God se wet laat ons ons ellende ken, omdat dit die reël van die verbond is.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-03-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 2
Preek Inhoud: 

Sondag 2

Ds C Kleyn - Sondag 14 Maart 2004

Lees: Deuteronomium 6:1-13; Markus 12:28-34;
Sondag 2.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 19:4,5;
Ps 119:19,20,26,27; Ps 119:50-53.

Tema: God se wet laat ons ons ellende ken, omdat dit
die reël van die verbond is.

  1. Die wet is die reël van die verbond; en
  2. Die wet leer ons ons ellende ken.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wat ’n ellende in hierdie wêreld. In Afrika lande, maar
ook in ons eie land. Wat ’n armoede, geweld, moorde,
korrupsie, siektes ens ens. Dink alleen maar aan die miljoene in
ons eie land wat deur Vigs besmet is. Wat ’n ellende! In die
kader van die verkiesingstryd herinner die verskillende partye
ons aan die groot ellende in ons land. Hulle sal dit met man en
mag aanspreek. Hulle weet wat fout is en hoe dinge anders
aangespreek moet word.

Maar, broeders en susters, besef hulle werklik wat die ellende
is, waar die oorsaak daarvan lê? Daar word gewys op die sosiale
en ekonomiese wantoestande wat opgehef moet word, die arm van die
polisie wat versterk moet word, die regstelsel wat gesuiwer moet
word, medisyne wat gratis aan vigs pasiënte gegee moet word ens
ens. Word daarmee die ellende, die probleem werklik aangepreek?
Ja, weet mense wel wat die groot probleem is? En noem mense dit
dan ook by die naam?

Helaas lyk dit dikwels op ’n bestryding van die simptome,
terwyl die oorsaak van alle ellende ongenoem bly, naamlik die
sonde in ons hart en lewe. ’n Duidelik voorbeeld is die
vigsbeleid. Watter partye durf die A en die B in hul beleid op te
neem? Die A staan vir abstinence, dis seksuele onthouding voor en
buite die huwelik. Die B staan vir Be faithful, dws wees getrou
aan jou huweliksmaat. Hierdie twee punte stem ooreen met God se
heilsame wet en kan as enigste die verdere verspreiding van die
dodelike siekte verminder. Maar in plaas daarvan kom die meeste
partye net met die C wat staan vir condomise, met ander woorde:
gebruik ’n kondoom. Asof dit die oplossing is. Die praktyk
wys dat dit alleen buite-egtelike seksuele aktiwiteit stimuleer,
wat die gevaar van besmetting met die dodelike virus net erger
maak. Mense probeer om die vloer skoon te lap terwyl hulle die
kraan oop laat staan. Mense weier om die werklike oorsaak van die
ellende te sien en te noem. Hulle sien net die simptome en
probeer om dit te bestry.

Gemeente, ons moet steeds weer stilstaan by die ellende in
hierdie wêreld. En daarby sal ons dig by huis moet begin. Dit
gaan oor my en jou ellende. Ek moet by myself begin. As ek nie
die ellende in my eie lewe raaksien nie, hoe kan ek dan oordeel
oor die ellende van ander mense? As ek myself nie ken nie, dan
kan ek ook nie ’n duidelike beeld vorm van die ellende
rondom my nie. Dis daarom begryplik dat baie mense nie verder as
die simptome kom nie. Kennis van die ware oorsaak van alles is
net moontlik deur die Gees van God.

Ons sig op die ellende vervaag so maklik. Ons raak so gewoond
aan die woorde van die kategismus: Ek is van nature geneig om God
en my naaste te haat. Ek het ’n hele lewe nodig om die
diepte van daardie woorde te deurgrond.

