Jesus begin om sy heerlikheid aan sy dissipels te toon op 'n bruilofsfees

Predikant: 
Ds AJ de Visser
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-02-02
Teks: 
Johannes 2
Preek Inhoud: 

Johannes 2:1-11

Jesus begin om sy heerlikheid
aan sy dissipels te toon op 'n bruilofsfees

Ds. A.J. de Visser - Sondag 02-02-2003

Liturgie (oggend): Psalm 24:1,4,5 / lesing van
die wet / Ps. 24:2,3 / gebed / Skriflesing / kollekte en sing Ps.
23 / preek / Ps. 145:1,2,3 / gebed / Ps. 68:9,15,16

(aand: vervang wetslesing met geloofsbelydenis,
en Ps. 24:2,3 met Ps. 65:3,4)

Geliefde gemeente van die Here Jesus Christus,

Soos u weet, is eerste indrukke belangrik. Daar is 'n gesegde
wat lui: Die eerste indruk wat jy van iemand kry, is gewoonlik
die regte een.

So is ook iemand se eerste optrede belangrik. As daar 'n nuwe
staatspresident is, word daar met belangstelling gekyk na sy
eerste optrede. Wat sê hy in sy eerste toespraak? Hoe hanteer hy
die eerste krisis waarmee hy te doen kry? Die eerste optrede gee
naamlik 'n indruk van watter tipe president hy gaan wees. Dit
stel 'n trend vir die res van sy ampsperiode.

Ons teks vertel vir ons van 'n wonder wat die Here Jesus
gedoen het, en daar word vermeld dat dit die eerste teken was wat
Hy gedoen het (vers 11). Daar word ook genoem dat Hy deur hierdie
teken sy heerlikheid geopenbaar het, en dat sy dissipels in Hom
geglo het.

As 'n mens die verhaal lees, is dit duidelik dat die Here
Jesus hierdie teken veral vir sy dissipels gedoen het (natuurlik
ook vir ons, want dit is in die Bybel opgeteken, maar tog in die
eerste plek vir sy dissipels). Die meeste mense wat op die
bruilof aanwesig was, het niks van die wonder gesien nie. Slegs
die mense in die kombuis, en Jesus se dissipels, het geweet
watter wonder hier plaasgevind het.

Dat die fokus hier op die Here se dissipels is, word ook
duidelik gemaak deur die heel eerste woorde in die teks. "En
op die derde dag…" As 'n verhaal op so 'n manier begin,
moet ons vra: Op die derde dag van wanneer af?

As 'n mens dan teruggaan na hoofstuk een, is dit opvallend dat
daar elke keer 'n tydsbepaling gegee word in verband met die
roeping van die eerste dissipels. Kom ons kyk gou daarna.

Vers 29: Die volgende dag sien Johannes Jesus na
hom toe kom, en hy sê vir sy eie dissipels: Daar is die Lam
van God wat die sonde v.d. wêreld wegneem.

Vers 35: Die volgende dag het Johannes weer daar
gestaan en Jesus sien kom, en hy het weer gesê: Daar is die
Lam van God. En toe het twee van Johannes se dissipels Jesus
gevolg, o.a. Andreas die broer van Simon Petrus.

Vers 44: Die volgende dag… het Jesus Filippus
geroep, en die het op sy beurt Natanael na die Here gebring.

En dan hoofstuk 2:1 En op die derde dag was daar 'n
bruilof te Kana, en Jesus was ook daar.

Iemand het daarop gewys dat, as 'n mens die dae mooi bymekaar
tel, jy 'n volle week het, en dat Jesus sy eerste wonder derhalwe
op die sewende dag gedoen het. Dit gee dan ekstra betekenis aan
hierdie wonder. Jesus bring vreugde en rus vir mense op aarde. Hy
is die Messias wat die mense in die nimmer-eindigende sabbatsrus
laat ingaan.

Dit mag wees dat 'n mens op hierdie manier darem teveel in die
opeenvolging van dae inlees, maar die feit bly staan dat Johannes
wil hê dat ons die eerste wonder moet sien in die lig van dit
wat voorafgaan, naamlik die roeping van die dissipels. Deur sy
eerste teken wil die Here vir sy nuwe dissipels wys wie Hy is en
wat Hy kom doen.

