Die heerlikheid van die komende Christus.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-03-14
Teks: 
Openbaring 1
Preek Inhoud: 

Openbaring 1:5b-7

Ds C Kleyn - Sondag 14 Maart 2004

Lees: 1 Petrus 2:1-10; Openbaring 1.
Sing: Ps 105:1,2; Ps 2:6; SB 8:1,2; Ps 96:6-8;
Ps 98:3,4.

Tema: Die heerlikheid van die komende Christus.

  1. die lofsang op Christus;
  2. die koms van Christus; en
  3. die rouklag oor Hom.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

 

Die Openbaring van Joh begin met die pragtige seëngroet van
die drie-enige God. Genade vir julle en vrede. God reken die
sondes nie toe nie. Hy sien in guns op ons skuldige sondaars neer.
Hy wil ook die gevolge van die sondes wegneem en volkome harmonie
skenk: ’n herstelde verhouding met Homself, met jouself, met
ander en met die dinge rondom jou. Genade vir julle en vrede van
Hom wat is en wat was en wat kom, van die betroubare, betrokke
Vader waarop jy altyd kan staatmaak. En van die sewe Geeste wat
voor sy troon is, van die Heilige Gees in die volheid van jy
werkinge. En van Jesus Christus, die getroue getuie, die
eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die
aarde.

Die seëngroet eindig dus met Jesus Christus. Jesus Christus
wat as ons hoogste profeet, ons enigste Hoëpriester en ons ewige
koning ons volkome verlossing waarborg. Broeders en susters, wie
sou na so ’n pragtige groet, wat ewige sekerhede bied, nie
’n loflied wil sing nie. So word die seëngroet onmiddellik
gevolg deur ’n lofprysing op die Christus. "Aan Hom wat
ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en
ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom
die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen."
Hierdie loflied word dan gevolg met die aankondiging van Christus
se koms en die reaksie van die mense daarop.

Ek vat die teks as volg vir u saam: die heerlikheid van die
komende Christus

  1. die lofsang op Christus
  2. die koms van Christus
  3. die rouklag oor Hom

Joh sing van Christus se liefde en verlossing, waardeur ons
konings en priesters is, en van die heerlikheid en krag wat tot
in alle ewigheid aan Christus behoort. Pragtige woorde. Maar is
dit ook hoe jy die werklikheid ervaar? Ervaar jy Christus se
liefde en verlossing in jou lewe? Sien jy Christus se heerlikheid
en krag? Is dit ’n werklikheid vir jou? Wanneer Joh hierdie
lied sing dan lyk die teendeel waar te wees. Dis asof die
heerlikheid en krag eerder in Rome gesetel is, by die magtige
keiser. Die kerk kom steeds meer onder die druk van Christus se
vyande te staan. Joh self is na die eiland Patmos verban vanweë
sy trou aan die Here Christus. En die kerk van sy dae het dit nie
makliker nie. Die gelowiges lyk wel pionne te wees op die
skaakbord van die wêreldmag Rome. Hulle word verjaag en verdruk.

In daardie situasie sing Joh van liefde. Aan Hom wat ons
liefgehad het. Dalk behoort ons op grond van die handskrifte hier
die teenwoordige tyd te lees: Aan Hom wat ons liefhet. Christus
se liefde is nie net ’n saak van die verlede nie. Dis ook
’n aktuele saak in die hede. Aan Hom wat ons liefhet. Dis
’n werklikheid ook vandag. Hy het ons, sy volgelinge, ook
hier en nou lief.

Waaruit blyk dan sy liefde? Jy moet maar verbanne wees,
vervolg of verdruk word. Jy moet maar swaarkry in jou lewe en
allerlei sorg en spanning ken. Hoe merk ek dat Christus my
liefhet?

