Die Here maak die herders die eerste getuies van Christus se geboorte.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-12-25
Teks: 
Lukas 2
Preek Inhoud: 

Lukas 2:15-20

Ds C Kleyn - Kersfeesdiens –
Donderdag, 25 Desember 2003

Lees: Lukas 2:1-20.
Sing: Ps 98:1,2; SB 4; SB 27; SB 8:1,2,5; Ere
aan God.

Tema: Die Here maak die herders die eerste getuies van
Christus se geboorte.

  1. die herders gaan na Jesus Christus;
  2. die herders versprei die goeie nuus; en
  3. die herders verheerlik God.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die wonder van Christus se geboorte verdien ons lof en
aanbidding. Die engele begin daarmee. ’n Groot menigte
engele sing hul lied in die velde van Efrata. Ons kan hierdie
geboorte nie indink sonder daardie engelelied nie: "Ere aan
God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n
welbehae."

Maar, broeders en susters, hierdie lof van die engele is nie
die hoogste lof wat God die Vader en God die Seun ontvang nie.
Ons Here is die meeste vereer deur die lof wat Hy van sy verloste
volk ontvang. Sy heerlikheid word die meeste geopenbaar is sy
kinders wat Christus se geboorte rond die krip kom vier het. In
hul lof word die eerste vrugte van Jesus se werk reeds openbaar.
Hy wat mense, en nie engele nie, aanneem om sy kinders te wees,
word die meeste verheerlik as menslike harte en menslike lippe
Hom loof. Hy is die meeste vereer as sy kinders gewillig die lied
van sy diensknegte – die engele – oorneem. Dan word God
se lof op aarde gehoor soos in die hemele.

Geliefdes, daardie lof is in Betlehem teenwoordig. Daar is nie
slegs die pasgebore Koning aanwesig nie. Daar ontmoet u ook sy
onderdane. Herders is die eerste wat vorentoe tree. Nadat hulle
die blye boodskap van die engele hoor, gaan hulle na Betlehem om
die gebore Verlosser te sien en hulle praat daaroor en prys God.
God skep sy eerste menslike getuies.

Ek verkondig vir julle: die Here maak die herders die eerste
getuies van Christus se geboorte.

Ons sal sien dat:

  1. die herders na Jesus Christus gaan;
  2. die herders die goeie nuus versprei; en
  3. die herders God verheerlik.

Wat ’n skielike kontras vir die herders. Hulle was omring
deur die hemelse lig. Hulle het die musiek van die engelekoor
gehoor. Skielik is alles verby. Die engele is terug na die hemel.
En saam met hulle het die heerlikheid van God ook verdwyn.
Skielik is alles donker rondom die herders. Donker – nie
slegs omdat die lig verdwyn het nie, maar ook as gevolg van die
sondes. Hulle staan met hul twee voete op die aarde in hierdie
donker wêreld. Hulle is weer terug in die volle werklikheid van
hierdie menslike en aardse lewe. Hulle gedagtes tol nog. Hulle
het mos nou net ’n ongelooflike ervaring gehad. Iets wat jy
nie net kan afskryf as fantasie nie.

Die herders kom egter in geloof gou tot hul sinne. So gou as
die engele verdwyn, oorleg hulle met mekaar. Hulle bespreek wat
hulle moet doen oor wat hulle gesien en gehoor het. Hulle besluit
om na Betlehem te gaan.

Die engele het hulle nie uitdruklik beveel om na Betlehem te
gaan nie. Die herders verstaan egter dat dit wel die bedoeling is.
Hoekom sou hulle anders die teken ontvang het: "julle sal
’n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in ’n
krip lê."