Dit is goed om hier in gedagte te hou dat die dissipels dalk
verwagtings gehad het wat heeltemal skeef was. 'n Hele paar van
Jesus se dissipels het aanvanklik vir Johannes die Doper gevolg.
Johannes die Doper het 'n asketiese lewe gelei in die woestyn. Sy
optrede is gekenmerk deur die verwagting van die koms v.d.
Messias, en die voorbereiding daarop. Johannes het opgeroep tot
bekering. Hy het homself ver gehou van wyn en van ander vorme van
aardse genot.

Nou kom Jesus en Hy is meer as Johannes. 'n Mens kan jou goed
voorstel dat die dissipels verwag het dat Jesus nog meer asketies
sou wees as Johannes. Niks wyn nie. Niks lekker eet nie. Niks
vreugde nie. Boetedoening en berou! Heiligheid! Hou jouself ver
van die verdorwe wêreld!

Maar dan kom Jesus en Hy is heeltemal anders as Johannes. Hy
vat sy leerlinge nie na die eensaamheid van die woestyn toe nie,
Hy neem hulle ook nie kerk toe om daar sy eerste teken te doen
nie, nee, Hy neem hulle na die lawaaierige drukte van 'n bruilof,
en daar doen Hy sy eerste teken. Midde in die gewone lewe, by 'n
geleentheid waar daar vreugde en jolyt is, daar toon Jesus vir
die eerste maal sy heerlikheid aan sy dissipels.

Tema: JESUS BEGIN OM SY HEERLIKHEID AAN SY DISSIPELS TE TOON
OP 'N BRUILOFSFEES

Kom ons kry eers vir onsself 'n beeld van wat presies gebeur
het.

Daar is 'n bruilof in Kana, 'n klein dorpie in Galilea, naby
Nasaret. Natanael, een van die dissipels, het daar gewoon.

Maria, die moeder van Jesus, was daar. Hoekom weet ons nie. Of
sy familie was van die bruidegom of die bruid, of dat sy maar net
een van die vroue was wat in die kombuis gehelp het, weet ons nie.
Dit is blykbaar nie belangrik nie.

Dan hoor ons dat Jesus met sy dissipels ook daar opdaag. Of
daarvoor 'n besondere rede bestaan het, weet ons ook nie. Al wat
ons weet is dat Jesus na die bruilof genooi is, saam met sy
dissipels.

Verder is daar geen inligting oor die bruilof nie, behalwe dat
daar wyn gedrink is en dat daar soveel wyn gedrink is dat die wyn
klaar raak. Die vroue in die kombuis raak paniekerig. Die wyn is
klaar! Dit gaan skandes afgee. Kan jy jou indink hoe daar in die
dorp geskinder gaan word oor hierdie bruilof? Dit is 'n groot
skande as daar nie genoeg kos of wyn op 'n bruilof is nie. Maria
dink aan 'n oplossing. Die winkels is reeds gesluit. Wie kan
help?

Natuurlik dink sy aan haar oudste seun Jesus. Waarskynlik was
Jesus in hierdie stadium die broodwinner in die gesin (die
aanduidings is dat Josef reeds oorlede is). Hy moes vir sy ma 'n
steunpilaar gewees het, en in hierdie krisis-oomblik kom sy by
haar seun in die hoop dat hy 'n oplossing weet. "Hulle het
geen wyn nie," fluister sy in sy oor.

Dan antwoord Jesus haar met woorde wat deur die eeue heen vrae
opgeroep het, vanweë die feit dat Jesus se antwoord so hard en
afstandelik klink: "Vrou, wat het Ek met u te doen? My uur
het nog nie gekom nie."

Hoe moet ons hierdie woorde van Jesus verstaan? Is Hy dan nou
lelik met sy ma, of wat beteken dit? Wel, in die eerste plek is
dit goed om te weet dat in die Grieks die woord vir ‘vrou’
nie so afstandelik klink soos wat dit in Afrikaans klink nie. Dit
klink effens sagter. In die tweede plek kan ons hoofstuk 19:26
ook hierby betrek. Dit is die enigste ander plek in die Johannes-evangelie
waar Jesus sy ma as ‘vrou’ aanspreek. "Vrou, daar
is u seun!" Dit sal duidelik wees dat die aanspraak ‘vrou’
nie uitsluit dat Jesus hierdie vrou, sy moeder, ook liefhet nie.
Hy het haar lief, en tog skep Hy deur die gebruik van die woord
‘vrou’ in plaas van ‘moeder’ baie duidelik 'n
sekere afstand.

