Die doop as teken en seël van die evangelie van Christus

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-09-26
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 26
Preek Inhoud: 

Sondag 26

Ds C Kleyn - Sondag 26 September 2004

Lees: Romeine 3:1-8; 4:1-12; Sondag 26.
Sing: SB 27; Ps 89:1,6; Ps 111:1,2,4,5; Ps 16:1,3,5.

Tema: Die doop as teken en seël van die evangelie van
Christus

  1. Die betekenis van die doop; en
  2. Die gebruik van die doop.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vanaand kyk ons na die eerste sakrament van die verbond met
die Here. Hierdie sakrament, die doop, verwys vir die meeste van
ons na die begin van ons lewe. In ieder geval wys dit vir elkeen
van ons na die begin van ons lewe met God. Dit tipeer naamlik die
doop dat dit voorkom aan die begin van God se verbondsgeskiedenis
met ons. Dit is immers ’n teken van ons inlywing in die
verbond. Dit begin van een kant, van die kant van die Here. Hy
het sy verbond mos opgerig met verlore sondaars, mense wat van
nature sy vyande is.

Die eensydige begin van die verbond word duidelik uitgebeeld
in die doop, die sakrament van die begin. Jy word gedoop. As
dopeling is jy passief. God is die aktiewe party. Dit kom des te
duideliker na vore by die kinderdoop. As baba kon jy onmoontlik
iets bydra. Dit geld egter ook vir die grootdoop. As volwassene
bely jy inderdaad eers jou geloof. Maar dit verander nie die aard
van die doop nie. Die geloofsbelydenis is nie deel van die doop
as sulks nie. Waarom is dit dan nodig? Dit funksioneer as ’n
aanwysing dat jy werklik tot die verbond behoort. Die aard van
die doop bly dieselfde of die dopeling nou ’n kind of ’n
volwassene is. Jy word gedoop. Jy is passief. God kom van sy kant
na jou toe met sy evangelie.

In ons land is daar baie mense wat gedoop is. Baie ouers het
hul kinders laat doop sonder om werklik erns te maak met die
diens van die Here. So het die betekenis van die doop vir baie
vervaag. Aan die kant van die ouers was daar moontlik sprake van
bygeloof. Nee, hulle wou hul kinders nie ongedoop laat nie. En
aan die kant van die kinders is die doop dikwels niks meer as
’n teken dat hulle by ’n kerk behoort. Deur hul doop is
hulle lid van ’n sekere kerk, ook al besoek hulle nouliks
die kerk.

Geliefdes, baie ontheilig die doop. Daarom is dit des te
belangriker dat jy en ek wel ons doop heilig hou, dat ons ons
doop ernstig neem. Wat beteken dit vir jou om gedoop te wees? Die
Kat kan ons hierby help deur sy verklaring volgens die Skrifte.

Let daarop, broers en susters, dat die kat baie persoonlik is:
"Hoe word jy in die heilige doop gewys en daarvan verseker
dat die enige offer van Christus aan die kruis jou ten goede kom?"
In die antwoord daarop gebruik die kat die eerste persoon. "Christus
het die uitwendige waterbad ingestel. Daarby het Hy beloof dat ek
net so seker met sy bloed en Gees van die onreinheid van my siel,
dit is van al my sondes, gewas is as wat ek uitwendig met die
water gewas is wat die vuilheid van die liggaam wegneem."
’n Pragtige belydenis van hom of haar wat glo. Ja, die
antwoord van die kat wil ’n persoonlike geloofsbelydenis
wees. Dis hoe gelowiges oor hul doop mag en kan praat.

Ek verkondig vir julle die doop as teken en seël van die
evangelie van Christus

Ons wil let op:

  1. Die betekenis van die doop
  2. Die gebruik van die doop.

Geliefdes, wanneer die kat die betekenis van die doop noem,
verwys hy na die belofte dat Christus my met sy bloed en Gees van
al my sondes wil was. Daarby verwys die kat na die bekende tekste
Mt 28:19 en Mk 16:16. Die vraag kan gestel word: Hoe kan die kat
op grond van daardie tekste konkludeer dat Christus ons met sy
bloed en Gees wil was? Mt 28:19 noem net dat ons gedoop moet word
in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. En Mk
16:16 voeg daaraan toe: "Hy wat glo en hom laat doop, sal
gered word." Hier word Christus se bloed en Gees nie genoem
nie. Dit lyk asof Mt 28 heeltemal nie na die betekenis of inhoud
van die doop wys nie. Net die naam van die drie-enige God waarin
ons gedoop word, word genoem. Hoe kan die kat dan daaruit die
gevolgtrekking maak dat Christus ons met sy bloed en Gees wil
was?

