Die goedheid van die HERE wys homself in al sy werke.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-10-26
Teks: 
Psalms 145
Preek Inhoud: 

Psalm 145:15

Ds. C. Kleyn - Sondag 26 Oktober 2003

Lees: Psalm 145.
Sing: Ps. 123:1; Ps. 85:1,4; Ps. 145:1-4;
Ps. 145:9-12; Ps. 146:1,3,6,8.

Tema: Die goedheid van die HERE wys homself in al sy
werke.

  1. Alle skepsels is van die HERE afhanklik; en
  2. Alle skepsels ontvang van die HERE dit wat nodig is.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die boek Psalms eindig met 6 lofgesange. Geen klagte word meer
geuit nie. Die roep uit die diepte tot God verstom, ewenas die
bede om redding uit die mag van vyande. In die Psalms ontvang lof
en aanbidding die laaste woord. Dis mos die doel van al God se
bemoeienis met sy volk en met die wêreld, dat alle klagte en
nood verslind word deur die vreugde oor God se heerlikheid en
trou. Sodat God alles in almal sal wees.

Daarmee staan die slot van die Psalms nie buite die
werklikheid van die lewe nie. As dit so was, sou Ps 145 bv nie
gepraat het van hulle wat val en hulle wat neergeboë is nie.
Juis in die lewe van elke dag toon God sy heerlikheid en soek Hy
sy lof.

Die slot van die Psalms met die lof op God is geweldig. Dis
kenmerkend vir die O Testamentiese vroomheid. Dit moet ook ons
lewe as gelowiges bestempel. In die Psalms word die nietigheid en
onmag van die mens duidelik erken, asook die onheilspellende mag
van die Bose. Wanneer die laaste Psalms dan konsentreer op God se
lof, dan blyk daaruit die ware geloof en die vurige liefde vir
God. Soos ’n magtige finale verwoord die slot van die Psalms
die heerlike belydenis van Ps 73:25: "Buiten U begeer ek ook
niks op die aarde nie."

Laat ons dan kyk na die eerste van hierdie geweldige
slotpsalms. Ek verkondig vir julle: die goedheid van die HERE wys
homself in al sy werke

  1. Alle skepsels is van die HERE afhanklik
  2. Alle skepsels ontvang van die HERE dit wat nodig is

Ps 145 open die ry van lofpsalms op ’n mooi en kunstige
manier. Die eerste letters van elke vers volg die letters van die
hebreeuse alfabet. Elke volgende vers begin met die volgende
letter van die alfabet. In ons vertaling word ons daaraan
herinner deur die vermelding van die Hebreeuse letters voor elke
teks: Alef, Bet, Gimel ens. Dit gaan so te sê van die a na die z.

Die laaste vers van die Psalm gryp ook terug na die eerste
vers. Alles val binne die raamwerk van die aanhoudende lof op die
Naam van die HERE. Ja, die HERE moet aanhoudend geloof word, elke
dag, vir ewig en altyd. In vers 1 noem die digter dat hyself God
wil loof. In die laaste vers, vers 21 roep hy alle vlees, al wat
leef, op om dieselfde te doen. Almal saam moet ons die HERE loof.
Dit geld nie net vir hierdie uur van erediens nie, maar altyd en
oral. Ook as ons nou nou weer met ongelowiges te doen het, as ons
ons plek in die harde samelewing weer inneem.

Ons lied mag nie verstom nie, hier nie en nêrens nie. Want
die HERE is groot en baie lofwaardig. Sy grootheid oortref ons
voorstellingsvermoë. Dis ondeurgrondelik. Ons staan steeds weer
versteld. Geslag na geslag prys sy magtige dade. Die Psalmis noem
die hoë roeping van God se volk om as God se getuies die kennis
van die HERE te verbrei. Ons word geroep om die lof op Sy
goedheid onder die mense te laat hoor. Want almal leef van die
goedheid van die HERE. God vertoon Hom as Heer nie net van Israel
nie, maar van die hele skepping. Sy koningskap is ’n
koningskap oor alle volke. Sy heerskappy omvat alle mense van
alle plekke en tye. Daarom is dit reg en billik dat almal Hom
erken en met die loflied van die vromes saamstem.

