Die Here skenk Nehemia volharding teenoor die sataniese opposisie.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-08-22
Teks: 
Nehemía 4
Preek Inhoud: 

Nehemia 4

Ds C Kleyn - Sondag 22 Augustus 2004

Lees: Nehemia 4.
Sing: Ps 146:1,3; Ps 19:4; Ps 105:5; Ps 27:2; Ps
3:1,2; SB 22:1,10,11.

Tema: Die Here skenk Nehemia volharding teenoor die
sataniese opposisie.

  1. Die opposisie
  2. Nehemia se reaksie

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

As Christen probeer jy om te doen wat God wil hê jy moet doen.
Jy wil Hom in jou daaglikse lewe gehoorsaam wees, maak nie saak
wat mense daarvan sê nie. Jy wil op die Here alleen vertrou. Jy
wil vir die Here werk en stry. Dis nie maklik nie. Hoe dikwels
ervaar jy nie frustrasie en teenstand in die werk van die Here
nie. Ja, wanneer jy jouself heelhartig aan die werk van die Here
wy, dan kan jy in hierdie sondige wêreld opposisie verwag.

Dis dan belangrik hoe jy die opposisie hanteer. Dit is die
grootste toets van ’n Christelike karakter. Die manier
waarop jy met opposisie omgaan, wys watter soort persoon jy is.
Wanneer mense jou werk teenstaan, is dit maklik om moedeloos te
word, om bitter te word of om van jou hooftaak afgelei te word.
Ons kan op maniere reageer wat ons op ’n dwaalspoor bring en
ons van God se diens wegtrek.

Neh 3 vertel ons hoe die volk van God begin het met die herbou
van die mure van Jer. Mense van elke rang of stand, priesters,
owerstes en gewone arbeiders, het skouer aan skouer gestaan en
werk. God het hulle geroep en verenig vir die taak. In Neh 4
ontdek ons dat die bouprojek aangevat is teenoor meedoënlose
opposisie.

Vanoggend gaan ons nader let op die opposisie en hoe Neh
daarop reageer. Ons ontdek dat daar niks nuuts onder die son is
nie. Satan gebruik vandag nog steeds dieselfde taktieke teen ons
in ons werk vir die Here. En Neh se reaksie kan ons help om te
bepaal hoe ons teenoor opposisie behoort te reageer.

Ek verkondig vir julle: Die Here skenk Neh volharding teenoor
die sataniese opposisie.

  1. Die opposisie
  2. Neh se reaksie

Die opposisie begin met psigologiese oorlogvoering, spot en
veragting. Die doel is om God se volk te ontmoedig, om jou te
verswak, om twyfel in jou hart te saai of jy jou taak wel kan
uitvoer. Daar is niks wat meer ontmoedigend is as om te ontdek
dat ander die spot met jou dryf en mekaar vertel hoe dwaas jy is
om te doen wat jy doen.

Sanballat verstaan dit. In die teenwoordigheid van ’n
groep ondersteuners begin hy met sy mondelinge aanval. Hy vra
verskillende vrae. Al die vrae is giftige pyle gerig teen die
Joodse bouers.

Die eerste is: "wat maak die magtelose Jode?" Die
gif van hierdie eerste pyl lê in die woorde: magtelose
Jode. Juis op hierdie punt voel God se volk hul kwesbaarheid. Jy
hoef nie te oordryf om iemand seer te maak nie. Daarvoor hoef jy
net ’n waarheid te noem waarvoor jou vyand gevoelig is. As
jy ’n swak en teer persoon wil seermaak, hoef jy hom net
’n swakkeling te noem. Soms maak ons wel asof skeldwoorde
nie seer maak nie, maar die teenoorgestelde is waar.

Sanballat se tweede pyl volg: "sal ’n mens hulle
laat begaan" of volgens die NV "Wil hulle vir hulle
’n stadsmuur bou?" Weet hulle werklik waarmee hulle
begin het? Hulle sal dit nooit klaarkry nie. Dis die laaste ding
wat jy wil hoor wanneer jy besig is met ’n projek wat
inderdaad bo jou vermoë lyk te wees.

Sanballat vervolg: "Sal hulle offer?" Wil hulle
offerandes bring? Sal hul godsdiensoefeninge, hul gebede die mure
laat groei? Hoe dwaas.