Die beste verklaring is om te sê dat Jesus vir sy ma wil
duidelik maak dat Hy sy ampswerk as verlosser begin het, en dat
Hy in sy rol as Messias nie deur sy ma se bevele en
versoeke gelei mag word nie, maar slegs deur die opdrag van sy
Vader in die hemel. Toe Hy nog by die huis was, was Hy sy ma se
seun en was hy gehoorsaam. Hy het gedoen wat sy ma vir hom gesê
het. Maar nou dat Hy sy werk as Messias begin het, moet sy ma
terugstaan. Jesus moet nou die roeping vervul wat sy hemelse
Vader vir hom gegee het.

Hierdie woorde van Jesus beteken nie dat Hy weier om te help
nie. Dit beteken wel dat Hy, as Hy help, dit nie sal doen omdat
sy ma dit wil hê nie, maar omdat sy hemelse Vader dit wil hê.
Dit word ook duidelik uit die woorde wat daarna volg: "My
uur het nog nie gekom nie." Die merkwaardige feit is immers
dat Jesus sê dat sy uur nog nie gekom het nie, en dat hy 'n paar
minute later tog help.

Daar is meer sulke gevalle in Jesus se lewe. In Johannes 7
lees ons dat Jesus se jonger broers vir Hom gesê het: Gaan 'n
bietjie na Judea toe en doen jou wonders daar in Jerusalem. Dan
antwoord Jesus hulle en sê: "My tyd is nog nie daar nie.
Gaan julle maar na hierdie fees. My uur het nog nie gekom nie."
Die merkwaardige feit is dat Jesus kort daarna tog na Jerusalem
gaan, nie openlik nie, maar in die geheim.

Dit illustreer dat Jesus sy agenda nie kan laat bepaal deur
wat sy moeder of sy broers wil hê dat hy moet doen nie. Hulle
het geen ekstra seggenskap oor hom bloot vanweë die feit dat
hulle familie is nie.

'n Mens kan dit vergelyk met daardie ander gebeure wat in
Lukas 8 beskryf word, toe Jesus se moeder en sy broers kom wou
kom sien. Toe het Jesus gesê: "My moeder en my broers is
die wat die woord van God hoor en dit doen."

As Jesus dus by hierdie bruilof vir sy ma sê: "Vrou, wat
het Ek met u te doen?" moet ons dit so verstaan dat Hy vir
haar wil verduidelik dat Hy in sy amptelike werk nie meer deur
haar wense gelei kan word nie.

En ons moet ook onthou dat ons nie weet hoe Jesus se stem
geklink het toe Hy dit vir sy ma gesê het nie. Ek sou dink dat
Jesus, as iemand wat vol van genade en waarheid is, hierdie
moeilike woorde tog op 'n liefdevolle manier vir sy ma gesê het.
Dit is tog ook opvallend dat dit nie lyk asof Maria geskok was
nie. Sy verstaan blykbaar die boodskap en sê dan rustig vir die
kelners: "Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle doen."

Uit die vervolg blyk dan ook dat Jesus nie onwillig is om te
help nie. Dit klink asof Hy inisiatief neem. Hy roep die kelners
en vra hulle om die waterkanne vol te maak. Dit was groot
klipkanne, van omtrent 100 liter elk, en daar was ses van hulle.
Hierdie kanne was by die ingang geplaas sodat die mense volgens
die Joodse reinigingsgebruike kon hande was voor die maaltyd.

Die kelners maak die kanne vol tot by die rand. Daar is in
totaal 600 liter water. Dan sê Jesus: "Skep 'n bietjie en
bring dit vir die seremoniemeester." Die wonder self word
nie beskryf nie, maar die resultaat is duidelik. As die
seremoniemeester proe, is hy uit die veld geslaan. Dit is
heerlike wyn! En die kelners is nog meer verbaas: Hulle hardloop
terug om in die groot kanne te gaan kyk, en werklik waar: dit is
nie meer water nie maar wyn.

