Deur op die Here te vertrou ontvang jy vrede.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-10-19
Teks: 
Psalms 4
Preek Inhoud: 

Psalm 4

Ds. C. Kleyn - Sondag 19 Oktober 2003

Lees: Psalm 4.
Sing: Ps. 3:1,2; Ps. 1:1,4; Ps. 100:2,4; Ps. 4;
Ps. 63:2,3,4.

Tema: Deur op die Here te vertrou ontvang jy vrede.

  1. Dawid beroep hom op God se trou;
  2. Dawid roep die moedeloses op om op die Here te vertrou;
    en
  3. Dawid getuig van die vreugde en veiligheid wat hy by die
    Here vind.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons leef in ’n samelewing met baie uitdagings. Ook baie
bedreigings. Bedreiging vanweë ’n nuwe heidendom wat opruk.
Bedreiging vanweë ’n christendom wat meer en meer wêrelds
word. Bedreiging vanweë die verlating van die christelike geloof
en christelike waardes. Dit raak alle fasette van die lewe. Dit
lyk asof die regte van die christene steeds meer bedreig gaan
word. In die onderwys sien ons dat die regering alles in sy vermoë
wil doen om nuwe waardes en ingesteldhede by die kinders te kweek.
Die regering beskou die onderwys as ’n instrument om sy
begeerde sosiale transformasie te bereik. Op alle vlakke van die
samelewing is daar ’n hoë mate van misdaad en korrupsie.
Die regerende party en regeringsleiers praat wel teen korrupsie
maar hul dade spreek soms ’n ander taal. Met die verdwyning
van die christelike waardes is daar soveel seksuele losbandigheid
dat die verspreiding van vigs eerder toeneem as afneem en dat
driekwart van die huwelike uitloop op ’n egskeiding. So kan
’n mens aangaan. In watter samelewing moet ons kinders
grootword. Het die ware gelowiges en hul kinders nog ’n
toekoms in so ’n samelewing?

Broeders en susters, belangrik is hoe ons self in daardie
samelewing optree? Hoe reageer ons op die afval en onsekerheid
wat daar is? Is ons ’n voorbeeld vir ander? Wys ons
verdwaasde en verwarde mense deur ons woorde en dade die weg of
is ons deel van die verwarring en verdwasing? Ps 4 kan ons help
om ons houding te bepaal. In Ps 4 is daar sprake van tweërlei
lewenshouding. Teenoor die vertroue op die Here van die digter
Dawid, is daar die twyfel van baie van sy medestanders. Vers 7:
"Baie sê: Wie sal ons die goeie laat sien?" Die
volgelinge van Dawid sien blykbaar geen perspektief nie. Van wie
moet hulle in die omstandighede nog iets goeds verwag?

In watter situasie die Psalm ontstaan het, kan ons nie met
sekerheid vasstel nie. Verklaarders noem as moontlikheid Dawid se
vervolging deur Saul of sy vlug vir Absalom. Die besonderhede wat
in die teks genoem word, lyk die beste te pas in die tyd van
Dawid se vervolging deur Saul. ’n Mens kan goed voorstel dat
Dawid se volgelinge in daardie tyd met al hul ontberings en
gevare mismoedig geword het. Dis in ieder geval duidelik dat die
Psalm dateer uit ’n tyd van nood. Ander het koring en mos in
oorvloed. Terwyl Dawid en sy volgelinge gebrek ly. Wat die nood
vir Dawid nog erger maak is dat sy medestanders ’n verkeerde
houding aanneem. Hulle gedra hulle amper as sy teenstanders.
Daarom rig Dawid hom in gebed tot die Here. Daarom spreek hy ook
sy volgelinge aan. Hy wys daarop dat daar vrede is in die
vertroue op die Here. Dis dan ook die tema van die preek:

Deur op die Here te vertrou ontvang jy vrede.

