Jou wedergeboorte beteken die herstel van jou skepping.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-03-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 3
Preek Inhoud: 

Sondag 3

Ds C Kleyn - Sondag 21 Maart 2004

Lees: Genesis 1:26-31; Romeine 5:12-21;
Sondag 3.
Sing: Ps 28:6-8; Ps 69:3,14; Ps 8:1-4; Ps 8:5-7;
Ps 91:1,8.

Tema: Jou wedergeboorte beteken die herstel van jou
skepping.

  1. Kyk na jou skepping, dan besef jy hoe diep jy geval het;
  2. Kyk na jou val, dan besef jy hoe wonderlik jou
    wedergeboorte is.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wanneer ’n baba gebore word, dan bely ons: Hierdie baba
is sondig, vuil. Daarom moet die kindjie, gedoop word, simbolies
gewas word. So ’n klein kindjie is in sonde ontvang en
gebore, glad nie in staat om iets goeds te doen nie en tot alle
kwaad geneig.

Kom nou, is dit nie verskriklik oordrewe nie? As daar iemand
is wat onskuldig lyk, dan is dit wel so ’n babatjie. Kan jy
werklik van so ’n kind sê dat hy nie in staat is om iets
goeds te doen nie? Is die kind werklik so verdorwe? So ’n
dierbare, liewe kind?

Tog is dit wat ons bely: selfs die klein baba in die wieg is
van nature verdorwe. Reeds verdorwe voordat jy as ouer iets
daaraan kan doen. Die verwoesting van daardie skone skepseltjie
het reeds ingetree. Daarom die belydenis: nie in staat om iets
goeds te doen nie behalwe as hy of sy deur die Gees van God
weergebore word. Vanaf die eerste lewens-oomblik is ’n nuwe
geboorte nodig, wedergeboorte, ’n geboorte uit die Gees van
God. Daar kom werklik niks van ons en ons kinders tereg, behalwe
as die Gees van God ingryp nie.

Maar wat dan van die buurkinders wat sonder ’n
Christelike opvoeding en dus sonder die Gees van God grootword?
Groei hulle dikwels ook nie op as fatsoenlike burgers nie, lief,
hulpvaardig en eerlik nie? Kan ek dan wel volhou met: glad nie in
staat om iets goeds te doen nie, behalwe as hy deur die Gees van
God weergebore word?

Beslis! Hoekom? Wel, mag dit wat nie tot eer van God onse
Skepper gedoen word nie, werklik goed genoem word? Mag dit goed
genoem word as skepsels, wat gemaak is om God te loof en prys,
geen rekening met God hou nie? Wat ’n verdorwenheid!

Bowendien, wat die ongelowiges uit burgerlike fatsoen doen,
doen hulle nie omdat hulle met God wil saamwerk nie, maar omdat
God die samelewing in stand wil hou. In sy lankmoedigheid laat
God die kwade nie tot volle ontplooiing kom nie. Die Here beteuel
die sonde en die sondaars. Gelukkig maar! Indien Hy dit nie sou
doen nie, sou dit hier op aarde onleefbaar wees, sal dit ’n
hel op aarde wees. Jy sien wat gebeur as God die teuels vir
’n rukkie loslaat – dan kry mens ’n Hitler, Sadam
Hoessein of Mugabe.

Maar, broeders en susters, as ons bely dat elke mens vanaf sy
ontvangenis en geboorte ’n nuwe geboorte nodig het, wat dan
van ons skepping? Sit die verdorwenheid dan so vasgeheg aan die
natuur van die mens, dat ons vanaf die skepping dit in ons het om
te sondig? Het God dit by die skepping dan wel goed gedoen? Kan
ek as mens dan wel iets daaraan doen dat ek so is?

Dit is vrae wat die Kategismus opwerp in Sondag 3. Laat ons
hierna kyk as ek vir julle verkondig: Jou wedergeboorte beteken
die herstel van jou skepping.

  1. Kyk na jou skepping, dan besef jy hoe diep jy geval het;
  2. Kyk na jou val, dan besef jy hoe wonderlik jou
    wedergeboorte is.

