In die erediens nader ons die hemelse Jerusalem.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-02-15
Teks: 
Hebreërs 12
Preek Inhoud: 

Hebreërs 12:22-24

Ds C Kleyn - Sondag 15 Februarie 2004

Lees: Deuternómium 5:22-31; Hebreërs 12:18-29.
Sing: Ps 81:1,2; Ps 24:2,3; Ps 132:9,10; Ps 87;
SB 8:2-5.

Tema: In die erediens nader ons die hemelse Jerusalem.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe sien julle die erediens? Hoe beleef julle die erediens? Jy
sien daar al die mense voor jou. Dit lyk soms wel na ’n
klein menslike gedoe. Wat ’n tekortkomings en gebreke. Wat
’n sondes. En tog kom jy elke week met dieselfde klomp mense
saam. Sou dit jou nie benoud maak nie? Dit kan veral gebeur as jy
lid van ’n klein gemeente is. Jy het reeds so lank met
mekaar opgetrek. Jy ken mekaar of mekaar se familie van jare
terug. Dit kan dit soms moeilik vir jou maak om as volwaardige
lidmaat aanvaar te word, om jouself daar tuis te voel. Waar mense
by mekaar kom is daar ook allerlei menslike struikelblokke.
Wanneer jy dan tydens die eredienste slegs na mense kyk, dan kan
dit jou die moed ontneem. Bowendien is die eredienste so gewoon,
so voorspelbaar, so sober.

Maar, broeders en susters, is die kerk maar net ’n
versameling mense? Hoe kom ons mense hier in die kerk by mekaar?
Het ons saam ’n vereniging opgerig? Het ons mekaar
uitgesoek? Die vergadering van die kerk bly die werk van ons Here
Christus. Deur sy woord en Gees trek Hy ons na God se woonplek:
die hemelse Sion. Die kerk is immers ’n woning van God in
die Gees (Ef 2:22).

Ja, gemeente, die Here gooi vir ons die vensters oop. Ons sit
hier nie op onsself, opgesluit binne vier mure nie. Met ons
eredienste staan ons in ’n geweldige ruimte. Daar is baie
meer as wat jy sien en hoor. Ons is regstreeks verbind met God se
hemelse paleis, met Sion, die hemelse sentrum van alle liturgie.
Die Here bevry ons van sondige menslike bekrompenheid, en
kortsigtigheid. Asof die evangelie slegs na ons gekom het of by
ons begin het. Die hemel gaan vir ons oop, ons is deel van die
hemelse geselskap van heiliges en engele.

Ons lees in ons teks: "Maar julle het gekom by die berg
Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem."
Dit in teenstelling tot die OT iese Sinaibedeling wat in die
voorgaande verse beskryf word. Hoeveel ryker is ons in hierdie
nuwe bedeling. By die Sinai het die Here homself geopenbaar in
onweer, donderslae en weerlig. Daar het rook van die berg
opgegaan en die hele berg het gebeef. Dit was ’n
skrikwekkende openbaring. Sodat selfs Moses gesê het: "ek
is verskrik en ek sidder."

Wat ’n verskil met ons situasie vandag. Wie glo, het nie
gekom tot ’n berg wat fisies aangeraak kan word en met die
voete betree kan word nie. Ons het gekom by die hemelse Sion. Die
Israeliete in die woestyn wat by die berg Sinai gekom het, was
nog onderweg. Hulle het die land van die rus nog nie bereik nie.
Daar op die berg Sinai is die wet afgekondig en voorskrifte gegee
vir die diens van die versoening. Met die berg Sion, in
Jerusalem, is dit anders. Dit is in die land van die rus. Dit is
dus baie meer as die Sinai. Daar is eeuelang ontelbare offers
gebring wat op versoening van die skuld gewys het. En in die
allerheiligste het die Here in ’n wolk getroon bo die
versoendeksel.

Maar die hemelse Sion is nog baie meer as die aardse Sion. Op
Goeie Vrydag kon die tempel gesluit word en die offerdiens
gestaak word. God self het die voorhangsel laat skeur. In ons
kerksaal word nie meer geoffer nie. Daar is geen altaar meer nie,
maar ’n preekstoel. ’n Preekstoel om Jesus Christus en
Hom as gekruisigde te verkondig. Die prediking van die versoening
is nou die vervulling van Sinai en die OT iese Sion. Die
pinksterpreek is duisendmaal meer as die skaduagtige offers. Die
preek verkondig immers die offer wat alle offers vervul het.

