God die Heilige Gees en sy werk.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-08-01
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 20
Preek Inhoud: 

Sondag 20

Ds C Kleyn - Sondag 1 Augustus 2004

Lees: Johannes 14:15-31; 16:5-15; Sondag 20.
Sing: Ps 139:1,2; Ps 139:3,4; Ps 143:89; SB 14;
Ps 135:1,11.

Tema: God die Heilige Gees en sy werk.

  1. Die Heilige Gees voltooi die goddelike Drie-eenheid
  2. Die Heilige Gees is ook aan my gegee
  3. Die Heilige Gees verenig my met Christus
  4. Die Heilige Gees bly by my

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

 

Ons het nou gekom by die deel van die Apostoliese
Geloofsbelydenis oor die Heilige Gees en ons heiligmaking. Kom
ons kyk na die werk van die derde persoon van die drie-enige God.

Gewoonlik kan ons wel ’n sekere voorstelling maak van die
werk van God die Vader en van God die Seun. Die werk van God die
Heilige Gees lyk egter dikwels so vaag en ontasbaar. Die
skeppingswerk van God die Vader is sigbaar en tasbaar. Die werk
van God die Seun, wat mens geword en onder ons gewoon het, is ook
vir ons grypbaar. Oog en oorgetuies het hom gesien en gehoor en
dit vir ons opgeskrywe.

Tov die Heilige Gees lyk alles baie vaer. Probeer maar ’n
voorstelling te maak van wat Hy is en doen. Dit lyk so vaag. En
om te glo wil ons graag iets sien en ervaar. Dit hoef ons dan ook
nie te verbaas dat allerlei teorieë oor die werk en werkwyse van
die Heilige Gees bedink is. Op hierdie gebied was en is daar nog
steeds baie ontsporings en slagoffers.

Mense het die Heilige Gees dikwels losgeruk van Christus se
woord en werk. Daardeur kry jy die verligte siele wat pog oor hul
ervaring van die Gees en dan selfvoldaan die lewe deurgaan as God
se uitverkore volkie. Daardeur kry jy ook die massa twyfelende
siele wat tot lydelikheid gedoem word, in afwagting van ’n
buitengewone ervaring van die Gees, wat hulle waarskynlik nooit
sal kry nie. Vanweë ’n verkeerde kyk op die werk van die
Gees is baie mense onseker oor hul verlossing. Hulle durf die
ryke belofte van die evangelie, wat ook in die doop aan hulle
verseël is, nie toe te eien nie. Hulle dink dat hulle eers
’n besondere werking van die Gees, buite die woord om, moet
ontvang. En hulle het dit nog nie ervaar nie!

Gemeente, dis baie belangrik om ’n regte kyk op die werk
en werkwyse van die Heilige Gees te hê. Dit raak die sekerheid
van jou heil. Wie nie radikaal breek met die onskriftuurlike
teorieë oor die Heilige Gees, bring homself en ander in
voortdurende onsekerheid. Jy sal dan tot die dood toe tob oor die
vraag: is dit wel vir my bestem? Het ek wel deel daaraan?

Die Kat spreek vanuit die Skrifte. In Sondag 7 is die vraag
gestel: "wat moet ’n Christen glo?" Daarop is
geantwoord: "Alles wat in die evangelie aan ons beloof is en
wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike
geloof ons in hoofsom leer." Daartoe behoort dus ook God die
Heilige Gees. In die evangelie word ook die Heilige Gees aan ons
beloof.

Laat ons dan hoor wat daar volgens die Skrif gesê word van
God die Heilige Gees en sy werk.