Joh trek ons aandag weg van ons lewensituasie wat soms vol
stryd en sorg kan wees. Hy rig ons aandag op dit waaruit Christus
se liefde veral blyk. Waarin sien ek veral Christus se liefde vir
my? "Hy het ons van ons sondes gewas in sy bloed", sê
Joh. Vanweë my sondes het ek die doodstraf verdien, die ewige
dood. As God vir my my vuil hart en lewe sou aanreken, dan was
daar vir my geen toekoms nie. Hierin blyk egter Christus se
liefde: Hy het ons van ons sondes gewas in sy bloed. Ek is rein,
’n verloste mens, ’n vrye mens. Danksy Christus wat sy
lewe as losprys vir my lewe gegee het. Wat ’n liefde!

Joh vervolg: en ons gemaak het konings en priesters vir sy God
en Vader. Nadat ek gereinig is, word ek met hoogheid en
heerlikheid gekroon. Ek mag koning wees, onderkoning van Christus.
Saam vorm ons ’n koninkryk met Christus aan die hoof. Ons
mag leef onder die weldadige heerskappy van koning Christus, wie
se lof in Ps 72 besing word. En as burgers van die koninkryk mag
ons self ook as konings regeer, selfs tot in alle ewigheid, lees
ons in Openb 22:5.

Wat ’n geweldige boodskap vir die veragte en verdrukte
Christene van Joh se dae. As jy op die omstandighede let, dat lyk
die teendeel waar te wees. Hulle het geen seggenskap nie. So het
ons, so lyk dit, ook vandag min seggenskap en invloed in hierdie
wêreld. Ander mense, leiers neem die groot beslissings. Maar
nadat Hy ons gereinig het, herstel Christus ons in ons
oorspronklike heerlikheid. Ons is burgers van sy koninkryk. Ons
is self ook konings. Dit mag dan lyk asof ons min seggenskap en
invloed het. Tog gee ons rigting aan hierdie wêreld. Christus se
kerk bepaal die gang van die geskiedenis. Dit is Christus, die
Owerste oor die konings van die aarde, om sy kerk te doen. Hy het
mos juis sy kerk lief en wil en sal haar tot heerlikheid bring.

Gemeente, Christus het ons nie net konings gemaak nie, maar
ook priesters vir sy God en Vader. Konings en priesters. Egte
paradysmense. Ons mag as priesters voor God leef. Ons mag Hom in
die glans van sy nabyheid dien. Ons mag voor die heilige God
verskyn, soos die OT iese priesters daagliks voor God verskyn het
en voor sy aangesig mog werk.

Ons word onder God se dienaars gereken. Joh op Patmos sien
later ’n groot menigte wat niemand kan tel nie voor die
troon en voor die Lam staan, bekleed met wit klere. Die hele kerk
mag die wit ampsgewaad dra. Ons vorm mos ’n koninklike
priesterdom. Een van die ouderlinge omskryf die posisie en afkoms
van die menigte soos volg: "dit is hulle wat uit die groot
verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit
gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon
van God en dien Hom dag en nag in sy tempel" (Openb 7:14,15).

Die heerlike posisie het ons nie aan ons eie waardigheid te
danke nie. Dis nie vanweë ons geseglikheid of gehoorsaamheid dat
ons voor God mag verskyn nie. Dis ook nie vanweë eie vroomheid
en boetvaardigheid nie. Uit myself is ek niks beter as ander
mense nie. Ek is uit myself vuil, onrein. Dis daarom allermins
vanselfsprekend dat ek in God se gemeenskap mag deel. Slegs deur
’n wonder van genade is dit moontlik. Ek kan myself nie tot
’n priester vir God maak nie. Ons teks noem dat Christus ons
konings en priesters gemaak het. Ons Verlosser moet en wil dit
vir ons doen. Gedryf deur sy groot liefde. Hoe geweldig is dit
dan, broeders en susters, dat Hy kies om vir ons, verlore
sondaars soos die res, sy liefde te wys, dat Hy ons tot konings
en priesters gereinig het.

"Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!"
Dis nie net ’n wens nie. Dis volle werklikheid. Aan Christus
behoort die heerlikheid en krag. Sy heerlikheid is ’n ewige
heerlikheid en sy krag onoorwinlik. Niemand en niks kan hom
teenoor Christus handhaaf nie. Die luister van die keiser en van
die grotes in hierdie wêreld skitter vandag miskien nog, maar
more kan dit verby wees. Uiteindelik stort hul heerlikheid ineen.
Maar Christus se heerlikheid en krag ken geen grens nie. Dit
omspan alle tye. Dit geld tot in alle ewigheid. Sou ons nie saam
met Joh hierdie lofprysing met amen bevestig nie? Aan Hom die
heerlikheid en krag tot in alle ewigheid, Amen, ja, so is dit.

Nou die tweede punt: die koms van Christus.

Wanneer Joh op Patmos die heerlikheid en krag van Christus
besing, dan word sy gedagtes gelei na Christus se verskyning in
heerlikheid. Joh sien Hom reeds in die verte aankom sodat Hy
uitroep: Kyk, Hy kom. Daarmee word die hoofgedagte van hierdie
bybelboek aangegee. Waaroor gaan dit in Openbaring? Gaan het om
’n oorsig van die geskiedenis? Gaan dit oor die ontvouing
van God se raad? Nie in die eerste plek nie. In die eerste plek
gaan dit oor Christus se spoedige koms. Die laaste hoofstuk sluit
af met die belofte van die Bruidegom: Ja, Ek kom gou en met die
verwagting van die bruid: Amen, ja kom, Here Jesus.

Joh trek ons aandag met die woord: Kyk. Let goed op, wat jy
nou gaan hoor, is iets geweldigs, ongelooflik. Kyk, Hy, Jesus
Christus, kom met die wolke. Ons weet almal dat Christus op die
jongste dag gaan kom. Dan sal Hy as Regter verskyn om die
lewendes en die dooies te oordeel. Hy sal elkeen dan vergeld na
sy werke. In ons teks gaan dit egter nie allereers daaroor nie.
Daar word nie gepraat van ’n kom in die verre toekoms nie.
Die teenwoordige tyd word gebruik: Hy kom. Hy is aan die kom. Hy
is reeds in aantog.

Hy kom as die seun van ’n mens van Dan 7:13. Die
uitdrukking "met die wolke" gryp duidelik terug na
daardie teks uit Dan 7. Hy kom dus as die Menseseun, wat volgens
Dan 7:14, oor alles en almal heerskappy gekry het. Hy kom as die
koning wie se ryk geen einde sal hê nie en wat alle dinge aan
Hom onderwerp. Daniël 7 verwys nie net na die laaste koms nie,
maar na die hele NT iese periode. Die tyd waarin Koning Christus
met sy seën en vloek die gang van die geskiedenis bepaal. Die
koms van Christus waaroor ons teks praat wys op die hele proses
van kom deur die geskiedenis heen, wat uitloop op sy laaste koms
aan die einde daarvan. Het Christus self ook nie voor die Joodse
Raad gesê: "Van nou af (dus nie eers in die verre toekoms
nie) sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van
die krag van God en kom op die wolke van die hemel"? (Mt 26:64).

Gemeente, dat die koms van Christus nie net wys op sy finale
koms aan die einde van die geskiedenis nie, word bevestig deur
wat Christus in sy briewe aan die 7 gemeentes sê. Wanneer
Christus in die loop van die geskiedenis sy ontroue gemeentes kom
oordeel dan word uitdruklik van sy koms gepraat. In die brief aan
Efese lees ons: "Bekeer jou en doen die eerste werke. Anders
kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder
as jy jou nie bekeer nie" (Openb. 2:5). En in die brief aan
Pergamus lees ons: "Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe
en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond" (Openb
2:16). Dis nie iets wat nog aan die einde plaas moet vind nie.
Dis iets wat Christus reeds in die tyd gedoen het.

Maar hoe kan ek vandag Christus sien kom? Ons lees: "Hy
kom met die wolke." Wat is die funksie van wolke in die
Bybel? Wolke begelei dikwels die verskyning van die Here. Wanneer
die Here bv aan Moses en die Israeliete verskyn, dan is daar
wolke en vuur. Tekens van die heerlikheid van die Here. Rondom
die Here is wolke en donkerheid (Ps 97).

