Laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-09-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 35
Preek Inhoud: 

Kolossense 2:8,16-23 en Sondag 35 v/a 96

Ds. C. Kleyn - Sondag 21 September 2003

Lees:

Kolossense 2:4-3:4; Sondag 35 vraag en antwoord 96.
Sing: Ps. 122:1,2; Ps. 115:1,2; Ps. 84:1,6; Ps. 25:2,4,6,7; Ps. 115:8,9.

Tema: Laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.

  • Vers 8: Laat niemand julle as ’n buit wegvoer nie;
  • Vers 16: laat niemand julle oordeel nie; en
  • Vers 18: laat niemand julle van jul prys beroof nie.
  •  

    Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

    Ons gaan vanaand verder met die uitspraak van die Kategismus: Ons mag God op geen ander manier vereer as wat Hy in sy woord beveel het. Vorige week het ons reeds gekyk na die tekste waarna ons kategismus verwys. Ons het toe gekonkludeer dat die woorde nie slegs wys op die openbare eredienste nie. Dit sien ook op ons verering van God in ons daaglikse lewe. In die verering van God moet ons altyd laat lei deur wat Hy beveel het. Ons mag nooit in stryd daarmee handel nie. Menslike oorlewerings mag daarom ook nooit oor God se woord gaan heers nie. Ons het ook gesien dat God nie alles vir ons daaglikse en openbare verering van Hom uitdruklik gebied het nie. ons moet ons hou aan die skriftuurlike beginsels en riglyne.

    Vanaand wil ons kyk na Kolossense 2. Verbied daardie gedeelte nie die hou van feesdae nie? Word in daardie gedeelte nie gewaarsku teen die misleiding van mense wat met allerlei voorskrifte kom wat gebaseer is op die oorlewering van mense nie? En word dit nie as eiesinnige godsdiens skerp afgewys nie?

    Kom ons kyk na daardie hoofstuk, veral die verse 8 en 16-23

    Indien ons ’n opskrif oor daardie gedeelte soek dan sou ons Gal 5:1 daarvoor kan gebruik. Daar lees ons: "Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie". Veral die laaste woorde: Laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.

    Kolossense 2: 8-19 bestaan uit drie waarskuwings. Vers 8: Laat niemand julle as ’n buit wegvoer nie; Vers 16: laat niemand julle oordeel nie; Vers 18: laat niemand julle van jul prys beroof nie.

    Eerstens dan, laat niemand julle as ’n buit wegvoer nie. Daar is blykbaar mense in Kolosse wat daarop uit om die Kolossense se aanhang te wen. Erger nog. Mense wat hulle met liggaam en siel as buit probeer wegvoer. Hulle probeer gevange neem. Paulus waarsku: as jy jou geestelike vryheid liefhet, kom nie naby hulle nie. Laat jy jou nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.

    Die middele waardeur die kapers werk, noem Paulus die wysbegeerte en nietige misleiding. Die twee woorde vul mekaar aan. Wysbegeerte is op homself nie verkeerd nie. In ons teks gaan dit egter oor wysbegeerte wat ’n nietige misleiding is en wat hom bo die woord van God verhef. Teenoor die evangelie wat die woord van die waarheid genoem word, staan hierdie wysgerige gedagtes wat bedrieglik is, sonder inhoud. Blykens het vervolg het ons waarskynlik hier te doen met asketisme (dis die leer dat ’n mens deur selfkastyding en onthouding van singenot na volmaaktheid kan strewe) en mistiek.

    Paulus wys vervolgens op die beginsel van hierdie sogenaamde wysbegeerte. Dit is volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie. Die wysheid het as maatstaf die oorlewering van die mense. So word hierdie wysbegeerte op een lyn geplaas met die gewone Judaisme, wat hom by die Joodse oorlewering aansluit.