Die Kategismus vra na die oorsprong van ons sonde. Dan kan ons
die 1e hoofstukke van Genesis nie ignoreer nie. Daar het God mos
die ontwikkeling van ons menslike geskiedenis opgeteken, die
ontwikkeling van jou en my geskiedenis. Ons begin dan by die
pragtige werk van God in die paradys. Dit staan voorop, anders
sal ek nooit ’n verstandige woord oor my verdorwenheid kan sê
nie.

As ek nie weet hoe dit was nie, sal ek nooit kan peil hoe dit
geword het nie. Daarom hoef ons nie daaroor verbaas te wees nie
dat baie moderne Christene nogal ligvaardig oor die verdorwe
situasie van die mens dink. Kom nou, die mens is nie so verdorwe
nie. Die mens is nog bes in staat om die goeie te kies en te
doen, word beweer. Hierdie mense het probleme met die eerste
hoofstukke van Genesis. Jy kan dit nie as geskiedenis opvat nie,
dink hulle.

Mense wat geen erns met die geskiedenis van Genesis 1-3 maak
nie, kom vanself uit by die humanisme of semi-humanisme.

Hoe was dit dan in die begin? God het die mens goed en na sy
beeld geskep. Wanneer God op die 6e dag alles wat Hy gemaak het
sien, sien Hy dat dit baie goed is. Aan die geskape mens is daar
geen enkele gebrek of tekortkoming nie. Alles in of aan ons was
goed, dws alles het beantwoord aan die doel waartoe God ons
geskep het.

Waartoe het God ons dan gemaak? Dit kom uit in die skepping na
God se beeld. Wat is dit? By die woord beeld moet jy dink aan
iets wat sigbaar is. In ’n beeld van ’n persoon kan jy
die afgebeelde persoon herken. Die persoon kom in beeld. In 2 Kor
4:4 word Christus die beeld van God genoem. Dws in sy doen en
late wys Christus wie en wat God is. Die heerlikheid van die
onsigbare God word in Jesus Christus sigbaar. So kan Christus ook
tydens sy omwandeling op aarde sê: wie My gesien het, het die
Vader gesien.

So het God ons na sy beeld geskep. God wou en sou in ons
sigbaar wees, sodat gesê kon word: wie die mens gesien het, het
God gesien. By ons skepping was alles in ons dus op God gerig,
soos ’n beeld op die afgebeelde persoon gerig is. Ons is
geskep in ware geregtigheid en heiligheid. In al ons doen en late
afgestem op God se reg. In volkome heiligheid aan God gewy. Baie
geskik dus om God hier op aarde te verteenwoordig, om sy
saakgelastigdes, sy onderkonings te wees.

God, die groot Koning, het sy residensie in die hemel.
Tegelykertyd gee Hy die aarde aan ons as ons woon- en werkplek.
God skakel ons in om sy pragtige skepping te onderhou en te
regeer. Ons moet as onderkoning God se heerlikheid uitstraal. Ja,
dit gaan oor die heerlikheid van God, ook wanneer God die mens
opdra om vir die lewende wesens name te gee. Wanneer Adam name
gee, dan roep hy God se heerlikheid oor die aarde uit. Ook al is
hy uit die stof van die aarde geformeer, God kroon hom met eer en
heerlikheid. (Ps 8:6). Met as doel dat God se naam op die ganse
aarde heerlik sou wees. Lees maar die begin en einde van Ps 8: O
HERE,onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!. As
beeld van God is die mens ’n spieël van God se heerlikheid,
weerspieël ons God se deug.

Wel, gemeente, om die hoë posisie en roeping te vervul het
die mens niks tekort gekom nie. "Baie goed" het God gesê
(Gen 1:31). "Weinig minder gemaak as ’n goddelike wese,
met eer en heerlikheid gekroon" (Ps 8:6). Daar was geen
gebrek of tekortkomings nie. Alles het volmaak beantwoord aan die
doel waartoe God ons geskep het, naamlik om ons Skepper te dien
en sy heerlikheid sigbaar te maak. Ons was immers geskep na God
se beeld, heeltemal op Hom afgestem.

