Jy mag nie egbreek nie.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-11-23
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 41
Preek Inhoud: 

Sondag 41

Ds. C. Kleijn - Sondag 23 November 2003

Lees: 1 Kor. 6:9-20; Sondag 41.
Sing: Ps. 115:1,2; Ps. 148:4,5; Ps. 19:4,5;
Ps. 128; Ps. 115:7,8,9.

Tema: Jy mag nie egbreek nie.

  1. Sy gebod is duidelik;
  2. Sy gebod word bestry; en
  3. Sy gebod is heilsaam.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Kan ons in hierdie tyd die 7de gebod nog wel
handhaaf en propageer? Mbt huwelik en seksualiteit het die norme
immers baie verander in die laaste jare. Die bevrediging van
seksuele gevoelens voor of buite die huwelik word vandag amper as
normaal beskou. Waarom sou twee mense wat van mekaar hou nie van
mekaar se liggame mag geniet nie? Die bevrediging van die
seksuele begeertes word beskou as ’n primêre lewensbehoefte
soos voedsel, kleding en onderdak. Dit sou jy niemand mag ontsê
nie. Ook nie die homoseksueel nie. Hy het tog ook seksuele
gevoelens wat hy wil bevredig. Luister maar na die reaksies wat
losgekom het nav Danie Botha se uitspraak ’n paar weke
gelede dat mense wat homoseksualiteit beoefen hel toe gaan.

En wat weerhou mense vandag om vrye seksuele omgang te hê.
Vroeër was daar steeds die gevaar van ’n ongewenste
swangerskap. Vandag is daar die groot gevaar van vigs. Maar ons
het vandag tog die kondoom wat ons kan beskerm? Tenminste dit wil
die owerheid ons wys maak in sy veldtog teen vigs. Baie mense,
ook mense wat hulleself christene noem, ag dit dan ook
vanselfsprekend dat ’n ou en sy meisie reeds voor die offisiële
huwelik saam bed toegaan. 'As die liefde maar heers, die liefde
wat die naaste geen kwaad doen nie', dan sou dit OK wees word dan
gesê.

Kan ons, broeders en susters, in hierdie tyd en samelewing dan
nog wel aankom met die 7e gebod? Nuwe tye vra tog om nuwe sede?
Is ek dan nie wêreldvreemd as ek bly voorhou dat geslagsverkeer
slegs binne die huwelik van een man met een vrou tuishoort nie?
Dit is vrae wat dring om ’n antwoord. Vrae waarop ons ’n
duidelike antwoord moet hê.

Die enigste antwoord waarmee ons mekaar en ons samelewing
werklik kan dien, is die antwoord wat God self gee. God die
almagtige Skepper en Verlosser ken sy skepsels. Hy ken ook die
geskape seksualiteit beter as alle moontlike voorligters.

Laat ons daarom luister na wat God ons ooreenkomstig die 7e
gebod gebied: Jy mag nie egbreek nie.

  1. Sy gebod is duidelik
  2. Sy gebod word bestry
  3. Sy gebod is heilsaam

Vir ’n antwoord op die huidige vrae moet jy teruggaan na
jou skepping in die begin, na God se bedoeling met ons mense. Hoe
het God die mens geskep en waartoe? Ons is geskep na God se beeld
sodat ons God ons Skepper deur al ons doen en late sou verheerlik.
Met ons hele persoon, na liggaam en gees, is ons in diens van God
geplaas. As Sy verteenwoordiger het ons die heerskappy oor die
hele skepping gekry.

Watter plek neem dan die huwelik in? Die Here het die huwelik
ingestel met die oog op die vervulling van die heerlike roeping.
Ons lees in Gen 2 dat God vir Adam ’n hulp gemaak het wat by
hom pas. Adam kan die groot taak van die onderwerping van die
aarde nie alleen hanteer nie. Daarom gee God hom ’n hulp wat
hom aanvul. Ja, dis waaroor dit gaan in die huwelik dat julle
mekaar aanvul in die diens van die Here. In opwinding sing Adam
sy eerste liefdeslied: "Dit is nou eindelik been van my
gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want
sy is uit die man geneem." Dan volg die bekende woorde van
Gen 2:24: "Daarom sal die man sy vader en sy moeder verlaat
en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees."