Ons let op drieërlei:

  1. Dawid beroep hom op God se trou
  2. Dawid roep die moedeloses op om op die Here te vertrou
  3. Dawid getuig van die vreugde en veiligheid wat hy by die
    Here vind.

Dawid het dus te make met teenstand van sy eie mense, van sy
volgelinge. In vers 3 spreek hy hulle aan: "o Manne, hoe
lank sal my eer tot skande wees?" Deur hul houding en
optrede ontluister hulle Dawid se eer. Miskien praat hulle selfs
smalend oor hom.

Wat is dan die eer van Dawid? Dawid se eer is dat Hy ’n
gesalfde van die Here is. Vers 4: "Weet tog dat die Here vir
Hom ’n gunsgenoot afgesonder het." Die Here het Dawid
gekies om oor sy volk te regeer. Hy is die gesalfde van die Here.
Hy is daardeur God se gunsteling. God se bondgenoot in sy
verlossingswerk. Afgesonder om die beloofde rus vir God se volk
tot stand te bring.

Manne uit sy eie kring tas egter sy eer, sy heerlikheid as God
se gesalfde aan. Hulle het met hom saamgetrek in sy omswerwing.
Hulle het by Dawid hul heil gesoek. Hul verlossing van Saul se
heerskappy. Hul geluk. Maar hulle is nou in Dawid teleurgesteld.
Dawid gaan maar nie tot dade oor nie. Pleks van rus en voorspoed
te kry, moet hulle juis vanweë Dawid rondswerf en allerlei
ontberings ly. Honger en gebrek. Daarom begin hulle om te kla, om
Dawid se eer te smaad: wat het Dawid bereik; wat kan ’n mens
nog van Dawid verwag? Hy bly maar ’n vlugteling. Hy is of
nie in staat om te red, of hy wil nie.

Gemeente, in ons situasie kan ons dink aan ons Here Jesus
Christus. Dawid is ’n gebrekkige tipe van Jesus Christus.
Christus is juis die gunsgenoot wat die Here vir Hom afgesonder
het. Die Persoon waardeur God die beloofde rus vir sy volk tot
stand wou bring. Die Verlosser. Ons het ons geloof in Hom bely.
Ons het Hom gevolg. In Hom is ons erfgename van hierdie wêreld.
Maar wat sien ons daarvan? Die regte van die ware christene word
in ons samelewing juis bedreig. Deur misdaad, korrupsie,
inmenging van die staat word ons lewe en posisie bedreig. Tog bly
dit ’n werklikheid: Christus is ons gesalfde Koning. In hom
is ons verlossing, ons toekoms gewaarborg. Julle glo dit tog nog?
Of moet Christus soos Dawid kla dat ons sy eer tot skande maak?
Deur ons gebrek aan geduld en vertroue? Deur ons onchristelike
gedrag?

In sy nood gaan Dawid tot die Here in gebed. "As ek roep,
verhoor my, o God van my geregtigheid!" Dawid ken die omgang
met die Here in die verbond. Hy doen ’n beroep op God se
trou in die verbond. Hy roep die Here aan as die God van my
geregtigheid. Geregtigheid is ’n verbondswoord. Dit sien
daarop dat God voldoen aan dit wat van Hom op grond van die
verbond verwag mag word. Die Here gee regte in die verbond. Deur
sy verbondsbeloftes.

Dit geld in die besonder vir Dawid. Hy is God se gesalfde
koning. Afgesonder om God in sy verlossingswerk te dien. God het
hom apart behandel, hom dikwels ook wonderlik gehelp. Want God se
geregtigheid is juis dat Hy reg doen aan hulle wie se regte
gekrenk word o.a. deur onregverdige volksgenote. Hy verskaf die
verdruktes reg en red hulle.

Daarop pleit Dawid wanneer Hy God aanspreek as die God van my
geregtigheid. En hy vervolg: "In benoudheid het U vir my
ruimte gemaak." Dit het Dawid in die verlede ervaar. Hy het
meermale in gevaarlike situasies verkeer. Selfs in lewensgevaar.
Maar die Here het hom na sy belofte gehoor deur hom uit die nood
te red. So ken Dawid die Here. As die hoorder van die gebed. Hy
behandel sy bondgenoot volgens sy beloftes.