Christus, ons hoogste profeet en leraar, sorg daarvoor dat ons
ons ellende nie sal vergeet nie. Hy hou ons opnuut die wet van
God voor. Wanneer Christus die samevatting van die wet noem, dan
kom Hy nie met iets nuuts nie. Jy kan dieselfde woorde reeds in
die OT vind. Die woorde was onder die Jode goed bekend. Die
eerste en groot gebod was deel van hul geloofsbelydenis wat hulle
twee keer per dag moes opsê. Elke Jood het die belydenis van
Deut 6 geken, om nooit te vergeet nie. Hul deurposte en
gebedsrieme het hulle steeds weer daaraan herinner. "Hoor,
Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE. Daarom moet jy
die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel
en met al jou krag."

In sy gesprek met die skrifgeleerdes gryp Christus juis
daardie bekende woorde aan. Hy laat die woorde weer leef. Die
Jode het so gewoond daaraan geraak. Hoewel hulle daagliks die
woorde opgesê het, het hulle nie goed besef wat die woorde
beteken nie. Hul houding en gedrag was nie daarop afgestem nie.
’n Waarskuwing vir ons om die bekende woorde van Sondag 2
nie te laat vervaag nie. Die woorde moet skerp voor die gees
staan. Ons moet weet wat ons sê wanneer ons praat van God se wet.
Dan eers kan ons ons ellende regtig verstaan.

Die wet van God word in Sondag 2 genoem in verband met die
kennis van ons ellende. Daarmee begin ons die eerste deel van die
kategismus wat praat oor hoe groot my sonde en ellende is. Laat
ons daarvoor waak dat ons hierdie leerstuk van die ellende nie op
homself beskou nie, los van die evangelie. Sodat ons oor niks
anders kan praat as oor ons ellende en verdoemenis nie. In die
kerkgeskiedenis het dit baie ellende veroorsaak. Die eensydige
prediking van hel en verdoemenis het mense tot wanhoop gebring.
Mense het bv wel veelvuldig Ps 42:1 gesing, maar kon nie Ps 42:5
sing nie.

Die tragiese van hierdie eensydige nadruk op ons verdoemenis,
is dat mense dink daardeur hul eie sonde en ellende skerp in
beeld te kan kry. Maar die teendeel is waar. Die skerp kennis van
die ellende word verhinder deurdat die groot liefde van God in
Christus nie goed gesien word nie. Ek kan eers werklik my ellende
verstaan teen die agtergrond van God se groot liefde. As ek
eensydig die wet bly voorhou, dan gee ek God nie die eer wat Hom
toekom nie, Dan ontneem ek mense die evangelie van behoud. Dan is
daar geen goeie nuus meer nie. Wat ’n belediging van God wat
juis met die goeie nuus van redding deur Christus ons wil
aanspreek. Daaroor gaan dit in die Bybel.

Gemeente, ook die prediking van Sondag 2 is verkondiging van
Jesus Christus en sy genade. Hierdie deel oor die ellende behoort
by die enigste troos in lewe en in sterwe. Waarom moet ek my
ellende ken? Juis om gelukkiger te kan leef in die enigste troos.

Onthou, in Sondag 2 bely jy jou geloof. Ons praat nie oor ons
ellende asof ons nog in die ellende lê nie. Ons bely hier ons
geloof in Jesus Christus wat ons uit die ellende verlos het.
Sondag 2 volg mos op Sondag 1.

Vanaand wil ek dan die blye boodskap van Sondag 2 verkondig.
Ons tema is: God se wet laat ons ons ellende ken, omdat dit die
reël van die verbond is.

  1. die wet is die reël van die verbond
  2. die wet leer ons ons ellende ken.

Waaruit ken jy jou ellende? Uit die wet van God. Die wet wys
hier nie net op sekere wetsvoorskrifte nie. Daarmee word bedoel
alles wat God van ons eis. Jy sou kan sê: die hele Bybel laat
ons ons ellende ken. Die hele Bybel maak ons mos die wil en wet
van God bekend.

In die wet het ek dus te make met God wat iets van my eis. Tog
is God vir my nie in die eerste plek ’n eisende God nie, ook
nie wanneer Hy my sy wet voorhou. Voordat God iets van my eis,
gee Hy self iets vir my. Hy kom eers met sy liefde en vra in
antwoord daarop my wederliefde.