Gemeente, die laaste vers is van fundamenteel belang as ons
praat oor huwelik en seksualiteit. Dis nie verniet dat die teks
meermale in die N.T. in verband met die huwelik genoem word nie.
God ons Skepper wys ons die juiste volgorde. Daar word drie dinge
genoem wat nodig is vir die huwelik: vader en moeder verlaat, jou
vrou aankleef en een vlees wees. Eers moet daar ’n sekere
breuk met die ouerlike huis kom. Jy verlaat dit om ’n nuwe
huis, ’n nuwe gesin te vorm. Die man verlaat sy ouerlike
huis om saam te woon met sy vrou. Dit word uitgewerk in die
woorde: sy vrou aankleef en een vlees wees. Jou vrou aankleef wil
sê dat jy ’n hegte band met haar aangaan. Jy heg jou
volledig aan haar en bind jou aan haar. Julle is voortaan van en
vir mekaar. ’n Gemeenskap van liefde en trou. So sal die
twee een vlees wees. Die "een vlees wees" sien
ongetwyfel ook op die geslagsverkeer. Tog moet ons dit nie
daartoe beperk nie. Let op die formulering. Daar staan nie "tot
een vlees word" nie. Die twee sal een vlees wees. Dit dui op
hul nuwe posisie. Na die huwelik behoort hulle onlosmaaklik by
mekaar as ’n twee-eenheid. Dit is nou as ‘t ware een
lewe, geestelik en liggaamlik. Met hart en lewe is hulle aan
mekaar verbonde. ’n Mens kan hulle nie meer los van mekaar
sien nie.

Die "een vlees wees" inklusief die geslagsgemeenskap
word hier dus gekoppel aan die huwelik. Dit is ’n uiting van
liefde en trou tussen ’n man en sy vrou. Alleen binne die
huwelik is dit op sy plek. God die Skepper het die drie sake:
verlaat, aankleef en een vlees wees aan mekaar verbind. En wat
God saamgevoeg het mag geen mens skei nie.

Maar, gemeente, hoe sit dit dan met die saamwoon van ’n
ou en sy meisie sonder ’n offisiële huwelik? Daar is mos
baie mense wat saamwoon sonder dat hulle getroud is? Is die
uiting van liefde en trou nie moontlik sonder offisiële
huweliksluiting nie? Wat dink julle? Is die saamwoon en een vlees
wees ’n privaat aangeleentheid? Het ander persone daar dan
niks mee te make nie? Ja, het die staat en die samelewing daar
niks mee te make nie? Jy verlaat die ouerlike huis en jy gaan
’n nuwe hegte gemeenskap vorm, ’n nuwe gesin, ’n
onverbreeklike twee-eenheid.

Wel, is dit geen publieke saak nie? Dan wil jy dit tog wys?
Daarby behoort ’n publieke registrasie. Die manier waarop
die huwelik gesluit word, is nie altyd dieselfde nie. Onder
Israel het die Here die ouers en die familiehoofde daarby
ingeskakel. In ons samelewing gebruik God die owerheid as sy
dienares. Indien ek as ou met my meisie saamwoon sonder om te
trou, skei ek nie slegs wat God saamgevoeg het nie, ek skend ook
God se ordening van die samelewing. God het die owerheid gegee om
orde en reg te handhaaf. En tot die gegewe orde behoort ook dat
slegs hulle publiek as man en vrou erken word, wat hul deur
’n huwelik laat registreer. En slegs die samewoning geniet
regterlike beskerming ook tov die kinders.

