Christus se brief aan die gemeente van Filadelfia.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-09-14
Teks: 
Openbaring 3
Preek Inhoud: 

Openbaring 3:7-13

Ds. C. Kleyn - Sondag 14 September 2003

Lees: Matthéüs 10:16-33; Openbaring 3:7-13.
Sing: Ps 87:1,2; Ps 112:1-4; SB 43:1-3; SB 43:4-6;
Ps 87:3-5.

Tema: Christus se brief aan die gemeente van
Filadelfia.

  1. Hy prys hul getroue belydenis van sy Naam;
  2. Hy wys op die geopende deur wat Hy aan hulle gegee is; en
  3. Hy belowe ’n plek van eer aan die oorwinnaars.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanoggend wil ons kyk na die brief van Christus aan die
gemeente van Filadelfia. Ons wil fokus op dit wat die Gees vir
die gemeentes sê en dus ook vir ons sê. Ek verkondig vir julle:

Christus se brief aan die gemeente van Filadelfia

  1. Hy prys hul getroue belydenis van sy Naam;
  2. Hy wys op die geopende deur wat Hy aan hulle gegee is; en
  3. Hy belowe ’n plek van eer aan die oorwinnaars.

In die brief aan Filadelfia word ons onmiddellik getref deur
die trant van die brief. In hierdie brief is daar geen vermaning
of waarskuwing nie. Christus noem geen vreeslike sonde of
tekortkoming nie. Nee, Christus is vol lof oor hierdie gemeente.
Hy prys hul getroue belydenis van sy Naam: "jy het my woord
bewaar en my Naam nie verloën nie." Julle het aan my
woorde, die evangelie wat aan julle verkondig is, getrou gebly.
Julle het nie daarvan afgewyk nie. En julle het volgehou om op te
staan om my Naam te verdedig. "Nie verloën nie"
beteken so veel as: verdedig, bely. Dit is negatief geformuleer
om aan te dui dat dit nie outomaties was nie. Die gemeentelede is
onder druk geplaas om die Een Naam te verloën. Ander het gepoog
om hulle weg te trek van die goeie belydenis. Die gemeente het
egter volhard.

Die getroue belydenis van Jesus Christus se Naam was dus nie
vanselfsprekend nie. Die Christene moes iets daarvoor doen, hulle
moes daarvoor veg. Hulle het persoonlik die woorde van hul
Heiland ervaar: "’n Dienskneg is nie groter as sy heer
nie. As hulle my vervolg het, sal hulle jul ook vervolg" (Joh
15:20).

In Filadelfia het die vervolging spesifiek vanaf die sinagoge
se kant gekom. Die Jode het op allerhande manier gepoog om die
lewe vir die Christene moeilik te maak. Hulle het die Christene
belaster en die publiek teen hulle gekeer.

Daar was in Filadelfia dus ’n hewige stryd tussen die
ware en die valse kerk. Die selfversekerde leiers van die
sinagoge kon die bewering van die Christelike kerk nie aanvaar
nie. Hulle was mos die Jode? Hulle was mos God se uitverkore
volk? Hoe durf die Christene daardie titel opeis. Sou die
volgelinge van Jesus God se volk wees? Vergeet dit maar.

Geliefdes, die verheerlikte Heer vertel ons wie reg is in hul
bewering. Hy wys op die werklike situasie. Hulle noem hulself
kerk, maar in werklikheid is hulle ’n vergadering van die
groot teenstander Satan. Hul vyandigheid en haat teen die
Christene lê hul werklike karakter bloot – hulle is in die
diens van God se teenstander. Satan probeer om die kerk van
Christus te verwoes deur middel van die sinagoge. Net soos hy
vandag die valse christendom teen die kerk van Christus gebruik.
Die felste aanvalle kom gereeld vanaf die kant van hulle wat
beweer dat hulle die kerk is, maar dit nie meer is nie.

