Christus se verklaring van die 6de bede: jy mag nie doodslaan nie.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-11-09
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 40
Preek Inhoud: 

Sondag 40

Ds. C. Kleijn - Sondag 09 November 2003

Lees: Matthéüs 5:17-26; Sondag 40.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps. 34:1,2;
Ps. 34:4,6; Ps. 19:4; Ps. 19:6,7; Ps. 133.

Tema: Christus se verklaring van die 6de bede: jy mag
nie doodslaan nie.

  1. Christus laat sien dat haat die oortreding van hierdie
    gebod is; en
  2. Christus laat sien dat die liefde die vervulling van
    hierdie gebod is.

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Waar dink julle aan by die 6de gebod? "Jy mag nie
doodslaan nie". Laat dit ’n mens nie dink aan
moordenaars, mense wat deur geweld ander doodmaak nie? In ons
land ’n verskriklike werklikheid. Ons kan ook dink aan die
meer 'beskaafde' moorde, soos abortus en eutanasie. Ongebore
kinders word volgens die wens van die ma of van albei ouers
doodgemaak. En mense wat ernstig siek of gestremd is en wat na
humanistiese maatstawwe ’n sinlose lewe lei, word gehelp om
te sterwe. Moord sê ons volgens die Skrifte. Doodslag. Maak nie
saak hoe beskaaf die samelewing mag wees.

Maar, broeders en susters, waarom word hierdie gebod vir julle
en vir my gepreek? Ek maak my tog nie skuldig aan daardie soort
moord nie? Nee? Waarom word ek verbied om ander dood te maak?
Omdat ek onskuldig is? Sou dit kan wees dat die talryke moorde in
ons land ’n gevolg is van ’n ander soort moord wat
daaraan voorafgegaan het? Waar is die moordenaars? Ook hier in
ons midde?

Ek verkondig vir julle: Christus se verklaring van die 6de
bede: jy mag nie doodslaan nie.

Christus laat sien dat:

  1. Haat die oortreding van hierdie gebod is
  2. Die liefde die vervulling van hierdie gebod is.

Christus sê vir sy dissipels: "as julle geregtigheid nie
oorvloediger is as die van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie,
julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie."
As jy God se wil en wet nie beter naleef as die Joodse leiers
nie, dan is daar geen hoop vir jou nie.

Christus illustreer dit tov die 6de gebod. Die Here Jesus haal
die Joodse tradisie aan: "Julle het gehoor dat aan die mense
van die ou tyd gesê is: jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen
wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg." Wat
is hiermee verkeerd? Dis tog volkome in ooreenstemming met die
skrif? Die eerste uitspraak is selfs ’n letterlike aanhaling
van die 6de gebod. Tog korrigeer Christus die joodse tradisie.
Wat is dan daarmee verkeerd?

Dít is verkeerd: die Jode het die wet, die morele
voorskrifte, op ’n wettiese en formalistiese manier
gehanteer. Ek sal probeer om dit te verklaar. Morele voorskrifte
omvat ’n groot aantal sake wat nie tot die bevoegdheid van
die polisie of aardse regters behoort nie. Neem die voorskrif: jy
moet jou naaste liefhê soos jouself. As jy nalaat om jou naaste
lief te hê, kry jy nie met die polisie te make nie. Om die
morele reëls te versterk, maak die owerheid burgerlike wette,
bv, as jy jou naaste beseer of doodmaak, dan sal jy vervolg en
gestraf word. Die burgerlike wette help om die morele beginsels
te versterk. Hulle help om reg in die samelewing te handhaaf.

Tog kan ’n mens maklik in ’n verkeerde rigting met
dit alles gaan. Dit was die geval onder die Jode in Jesus se dae.
En nie net daar en dan nie. Jy kan maklik die morele beginsels
onder die burgerlike wet te begrawe. Jy kan maklik dit daartoe
gaan beperk. Dan kry jy tov die 6de gebod: jy kom net in stryd
met die gebod in die gevalle waarin die burgerlike owerhede
betrokke is. Sorg dat jy uit die hande van die polisie en ander
burgerlike owerhede bly en alles is OK.