Mens kan geen twyfel by die herders bespeur nie. Dit is hoekom
ek van hulle geloof gepraat het. Hulle aanvaar die woorde wat
hulle gehoor het. Kyk net na die besluit wat hulle neem: "Laat
ons na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die
Here aan ons bekend gemaak het." "Laat ons hierdie ding
sien wat gebeur het." Hulle aanvaar die werklikheid van die
boodskap wat hulle ontvang het. Hulle stel dit nie in vraende
vorm: "Laat ons gaan sien of hierdie ding werklik gebeur het"
nie. Nee, dit is nie vir hulle ’n vraag nie. Die Heiland is
gebore. Hulle wil daarvan getuies wees.

In die verskyning van die engele herken hulle die verskyning
van die Here self. En die boodskap van die engele is vir hulle
die boodskap van God self. Dit is hoekom hulle sê: "Laat
ons na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die
Here aan ons bekend gemaak het."

Daar is geen twyfel nie – die boodskap wat hulle ontvang
het is van God self. In geloof vertrou die herders op daardie
woord van die Here. Daarom sien ons hul spontane reaksie. Hul
geloof maak hulle vaardig. Hulle gaan onmiddellik na Betlehem:
"hulle het met haas gegaan." Hulle wil so vinnig as
moontlik daar wees. Wat in die tussen tyd met hul skape gebeur,
is nie belangrik nie. Dit wat belangrik is, is dat hulle na die
krip gedryf word en dat hulle hulself laat dryf. Die Here skep sy
eerste getuies. Hy laat sy eerste aanbidders na vore tree.

Dit is, broeders en susters, een van die groot wonders rondom
Christus se geboorte. Reeds by die begin van Christus se lewe
– daardie nederige begin in die krip – word die vrugte
van sy werk sigbaar. Die herders versamel rond die pasgebore
Redder.

Hoe is hulle versamel? Suiwer deur God se woord – wat in
hierdie geval deur die engele verkondig is. Sonder daardie woord
– wat terug gaan na die geskrewe Woord – sou hulle
nooit na Jesus kon gaan nie. Die Here self lei hulle, dryf hulle
na Betlehem deur sy woord en Gees, om die pasgebore Koning te
aanbid. Want sou enige verstandige mens uit homself na ’n
stal gaan om die Redder daar in ’n krip te gaan en soek? Dit
is mos nie die plek om ’n Koning te soek nie? Maar die
herders gaan, deur God se woord en Gees gelei. Wat ’n wonder
van God se genade, geliefdes.

Mense word geroep en gered deur die dwaasheid van die
evangelie. Hulle begin om te aanbid. Hulle begin om fees te vier
op ’n plek wat glad nie geskik lyk vir so ’n fees nie.
Hulle gaan nie die geboorte van die koning in ’n paleis vier
nie, maar in ’n stal. Dat is slegs moontlik deur geloof in
die Woord van die Here.

Geliefdes, dit is vandag nog steeds so. Die werklike viering
van Christus se geboorte is slegs moontlik deur die geloof in die
Woord van God. Sonder daardie Woord is dit onmoontlik om Christus
te aanbid. Ja, in hierdie Kersfeestyd, sing die menigtes daaroor
om na Betlehem te gaan om Hom te aanbid. Daardie woorde weerklink
in die winkelsentrums. Maar, geliefdes, is dit ware aanbidding
van die beloofde Koning? Of is dit ’n bevrediging van
menslike sentimentele gevoelens, romantiek?

Werklike aanbidding – ’n genade gawe – kom
slegs voort uit ware geloof in die Woord van God. Jy moet jouself
laat lei deur sy Woord en nie deur jou gevoelens nie. As jy
’n werklike aanbidder wil wees moet jy jouself eenvoudig
oorgee aan daardie evangelie, ook al verstaan jy nie alles nie.
Jy sal moet glo wat uit die hemel verkondig is. Sonder daardie
geloof, en die gehoorsaamheid van die geloof, is daar geen
werklike fees of werklike aanbidding nie. Laat ons nie onsself
bedrieg nie. Anders sal daar slegs ellende en vervloeking oorbly.