Die huwelik is meer as twee mense wat lief vir mekaar is en
mekaar trou belowe. Dit is meer as ’n menslike instelling.
Die huwelik is ’n instelling van God. God wou dit so hê dat
een man en een vrou aan mekaar verbonde sou wees om so saam Hom
te dien in die vervulling van die kultuurmandaat. Daaroor laat
die Skrif geen twyfel bestaan nie.

Die huweliksband is ’n lewensband tussen ’n man en
sy vrou. Daarom: jy mag nie egbreek nie. Geen derde party mag in
die spel wees nie. Die lewenseenheid mag nie verbreek word nie.
Man en vrou moet lewenslang op mekaar kan staatmaak. So wil die
Here dit.

Gemeente, hoewel die 7e gebod letterlik slegs die
ongeoorloofde omgang met derdes noem, mag die gebod gesien word
as ’n samevatting van alle vergrype op seksueel gebied. Die
Bybel noem die egbreuk saam met ’n reeks ander vergrype in
Deut en Lev. Vergrype soos bloedskande, homoseksualiteit en
bestialiteit. Die apostel Paulus waarsku herhaaldelik teen
hoerery. Daarmee bedoel hy alle ongeoorloofde geslagsverkeer in
watter vorm ookal. God se gebod is dus duidelik: geslagsverkeer
hoort alleen tuis binne die huwelik van een man en een vrou. Dit
het daar van die Here ’n legitieme en ryke plek gekry. Nie
as doel in homself nie – asof dit alles sou wees – maar
as middel om God se groot doel te bereik. En wat is God se groot
doel? Dat ons saam Hom groot maak en mekaar ondersteun in werk in
dien van sy koninkryk.

Die gebod is nie slegs duidelik nie, dit word ook bestry. Dis
die tweede punt. Die gebod word nie pas bestry die laaste jare
nie. Die saak was al baie urgent in Paulus se dae. Die jong
christelike gemeente het in ’n puur heidense omgewing gelewe.
En die heidense samelewing was gekenmerk deur hoerery. Hulle het
selfs religieuse prostitusie geken. Die jong christene moes met
die sondige praktyke breek. Praktyke wat hulle vroeër as heel
normaal geag het. Daarom vermaan Paulus ook herhaaldelik teen
hoerery.

Die vermaan van Paulus is in ons samelewing weer baie urgent.
Die vroeër christene het gestaan teenoor ’n heidense
samelewing. Vandag staan ons teenoor ’n samelewing wat besig
is om steeds meer heidens te word. Julle is dus nie die eerstes
wat moet stry teen ’n verworde publieke moraal. Julle is nie
die eerstes wat teen die publieke stroom moet inroei nie. So was
dit alreeds in Paulus se dae. In 1 Kor 6 moes Paulus reeds
waarsku teen die sogenaamde vrye liefde. Daar was vermoedelik
christene wat min kwaad gesien het in die gaan na ’n
prostituut. Teen die agtergrond van die heidense praktyke kan
’n mens dit verstaan. Te Korinte was dit immers die
normaalste saak van die wêreld. Vir sommiges wat tot geloof
gekom het sal dit nie maklik gewees het om radikaal met die
praktyk te breek nie. Miskien het hulle dan die verskoning
gebruik: die band met ’n prostituut is nie blywend nie, maar
verbygaande.

Paulus wys die gedagte af met die woorde: "Of weet julle
nie dat hy wat ’n hoer aanhang, met haar een liggaam is nie?
Want die twee, sê Hy, sal een vlees wees." (1 Kor 6:16).
Paulus wys op die woorde uit Gen 2 wat ons al eerder genoem het.
Vrye liefde is beslis nie onskuldig nie. Met die daad word die
twee een vlees, een lewe. Geslagsgemeenskap is geen konsumpsie
artikel nie, waarvan jy kan geniet sonder verdere konsekwensies
nie, sonder verantwoordelikhede nie. So word dit wel in ons
konsumpsie maatskappy voorgestel. Elke lewensbehoefte, waaronder
ook die seksuele, sou bevredig moet word. So soek mense seksuele
bevrediging sonder ware liefde en trou.