Dis wat Jesus gesien het tydens sy bediening op aarde. Haat en
woede, maar as iemand op heterdaad betrap word sou mense daar
’n groot ophef van maak. Dan sou dieselfde mense wat vol
haat en woede is hulleself aanbied as groot verdedigers van die
wet. Christus lê hierdie huigelary bloot. Die huigelary wat net
vir uiterlike dade oog het terwyl dit wat daar agter lê, die
gedagtes, gevoelens en woorde, ignoreer. Hierdie huigelary wat
baie formalisties is en die lewe reduseer tot formalistiese
gedrag. Solank as jy dit of dat doen is alles OK. Solank as jy
dit of dat nie doen nie, is alles reg. As jy maar geen doodslag
met die daad pleeg nie, dan leef jy volgens die 6de gebod. Die
Jode het dus geprobeer om die toepassing van die 6de gebod te
beperk tot net die daad van doodslag. Dis hoe hulle die twee
uitsprake wat Jesus aangehaal het gebruik het. Die uitsprake lyk
skriftuurlik te wees: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat
doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. Hulle het die
tweede uitspraak die eerste uitspraak laat opsluk. Solank as jy
maar geen moord pleeg en in die hande van die gereg beland nie.

Maar, geliefdes, Christus bevry die 6de gebod van die wettiese
raamwerk. Hy wys dat die toepassing van hierdie gebod baie wyer
is en dat jy nie net met die burgerlike owerhede te doen het nie,
maar met God self. Jy kan dink dat jy netjies jou hou aan hierdie
gebod, maar dit behels baie meer as wat jy dink.

Christus beroep Hom nie op sekere rabbi's nie. Hy tree nie op
namens ’n sekere skool nie. Hy praat as diegene wat deur die
Vader gestuur is. Hy praat met goddelike gesag. Hy verklaar wat
God altyd met die gebod bedoel het. Hy tree op as Vader se
eksegeet, as ons hoogste Profeet en Leraar. "Maar Ek sê vir
julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is,
verantwoording moet doen voor die gereg." Jesus wys dat
woede, onregverdige toorn ’n oortreding vsn die 6de gebod is.
God beskou die wortel van doodmaak soos afguns, haat en woede as
doodmaak self.

Die wortel van doodslag lê in die hart. Daar vind jy haat wat
die lewe van die naaste misgun. "Want uit die hart kom daar
slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse
getuienis, lastertaal" sê Christus in Mt 15:19. En die
apostel Joh skryf: "Elkeen wat sy broeder haat, is ’n
moordenaar" 1 Joh 3:15.

Met ons tong gee ons uiting aan ons diepste gedagtes. Dis
’n verskriklike wapen. Dit kan slaan en beseer. Dit kan die
lewe van ander ellendig, onmoontlik maak. Daarom vervolg Christus:
"elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording
doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas, moet
verantwoording doen in die helse vuur."

Dit lyk asof Jesus net ligte sondes van die tong noem. Is dit
so ’n groot oortreding om iemand met jou woorde te verag,
soos die woord Raka aangee. Die woord kan leeghoof beteken. Is
dit so erg om iemand ’n leeghoof of ’n dwaas te noem?
Hoe dikwels is byvoorbeeld swartes nie op daardie manier
uitgeskel en verneder nie. Is so ’n belediging so ernstig
dat die hoogste geregshof, die Groot Raad daarby betrokke moet
wees? Dit lyk belaglik. Net die mees ernstige gevalle word mos
voor die hoogste geregshof gebring? Plaaslike geregshowe kan die
minder ernstige oortredings behartig. Maar nou sê Christus:
elkeen wat vir sy broer beledig sal voor die Groot Raad moet
teregstaan. Hy sal as ’n ernstige moordenaar behandel word.

En elkeen wat sê: Jou dwaas, moet verantwoording doen in die
helse vuur. In Israel het moordenaars die doodstraf deur
steniging verdien. Maar so ’n belediging "jou dwaas"
verdien nog ’n ernstiger vonnis, sê Christus, naamlik die
ewige dood.