"Sal hulle dit vandag nog voltooi?" Wil hulle in een
dag klaarmaak? Besef hulle wel hoe lank hierdie geweldig taak
gaan vat? Hulle sal dit nooit klaarkry nie. "Sal hulle die
klippe uit die grondhope lewendig maak, al is dit deur brand
verniel?" Weet hulle nie dat verbrande klippe broos is en
brokkel nie?

Tobia voeg hom by Sanballat en skerts: "Wat hulle ook al
bou – as ’n jakkals daarteen opspring, sal hy hulle
klipmuur omgooi."

Geliefdes, enigiemand wat by die werk van die Here betrokke
is, sal waarskynlik die giftige pyle van spot ervaar. Jy kan
verwag dat mense jou swakhede en tekortkomings jou voor die voete
sal gooi. Hulle sal jou dwaasheid bespot en jou werklike
vordering kleineer. Wanneer dit gebeur laat jouself daarvan leer,
maar laat jou nie daardeur ontmoedig of intimideer nie. Onthou
waar die spot en veragting vandaan kom. Dit kom van die duiwel
wat die werk van die Here nie kan uitstaan nie. Hy doen alles in
sy vermoë om jou te ontmoedig en jou te verswak. Hy hou van
oneffektiewe Christene.

Gemeente, die opposisie teen die bouers kom nie net in die
vorm van psigologiese oorlogvoering nie. Dit kom ook deur fisiese
bedreigings, die dreiging van ’n gewapende aanval.

Wanneer hy sien dat die bouprojek goed vorder, roep Sanballat
die leiers van die Arabiere, die Ammoniete en die Asdodiete saam
om ’n gewapende aanval te beplan (verse 7,8). Die Joodse
bouers is nou heeltemal omring deur vyande, met Sanballat en die
Samaritane in die noorde, met Tobia en die Ammoniete in die
ooste, met Gersom en die Arabiere in die Suide en met die
Filistyne, die manne van Asdod in die weste. Die gesamentlike leërs
rondom hulle is ongetwyfeld oormagtig en die boodskap wat deurkom
is dat hulle seker is van hul vermoë om ’n doeltreffende
verrassingsaanval te loods. Hulle sê mos: "Hulle sal niks
weet of sien voor ons tussen hulle is en hulle doodmaak en die
werk tot stilstand bring nie" (vers 11).

Die boodskap kom van die Jode wat naby die vyande woon. Die
landelike Jode ondersteun die bouprojek. Maar hulle bly kom met
sombere berigte dat daar geen kans is om ’n aanval te
ontduik nie. Hulle pessimistiese woorde kan nie anders as om die
bouers neerslagtig te maak en te demoraliseer. Hulle dink
vanselfsprekend dat hulle die werkers dien met hul boodskap. Maar
hul negatief gepraat is afbrekend en demoraliserend. Dit is die
laaste wat Neh en sy werkers nodig het. Vergelyk dit met
suggesties vandag dat jy niks kan doen om die kerk te verbeter
nie, dat die kerk ’n verlore saak in die huidige wêreld is.
Dis die laaste ding wat ons nodig het om te hoor. Sommige mense
dink dalk dat dit hul besondere roeping is om met sulke negatiewe
woorde te kom. Die feitelike informasie wat hulle gee kan
natuurlik nuttig wees. Maar die swaarmoedigheid wat hulle
uitstraal is sonde, wat as wysheid aangebied word. Dit moet in
die kiem gesmoor word.

Geliefdes, hierdie fisiese bedreiging en die voortdurende
gepraat daaroor lyk ’n negatiewe invloed op die mense te hê.
Skielik lyk die take soveel groter en bo vermoë. So ontstaan
daar persoonlike ontmoediging (vers 10). Ons lees: "Maar
Juda het gesê: die krag van die lasdraers beswyk, en die
puinhoop is groot, sodat ons nie aan die muur kan bou nie."
Die werkers raak moedeloos. Niks is moeiliker as om met mense te
werk wat gedemoraliseer is nie, mense wat geen nut meer daarin
sien om aan te gaan met die werk waarmee hulle besig is nie.

Neh het te doen met daardie probleem. Baie kerk leiers het met
die probleem te make. Daar kan soms soveel puin wees wat die
geestelike groei verhinder soos bv luiheid, ongeloof, traagheid,
sinisme, selfsug, broedertwiste en onbetrokkenheid van die
lidmate. Dit maak die taak van die leiers baie moeiliker as dit
ander sou gewees het en dit maak die vooruitgang ook baie
langsamer.

Neh het dus te make met die psigologiese oorlogvoering, die
fisiese bedreigings en die individuele ontmoediging van die
werkers. Dit moet vir Neh ’n verleiding wees om moed te
verloor, soos sy volk ook moed verloor het. Maar God het hom krag
en volharding gegee.