Maar God die Skepper laat ons weet dat geslagsgemeenskap baie
meer inhou. ’n Losse, vryblywende omgang bestaan nie. Dit is
’n onderdeel van die een vlees wees. Dit behoort tot die een
lewe wees. Hoe kan ’n gelowige ’n hegte eenheid vorm
met so ’n hoer? "Weet julle nie dat julle liggame lede
van Christus is nie? Sal ek dan die lede van Christus neem en dit
lede van ’n hoer maak?" (vers 15). Daarmee sou ek die
band met Christus verbreek. Die liggaam is nie vir hoerery nie,
maar vir die Here. Die Here het jou tot sy eiendom gekoop, na
liggaam en siel. Jy is duur gekoop, deur die kosbare bloed van
Christus. Om met liggaam en siel Hom te dien, sowel binne as
buite die huwelik.

So kom die seksuele weer op sy plek te staan in diens van God.
God wil my as ou of as meisie, as man of vrou met my gevoelens
inskakel in sy werk. Hy wil ook my huwelik – as Hy dit aan
my gee – gebruik vir die bou van sy koninkryk.

In 1 Thess 4 lees ons dan ook "Want God het ons nie tot
onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking." "Want
dit is die wil van God: julle heiligmaking, dat julle jul moet
onthou van die hoerery." God wil dat jy jou liggaam en siel
weer op Hom rig. Stel dan julle liggame as ’n lewende,
heilige en aan God welgevallige offer.

Die heiligmaking beteken dat jy kuis en ingetoë lewe sowel
binne as buite die huwelik. Dat jy jou binne die huwelik op
’n verantwoordelike en liefdevolle manier gedra. Dat jy jou
onthou van ongeoorloofde verhoudings. Maar ook: dat elkeen weet
om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer, nie in
hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie
(1 Thess 4:4,5). Jou liggaam sowel as jou siel is tempel van die
Heilige Gees. Daarom wil jy daarmee versigtig wees. Want wie God
se tempel skend, skend God self.

Maar broeders en susters, word jy daardeur nie belemmer in jou
geluk en ontplooiing nie? Is dit nie ’n onnodige en
ondraaglike las? Ons seksuele gevoelens moet tog ook bevredig kan
word? Hierop wil ons let in die derde punt: die gebod is heilsaam.

Wat dink julle, sou God jou Skepper en Verlosser jou deur sy
gebooie wil terg? Sou Hy jou wil terg deur juis dit wat so
interessant lyk te verbied? Die antwoord is duidelik. Dit kan nie
so wees nie, anders sou God nie God wees nie. Sou die moderne
voorligters dit beter weet as jou Skepper? Sou jou verlosser
werklik jou onheil soek en nie jou heil nie? Dis tog onmoontlik?
God se duidelike gebod is heilsaam. Ek word bevry van die
benouende en verslawende mag van die sonde.

As Christen is ek met God se gebod nie arm nie, maar ryk. Ook
in ons huidige samelewing waar die publieke opinie anders daaroor
dink. My lewe, my man of vrou wees word deur die geloof nie saai
nie, maar juis ryk. Dit kry diepgang, inhoud. Paulus skryf: Alles
is my geoorloof. Ek is God se kind en erfgenaam. Die wêreld en
haar volheid behoort aan die Here. So mag ek as erfgenaam volop
geniet van alles wat Vader my ter beskikking gee.

In die vryheid van die kinders van God sal ek egter versigtig
wees om my vryheid nie weer op die spel te sit nie. Alles is my
geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie. ’n
Erfgenaam van die wêreld wil tog nie opnuut slaaf word nie,
slaaf van die sonde en lewensverwoesting? Ek het die ware lewe
ontvang. Ek wil dan nie weer geleef word nie, oorheers deur iets.
Ek wil dan werklik lewe.