Broeders en susters, Christus kon sy boodskap nie sterker en
duideliker geformuleer het nie. Besef hoe ernstig God liefdelose
gedrag teen jou naaste beskou. Ook al slaan jy nie iemand dood
nie, ook al maak jy net iemand seer met jou woorde, dis ’n
hoogs ernstige oortreding van die 6de gebod. Belediging is ’n
lelike simptoom van ’n begeerte om iemand wat op jou pad
staan, uit die pad te ruim. Met jou gedagtes, deur die manier
waarop jy kyk, deur jou houding en gebare, met jou woorde kan jy
die wens kommunikeer dat die ander persoon dood sou wees uit jou
lewe uit. Jy kan neersien op ’n persoon, hom of haar verag,
hom soos vuilgoed behandel, soos ’n nikswerd. Met ander
woorde, jy kan iemand deur jou gedagtes, blik en dade doodmaak.

’n Baie ernstige oortreding waarvoor jy voor God se
regterstoel moet verskyn. In die skrifgedeelte wat ons gelees
het, dring Jesus daarop aan dat die wet ons voor God stel. Ook
waar die burgerlike howe geen seggenskap het nie, waar geen
polisie sou dink aan ’n boete nie, daar staan jy voor die
Here God en sy gereg. Hy ken die hart, die gedagtes. Sou jy Hom
nie vrees nie? Onheilige toorn en belediging maak jou skuldig aan
nie minder as die goddelike oordeel van die hel.

Die Kat bely tereg dat God die wortel van doodslag soos
afguns, haat, woede en wraaklus verafsku en dat dit alles vir Hom
heimlike moord is. Die Kat dring diep in ons lewens in. Wie is
die moordenaars? Nie net hulle wat letterlik ’n einde aan
iemand se lewe maak nie. Nee, ook die fatsoenlike burgers, die
agtenswaardige broer of suster wat deur middel van rassistiese
opmerkings medeburgers kleineer, verneder en verag; die broer of
suster wat in gedagtes, woorde of gebare die naaste sy plek
misgun. Met jou gedagtes kan jy immers mekaar vervloek, mekaar
kwaad toewens. Jy kan ’n mens net met jou blik seermaak. Jy
kan iemand diep beseer met jou vlymskerp tong.

Dit kan uit afguns gebeur. Jy kan dit nie verdra dat dit met
die ander goed gaan nie. Jy kan dit nie verdra dat mense na die
ander luister en nie na jou nie. Jy kan dit nie uitstaan dat die
ander populêr, sterk of verstandig is nie. Jy misgun hom sy
posisie en moontlikhede.

As die hart eenmaal jaloers is, dan begin dit – tensy jy
dit kragtig bestry - langsaam maar seker jou hele denke te
beheers. Dit laat haat ontstaan. Jy kry ’n sterk afkeer van
die persoon. Heimlik groei daar die verlange dat kwaad hom mag
oorkom. Jy sou liewer sy ongeluk sien en dat sy planne misluk.

Jy probeer dit dan moeilik vir hom te maak. Dit lyk daarop dat
jy daar plesier in het om die spot met hom te dryf, hom sleg,
dom, oneerlik, onbetroubaar te laat lyk. Waar die gevoelens
gevoed word, kom woede omhoog. Op ’n sekere oomblik verloor
jy jou humeur. Jy word woedend. Die emosies wat jy gekoester het,
kom tot uiting in ’n onbeheerste uitbarsting van woede. Jy
word skerp en onbillik.

Ten slotte noem die Kat die wraaklus. Jy wil die ander
terugbetaal vir wat hy teen jou sou gedoen het. Jy wil hom
seermaak soos hy jou seergemaak sou hê. Jy wil hom verneder soos
jy glo hy jou verneder het.

Geliefdes, so lê die Kat die wortel van doodslag bloot. Wie
van julle durf nog te sê dat hy vry van skuld is op hierdie
gebied? Jy vind die moordenaars nie net buite die kerk nie. Nee
ook hier binne in die kerk word mense vermoor, afgeskryf. Ook
hier word met swaarde geswaai, word mense beseer, gewond. Dink
maar aan die negatiewe praat oor mekaar pleks dat ons in liefde
met mekaar praat. Tot ons skande moet ons dit sê. Hoe maklik
voel ons ons nie beledig nie. En wat is dan dikwels ons reaksie?
Afguns, haat, woede en wraaksug is vir ons nie vreemd nie.