    Van die dwaling word verder gesê dat dit volgens die eerste beginsels van die wêreld is. Die uitdrukking word ook in Gal 4 genoem. Die kan hier en in Gal 4 die materiële bestanddele van die wêreld beteken. In Gal 4 beredeneer Paulus dat die lewe onder die wet ook ’n lewe volgens die eerste beginsels van die wêreld was. Mense was onderworpe aan die materie, aan die elemente waaruit die wêreld bestaan, aan stoflike dinge. Ook al is die dwaling in Kolosse nie presies dieselfde as die in Galasië nie, onderwerp die dwaling die godsdienstige lewe ook aan die materiele dinge waaruit die wêreld bestaan. Die stoflike dinge, so het mense geleer, is onder die mag van die bose geeste. Onthouding, askese verlos van die materie en die magte wat daarin woon. So word die swaartepunt van die godsdienstige lewe weer verplaas na die verhouding tot die stof waaruit die wêreld bestaan.

    ’n Ander verklaring is dat die uitdrukking "volgens die beginsels van die wêreld" sien op die elementêre leringe van die wêreld, die ABC onderrig. Soos ’n kind wat nog nie volwasse is, beheers word deur allerlei reëls en voorskrifte, so was ons voordat die evangelie deurgebreek het, slawe van die eerste beginsels van die wêreld. Hier kan dit dan beteken die elementêre reëls en voorskrifte waardeur beide Jode en Heidene geprobeer het om verlossing te verwerf.

    Die oorheersende beginsel van die dwaling in Kolosse is die oorlewering van mense en die eerste beginsels van die wêreld en nie Christus nie. Met nadruk plaas Paulus die beginsels teenoor mekaar. En nie volgens Christus nie. Dit het met Christus niks te make nie. Dis in stryd met sy persoon en werk. Die verlossing word eerder in mense gesoek as in Christus.

    Gemeente die probleem wat Paulus in hierdie vers blootlê is dus dat die mense vanuit ’n verkeerde beginsel dink en handel. Christus se Persoon en werk is nie die uitgangspunt en maatstaf nie, maar die gedagtes van mense en die eerste beginsels van die wêreld. Daarom moet dit ten sterkste afgewys word. Hier het ons so ongeveer dieselfde situasie as wat ons vorige week gesien het nav Mt 15. Daar het die Joodse oorlewering ook hoër gesag gehad as God se woorde. Wat mense sê en dink neem die plek van die evangelie in.

    Nou die tweede waarskuwing van Paulus. In die verse 9-15 leer Paulus dat die gelowiges met Christus gesterf en opgewek is. Daarna sê hy in vers 16: "Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees en nuwemaan of sabbat nie." Paulus keur dit duidelik af dat ons mekaar sou beoordeel of veroordeel op die punt van spys en drank. Dis vergelykbaar met wat hy skryf in Rom 14:3: "Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem." Paulus leer dat jy nooit uit die gebruik van spys en drank ’n oordeel kan vorm oor die staat van iemand se christen wees nie. "Want," skryf Paulus in Rom 14:17, "die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees."

    Die dwaalleraars in Kolosse het in hul voorskrifte baie verder gegaan as die Ou Testament. Die wet van Moses het slegs onreine voedsel verbied. Oor die gebruik van drank het die wet geen reëling getref nie, behalwe mbt diensdoende priesters en nazireers. Die dwaalleraars verbied egter die gebruik van wyn en sterk drank aan elke christen. Waarskynlik het hulle ook alle vleis gebruik verbied en die vas voorgeskryf.

    Broeders en susters, uit die Skrif weet ons dat Paulus geen vyand van selfdissipline was nie. Die teendeel is waar. Paulus gebruik meermale die beeld van ’n atleet wat op die baan hardloop. Daarvoor moet ’n mens sy eetlus bedwing en homself beheers. Soos hy skryf in 1 Kor 9: 25: "Elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem, onthou hom in alles." Ons weet ook dat Paulus die gewetensbesware van ander gelowiges op die gebied van spys en drank gerespekteer het, ook al het hy hulle oortuigings nie gedeel nie. Waarom waarsku Paulus sy lesers dan teen hierdie praktyke van askese? Dit kan nie anders wees as vanweë die waarde wat hulle daaraan toeken en die feit dat hulle dit as verplig die gewetens oplê.

