wat nog tekens van lewe het. Sorg daarvoor dat dit nie ook
afsterf nie. Versterk die werke wat nog uit geloof en liefde tot
God gedoen word. Hou ook die lidmate vas wat nog nie ingeslaap
het nie. Werk met die oorblyfsel sodat van daaruit die lewe in
die gemeente meer en meer die oorhand oor die dood kan kry. Wees
versigtig met dit wat nog goed is, koester dit en bestry die
kwaad. Sodat nie alles verlore gaan nie.

Geliefdes, in hierdie bewoë oproep hoor julle Christus se
hart vir sy gemeente klop. Hy laat haar nie los nie, maar worstel
vir haar behoud. Die lewe moet weer terugkeer. Die kerklike lewe
moet weer eg gaan bloei.

Daarom vervolg Christus ook : Onthou dan hoe jy dit ontvang en
gehoor het en bewaar dit en bekeer jou. Onthou hoe dit in die
verlede gegaan het, toe die evangelie tot jou gekom het, toe jy
tot geloof gekom het. Wat ’n vreugde het dit vir jou gegee.
Wat ’n vurige liefde was daar. Jou hart was brandende in jou.

Broeders en susters, so kan ons dikwels mekaar verwys na die
tyd toe ons in die openbaar ons geloof bely het. Onthou hoe jy
daardie tyd met vreugde God se beloftes en eise aangeneem het.
Jou lewe het ’n ander motief en doel ontvang. Jy wou bewus
Christus in jou lewe volg. Jy het toe die ware geloof,, vaste
hoop en vurige liefde ervaar. Onthou dit. En bewaar die evangelie
wat jy ontvang het. Laat dit jou nie ontgaan nie. Laat die skatte
van Christus wat jy toe ervaar het, jou nie ontglip nie. Gryp
hulle opnuut vas.

Bekeer jou. Breek met die dodelike gees van selfvoldaanheid.
Neem opnuut die gesindheid van Christus aan, soos jy dit in die
begin gedoen het. "As jy nie wakker word nie, sal Ek op jou
afkom soos ’n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op
jou afkom nie." Hier hoor ons die dreiging van Christus, die
derde gedagte van die preek.

Geliefdes, hulle wat bly slaap en nie let op Christus se
uurwerk nie, sal onverwags deur die Here oorrompel word. Jy merk
dan niks van die tekens van Christus se koms nie. So verskyn
Christus dan onopgemerk, soos ’n dief. Jy is heeltemal
verras soos ’n dief jou in die reël volkome verras wanneer
hy inbreek. En wat kom Christus dan doen? Van ’n dief weet
jy dat hy alles wat vir hom waarde het saam wil neem. So sal
Christus so te sê ook by jou inbreek. Hy sal nie as ’n
vriend kom nie, maar as ’n vyand. Hy sal die laaste
oorblyfsels wat nog van waarde is wegneem. Hy sal vir jou die
dood dan kompleet maak. Die kandelaar sal dan van sy plek
verwyder word. Daar sal geen teken van lewe oorbly nie. Slegs die
ewige dood en duisternis.

In hierdie verband kan Christus ook praat van ’n
uitwissing van jou naam uit die boek van die lewe. Lidmate wat
geen teken van lewe meer wys nie, behoort nie in die boek van
lewe nie. Hulle is eerder daartoe bestem om ewig te sterwe.

Wat ’n ernstige dreiging vir hulle in die gemeente wat
nie waaksaam bly nie, maar hulleself in slaap laat sus. Jy het in
die verbond grootgeword. Jou naam staan in boeke van die kerk
genoteer, die kerk waarvan ons bely dat dit tot die ewige lewe
uitverkies is. Maar uiteindelik kan dit blyk dat jy nie daarby
behoort nie. Hoe aktief jy ook mog gewees het. Omdat jy nie
waaksaam gebly het nie. Omdat die ware geloof, vaste hoop en
vurige liefde uit jou lewe verdwyn het. Jou naam word so te sê
uitgewis. Dit verskyn nie in die boek wat God byhou van hulle wat
die lewe , ja die ewige lewe, besit nie. Broeders en susters laat
hierdie verskriklike oordeel jou tog nie oorkom nie. Wees
waaksaam en getrou. Leef in gespanne verwagting. Jaag na die
einddoel van jou geloof, dit is die saligheid van jou siel.

En broeders en susters, vir hulle wat getrou is, gee Christus
’n ryke belofte. Dis die vierde gedagte: die belofte van
Christus.

Die persone wat hulle klere nie besoedel het nie, sal saam met
My in wit klere wandel, sê Christus, omdat hulle dit waardig is.
Dieselfde geld vir elkeen wat hom of haar laat wakker skud. As jy
jou bekeer, dan sal jy die wit klere ontvang, die feesklere. Jy
mag jou dan tooi met Christus se feesklere. Om as bruid van
Christus met Hom fees te vier, ja, om met Hom te wandel, soos
’n egpaar wat met mekaar omgaan. Wat ’n paradys weelde
vir hulle wat oorwin. Christus in sy heerlikheid skaam hom nie
vir jou nie. Hy laat jou juis in sy heerlikheid deel.

"Want hulle is dit waardig", sê Christus. Hulle
verdien dit. Hoekom? Omdat hulle van nature so goed is? Julle
weet beter. Wie is uit homself waardig om met Christus omgang te
hê? Watter sondaar is uit homself waardig om met die heilige
Seun van God omgang te hê? Tog sê Christus: hulle is dit
waardig. Hulle is waardig omdat hulle deur die Gees van God
– dink aan die sewe geeste van God waaroor Christus beskik
– omdat hulle deur die Gees van God hulle bekeer het en trou
gebly het. Hulle het die Gees nie weerstaan nie, maar hulle deur
die Gees laat lei. Hulle het Christus bo alles liefgehad, selfs
bo hul eie pa en ma, bo hul eie man of vrou, bo hul seun of
dogter, bo hul vriend of vriendin. Hulle het hul kruis – wat
baie seer maak – op hulle geneem en Christus aangehang met
ware geloof, vaste hoop en vurige liefde. In woord en daad het
hulle Hom as hul Heer bely, hoe ook al die omstandighede.

Daarom sal Christus hul name bely voor sy Vader en voor sy
engele. Ja, ook voor sy engele. Is die engele nie dienende geeste
wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid
sal beërwe nie? (Heb 1:14). Alles word aan die oorwinnaars
beskikbaar gestel, alles moet hulle dien. Die Vader span hom vir
hulle in. En die engele vlieg vir hulle rond. Sodat hulle hul
voet nie teen ’n klip stamp nie, sodat hulle nie struikel
nie.

Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die
gemeentes sê. Die Gees het belangrike, ernstige dinge om te sê.
Wat Hy sê is ook vir ons vandag brandend aktueel. Dit raak jou
en my. Dit laat ’n mens ongemaklik voel. Dit kan mos gebeur
– en vergis jou nie dit gebeur ook baie – dit kan mos
gebeur dat ek die naam het dat ek leef en tog dood is. Christus
wil ons rus en vrede versteur. Die rus en vrede kan mos ’n
gevaarlike, dodelik rus wees. Christus wil ons rus versteur sodat
ek ten volle wakker en waaksaam mag bly. Wees daarom wakker en
waaksaam. Bewaak jou verhouding met jou Heiland Jesus Christus.
Bly Hom aanhang met opregte geloof, vaste hoop en vurige liefde.
Soek aanhoudend sy belange in kerk en wêreld. Bly sy stryd stry.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)