Kom ons kyk na die tekste. Wat behels dit om in die Naam van
die Vader en die Seun en die Heilige Gees gedoop te word? Is dit
waar dat hierin geen verwysing na die belofte van die verbond is?
Om in die naam van die drie-enige God gedoop te word, beteken dat
jy simbolies in sy gemeenskap gebring word. Letterlik staan daar
ook dat jy gedoop word tot die Naam. Jy word so te sê oorgeplaas
na die gemeenskap van die drie-enige God.

Maar wat beteken dit om na die gemeenskap van die drie-enige
God oorgeplaas te word? Dit beteken in elk geval dit: God haal
jou na Hom toe, Hy wil jou by Hom hê. Hy wil vir jou sorg. Hy
het geen behae in jou dood nie, maar daarin dat jy jou bekeer en
leef. Hy wil in gemeenskap met jou lewe, as Skepper en Verlosser.
Die doopsformulier werk dit mooi uit wanneer dit verklaar wat dit
beteken om in die naam van die Vader en van die Seun en van die
Heilige Gees gedoop te word. Die Vader neem ons tot sy kinders en
erfgename aan. Die Seun belowe dat Hy ons in sy bloed wil was en
reinig van al ons sondes. Die Heilige Gees verseker ons dat Hy in
ons wil woon en tot ons eiendom wil maak wat ons in Christus het,
naamlik die afwassing van die sondes en die daaglikse vernuwing
van ons lewe. Let daarop dat hier sprake is van God se verbonds-wil.
Nie van sy wil in die verkiesing tot saligheid nie. Die laas
genoemde is vir ons verborge. Ons gaan uit van die geopenbaarde
wil van God, soos Hy dit konkreet vir ons spreek in die verbond.

Die drie-enige God aanvaar gemeenskap met mense wat van nature
in sonde en skuld verlore is. Die doop formule impliseer daarom
die belofte van die verbond. God bied Homself aan. Hy wil jou God
wees en jy mag sy kind wees. Dis die inhoud van die hele
evangelie. Wat is die woord van God anders as God se bekendmaking
van Homself as die drie-enige God? Die belofte van die evangelie
is niks minder as God self. God belowe homself. God verkondig
Homself. Let daarop dat die woord belofte hier ongeveer gelyk is
aan die woord verkondiging. Wanneer ek glo, dan ontvang ek God in
die evangelie, God die Vader, God die Seun en God die Heilige
Gees. En wanneer ek die drie-enige God ontvang, ontvang ek my
redding. Dit word duidelik verwoord in Mk 16:16: Hy wat glo en
hom laat doop, sal gered word. Hy wat die evangelie van die drie-enige
God glo en die teken en seël van die evangelie ontvang sal gered
word.

Nee, dit beteken nie dat die redding van die teken en seël
afhanklik is nie. Hy wat glo, is reeds deur die geloof gered.
Daarom vervolg die teks: "maar hy wat nie glo nie, sal
veroordeel word." In die tweede helfte van die teks word die
doop nie eers genoem nie. As jy die teken nie kon ontvang nie,
dan wil dit nie sê dat jy veroordeel is nie. Die doop is nie
onmisbaar nie. Maar wanneer ’n mens glo, dan verag jy nie
die doop. Wanneer jy glo, dan wil jy hê dat die evangelie aan
jou bevestig word in die doop. Die doop bring die evangelie, ja
bring God, baie naby jou.