Broeders en susters, laat ons na die wapens gryp, nie teen
mekaar nie, maar teen ons gemeenskaplike vyand, die duiwel, die
verleier en moordenaar van die begin. Hy is daarop uit om die
kerk te verwoes, ons jeug en gesinne uit mekaar te dryf. Jy soek
tog nie die beeld van hierdie moordenaar nie, maar die beeld van
Jesus Christus? Dan sal haat deur liefde oorwin word. Christus
self het gewys dat die liefde die vervulling van die 6de gebod is.
Dis dan die tweede gedagte van die preek: die liefde is die
vervulling van hierdie gebod.

Ons ontvang ’n voorbeeld van iemand wat op pad tempel toe
is om sy offergawe aan die Here te gee. "As dit jou daar
byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor
die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom
dan en bring jou gawe" sê Jesus.

Die skrifgeleerdes sou gesê het, en ons is geneig om te dink,
eers die offergawe en gebed. God is no 1. Ons plig teenoor Hom is
die belangrikste. Die verhouding met ons naaste is daaraan
ondergeskik. Dit kan wel wag. Eers moet God ontvang wat Hom
toekom.

Dit lyk baie godsdienstig en vroom. Dat die verhouding met God
die belangrikste is, kan tog nie bestry word nie? Ons kan dink
aan moeilikhede tussen broers en susters in die gemeente. Sê ons
nie maklik: die broer of suster sal dit self moet uitsorteer, dit
gaan nie my kerkgang en my viering van die nagmaal raak nie. Die
verhouding met die Here, dis waaroor dit gaan in die lewe. Die
verhouding met die broer en suster is net van ondergeskikte
belang. Jy gaan dan kerk toe en vier die nagmaal asof daar niks
verkeerds is nie.

Christus leer ons ’n ander order. Hy sê: laat jou gawe
daar voor die altaar en gaan versoen jou eers met jou broeder, en
kom dan en bring jou gawe. Dis beter om die priester in die
tempel te laat wag as om jou broer langer te laat wag vir jou
versoeningswoord.

Ons sou vandag sê: as jy in die kerk instap, of midde in die
erediens is, en jy onthou skielik dat jou broer ’n grief
teen jou het, verlaat onmiddellik die kerk en versoen jou met jou
broer. Wag nie tot die diens afgelope is nie. Soek jou broer en
vra hom om jou te vergewe. Gaan eers, kom dan terug. Gaan eers en
versoen jou met jou broer, kom dan terug en offer God jou
erediens.

Ons is geneig om te dink dat dit oordrewe is. Die volgorde lyk
omgekeerd te wees. Maar Christus ons hoogste profeet en leraar sê:
eers jou versoen, die liefde moet seëvier, dan jou erediens. Om
jou gawe na die altaar te bring, om erediens te hou beteken dat
jy voor God verskyn. Ja, feitelik is jou gaan na ’n erediens
’n klein voorsmaak van wat gebeur wanneer jy in die laaste
oordeel voor God verskyn. Alleen, hier in die kerk verskyn jy
voor God terwyl dit nog ’n tyd van genade is. Jy kan nog
teruggaan en jou met jou broer versoen. Die dag sal kom wanneer
dit nie meer moontlik is nie. Hier in die kerk word iets sigbaar
van die oordeel van God. Wanneer die Israeliete met hul gawe na
die altaar gegaan het, het hulle in die heilige teenwoordigheid
van God gekom. Dieselfde geld wanneer jy kerk toe kom. Die vraag
wat klem is: is dit reg met jou? Het jy alles gedoen wat jy kon
om dit reg te maak met jou broer of suster?

Maar ek het niks teen hom nie, kan jy sê. Hy het iets teen my.
Wel, sê Jesus: ook al is dit die geval, het jy alles wat
moontlik is gedoen? Het jy hom of haar lief? Het jy daarom
geprobeer om die konflik op te los? Of wys jy deur jou dade dat
jy hom haat sodat jy dit goed vind soos dit is?

