Die eed. Ons sal sien dat die eed beide relevant en wettig is

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-10-12
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 37
Preek Inhoud: 

Sondag 37

Ds. C. Kleyn - Sondag 12 Oktober 2003

Lees: Matthéüs 5:13-20, Matthéüs 5:33-37,
Matthéüs 23:16-24; Sondag 37.
Sing: SB. 27; Ps. 15:1,2,4; Ps. 24:1-3;
Ps. 145:1-3.

Tema: Die eed. Ons sal sien dat die eed
beide relevant en wettig is

  1. Die eed is relevant; en
  2. Die eed is wettig.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die HERE het sy naam bekendgemaak. Sy naam het binne ons
bereik gekom. Dit is nie niks nie! Dit gee ongekende moontlikhede
en perspektiewe. Die naam is immers nou verbonde aan die persoon
wat die naam dra. Dit geld veral vir God. Sy naam is sy persoon,
soos Hy in sy tiperende kwaliteite bekend is. God se naam en God
self kan nie van mekaar losgemaak word nie. Met sy naam is die
HERE self aanwesig.

Dit hou in dat as die naam binne ons bereik kom, ons oor
ongekende moontlikhede beskik. Deur die Naam te noem kan ons God
self daarby haal. Ons kry in ’n sekere sin beskikking oor
God. Dit is soos by ons onderlinge omgang. Wanneer ek die naam
van ’n aanwesige noem, dan beteken dit altyd dat ek
aanspraak op hom maak. Ek roep iemand by die naam, ek spreek hom
aan en ek verlang op hierdie manier iets van hom. En wanneer
iemand nie in my onmiddellike omgewing is nie, dan trek ek sy
aandag deur hom aan te roep.

So is dit ook met die aanroep van die Naam van die HERE. Ons
beskik oor ’n moontlikheid om God se aandag te trek, ja, om
God daarby te roep.

Dit kom sterk tot uitdrukking by die eed. Wat beteken dit om
’n eed af te lê? Dit beteken dat jy God inroep as Getuie om
van die waarheid te getuig. Ons kan nie die harte van mense lees
nie, en daarom roep ons God as onbetwisbare getuie in om die
waarheid te bevestig en om as regter oor die leuenaars en
trouelose mense op te tree.

Vanaand handel die preek oor die eed. Ons sal sien dat die
eed beide relevant en wettig is.

Gemeente, hoekom gee ons nog soveel aandag aan die eed? Is dit
nog relevant? Hoeveel van ons word vandag nog gevra om ’n
eed af te lê?

Om die aktualiteit van Sondag 37 verstaan, moet julle besef
teen watter agtergrond die vraag en antwoord opgestel is. Hier
het ons te doen met die baptistiese dwaling. Die anabaptiste het
naamlik geweier om die eed te sweer. Hulle het dit gedoen met
’n beroep op Christus se woorde: "Sweer hoegenaamd nie"
(Mt 5:34). Tog kan hier baie meer oor gesê word. As hul weiering
om ’n eed te sweer slegs ’n misverstand tov die een
teks sou wees, dan sou dit nooit soveel aandag gekry het nie.

Hul weiering van die eed hang egter saam met een van die
grondstellings van hul leer. Hulle het geleer dat daar ’n
teenstelling bestaan tussen die natuurlike lewe en die geestelike
lewe. Die wêreld word deur die anabaptiste ingedeel in twee
terreine: die terrein van die genade, waar God koning is en die
terrein van die natuur waar God geen koning is nie, maar die
satan. Dit is volgens hul mening twee teenoorgestelde gebiede wat
streng uit mekaar gehou moet word. Hulle sou niks met mekaar te
make hê nie. Die terrein van die genade, waar God koning is,
daar speel die geestelike lewe hom af. Op die ander terrein speel
die natuurlike lewe hom af, die gewone lewe van elke dag.

