Die godsvresende Nehemia los interne konflik op.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-08-29
Teks: 
Nehemía 5
Preek Inhoud: 

Nehemia 5

Ds C Kleyn - Sondag 29 Augustus 2004

Lees: Nehemia 5.
Sing: Ps 136:1,2,19,20; Ps 25:1,2; Ps 112:1-4;
Ps 112:5,6,9; Ps 145:9-12.

Tema: Die godsvresende Nehemia los interne konflik op.

  1. Die klag van die armes;
  2. Die oplossing van die probleem; en
  3. Die voorbeeld van die leier.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Om die kerk van God te bou is geen maklike taak nie. Veral nie
as jy moeilikhede van buite af ervaar nie. Spot, veragting, en
bedreigings van buitestanders kan die kerk bouers ontmoedig. Die
taak word egter nog moeiliker wanneer probleme binne-in die kerk
voorkom. Niks kan erger wees as wanneer mede-Christene misnoeë
en ontmoediging binne die gemeente saai. Interne stryd verswak
ons en verhinder ons strewe om uit te reik.

Ja, gemeente, Nehemia het geweet wat dit beteken om stryd van
binne en van buite af te ervaar. Ons het laasweek gekyk hoe hy
die stryd van buite af hanteer het. Hy het nie toegelaat dat die
psigologiese oorlogvoering en fisiese dreigemente van die
omringende volke die bou van die mure verhinder nie. Hy het deur
gebed en vertroue op die Here die bouers aangespoor om verder te
werk – met die troffel in die een hand en ’n spies in
die ander. God het volharding geskenk ondanks die oorweldigende
opposisie.

Maar nou kom ons by vandag se teks. Interne konflik. Hierdie
keer is dit nie teenstanders van buite af nie maar ’n paar
ek-wil-vinnig-ryk-word Jode wat hulle arme medebroeders uitbuit.
Hierdie nuwe bedreiging stel die bouers se kosbaarste bate in
gevaar: hulle eenheid. Moeilikhede van buite af is erg genoeg.
Maar deur om saam te staan kon die bouers dit hanteer. Hoe moet
hulle nou die probleme hanteer as die eenheid verbrokkel is? Dit
lyk soos ’n verlore saak. ’n Onenige huis kan nie
staande bly teen ’n oorweldigende opposisie. Hoe hanteer
Nehemia hierdie situasie – die interne konflik?

Kom ons kyk daarna wanneer ek aan julle verkondig: Die
godsvresende Nehemia los interne konflik op.

  1. Die klag van die armes
  2. Die oplossing van die probleem
  3. Die voorbeeld van die leier

Ons lees van ’n ‘groot geroep’ van die volk en
hulle vroue. Dat selfs die vroue aan die protes deelneem, wys die
erns van die situasie. Die vroue sukkel om kos vir hulle
hongerige kinders te gee. Die sosiale onreg was waarskynlik nie
direk as gevolg van die werk aan die mure nie. As jy kyk na die
klag kan jy aflei dat hierdie probleem al vir ’n hele tydjie
aan die gang is. Die bou werk het dit egter tot ’n spits
gedryf.

Wanneer hierdie uitroep plaasvind, weet ons nie. As ons skat,
sou dit waarskynlik halfpad die bou proses plaasgevind het,
wanneer die dreigemente nog aktueel is en die bourommel nog baie,
terwyl die einde van die werk nog nie in sig is nie.

Die werkers het ongetwyfeld met voldoening gesien hoe die
herstel van die mure vorder. Dit kan egter nie hulle mae vul nie.
Mure kan jy nie eet nie. Die mans en hulle gesinne het kos nodig.

Tyd wat gebruik word om die mure te bou, is kosbare tyd wat
hulle verloor aan boer en gewasse plant. Die gewone arbeiders kan
dit nie bekostig nie. Bowendien, hulle het groot gesinne om vir
te sorg (v.2), daar is ’n wydverspreide hongersnood (v.3),
en ’n groot bedrag belasting is aan die Persiese koning
verskuldig (v.4).

