Die ware bekering van die mens

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-07-27
Teks: 
HK Sondag 33
Preek Inhoud: 

Tema: Die ware bekering van die mens.

  1. die pad van bekering;
  2. die betekenis van bekering; en
  3. die vrug van bekering.

 

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vorige sondag het ons die noodsaak van goeie werke genoem. Die toegang tot die koninkryk van God is hier op die spel. Sonder goeie werke sal niemand die koninkryk beërwe nie. Wie nie die wil van die Vader doen nie, sal die Vader nie sien nie.

Verstaan my goed: dit wil nie sê dat die goeie werke die grond vir ons saligheid is nie. Ons beërwe nie God se koninkryk vanweë ons goeie werke nie. Christus se werk bly die enigste grond van ons saligheid. Tog is ons goeie werke onmisbaar. As deel van God se verlossingswerk. As bewys dat ons verlos is. As die pad waarlangs ons die koninkryk binnegaan. Elkeen wat hom in sy goddelose ondankbare lewe volhard en hom nie tot God bekeer nie, sal nie salig word nie. Bekering en goeie werke is dus onmisbaar. Wil iemand gered word, dan sal hy hom tot God moet bekeer.

Dis daarom baie belangrik dat ons weet wat bekering is. Daar is niks waarvoor ons meer bevrees moet wees as die skyn nie, as ’n skyn bekering. Dit baat niemand nie. Met so ’n bekering eindig ’n mens in die hel, ook al het jy gedink jy gaan hemel toe. Daarom is dit baie belangrik dat ons weet wat ware bekering is en dat ons werklik bekeerd is. Skyn bedrieg. Ek kan myself en ander wil bedrieg, maar God nooit nie. God wat die toegang tot sy koninkryk bepaal. Hy sien deur al die uiterlike skyn heen. Hy bly ware bekering eis.

Laat ons dan kyk na die ware bekering van die mens

  1. die pad van bekering
  2. die betekenis van bekering
  3. die vrug van bekering

Is jy bekeerd? Is jy opnuut gebore, wedergebore? Dis ’n vraag wat moontlik ietwat vreemd in jou ore klink. Ons is nie daaraan gewoond om die vraag vir mekaar te vra nie. Die vraag kan ons verwar, in verleentheid bring.

Is jy bekeerd? Is elkeen van julle opnuut gebore? Dit ’n vraag wat ons reëlmatig hoor in sekere kringe. Juis vanweë die algemene afval in die kerke, lê sekere mense baie klem op die bekeringservaring. Dink aan die evangeliese beweging of aan die charismatiese beweging. Die mense wil graag nuwe lewe in die kerke bring. Volgens hul ervaring het dit taamlik koud en doods in die kerke geword. Daar in die kerke het jy die vaste vorme, die vaste ampte, woord en sakramente. Daar sou mense die uiterlike vorme ontvang. In sekere kerke, waar die woord van God nie meer werklik gehoor word nie, sien ’n mens inderdaad dat dit ’n uiterlike saak geword het. Die lewe het verdwyn. Mense word nie meer gemotiveer. Wat kan ’n mens verwag indien jy klippe vir brood ontvang. Dooie klippe het die plek ingeneem van die woord van God wat lewend en kragtig is. Is dit dan vreemd dat sulke kerke baie lidmate verloor en ook hul unieke waarde in die samelewing verloor.

Wel, wat baie mense nie in die kerk kan vind nie, soek hulle in die beweging. Hulle soek die innerlike belewing van die beweging. So hoor jy van christene wat die doop in die kerk ontvang het en moontlik selfs openbare geloofsbelydenis afgelê het, wat sê dat hulle in die beweging tot bekering gekom het, bv op een van die massale evangelisasie byeenkomste. Daar voel hulle het hulle ontvang wat hulle in die kerk gemis het: gees en lewe. Daar is hulle geraak, deur die Gees in beweging gesit. Daar is hulle opnuut gebore.