Dit is slegs deur geloof dat jy kan deel in die groot vreugde
van die fees van die Lam, wat die sondes van die wêreld
weggeneem het. Dit is dwaasheid vir die natuurlike mens. Maar die
krag van God tot die redding van elkeen wat glo. Want dit is die
offer van daardie Lam wat lewe en vrede bring.

Die herders vertrek onmiddellik om na Jesus Christus te gaan
– gelei deur God se Woord en Gees. Hulle vind Maria en Josef
en die Kindjie wat in die krip lê. Hoe word hulle geloof nie
getoets nie!

In die veld het hulle wonderlike dinge gesien en gehoor oor
daardie kindjie. Hulle het ook oor sy nederige staat gehoor: die
Kindjie sou in doeke toegedraai wees en in ’n krip lê. In
daardie veld sou die oorweldigende lig en boodskap alles egter
oorskitter het. Maar nou staan hulle langs die krip. Alle
heerlikheid is weg. Al wat hulle kan sien is die nederigheid. Sou
daardie kindjie in die krip werklik die Verlosser van die wêreld
wees? Sou jy nie aarsel met so ’n armsalige voorkoms nie?
Gee ons nie gereeld moed op oor wat ons sien of hoe ons voel nie?
Laat ons onsself nie gereeld lei deur wat ons op die eerste oog
af sien nie? Soos die priester Sagaria wat as gevolg daarvan stom
geword het en nie kon praat nie?

Dit is egter treffend om te sien dat daar geen twyfel of
aarseling by die herders is nie. Hulle laat die armsalige
voorkoms hulle nie aflei nie. Hulle sien en begin om te praat.
Hulle begin om hierdie gebeurtenis te verkondig. Dit bring ons by
die tweede punt – hulle versprei die goeie nuus.

Ten spyte van die krip en die nederige staat begin die herders
die nuus uitdra, begin hulle getuig. Alhoewel hierdie kindjie
onbelangrik lyk, vergeleke by die roem van die vergoddelikte
Keiser van Rome. Ten spyte van die feit dat alles dit lyk te
weerspreek. Israel moet die bevele van die magtige Keiser, wat as
Redder vereer word, gehoorsaam.

Mens sou glad nie verwag dat so ’n kindjie in ’n
krip ’n Verlosser kan wees nie – nogal die groot
Verlosser wat volgens Psalm 2 die nasies met ’n yster staf
sal regeer. Maar ten spyte van die oënskynlike onbeduidendheid,
begin die herders die blye boodskap verkondig. Soos die geval toe
hulle na Betlehem gegaan het, so is dit ook as hulle begin praat
nadat hulle gesien het: dit is slegs moontlik deur die geloof.
Ook hier geld: Dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin,
naamlik ons geloof. Daardie geloof sien deur al die skaduwees van
vernedering heen om die heerlikheid van ons Here Jesus Christus
raak te sien.

Of nog beter gestel: die geloof herken juis in daardie
nederigheid en armoede die groot liefde van God wat sy Seun so
gegee het. Die geloof herken hierin die oorvloedige genade van
ons Here Jesus Christus – wat alhoewel Hy ryk was vir ons
arm geword het.

En, geliefdes, dit is die wonderlike ding oor hierdie
verkondiging van Christus se geboorte: juis dit wat dwaasheid is
vir die mens en ’n struikelblok, gee die herders alle rede
vir vreugdevolle verkondiging. Die herders maak oral die woord
bekend wat aan hulle van dié Kindjie vertel is. Hulle kan dit
nie net vir hulself hou nie. Hulle geloof laat hulle praat.
Eerstens vir Josef en Maria. Maar later vir almal vir wie hulle
die geleentheid het om dit te vertel. Die herders besef dat
Christus se geboorte orals verkondig moet word.

Het die engel nie vir hulle gesê: "ek bring julle ’n
goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees"?
Dan moet die hele volk dit mos hoor? So verkondig hulle dit dan
ook as eerste getuies. As getuies van wat hulle gehoor en gesien
het.