Genade staan teenoor natuur. Wie onder die heerskappy van God
se genade gekom het, sou daarmee vrygemaak wees van die
natuurlike lewe. En tot die natuurlike lewe behoort onder andere
die owerheid met alles wat daarmee saamhang, byvoorbeeld die
weermag en die polisie en geregshowe. Waarom weier hulle dan om
die eed af te lê? Vanweë die streng skeiding tussen genade en
natuur. God se naam sou nie pas op die terrein van die natuur nie.
Deur by die naam van die HERE voor ’n wêreldlike owerheid
te sweer sou mens hom skuldig maak aan die ontheiliging van die
naam. God se naam sou nie aan die breë, publieke lewe verbind
mag word nie.

Gemeente, die Kategismus stry teen hierdie dwaling in Sondag
37. God het nie verniet sy Naam bekend gemaak nie. Die naam is
daar om te gebruik. Dit het ons reeds by Sondag 36 gesien.
Teenoor die misbruik van die naam staan daar: "ons mag die
heilige Naam van God nie anders as met vrees en eerbied gebruik
nie, sodat Hy deur ons reg bely, aangeroep en in al ons woorde en
werke geprys word." Hieruit blyk dit dat God se naam nie
verwyder is van die breë publieke lewe nie. God wil immers reg
bely, aangeroep en in al ons woorde en werke geprys word, in ons
daagliks lewe.

Sondag 37 brei hierop uit wanneer daar oor die eed gepraat
word. Hier gaan dit nie slegs oor die feit dat ons by die naam
van God ’n eed mag sweer nie, maar ook dat die naam van die
HERE baie beteken vir die publieke lewe - vir die maatskaplike en
staatkundige lewe. As die owerheid ons vra om die eed af te lê
in die geregshof of by die aanvaarding van ’n publieke amp
dan beteken dit dat die naam van die HERE aan die volkslewe en
aan die staatkunde verbonde is. Die Naam het daar en oral
betekenis.

So sien u, broeders en susters, hoe aktueel sondag 37 is.
Vandag word die Naam steeds meer en meer uit die samelewing
verdring. Die Naam word in die staatkundige en maatskaplike lewe
steeds meer verswyg. Daar word beweer dat die Naam slegs
betekenis vir die kerk, vir die Sondag en vir die siel het.
Daarbuite, in die lewe van elke dag, sou die Naam nie relevant
wees nie. Daar, in die besigheidswêreld en in die politiek, sou
jy moet werk volgens ander norme. Godsdiens en politiek moet
streng van mekaar geskei word. In die politiek gaan dit oor mag
en invloed. Daar sou jy die Bybel nie kan gebruik nie. Die Bybel
sou net goed vir jou persoonlike lewe wees. In die politiek geld
ander reëls. Dit lyk baie na die baptistiese skeiding van die
terreine. Die anabaptiste en die humaniste kan mekaar hier die
hand gee. Ja, die moderne teoloë en die humaniste ontmoet mekaar.
Vir beide geld dat die Naam van die HERE buite die publieke lewe
gehou word. Ander name word meer relevant beskou. So bevorder die
moderne teologie die verwêreldliking van die samelewing.

Wat ’n belediging van die HERE onse God. Hoe durf die
mens hierdie enigste ware God op te sluit in die kerk en die siel.
Is Hy nie die Skepper van hemel en aarde nie? Behoort alles nie
aan Hom nie? Dink maar aan Ps 24:1,2: "Die aarde behoort aan
die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin
woon; want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die
strome."

Daar is, broeders en susters, werklik geen twee aparte
lewensterreine, ’n natuurlike en los daarvan ’n
geestelike terrein nie. Daar is nie ’n terrein waar satan
regeer en wat ons maar aan hom moet oorlaat nie, en ’n
terrein waar die HERE God regeer en sy Naam genoem moet word nie.
God se koningskap gaan oor alle dinge. Sy ryksgebied is
ondeelbaar. Sy koningskap heers oor alles, ook oor die wetenskap,
die onderwys, die politiek, die besigheidslewe, ja oor die hele
menslike samelewing. God is aan sy hele wêreld verbonde. As
Skepper en Verlosser. In Christus soek Hy die verlossing, die
heiligmaking op alle vlakke van die lewe. God het reg op sy hele
skepping, dit behoort aan Hom.