  1. Die Heilige Gees voltooi die goddelike Drie-eenheid
  2. Die Heilige Gees is ook aan my gegee
  3. Die Heilige Gees verenig my met Christus
  4. Die Heilige Gees bly by my

Wie is nou eintlik die Heilige Gees? Die Kat wys daarop dat Hy
saam met die Vader en die Seun ware en ewige God is. Belangrike
woorde. Waarom? Omdat dit duidelik wys dat die Heilige Gees nie
een of ander geheimsinnige krag is nie. Maar dat Hy eweas die
Vader en die Seun ’n Persoon is, die derde Persoon van die
goddelike Drie-eenheid. Die Heilige Gees is ’n Iemand. Jy
kan Hom aanroep en met Hom praat. Jy kan ook vir hom lieg. Jy kan
Hom beproef en bedroef. Dit kan net van ’n Persoon gesê
word, nie van ’n onpersoonlike krag nie.

Saam met die Vader en die Seun is Hy ware en ewige God. Dws jy
kan God nie indink sonder die Heilige Gees nie. God is sonder die
Heilige Gees nie kompleet nie. Die drie Persone, Vader, Seun en
Heilige Gees vorm saam die enige ware God. Die Heilige Gees maak
die heilige Drie-eenheid kompleet.

Dit beteken dat jy die Heilige Gees nooit kan losmaak van die
Vader en die Seun nie. As jy dit wel doen, dan hou jy feitelik
niks oor nie, ook nie die Heilige Gees nie. Die heilige Gees gaan
van die Vader en die Seun uit. Ons het dit uit Joh gelees. In Joh
14 sê Christus: "Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle
’n ander Trooster gee, naamlik die Heilige Gees." In
Joh 16 lees ons: "Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan;
want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom
nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur." Eers is
daar: die Vader sal Hom aan julle gee. Daarna: Ek sal Hom na
julle stuur.

In die koms van die Heilige Gees het jy te doen met die Vader
en die Seun. Die Vader en die Seun is albei teenwoordig in die
werk van die Gees. Die verskillende maniere waarop Christus
hieroor praat, onderstreep hierdie teenwoordigheid van die Vader
en die Seun in en deur die Gees.

Broers en susters, julle doen goed daaraan om hierdie
trinitariese aspek vas te hou wanneer julle dink en praat oor die
Gees. Ek bedoel daarmee dat jy die werk van die Gees nooit mag
isoleer van die werk van Christus nie. Ook dat jy nooit sy werk
mag losmaak van die werk van God die Vader nie. Dit is die drie-enige
God wat Hom in die werk van die Gees openbaar. Die volheid van
die goddelike werk kom juis in die werk van die Gees tot
uitdrukking. Moenie die werk van die Gees versmal soos dit
dikwels gebeur nie.

Mense kla soms tereg oor ’n gebrekkige aandag vir die
werk van die Gees. Maar laat ons mekaar goed verstaan. Wanneer ek
eensydig oor die Gees praat, dan gee ek nog geen ware aandag vir
die Gees se werk nie. In die Gees ontmoet ek die Vader en die
Seun. As ek die werk van die Gees soek, dan sal ek na die Vader
gelei word. Dan sal ek ook die Seun leer ken. Wanneer jy oor die
Gees praat, dan sal jy dus die leer van die drie-eenheid goed
moet vashou. Eensydige belangstelling help nie werklik om die
werk van die Gees te verstaan nie. Die Heilige Gees is die Gees
van die Vader en die Seun.

Die Heilige Gees kom ook nie met iets nuus nie, sê Christus.
Die kenmerk van die Gees is dat Hy in sy verlossingwerk nie
oorspronklik is nie. Christus sê in Joh 16:13,14: "Hy sal
nie uit homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek
en die toekomstige dinge aan julle verkondig. Hy sal My
verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan
julle verkondig."

Die Heilige Gees tree terug agter Christus. Dit is tiperend
vir die Gees. Hy praat nie van Homself nie. Maar Hy haal alles
uit die volheid van Christus en beoog die verheerliking van
Christus. Moenie dit ooit vergeet nie.