Die evangeliese beweging wat uit allerlei groeperings bestaan en ook onder studente werksaam is benadruk dikwels sulke bekerings. Dit lei dikwels tot ’n devaluasie van die kerk met sy ampte en sakramente. Pleks van die kinderdoop verkies hulle die grootdoop waar die persoon wat gedoop word self kan getuig van wat God in sy lewe gedoen het.

Is jy bekeerd? Die vraag het gangbaar geword in die bewegings. Dit bly egter ook aktueel in die gevestigde kerke. Laat ons die vraag nie aan die bewegings oorlaat en net konsentreer op die uiterlike aanvaarding van die leer nie. Laat ons nie die leer en die bevinding skei nie. Die twee behoort by mekaar. Ook hier in die kerk moet ons die geloof ervaar, die leer ervaar. Lewende lidmate van die kerk wees. Anders sal die kerk inderdaad ’n dooie saak word, sal jy inderdaad jou toevlug moet soek in die beweging. Is jy bekeerd bly ’n gepaste vraag ook hier in die kerk.

Alleen dan moet dit wel duidelik wees wat ons daarmee bedoel. Word daarmee ’n sigbare en buitengewone kragdadige bekering bedoel? Moet jy kan getuig van wat God op ’n sekere oomblik met jou siel gedoen het? Dan sou ek baie van julle waarskynlik met die vraag in verleentheid bring. Het jy dit ervaar, so ’n buitengewone bekeringservaring op ’n sekere dag en uur van jou lewe? Baie van ons het dit waarskynlik nie so ervaar nie.

Het hulle wat na so ’n bekeringservaring kan wys, dan ’n voorsprong op jou wat dit nie gehad het nie? Moet ek jaloers op hulle wees? Moet ek myself skaam omdat ek nie van so ’n bekering kan getuig nie? Jy sou amper die gevoel kry wanneer jy mense vrymoedig hoor praat oor hul bekeringservaring. Jy kan dan gaan dink: was ek maar soos Paulus wat Christus op ’n sekere oomblik tot bekering gebring het, Paulus wat ’n duidelike bewys van sy bekering gekry het.

Maar, geliefdes, het julle werklik ’n rede om jaloers te wees? Wanneer jy sien wat God aan en in jou gedoen het vanaf jou kinderjare, moet jy dan kla dat jy nie so ’n skielike bekeringservaring gehad het nie? Wanneer jy van jongs af aan die lewende en kragtige woord van God leer ken het, die saad van wedergeboorte, het jy dan iets gemis? In ’n sekere sin kan ’n mens sê dat diegene wat so ’n skielike en kragtige bekering gehad het, baie gemis het. Óf omdat hulle groot geword het met klippe pleks van die lewende brood óf omdat hulle aanvanklik die Here en sy woord afgewys het. Kyk maar na die apostel Paulus. Moet jy jaloers op hom wees? Inteendeel! Dit was erg dat God op so ’n kragdadige manier hom tot bekering moes bring. Later noem Paulus homself dan ook een van die grootste sondaars. Hy was aktief besig as vyand van Christus en sy kerk. Is dit iets waaroor jy jaloers moet wees?

Nee, geliefdes, wees dankbaar vir wat God in jou vanaf jou kinderjare gewerk het. Wees dankbaar vir jou doop, vir jou christelike opvoeding en onderwys. Wees dankbaar dat jy in die boesem van die kerk grootgeword het. En dat die Gees jou daar gesoek het en tot geloof beweeg het. Dat die Gees jou so op sy spoor gesit het.