Dit blyk uit die aanhef van die tien gebooie: "Ek is die
Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei
het." Jy kan vandag daarby dink: wat jou uit die slawehuis
van die sonde uitgelei het. Dat God eers iets gee, iets belowe,
voordat Hy iets vra, blyk ook duidelik uit Christus se
samevatting van die wet. "Jy moet die HERE jou God liefhê."
Daar word nie van my gevra om ’n vreemde God of mag lief te
hê nie, ’n despoot wat ver van my afstaan. Ek word opgeroep
om die Here my God lief te hê. Julle weet dat die Naam Here, God
aandui as die Verbondsgod. So het Hy homself aan sy volk
bekendgemaak. Hy is wat Hy is, Hy is wat Hy belowe het te sal
wees, die getroue God van die verbond. Wat Hom steeds weer aan sy
volk bewys het, deur sy verlossingsdade. Die God waarop ons kan
staatmaak.

Gemeente, in antwoord daarop moet ons nou ons God liefhê. Die
gebod van die liefde staan dus nie op homself nie. Dit is
gebaseer op God se liefde. Kyk maar na die Joodse
geloofsbelydenis uit Deut 6 wat Christus in Mk 12 aanhaal. Dis
nie sonder betekenis dat Christus ook die woorde wat aan die
liefdesgebod voorafgaan, aanhaal nie. "Hoor Israel, die
Here, onse God, is ’n enige Here." Die Here is onse
God, Hy alleen. Sien hier jou unieke posisie. Uit alle volke van
die aarde het die Here juis julle tot sy volk verkies. Hy die
almagtige en enigste God het homself aan ons wil verbind. Wat
’n voorreg! Hy het sy liefde vir ons gewys deur sy groot
reddingsaksie uit Egipteland, ja, wat meer is: uit die slawehuis
van die sonde deur Jesus Christus. Ons lewe as volk van God word
beheers deur sy genade. Die Here is onse God, die Here as enige.

Daarom het die Here ook reg op ons liefde. Hy het ons tot sy
besondere eiendom gemaak. Hy het sy genade beloof en bewys. Dit
het Hy aan geen ander volk gedoen nie. Dan gaan jy jou liefde tog
nie aan die nietige afgode gee nie. So ’n uitsonderlike
liefde van die Here se kant vra tog ’n onverdeelde liefde
van jou kant? Dis soos die huwelik van een man met een vrou. God
se wet reël die verbondsverkeer, die liefdesverkeer.

Gemeente, in die verlede het mense die donderslae en blitse
van die Sinai aangegryp om mense skrik en angs aan te jaag. God
is inderdaad ’n verterend vuur vir hom of haar wat sy liefde
afwys. Maar die feit dat Hy nog steeds met sy liefdeseis kom, is
’n lewendige bewys van sy groot liefde. Hy gee nie moed op
nie. Hy los ons nie in ons ellende nie. Daarom mag die wet nie
net vrees inboesem nie. So word de wet verlaag tot ’n soort
boeman in die kerk. Pleks van die skrik van die Here word dan die
Here van die skrik verkondig. Om so mense vir God bang te maak is
oppervlakkig en wat erger is, dit ontneem die krag aan die skerp
prediking van die lewende God. Net teen die agtergrond van God se
groot liefde kan die wet werklik met klem en skerpte verkondig
word.

Ons leef in die ryker, nuwe bedeling. God wil my vandag nie
konfronteer met die donderslae van Sinai nie. "Want julle
het nie gekom by ’n tasbare berg nie en ’n brandende
vuur en donkerheid en duisternis en storm en basuingeklank en die
geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen
woord meer sou toegevoeg word nie." Hierdie verskynsels
rondom die verbondssluiting op die Sinai is verby. "Maar
julle het gekom by die berg Sinai en die stad van die lewende
God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die
feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in
die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by
die geeste van die volmaakte regverdiges, en by Jesus, die
Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die
besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel" (Hebr 12).