Juis daarom kan en mag die kerk die naam van die HERE nie
reserveer vir hulself nie. Juis daarom mag ons ons nie terugtrek
in eie kringetjie, met ’n boekie in ’n hoekie nie.
Vanuit die kerk wil die HERE die wêreld soek, heilig en seën.
Daarom word u geroep om die een Naam bo alles te verhef. Laat God
die eer ontvang wat Hom toekom. Laat sy Naam orals gehoor word.
God wil nêrens uitgesluit word nie. Hy regeer immers oor alles.

Broeders en susters, jy mag dit daarom as ’n eer beskou
as jy gevra word om God se Naam aan te roep deur middel van
’n eed. Na die sondeval het ons menslike woorde onbetroubaar
geword. Jy kan nie staat maak op wat mense sê nie. In hierdie
onbetroubare wêreld is dit ’n groot voorreg om op die naam
van die Here ons God te kan terugval. Die eed gee krag aan ons
woorde. Daarmee dui ek aan dat ek werklik bedoel wat ek sê of
belowe. God, die Getroue wat ons harte kan lees, dra getuienis.
Hy weet wat gesê of belowe word. As ek nie my woord hou nie sal
Hy as ’n regverdige regter my ook bestraf.

Ons het hierdeur iets standvastigs en betroubaars in ons
omgang met mense wat van nature onbetroubaar is. Ons assosieer
ons woorde met Hom wat die waarheid is. Die eed is daarom ’n
groot teenvoeter vir die leuen.

Geliefdes, julle weet mos dat God die waarheid is – die
Een waarop jy kan staatmaak. Sy naam is mos Jahwe wat beteken: Ek
is wat Ek is. Ek sal wees wat Ek belowe het dat ek sou wees. Jy
kan altyd op Hom vertrou. Hy doen wat Hy sê. Hy hou sy beloftes.
Hy bly vir ewig getrou.

Jy mag dit daarom as ’n groot eer beskou om gevra te word
om jouself op hierdie groot Naam te beroep in die publieke lewe.
Want jy van alle mense weet goed dat God se naam die enigste
sekerheid in die publieke lewe is. Dit is dan ook waaraan jy
uitdrukking wil gee as jy gevra word om ’n eed af te lê.

Volgens die skrif het God ook sy Naam hiervoor gegee –
dit maak gemeenskap tussen mense moontlik in ’n korrupte wêreld.

Die Here het sy volk die opdrag gegee om Hom te vrees, te dien
en in sy naam te sweer. As daar twyfel is rondom die waarheid,
wil God as getuie betrek word.

Maar, broeders en susters, wat maak ons dan met Christus se
woorde tydens die bergpredikasie: "Sweer hoegenaamd nie...laat
julle woorde wees: Ja ja, nee nee. Want meer as dit, is uit die
Bose." Gebied Christus ons dan nie om geensins te sweer,
soos die Anabaptiste beweer het nie?

Vanuit die konteks word dit duidelik dat Christus hier die
lighartige en valse gebruik van die eed, wat deur die Fariseërs
toegelaat is, bestry.

In die Ou Testament het die Here gesê dat jy by die naam van
die Here jou God moet sweer. Daardie woorde bly staan. Selfs as
die Here in die Nuwe Testamentiese tyd deur sy Seun praat.
Gedurende sy verhoor het Christus self onder eed gepraat: En die
hoëpriester antwoord en sê vir hom: Ek besweer U by die lewende
God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is.
Jesus antwoord hom: U het dit gesê (Matt. 26: 63,64a). As Hy
onder eed geplaas word, verbreek Christus die stilswye wat hy
vroeër in die verhoor gehandhaaf het, in die erkenning van die
bindende aard van die eed.