Die seremoniemeester is so verbaas dat hy die bruidegom roep
om te vra hoekom hy hierdie heerlike wyn nie eerste gegee het nie.
Die Joodse gebruik was blykbaar dat 'n mens begin met die beste
wyn, en as die mense goed gedrink het en hulle wil nog drink, dan
gee jy vir hulle die goedkoper wyn. Ouens wat goed gedrink het,
gee in elk geval nie meer om hoe die wyn proe nie, solank dit wyn
is. Maar op hierdie bruilof verloop sake nou agterstevoor. Die
beste wyn kom laaste, en die bruidegom moes self verbaas gewees
het oor die toedrag van sake.

Dit is die verhaal. En dan kom vers 11: "Hierdie eerste
een van sy tekens het Jesus te Kana in Galilea gedoen; en Hy het
sy heerlikheid geopenbaar, en sy dissipels het in Hom geglo."

Ons kom dan nou by die vraag op watter manier Jesus se
heerlikheid aan sy dissipels getoon het. As hierdie wonder 'n
teken is, wat is dan die boodskap daarin? 'n Teken is immers 'n
wonder met 'n simboliese meerwaarde. Daar sit 'n boodskap in.

By my voorbereiding vir hierdie preek, het ek 'n preek van
Maarten Luther oor hierdie selfde teks gelees. Luther se preek
het drie dele.

In die eerste plek meen Luther dat die Here hier vir ons leer
dat hy die huwelik hoog ag. Hy woon 'n bruilofsfees by en Hy is
nie skaam om met vrolike bruilofsgaste te verkeer nie. Luther sê
dit veral teenoor die RK Kerk wat beweer dat geestelikes nie mag
trou nie.

In die tweede deel praat Luther op 'n dierbare manier oor die
geloof van Maria wat ondanks die skynbaar harde antwoord van
Jesus tot op sy goedheid bly vertrou. Tegelyk is dit ook weer
antiteties teenoor die RK Kerk wat immers vir Maria 'n spesiale
plek gee. Luther wys daarop dat ook Maria slegs deur geloof in
Jesus kan lewe.

In die derde plek verklaar Luther die verhaal verder op 'n
allegoriese manier. Dit beteken dat hy aan elke onderdeeltjie 'n
geestelike betekenis gee. Die bruidegom en die bruid, meen
Luther, staan vir Christus en sy gemeente. Die ses waterkanne,
meen Luther, staan vir die wette van Moses wat die mens slegs
uiterlik kan rein maak. Die wyn staan vir die evangelie van die
nuwe verbond. Die kelners is die verkondigers van die evangelie.
Die seremoniemeester wat nie weet waar die wyn vandaan kom nie,
staan vir die Joodse leiers wat leraars is en tog die geestelike
dinge nie verstaan nie. Ensovoorts.

Ons sal Luther in sy verklaring nie volg nie. Hy was 'n kind
van sy tyd en hy het hierdie teks gebruik in die stryd wat hy in
sy dae moes stry.

Maar hoe sal ons dan ons teks verstaan? As hierdie wonder 'n
teken is, wat is die boodskap daarvan, al of nie verborge?

Kom ons neem ons uitgangspunt in vers 11: Hy het sy
heerlikheid geopenbaar. Die woord ‘heerlikheid’ is 'n
baie belangrike woord hier.

Daardie woord is in hoofstuk 1, die inleidende hoofstuk,
dikwels genoem. In hoofstuk 1:14 byvoorbeeld: "En die Woord
het vlees geword en het ons ons gewoon – en ons het sy
heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat
van die Vader kom – vol van genade en waarheid."

Hier kry ons 'n nadere bepaling van die heerlikheid van die
Here Jesus: dit is vol van genade en waarheid. Die woord ‘genade’
is baie belangrik hier.

Dit lyk ook verder in hoofstuk 1. Vers 16 byvoorbeeld: "En
uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade."