Is dit doods in die kerk as die woord van God getrou verkondig word? Is dit net ’n uiterlike en leë saak wanneer die woord werklik geglo word? Is die kinderdoop, die prediking en die openbare geloofsbelydenis sonder betekenis? Is die woord van God nie lewend en kragtig nie, lewendmakend, die saad van die wedergeboorte, die middel tot bekering nie? So mag jy reeds as jong kind die Here in die kerk leer ken, liefhê en dien. So mag jy daarin groei. Is dit dan nodig dat God skielik ingryp in jou lewe om dit radikaal om te keer? Die bekering is ’n proses wat deur die lewende woord van God op gang gesit en onderhou word. Sou so ’n spontane en buitengewoon kragdadige bekering dan nodig wees?

Die bybel ken verskeie skielike bekeringservarings. Die bybel noem egter ook Samuel, Jeremia en Timoteus wat van jongs af aan in die Skrifte grootgeword het. In hulle situasie word geen spesifieke bekeringservaring en bekeringtydstip genoem nie.

Geliefdes, waar jy nie uit die lewende Woord van God wil leef nie, daar kan ’n skielike ingryping van God nodig wees. Daar is dit nodig dat jy wakker geskud word. Die kerk is nie ’n plek om te slaap nie. Hoe sieker die kerk is, hoe sterker die sug na ’n buitengewone persoonlike bekeringservaring sal wees. Hoe goddeloser die lewe, hoe meer sal so ’n kragdadige bekering nodig wees.

Ek mag so ’n buitengewone bekeringservaring nie van julle eis nie. Ek mag nie eis dat julle kan aanwys wanneer presies julle tot bekering gekom het nie. Die datum van die bekering is nie belangrik nie. Belangrik is dat julle bekeerd is. Daarom mag ek wel van julle vra: leef jy uit die lewende Woord van God, dat tot jou gekom het en nog steeds tot jou kom? Leef jy uit die rykdom van God se verbond, waar die woord van Christus ryklik woon en waar mense op grond daarvan in alle wysheid mekaar leer en vermaan? Laat jy jouself voortdurend vernuwe tot kennis na die beeld van jou Skepper? Die vraag: ‘is jy bekeerd?’ kan ook omskryf word deur die vrae: het jy ’n persoonlike verhouding met God? Is jou hart ontvanklik vir die lewende en kragtige woord van God? Het jy innerlik aanvaar wat uiterlik vir jou verkondig is? Laat jy die lewende woord van God jou doen en late bepaal?

So kom ons by die tweede gedagte: die betekenis van die ware bekering.

Die woord bekering dui op ’n radikale verandering, ’n omkering in jou lewe. Dit wat dood was, word lewend gemaak. Jy word oorgebring van die dood na die lewe. Mense wat vir Satan gekies het en hul rug op God gekeer het, keer hulle om en rig hulle op God. Jy kies die teenoorgestelde rigting in die lewe. Jy verlaat die pad van satan wat na die dood lei, om die pad van die Here te volg wat na die lewe lei.

Volgens die Skrifte praat die kat van ’n afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens. God roep ons immers in Ef 4 op dat ons wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat ons vernuwe moet word in die gees van ons gemoed en ons met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. In Kol 3 lees ons iets dergeliks: julle moet nie in sonde lewe nie omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper. Let daarop dat hier in Kol die verlede tyd gebruik word: omdat julle die ou mens afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het. Terwyl in Ef 4 in die gebiedende wys gepraat word. Dit kan omdat die bekering ’n proses is. ’n Proses wat ’n sekere begin het maar wat ook steeds weer ’n werklikheid moet wees. So praat ons van die daaglikse of voortgaande bekering. Die kat benadruk juis die voortgaande proses van die bekering.

Die ware bekering bestaan uit twee dele, naamlik die aflegging van die ou mens en die bekleding met die nuwe mens. Die ou mens wat ek moet aflê sien op myself soos ek van nature is. Dit word die ou mens genoem omdat dit wys op die oorspronklike situasie sinds die sondeval. Dit is hoe ek van nature is, voor my bekering. ’n Vyand van God, gerig op die sonde. Pleks van die sondige lewe is daar nou die nuwe mens, ’n lewe wat op God gerig is, ’n lewe uit die volheid van Christus, deur die vernuwende krag van Christus se Gees. Deur die Gees het ek as gelowige ’n ander styl van lewe. My lewe het ’n ander fokus, dra ’n ander stempel, gaan uit van ’n ander beginsel. My wil is verander sodat ek nie meer vir die sonde wil lewe nie, maar vir die Here.