Gemeente, die meerdere van die hemelse Sion, lê ook hierin
dat ons werklik tot God mag nader. By die OT iese Sinai het die
volk op ’n afstand gestaan, aan die voet van die berg. Net
Moses mog die berg opklim en tot God gaan. Die berg was afgeset.
Dit was verbode toegang. Niemand het ook durf naderkom, so
skrikwekkend was God se verskyning. Op die Sion in Kanaän is dit
later nie veel beter nie. Seker, die volk mag in die voorhof van
die tempel kom, maar nie verder nie. Net die priester mag die
heilige betree. En net die hoëpriester mag eenmaal per jaar die
allerheiligste binnegaan. Daar is vooruitgang, maar daar is nog
nie die vrye en oop toegang tot God nie. Om daartoe te kom moet
die drie afdelings van die tempel tot een gemaak word. Dit gebeur
op Goeie Vrydag wanneer die voorhangsel skeur. ’n Teken dat
deur die dood van Christus almal voortaan vrye toegang tot God
het.

Daarna het dit Hemelvaart geword. Daarvan lees ons in Hebr 9:24:
"Want Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom met
hande gemaak, ’n teëbeeld van die ware nie, maar in die
hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn."
Die sentrum van ons liturgie het so te sê verhuis van die aardse
heiligdom na die hemelse heiligdom. So het Christus se Hemelvaart
’n groot verandering in ons erediens gebring. Ons het immers
nou – om opnuut die woorde van Hebreërs te gebruik - :
vrymoedigheid om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van
Jesus, op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur
die voorhangsel, dit is sy vlees (Hebr 10:19,20).

Broeders en susters, seuns en dogters, dit mag elkeen van
julle beleef, tenminste wanneer jy glo. Ons lees in ons teks:
"Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die
lewende God, die hemelse Jerusalem." Die werkwoord julle het
gekom is ’n liturgiese woord. Die werkwoordsvorm wys
daarop dat dit eenmaal in die verlede plaasgevind het, maar dat
dit vandag nog steeds effek het. Wanneer het dit dan plaasgevind?
In sekere sin kan ’n mens sê dat dit met Hemelvaart
plaasgevind het. Wat het Christus immers met sy Hemelvaart
gedoen? Hy het almal wat by Hom behoort en waarvoor Hy gesterf
het, met Hom saamgeneem as buit, as sy oorwinningstrofies. Dink
aan wat ons lees in Ef 2:5,6. Daar lees ons dat God ons saam met
Christus lewend gemaak het en saam opgewek en saam laat sit het
in die hemele in Christus Jesus. Ons het, so te sê, dus reeds
’n plek daar in die hemel saam met Christus.

’n Mens sou ook kan sê dat dit werklikheid geword het
toe ons tot geloof gekom het. Wat gebeur daar wanneer jy ’n
Christen word? Dan tree jy toe tot die berg Sion, die stad van
die lewende God. Dan word jy onmiddellik ’n burger van die
hemelse Jerusalem, wat Paulus in Gal 4:26 ons moeder noem. Jy mag
geniet van die voorregte van die burgerskap. "Want ons
burgerskap is in die hemele," sê Paulus in Fil 3:20. Dis
voortaan die sentrum van ons bestaan. En die sentrum van ons
liturgie.

Wat eenmaal in beginsel plaasgevind het by Christus se
hemelvaart en wat prakties werklikheid geword het toe ek tot
geloof gekom het, bly sy effek hou in my lewe van elke dag. Elke
keer weer is dit ’n belewenis om toe te tree tot die troon
van God. Wanneer ek vir myself of saam met ander in my binnekamer
tot God bid en die Bybel lees, dan nader ek regstreeks tot die
heilige God. Wanneer ek tot lof van God sing, dan staan ek in
direkte verbinding met die hemelse heiligdom. Dit kom nog sterker
uit in die eredienste. Wanneer ons saam kerk toe gaan, dan gaan
ons saam na die hemelse Sion, die stad van die lewende God.