Hoe het dit egter verander. God het ons in die volle weelde
van die paradys geplaas, as kroon en heerser van die skepping.
Ons was ryklik voorsien van alles wat ons nodig gehad het. Die
Here het allerlei bome in die hof geplaas, begeerlik om te sien
en goed om van te eet. Van alle bome mog ons vrylik eet, behalwe
van een. Nie omdat dit so ’n besondere boom was nie. Die
boom van die kennis van goed en kwaad was ’n boom soos alle
ander bome. Daarvan moes ons afbly. Waarom? Slegs omdat die Here
dit so gesê het. Dit is dus eenvoudig ’n kwessie van
gehoorsaamheid.

Met die een verbod toets die Here ons liefde en gehoorsaamheid.
Daarom praat ons van ’n proefgebod. Dit moet blyk dat ons
bewus en van harte – en nie outomaties nie – ons op ons
Skepper rig. Dit moet blyk dat ons ons gewillig as onderkonings
skik onder die groot Koning God. Wanneer Adam en sy vrou verby
die een boom stap, dan moet hulle weet: ek is nie selfstandig of
onafhanklik nie. As onderkoning mag ek geen oomblik selfstandig,
los van my hemelse Koning, optree nie.

Maar wat doen ons eerste ouers, Adam en Mannin? Hulle luister
na die vyand van God, die Satan. Ons, wat op God gerig geskep
was, draai teen God. Ons keer ons na die listige duiwel, luister
na sy raad. Ons was met alle moontlike gawes en heerlikheid
getooi. Ons het die heerskappy oor die hele skepping ontvang. Ons
wou egter nog meer en nog groter wees. Ons is nie tevrede daarmee
om beeld van God te wees nie – ’n afspieëling van God.
Ons wil soos God wees, sy gelyke.

Ons wil ons eie heer en meester wees. Ja, gemeente, dit is wat
bedoel word met die woorde "kennis van goed en kwaad".
Jy kan dit omskryf as: selfbeskikking oor goed en kwaad. As God
na die sondeval sê: "Nou het die mens geword soos een van
Ons deur goed en kwaad te ken" (Gen 3:22) dan bedoel Hy dat
ons onsself as God se gelykes verhef het. Die kennis sien op
mondigheid, selfstandigheid, onafhanklikheid. Ons wil ons eie pad
volg, ons wil self beslis oor goed en kwaad. Ons wil ons nie aan
God se gebod onderwerp nie. Pleks van werklik mens, beeld van
God, te wil wees en bly, kies ons die skyn-vryheid in
gebondenheid aan Satan.

Gemeente, die Kategismus noem die sondeval tereg:
ongehoorsaamheid. Ons is nie beklaenswaardige slagoffers nie. Ons
is nie slagoffers van die omstandighede nie, mense vir wie jy hul
dade nie kan toereken nie. Nee, God het ons juis met eer en
heerlikheid gekroon. God het ons juis as verantwoordelike
skepsels die heerskappy oor die skepping toevertrou. Ons het
alles ontvang wat vir die vervulling van die roeping nodig was.
Niks het ontbreek nie. Daarom is die sondeval geen ongeluk nie,
maar ’n opsetlike misdaad, moedswillige ongehoorsaamheid.
Ons het bewus vir die Satan gekies en teen God. Ons het meer
waarde geheg aan die woorde van Satan as aan die woorde van ons
groot God en Skepper.

Daarmee het ons baie diep geval. Dit is ’n val van lewe
na dood. Voor die sondeval mog ons vryuit van die boom van die
lewe eet. Ons was erfgename van die lewe. Deur die sondeval word
ons erfgename van die dood. Die toegang tot die boom van die lewe
word ons ontneem. Ons word uit die pragtige paradys verjaag.
Alles is bedorwe. Ons het verander in die teendeel. Die
gerigtheid op God het verander in ’n opstelling teen God.
Geregtigheid het ongeregtigheid en heiligheid onheiligheid geword.
Die spieël van God lê in skerwe.