Die Here weerspreek homself nie. Die Seun brei uit op die
woorde van sy Vader. Jesus sê in feite: Jy sal in die naam van
die Here jou God sweer, óf jy sal glad nie sweer nie.

In Matt. 5 spreek Christus die praktyke van die tyd aan. Die
Jode wou toe glad nie in die naam van die Here sweer nie. Hulle
het gedink dat dit te riskant is in die lig van die derde gebod:
Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie.
Hulle was bang vir die misbruik van die naam van die Here en het
selfs so ver gegaan dat hulle dit verkies het om die Naam glad
nie te gebruik nie. Die Joodse Rabbi’s wou dus nie hul
woorde bevestig deur hulle op die naam van die Here te beroep nie.
Terselfdertyd wou hulle egter wel hulle woorde bekragtig.
Hiervoor het hulle ’n spesiale wetskode ontwikkel. So kon
hulle dit vermy om werklike ede te sweer terwyl hulle
tegelykertyd die indruk skep dat hulle die waarheid vertel.

Die Here Jesus lê die werklike aard van hierdie sisteem bloot.
Dit het geensins die eer van God se naam bevorder nie. Dit het
eerder gedien om die valsheid en oneerlikheid toe te smeer. Dit
was in feite ontwerp om so veel as moontlik ruimte vir leuens toe
te laat. Mense het die ernstigheid van die eed ontduik deur te
sweer "by die hemel", "by die aarde", "by
Jerusalem" of "by hul hoof". In so ’n geval
het die mense gedink dat hulle die waarheid nie al te ernstig op
hoef te neem nie. Hulle het mos nie by die naam van die Here
gesweer nie? Hulle kon dus ook nie daarvan beskuldig word dat
hulle God se naam ydellik gebruik het nie! Die mense het dus by
hierdie dinge gesweer om hulself vry te stel van die uitlewing
van die belofte wat hulle gemaak het. "Natuurlik" sou
hulle dan argumenteer "as ek by die naam van die Here
gesweer het, sou ek die belofte nagekom het, maar die feit dat ek
by die aarde gesweer het dui aan dat ek nie eintlik verplig is om
dit na te kom nie."

Wat ’n skynheiligheid!

Asof die hemel en die aarde niks met God te doen het nie. Is
die hemel nie God se troon nie? Is die aarde nie die voetbank van
sy voete nie? Is Jerusalem nie sy stad nie? Ken Hy nie die aantal
hare op jou hoof en bepaal Hy nie hul natuurlike kleure nie? Die
aarde en sy volheid behoort aan die Here. Aangesien dit so is,
kan geen belofte ooit gemaak word en geen woord ooit gespreek
word sonder dat dit in God se teenwoordigheid gedoen word nie.

Broeders en susters, die Here Jesus is sterk teen die
bedrieglike gebruik van die eed gekant. Hy sê in feite: sweer by
die naam van die Here, of sweer geensins. Laat jou "ja"
ja wees en jou "nee" nee. Enigiets meer as dit kom van
die Bose.

Die Here verwerp alle onopregtheid en oneerlikheid. Elke vorm
van oneerlikheid kom van die Bose.

Onder mense is daar baie misleidende woorde. Die woord "miskien"
neem baie keer die plek van die definitiewe "ja" of
"nee" in, alhoewel jy van die begin af weet dat daar in
elk geval niks van gaan kom nie. "Miskien sal ek dit of dat
vir jou kan doen" sê jy dan. Die "miskien" is
’n vae woord wat jou nie verplig maak om jou woord na te kom
nie. Baie beloftes word gemaak om slegs die beeld van
vriendelikheid voor te hou. En dit net omdat jy nie ander mense
wil seermaak nie.