Gemeente, Sion was die plek waar God gekies het om onder sy
volk te woon. Die hemelse Sion, waarvan Ps 87 profeteer, is die
stad van die lewende God. Hier is geen tydelike verskyning van
God nie, maar ’n ewige woning. Hier is geen skrikdraad nie
om ons weg te hou soos by die Sinai nie. Ons mag by God woon en
sommer na Hom toegaan. Ons leef onder ’n oop hemel. Christus
het hemel en aarde aan mekaar verbind. Daarom is die Jerusalem
hierbo een met die kerk wat Christus hier en nou vergader. Ek is
’n burger van die hemelse stad.

Die aardse Sion was ook ’n ontmoetingsplek vir God se
volk. So is die hemelse Sion die ontmoetingsplek van die nuwe
Israel. Daar klink volgens Openb 14:1 en 3 die nuwe gesang van
die honderd-vier-en-veertigduisend (dit is die kerk uit alle
volke en tale).

Dit maak die erediens so feestelik. Ook as ons maar klein in
aantal is en binne ’n klein kerkverband lewe. Ja, selfs as
daar maar twee of drie in die naam van die Here vergader is. Ons
behoort by die stad van die lewende God, by die skare wat niemand
kan tel nie van hede, verlede en toekoms. In Christus is ons met
hulle verbind, of ons hulle sien of nie. Daar is baie meer as wat
jy sien of hoor. Die geloof open ons oë vir die hemelse
werklikheid waarbinne ons lewe. Die geloof plaas jou in die
ruimte. Jy is deel van ’n feestelike menigte, ’n
ontelbare skare van mense en engele.

Die teks beskryf verder die bewoners van die hemelse Jerusalem.
Eerstens word die engele genoem: Julle het gekom by tienduisende
engele. Die hofhouding van God bestaan o.a. uit tallose engele.
Die Here word nie verniet die God van die leërskare genoem nie.
By die Sinai was daar ook engele. Maar hulle moes as gerubs die
terrein bewaak. Hulle het die skrik net vermeerder. Reeds in die
aardse Sion het die anders geword. Ps 68 praat van God se waens
wat tienduisende, duisend maal duisende is. Dit is die engele wat
vir Hom en sy volk stry. Nou is dit egter baie heerliker. Hulle
staan elke oomblik vir ons gereed. Hulle staan tot Christus se
beskikking. Hulle is almal dienende geeste wat vir diens
uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe (Hebr
1:14). Hulle hou ons nie uit die paradys nie. Hulle bring ons
juis na die paradys.

Wanneer ons in erediens saamkom dan gebeur daar geweldige
dinge. Dan tree ons toe tot daardie tallose engele. Dan word ons
omring deur liturgiese geeste wat graag betrokke is by God se
verlossingsprogram, om die heil aan die erfgename uit te deel.
Ons verkeer dan in ’n kosmiese ruimte. Daarom is die
erediens so belangrik. Stel jy voor dat ek die byeenkom sou
versuim en dit terwyl ons die dag van Christus sien nader kom (Hebr
10:25). As ek op myself wil bly en die kerk nie die plek gee wat
die Here haar skenk nie, dan beledig ek nie net die Here nie,
maar dan verskrompel ook my geloof. Die erediens met sy prediking
is geen onderonsie nie. Die engele is daarby betrokke. Die engele
stel belang in die getroue prediking van die heil. Toe God die wêreld
in sy volmaakte harmonie geskape het, was die engele daar as die
jubelende môresterre (Job 38:7). Hulle het dieselfde gebly.
Wanneer God dan onder ons sy werk van herskepping verrig, dan is
die engele ook weer daarby. Daarom kan Paulus ook sê dat ons
"ter wille van die engele" die gesagsverhoudings binne
die gemeente moet eerbiedig (1 Kor 10:11).

Broer, suster, seun, dogter, besef jy dit wel wanneer ons in
erediens saamkom? Dat ons deel is van die tallose engele van God,
wat Christus en so ook ons ten dienste staan? Is dit nie pragtig
om in geloof die engele rondom jou te sien. Die engele is daar
rondom God se troon as draers van God se lof. Hulle begelei ons
in ons lof. Ons, God se kinders, voeg ons saam met die engelekoor.
Wanneer jy dit sien sou jy nie vrolik wees en vol vertroue nie?
Maak nie saak hoe klein ons getal is, al sou jy heeltemal alleen
in die tronk sit, onthou: die wat by ons is, is meer as die wat
by ons vyande is. Vergelyk die geskiedenis van 2 Kon 6 waar die
Arameërs die stad waarin Elisa gewoon het omsingel het. Elisa se
dienaar het toe bang geword. Daarop het Elisa gesê: Vrees nie;
want die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is. Daarna
open die Here die dienaar se oë en hy sien die berg vol perde en
waens van vuur rondom Elisa.