Wat God in die verlede gedoen het, gee Dawid des te meer
vertroue in die hede en in die toekoms. Die Here is mos gister,
vandag en more dieselfde, die getroue Verbondsgod waarop jy altyd
kan staatmaak. Daarom bid Dawid vol vertroue: "wees my
genadig, en hoor my gebed." Hy weet: Ek mag pleit op my
regte in die verbond. Dis waar ook al het ek deur my sondes die
regte verbeur. Maar daar is vergewing, genade. Daarop mag ek
altyd pleit, op God se vrye, onverdiende guns.

Daarna rig Dawid hom tot die manne wat sy eer ontluister. Dis
die tweede gedagte van die preek: Dawid roep dit moedeloses op om
op die Here te vertrou.

In die manier waarop Dawid sy manne aanspreek bewys hy sy eer
as teokratiese koning. Hy lei as ’n goeie herder sy
volgelinge op die pad van die verbond. Hy vermaan hulle: Hoe lank
wil julle met jul skadelike werk deurgaan? Dit wat julle wil, kan
julle nie volhou nie. Dit wat julle najaag is immers nietigheid,
leuen. Dis leeg, tevergeefs, onbetroubaar. Die manne is moeg van
die ontberings. Hulle wil koring en mos in oorvloed hê, vryheid
en stoflike welvaart.

Miskien sê hulle wel vir Dawid dat hy baie kragtiger moet
optree, met wêreldse magsmiddels, desnoods met geweld. Hy moet -
as ons mag aanneem dat die psalm uit die tyd van die agtervolging
van Saul ontstaan het - hom nou maar op ’n rewolusionêre
manier van die troon meester maak. Hy moet nie bly wag op die
ingryping van die Here nie. Daar gebeur mos niks nie. Hy moet
self gaan ingryp, homself probeer help, die wraak in eie hande
neem.

Maar Dawid verwerp dit: die pad wat julle voorstel is leeg en
bedrieglik. Julle probeer bou op menslike, wêreldse wysheid en
mag. Op die mens kan jy egter nie bou nie. Nee jy moet let op die
werk van die Here. "Weet tog dat die Here vir Hom ’n
gunsgenoot afgesonder het." Let tog op die Here wat alles
bestuur en watter plek Hy my gegee het. Hy het my as ’n
gunsgenoot vir Hom afgesonder. Hy wil deur my verlossing bewerk.
Maar dan wil Hy dit ook werklik doen. Op sy tyd en wyse. Nie op
julle tyd en wyse nie. En as gunsgenoot van Hom mag ek reken op
sy nabyheid en hulp. Die Here hoor as ek Hom aanroep. Hy sal sy
doel met my as gesalfde koning seker bereik. Daarop mag ons
vertrou en bou..

Broeders en susters, Dawid weet dat ons deur die onreg en nood
omgekrap kan word. Hoe ons daardeur ontsteld kan raak. Daarom gee
hy die raad: "Sidder en moenie sondig nie." Al is jy in
jou gemoed onrustig, laat dit jou nie tot sonde bring nie. As jy
omgekrap is oor die moeilikhede en teenstand wat jy ondervind,
sondig dan nie. Die onrus moet tot rus gebring word: "Spreek
in julle hart op julle bed, en wees stil." Hou die sondige
gedagtes vir jouself in die geslotenheid van jou slaapkamer. Veg
dit uit op jou bed. En lê jou hand op die mond. Jy moet in die
eensaamheid van die nag tot rus en stilte voor God kom.