Broers en susters, in beide die evangelie en in die doop
belowe die drie-enige God homself. Hoe kom die kat daartoe om dit
dan toe te spits op die belofte van die wassing van sondes deur
Christus se bloed en Gees? Dit het alles te make met die teken
wat die Here self vir die doop gegee het, naamlik die water. Elke
kind weet wel waarvoor water gebruik word. Wat doen jy met water?
Waarom gaan ’n mens stort? Waarom neem iemand ’n bad?
Tog om jouself te was, om die vuil van die liggaam te verwyder en
om jouself te verfris.

Daarom het Christus bepaal dat die simbool van die doop water
moet wees. Dis ’n teken van wassing, reiniging. Jou vuil
sondes moet afgewas word. So wys die teken van die doop op die
hart van die evangelie. God belowe inderdaad Homself. Vir verlore
sondaars beteken dit eerstens: die vergewing van sondes en die
vernuwing van jou lewe. Daarom word die evangelie dikwels
saamgevat met die naam Jesus Christus. Die belofte van die drie-enige
God vind sy sentrum in Jesus Christus. Alles draai om die
verlossing van sondaars in Jesus Christus.

Daarom word in die Bybel die doop meermale aan Jesus Christus
alleen verbind. In sy Pinksterpreek sê Petrus die apostel:
"Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die
Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes." Gelowiges
in Samaria en Cesarea is gedoop in die Naam van die Here Jesus.
Ons lees ook in Rom 6:3 "Of weet julle nie dat ons almal wat
in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie." Hier
word die gemeenskap waarin die doop ons simbolies bring die
gemeenskap met Christus Jesus genoem.

Maar is dit nie in stryd met die opdrag om te doop in die naam
van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees nie? Nee.
Net soos die woord van die drie-enige God die verlossing in Jesus
Christus tot inhoud en sentrum het, so vind jou gemeenskap met
die drie-enige God sy sentrum in die gemeenskap met Jesus
Christus. Die Vader, Seun en Heilige Gees werk in volkome
harmonie saam tot ons verlossing. Maar dit is in die Seun dat dit
volle werklikheid word. As jy die Seun het, het jy ook die Vader
en die Gees. God die Vader het mos sy Seun in die wêreld gestuur.
En die Gees is uitgestort as Gees van die Seun om ons deel te
laat kry aan Christus en al sy weldade. Alles draai dus om
redding in Jesus Christus. Dit is die hart van die evangelie. Dit
is ook die inhoud van die verseëlde belofte van die doop.

En gemeente, vir verlore sondaars omvat die redding in Jesus
Christus; die afwassing van sondes deur Christus se bloed en Gees.
Die skuld moet verwyder word, daarvoor is Christus se bloed nodig.
Die besmetting deur die sonde moet ook verwyder word, daarvoor is
Christus se Gees nodig. Daarom word gepraat van Christus se bloed
en Gees. Christus se bloed bevry van die skuld. Christus se Gees
bevry van die besoedeling van die sonde en vernuwe ons lewe.

Hierop wys die water van die doop. Die belofte van die
evangelie word ons op die hart gedruk. Die drie-enige God kom in
my doop nadruklik na my toe met sy evangelie van vergewing en
vernuwing. Hy verseker my daarvan. By die doop praat God baie
persoonlik. Hy noem my by die naam. Hy plaas sy teken en seël op
my voorhoof. Hy verseker my: so seker as die water die vuilheid
van die liggaam wegneem, so seker wil ek jou van al jou sondes
was.

Maar, broers en susters, beteken dit nou dat elke dopeling tot
die ewige lewe uitverkies is en dus ook die vervulling van die
belofte ontvang? Beteken dit dat jy vir elke dopeling kan sê:
jou sondes is vergewe en jou lewe is vernuwe? In die verbond
gebeur niks outomaties nie. Die doop is geen magiese krag nie.
Soos die evangelie geen magiese krag het nie. Die evangelie, ook
die verseëlde evangelie moet geglo word. Dis langs die pad van
die geloof dat die skatte van verlossing geniet word. Hy wat glo,
sal gered word.