Ons teks praat verder van die feestelike vergadering waarby
ons gekom het. Dis moeilik om te sê waar die woorde by hoort.
Sommiges sê dat dit terugsien op die engele. Die engele sou dan
in hul hemelse liturgie ’n feestelike vergadering wees.
Ander verbind die woorde by wat volg, naamlik die gemeente van
eersgeborenes. Dan sou die gemeente ’n feestelike
vergadering genoem word. Saaklik maak dit nie baie verskil nie.
In die konteks is dit duidelik dat beide die engele en die
eersgeborenes ’n feestelike geselskap is.

Wie is dan die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele
opgeskrywe is? Daarmee word kennelik die kerk op aarde bedoel.
Dit in onderskeid met die geeste van die volmaakte regverdiges
wat later genoem word. Hierdie eersgeborenes het nog nie die
volmaaktheid bereik nie. Dit wys op almal wat oor die hele aarde
die Naam van die Here aanroep. Ons aanbid die Here in
verbondenheid met alle gelowiges uit alle volke en tale. ’n
Pragtige werklikheid. Vertroostend en bemoedigend. Veral as jy
maar klein in getal en krag is. Moenie dit ooit vergeet nie.

Gemeente, ons name staan op die lidmatelys van die gemeente
van Pretoria opgeteken. Wat egter belangriker en veel mooier is,
is dat my naam geregistreer is in God se boeke, in die boek van
die lewe. As ek werklik glo, dan is dit ’n werklikheid. Dan
het God my naam daarbo genoteer. Ek is ’n burger van die
koninkryk van die hemele. Hier op aarde kan my plek bestry word,
my regte vertrap word. Maar ek het daar in die hemel burgerregte.
Geen tydelike verblyfsvergunning nie, maar volledige burgerregte.
En daar is niemand wat my naam uit die hemelse boeke kan verwyder
nie en my die burgerregte kan ontneem nie.

Hierdie gelowiges op aarde word in ons teks eersgeborenes
genoem. Soos julle weet het die eersgeborene in die ou tyd ’n
besondere plek ingeneem. Dit was die erfgenaam. So het God in die
OT Israel sy eersgeborene genoem. Christus word in die NT dikwels
die eersgeborene van die Vader genoem. In en deur Hom is ons nou
ook God se dierbare kinders en erfgename. Ons is erfgename van
God en mede-erfgename van Christus. In die lig van die OT verwys
die naam "eersgeborene" miskien ook na ons priesterskap.
Soos die Leviete die plek van die eersgeborenes ingeneem het om
voltyds in diens van die Here te staan, so mag ons nou ook
voltyds priesters van God wees.

In die hofhouding van God het ons ook te doen met die geeste
van die volmaakte regverdiges. Dis die gelowiges wat ons
voorgegaan het. Geliefdes wat tot die einde toe volhard het en
die oorwinning behaal het. Geliefdes wat ons in Christus begrawe
het. Hulle is hier op aarde nie meer by ons nie. Hulle het hul
plek hier benede moet afstaan. Ons kan hulle baie mis. Tog bly
daardie geliefdes binne ons gesigsveld. In Christus gestorwe,
leef hulle voor God. Die dood en die graf het aan hul aanbidding
van God geen einde gebring nie. Hul leef ook daarbo om te loof.
Juis daarom is ons hulle nie kwyt nie. In die aanbidding van God
tref ons mekaar voor die troon van God. Ons het geen regstreekse
kontak met hulle nie, maar ons is wel ‘sentraal’ aan
hulle verbind in die hemelse Sion.

