Die middele wat die Heilige Gees gebruik om in my die geloof te werk en te versterk.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-09-19
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 25
Preek Inhoud: 

Sondag 25

Ds C Kleyn - Sondag 19 September 2004

Lees: Romeine 9:30-10:21; Sondag 25.
Sing: Ps 87:1,2; Ps 71:12,14; Ps 78:1-4; Ps 62:4,5,8; SB
43:4-6.

Tema: Die middele wat die Heilige Gees gebruik om in my die
geloof te werk en te versterk.

  1. Die Heilige Gees werk die geloof deur die Woord; en
  2. Die Heilige Gees versterk die geloof deur woord en
    sakramente.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die geloof is onmisbaar. Alles hang daarvan af. Deur die
geloof kry ons deel aan Christus en al sy weldade. As ek nie glo
nie, dan het ek geen deel aan Christus en het ek geen deel aan
die heil, die vergewing van die sondes en die ewige lewe nie.

Dat soveel van die geloof afhang kan ’n mens benoud maak.
Gestel ek worstel met twyfel. Gestel ek sit met die vraag: glo ek
werklik? Ek gaan kerk toe, ek lees die Bybel, ek bid ook wel,
maar dit is asof dit my skaars raak. Dit kan my onrustig maak: is
ek dan buiten Christus?

Die dinge wat ek rondom my sien en hoor kan twyfel by my
oproep: is die Bybel werklik die woord van God? Ja, is die God
van die Bybel werklik die enigste ware God? Is die mense van die
ander religies dan almal verkeerd?

Soms kan ek as ouer ook ’n oneerlik gevoel hê. Ek gaan
die kinders voor in skriflesing en gebed. Ek hou hulle die weg
van die verbond voor. Maar soms kan die gevoel by my opkom dat ek
dit meer uit gewoonte doen as uit ’n lewend geloof.
Vertwyfeling kan sommer ontstaan. Staan ek dan tog nie buite
Christus en al sy weldade nie? Hoe bekom ek die ware geloof?
Miskien het jy ook die gevoel dat jy wel wil glo maar dit nie kan
nie. Dit lyk asof jy dit nie regkry nie? Wat moet jy dan doen?

Gemeente, die vraag van ons Kat is baie belangrik: "Terwyl
ons slegs deur die geloof deel aan Christus en al sy weldade kry,
waar kom so ’n geloof dan vandaan?" Hoe kom ek aan die
geloof wat my aan Christus verbind? Die Kategismus wys, volgens
die Skrifte, op die weg van die middele: woord en sakrament. Dit
is middele wat die Heilige Gees gebruik om in my die geloof te
werk en te versterk. Daaroor wil ek vanaand aan u God se woord
verkondig.

  1. Die Heilige Gees werk die geloof deur die Woord
  2. Die Heilige Gees versterk die geloof deur woord en
    sakramente

Die geloof kom van die Heilige Gees. Laat dit maar rustig aan
die Heilige Gees oor. Uit myself kom ek nie sover om te glo nie.
Ek kom daar nie met my gesond verstand nie. Ook nie met my
godsdienstige gevoel nie. Dit moet aan my gegee word. Van bo, van
die Heilige Gees.

Dit beteken dat niemand op aarde aan my die geloof kan gee nie.
My ouers nie – dit is geen erfgoed nie. Ook nie my ouderling
of predikant nie. Die geloof is ’n gawe van God. Die werk
van die Heilige Gees. Gelukkig maar. As dit van my sou afhang sou
daar niks van teregkom nie. My verstand is so beperk –
verduister deur die sonde. Hoe dikwels vergis ek my ook nie? My
gevoel is ook nie so ’n goeie gids nie. En my ouers en
ampsdraers het almal hul sondes en gebreke. Nee, gelukkig dat die
Heilige Gees die geloof werk. Dit gee sekerheid. As Hy dit doen,
weet ek dat dit duursaam is en nie tot niet gaan nie.

Maar gemeente, daarmee het ons nog nie alles gesê nie.
Inderdaad, die Gees moet dit doen. Dit maak my beskeie en
dankbaar. Die werk van die Heilige Gees is egter nie geheimsinnig
nie. Dan sou ek nog nie weet waar ek aan toe is nie. Het ek die
werk van die Gees ervaar of nie? Ja, wat moet ek ervaar? ’n
Innerlike stem of aandoening? Nee, so bly ek onseker. En word ek
in feite teruggewerp op myself.