Die Heilige Gees is waarlik geen selfstandige krag wat hom
buite Christus jou sou moet raak of beweeg nie. Jy hoef werklike
nie te sit en wag totdat jy iets buitegewoons binne in jou voel
nie. Totdat jy ’n stem of ingewing ontvang. Die kat vra ook
nie: Wat voel jy van die Heilige Gees nie, maar: wat glo
jy van die Heilige Gees? Die geloof is beslissend, dat jy God op
sy woord aanvaar, ook in sy spreke oor die Gees. Die geloof wat
jou wil en gevoel beheers. Praat jy oor die Gees, dan moet jy nie
alle aandag rig op wat jy voel binne in jou nie. Die aandag moet
op die Vader en die Seun gerig wees. Op hul Woord en hul
heerlikheid. Die Gees gaan mos uit van die Vader en die Seun en
voltooi hul werk.

Die laaste geld nie net tov die werk van die herskepping,
verlossing nie, maar ook tov die skeppingswerk. Die Gees lê die
laaste hand aan die skeppingswerk van die Vader en die Seun. Hy
rond dit af. Van Hom is die lewe en die skoonheid van die
stoflike wêreld. In Ps 104 lees ons dat wanneer God sy Gees
uitstuur, Hy die gelaat van die aarde nuut maak. Die nuwe lewe
wat jy elke lente sien ontspruit is van Hom. Die Gees laat die
blomme bloei en die grane groei. Hy laat die lammetjies dartel in
die weide en die jong voëltjies sing. Die Gees gee aan alles
lewe.

Dit geld ten diepste vir die nuwe lewe wat Hy in ons hart en
lewens werk. Die Gees rond die werk van die Vader en die Seun af.
Van die Vader is die begin. Hy het my geskep en uitgekies. Die
Seun lê in sy offer die grondslag vir die werk van versoening.
Dis uit Hom dat die woord van versoening uitgaan. Dis egter die
Gees wat my lewe onder die asem van die woord bring, wat in die
Woord aanwesig is en my die lewe inblaas. So maak die Gees my tot
’n nuwe skepsel. ’n Vernude mens wat in gemeenskap met
God leef en voor Hom wandel. Hy reinig my hart en heilig my lewe.
Hy lei my terug na my ewige bestemming.

Wel, gemeente, van die Gees bely ons in die tweede plek dat Hy
ook aan My gegee is. Kan dit wel? Kan ek wel sê dat die Heilige
Gees aan my gegee is en dus in my woon? Kan ek daar wel so seker
van wees? Onthou, in die Kat is die gelowige aan die woord. Die
Kat is ’n geloofsbelydenis. Die gelowige mag en moet dit kan
sê: die Gees is ook aan my gegee. Waar kom mos die geloof
vandaan? Die geloof in God die Vader, God die Seun en God die
Heilige Gees? Is die geloof aangebore? Word dit geërf van jou
ouers? Kom dit spontaan te voorskyn? Is dit ’n knap
prestasie van ’n vroom mens? Julle weet dat dit nie so is
nie.

Ek kan nie sonder die Heilige Gees glo nie. Sonder sy werk van
vernuwing nie. Glo jy? Dan is dit net omdat die Gees in jou hart
aan die werk is. Daarom lees ons ook in 1 Kor 12:3 dat niemand
kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.
Elkeen wat glo in Jesus Christus mag weet: die Heilige Gees in
ook aan my gegee, is in my. Die gawe van die Heilige Gees is nie
iets ekstra nie, iets wat bo-op die geloof moet kom nie. Dit is
juis die voorwaarde vir die geloof. Die Heilige Gees gaan aan die
geloof vooraf.

Trouens, wat is dit om te glo? Dit is dat jy God op sy woord
aanneem. Sy beloftes aanvaar. God het dit gesê, daarom is dit so.
Wat beloof God jou dan in sy woord? Wat het hy vir jou beloof by
jou doop? Hy het Homself beloof, as Vader, Seun en Heilige Gees.
Ja, ook as Heilige Gees. In die verbond bied Hy Homself aan om in
jou te woon en te werk. Wat doen dan die geloof? Die geloof
aanvaar die belofte. In geloof gryp ek God die Vader, die Seun en
die Gees aan. Vertrou ek myself aan Hom toe. In geloof weet ek:
ek mag ’n kind van Vader wees; die Seun het vir my sondes
betaal en die Heilige Gees vernuwe my hart en lewe. Dis wat die
evangelie vir my verkondig. Dis wat my doop bevestig het. In
hierdie drie-enige God ontvang ek werklik alles wat tot my heil
nodig is.