Sien julle, broeders en susters, die wye ruimte waarin ons as
NT iese gemeente binnetree? Ons staan in verbinding met die
tallose engele in die hemel. Ons staan in verbinding met die
gelowiges oor die hele wêreld. Ons staan in verbinding met die
gestorwe heiliges. In ons aardse erediens het ons gemeenskap met
die engele en met die kerk van alle plekke en tye. Hoe werklik is
dit vir u, vir jou en vir my? Besef ons wel in watter ruimte ons
staan wanneer ons in erediens saamkom? Wie werklik erediens hou,
sy blik is ruimer as die van die wêreld wat vuurpyle na Mars
stuur. Jy sien immers al die engele en al die heiliges hier
benede en daarbo, God hele skepping, verbind in die lof op God,
’n ware ekumeniese, feestelike geselskap.

Hier kom nog by, volgens die teks, dat ons gekom het by God
die Regter van almal. Is dit nie ’n rede om juis bang te
wees nie? Wie durf te verskyn voor die Regter van almal? Moses
het gebewe by die skrikwekkende verskyning van die Here op Sinai.
Is ons soms meer as Moses wanneer ons voor die Regter staan? Ons
teks is bedoel as ’n feestelike teks. Moenie die werk van
hierdie regter eensydig opvat nie. God is Regter: Hy verneder die
een en verhef die ander (Ps 75:8). God se oordeel is nie altyd
veroordelend nie. God kan as Regter straf, maar ook vryspreek,
verlos. Dit is Hy wat die verdruktes reg verskaf. Hy staan in vir
die saak van sy kinders. Dink aan Ps 68:6: "’n Vader
van die wese en ’n regter van die weduwees is God in sy
heilige woning." Ons saak is by Hom veilig. Hy beywer Hom
vir die reg van sy volk. Wat ’n heerlike waarborg in ’n
wêreld waar soveel onreg heers. Sou jy dan vrees vir hierdie
Regter van almal?

Daar is geen rede toe wanneer jy sy Seun Jesus Christus ken.
Dis die laaste wat die teks noem: "julle het ook gekom by
Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die
besprinkeling wat van beter dinge spreek as Abel." Hierdie
Middelaar het dit vir ons moontlik gemaak om tot die kosmiese en
feestelike gemeenskap toe te tree. Hy het met sy bloed die
verbond van genade vir ewig bekragtig. Hy het met sy bloed die
hemel ingegaan. Abel se bloed roep om wraak. Kain en nageslag
word vervloek. Christus se bloed spreek van beter dinge, nie van
wraak nie, maar van versoening en vergewing. Seën pleks van
vloek. Lewe in plaas van dood. Die lewe bloei weer oop na God toe.

Sien hier die rykdom om te lewe in die nuwe verbond. Jy
behoort by die stad van die lewende God, die Nuwe Jerusalem, jy
staan in die gemeenskap met God die Regter en Jesus die Middelaar
en daardeur is jy ook opgeneem in die gemeenskap van die heilige
engele en van alle heiliges daarbo en hier benede, ’n skare
wat niemand kan tel nie. Wat ’n eer! Wat ’n feestelike
saak om as gemeente in die ruimte saam te kom. Sou ek dan nog eng
kan dink van die kerk van Christus? Sou ek dan nog kortsigtig my
blind staar op die mense waarmee ek al so lank opgetrek het? God
se werk, waarvan ek deel uitmaak, is baie grootser en heerliker.
Dis ’n genot om binne die gemeenskap God te aanbid. Dit
verruim my blik. Dit bevry my van my bekrompenheid. Dit verlos my
van bangheid en kleingeloof. Dit bemoedig my in my eensaamheid,
nood en stryd. Ek mag nou reeds deelneem in die ewige lof op Hom
wat ewig leef. Danksy Christus se bloed.

Dit is tegelyk ’n ernstige waarskuwing. As ek die bloed
wat van versoening praat verag, dan kry ek met God se toorn te
make. As ek die woord van Hom wat uit die hemel spreek, die
geskrewe en verkondigde woord, afwys dan kry ek met ’n
verterend vuur te make. Ek mag die God van die Sinai vandag wel
op ’n feestelike manier nader. Maar Hy is nog steeds
dieselfde God as toe: ’n verterend vuur. En wie sal by
’n verterend vuur woon? Net hulle wat Hom op ’n
welbehaaglike manier dien.

"Daarom," so eindig die skrywer van die Hebreërs
ons tekshoofstuk, "omdat ons ’n onwankelbare koninkryk
ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met
eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterend vuur."

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)