    Die tweede kategorie sake waaroor hierdie mense ander beoordeel, is die onderhouding van heilige dae. "’n Fees of nuwemaan of sabbat" is woorde van die Ou Testament. Dit vat saam die jaarlikse, maandelikse en weeklikse feesdae. Onder die jaarlikse feeste kan ’n mens verstaan die Paasfees, Pinksterfees, die groot versoendag ens. Die sabbat is die weeklikse rusdag op die 7de dag van die week. Ook in Gal 4:10 word oor die onderhouding van heilige dae gepraat.

    Die probleem waar Paulus in ons teks en in Gal 4 te doen het, is nie die onderhouding van dae op sig nie. Wanneer ons Hand 20 en 21 lees, dan sien ons dat Paulus verlang om op die Pinksterdag in Jerusalem te wees. Hy het dan ook geen probleem daarmee om die Joodse gebruike en rituele (oorlewerings van die mense) na te kom nie. Paulus wil daardeur die kwade gerug oor hom besweer. Paulus het gehoor dat aan die gelowiges uit die Jode "aangaande u vertel is dat u al die Jode onder die heidene leer om van Moses afvallig te word deur te sê dat hulle die kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die sedes moet wandel nie" (Hand 21:21).

    Daardie aanklag is nie waar nie. Paulus het die Jode nie vertel dat hulle die praktyke moet staak nie. Hy het eerder geleer dat hulle die heidene moet aanvaar as medegelowiges sonder om hulle die onderhouding van die Joodse gebruike op te lê. Dit stem saam met wat die apostels en ouderlinge in die spesiale vergadering te Jerusalem besluit het: "Wat egter die gelowiges uit die heidene betref, het ons geskrywe en besluit dat hulle niks van die aard moet onderhou nie, maar hulle net moet onthou van afgodsoffers en bloed en van wat verwurg is, en van hoerery" (Hand 21:25).

    Die probleem in Galasië en in Kolosse is dus nie die onderhouding van dae op sigself nie. Joodse christene was nooit verbied om hul spesiale dae te vier nie. Die probleem was eerder dat sommiges geleer het dat die gelowiges uit die heidene nie gered kon word tensy hulle ook die Joodse seremoniële voorskrifte sou nakom. Dit gaan Paulus ook in ons teks oor die waarde wat die mense aan die besondere dae heg en oor die verpligting daarvan. Die onderhouding daarvan sou die kenmerk van ’n ware christen wees.

    Paulus maak duidelik dat niemand op grond van hierdie sake die ander mag beoordeel nie. En niemand mag hierdie dinge op die ander oplê nie. Die christelike geloof het sulke dinge nie meer nodig nie. Nog spys en drank, nog feesdag mag die maatstaf wees waaraan die volheid van die christelike lewe beoordeel word.

    Al die dinge, spyswette en heilige dae, is mos niks anders as ’n skaduwee van die toekomstige dinge; maar die liggaam, die werklikheid behoort aan Christus. Die Ou Testament was vol skaduwees. Dit maak dit nie waardeloos nie, maar jy moet wel besef dat sy egte waarde in die toekoms lê. Dis ’n skaduwee van die toekomstige dinge, die toekomstige heil in Christus. So was die Paasfees ’n skaduwee van die ware paaslam, die sabbat ’n skaduwee van die rus van God se volk en die spyswette ’n skaduwee van die reinheid van die lewe. Die werklikheid van al die dinge is by Christus te vind. Ons het nou Christus leer ken, vol van genade en waarheid.