Dit kan egter alleen in geloof gedoen word. Net die oog van
die geloof sien God se koningskap. Die grootste deel van die
skepsels merk dit in ongeloof nie op nie. Dit was vroeër so, en
dit is nog so. Die massa is blind vir die heerlikheid van God se
koningskap. Hoewel almal van sy goedheid leef, word dit nie
gesien en erken nie. Daarom is daar die dringende behoefte aan
getuies. Getuies om die mense te wys op die heerlikheid van God
se regering. Mense wat deur hul woorde en dade na God wys.
Christene wat die lig van die wêreld is, om hulle wat blind en
verdwaas is, te verlig. Is dit wat U is en doen?

Gemeente, dat die Here die welsyn van die menslike geslag
soek, blyk byvoorbeeld uit vers 14: "Die HERE ondersteun
almal wat val, en Hy rig almal op wat neergeboë is." God se
heerskappy het niks in gemeen met ’n wrede onmenslike
tirannie nie. Die skrikbewind van ’n diktator laat mense
juis val en neergeboë wees. Mense is uitgelewer aan die
magswellus van leiers wat deur hul mag verblind is, soos ons dit
op die oomblik in Zimbabwe sien. God se koninklike heerskappy is
heeltemal anders. Almal wat neergeboë is, wat dreig om te val,
wil Hy ondersteun. God gee ag op die moeites van mense. Hy is
bewoë oor ons lot. Hy verleen graag hulp. Hy is ’n hoorder
en redder van hulle wat Hom aanroep. Hulle wat by die HERE troos
in hul smart soek, sal nie teleurgestel wees nie.

Broeders en susters, nie net die gelowiges nie, maar alle
skepsels is van die Here afhanklik. Ons lees in ons teks: "Die
oë van almal wag op U". Ons lees iets dergeliks in Ps 123:
"Ek slaan my oë op tot U wat in die hemel troon. Kyk, soos
die oë van die knegte is op die hand van hulle heer, soos die oë
van die diensmaagd is op die hand van haar meesteres – so is
ons oë op die HERE onse God, totdat Hy ons genadig is." Die
knegte verwag dit van hul heer. Hulle is van Hom afhanklik.
Dieselfde geld vir die diensmaagd tov haar meesteres. So rig God
se kinders hulle tot die HERE. Van Hom is my verwagting. Ek hoop
op sy versorging en hulp.

Gemeente, sou ons op grond van die verklaring van Ps 123 die
woorde van ons teks nie moet beperk tot enkel die gelowiges nie?
Ons kan tog nie sê dat alle mense, dus ook die ongelowiges,
hulle op die Here rig en dit van Hom verwag nie? Tog staan daar
in ons teks: "Die oë van almal wag op U." Hoe moet ons
die ‘almal’ verklaar? Die woorde laat hulle nie beperk
tot enkel die gelowiges nie. Daar is sprake van almal of selfs
van alles. Ps 104 kan ons help by die verklaring van ons teks.
Daar staan byna presies dieselfde as in ons teks. Daar word van
alle skepsels, van mense en diere gesê: "Hulle almal wag op
U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd" (Ps 104:27).
Selfs die diere wag dus op die HERE. Daarmee word nie bedoel dat
dit bewus gedoen word nie. Die diere het nie verstandelike vermoëns
nie. Hulle kan God nie ken nie, laat staan dat hulle hulle bewus
tot God sou rig. Dis uit instink dat hulle soek na, skreeu om
voedsel. Tog sê die digter in Ps 104 van die jong leeus dat
hulle brul om roof en dat hulle hul voedsel van God begeer. Die
gebrul van die jong leeu – as uiting van sy begeerte na roof
- word op figuurlike manier beskryf as ’n versoek aan God
gerig. So word ook elders gepraat van die jonge rawe wat tot die
Here roep.

