Loof die Here en gedenk al sy weldade.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-08-15
Teks: 
Psalms 103
Preek Inhoud: 

Psalm 103:1,2

Ds C Kleyn - Sondag 15 Augustus 2004

Lees: Psalm 145; Psalm 103:1,2; Psalm 105:1-11
(by 1ste tafel); Ps 106:1-5 (by 2de tafel);
Ps 107:1-9 (by 3de tafel).
Sing: Ps 145:1,2; Ps 145:10-12; Ps 103:1,2; Ps
105:1; Ps 105:2 (by 1ste tafel); Ps 106:1 (by 2de
tafel); Ps 107:1 (by 3de tafel); Ps 13:5.

Tema: Loof die Here en gedenk al sy weldade.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ps 103 is ’n pragtige Psalm, goed bekend en gelief. Na
elke viering van die HN word ons opgeroep om God se heilige Naam
te loof met die woorde van Ps 103. Is dit dan nie vreemd dat ek
hierdie woorde aanhaal voor die viering van die HN nie? Is dit
nie meer gepas, om daardie woorde te los vir na die viering nie?

Netnou hoop julle aan die tafel van die Here aan te sit. Hoe
gaan julle dit doen, in watter stemming? Moet jy aangaan met
’n bedrukte stemming, vanweë jou eie onwaardigheid? Moet jy
met aarseling en vrees aan die tafel aanskuif, om so uiteindelik
na die viering blymoedig die tafel te verlaat? Pas die woorde van
Ps 103 net nadat jy die Nagmaal gevier het?

Soms kan dit amper so lyk. Die feestelike karakter van die
maaltyd word nie altyd gesien of ervaar nie. Ons laat onsself so
maklik hinder deur allerlei menslike faktore. Tog behoort die HN
’n feestelike maaltyd te wees. Om dit so te kan belewe moet
ek op die sentrale boodskap van die Nagmaal fokus: versoening met
God deur Jesus Christus. As ek al die aandag op myself of op
ander lidmate rig, dan verhinder ek my viering van die HN. Dan
sal ek nie die lof bereik waartoe Ps 103 my aanspoor nie.

Dit beteken nie dat ek doodluiters oor my sondes en my
natuurlike onwaardigheid kan wees nie. Nee, ek moet eerlik met
myself wees en ernstig oor my sondes. Anders sal ek nie die
vreugde van die Nagmaal ervaar nie. Want wat is die vreugdevolle
saak wat jy aan die Nagmaal vier? Is dit nie dit dat jy deur
Jesus Christus verlos is nie, dat jy deur sy bloed van jou sondes
bevry is en deur sy Gees ’n nuwe lewe mag lei? Daarom gaan
ek Nagmaal toe met ’n nederige hart, met eerbied en vreugde.
Christus wil ’n sondaar soos ek is red!

Die HN is nie outomaties ’n seën en vreugde nie. Om vir
my ’n seën te wees, moet ek dit in geloof vier. En die
geloof rig hom op God en sy beloftes. Dan kan dit nie anders of
daar ontstaan ’n hartlike vreugde in God deur Christus.

Geliefdes, die woorde van Ps 103 kan ons help om die HN op
’n gepaste manier te vier. Vreugde en dankbaarheid is nie
net iets vir na die Nagmaal nie. Dit behoort ons viering self te
kenmerk. Daarom moet ons ook die woorde van die teks ons eie maak
voordat ons aansit, sodat ons die woorde uiteindelik met des te
meer diepte en vreugde kan sing na die viering.

Die Psalmis spoor homself aan om die HERE te loof. Die Psalm
begin en eindig daarmee: "Loof die Here, o my siel."
Dis blykbaar nodig om onsself aan te spoor om God te loof. Dis
nie iets wat ’n mens vanself doen nie. Dawid, ’n man na
God se hart, moet homself daartoe aanspoor, hy moet homself
daarvoor inspan, anders gebeur dit nie. Herken jy dit in jou
lewe? Om God te loof is nie iets wat ons outomaties doen nie. Ons
verslap so maklik daarin. Ons raak maklik daaraan gewoond om
sekere godsdienstige handelinge te verrig, dat ons amper nie meer
besef waarmee ons besig is nie. Dan loof ons die Here sonder dat
ons hart daarby is. Dit kan ook gebeur met die HN. Ons is daaraan
gewoond om aan die Nagmaal deel te neem. Ons sien dit as ons
Christelike plig, daarom doen ons dit. Maar doen ek dit nog wel
met ’n hartlike vreugde in God deur Christus? Is my viering
nog werklik lof op God. Ja, ek moet voortdurend myself aanmoedig
tot gepaste aanbidding van God.

Maar, broers en susters, wat is dit om die Here te loof? Dit
is om die Here te erken as die oorsprong van alle eer en krag.
Dit beteken om Hom te prys as die God wat help en red, as die God
wat ons krag en eer gee.