Kyk, Hy kom met die wolke. Dws Christus kom in goddelike
heerlikheid, omring deur die heerlikheid van die Here. Maar kan
ek vandag Christus in sy heerlikheid sien kom? Wanneer die
heerlikheid van die Here op aarde verskyn, dan gebeur daar dinge.
Kragte van herstel of van oordeel breek los. Sy verskyning
beteken verlossing of verskrikking. Hy kom om te bevry of om te
straf. Heidene kom tot geloof. Kerke ontstaan en groei. Maar ook:
kerke verdwyn, Hy verwyder kandelare van hul plek. Storms breek
los: oorloë, bomaanslae, bloedvergieting, rampe, epidemieë,
droogtes en vloede. In al die wêreldgebeure sien die gelowige
Christus aan die kom. Jy kan Hom daagliks sien. Daarom, moenie
die gebeurtenisse op hulleself beskou nie. Beoordeel alles in die
lig van die komende Christus. Sien alles wat gebeur en wat op jou
afkom (as kerk of as individu) in relasie tot Christus. In alles
is Christus besig om te kom. Met sy seën en met sy vloek. In
geen enkele situasie mag ek die komende Christus uitsluit of
ignoreer nie.

In die vervolg van die boek Openbaring lees ons dat Christus
kom via die 7 seëls. Wat kom daar nie los wanneer die 7 seëls
oopgemaak word? Daar kom oorloë, hongersnood, miljoene
slagoffers, verskrikking na verskrikking totdat uiteindelik die
aarde nie meer bewoonbaar blyk te wees nie. Die groot manne en
magtiges vlug vir hul lewe en probeer hulle verberg vir die Here.
Christus kom via die 7 basuine en die 7 skale van God se
grimmigheid. Wat ’n rampe! Wat ’n verwoesting en
verskrikking! Die wolke pak saam.

In dit alles mag jy Christus sien kom. Kyk, Hy kom met die
wolke. In al die onrus en ontwikkelinge in die wêreld, kom
Christus daaraan as Oorwinnaar. Jy sien Hom kom wanneer jy die
koerante lees, na die nuus luister of kyk. Wie ’n oog het om
te sien, laat Hom let op die koms van die Here.

Wat ’n geweldige troos vir die kerk van alle plekke en
tye. As jy die wolke sien, dan kan jy bang word. In geloof mag ek
egter bely: agter die wolke skyn die son, Christus is besig om te
kom. My verlossing, die eindoorwinning kom steeds naderby.

Dit bepaal ons, broeders en susters, ook by die erns van ons
tyd. Wanneer ek Christus so sien kom, dan kan ek nie maak asof
Christus nog ver weg is nie. Daar is geen tyd om te verloor nie.
Ek moet my met erns vir die ontmoeting met Hom klaarmaak. My
krone aan sy voete neerwerp. Ek kan dit nie veroorloof om my van
Hom en sy diens te laat aflei nie. Ek moet in alles gerig wees op
Hom wat kom.

Nou die derde gedagte: die rouklag oor Christus.

Ons lees in ons teks: "En elke oog sal Hom sien, ook
hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal
oor Hom rou bedryf." Wanneer sal dit gebeur? Op die laaste
dag? Waarskynlik nie net op die laaste dag nie. Ons het reeds
gesien dat Christus nie net aan die einde kom nie. Sy koms is
’n proses wat reeds op gang is. Daarmee word die program
aangegee waarmee Christus die hele nuwe bedeling besig is. Hy is
aan die kom, nou reeds, voortdurend. Dit maak aanneemlik dat die
woorde "elke oog sal Hom sien" nie net wys op die
jongste dag nie, maar ook op die eeue daarvoor.

Dit word bevestig as mens kyk na die oorspronklike betekenis
van die woorde in Sag 12. In ons teks haal Joh die woorde van die
profeet Sagaria aan. Ons lees in Sag 12:10 "en hulle sal
opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom
rouklaag soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun en
bitterlik oor Hom ween soos ’n mens bitterlik ween oor
’n eersgebore kind."