Die wet word nou nie onder besuingeklank deur middel van
engele gegee nie. Nee, ons ontvang dit van die Verlosser self,
die Middelaar van die nuwe verbond, ons hoogste profeet en leraar.
God maak Homself in Christus bekend. Want die wet is deur Moses
gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom (Joh
1:17). Ons is nou baie ryker. Hy wat die wet aan ons verkondig,
het self die straf van die wet gedra. Hy het aan die kruis die
vloek van die wet vir ons weggeneem.

Wie sou dan nog durf swyg oor God se genade wanneer hy oor ons
ellende praat? Ons kan nie aan Christus verby nie. Christus, die
grootste bewys van God se liefde, staan self voor ons. Die
prediking van die wet is dus puur evangelie. Die verlossing is
die uitgangspunt en sentrum daarvan. En eers in die lig van die
groot genade kan die wet ons werklik ons ellende leer ken.

Neem die situasie van ’n huwelik as voorbeeld. As my
huweliksmaat min liefde vir my wys, dan sal ek ook nie baie
skuldig daaroor voel dat ek min liefde vir hom of haar wys nie.
Die gebrek aan liefde van die kant van my huweliksmaat stimuleer
my nie baie om meer liefde van my kant te wys nie. Maar as my
huweliksmaat baie, selfverloënde liefde vir my wys, altyd vir my
klaarstaan, alles vir my oorhet, dan sal ek my ook baie skuldig
voel as ek self nie voldoende liefde wys nie. Die groot liefde
van my huweliksmaat lê my gebrek aan liefde bloot. So werk dit
ook met die verhouding met die Here, onse God. Sy onbegryplike
groot liefde laat my skuldig voel oor my gebrek aan liefde.

Broeders en susters, die Jode het die sig op God se wet en so
ook op hul ellende verloor. In Mk 12 lees ons dat ’n
skrifgeleerde by Jesus kom met die vraag: wat is die eerste gebod
van almal? Die vraag verraai die Farisese opvatting van die wet.
Hulle het die wette ingedeel in ligte en sware gebooie, in
belangrike en minder belangrike gebooie. Die skrifgeleerde vra
dan: watter gebod, dws watter soort gebod, van welke aard moet
’n gebod wees of tot welke kategorie moet dit behoort om die
eerste genoem te kan word?

Christus verskuif die aandag van die afsonderlike gebooie na
die kern van die saak. Deur die bome het mense die bos nie meer
gesien nie. Christus laat die afsonderlike gebooie lê en wys op
dit waarop dit aankom. Dis nie ’n kwessie van hoeveelheid
gebooie nie, maar ’n saak van volkome liefde. Die liefde
moet die hart en wortel van alle wetsvervulling wees. God vra
feitelik maar een ding: die liefde. Gehoorsaamheid aan God is
geen afgemete gehoorsaamheid nie. Dit is ’n gehoorsaamheid
wat die hele mens en sy hele lewe in beslag neem: "Jy moet
die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel
en uit jou hele verstand en uit jou hele krag." Dit is
’n saak van liefdediens met my hele persoon.

Christus wys ons terug na die Wetgewer self. Ons het met die
Here, onse God, te doen en nie met ’n uitwendige reël nie.
Dit maak dit vir ons des te skerper. Die wetgewer is ons genadige
Vader in Jesus Christus. Hy het tot ons in sy liefde gespreek. Hy
het selfs sy eie Seun vir ons gegee. Nou kan ons nie meer daaraan
verby nie. Die unieke liefde van God kan net met ’n unieke
en onverdeelde liefde beantwoord word. As ek net met uitwendige
reëls te doen het, dan kan ek vinnig klaar wees. Ek pas wel
daarvoor op dat ek die gebooie nie oortree nie, deur doodslag,
diefstal, egbreuk ens. Ek doen dit en laat dat na. Maar nou die
liefde gevra word, sien ek dat ek nêrens bly nie. As God honderd
konkrete dinge van my sou vra, soos ’n polisieverordening
allerlei dinge by name noem, dan sou ek my kop omhoog kon hou.
Van die 100 dinge het ek miskien nie meer as 10 oortree nie. Ek
kry dus nog 90%, wat uitstekend is. Maar die Here vra van my een
ding: die liefde en nou weet ek dat ek permanent in sonde leef.