Dit maak die lewe vir die Christene in Filadelfia so moeilik.
Bo en behalwe dit is hulle ook so baie klein in aantal en krag:
"jy het min krag" sê Christus. Hulle is slegs ’n
klein groepie. Daar is geen groot manne onder hulle nie.

Christus prys egter hierdie gemeente.

Hulle mag klein wees, maar hulle bewys groot lojaliteit.
Ondanks die felle teenstand hou hulle aan om Christus te bely.
Hulle laat hulself nie intimideer nie. Hulle gee nie moed op en
blaas nie die aftog nie. Selfs onder al die teenstand en
vervolging bly hulle kalm hul vertroue in hul Heer en Verlosser
Jesus Christus bely. Hulle laat hulself nie in ’n
verdedigende posisie forseer nie. Hulle bly in die aanval posisie.
Hulle bly ’n evangelisasie kerk – wat die evangelie in
woord en daad uitdra.

Broeders en susters, dit is des te meer opvallend as mens na
die situasie in die stad kyk. Filadelfia was ’n redelik jong
stad met ’n relatief klein bevolking. Die stad is gereeld
deur aardbewings getref. Dit het dit nie baie aantreklik gemaak
om daar te woon nie. Nou, in so ’n klein stad sou die felle
stryd tussen die ware en valse kerk nie onopgemerk geskied nie.
Dit sou soos ’n baie swak situasie lyk vir evangelisasie.
Wat moet die buitestaanders van hulle dink? Beroep beide Jode en
Christene hulle nie op dieselfde Ou Testamentiese Skrif nie? Roep
hulle nie altwee dieselfde God aan nie? Dit moes baie moeilik
gewees het vir buitestanders om dit te verstaan, net soos dit
vandag ook moeilik kan wees. Hoe moeilik is dit nie om vir
buitestanders te verduidelik wat die verskil is tussen die ware
en die valse kerk. Sou dit nie beter wees om in so ’n
situasie maar eerder stil te bly nie? Die konflik tussen die ware
en valse lyk soos ’n onoorbrugbare hindernis in die werk van
evangelisasie. Mens sou dink dat die teenstand van die Jode en
die negatiewe indruk wat die buitestaanders ontvang die werk
vrugteloos sou maak.

"Los dit maar," sou baie vandag sê. Trek jou terug
in jou vertroude kring van gelykgesindes binne die kerk. Buite
loop mens slegs vas teen die stewige mure van ongeloof,
misverstand en teenstand.

Gelukkig is dit nie hoe die gemeente van Filadelfia redeneer
nie. Hulle bly uitreik. Ten spyte van die fel haat van die Jode,
ten spyte van die negatiewe indruk van die kerk, hou hulle aan om
Christus se Naam te bely.

Wat ontdek ons dan, broeders en susters? Wat soos ’n
onoorkomelike mure gelyk het, blyk ’n geopende deur te wees.
Christus gooi die deure oop. Dit is die tweede punt van die teks:
Christus wys op die geopende deur wat Hy aan die gemeente gee.

"’n Geopende deur" – julle kan almal
rofweg raai wat dit beteken. ’n Geopende deur gee toegang.
Daardeur kan mens ingaan. Hierdie beeld word ook in die Skrif
gebruik om ’n opening vir die evangelie aan te dui. In
Paulus se brief aan die Korintiërs lees ons dat hy ’n
geopende deur in Efese getref het. Met ander woorde: hy kon die
evangelie vrylik daar verkondig. Die mense was ontvanklik vir die
evangelie, hulle was bereid om te luister. In ’n soortgelyke
manier het die gemeente van Filadelfia ’n geopende deur
ontvang. Christus berei hul pad voor. Christus skep ’n
opening in die muur van weerstand en ongeloof. Christus gee
toegang tot die harte. Die gelowiges kan die evangelie vrylik
verkondig en met resultate. Hul getroue getuienis dra vrugte,
alhoewel dit in alle eenvoudigheid en met min kragte geskied.
Mense kom tot geloof en sluit aan by daardie klein en veragte
gemeente.