Dink aan Abraham se besnydenis. Rom 4 benadruk dat die geloof
aan Abraham toegereken is voordat hy besny is. Die besnydenis het
niks daaraan toegevoeg nie. Dit was net ’n teken en seël
van die geregtigheid deur die geloof. Voor sy besnydenis het
Abraham reeds die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou
wees, ontvang. Dit is bevestig deur die sakrament van die
besnydenis. Die belofte wou net werklikheid word langs die pad
van die geloof. Wat nodig is, is dus die geloof, dat jy die
sakrament in geloof gebruik. Dis die tweede gedagte van die preek:
die gebruik van die doop as teken en seël van die evangelie.

Aanvaar die verseëlde beloftes in geloof. Moenie roem in jou
doop nie, asof die doop outomaties beteken dat alles in orde is.
Die geskiedenis van die Jode leer vir jou die les. Hoe dikwels
het hulle nie geroem: ons is kinders van Abraham, ons is God se
volk, ons is God se tempel nie. Maar hoeveel van hulle is nie
afgewys deur God as ongehoorsame en opstandige bondgenote nie?

Die beloftes wat in die doop uitgebeeld en verseël word, moet
in die geloof aanvaar word. God kom na jou toe met sy evangelie,
met sy verbondsbeloftes, met Homself. Jy word daarom in die doop
geroep om hierdie drie-enige God aan te hang, te vertrou en lief
te hê. As jy dit nie doen nie, dan sal jou doop teen jou getuig.
Niemand kom ooit los van sy doop nie. Selfs nie wanneer jy die
verbond van jou kant verbreek nie. Want jy neem dan die doop saam
met jou in jou vlug na die wêreld. Dit bly jou aankla. Daardie
ryke beloftes keer teen jou.

Daarom, geliefdes, wanneer mense die verbond verbreek en hul
rug God toedraai, dan moet jy nooit praat van ’n onegte doop
nie, asof die doop nie werklik vir die persoon bedoel was nie.
Elke doop wat in die naam van die drie-enige God bedien word, is
’n egte doop. Net soos elke verkondiging van die Christus
ware verkondiging is, wat in alle erns en waarheid na jou toe kom.
God spreek al die dopelinge aan met sy beloftes. Elke doop
illustreer en verseël dieselfde evangelie.

Wanneer iemand weier om die beloftes te aanvaar, dan is dit
nie God se skuld nie. Paulus skryf soos volg: "Wat maak dit
as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die
getrouheid van God vernietig? Nee, stellig nie. Maar God moet
waaragtig wees en elke mens leuenagtig."

As God eenmaal iets gesê het, in die evangelie en dit in die
sakrament bevestig het, dan bly dit staan. God se woord is waar,
volkome betroubaar. ’n Verbreking van die verbond bewys die
ontrou van mense teenoor God se trou.

Maar, broers en susters, wanneer jy jou doop gebruik, dws
wanneer jy die verseëlde evangelie in geloof aanvaar, dan mag jy
jou met die kat verbly: Ek is bevry van al my sondes so seker as
wat ek gedoop is. Dit dan is geen ligvaardige uitspraak nie. Dis
eerder ’n nederige erkenning van God se beloftes in geloof.
Wanneer ek dit met my hart glo en met my mond bely, dan sien ek
agter die teken van die doop my drie-enige God. Die doop verseker
my dan van my redding in Jesus Christus.

Gemeente, hier word julle die pad gewys om seker van jou
verlossing te wees. Fokus op die evangelie, soos dit in jou doop
baie naby aan jou gebring is. Gaan terug na jou doop. Gebruik dit.
Voordat jy iets kon sê of doen, het God jou reeds persoonlik
aangespreek. Hy wou jou in sy gemeenskap opneem. "Ek doop
jou in [of tot] die Naam van die Vader en van die Seun en van die
Heilige Gees." Hy het dit op daardie dag en uur laat doen in
die teenwoordigheid van baie getuies. Jy kan daaroor navraag doen
by die mense wat daar toe aanwesig was. Die evangelie het jou
lewe binnegekom en het jou persoonlik aanspreek. Sodat jy nie sou
dink: die evangelie is net ’n abstrakte waarheid wat
moontlik vir ander mense geld, maar nie vir my nie. Nee, God het
juis in jou doop die evangelie sigbaar naby gebring. Dis ook vir
jou bestem. Ook jy mag die aanneem.