Dawid wys dan ook die weg om tot bedaring te kom: "Offer
offerandes van geregtigheid en vertrou op die Here." Wys jou
vertroue in die Here deur om te bid en offers te bring. Daarin
blyk dit dat jy op die Here vertrou: Wanneer jy Hom in gebed
soek, wanneer jy Hom na die eis van die verbond dien. En om die
Here na die eis van die verbond te dien, beteken nie slegs dat jy
Hom in die regte gesindheid dien nie, maar ook dat jy dit op die
regte manier doen, sonder heidense gedagtes of bygeloof. Wanneer
jy jou so aan die Here gee, dan kom jy weer tot rus, dan kan jy
weer bo die situasie staan. Jou lewe en jou belange is immers in
goeie hande, in die hande van die Here. Dan kan jy ook vandag
werklik iets bereik en beteken. Dit kom daarop aan dat jy, dat
ons, die Here getrou na sy woord dien. So alleen kan ons iets in
die verwêreldlikte samelewing beteken. Indien ons wêreldse
gedagtes en metodes oorneem, dan maak ons onsself magteloos en
vrugteloos.

Gemeente, Dawid gaan sy mense voor in sy vertroue op die Here.
Dis die derde gedagte van die preek: Dawid getuig van die vreugde
en veiligheid wat hy by die Here vind.

Baie sê: Wie sal ons die goeie laat sien? Hierin hoor ons die
moederloosheid, die gebrek aan vertroue van Dawid se volgelinge.
Wie sal ons die goeie laat sien? Van wie kan jy nog iets goeds
verwag? ’n Klag sonder hoop. Het ons werklik nog
perspektief? So ja, wie gaan dit dan bring?

Baie vra dus in moederloosheid: wie sal ons die goeie laat
sien. Dawid weet by wie die heil te vind is: Daarom laat hy op
die ongeloofsvraag sy gebed volg: "Verhef oor ons die lig
van u aangesig, o Here." Die woorde herinner aan die
priesterlike seën wat ons reëlmatig tydens die eredienste opgelê
word. Dawid bid: verberg uself nie vir ons nie, maar keer u in
guns na ons toe. As u u aangesig in guns tot ons wend, dan is dit
’n lig wat ons bestraal. Die duister van die nag, die
verskrikking van die nood verdwyn. Die lig van God se vriendelike
aangesig gee vreugde en seën. "Die nag gee lig soos die
dag, die duisternis is soos die lig" (Ps 139:12). Die
situasie in ons land kan sorgwekkend wees. Dit kan op allerlei
areas selfs ’n chaos wees. Maar wie in die Here glo, in Hom
wat alles na sy Raad bestuur, kan vertroue hê en moedig die
toekoms tegemoet gaan. Want in die diepste donkerte skyn die lig,
die lig van God se aangesig. En Hy werk sy plan uit, sy
verlossingsplan ook met ons as individue en met ons land.

Dawid is nouliks klaar met sy gebed of hy juig al vol vreugde:
"Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle
koring en hulle mos oorvloedig is." Dawid kry tydens sy
gebed ’n antwoord. Hy het reeds ’n antwoord. Hy ken
geen vrees nie, maar vertroue. In die hart van die moedeloses is
daar net wrewelige, opstandige gedagtes omdat God vir hulle die
goeie van hierdie aarde onthou. Maar in Dawid se hart is daar,
ondanks alles wat hy moet mis of verloor, net vreugde: vreugde in
die Here. Nie in uiterlike welvaart nie, maar in die Here self is
sy blydskap. God is sy eer, sy deel, sy toekoms, sy ewige goed.

Dit klink vreemd om in tye van moeite en sorg te sing van
vreugde. Die situasie van Dawid en sy manne bly gevaarlik,
kwesbaar en onseker. Ons situasie in ons land bly ook kwesbaar en
onseker. Kan jy dan in so ’n situasie van vreugde in jou
hart praat?