Let wel, geliefdes, dit is Christus self wat hier werk.
Alhoewel die Here die getroue getuienis van sy kerk gebruik,
beteken dit nie dat die kerk soveel mense bekeer nie. Nee, die
getroue kerk, wat sy evangelisasieopdrag nakom, kan nooit spog
oor sy aktiwiteite nie. Jy maak nie die bekeerlinge nie. Dit is
Christus wat harte verander. Dit is Christus wat deur die harde
muur van ongeloof breek. Dit is Christus was die deur oop gooi.

Kyk net na die selfbeskrywing van Christus in hierdie brief:
"dit sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van
Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en
niemand maak oop nie." Christus stel Homself voor as die een
wat die besluite neem. Hy dra die koninklike sleutel. Sy besluit
is beslissend. As Hy ’n deur oopsluit dan word allerhande
dinge moontlik. As Hy ’n deur toesluit dan word allerhande
moontlikhede afgesny. Christus, die sleuteldraer, besluit oor
elkeen se geleenthede en moontlikhede.

Wat ’n roemryke naam om Homself mee voor te stel aan
daardie klein gemeente van Filadelfia. Watter bemoediging ontvang
die mense deur so ’n naam. As mens slegs op die uiterlike
omstandighede let, sou mens sê: "hulle het geen enkele kans
nie." Wat kan so ’n kerk in hierdie harde wêreld
bereik? Dit het nie die sterkte van syfers nie. Nog die krag van
kapitaal. Nog die voordeel van buitengewone gawes. Mens sou sê
die deure sal sekerlik vir so ’n gemeente gesluit bly. En as
dit nie die geval is nie, dan sal die Jode met hul fel teenstand
en hul laster veldtog wel daarvan seker maak. Ja, die Jode sal
wel besluit of die deure sal oopgaan of nie.

Christus sê egter: Niemand behalwe ek besluit hieroor nie.
Niemand anders en niks anders besluit oor die moontlikhede nie.
Die kwantiteit is nie beslissend nie. Ook nie die kwaliteite nie.
Die Jode, nog die duiwel het seggenskap hieroor.. Ek alleen
beslis daaroor. Daarom het ek ’n geopende deur voor julle
gestel. En julle mag seker weet: as ek dit open sal niemand dit
sluit nie. Geen Jood of duiwel kan julle stop nie. Geen vyand
– hoe magtig ookal – sal die deur weer kan sluit nie.

Inteendeel. Ek sal daardie vyande op hul knieë dwing. Ons
lees die mees verbasende woorde: "Kyk, Ek gee jou uit die
sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit
nie is nie, maar lieg – Ek sal maak dat hulle kom en voor
jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het."

Ek sal veroorsaak dat selfs die mense van die sinagoge van
Satan sal kom. Ek, wat die sleutel van Dawid het, ek sal die
opstandige vyande tot nederige medediensknegte maak. Ek deurbreek
die mure van halsstarrige weiering. Ek open die deur en hulle kom
en buig neer voor jul voete. Kan julle jul dit voorstel!

Geliefdes, die uitdrukking "voor jou voete neerbuig"
kan dalk as vreemd oorkom. Christus gebruik hier ’n bekende
Midde-oosterse beeld. Daar was dit gebruiklik dat mense wat
oorwin is tydens die stryd voor die voete van hul oorwinnaars
neerbuig. Hoekom? Om aan te dui dat hulle hul nederlaag erken.
Deur hierdie beeld te gebruik sluit Christus ook aan by die Ou
Testamentiese profesie. Die profeet Jesaja het geprofeteer dat
die heidene, die vyande van Israel, in nederigheid na hulle sou
kom. Kyk net na Jesaja 60:14: "En die seuns van hulle wat
jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou
verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou
noem: Stad van die HERE, Sion van die Heilige van Israel."