Die wag op die Here is dus ’n digterlike voorstelling van
die afhanklikheid van die Here vir alle lewensbehoeftes. Mens en
dier het versorging nodig. Daarvoor is hulle volkome van God
afhanklik. As God sy aangesig verberg, dan kan hulle nie lewe nie.
Neem Hy hulle asem weg, dan sterwe hulle en keer terug tot stof.
Al die geskreeu, geroep om voedsel, al die stryd vir oorlewing
word in die teks genoem ’n wag op die Here. Die hele
skepping, alle skepsels, is op God aangewese. Moenie dit ooit
vergeet nie.

Gemeente, as ons sien dat selfs van die diere gesê kan word
dat hulle op die HERE wag, dan hoef dit ons nie te bevreemd dat
dit van die ongelowiges gesê kan word nie. Die ongelowiges sien
niks meer van God as die diere nie. Tog is daar ook by hulle
’n wag op die HERE. Ook al is hulle ongehoorsame skepsels
van die Here, hulle bly van Hom afhanklik. Sonder Hom kan hulle
nie lewe nie. Van oomblik tot oomblik moet God hulle asem en
voedsel gee.

Vir ons as gelowiges is daardie wag op die Here baie dieper en
ryker. Ons is nie net afhanklik van die Here, ons weet ook dat
dit die geval is. Ons staan op daardie punt nie op een lyn met
die redelose diere nie, soos die ongelowiges. Die ongelowiges
haal alles na hulleself toe asof dit uitsluitend hul besit is.
Hulle het tog reg daarop daarvoor gewerk. En dis tog deur die
beheersing en ontwikkeling van die skepping dat die mens aan sy
voedsel kom. Hulle kyk nie verder as die natuurlike, sekondêre
oorsake nie. Hulle sien nie die groot prentjie nie, die volle
werklikheid van God se regering. Daarom is daar by die
ongelowiges geen plek vir die gebed nie. Net soos die redelose
diere hul buit tot hulle neem, so neem hulle hul voedsel en
rykdom tot hulle sonder afhanklikheidsbesef.

Ons mag, broeders en susters, egter meer sien as die
sogenaamde natuurlike oorsake. God bevry ons van die bedrieglike
kortsigtigheid. Daarom gee Hy ons steeds weer sy Woord. Hy hou
ons die volle werklikheid voor oë. As ek kos ontvang, het ek dit
nie in eerste instansie aan die ywer en bekwaamheid van die
koswinner te danke nie. Alle goeie dinge kom in eerste instansie
van die Here. Die Here gee almal hul spys op die regte tyd lees
ons in ons teks. Alle skepsels ontvang van die Here dit wat nodig
is. Dis die tweede gedagte.

Dis die Here wat gee. Die volgende vers, vers 16, gee daarvan
’n treffende voorstelling. "U maak u hand oop en
versadig alles wat lewe met welbehae." Soos ’n
huisvader maak die HERE sy hand oop om te skenk wat nodig is. Tot
sy huishouding behoort alle skepsels. Hy versadig alles wat lewe
het met welbehae, met die goeie. Dit geld dus nie net vir die
volk van die Here nie, maar vir alle mense en diere. So laat Hy
sy son opgaan oor slegtes en goeies, en laat Hy reën op
regverdiges en onregverdiges val (Mt 5:45). So sê die apostel
Paulus dat God Homself onder die volke nie onbetuig gelaat het
nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare
tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul (Hand
14:17).