Jong en ouer mense maak partymaal vae beloftes om hul ouers of
ampsdraers gerus te stel: "Ek sal myself gedra!" Jong
en ouer mense gebruik ook partymaal vermydende antwoorde om hul
dade weg te steek vir hul ouers of ampsdraers. Hulle sal slegs
’n halwe waarheid vertel om uit die moeilikheid uit te bly.
’n Man sal partymaal vaag wees in dit wat hy vir sy vrou sê,
en ook andersom. Hierdie gebrek aan eerlikheid veroorsaak ’n
vermindering in vertroue in gesinne en huwelike. Stadig maar
seker word die betrokke partye uitmekaar gedryf.

Somtyds word ’n duidelike "ja"gegee, maar later
blyk dit dat dit nie werklik bedoel was nie. Die persoon aan wie
die belofte gemaak is voel verraai en ontnugter. Dit kan
veroorsaak dat jy nooit meer iemand sal vertrou nie. Dit is
duidelik dat sulke oneerlikheid van die Satan kom. Enigiets
verder as ’n eenvoudige "ja" of "nee"
kom van die Bose, sê Jesus. In jou uitsprake het jy te doen met
God óf Satan, waarheid óf leuen. As jy dink dat daar ’n
neutrale zone buite streng eerlikheid is, het jy jouself misreken.
Dinge wat nie die lig van die eed kan verdra nie, is van die Bose.

Gemeente, met hierdie radikale uitsprake wil Christus ons
wakker skud. Slegs ’n opregte "ja" of "nee"
is toepaslik in God se koninkryk. Daar is geen plek vir
misleiding, dubbelhartigheid of huigelagtigheid in God se
koninkryk nie. Laat jou "ja" eenvoudig ja wees en jou
"nee" eenvoudig nee.

Alles wat jy sê moet die krag van ’n eed hê, dit moet
volkome betroubaar wees. Dis hoekom die eed nie noodsaaklik
behoort te wees in die kerk nie. As jy Jesus Christus ken dan is
jy nie slegs somtyds bewus van God se teenwoordigheid nie. Jy is
altyd bewus van God se teenwoordigheid. Hy sien en hoor alles wat
jy doen en sê. Niks ontduik sy aandag nie. Alles wat jy sê
– nie slegs met betrekking tot sommige gewigtige sake nie
– moet daarom die gewig van ’n eed hê, en moet dus
voor God se heiligheid staande kan bly. In jou lewe as Christen
moet die eed nie iets uitsonderliks wees nie. Elke woord moet in
opregtheid voor God gespreek word. Of jy nou in ’n geregshof
praat en of jy nou jou geloof in die kerk bely – albei moet
dieselfde gewig dra. Dit moet toegepas word op die belofte wat jy
by die doopvont gee, maar ook op jou daaglikse gesprekke.

Mense moet altyd op jou woord kan staatmaak. Misleidende en
leuenagtige woorde hoort net nie hier nie. Elke vorm van
oneerlikheid en onbetroubaarheid is van die Duiwel. Ook
uitdrukkings soos "Ek sal dit of dat doen" is verkeerd
as jy die belofte nie opvolg of selfs voor die tyd geweet het dat
jy dit nie sal kan doen nie. Nee, jy hoef nie enigiets te belowe
as jy dit nie kan doen nie. As jy egter iets belowe het, moet jy
dit wel nakom. Laat jou "ja" ja wees en jou "nee"
nee. As ons nie op mekaar kan staatmaak hier in die kerk nie,
waar sal ons dan in hierdie misleidende wêreld op mekaar kan
staatmaak? Jy is mos geassosieer met Christus – die
Waarheid? Deur middel van die kerk wil hy die waarheid laat seëvier.
Deur middel van die kerk wil Hy alle areas van die lewe opeis en
onder sy heerskappy bring.

Daarom het Hy, Jesus Christus, die weg en die waarheid aan ons
gegee. Soek versoening in Sy bloed - ook vir jou oneerlikheid.
Laat jou lei deur Sy Gees. Sodat jy opnuut betroudbaar kan wees.
En die waarheid weer kan seëvier in jou lewe, in die Kerk en in
die samelewing.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)