Geliefdes, wat hier die treffendste is, is dat dit wat Jesaja
sê die heidene met Israel sal doen, Christus nou sê die Jode
mbt die kerk van heidense oorsprong sal doen. Die Jode, wat spog
dat hulle die volk van God is, hulle sal na die Christelike
gemeente gedryf word. Hulle sal op hul knieë gebring word. Hulle
sal geforseer word om te erken dat die kerk, wat hulle eers so
gehaat en vervolg het, werklik die kerk van die lewende God is.
Christus sê: "Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete
neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het." Die rigting is
nie van die heidene na die Jode, maar anders om. Die Jode sal
aansluit by die gemeente wat van heidense oorsprong is.

Wat ’n groot bemoediging vir die gemeente van Filadelfia,
die gemeente wat ly onder die felle Joodse teenstand. Terwyl dit
lyk of die gemeente geen geleenthede het nie, open Christus die
ongelooflike moontlikheid.

Dit is ook ’n groot bemoediging vir ons vandag, geliefdes.
Hoe maklik begin ons nie om ons kanse te bereken. En as ons kyk
na hoe magtig die propaganda van die valse kerke is of van die
sogenaamde pinkster en charismatiese beweging – met sy
indrukwekkende samekomste – dan kan ons maklik dink dat daar
vir ons geen kans is nie. Die mure om ons lyk dan hoër en groter
as ooit. Wat is dan die nut daarvan om Christus in so ’n
situasie te verkondig? Moet ons dan nie eerder dinge vir onsself
hou en die taak oorlaat aan daardie selfgemaakte evangeliste nie?
Ja, ons is gewillig om iets te doen, maar dan wil ons eers ’n
geopende deur sien voordat ons die stryd aanpak. As ons maar net
sou weet dat ons gewillige ore en geopende harte sou vind –
dan sou ons moeite doen om onsself as gelowiges en as kerke te
presenteer en dan sou ons die evangelie aktief versprei.

Geliefdes, deur hierdie brief aan die kerk van Filadelfia
moedig Christus ons egter aan. Ten spyte van haar klein kragte en
felle teenstand het hierdie gemeente getrou van Christus se naam
bly getuig. Volgens menslike maatstawwe het hierdie gemeente min
hoop gehad om iets te bereik. Alles was daarteen. Die lidmate het
egter rustig volgehou. Hulle het hulself nie laat afskrik nie.
Hulle het getrou publiek vir hul Heer bly opstaan.

En wat sien ons wat Jesus Christus vir hulle gee: Hy gee hulle
’n geopende deur. Hy breek deur die harte en gee bekering
selfs onder die felste teenstanders. Nee, geliefdes, dit beteken
nie dat Christus ook vandag vir ons so ’n geopende deur sal
gee nie. Dit hang van sy soewereine wil af. So lank as wat ons
ten minste getrou bly en onsself nie deur die skyn en onse vrese
laat lei nie. So lank as ons nie terug trek en ons sendingsopdrag
ignoreer nie. Ja, geliefdes, as ons sien hoe die evangelie op
’n onskriftuurlike manier gepresenteer word deur sommige van
daardie eiewillige voorgangers en teoloë, wat die massas trek,
dan is ons des te meer verplig om uit te gaan en iets te doen.
Dit is maklik genoeg om te sê dat ander mense dit verkeerd doen
en die mense mislei. Maar wat doen ons? Om mee te begin, in ons
persoonlike lewe? Is ons lewe ’n lig? Lei ons woorde mense
na Christus? Reik ons werklik uit met die evangelie?

Geliefdes, ons het nog baie om in hierdie verband te leer. Dit
is bemoedigend om te weet dat Christus die moontlikhede bepaal.
Geen vyand kan hom daarvan weerhou nie. As Hy die deur oopsluit
kan niemand dit toesluit nie.

Of ons sal toegang ontvang en vrugte sal sien is ’n saak
wat ons in Christus se hande moet los. Hy roep ons slegs op om
getroue getuies van Hom te wees. Die uitslae is sy probleem. Hy
weet wat Hy nog wil bereik deur ons eenvoudige en aanhoudende
belydenis van sy Naam.

Geliefdes, in die laaste plek sien ons dat Christus ’n
belofte gee aan die wat oorwin. Hy belowe ’n plek van eer
aan die oorwinnaars.