Wat kan hulle doen? Hulle is vir geen ander keuse gestel nie
behalwe om geld te leen en hulle lande te verpand. Dit sou in
hierdie tydelike nood geen probleem of skande wees nie as die
geldskieters onselfsugtig sou uithelp. Jammer genoeg doen die ryk
Jode dit nie. Hulle help uit, hulle leen geld, hulle laat die
armlastiges hul besittings aan hulle verpand, hulle vra rente,
dalk selfs 1% per maand. Dit lei tot sosiale onreg. Twee klasse
word gevorm: die rykes wat hulle rykdom vermeerder ten koste van
die armes en die armes wat steeds armer word omdat hulle geld
moet leen teen ’n hoë rentekoers en hul eiendom moet
verpand om te kan oorleef. Die armstes moet selfs hulle seuns en
dogters aan die ryk geldskieters verkoop. Hierdie soort
behandeling is des te erger omdat dit kom van die kant van hul
eie Joodse broers (v.1); Ons vlees en bloed, ons volksgenote (vers
5). Hierdie manne het ook kinders gehad – "Ons kinders
(is) soos hulle kinders" – en moes daarom die pyn en
hartseer van die ouers gevoel het wat hulle kinders as slawe moes
verkoop.

Die ryk manne het op ’n saaklike manier voordeel getrek
uit die armes. Die armes het nog armer en ongelukkiger as
voorheen geword. Met as gevolg die publieke geroep of aanklag.
Hulle kan dit nie meer hanteer nie. Wat ’n uitbuiting in
’n samelewing wat God geroep het om in broederskap saam te
leef!

Hoe reageer Nehemia op hierdie klagtes? Hy sluit nie sy ore
vir hulle klagte nie, ondanks sy besige werk aan die bouprojek.
Hy sê nie: Kyk, mense, daar is werk om te voltooi. Die bou van
die stadsmure is God se prioriteit vir elkeen van ons. Ek het nie
nou tyd om myself met julle klagtes te bemoei nie. Sit dit op ys
totdat die werk voltooi is. So ’n reaksie sou liefdeloos;
harteloos; wreed wees.

Verbeel jou jy sien ’n swaar gewonde man langs die pad lê.
Kan jy daardie man ignoreer met die verskoning dat jy eers ander
dinge moet doen? Nee, daardie man het jou hulp nou nodig.
Dit is jou eerste prioriteit. Dit verstaan Nehemia. Hy wys sy
meegevoel en belangstelling. Hy los al sy bedrywighede om ten
volle te konsentreer op die geroep van die werkers. Hulle klagtes
raak hom diep.

Wanneer Nehemia hoor dat die ryk Jode hulle arm broers
onderdruk is hy baie verontwaardig. Skok dit jou? Mag ’n
goddelike man kwaad word? En behoort ’n leier kwaad te word?

Geliefdes, dit is duidelik dat nie alle gevoelens van toorn
uit die sonde voortkom nie. As dit so was, sou jy God self kon
beskuldig van sonde. Meeste van ons boosheid spruit voort uit ons
onsekerheid, frustrasies, ons self-gesentreerdheid. En God is nie
self-gesentreer, gefrustreer of onseker nie. Sy gramskap spruit
uit heilige liefde voort. Dieselfde kan van Nehemia se boosheid
gesê word. Sy toorn is ’n heilige toorn wat voortspruit uit
sy bekommernis en liefde. Sy toorn is beheers en opbouend.

Dit is nie ’n sonde om as Christen jou boosheid tot
uitdrukking te bring nie. Jesus self het uiting gegee aan hierdie
emosie toe hy bv. die geldwisselaars uit die tempel gedryf het.
Ons moet egter oppas dat ons nie beheer oor ons humeur verloor
nie en so uitbreek in sondige woede.