Ek weet dat dit waar is, ook as ek weer in sonde val. Toe ek
gedoop is, het God die Gees al geweet hoe ek was: ’n sondige
mensekind. Tog het Hy homself aan my wil verbind. My by die hand
wil neem. Daarom gryp ek my daaraan vas, ook al ontdek ek dat ek
maar baie gebrekkig uit die Gees leef. My geloof ken sy hoogtes
en dieptes. Juis daarom is dit so goed om te weet dat die geloof
– hoe gebrekkig ook al - op homself reeds ’n gawe is,
’n werk van die Gees. En dat die werking van die Gees reeds
by die doop aan my verkondig en bevestig is. Juis by twyfel en
aanvegting kan ek daar telkens weer op terugval. Want wat ook al
verander in my lewe, die belofte van die evangelie nie. Daarom
kan ek met die kat in geloof bely dat die Heilige Gees ook aan my
gegee is.

Nee, broers en susters, dit beteken nie dat ek nou kan sê: ek
is gedoop, dus ek is gered. So oppervlakkig is die taal van die
geloof nie. Die geloof sê amen op God se Woord. Dws, die geloof
gee hom oor aan God se spreke, vertrou homself daaraan toe.

Maar hoe bring die Gees my sover? Hy kom met die Woord na my
toe. Wanneer ek die Bybel lees, wanneer ek daaruit hoor vertel of
verkondig, dan kom die Gees daarin na my toe. Afsonderlike
bekendmakings gee die Gees nie meer nie. Ek het die voltooide
Bybel, die instrument van die Gees.

Die Heilige Gees het die profete en apostels gedryf om te
spreek en te skryf. En nou kom dieselfde Gees met die geskrewe
woord na my toe. Daardeur wil Hy my verduisterd verstand verlig,
my lei en my hart en lewe vorm.

Gemeente, wanneer ons praat oor die Heilige Gees en ons
heiligmaking dan moet ons alles wat die Skrif sê op sy plek laat
staan. Moenie Skrif teen Skrif uitspeel nie. God doen ’n
beroep op ons persoonlike verantwoordelikheid en Hy praat van die
werk van die Gees. Albei ontvang ’n plek in God se
verbondsboek, die Bybel. Tot elkeen kom die oproep: glo in die
Here Jesus en jy sal gered word. Neem die evangelie wat in die
Bybel en by die doop aan jou verkondig is, aan. Daardie speke van
God gee vastheid en sekerheid. Nie die soek na kenmerke in jou
hart of lewe nie. Die soek na eie bevinding, buite die evangelie,
staan juis die werk van die Gees in die pad. Die Gees kom langs
die pad van prediking en onderrig. As jy die woord ignoreer, dan
is jy soos ’n ondankbare bedelaar. Jy weier om die brood te
eet wat jou in die lewe hou.

Wanneer die Kat oor die Heilige Gees en ons heiligmaking praat
dan begin dit om oor die kerk en die genademiddele (woord en
sakramente) te praat. Die Gees kom tot jou en lei jou langs die
weg van die genademiddele.

Aan die ander kant moet ons ook laat staan wat die Bybel oor
die werk van die Gees skryf. Die Gees alleen kan die geloof
bewerk. Hy alleen kan my hart en oë oopbreek. Daarby gebruik Hy
dan wel die genademiddele, maar wanneer ek glo dan roem ek
uitsluitend in Hom. Dis sy werk wat uit genade vir my gegee word.

Langs die pad gee die Heilige Gees my deur ’n ware geloof
deel aan Christus en al sy weldade. Christus het deur sy offer
die versoening bewerk. Die versoening moet egter ook na my
gebring word. Daarvoor sorg die Heilige Gees. Hy vorm so te sê
die brug tussen Christus en my. Hy maak my een met Christus.