So is daar dan 'n aantal kernbegrippe in Johannes se evangelie:
heerlikheid, volheid, genade. Hierdie begrippe word in die eerste
wonderteken van Jesus in Kana op 'n simboliese manier geopenbaar.
As Jesus op die bruilof te Kana water in wyn verander, dan
openbaar Hy aan ons sy heerlikheid, en die oorvloed van sy genade.

Kom ons kyk dan nog 'n keer na 'n paar aspekte van wat Jesus
doen op die bruilof te Kana, en dan probeer ons die genade-boodskap
daarin raaksien. As 'n mens mooi kyk na hierdie gebeure, dan is
dit genade op genade, maar – op 'n simboliese manier
verwoord.

Die eerste aspek wat ons sien, is die feit dat die Seun van
God een van die gaste is by 'n bruilofsfees. Sien jy Hom daar sit
tussen al die mense? Probeer maar om vir jouself 'n voorstelling
te maak daarvan. Daar is baie mense, daar is tafels met voedsel
en drank, daar is 'n vrolike stemming, daar word selfs op die
Joodse manier gedans ook. En dan tussen al daardie mense sit ook
die Here Jesus daar met sy dissipels. 'n Mens kan jou voorstel
dat Hy daar sit op een van die banke by die tafel, dat Hy gesels
met die mense en dat Hy deelneem aan die lewe van die mense in
daardie dorp.

Dit is wat Johannes in hoofstuk 1:14 skryf: "Die Woord
het vlees geword en het onder ons gewoon…" Net soos wat
God in die ou verbond onder die volk gewoon het in die
tabernakel, tussen die mense, so is nou ook die Seun van God
tussen sy mense.

Is dit nie genade nie? Dit was ongetwyfeld 'n baie
uiteenlopende geselskap op daardie troue, wisselend van opregte
gelowiges tot mense wat te diep in die bottel kyk ensovoorts.
Maar dit is die mense vir wie die Seun van God mens geword het.
Nie omdat hulle so heilig is nie, maar omdat hulle 'n verlosser
nodig het.

Ek sou wil sê: Kyk na jou verlosser daar tussen al daardie
mense en al die dinge wat hulle aanvang. Besef dat Hy ook van jou
lewe wil deel wees. Hy sou nie omgee om in jou kombuis in te kom
en met jou te gesels terwyl jy besig is om kos te maak nie. Hy
sou nie omgee om in jou garage te kom kyk as jy besig is om jou
kar reg te maak nie.

Miskien sal iemand die vraag wil stel: Maar kan ons regtig sê
dat die Here nog onder ons woon? Hy het tog opgevaar na die
hemel? Ja, dit is waar, maar die Here het by sy hemelvaart
duidelik gesê: "Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die
voleinding van die wêreld." En bowendien het Hy vir ons die
Trooster gestuur, die Heilige Gees, sodat ons altyd op God se
genadige aanwesigheid kan staatmaak.

Die Woord het vlees geword en onder ons gewoon. Inderdaad, uit
sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.

'n Tweede aspek waarin ons Jesus se heerlikheid sien, is
natuurlik in die feit dat Hy sy almag aan ons openbaar en ook dat
Hy sy mag gebruik om genade aan mense te betoon.

Jesus het die mag om water in wyn te verander. Dit beteken
niks minder nie as dat Hy beskik oor skeppings-mag. Dieselfde mag
waarmee God destyds hemel en aarde geskep het, daardie mag het
Jesus ook tot sy beskikking, want Hy is die Seun van God.

Ons ken hierdie verhaal nou lankal, so ons weet van die water
en die wyn. Maar op sy dissipels moes dit 'n enorme indruk gemaak
het. Hulle was doodseker dat daar gewone water in daardie groot
kanne was, en skielik is dit nie meer water nie maar wyn. As jy
van soiets getuie is, moet dit net eenvoudig verbysterend wees.

Die genade daarin is dat die Here Jesus sy almag gebruik om 'n
doodgewone menslike probleem te verlig. Die wyn was klaar. Hoekom
weet ons nie. Het mense teveel gedrink? Het daar meer gaste
opgedaag as wat verwag is? Of was die bruidegom te suinig en het
hy te min wyn gekoop? Ons weet nie. Maar wie ook al 'n fout
gemaak het, die Here sien die probleem raak, Hy besef die
verleentheid wat dit kan veroorsaak, en Hy sorg net eenvoudig dat
daar weer genoeg wyn is.