Daarom vermy ek alle losbandige gedrag waardeur ek weer slaaf
van die sonde sou word. Wat dink jy: is die mense van die vrye en
ongebonde seks werklik vry? Die apostel Petrus sê van hulle:
Hulle belowe vryheid … terwyl hulle self slawe van die
verdorwenheid is; want waar ’n mens deur oorwin is, daarvan
het hy ook ’n slaaf geword. (2 Pt 2:19).

Die sogenaamde vrye liefde word vandag aangemoedig deur die
seksualiteit te beskou as ’n primêre lewensbehoefte, soos
voeding en kleding. Elkeen sou reg het op die vervulling van die
behoefte of die persoon getroud of ongetroud is, jonk of oud.

Gemeente, Paulus het die bedrieglike redenering al ontsenu in
1 Kor 6:13 wanneer hy sê: die voedsel is vir die maag en die
maag vir die voedsel, maar God sal die een sowel as die ander tot
niet maak. Maar die liggaam is nie vir hoerery nie, maar vir die
Here; en die Here vir die liggaam." Die gebruik van voedsel
is nie gelyk aan die bevrediging van seksuele verlangens nie. Van
die maag word gesê dat dit voedsel nodig het. Die een kan nie
sonder die ander nie. Maar die liggaam is nie bestem vir die vrye
seks nie. Die liggaam is vir die Here bestem. Die vervulling van
die seksuele gevoelens is nie noodwendig nie, dis van
ondergeskikte belang en word slegs diensbaar gemaak binne die
huwelik.

Wees maar dankbaar vir God se heilsame gebod. Hy beskerm jou
teen jouself. Hy beskerm jou teen jou ongeluk. Dit wil nie sê
dat God se gebod vir ons altyd maklik is nie. In ons tyd word
sterk gefokus op die liggaam. Daar is vandag ook baie meer
moontlikhede as vroeër. Dit maak dit nie maklik veral vir ons
jong mense nie. Ons bly mense van vlees en bloed, met verlangens
en behoeftes. Ek mag daarom bly wees dat God my teen myself
beskerm. Laat ons mekaar daarin ook ondersteun, ook as
verloofdes, as mense wat besig is om ’n verhouding op te bou.
Hoe verrykend is dit nie as ’n ou en sy meisie saam stry
teen die verwoestende mag van die sonde, as hulle daarin eerlik
is teenoor mekaar en mekaar rein en heilig wil bewaar. As ek in
die huwelik vrugbaar wil wees vir God se koninkryk dan sal ek my
reeds in my jeug en voor die huwelik moet oefen in selfbeheersing
en in selfverloënde liefde.

Hoekom sou dit wees dat baie huwelike so onvrugbaar vir die
Here is? Hoekom gaan so baie huwelike stukkend? Sou dit onder
ander ook nie ’n gevolg kan wees van ’n slegte
voorbereiding op die huwelik nie? Met die huidige fokus op die
liggaam het baie vergeet dat dit veral gaan om ’n geestelike
eenheid. As die kontakte al vinnig baie liggaamlik word, as jy
toegee aan jou liggaamlike verlangens voordat dit geoorloof is,
dan kry die seksuele aspek al gou die oorhand. Daardeur word geen
soliede geestelike basis vir die toekoms gelê nie. So leer jy
geen selfbeheersing en verantwoordelikheidsbesef nie. Is jy dan
wel in staat om later binne die huwelik jouself tot die uiterste
toe te verloën, om mekaar trou te bly ook by die grootste
beproewings? Is dit dan vreemd dat baie huwelike vandag opbreek?

Laat ons broeders en susters, seuns en meisies, dankbaar wees
vir God se duidelike en heilsame gebod. Daardeur word die huwelik
as ’n geweldige geskenk van die Here gered. Ons huwelike
word weer diensbaar gestel. Ons word verlos van die God en mens
onterende toestande waarin die wêreld met sy vrye seks
tereggekom het. Ons gesinne word veilig gestel. Tot heil van ons
en ons kinders.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief Ds. C. Kleijn.

Liturgie: 

(kyk in preek)