    Daarom is dit vir die gelowiges van die Nuwe Testament ’n agteruitgang om terug te keer na die Ou Testamentiese insettinge. Dan gaan jy van die werklikheid in Christus terug na die skaduwees. In die gemeenskap met Christus het die gemeente die volle werklikheid van al daardie dinge. As jy dink dat jy al die reëls nog moet nakom om ’n diepere kontak met God te hê, dan het jy prakties gesien die waarheid wat by Christus behoort ontken. Oorgeplaas na vandag: as jy dink dat jy kersfees moet vier om ’n diepere kontak met God te hê, dan het jy, prakties gesien, die waarheid wat by Christus behoort ontken. Prakties gesien sê ek. Ons het geen rede om te dink dat die valse leraars nie positief oor Christus gepraat het nie. Hoe sou hulle anders christene vir hul gedagtes kan wen? Hulle het geleer: ook al is jy in Christus, jy moet nog die volheid van heil soek in allerlei voorskrifte. Paulus se antwoord is duidelik: as jy so dink dan leef jy asof Christus nog nie gekom het nie, asof hy die volheid van heil nog nie aangebring het nie. Om dit in die woorde van ons Kategismus te sê: hulle verloën met die daad die enigste Verlosser en Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem. Laat niemand jou terugvoer na die skaduwees nie. Hier vind jy ’n aantasting van die christelike geloof in sy hartaar. Die genoegsaamheid van Christus se werk.

    So kom ons dan uit by die derde waarskuwing: Laat niemand julle van jul prys beroof nie. Hier het ons te doen met die uitspraak van die skeidsregter. Die Kolossense het goed geloop. Maar nou is daar mense wat kom en sê dat hulle nie goed loop nie. Hulle word gediskwalifiseer. As hulle so deurgaan sal die prys nie vir hulle wees nie. So probeer die verkeerde leraars om die lidmate hul prys van die oorwinnaar, die ewige lewe, te beroof. ’n Baie ernstig saak.

    Hulle doen dit met ’n skyn van vroomheid. Hulle skep behae in nederigheid. Dit kan wys op vas en selfverloëning. Dan is daar die verering van die engele. Wat presies daarmee bedoel word, is nie duidelik nie. Dit kan wees dat dit in verband staan met hul valse nederigheid. Moontlik meen hulle dat God so ongenaakbaar is, dat mense Hom alleen kan bereik deur middel van tussenwesens, engele. Engele het mos in die Ou Testament dikwels bemiddel tussen God en sy volk, boodskappe oorgedra. Dit kan ook verband hou met wat vervolgens genoem word dat hulle indring in wat hulle nie gesien het nie. Hulle hou hul besig met dinge wat God vir ons verborge gehou het. Hulle beweer dat hulle ’n diepere kennis van God en geestelike magte ontvang het as wat reeds in die woord geopenbaar is. Niemand kan dit verifieer nie.

    Hulle is sonder oorsaak opgeblase deur hul vleeslike gesindheid. Ja, sonder oorsaak. Die dinge waarmee hulle kom is mos dwase, ydele spekulasie, nietige misleiding. Hul oortuigings kom nie van die Gees van God nie, maar van die vlees. Hul laat hul deur die vlees beheers. Ook al sê hulle dat hulle alles doen of nalaat om die vlees dood te maak. Die strenge askese wat bedoel is om van die vlees te bevry, blyk vleeslik gedryf te wees. Geen wonder nie, want ons verdorwenheid word net weggeneem in die gemeenskap met Christus, en nie deur enige werk van die mens nie.

    Paulus wys daarop dat hierdie mense nie vashou aan die hoof nie. Soos reeds genoem, beteken dit nie dat hulle bewus en openlik Christus, die hoof, verwerp nie. Dalk roem hulle in Christus. Maar met die daad gee hulle Hom nie die eer as hoof nie. Hulle soek nie hul kennis en groei in Hom as hoof nie.

    Om na sulke dwaalleraars te luister hou die risiko in dat jy jouself afsny van Christus. Daardeur verloor die kerk haar eenheid. Die eenheid van die kerk is mos ’n eenheid in Christus. Die hele liggaam is dan nie langer goed saamgebind soos dit behoort te wees nie.

    Die gevolg van die aanvaarding van die valse leer sal daarom nie verryking en vernuwing wees nie, maar geestelike verarming en ’n opdroog van die bronne wat God gee. Alle voeding kom van Christus die Hoof. Die gemeente kan net groei as elke lidmaat of deel vashou aan die Hoof. So ontvang elke deel van Christus die krag en lewe wat hy aan die geheel meedeel.