Nehemia spring nie onmiddellik in aksie nie. Hy moet eers
deeglik daaroor nadink. Slegs na sorgvuldige oorweging probeer hy
die probleem op los. Hy vertel ons: "En ek was baie
verontwaardig toe ek hulle geroep en hierdie woorde hoor. En ek
het by myself beraadslaag."

Sy toorn lei tot aksie – nie onbeheerste, afbrekende
aksie nie, maar positiewe, opbouende aksie. Ons kan hom nie van
oorhastig wees beskuldig nie, aangesien ons nie weet hoe lank hy
daaroor nagedink het nie. Al wat ons kan sê is dat sy woorde en
dade wys dat hy bereid is om die saak op ’n moedige,
verstandige en goddelike manier te hanteer.

Let mooi op na wat hy doen. Hy pak die bul by die horings. Hy
gaan eers na die rykmanne toe wat die probleem veroorsaak het.
Alhoewel hy die saak in die publiek sal moet hanteer, moet hy
eers die skuldiges privaat aanspreek. Hy beskuldig die rykmanne
reg in hulle gesig: "Julle leen uit op woeker, elkeen aan sy
broer" (v.7). Dit wil sê, julle doen dinge enkel en alleen
om geld uit julle broers te maak. Dit, sê Nehemia, moet stop.

Nadat hy die edeles privaat teregwys, belê Nehemia ’n
groot vergadering om die saak publiek op te los. Nehemia berispe
die rykmanne in publiek. Hy sê: "Ons het ons Joodse broers
wat aan die heidene verkoop was, na ons vermoë losgekoop; en tog
verkoop julle jul broers, sodat hulle hul aan ons moet verkoop"
(v.8). Hoe kan julle so onmenslik teen mense van jou eie volk
optree sodat julle kinders van bankrot gesinne as slawe verkoop?
Die edeles is skuldig. Hulle staar die mense wat hulle verontreg
het, in die gesig. Hulle swyg.

Nehemia voel die stilte aan en vervolg: "Dit is nie goed
wat julle doen nie. Moet julle nie in die vrees van onse God
wandel ter wille van die smaad van die heidene, ons vyande, nie?"
"Wandel in die vrees van God," beteken om God ernstig
te neem in jou lewe. Jy besef dat jy in Sy teenwoordigheid lewe.
Jy gehoorsaam sy bevele. Dan wys jy liefde vir die Here en vir
jou naaste. En vermy jy die smaad van die ongelowiges. Christene
wat nie hulle naam in woord en daad hoog hou nie, lok die spot
van ongelowiges uit.

Geliefdes, so ’n taak van vermaning is nooit ’n
aangename ondervinding nie. ’n Godsdienstige leier put geen
genot daaruit om mense in die verleentheid te bring, om hulle te
verneder nie. Daarby maak Nehemia homself baie ongewild onder die
invloedrykste mense onder sy volk. Hierdie prosedure was egter
nodig om die kwaad uit hulle midde uit te roei.

Nehemia los geen twyfel by die edeles oor wat hulle moet doen.
Nehemia en sy familie het ook geld en koring aan die armes geleen.
Hulle het dat egter, ooreenkomstig die wet van die Here, sonder
rente gedoen. Vir die edeles geld: die woeker moet onmiddellik
stop! "Gee dan vandag nog hulle lande, hulle wingerde, hulle
olyfbome en hulle huise aan hulle terug, en die honderste deel
van die geld en die koring, die mos en die olie wat julle aan
hulle geleen het." Geen rente moet meer gevra word nie, sê
Nehemia - Jode behoort in elk geval volgens die wet nie rente te
vra van mede-Jode nie – en kom ons hou ’n Jubeljaar,
hier en nou, waarin alle verpande en gekonfikeerde eiendomme,
tesame met alle rente wat op oneerlike wyse gevorder is,
teruggegee word aan die aan wie dit behoort.