Die Heilige Gees voeg aan die werk van Christus niks toe nie.
Daar kom niks nuuts by nie. Dit hoef ook nie. Christus het mos
alles volbring. Die enigste wat nog moet gebeur is dat ek daaraan
deel kry, dat dit my persoonlike besit word. Dit is die toe-eiening
of die toepassing van die verlossing. Die brood van die lewe help
my persoonlik niks nie, tensy ek dit ontvang en eet. Die water
van die lewe les nie my dors nie, tensy ek dit ontvang en drink.
Die Heilige Gees deel die ryke skatte wat Christus verdien het
uit. Sodat ek daarvan kan geniet. Ek ontvang deel aan Christus en
al sy weldade, die afwassing van my sondes en die daaglikse
vernuwing van my lewe. Met as einddoel dat ek eendag volkome rein
’n plek ontvang in die gemeente van die uitverkorenes in die
ewige lewe.

Die Gees laat my tot Christus vlug. Hy laat my rus vind in Hom.
Sodat ek nie meer tussen hoop en vrees heen en weer geslinger
word nie. Verbind aan Christus mag ek geniet van die lewensappe
wat na my toestroom. Daarvoor sorg die Gees. En ek mag daarop
vertrou dat Hy daarvoor sal bly sorg.

Ons bely mos ten slotte dat Hy ewig by my bly. Wat die Seun
vir my doen voor die aangesig van die Vader, dit doen die Gees
vir my hier op aarde. Hy pleit hier onder ons, vir ons. Hy wys my
voortdurend op Christus se volbragte offer. Hy getuig met ons
gees dat ons kinders van God is. So word ek werklik getroos, ook
wanneer ek deur dieptes gaan. Die Gees kom my swakhede te hulp.
Hy tree vir my in en suiwer my gebed sodat dit aangenaam vir die
Vader is. Hy bly by my soos Christus belowe het.

Broers en susters, hierdie ryke belofte en belydenis is nie
iets wat tot onverskilligheid of roekeloosheid mag lei nie. As jy
dink dat die volharding van die heiliges outomaties verloop, dan
het jy nog nie die werk van die Gees begryp nie. Ek kan nooit sê:
"as ek eenmaal die Gees het, dan is ek daar, die Gees belowe
mos om ewig by my te bly." Die Gees verseker ons: "dit
sal nooit my skuld wees nie. Van my kant sal ek die beloftes
nooit breek nie." In geloof mag ek dit vashou. Die Gees is
aan my gegee om ewig by my te bly.

Dis egter geen outomatiese saak nie. My verantwoordelikheid
word ten volle gehandhaaf. Lydelikheid en onverskilligheid is
hier onvanpas. Dit sal die ongelowige verbondsbreker tot sy skrik
ontdek. Hulle sal sterf, nie omdat die Gees hulle nie wedergebore
laat word het nie. Hulle sal sterf vanweë hul eie sondes, vanweë
hul eie ongeloof en ongehoorsaamheid.

Die Gees bewerk nuwe lewe, maar dan moet ek ook self gaan leef.
Die Gees lei my, maar dan moet ek ook myself laat lei. Die Gees
voed my, maar dan moet ek self die voedsel ook tot my neem.

Wie die persoonlike verantwoordelikheid verwaarloos, speel
’n speletjie met die middele van die Gees. Dan gaan dit
verkeerd. Ek kan nie sommer net in die belofte van die Gees berus
nie. Die nuwe lewe moet ook gewys word. Langs die pad van geloof
en bekering vervul God sy beloftes. Daarom, broers en susters,
aanvaar die ryke evangelie wat in die doop aan julle verseël is
en wat voortdurend vir julle verkondig word. Glo in God die
Vader, God die Seun en God die Heilige Gees. Vertrou jouself
heeltemal toe aan Hom en sy Woord. Dan sal jy ontdek dat jy in
Hom alles ontvang wat tot jou saligheid nodig is.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)