    Gemeente die verse 20 –23 vorm ’n klimaks van Paulus se oproep. Paulus het die Kolossense reeds op drie verkillende manier gewaarsku oor die ware aard van die nuwe leer. Ten slotte vra hy aan sy hoorders die indringende vraag. "As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie?"

    Dit gaan hier oor slawerny en vryheid. As jy met Christus gesterf het, dan het jy nie meer onderworpe aan stoflike dinge nie. Of aan die elementêre waarhede van die wêreld, die elementêre gedagte dat jy self jou verlossing moet bewerk. Christus het jou vrygemaak. Waarom is julle dan asof julle nog in die wêreld lewe onderworpe aan insettinge? "Asof julle in die wêreld lewe." Dit sien hier nie op die fisiese wêreld nie, (ons leef mos nog in hierdie fisiese wêreld). Dit sien eerder op die wêreld in etiese sin.

    Ons is nie van die wêreld nie, ons behoort nie meer tot die kompleks van die verganklike, sinnelike, vleeslike dinge nie, die wêreld met haar skynwaarhede. Ons verhouding tot die dinge het verander. Ons is nie meer daaraan onderworpe nie. En so ook nie aan al die stoflike voorskrifte nie. Vergelyk dit maar met ’n Zimbabwiër wat in ons land woon en hier as Suid Afrikaanse burger genaturaliseer is. Die genaturaliseerde Zimbabwiër hoef hom nie meer te onderwerp aan die diktatoriale wette van Mugabe se regering nie. Hy is vry daarvan. So is ons vry van die beginsels van hierdie wêreld met al sy religieuse voorskrifte. Ons is burgers van ’n ander ryk, met die hemelse Koning Jesus Christus. Wees bly, met Christus is jy vir ewig vry van die wêreld se idee van godsdiens. Dan laat jy jou tog nie onderwerp aan allerlei willekeurige menslike insettinge nie. Dit sou in stryd wees met die groot bevrydings aksie van Jesus Christus, en in stryd met die ons nuwe stand in Hom.

    Gemeente, Paulus haal moontlik die eie woorde van die leraars aan wanneer hy skryf: "raak nie, smaak nie, roer nie aan nie." Hoe anders is God se woord wat, selfs in die Ou Testament, nie alles tot in die kleinste besonderhede reël nie. So gaan dit met hoogmoedige ritualisme. Daar is dan geen einde aan wat verbied of gebied word nie. Dit word gebod op gebod, reël op reël.

    Wat verbied word is egter van geen waarde nie. Paulus noem dit dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan. Dit gaan hier waarskynlik oor voorskrifte mbt spys en drank. God het daardie dinge vir ons gebruik gegee, om ons te voed en te verkwik. Hulle is nie sondig nie. Asketisme misken die seëninge van die Here en die bedoelings van die Here met sy gawes. As jy soveel waarde heg aan die onthouding van allerlei spys en drank, dan verval jy maklik in ’n uitwendige godsdiens. Die onthouding van voedsel word so maklik belangriker geag as die onthouding van sonde. Hier neem die gebooie en leringe van mense die plek in van die ware diens aan God op grond van Christus se versoeningswerk. Hierdie dwaling blyk opnuut vergelykbaar met wat in Mt 15 genoem word. Die gesag vir al die gebooie kom van die mens. Die mens bepaal die godsdiens pleks van God self.

    Alles het ’n skyn van wysheid. Hulle gee God baie meer as hulle verplig is. Genoem word eiesinnige (of vrywillig gekose) godsdiens, nederigheid en gestrengheid teen die liggaam. Dit maak indruk op mense. Hulle lyk voorbeeldige christene. Dit het egter geen waarde nie. Waarom nie? Die fokus van sulke godsdiens is uiteindelik op die vlees en nie op Christus nie. Deur hul askese wil hulle die liggaam bind, hulleself van die verdorwe natuur bevry. Maar al hul godsdienstigheid strek juis tot versadiging van die vlees, sê Paulus. Hulle streel daarmee hul eie eergevoel. Kyk wat hulle almal vir God doen of nalaat om te doen! In feite kom deur daardie praktyke nie aan God die eer toe nie, maar die mens. Die godsdienstige mens word uiteindelik die belangrikste en nie die Here Jesus Christus nie.