God gee vir almal hul spys. In God se universele huishouding
is daar ’n groot verskeidenheid. Die verskillende skepsels
word op verskillende maniere gevoed, met verskillende soorte
voedsel, wat pas by die verskillende behoeftes. Wat is daar nie
’n groot variasie in die mense en dierewêreld nie. Elkeen
eet op sy eie wyse sy eie spyse. Ons sien iets van God se
kunstige onderhoudingswerk, ook in ons land. Die swart bevolking
van ons land, die Indiërs, die engelse en die Afrikaners het bv
almal hul eie geregte wat saamhang met hul geskiedenis en
omstandighede. God gee elke land sy eie moontlikhede en eie
lewensmiddele.

Maar, gemeente, is dit nie erg optimisties om te sê dat God
alle skepsels hul spys gee nie? Wat van die miljoene, selfs in
ons land, wat gebrek ly? Wat van die lande waar miljoene van die
honger sterwe. Ons word gekonfronteer met die gevolge van die
sonde. Die skoon orde van die natuur wat God van die begin af
ingestel het, is deur die sonde van die mens versteur. Tog sien
ons ook tav die in sonde gevalle wêreld God se goeie sorg.
Sonder die goeie sorg sou geen mens kan bestaan nie, sou alle
lewe op aarde onmoontlik wees. God gee nog steeds asem en voedsel.

Van die uitdeling van spys moet egter gesê word dat Hy dit
doen op sy tyd, dws op die regte tyd, wanneer dit na sy wysheid
daar moet wees, wanneer dit volgens sy plan nodig is. En dit is
in ons sondige menselewe nie altyd dieselfde as wanneer ons dit
nodig ag nie. Die Here beskik oor die tye. Hy bepaal of die tyd
ryp is of nie. Hy bepaal oorvloed maar ook droogte en hongersnood.
Dis vir ons mense dikwels onbegryplik. Hoe kan God hongersnood en
droogte beskik? Raak dit God nie om te sien dat soveel mense van
ellende sterwe nie. Dit raak God inderdaad. Dit bly sy skepsels.
As dit Hom nie sou raak nie, sou Hy al lank ’n einde aan al
die mensekinders gemaak het. Soms kom Hy inderdaad met sy
oordele, as voorbode van Sy laaste oordeel. Om ons te waarsku.

Moenie vergeet dat die sonde en opstand teen God die ellende
veroorsaak het nie. Dat ek nog mag leef en kos mag kry is ’n
gevolg van God se goedheid. Maar as ek minder as dit het, dan kan
ek God niks verwyt nie. God is regverdig in al sy weë, vervolg
die digter in vers 17. Selfs die kwaad wat daar as gevolg van die
sonde is, wil Hy vir my ten goede laat meewerk. Hy soek daarin
die heil van sy kinders. En as ek dan meer as die minimale
ontvang, dan moet ek baie dankbaar wees. Die ellende rondom ons
leer ons dit wel. En, gemeente, dan sien ons nog nie eers wat ons
almal verdien het nie, die helse ellende en pyn. Minder as dit is
reeds vir ons onverdraaglik. Hoeveel te meer sal ons God dan
dankbaar wees vir die baie wat Hy ons nog wil gee. Hy gee ons
ondanks ons sondes tog elke dag weer ons daaglikse brood en meer
as dit.

Om God te bly loof, ook in moeilike omstandighede, moet ek God
eers bly sien as genadig en barmhartig (vers 8). Na die sondeval
het ek geen regte meer nie. Dis alles genade! God is regverdig in
al sy werke (vers. 17). By Hom is daar geen onreg nie. Inteendeel.
In die lig kan ek dan ook in moeilike omstandighede sy goedheid
sien. Kyk, hoe goed God nog vir my is!

Hoe gee die Here dit dan vir ons? Hy maak sy hand oop en
versadig alles wat lewe. Oor die algemeen doen Hy dit nie sonder
die aktiwiteit van ons mense nie. Die ywer en vakkundigheid van
die boer en van die koswinner is nie sonder belang nie. God het
ons mense hier geplaas om die aarde te bebou, om uit die skepping
te haal wat daar in sit. As ek kos wil hê sal ek na vermoë moet
werk. God wil die ywer en vakkundigheid van mense inskakel om sy
gawes vir ons te gee. As mense lui is en hulleself nie wil inspan
of ontwikkel nie, dan is dit nie vreemd dat mense honger ly nie.
Dis een van die probleme selfs in ons land.