Dit is, broeders en susters, opvallend in God se
verlossingsplan. Dink net in dat herders gebruik word as eerste
getuies. Herders was oor die algemeen verag. Hulle was gesien as
groot sondaars wat nie vertrou kon word nie, soos diewe en rowers.
In daardie dae is allerhande regte aan hulle weerhou. Hulle mog
nie publieke ampte vervul nie. Hulle mog nie as getuies optree in
hofsake nie. Sulke onbetroubare mans kan tog sekerlik nie
toegelaat word om getuies te wees nie?

Maar wat sien ons in ons teks? God kies juis sulke herders as
sy eerste getuies. In sy hofsaak met die wêreld neem God herders
in sy diens as sy getuies, as getuies wat praat van wat hulle
gesien en gehoor het. God verneder die hoogmoediges. Soos Maria
in haar lied gesing het: "Hoogmoediges in die gedagtes van
hulle hart het Hy verstrooi." Die hoogmoediges wat op hul
uiterlike posisie en reputasie staatmaak. Maar God het die
nederiges verhoog – die nederiges wat die eenvoudige dog
ongelooflike Woord van God glo. Nederige herders mag die eerste
getuies van Christus se geboorte wees.

En, geliefdes, hul getuienis is baie belangrik vir Maria en
via haar vir u en my. Laat ons nie vers 19 oor die hoof sien nie:
"maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart
oordink." Maria laat nie een van die woorde haar ontgaan nie.
Sy bewaar hulle. Sy oordink hulle. Sy sit alles bymekaar. Sy het
self ’n boodskap oor haar Kindjie van die engel Gabriël
ontvang. Gabriël het gesê: "Hy sal groot wees en Seun van
die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die
troon van sy vader Dawid gee en Hy sal koning wees oor die huis
van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal geen einde
wees nie."

Na haar ontmoeting met Elisabet het sy gesing van God se groot
dade. By die geboorte van haar seun was daar egter geen sigbare
heerlikheid vir haar nie. Moet haar seun tot heerlikheid kom via
hierdie pad van vernedering? Die herders kon haar en Josef
versterk in hul geloof. Is dit nie wonderlik om te sien hoe God
boodskappers stuur om sy kinders te bemoedig nie? Deur hul
vertelling van die boodskap en lied van die engele kon Maria
verseker word: dit is werklik die pad wat die Here wil volg. Die
nederige staat van haar seun was juis aangedui as die teken van
sy verlossingswerk. So kon Maria die dinge by mekaar sit –
hulle in haar hart oordink. Die algehele prentjie kon so
duideliker vir haar word. Dit wat sy van die herders hoor vul aan
en verduidelik dit wat sy self reeds gehoor het. Sy kon des te
meer oortuig word van die goddelike heerlikheid van haar seun,
ten spyte van sy voorkoms.

So het Maria met aandag geluister en dit in haar geheue gebêre.
En dit alles vir jou en my. Jare later kon sy vir Lukas, die
outeur van hierdie Bybelboek, volledig vertel wat alles gebeur
het, sodat ons ook die feite en boodskap van Christus se geboorte
kan weet.

Dit was Maria se reaksie op die boodskap: sy het dit bewaar en
het dit later oorgedra sodat jy en ek dit sou kon hoor en lees.

Hoe het die ander mense wat die boodskap van die herders
gehoor het gereageer? Ons lees dat hulle verwonderd was oor wat
deur die herders aan hulle vertel is. Dit in sigself is reeds
opvallend. Wie gaan en luister nou vir herders van alle mense. En
dan heeltemal na so ’n verhaal! Maar die mense het met
belangstelling geluister vir die herders. En hulle was verwonderd.
Wat beteken dit alles? Iets buitengewoon het hier gebeur!

Geliefdes, ons weet nie of hulle iets met die boodskap gedoen
het nie. Wat ook al die geval mag wees, die getuienis van die
herders was nie sonder uitwerking nie. God het self die weg
gebaan vir die boodskap van Christus se geboorte.