    Nou terug na die vrae wat ons in die begin gestel het? Verbied hierdie hoofstuk nie die hou van feesdae nie? Word in hierdie gedeelte nie sterk gewaarsku teen die misleiding van mense wat met voorskrifte kom wat gebaseer is op die oorlewerings van mense nie? En word dit nie as eiesinnige godsdiens skerp afgewys nie?

    Broeders en susters, in ons kerkorde (art 68) het ons afgespreek dat die kerkraad op Kersdag, Goeie Vrydag, Pase, Hemelvaartsdag en Pinksterdag die gemeente sal saamroep tot openbare eredienste, waar die heilsfeite wat die gemeente op hierdie dae in die besonder herdenk, verkondig word. Maak ons kerke hulle hier nie skuldig aan die sondes wat Paulus so kragtig in Kolossense 2 bestry nie? Voer ons daardeur die lidmate nie as buit weg om hulle opnuut onder die juk van diensbaarheid te bring nie?

    ’n Mens kan met die kerke verskil van mening hê oor wat die beste is om op daardie dae te doen. Maar is ons deur op daardie dae die heilsfeite van Christus in ’n erediens te verkondig skuldig aan die sonde wat Paulus so sterk afkeur? Laat ons reg doen aan die konteks waarin Paulus daardie woorde skryf. Geld vir ons as uitgangspunt en maatstaf die oorlewering van mense, pleks van Christus se Persoon en werk? Neem by ons wat mense sê en doen die plek van die evangelie in? Watter waarde heg ons aan daardie dae? Is dit so dat ons mense leer dat ons nie gered kan word nie, tensy ons daardie dae onderhou? Is dit so dat ons die onderhouding van die dae op die mense oplê en hulle veroordeel as minderwaardige christene as hulle dit nie onderhou nie? As dit waar is, dan moet ons onmiddellik die kersdienste ophef.

    Broeders en susters, is ons besig om die lidmate terug na die skaduwees te voer, asof dit belangriker sou wees as die werklikheid Christus? Het ons deur daardie kerklike afspraak Christus die Hoof losgelaat? Ontneem ons daardeur die lidmate hul prys, die ewige lewe? Wil ons daarmee die plek inneem van die ware diens aan God op grond van Christus se versoeningswerk? Samevattend, is dit so dat die mens die uitgangspunt, die sentrum en die fokus van ons kerklike gebruik is? Nogmaals as dit die geval is, laat ons die eredienste onmiddellik staak. Hulle is dan ’n vervloeking.

    Christus die waarheid het gekom. Seremonies het ons nie meer nodig nie. Ook nie feesdae met allerlei rituele nie. Christus het ons vrygemaak. Laat ons dan bly uitgaan van Christus se Persoon en werk. Laat ons hom in die sentrum plaas. Alles op Hom fokus. Ook in die manier waarop ons die kerklike feesdae invul.. Ons hoef geen dienste te belê om die toegang tot God te bewerkstellig nie. Ons het reeds volkome toegang tot die Vader, deur Christus op grond daarvan kom ons saam. Daarom wil ons Hom daarvoor loof en dank. Sy naam, waardeur mense gered moet word, bely en verkondig.

    Broeders en susters, ons teks leer ons ook dat ons nie mekaar moet veroordeel op grond van spys, drank of feesdag nie. Die dinge is op hulleself nie so belangrik nie. Hulle is stoflik en verganklik. Laat ons mekaar nie bind op ondergeskikte dinge nie. Die koninkryk van God is immers nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees (Rom 14:17). Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien. En laat ons die blydskap in die Heilige Gees wys persoonlik en gesamentlik. In ons lewe van elke dag en in ons openbare eredienste.

    AMEN

     

    Kopiereg word voorbehou.
    Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

    Liturgie: 

    (kyk in preek)