Broeders en susters, die bekering is nie net ’n saak van uiterlike gedrag nie. Dis duidelik uit wat die kat sê. Dis nie voldoende dat my dade met die letter van God se wet ooreenstem nie. Dit is as sodanig nog geen bewys van ware bekering nie. Die kat wys eerstens op ’n verandering van gesindheid. Ek moet innerlik met die verlede breek. Ek moet eers anders gaan dink en anders gaan begeer. So noem die kat eers ’n hartlike berou en ’n haat van die sonde met as keersy ’n hartlike vreugde in God en ’n lus en liefde om volgens die wil van God te lewe.

Ja, daar moet inderdaad ’n uiterlike breuk met die sonde plaasvind. Maar dit moet die gevolg wees van ’n innerlike breuk met die sonde. God soek my hart.

Bekering is eerstens ’n hartlike berou oor my sonde. Ken ek dit werklik? Hierdie droefheid oor die sonde moet nie verwar word met droefheid oor die gevolge van die sonde nie. By laasgenoemde staan die eie ek in die sentrum: die skade wat ek myself aangedoen het. Maar by die ware droefheid oor die sonde gaan dit om die oneer wat ek God daardeur aangedoen het. Eers as ek bedroef is omdat ek sy eer geskend het en sy gebooie verag het, word by my die droefheid gevind wat deel is van die ware bekering. Dis hierdie droefheid wat by Dawid gevind is na sy owerspel met Batseba en sy moord op Uria toe hy gesê het: "Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë" (Ps 51:6). By so ’n droefheid skeur ’n mens – in die taal van die profeet Joël – nie jou klere nie, maar jou hart (Joël 2:13).

Gelyktydig moet daar egter ook ’n hartlike vreugde in God deur Christus wees. Ek is beskaam deur my sondes. Maar ek is nie alleen nie. God, teen wie ek gesondig het, is die God wat hom ook as ’n genadige God bekendgemaak het. Hy het die erns van die sonde by my tuis gebring en sy toorn daaroor. Maar tegelykertyd het Hy sy liefde gewys deur sy Seun te stuur tot versoening van al ons sondes.

Ware bekering kan daarom getipeer word deur die tweevoudige ervaring van droefheid en altyd bly wees. Hulle gaan saam. Dis dwaasheid vir hulle wat nie glo nie. Hoe kan jy nou gelyktydig bedroef en bly wees? Dit word net verstaan in die lig van die kruis. Bedroef wees en tog altyd bly wees. Hulle behoort in die lewe van ’n christen by mekaar. Sonder die vreugde in God deur Christus sal ek nooit die erns van my sonde goed besef nie. Die kruis wys vir my die erns van my sonde, die kruis wat vir my ’n boom van lewe is. Aan die ander kant, sou ek nie die grootheid van God se liefde op sy waarde kan skat nie, as ek nie die diepte van my sonde verstaan nie. Die twee dele van die ware bekering moet daarom nie in tyd uit mekaar uitgehaal word nie. Hulle wys nie op twee fases in ons lewe as christene nie. Hulle kom gelyktydig voor. Hulle is twee kante van die een medalje. Twee kante van die ware bekering.