Hoever kom ek in die radikale en totale liefde vir God? Wie
durf om te beweer dat hy met sy hele hart liefhet? Kan jy sê dat
God altyd alles vir jou beteken? Wie durf te sê: al my
gevoelens, al my gedagtes, my hele lewe is volkome op God gerig?
Gebruik ek my verstand altyd vir die Here? Fokus ek nie dikwels
op myself nie, op my aardse voorspoed en geluk nie? Reageer ek
dikwels nie op ’n wêreldse manier nie. Dalk kan ek betyds
my gevoelens beheers sodat dit geen ernstige gevolge het nie.
Maar die sondige gevoelens was dan tog daar en hulle steek steeds
weer hul kop op.

Gemeente, Christus sê dat die tweede gebod, die gebod van die
naasteliefde, aan die eerste gelyk is. Dit moet die skrifgeleerde
verbaas het. Die skrifgeleerde het net gevra na die eerste gebod.
Waarom noem Christus dan ook die tweede gebod en noem Hy dit
selfs gelyk aan die eerste? Die skrifgeleerde wil Christus toets
om te sien of Christus nog wel regsinnig in die leer is en nog
die Here as die enigste God dien. Die skrifgeleerdes wil Christus
met hul strikvrae vang. In sy antwoord op die strikvraag wys
Christus daarop dat hulle feitelik self skuldig aan die eerste en
groot gebod is. Die tweede gebod is immers gelyk aan die eerste.
Mense wat hul naaste (Jesus Christus) haat, met strikvrae wil
vang en wil doodmaak voldoen nie aan die eerste gebod nie. Jesus
toon liefde vir almal, selfs vir hoere en tollenaars, die
verlamdes en blindes. Die skrifgeleerdes haat Hom egter en wil
hom doodmaak. Hul regsinnigheid staan op die spel, nie die van
Jesus nie. Christus lig die dekmantel van hul vroomheid op.
Hierdie twee gebooie is een. ’n Mens mag hulle nie van
mekaar losmaak of teen mekaar uitspeel nie. As jy nie jou naaste
soos jouself liefhet nie, dan wys jy daarmee dat jy ook nie God
met jou hele wese liefhet nie. In die eerste gebod vra God
feitelik alles. Die naasteliefde val ook daaronder as ’n
onderdeel daarvan. In die naaste liefde moet blyk dat ek werklik
God liefhet. Hoe dikwels gebeur dit nie dat die liefde vir die
naaste losgeruk word van die liefde tot God nie?. Ja, ek het God
lief, maar my naaste, die moeilike man of vrou, seun of dogter,
hoe kan ek hom of haar liefhê? Christus laat egter weet: as jy
die naaste nie liefhet nie, dan kan jy nie sê dat jy God liefhet
nie. Haat teenoor my naaste bewys juis dat ek God nie met my hele
hart en lewe liefhet nie.

God se radikale en totale liefdeseis lê my sonde en ellende
bloot. Ek kom nie toe aan die volmaakte liefde vir Hom wat my so
uitnemend liefgehad het nie. Ek ontdek die sonde in my hart en
lewe, waardeur ek God en my naaste dikwels nie liefhet, maar
feitelik haat. Ek steur my dikwels nie aan God en my naaste nie
om rustig my eie gang te kan gaan.

Tog is hierdie skerp en veroordelende wet vir my ’n
weldaad. Ek sien daarin God se soekende liefde. Hy ontdek my aan
myself. Hy laat my nie aan my lot oor. Hy wil my juis vry en
gelukkig maak. Deur die kennis van my ellende sien ek hoe
geweldig God se liefde en verlossing is. Christus het vir sulke
ellendige sondaars gesterwe. Wat is ek tog ryk met die enigste
troos in lewe en in sterwe. Ek behoort nie aan myself nie, maar
aan my getroue Verlosser, Jesus Christus.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)