Wanneer sal dit volgens Sagaria gebeur? Nadat God die Gees van
genade en smekinge uitgiet. Dit wys op die uitstorting van die
Gees met Pinkster. Die Gees werk berou en bekering. Hoe doen Hy
dit? Deur die mense te konfronteer met Hom wat hulle gekruisig,
deursteek het. In Petrus se Pinksterpreek verskyn die lewende
Christus aan almal wat daar bymekaar is. "Hy het dit
uitgestort", sê Petrus, "wat julle nou sien en hoor"
(Hand 2:33). Die konfrontasie met die Christus werk by baie mense
verslaenheid en bekering. "Toe hulle dit hoor, is hulle diep
in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê:
Wat moet ons doen broeders?" (Hand 2:37). Die Gees het hul oë
oopgemaak vir die verskriklike sonde van die verwerping van
Christus. Die Gees het die harte gerig op Hom, wat hulle eers
versmaad het. So het op die Pinksterdag baie Hom wat deursteek
is, gesien en tot berou oor hul sondes gekom. En daar is op die
dag omtrent drieduisend siele toegebring (Hand 2:41).

Broeders en susters, Openb 1:7 gryp via Sag 12 terug na dit
wat op die Pinksterdag gebeur het. Openb 1:7 verkondig dat wat
daar gebeur het, tiperend sal wees vir die hele nuwe bedeling.
Die komende Christus sorg daar steeds weer voor dat mense met
Hom, wat hulle gekruisig het, gekonfronteer word. En dit is nie
net die Jode nie. Elkeen het mos van nature Christus verwerp.
Christus sorg daarvoor dat die Pinksterprediking voortgeset word.
Die prediking werk nie net onder die Jode nie, maar by al die
geslagte van die aarde bekering. Gelowiges uit alle volke en tale
sien Christus voor hulle in die prediking en gaan oor Hom rou
bedryf. Wanneer ek besef wat ek Christus aangedoen het, dan kry
ek trane in die oë. Hoe kon ek Christus dit aandoen. Ek het Hom
gekruisig! En Hy is vir my gekruisig!

Elke oog sal Hom sien. Wanneer? Nie eers op die jongste dag
nie. Maar elke oomblik wanneer Christus gepredik word. Ek sien
Hom in die prediking. En dan kom dit daarop aan dat ek steeds
weer deur die konfrontasie met die gekruisigde Christus verdriet
oor my sondes het en dat ek Hom met liefde wil dien. Ek word
opgeroep tot daaglikse bekering. Daaglikse berou oor my sondes en
’n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie
werke te lewe.

Broeders en susters, seuns en dogters, het julle Christus
gesien? In sy heerlikheid? As Hom wat aan die kom is? In alles
wat in jou lewe en rondom jou gebeur? En in die prediking? Blyk
dit uit die hartlike berou oor jou sondes en die hartlike vreugde
in God deur Christus?

"Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook
hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal
oor Hom rou bedryf." Sien jy dit? Is dit ’n werklikheid
vir jou hier in die diens en in jou daaglikse lewe?

Of jy dit self besef of nie, dit is volle werklikheid. Dit
word in ons teks ten stelligste bevestig: Ja, amen. In twee tale,
Grieks en Hebreeus, word dit aan ons verseker. Eers is daar die
versekering van die Here self, ja, so is dit. Dit is waar en
seker. Dit gaan gebeur. Ja, dit gebeur. Uit alle volke en tale,
uit al die geslagte van die aarde herken mense die Christus en
buig hulle voor Hom neer in geloof en bekering. Niemand kan dit
verhinder nie. "Ek is mos die Alfa en die Omega, die begin
en die einde sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die
Almagtige." Wat Ek begin, dit voltooi Ek ook. Ek gaan van
die A na die Z. Ek is die Almagtige. Ek kan wat Ek wil. Ek doen
wat Ek beloof.

Die Ja van die Here roep dan die amen van die kerk te voorskyn.
God se trou en almag laat ons uitroep: amen, dit is waar en seker.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)