Laastens lees ons dat die herders teruggegaan en God
verheerlik en geprys het oor alles wat hulle gehoor en gesien het.
Dit bring ons by die derde gedagte: die herders verheerlik God.

Geliefdes, let op die woorde wat hier gebruik word: eerstens
die woord God "verheerlik." Hierdie woord is verwant
aan die eerste woord van die engelelied: "Ere aan God."
Die engele sing: "Ere aan God in die hoogste hemele."
Hulle dui aan dat ons verhewe God alle eer en heerlikheid besit
en dat dit erken moet word. Hierdie lied dui so ook aan dat ons
mense God in sy eer moet herken en hom vereer en verheerlik.

Nou beantwoord die herders daardie oproep. Hulle keer terug en
verheerlik God. Hulle gee aan God al die eer. Hy verdien alle eer.
Want ons verlossing en ons Verlosser kom van Hom. Hy het ’n
horing van heil opgerig. Aan Hom kom alle eer toe. Dit is wat die
herders doen as hulle terugkeer. Hulle gee aan God alle eer vir
sy groot werke van verlossing – ja vir alles wat hulle
gehoor en gesien het. God word verheerlik en gedank as die
oorsprong en outeur van die verlossing. So mag ’n mens
gedurende die herdenking van Christus se geboorte geen ander gode
voor God hê nie. Alle eer koms slegs aan God toe.

Deur God te verheerlik gee die herders dus ag op die oproep
van die engele. Hulle – die kinders van God – laat
hulself onderrig deur die diensknegte van God.

Bowendien, sluit hulle hulle aan by die diensknegte se
lofprysing. Die tweede woord wat gebruik word: hulle het God
geprys, is dieselfde woord as wat vir die engele in vers 13
gebruik word: "En skielik was daar saam met die engel ’n
menigte van die hemelse leërskare wat God prys." Die
kinders van God volg die diensknegte van God in hul lofprysing
van God. Die diensknegte stel die voorbeeld. Die kinders volg
daardie voorbeeld. Hemel en aarde verenig in die lofprysing van
God.

Die apostel Johannes het ’n vervolg hiervan gesien in
Openbaring 5. Daar sien ons dat die engele, die 4 lewende wesens
en die 24 ouderlinge (verteenwoordigers van die skepping en van
die mensdom) rondom die troon van God verenig is en lofsing tot
eer van Hom wat op die troon sit en van die Lam.

By Christus se geboorte sien ons reeds die vereniging van die
engele en die mense in die lofprysing van God. Die herders neem
die engelelied oor.

En wanneer loof hulle God? Hulle doen dit as hulle terugkeer
na hul skape. God wil deur ons geprys word waar ons ook al is.
Daar is geen plek wat vir Hom minderwaardig is nie. Lofprysing is
nie slegs bedoel vir binne die kerkgebou nie. God wil orals ons
lof ontvang – in ons daaglikse lewe en in ons werkomgewing.
Op die veld, by die werkplek, in die kantoor, in die winkel, op
die bouterrein, in die kombuis, op die pad, waar ook al jy
jouself bevind of waar ook al jy gaan.

Geliefdes, bewys ons God sulke prys? God gee nie sonder rede
vir ons die blye boodskap van Christus se geboorte nie. Hy wil
geprys word. Hy wil die vrugte van sy Seun se geboorte sien.

En, geliefdes, as die herders reeds kon sing by daardie
nederige begin, hoeveel te meer sal ons vandag kan sing. Want ons
het die vervolg van Christus se geboorte gesien: Goeie Vrydag,
Paasdag, Hemelvaart, Pinkster. Ons mag Jesus ken as die verhewe
Here aan Vader se regter hand. Sou ons dan stil kan bly? Nee tog!
Laat ons herdenking van Christus se geboorte ons lei tot groter
lofprysing van God. Lof wat ons gehele lewe deurtrek. Lofprysing
met ons harte en lippe. Want ons gebore Verlosser het gesterwe en
lewe. Hy regeer en sal op die wolke terugkom.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)