Maar ook by alle menslike aktiwiteit bly dit die Here wat gee.
Die koswinner kan nie werk nie as die Here nie die asem en kragte
gee nie. Die ondernemer kan nie as vakkundige sy werk doen nie
tensy God se Gees die kundigheid vir hom gee. En ywer en
vakkundigheid sal niks baat nie tensy God sy seën gee nie.
Sonder die seën van die Here sou alles vrugteloos wees.

In ons tyd kan selfs die beste wêreld ekonome die oplossing
nie aandra nie. Hulle is dikwels onderling verdeel oor wat die
beste is. Daar is soveel faktore waaroor hulle geen mag het nie.
Van die Here kan egter gesê word dat Hy die wêreld ekonomie
volkome in sy hand het. Hy word nie verras deur nuwe
ontwikkelinge nie. Hy word nie geplaas voor voldonge feite nie,
waarby enkele onwillige lande roet in die wêreld se kos kan gooi.
Die Here bestuur alles na sy doel. Ons is volkome van Hom
afhanklik. Alle menslike inspanning sal nie gedy as God nie die
regte voorwaardes skep vir vrugbare arbeid en as Hy self nie die
vrugte gee nie.

Gemeente, ons hoop nou nou te bid vir gewas en arbeid. Daarby
vergeet ons nie die konkrete situasie in ons land nie, met ’n
toename van werkloosheid en finansiële nood onder alle lae van
die bevolking. Steeds meer mense leef in spanning en sorg oor hoe
hulle die komende jaar sal kan rondkom. Sal jy jou werk behou?
Sal jy voldoende inkomste hê? Sal al jou inspanning voldoende
oplewer? Dit kan ’n mens moedeloos maak.

Maar broeders en susters, onthou van wie julle afhanklik is,
volkome afhanklik is. Dan hang jou toekoms nie daarvan af of jy
meer of minder verdien nie, of dat jy jou werk behou nie. Dit
lang af van God wat genadig en barmhartig is Dan doen ons wat ons
hand vind om te doen en ons laat die uitkoms in die hande van die
Here. Hy is naby almal wat Hom aanroep. Nie dat alles dan vir ons
voorspoedig sal verloop nie. Dan ons dan verseker mag wees van
oorvloed en van goeie werk. Maar wel dat ons leer om met die
omstandighede vergenoeg te wees. God se genade en Gees stel ons
in staat om ons lewe met sy onsekerheid en spanning te kan
hanteer. Die Here gee moed en kragte. Met Hom kan ons verder want
ons het die versekering dat Hy ons sal voorsien van alles wat
werklik nodig is maak nie saak op watter manier nie, moontlik via
die diakonie, maar Hy sal sorg. Solank as Hy my hier ’n plek
gee, solank laat ek my dan ook deur hom inskakel as dankbare kind
van Hom.

Ons gaan bid vir gewas en arbeid, alles wat nodig is van die
Here afsmeek. Laat ons bid in waarheid. Die Here is immers naby
almal wat Hom aanroep in waarheid (vers 18). Dis dan geen sprong
in die duister nie, so van: ’n nee het ons, ’n ja kan
ons kry. Ons nader God nie vol klagte en ontevredenheid, twyfel
of ongeduld nie. Hoe sou ons sondaars wat alle regte verbeur het,
en wat nog steeds sy goedheid en genade ontvang, vir Hom kla? Ons
kan net dank, van harte dank vir Sy genade en goedheid. Die
toonsetting van ons gebed en van ons lewe sal dan lofprysing wees.
Dit sal ons toon ook bepaal wanneer ons praat oor werk en geld.
My mond sal die lof van die Here uitspreek. Laat alle vlees sy
heilige Naam loof vir ewig en altyd.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)