Ja, dit kan wanneer ons op die Here fokus en op Hom vertrou.
Wanneer jy na die mens redeneer dan is dit onbegryplik. Slegs wie
die Here, die God van die verbond ken, kan dit verstaan. Hy is
mos die God wat vir ons, sy kinders, wil sorg, ons wil dra en
bewaar sodat ons ons ewige erfenis ontvang. Hy bly trou aan sy
beloftes. Hy skenk die vervulling van die beloftes aan almal wat
Hom vrees. Daar hoef Dawid, daar hoef geen kind van God aan te
twyfel nie, in watter omstandighede jy ook al verkeer.

Dawid kom dan tot sy slotsom in vers 9: Ek wil in vrede gaan lê
en meteens aan die slaap raak. Wanneer ek bed toe gaan, hoef ek
nie te bly tob nie. Ook nie onrustig te bly deur wrewel nie. My
oog is mos op die Here. Ja, meer nog: sy oog is op my. Daarom kan
ek in vrede gaan slaap, sonder angs en kommer. Ek is in goeie,
almagtige en getroue hande.

"Want U o Here, alleen laat my in veiligheid woon."
Ek kan wel al my veiligheidsmaatreels neem. Daar is niks
verkeerds mee nie. Dit behoort by my verantwoordelikheid in
hierdie land. Maar die Here alleen laat my werklik veilig woon.
Nie net vir hierdie nag nie, maar voortdurend, solank Hy my hier
’n plek gee. By U Here is ek geborge, vir tyd en ewigheid.
Selfs by die dood. U engele staan dan gereed om my by U te bring.

Gemeente, in die vertroue leer God ons om dit situasie in ons
land te hanteer. Seker daar is verontrustende ontwikkelings,
frustrasies, gevare, onsekerhede. In watter wêreld gaan ons
kinders grootword? Watter onderwys sal hulle ontvang? Watter
kragte is nie reeds besig om hulle en ons van ons christelike
waardes weg te trek nie. Sal ons nog eie skole kan bedryf? Is
daar vir ons kinders en vir ons nog uitsig in ons verwêreldlikte
samelewing? Is ons wel veilig fisies en geestelik? Die maatreëls
van die regering of hul gebrek aan optrede kan diep ingryp in ons
sosiale en maatskaplike lewe.

Laat ons luister na Dawid se waarskuwing. Sidder, en moenie
sondig nie. Ons kan ons vrae en sorge hê. Ons kan daardeur
opgewonde raak. Maar moenie die reg in eie hande neem nie. Moenie
kwaad met kwaad vergeld nie. Volg nie die rewolusionêre pad nie.
Bepleit jou saak langs die wettige kanale, op ’n wettige
manier. Aanvaar die owerhede as deur God ingestel.

Bowenal wees nie opstandig teen God nie. Vertrou op die Here.
Hy is die God van ons geregtigheid. Hy kom op vir ons regte. Hy
sal die reg van sy verbond en van sy volk laat geskied.

Weet dat die Here vir Hom ’n gunsgenoot afgesonder het.
Hy het sy beloftes aan Dawid in Christus vervul. In Hom is God se
verlossing van sy volk gewaarborg. Sy verlossingsplan, ook met
ons land, sal voltooi word. Hy sal alles, ook teleurstelling en
lyding, vir hulle wat Hom liefhet, ten goede laat meewerk. Dit
sal uiteindelik tot ons heil dien.

Laat ons daarom die uitkoms nie langs sondige paaie soek nie,
via leuen en bedrog. Baie mense soek hul heil in koring en mos,
in aardse rykdom en genot. Dis vir jou dan die belangrikste.
Daarvoor is jy bereid om offers te maak, selfs ’n verbond
met die leuen te sluit. Solank as jy jou posisie en welvaart maar
kan behou. Maar dit sal uiteindelik waardeloos blyk te wees.

Laat ons ons daarom toevertrou aan die Here ons God. Hom
getrou bly in woord en daad. Ook al sou dit beteken dat ons die
ondersteuning van die regering of van ons medeburgers sou verloor.
Vind in die Here ons God jou vreugde. En veiligheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)