Maar, broeders en susters, wat het ek met Adam en Eva te make?.
Wat het ons kinders met hulle te make? Ons en ons kinders is tog
nie verantwoordelik vir wat Adam en Eva gedoen het nie?

In die Bybel laat God duidelik die verband tussen Adam en ons
sien. God het die menslike geslag geskep as ’n organiese
eenheid, in Adam, ons verbondshoof. Adam beteken ook letterlik
mens. Hy verteenwoordig die mensheid, dus ook u en my. In die
paradys was daar twee verbondspartye: God en die mens. Wanneer
die mens die verbond verbreek dan geld dit die hele mensheid. So
het die mensheid deur die sondeval dood geword. In die paradys
was dit dus nie slegs twee persone, Adam en Eva, wat skuldig
teenoor God te staan gekom het nie, maar die hele mensheid, u en
ek en ons kinders. Daarom is ons almal in sonde ontvang en gebore.
Die verbreking van die verbond deur Adam is die verbreking van
die verbond van die hele mensheid, ook my verbondsverbreking.

Paulus sê dan ook in Romeine 5 dat deur een mens die sonde in
die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so het die
dood tot alle mense deurgedring omdat almal gesondig het. Ja,
omdat almal gesondig het. Wanneer het ons dan gesondig? Ons was
in Adam ons hoof ingesluit. In hom het ons almal gesondig. Ons is
medepligtig.

Broeders en susters, eers as ek besef hoe diep ek geval het,
kan ek ook sig kry op die wonder van die herskepping. So kom ons
by die tweede punt. Die eerste punt was "Let op jou
skepping, dan besef jy hoe diep jy geval het." Die tweede
punt is: "Let op jou val, dan besef jy hoe wonderlik jou
wedergeboorte is."

Ons weet nou uit watter diepte ons gered moet word. Ons natuur
is heeltemal verdorwe. Vanaf die begin van my lewe – in
sonde ontvang en gebore – is dit ’n verlore saak. Tot
in die wortel van my bestaan deug ek nie. Ek is glad nie in staat
om iets goeds te doen nie. Ek is mos dood deur my misdade en
sondes (Ef 1:1,5). En van ’n dooie kan jy mos niks verwag
nie. Uit myself kan ek my onmoontlik weer op God, die lewe, rig.
My doen en late is van nature gerig op Satan en op myself. Ek is
ook tot alle kwaad geneig. Gelukkig, dat God die neiging nog rem,
anders sou dit al ’n volkome hel op aarde wees.

Die mag van die sonde in my lewe kan slegs deur ’n wonder
gebreek word. Die wonder van ’n nuwe geboorte, ’n
wedergeboorte. ’n Reparasie is nie voldoende nie. Ek het nie
slegs defekte nie. Ek is tot in die wortel van my bestaan
verdorwe. Ek is geestelik dood. Daarom moet my lewe van die grond
af weer opgebou word. Ek moet weer heeltemal opnuut begin. So
sleg is ek! Slegs ’n wedergeboorte kan dit weer regmaak.

Goddank, daardie nuwe begin is moontlik. Dit is geen hopelose
of uitsiglose saak nie. Ook nie vir die baba in die wieg van wie
ons moet sê: in sonde ontvang en gebore nie. Waarom nie? Ons mag
mos Jesus Christus ken. In Hom is daar weer uitsig op herstel,
ook vir ons kleintjies. Die eerste doopvraag sê immers: "Bely
u dat ons kinders, hoewel hulle in sonde ontvang en gebore is en
daarom aan allerhande ellende, ja, selfs aan die ewige oordeel
onderworpe is, nogtans in Christus geheilig is." Daar is nie
slegs die woorde: in sonde ontvang en gebore nie. Daar is ook die
woorde: in Christus geheilig, in Christus weer afgesonder om vir
die Here te wees. In Christus weer opgeneem in die diens van God.