Die edeles belowe om Nehemia se woorde stiptelik na te volg.
"Ons sal dit teruggee en niks van hulle vorder nie; ons sal
net so handel soos u gesê het." Maar Nehemia, vertroud met
die hart van die mens, maak doodseker hulle sal dit doen. Hy roep
die priesters na vore sodat hulle voor die hele volk ’n eed
sweer. ’n Eed wat in die openbaar gemaak is, is moeilik om
te breek.

Nehemia gaan selfs verder: hy spreek ’n vloek uit oor
enige edele wat nie volgens hierdie woorde handel nie. Nehemia
doen alles in sy vermoë om seker te maak dat die probleem
opgelos word. Toe sê die hele vergadering: Amen! en hulle het
die Here geprys. En die volk het volgens hierdie woorde gehandel
(v.13). Wat ’n wonderlike afloop van sake! Wie sou dit
moontlik geag het?

In een dag het ’n wrede besigheids-mentaliteit omgeswaai
na broederlike liefde; misbruik van die armes plek gemaak vir
hulpverlening aan die armes deur die rykes. Hoe is dit moontlik?
Verskeie faktore kan hierby ’n rol gespeel het, soos
byvoorbeeld ’n skuldgevoel, of Nehemia se wysheid en moed.
Maar die oorsprong van hierdie omkeer kan slegs aan God se krag
toegeskryf wees, Sy krag wat besig was om in die mense se harte
te werk.

Die God wat Artasasta aangespoor het om Nehemia toe te laat om
Jerusalem se mure te herbou, oortuig nou die edeles om Nehemia se
woorde te volg. God is besig om alle dinge inmekaar te pas ter
voorbereiding van die koms van Sy Seun, om Sy volk, jy en ek, van
ons sondes te red. Hierdie selfde God is vandag nog steeds in
beheer van die mens se sake en die verloop van die geskiedenis.
Alles beweeg nou vooruit na die wederkoms van ons Here, Jesus
Christus.

Ons kom nou by die laaste punt: Nehemia se voorbeeld. Enige
twyfel oor die finansiële integriteit van Nehemia word weggeruim
in die laaste paar verse van hoofstuk 5. Nehemia gee ’n blik
op sy styl van leierskap. Gedurende sy twaalf jaar as goewerneur
wys hy sy selfopoffering en milddadigheid.

Op grond van sy posisie was hy geregtig om belasting in te
vorder vir die dek van sekere staatsuitgawes soos onthaalkostes.
Nehemia het geweier om dit te doen. "Ek en my broers (het)
die brood van goewerneurs nie geëet nie." Dit skep ’n
groot kontras met sy voorgangers.

Die uitgawes was groot. Hy moes daagliks 150 Joodse leiers
sowel as besoekende hooggeplaastes uit ander lande aan sy tafel
voed. Die kostes kan in v.18 gepeil word: "En wat vir elke
dag berei is – een bees, ses uitgesoekte stuks kleinvee en
voëls...en elke tien dae allerhande soorte wyn in oorvloed."
Hy het hierdie kos uit sy persoonlike fondse betaal, of uit
’n toelaag wat hy vanuit Susa ontvang het.

Politieke aanstellings het gewoonlik die potensiaal gehad om
groot finansiële winste te maak. Orals in die wêreld verryk
korrupte leiers hulleself. Nehemia is anders. Baie mense sou
hulle koppe in ongeloof skud en wonder wat hom besiel het. Hy het
nie sy aanstelling as sy kans op geld en roem beskou nie. Sy
enigste doel was om vir God op te staan en die lot van Sy volk te
verbeter. Eerbied vir die Here het hom besiel. Hy was godsvresend.
God was nommer 1 in sy lewe. Nehemia was ’n man wat God
liefgehad het, en gevolglik ook sy naaste liefgehad het soos
homself.

Daarom kon sy vyande hom nie stuit nie. Geen geld of roem kon
hom lok nie. Nehemia het nie, soos soveel ander hooggeplaaste,
geld, seks en mag begeer nie, maar liewers die aanskouing van God
se heerlikheid in Jerusalem. Hy het sy uiters bes probeer doen om
in alles te handel tot voordeel van hierdie verarmde gemeenskap
wat hy kom help het.