Meestal voel ek my genoodsaak om God te loof wanneer ek staan
voor ’n duidelike bewys van sy reddende krag. Wanneer ek so
’n genade sien, kan ek nie bly swyg nie. Vol verbasing en
dankbaarheid loof ek dan die Here. Ja, om die Here te loof moet
beide verwondering en dankbaarheid aanwesig wees. Kyk wat die
Here gedoen het. Hoe verbasend dat Hy my ’n sondaar sy krag
gee. Hoe verbasend dat ek aan mag sit aan die tafel van die Here
om die bewyse van sy genade te sien en te proe. Ja, hoe verbasend
dat Hy sy eie Seun vir my oorgegee het. Word u/jou viering van
die Nagmaal gekenmerk deur hierdie heilige verwondering en
opregte dankbaarheid?

Geliefdes, die lof is nie net iets wat met woorde geuit word
nie. Dis ook geen vae gevoel binne in ons nie. Die Psalmis noem
sy siel: Loof die HERE, o my siel. My siel, dis my persoon, my
persoonlikheid, my hele wese. Laat my hele wese die Here loof,
ja, alles wat binne-in my is sy heilige Naam.

Hierdie loof van die Here is nie ’n onverskillige saak
nie. Ook nie vryblywend nie. Ek kan net die Here loof as ek weet
dat ek persoonlik aan Hom verbind is. Ons loof mos nie een of
ander god nie, maar die HERE onse God. En die Here met
hoofletters verwys na die Verbondsgod. Die God wat ’n
verhouding met my wil hê, ’n liefdesverhouding. Ek het die
voorreg om sy seun of dogter te mag wees. Hy het my aanvaar en
wil met my deur die lewe gaan. Sou ek Hom dan nie prys nie?

Die Psalmis vervolg: Loof die Here, o my siel, en vergeet
geeneen van sy weldade nie. Om nie te vergeet nie, is dieselfde
as om te onthou, om te gedenk. Wanneer ek die Here loof, dan
gedenk ek al sy weldade, sy verlossingswerk. As NT iese gemeente
het ons baie meer om te gedenk as die Psalmis in die OT. Ons
gedenk nou God se weldade in Jesus Christus. Aan die tafel van
die Here word die weldade voor ons oë uitgebeeld. Ons eet die
brood en drink die wyn ter gedagtenis aan Christus se offer aan
die kruis tot ’n volkome versoening van al ons sondes.

Tot sy gedagtenis, dis meer as net aan hom dink. Dis hoe ons
dikwels dinge gedenk wat nie baie vir ons beteken nie. Wanneer ek
egter Christus se dood gedenk, dan plaas ek die dood in die midde
van my lewe. Ek laat dit soos ’n lewendige werklikheid in my
lewe funksioneer. Ek laat myself daardeur lei en motiveer.

Geliefdes, wanneer Dawid in vers 3vv begin met die noem van
die weldade, wat noem hy dan as eerste? Hy begin met die
vergewing van sondes. Dawid praat uit eie ervaring. Waarskynlik
het hy netnou genesing ontvang van ’n ernstige siekte. Wat
is dan die eerste gevolgtrekking wat hy maak uit sy persoonlike
ervaring? Dit: die Here vergeef al jou ongeregtighede. Sy
liggaamlike herstel herinner hom aan die algemene reël: Die Here
vergewe al jou sondes.

Hoekom herinner sy persoonlike ervaring hom daaraan? Wel,
daaruit is dit duidelik dat die Here hom nie laat vaar het nie.
Wanneer die Here met my aangaan, wanneer Hy my ’n nuwe begin
gee, dan is dit vir my, ’n gelowige, ’n teken van
vergewing. Siekte, lyding, moeites herinner ons aan die sonde.
Dis tog ’n gevolg van die sonde dat moeites en probleme in
hierdie wêreld gekom het. Vanweë die sonde het elkeen van ons
dit verdien om deur God afgewys te word. Maar God doen dit nie.
Hy bly na ons toekom. Hy gee ons steeds weer ’n nuwe begin.
Daar is vergewing vir elkeen wat Hom dien. Hy vergeef al my
sondes. Dis die eerste weldaad in die verbond. Al die ander
weldade vloei daaruit voort. Die sonde self moet eers verwyder
word, daarna eers die gevolge van die sonde. Daarom vervolg die
Psalmis ook: "wat al jou krankhede genees, wat jou lewe
verlos van die verderf."

In die verse 9-12 sê Dawid pragtige dinge oor die vergewing.
"Die Here handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons
nie na ons ongeregtighede nie." Hy vergeef en vergeet. Hy
werp ons sondes agter Hom. "So ver as die ooste verwyder is
van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons."
Probeer om dit voor te stel: so ver as die ooste verwyder is van
die weste. Die Here kom nie daarop terug nie. Dis ook hoe Hy wil
hê dat ons met ander handel. Wanneer die sondes versoen is, moet
ons hulle vir goed agter ons werp.

Laat ons, broers en susters, dan die HN vol verwondering en
dankbaarheid vier. Die Here het ons met Homself versoen. Dan kan
jou deelname aan die maaltyd werklik ’n fees wees, ja,
’n loof van die Here. "Loof die Here, o my siel, en
alles wat binne in my is, sy heilige Naam. Loof die Here, o my
siel en vergeet geeneen van sy weldade nie."

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)