'n Mens is geneig om te vra of dit nie 'n bietjie snaaks is
dat die Here hom besig hou met sulke triviale goed soos
wynvoorrade nie. Moes Hy nie eerder besig weer om mense te verlos
van hulle sondes nie? Wel, blykbaar is dit vir die Here self nie
'n teenstelling nie. As een ding duidelik is dat is dit dat die
Here die mense hulle vreugde gun. Die Here se bedoeling is dat sy
kinders 'n voorspoedige en gelukkig lewe lei. As gevolg van die
sonde is daar allerhande kommer en kwel in die lewe, maar God se
bedoeling is tog om dit weer te herstel na sy oorspronklike
bedoeling.

Onthou dit maar, broeders en susters: Die Here gee graag, nie
net vergewing nie, maar ook alledaagse gawes. Op ons gebed gee Hy
elke dag ons daaglikse brood, en Hy sit ook graag 'n glas wyn
daarby. Hy gee nie om om ook ons feeste te seën nie. En as ons
soms deur ons eie skuld in groot probleme kom, is Hy genadig en
bewaar ons daarvoor dat ons al te swaar gestraf word. Waar daar
siekte is, gebruik die Here sy almag om genesing te gee.

Ons wil hier nie goedkoop praat nie. Nie alles kom reg in
hierdie lewe nie. Die een sieke word genees, die ander een nie.
Die Here se besluite is hoër as ons gedagtes. Die groot ding is
dat ons Hom wel altyd moet bly vertrou en altyd na Hom toe moet
gaan.

In hierdie verband gee Maria, die moeder van Jesus, ons die
goeie voorbeeld. Ek wil vir u 'n aanhaling voorlees uit die preek
van Maarten Luther waarna ek verwys het.

Ek haal aan: "Laat ons oplet hoe die Here se moeder
optree and hoe sy hierin ons leraar word. Hoe hard sy woorde ook
al klink, hoe onvriendelik Hy ook al voorkom, sy interpreteer dit
in haar hart nie as afwysing nie, maar sy hou vas aan die
oortuiging dat Hy liefdevol is, en sy weier om hierdie oortuiging
prys te gee vanweë die skok wat sy ervaar het. Sy wil Hom in
haar hart nie onteer deur anders van Hom te dink as dat Hy
liefdevol en genadig is nie."

'n Derde aspek waarin ons die Here se heerlikheid en genade
sien, is geleë in die feit dat Hy die reinigingswater neem en
dit verander in wyn. Daar is iets van 'n simboliek daarin. Die
Here kon immers ook gewoon gesorg het dat die wynkanne skielik
weer vol raak of soiets. As jy die Skepper se Seun is, is daar
baie maniere om wyn te maak!

Maar Jesus doen iets baie spesiaals. Hy gebruik die klipkanne
wat die reinigingswater bevat, die water wat nodig is vir die
reinigingsvoorskrifte van die wet. Met ander woorde, Hy neem iets
van die ou bedeling, en verander dit van karakter.

Sien u die simboliek daarin? Jesus illustreer hiermee iets wat
ons uit die verdere ontwikkeling in sy bediening baie goed weet:
Hy het gekom om die beloftes van die ou verbond te vervul. Dit
illustreer ook dat die nuwe bedeling soveel ryker is as die ou
een, net soos wat wyn ryker is as water. Dit illustreer die
woorde van hoofstuk 1:17 "Want die wet is deur Moses gegee;
die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom."

So sien ons in die klein detail van die reinigingswater wat
gebruik word alreeds 'n belofte van wat gaan kom: Die ou verbond
met al sy bepalings gaan vervul word in die nuwe verbond wat
soveel ryker is.

'n Vierde aspek waarin ons die Here se heerlikheid en genade
sien, is geleë in die feit dat dit baie goeie wyn is wat
Hy vir die mense gee. Die wyn is so goed dat dit die seremonie-meester
se oë laat rek en dat hy die bruidegom daaroor aanspreek. Hulle
is verwonderd oor hierdie wyn wat so lekker op die tong val.