Eerstens hoor ons die belofte van beskerming: "Omdat jy
die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in
die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die
bewoners van die aarde op die proef te stel."

Johannes het die een na die ander visioen gesien oor die uur
van beproewing. ’n Moeilike tyd staar die kerk en die wêreld
in die gesig. En die ergste ding is dat God, gedurende die uur
van beproewing, diegene wat Hom aanhoudend afgewys het, as ‘t
ware aan Satan kan teruggee. Die wêreld wil nie sien nie, later
kan dit gebeur dat hulle nie meer mag sien nie, want dan stuur
God ’n misleidende gees uit. Hier en daar het kerklidmate
aan die slaap geraak. Later sal hulle miskien nie meer wakker kan
word nie as God ’n gees van diepe slaap oor hulle versprei.
Dit is die ding wat ons die meeste vrees vir die kerk en die wêreld.
Dink u net in dat ons land of onsself weer heeltemal aan Satan
oorgegee word. Dan is alle hoop verlore. Die lewe word dan ’n
hel en ryp vir die laaste oordeel.

Sal ons staande bly? Christus belowe sy getroue getuies in
Filadelfia dat Hy hulle sal bewaar in of deur die uur van
beproewing. Die belofte is vandag ook van toepassing. Maar dan
moet ons getrou bly: "Hou vas wat jy het, sodat niemand jou
kroon kan neem nie." Hou vas aan die evangelie – moenie
enige deel daarvan opgee nie sodat niemand jou kroon wegneem nie.

Christus vervolg: "Wie oorwin, Ek sal hom 'n pilaar in
die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie."
Christus gee die oorwinnaars ’n vaste plek in sy tempel,
’n plek van eer. Hulle sal pilare in sy tempel wees, pilare
waarop die dak rus. Wat ’n groot belofte vir daardie
eenvoudige kerklidmate in Filadelfia. Hulle het maar min krag.
Wat kan hulle vir die Koninkryk van God bereik? Maar een dag sal
hulle die eer ontvang om die pilare, op wie die gehele gebou van
God rus, te wees.

Nee, nie slegs die groot kerkleiers kan iets doen of iets
beteken vir God se Koninkryk nie. Almal wat getrou is, is
waardevol vir God, almal mag pilare van God se tempel genoem word.

Volgens tradisie moet ’n pilaar ’n inskripsie daarop
hê. Daarom vervolg Christus: "en Ek sal op hom die Naam van
my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe
Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam."

Wat beteken dit dat Christus hierdie name op hulle skryf?
Hoekom skryf jy jou naam voorin ’n boek? Om aan te dui dat
die boek aan jou behoort – so skryf Christus die naam van sy
God op daardie pilare om aan te dui dat hulle aan Hom behoort.
Hulle behoort aan God die Vader. Hulle is sy kosbare besit.

Dit word verder aangedui dat hulle aan die stad van God, die
nuwe Jerusalem, behoort. As jy aan God behoort, dan behoort jy
ook aan die kerk van God. Daardie twee moet nooit van mekaar
geskei word nie, soos mense vandag gereeld doen, asof die kerk
onbelangrik sou wees.

Laastens word die oorwinnaars aangedui as Christus se eiendom.
Hulle ontvang sy nuwe naam, die naam bo alle name wat Hy ontvang
het op die tydstip van sy verheerliking. ’n Roemryke naam.

Geliefdes, watter groot vooruitsig vir die kerk, vir die
gelowiges wat getrou bly. Hou daarom vas wat jy het, sodat
niemand jou jou kroon kan ontneem nie. Behou Christus se woord en
bely sy naam. Laat niemand jou daarvan aflei nie. Gaan slegs
daarmee voort. Reik daarmee uit. Fokus op Hom, wat die sleutel
van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en
niemand maak oop nie. Volg Hom. Dien Hom. Dan mag jy seker wees
van jou volharding en oorwinning. Deur Hom wat jou krag gee.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)