Geliefdes, hier in die kerk word genade verkondig. Vergewing
in Jesus Christus. Onthou egter dat genade nie goedkoop is nie.
Daarom is elke erediens ’n oproep om dit wat verkeerd in jou
lewe is, reg te maak. Hoe ernstig is Christus oor hierdie saak.
Daar is geen tyd om te verloor nie. Christus onderstreep dit met
’n tweede voorbeeld.

"Wees gou goedgesind teenoor jou teëparty so lank as jy
nog saam met hom op die pad is, sodat die teëparty jou nie
miskien oorgee aan die regter en die regter jou oorgee aan die
geregsdienaar en jy in die gevangenis gewerp word nie. Voorwaar
Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy die
laaste oortjie betaal het nie."

Dis nou die tyd om dit reg te maak. Terwyl jy nog op pad is.
Op pad na die laaste oordeel. Hoe ernstig luister ons na Christus
se oproep tot onmiddellike aksie? Indien moord ’n
verskriklike misdaad is, dan is haat en kwaadwillige toorn en
belediging ook verskriklik. En so ook elke daad, woord, gebaar of
gedagte waardeur jy ander seermaak of verneder. Elkeen van ons
moet meer sensitief wees vir hierdie kwaad. Moenie die
verwydering laat voortbestaan nie, laat staan dat jy dit laat
groei. Versuim nie om dit na vermoë reg te maak nie. Laat die
son nie ondergaan oor julle toorn nie. Maar sodra jy bewus is van
’n gebroke of versteurde verhouding, neem die inisiatief om
dit te herstel. Neem die inisiatief om verskoning aan te bied vir
die grief wat jy veroorsaak het, om die skade wat jy veroorsaak
het te vergoed en alles reg te maak.

Geliefdes, met hierdie praktiese onderrig wys Jesus jou die
ware betekenis van die 6de gebod. As jy wil vermy om moord te
pleeg in God se oë, neem dan elke moontlike stap om in vrede en
liefde met alle mense te lewe.

Daarom wys die Kat ook op die positiewe kant van die 6de gebod.
"Terwyl God afguns, haat en woede verbied, gebied Hy dat ons
ons naaste moet liefhê soos onsself. Ons moet teenoor hom
geduldig, vredeliewend, sagmoedig, barmhartig en vriendelik wees,
alles wat hom kan benadeel, sover moontlik probeer voorkom en
selfs aan ons vyande goed doen."

Nee, jy is nog nie klaar nie wanneer jy nagelaat het om jou
naaste seer te maak nie. God het ons langs mekaar geplaas sodat
ons mekaar in liefde kan dien. Hy vra van jou dat jy jouself
sonder selfsug inspan vir die welsyn en heil van ander rondom jou.
Baie geduld is nodig. Moenie ooit vergeet dat jy in ’n
gebroke wêreld leef nie. Moenie jou eie sondes en swakhede
vergeet nie. Jy wil tog nie sien dat ander agterop raak of selfs
heeltemal af val nie. Wys liefde, vrede, geduld, sagmoedigheid,
vriendelikheid, selfbeheersing. Soek voortdurend die welsyn van
ander. Sodat hy of sy so goed as moontlik kan funksioneer. Nie
net in materiële of fisiese sin nie. Die mens is nie net ’n
biologiese wese nie. Die mens is na God se beeld geskep as ’n
geestelike wese. Om vir ander om te gee beteken daarom dat jy
omgee vir hul liggaam en siel. Jy wil dat hulle so goed moontlik
funksioneer as God se medewerkers. Laat dit jou doel bly. Sodat
jou naaste naby en ver weg weer kan wees wat hy of sy behoort te
wees, ware mens, vernuwe na God se beeld.

Die 6de gebod eis selfverloënde liefde. Wie is in staat om
die liefde te wys? Daar is net een wat dit volmaak gewys het,
Jesus Christus wat vir ons gesterf het terwyl ons nog vyande was.
Wat ’n verbasende liefde! Dit gee ons moed Sy liefde dek ons
liefdeloosheid. Sy liefde dryf ons ook daartoe om liefde te wys.
Liefde vir God en die naaste.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)