Opposisie kan inderdaad baie ontmoedigend wees. Maar
geliefdes, moenie verbaas wees oor opposisie nie. Dink aan wat
Petrus skryf in 1 Petr 4:12: "Geliefdes, verbaas julle nie
oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle
beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie."

Petrus dink hier veral aan vervolging. En dan sê hê: verbaas
julle nie daaroor nie. Moenie dink dat dit iets vreemds is nie.
Jy glo tog in die totale verdorwenheid van die mens, dat alle
mense sondig is? Jy glo tog in die sondeval, in die feit dat
mense van nature God teenstaan? Dit is werklik nie waar wat
sommige mense sê dat alle mense begerig is om God te leer ken en
dien nie. Die meeste mense bestry Hom. Hulle is dood in hul
sondes. Daarom: Moenie verbaas wees oor opposisie nie.

Belangrik is hoe jy reageer op teenstand. Hoe reageer Neh op
daardie opposisie? Dis die tweede gedagte van die preek: Neh se
reaksie op die opposisie.

Die eerste ding wat hy doen is bid (verse 4,5). Uit die vorige
hoofstukke is dit duidelik dat Neh se lewe deur gebed gekenmerk
word. In reaksie op die spot van die vyande, beroep Neh hom op sy
Verbondsgod vir hulp: "Hoor, onse God, dat ons ’n
veragting geword het ... want hulle het U geterg teenoor die
bouers" of volgens die NV: "Hulle het die bouers
beledig."

Neh pleit ook vir God se oordeel oor sy vyande: "bring
hulle smaad op hulle hoof terug en gee hulle oor aan plundering.".

Hoe kan Neh so bid? Is Neh nie liefdeloos en wraaksugtig nie?
Dit lyk so anders as wat Jesus Christus ons leer wanneer Hy sê:
"Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle
vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat en bid vir die wat
julle beledig en julle vervolg." Ons het probleme met sulke
gebede waarin God gevra word om wraak te neem. Ons beskou sulke
gebede selfs as onchristelik.

Maar, broers en susters, moenie Neh se gebed as onchristelik
beskou nie. Julle moet ook nie die gebed sien as iets wat tipies
OT ies is nie. In die NT vind ons ook so ’n gebed, bv in
Openb 6:10. Daar bid die gelowiges in die hemel: "Hoe lank,
o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed
op die bewoners van die aarde nie?" Die siele in die hemel
wat reeds volmaak is, verheug hulle nie net in God se genade nie,
hulle roep ook om God se oordeel, waardeur Hy Homself wreek aan
hulle wat Hom tart.

Gemeente, ’n mens kan daardie gebede net verstaan as jy
besef dat Neh en die heiliges werklik omgee vir God se eer.
Wanneer Sanballat en Tobia die Jode, God se uitverkore volk,
bespot, dan bespot hulle feitelik God self. Deur die werkers te
beledig, lok hulle God se heilige toorn uit. Die teenstanders
staan God teen. Neh gee hier nie uiting aan persoonlike wraaksug
nie. Hy gee eerder uiting aan sy ywer vir die Here, dat die Here
Homself sal wreek aan Sanballat en Tobia omdat hulle Hom
teenstaan.

Geliefdes, waarom vind ons dit vandag moeilik om sulke gebede
te bid? Is dit dalk omdat ons net van God se liefde wil weet en
nie van sy heiligheid en reg nie? Is dit dalk omdat ons die
heilige ywer vir God se eer mis? Dis waar, jy moet baie versigtig
wees met sulke gebede. Ek mag nie so bid teen my persoonlike
vyande nie. Miskien dat ek die vyande self gemaak het deur my
sonde en dwaasheid. Ek mag ook nie so bid uit persoonlike
wraaksug nie. Maar dit is nie verkeerd om vir God se reg te bid
teen hulle wat sy werk uitdruklik teenstaan nie. Dit is immers
’n baie ernstige saak wanneer iemand hom opstel teen die
werk van die Here. God se eer is in geding. En is dit nie jou
wens dat God se Naam geheilig word, sy koninkryk mag kom en sy
wil geskied nie?

Gemeente, hoe bemoedigend is Neh se gebed. God stel persoonlik
belang in alles wat met ons sy kinders gebeur. Ons is kosbaar vir
Hom en Hy is beledig wanneer ’n ongelowige ons trou aan Hom
bespot, belaglik maak. Neh se gebed leer ons ook dat die geheim
om opposisie te oorwin lê in ons verhouding met die Here.