Broeders en susters, ken julle die hartlike droefheid oor jul sonde? Sodat jy die sonde ook haat, daar ’n afsku van het? Besef goed wat jy daarop antwoord. Om die sonde te haat is nie maklik nie. Om dit te doen moet ek ten volle van my skuld bewus wees. Daarvoor is die vermaning van die skrif steeds nodig. Die vermaning van die skrif lok my egter meestal nie. Om die sonde te haat beteken dat ek die sonde nie langer kan verdra nie, ek walg daarvan. Ek wil dit heeltemal uit my lewe uitban. Ver daarvan vandaan bly. Haat jy so die sondes in jou lewe?

En ervaar jy tegelykertyd die hartlike vreugde in God deur Christus? Blydskap in die wete dat jou sondes om Christus ontwil vergewe is? Met as gevolg dat dit jou lus en liefde is om volgens die wil van God te lewe?

Geliefdes, waar albei aanwesig is, daar sal die vrugte van die bekering ook sigbaar word.

Dis die derde gedagte.

Dis gewoon onmoontlik dat dit nie so sou wees nie. As ek sonde werklik haat dan sal ek ook vir die sonde vlug. As ek die lus en liefde om volgens die wil van God te lewe ken, dan sal die goeie werke daar ook volop wees.

In die eerste punt het ons die evangeliese beweging genoem waarin alles vol lewe lyk te wees. Vanuit die beweging word soms neergekyk op die kerk waar dit soms so koud en doods lyk. Hulle mis die blydskap en entoesiasme. Die vraag klem: kan dit met reg ook van ons as gemeente gesê word? Is dit hier koud en doods? Laat ons die vraag nie ontwyk nie, maar onsself eerlik ook op hierdie punt ondersoek.

Miskien kan die entoesiasme van die beweging ons nog iets leer. Ek bedoel nou nie die oppervlakkige blydskap wat soms in die kringe geuit word nie. Ek bedoel dit: ware bekering is tog iets wat gewys word in jou uiterlike gedrag? Die hartlike vreugde in God deur Christus kan tog nie agter maskers verborge bly nie? Dit moet tog sigbaar wees? Ook in ons weeklikse eredienste? My lus en liefde om volgens die wil van God te lewe moet tog ook sigbaar wees? In my houding hier in die kerk en in die omgang met mekaar? Uit die vrugte ken ’n mens die boom uit. So moet dit uit die vrugte duidelik wees of ek werklik bekeerd is of nie.

Moenie egter die twee dele van die ware bekering uit mekaar uithaal nie. Dan kry jy mense wat niks anders as sonde en ellende sien nie en daarin bly lê. Of jy kry van die optimistiese siele wat dink dat hulle die stasie van die sonde vir goed gepasseer het. Indien ek bly fokus op ’n gedateerde bekeringservaring, dan kan dit gebeur dat ek so sterk daarop gaan bou dat ek die voortdurende tug van die skrif negeer. So kan dit gebeur dat ek dan in my entoesiasme in individualisme verval en God op my eie manier gaan dien, soos ek dit goed dink, volgens my eie ervaring. Terwyl goeie werke volgens die wet van God behoort te wees en tot sy eer en nie wat op ons goeddunke gegrond is nie.

Geliefdes, die ware bekering is dus ’n baie ernstige saak. Sonder ware bekering is daar geen toegang tot God se koninkryk. Ook al sit ek hier elke sondag in die kerk. Let op die manier waarop God besig was en is om in jou lewe te werk, die pad van bekering. Let ook op die betekenis van die bekering. ’n Radikale ommekeer in jou lewe. Die aflegging van jou ou mens: droefheid oor jou sonde, haat en ontvlugting van jou sonde. En die bekleding met die nuwe mens: met sy hartlike vreugde in God deur Christus. Waar albei elemente aanwesig is, sal goeie werke ook sigbaar word. Vrugte volgens die wil van God en daarom tot sy eer. Vrugte waaraan jou lewe geken kan word.

AMEN

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

Lees: Kolossense 1:1-14; Kolossense 3:1-17; Sondag 33
Sing: Ps 9:1,7; Ps 9:8-10; Ps 51:5,6; Ps 101; SB 14