As deel daarvan kies hy bewustelik om fondse uit ander
hulpbronne te gebruik om sy personeel te onderhou pleks om
belasting van sy volk te hef. Wat ’n indrukwekkende
voorbeeld van broederlike liefde en vroomheid word deur die leier
gewys.

Nehemia eindig die hoofstuk met ’n gebed: "Dink, my
God, my ten goede, aan alles wat ek aan hierdie volk gedoen het!"
Hoe sien ons Nehemia se verslag oor homself as leier? Klink dit
nie soos spoggery nie? Is dit van pas om so oor jouself te skryf?
Herinner dit nie aan die hoogmoed van die Fariseërs, of aan wêreldse
selfverheffing nie?

Gemeente, dit is nie vergelykbaar nie. Dink aan Paulus wat die
Korinthiërs herinner aan sy harde werk en onberispelike
lewenswandel en vir hulle sê: "Wees my navolgers, soos ek
dit ook van Christus is" (1 Kor 11:1).

In sy verslag oor homself sien ons die geestelike krag en
hoogte van Nehemia raak. Hy getuig openlik daaroor wat in God se
diens bereik kan word, deur God se genade wanneer dit nodig is.
Nehemia wys hy verwag nie meer van ander as wat hyself bereid is
om te doen en wat hy reeds bereik het. Hy wys die rykmanne nie
slegs terug na God se Woord nie. Hy wys hulle ook op sy eie lewe,
soos dit in God se Woord gewortel en daardeur gevorm is.

Hulle kon sy vermaning nie in sy gesig teruggooi met die
woorde: kyk eers na jouself nie. Beskaamd, kon hulle geen
antwoord vind toe hulle aangekla is, deur een wat God se Woord
sorgvuldig in sy eie lewe toepas nie. Ons moet mooi hierop let.
God het nie Fariseërs nodig nie. Ook nie selfvoldane mense.

God soek geestelike en godsvresende mense wat die krag van God
se genade in hulle lewe uitstraal. God wil mense hê wat uit
hulle daaglikse lewe wys dat hulle doodernstig oor die leer van
die Skrifte is. Soos diensknegte wat van God se genade leef om
die wil van hulle meester te doen. Manne en vroue wat durf om God
se Woord skerp toe te pas en terselfdertyd hulleself
onvoorwaardelike aan daardie skerpe Woord oorgee. Ouers wat uit
hulle eie lewenstyl vir hulle kinders wys hoe belangrik God se
Woord vir hulle is. ’n Kerk wat wys dat God en sy Woord die
belangrikste vir haar is.

Ja, praktiese Christendom – dit wil God sien – en
dit spruit voort uit ’n belydende Christendom. Dis waar, God
het dit nie nodig nie. Maar dit behaag hom om aan Sy Woord ekstra
krag te gee deur ’n Christelike lewe. Vrome woorde sonder
’n vrome lewenswandel het al onmeetbare skade in gesinne en
kerke aangerig. Kom ons vestig ons volle aandag daarop. As ouers
moet ons in praktyk bring wat ons ons kinders voorhou. En as kerk
die evangelie uitleef.

Laat God alles in almal wees. Dan sal ons nie net hoorders
nie, maar ook daders van die Woord wees. Dan is ons godsvresend
in ons woorde sowel as in ons dade. Dan is ons regtig geestelik.
Mense wat deur die Gees van God gelei is. Wanneer jou dade nie
met jou woorde ooreenstem – bekeer jou van hierdie sonde wat
van jou Christen wees ’n klug maak. Wanneer woord en daad
ooreenstem, dank God vir Sy genade en krag. Volhard in die vrees
van die Here. Laat Hom die eerste en die laaste in jou lewe wees.
Jou bron en doel.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)