Blykbaar het Neh ook God se volk aangemoedig om saam met hom
te bid. Ons lees in vers 9 dat die hele gemeente tot God gebid
het. Die gebed verplaas berge het Christus ons geleer. In
moeilike tye maak die gebede van God se kinders werklik ’n
verskil.

Die tweede reaksie van Neh op die teenstand is wat ek wil noem
vertroue in die Here. Vertroue in die Here behoort vrees te
oorwin. Vrees maak ’n mens hopeloos inaktief. Want dan het
jy een Persoon uit die prentjie uitgelos, God, die Vader.

Daarom sê Neh in vers 14 vir sy mense: "Julle moet nie
bang wees vir hulle nie; dink aan die grote en gedugte Here."
Let op God. "Onse God sal vir ons stry" (vers 20). Gaan
dan aan met die stryd. Neh verklein nie die gevaar nie. Hy is
realisties daaroor en hy tref sy maatreëls. Maar Neh vergroot
die geloof. God is aan ons kant en Hy is groot en gedug. Groot in
wysheid, genade, trou en krag. Die geloof in Hom, ons grote en
gedugte God, oorwin vrees.

Nie dat jy nooit hoef te vrees nie. In Neh 2:2 het ons gelees
dat Neh baie bevrees geword het toe die koning gemerk het dat hy
bedroef was. Moed is nie die afwesigheid van vrees nie. Dit is
eerder die voorneme om te doen wat reg is, ondanks die vrees. Dit
is die voorneme om te bly doen wat God wil hê jy moet doen,
omdat jy weet dat God aan jou kant is.

Die derde reaksie op die teenstand sou ons kan noem: gaan
gewoon aan met die werk. Let op die werk wat gedoen moet word en
gaan daarmee aan. Kyk na die verse 9, 16-18, 21,22. Die geloof
beteken nie dat jy agteroor kan sit en dinge op jou gemak kan
doen nie. Dit beteken meer werk. Dit beteken so te sê dat jy die
swaard in een hand opneem en die troffel in die ander hand. Om op
God te vertrou, beteken dat jy die taak wat God aan jou gegee het
uitvoer.

Sien ons nie dieselfde mbt ons verlossing nie? Verlossing is
volkome die werk van God. "Dit is God wat in julle werk om
te wil sowel as om te werk na sy welbehae" (Fil 2:13).
"Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie
werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan lewe" (Ef
2:10). God doen alles. Beteken dit dat Paulus en dat ons nou niks
doen nie? Nee. In 1 Kor 15:10 sê Paulus dat hy oorvloediger as
die ander apostels gearbei het. Die geloof in God se soewereine
werk het Paulus energiek gemaak. Hy het uitgegaan en meer as al
die ander apostels gearbei. Die feit dat God alles doen behoort
ons te inspireer om alles te doen. Die geloof gee ons energie,
aktiveer ons. Daarom kan Neh ook sê: onse God sal vir ons stry;
daarom moenie bang wees nie, maar veg vir julle broers.

Neh ontsien homself nie. Vir hom kom die werk eerste. Met
ander woorde: dit kom voor sy persoonlik gerief. Natuurlik kom
dit nie voor God nie. Die werk is vir God en deur God. Daarom byt
hy vas wanneer ander begin om te aarsel. God laat hom volhard
teenoor die opposisie. God gee uiteindelik sy volk krag en moed
om met hul take aan te gaan.

God het dit gedoen uit liefde vir hulle, ook uit liefde vir
jou en my. God het sy oog op die toekoms van die volk, ter
voorbereiding op jou verlossing. God beoog ons verlossing deur
Jesus Christus. Hy wil uiteindelik na ons en ons kinders uitreik
met sy beloftes van lewe. Soos Hy dit vanoggend gedoen het by die
doop van Rehan Mark.

Ons word as Christene geroep om vir God te leef, te werk en te
stry. In die werk vir God kan ons opposisie verwag, opposisie van
buite, maar soms ook opposisie van binne die gemeente. Onthou
egter: Die stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen
geestelike magte. Wees bewus van die metodes wat Satan gebruik om
jou te ontmoedig, om jou energie jou te ontneem: spot,
bedreigings en individuele ontmoediging. Gaan na God in gebed.
Vertrou op God. Hy is ons grote en gedugte God. Hy sal vir ons
veg. Gaan daarom aan met die werk.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)