Om seker van jou redding te wees, moet jy daarom nie gaan soek
na dinge in jouself nie. Ons mense hou daarvan om ons te beroep
op sekere eienskappe, kenmerke wat ons in onsself wel of nie
ontdek. Ek kyk dan na my bekering en vra myself: is my bekering
ernstig genoeg? Of ek gaan my gebedslewe weeg: kom die ooreen met
God se standaard? Of ek kyk na my doen en late: is dit voldoende
tot eer van God? Hierdie selfondersoek is belangrik, laat ons dit
nie nalaat nie. Maar dit is nie die manier waarop jy sekerheid
oor jou verlossing verkry nie. Om na myself te kyk, kan my net
onsekerder maak, tensy ek natuurlik geen gewete het nie. As ek
myself in die spieël gesien het, moet ek na God se evangelie/beloftes
vlug. Dit gee sekerheid. Onthou die water wat op jou voorhoof
gesprinkel is. ’n Teken en seël van ’n ewige verbond
met God. ’n Seël dat jy altyd terug na God kan gaan, maak
nie saak watter gemors jy van jou lewe gemaak het nie.

"Christus het hierdie uitwendige waterbad ingestel.
Daarby het Hy beloof dat ek net so seker met sy bloed en Gees van
die onreinheid van my siel, dit is van al my sondes, gewas is as
wat ek uitwendig met die water gewas is wat die vuilheid van die
liggaam wegneem."

Dis pragtige taal, die taal van die geloof, wat amen sê op
God se betroubare woorde. Maar is dit nie te vrypostig nie? Kan
ek dit sommer sê? Nee, nie sommer nie. Voordat Christus die
teken en seël ingestel het, het Hy sy lewe daarvoor afgelê. Hy
het die volle prys van God se toorn teen die sonde betaal.
Christus kan daarna verwys wanneer Hy die Christelike doop instel.
Jy kan op sy woord staatmaak. Hy belowe nie net mooi dinge nie,
wat Hy nie kan waarmaak nie. Nee, wat Hy belowe, het Hy feitelik
al bewys. Sy beloftes is daarom volle werklikheid vir elkeen wat
glo.

Maar is dit nie te vrypostig om te sê dat ek van al my
persoonlike sondes gewas is nie? Geliefdes, wanneer jy in geloof
die grond van die beloftes sien, Christus se offer aan die kruis,
dan is dit nie te vrypostig nie. Christus se woorde is nie sommer
uitgespreek nie. Hy het sy bloed daarvoor gegee.

Maar wat gemaak as ek steeds weer terugval in sekere sondes?
Die doopsformulier sê dit so mooi en vertroostend: "En as
ons soms uit swakheid in sondes val, moet ons nie aan die genade
van God twyfel of in die sondes bly lê nie: die doop is immers
’n seël en volkome betroubare getuienis dat ons ’n
ewige verbond met God het."

Dit word, broeders en susters, nie gesê om ons aan die slaap
te sus nie of om ons gemaksugtig te maak nie. Hierdie woorde is
nie bedoel om jou ’n valse versekerdheid te gee nie, asof jy
nooit bekommerd hoef te wees omdat alles tog reeds in orde is. Jy
is mos gedoop. Nee, hierdie woorde word genoem vir hulle wat soms
uit swakheid in sondes val. Nie vir hulle wat in sonde lewe nie.
Nie vir hulle wat die sonde koester en ’n wêreldse
lewenstyl kies nie. Nee, hier gaan dit ook jy en ek wat uit
swakheid in sonde val. Jy wil dan ernstig God dien, maar die
sonde word weer te sterk vir jou sodat jy val. Dan moet jy nie
aan God se genade twyfel nie. Jy is nie ’n hopelose geval
nie. Onthou jou doop. Luister na die evangelie wat daar en dan
aan jou verkondig en verseël is. God is barmhartig en genadig,
lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy vergeet nooit sy
verbond nie. Daarom, neem jou toevlug tot Hom. Gryp sy vaste
beloftes vas. Aanvaar die woord van redding, wat persoonlik aan
jou verseël is. Dan is jou sondes vergewe. So seker as wat jy
gedoop is. Deur die geloof besit jy die ewige lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)