Soos die sonde van die 1e Adam my toegereken word, so is daar
ook vir julle wat glo ’n toerekening van die vryspraak van
die 2e Adam, Jesus Christus. Ek kan die toerekening van Christus
eers verstaan as ek kennis het van die eerste toerekening. Met
Adam het ons van kinders van God, kinders van die dood geword.
Maar op Golgota het Christus Homself kind van die dood laat word.
Nee, nou nie deur ongehoorsaamheid nie, maar juis in
gehoorsaamheid aan die Vader. Deur die wet van toerekening mag
ons dan in plaas van kinders van die dood weer kinders van God
word.

Gemeente, in Romeine 5 vergelyk Paulus die toerekening van die
1e Adam met die van die 2e Adam. "Want soos deur die
ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so
sal ook deur die gehoorsaamheid van die Een baie tot regverdiges
gestel word." (Romeine 5:19). Sien hier die vrysprekende
vonnis van God. As gevolg van die misdaad van een het die dood as
koning gaan heers. Veel meer sal hulle wat die oorvloed van die
genade en die gawe van geregtigheid ontvang, in die lewe heers
deur die Een, Jesus Christus (Romeine 5:17). Hier het u die
herstel van die beeld van God, die herstel van die onderkoning
wat heers in God se skepping. God wil sy skone skepping terug hê,
skepsels wat wandel voor sy aangesig, spieëls van sy heerlikheid.
Deur sy Gees skep God die nuwe mens. Hoe doen Hy dit? Ook door
middel van julle as ouers, deur ’n Christelike opvoeding,
deur ons as gelowiges, deur sy lewendmakende woord. Hy vernuwe
wat verdorwe was. So kan gehoorsaamheid weer die plek van
ongehoorsaamheid inneem. Daar is weer mense wat in nuwe
gehoorsaamheid lewe, soos die doopsformulier daarvan praat. In
Jesus Christus, deur Hom.

So sien julle, broeders en susters, dat die geskiedenis van
Adam en sy vrou in die paradys alles te make het met ons mens-wees
hier en in die toekoms. As die sonde ’n gevolg van ’n
natuurlike ontwikkeling is, soos sommiges beweer, dan sou ons
geen hoop hê nie. As die sonde sou teruggaan na die wese van ons
bestaan, na ons skepping, dan sou daar niks aan gedoen kan word
nie. Dan sou ons inderdaad kan sê: die mens is nou eenmaal so,
ons kan daar niks aan doen nie. Dan bly ons ewe sleg en verdorwe
soos altyd. Die fiasko van die humanisme bewys dit vir ons.

In geloof weet ons egter: die sonde het eers later die wêreld
binnegekom. Die sonde sit nie ingeskep in ons mens-wees nie.
Gelukkig nie. Nou mag daar uitsig wees op ’n vernude
heerlikheid. Die sonde hoort daar in feite nie by nie. Dit is in
wese ’n teennatuurlike saak in die lewe van die mens. Ons
was in die begin skepsels wat heeltemal op God gerig was.

Daarom lê ons ons nie neer by die verworde situasie nie, by
die skynbaar hopelose situasie, asof ons nou eenmaal so is nie.
Maar ons verootmoedig ons voor God: "o God wees my sondaar
genadig". Ek was oorspronklik nie so nie. Ek was goed, na u
beeld geskep, ’n spieël van u heerlikheid. Deur eie skuld
in ongehoorsaamheid het ek die spieël stukkend gemaak. Herskep
my dan na u beeld deur u Woord en Gees. Herskep so ook ons seuns
en dogters sodat hulle saam met ons u beeld weer mag vertoon.

En dan gaan ons aan die slag in hierdie wêreld van Vader, as
nuwe mense, as God se onderkonings. As mense wat in beginsel weer
God se heerlikheid weerspieël. So gaan die kinders in Christus
geheilig aan met hul spel. Spelende as kinders van God, singende
tot sy lof. So gaan ons aan met ons studie of werk, tot lof van
ons Skepper. As aardse onderkonings van die hemelse Koning.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)