Hiermee saam is dit ook betekenisvol dat Hy so baie wyn
vir die mense maak. Dit is nie maar 10 of 20 bottels wat Hy
volmaak nie, nee, daar is skielik seshonderd liter wyn ekstra.
Dink jou in hoeveel bottels wyn 'n mens daarmee kan volmaak! Hier
is genoeg wyn vir 'n hele week se bruilofsfees.

Ook hier is daar simboliek.

Goeie wyn: Dit staan vir die goedheid van die koninkryk van
God wat Jesus besig is om te vestig. Baie wyn: Dit staan vir die
oorvloed en die volheid van die goeie gawe in die koninkryk van
God.

In daardie koninkryk, het Jesus later vir sy dissipels gesê,
sal hulle eendag die wyn nuut drink. Daar is 'n belofte van 'n
ewige, ryke lewe op die nuwe aarde, saam met Christus.

Maar die goeie wyn in Kana is meer as 'n belofte van goeie wyn
op die nuwe aarde. Die goeie wyn in Kana is ook simbolies vir die
oorvloedige goedheid van die lewe nou reeds in die verbond, saam
met Christus, en in die krag van die Heilige Gees. Die gawes van
die nuwe verbond is so ryk. Die genade is meer, die vreugde is
meer, die band met Christus is daar, die Heilige Gees werk in
alle gelowiges.

Ja, dit is nie sonder betekenis dat die Here daar in Kana goeie
wyn maak en dat Hy baie wyn maak nie. Die Here is nie
suinig met sy seëninge nie. Dit sê vir sy dissipels dat almal
wat in Hom glo en in gemeenskap met Hom lewe, 'n ryk en vol lewe
sal smaak.

Die vyfde en laaste aspek waarin ons die Here se heerlikheid
sien, is die feit dat daar geloof groei by sy volgelinge. In die
eerste plek by Maria, Jesus se moeder, wat ondanks die oënskynlike
harde antwoord van Jesus tog vas bly vertrou op sy goedheid. In
die tweede plek ook sy dissipels. Vers 11: "… en sy
dissipels het in Hom geglo."

Dit was allermins vanselfsprekend. Die Here het sy eerste
wonderteken – ook verbasingwekkend dit ook al was – tog
op 'n manier in die verborgene gedoen. Ons teks vestig nog 'n
keer ekstra ons aandag daarop deur in vers 11 te sê dat die Here
hierdie wonderteken in Kana in Galilea gedoen het. Nie in
Jerusalem nie. Nie in Rome nie. Maar in Kana, 'n klein en
onaansienlike plekkie, soiets soos Pofadder in die Noordkaap.

Dit was die Here se styl. Aan die een kant doen Hy
wondertekens wat sy heerlikheid toon, maar aan die ander kant
doen Hy dit op 'n afgeleë plek, tussen gewone mense. Is hierdie
man werklik die beloofde Messias?

Ja, deur God se genade ontstaan daar rondom Jesus 'n groep van
mense wat in Hom glo. Dit is slegs enkeles in hierdie stadium,
maar dit sal groei tot 120 by Jesus se hemelvaart, en 3000 op die
Pinksterdag, en tot miljoene vandag.

In hierdie verband dink 'n mens aan die woorde van hoofstuk 1:12-13
"Almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om
kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie
uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n
man nie, maar uit God gebore is."

As die Here genade gee, sorg Hy self dat daar ook mense is wat
hierdie genade met 'n gelowige hart ontvang.

Dit was dan Jesus se eerste wonder, sy inaugerele wonder. Dit
is nog simbolies tot 'n groot mate. Baie dinge sal duideliker
word namate Jesus verder werk onder die volk. Maar hierdie wonder
het alreeds die trend gestel. Jesus het gekom om vir ons genade
op genade te bring, blydskap en vreugde, volheid van lewe.

Wat sê u, broeders en susters. Wat is die eerste indruk van
hierdie man, Jesus van Nasaret? Ek weet nie van u nie, maar wat
my betref kan ons hierdie man vertrou om vir ons genade op genade
te gee.

En daardie wyn wat Hy vir ons gee, dit smaak vorentoe, dit
smaak na meer.

Amen

Liturgie: 

(kyk in preek)