Die werk van die Heilige Gees is egter nie geheimsinnig nie.
Dit is baie konkreet. Dit Kat sê volgens die Skrifte: die
Heilige Gees werk die geloof in ons harte deur die verkondiging
van die heilige evangelie en versterk dit deur die gebruik van
die heilige sakramente. As ’n ma vir haar kind uit die
kinderbybel lees, is die Heilige Gees reeds besig. As die kind
groter word, gaan hy saam kerk toe, die werkplek van die Heilige
Gees. Ek hoef nooit onseker te wees oor die vraag: waar vind ek
die Heilige Gees nie. Hy werk deur die Woord. Daarom lees ons in
1 Petrus 1:23 dat ons wedergebore is deur die lewende woord van
God wat tot in ewigheid bly. Waar hoor ek die geluid van die
Gees? Waar God se woord verkondig word. Deur die krag van die
Gees is die woord in staat om my hart te omvorm tot ’n hart
vol geloof.

Die Heilige Gees het vir homself ’n werkplek ingerig.
’n Werkplek wat elke sondag weer toeganklik is, die kerk. En
dan bedien die Heilige Gees hom van die bekende werktuie: die
preek, die doop, die nagmaal. So is Hy telkens met en in ons
besig. Wanneer ’n kind gedoop word, wanneer die nagmaal
gevier word, wanneer die woord verkondig word, is die Heilige
Gees in sy werkplek besig.

Ek weet dus waar ek die Heilige Gees kan ontmoet. Ek weet hoe
Hy ’n pad na my hart baan. Ek weet hoe Hy die geloof in my
wil werk. Ek weet dus waar ek moet wees om die geloof te ontvang.
Onder die gehoor van die evangelie. Daarom gaan ek trou kerk toe,
die werkplek van die Gees. Daarom skat ek die prediking van hoë
waarde, hoe gebrekkig en eenvoudig dit miskien ook gebring word.
Die Heilige Gees wil die eenvoudige middel gebruik om mense tot
geloof te bring, om mense te red. Hoeveel het Hy nie deur die
eeue heen so gered nie? En verlos van die tallose twyfelvrae?

Gemeente, Romeine 10 maak duidelik dat die geloof via die
verkondiging van die evangelie aan ons geskenk word. Paulus plaas
die geregtigheid deur die wet en die geregtigheid deur die geloof
teenoor mekaar. Die geregtigheid deur die wet het as reël: doen
dit en jy sal lewe. Leef volgens die wet, dan word jy gered. Maar
dan moet jy wel die wet volledig nakom, volmaak. Wie kan dit
doen? Geen mens nie. Daarom kan geen mens langs hierdie pad gered
word nie. Die wet roep om ’n Ander wat die wet vir ons kan
vervul. Die wet roep om Jesus Christus. So word die wet ook ons
tugmeester na Christus toe genoem (Gal 3:24). En Christus word
die einde van die wet, oftewel die doelwit van die wet, genoem (Romeine
10:4) Die doel van die wet was om mense na Christus toe te drywe.
So het Israel deur die wet reeds geleer om hul behoud buite
hulself te soek in Jesus Christus alleen. So is reeds aan hulle
die weg gewys van die geregtigheid deur die geloof. Dit is die
enigste pad wat uitsig en lewe bied.

Dit is, broeders en susters, nie iets wat ver van ons afstaan
nie. Nee, dit is naby, sê Paulus. Om die heil te kry, hoef jy
nie eers een of ander kunsgreep te verrig nie. Jy hoef daarvoor
nie na die hemel op te klim nie en jy hoef ook nie na die afgrond
neer te daal nie. "Die geregtigheid wat uit die geloof is, sê
immers: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar,
naamlik om Christus af te bring; of: Wie sal in die afgrond
neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring? Maar wat
sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart."
(Romeine 10:6-8). Wie dink dat hy eers iets moeiliks moet verrig,
maak sy heil afhanklik van sy eie aksie. Jy moet dan iets self
presteer. ’n Hopelose onderneming.

Dank God, alles is afhanklik van God se aksie: Hy het in
Christus gesorg vir die heil. En Hy het die heil naby gebring.
Naby jou is die woord, die woord van heil. Naby jou is die heil
self. Dit kan jy sommer gryp. Jy mag dit sommer glo. Meer is nie
nodig om voor God geregverdig te word nie.

Dis opvallend, broeders en susters, dat Paulus in Romeine 10:8
skielik praat van die woord in plaas van Christus. Daarvoor het
hy immers steeds gepraat oor Christus. Jy hoef Christus nie uit
die hemel of uit die afgrond te haal nie. Jy hoef Christus –
die heil – nie ver weg te soek nie. Na die woorde sou ’n
mens verwag het dat Paulus sou sê: naby jou is Christus, oftewel
die heil. Maar nee, in plaas daarvan hoor ons: naby jou is die
woord. Waarom so ’n oorgang van Christus na die woord?
Paulus doen dit omdat Christus juis in die woord aanwesig is. Die
woord is die woord van Christus. As die woord naby is dan is
Christus naby, dan is die heil naby.

Wel, "naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart.
Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig". Naby jou
is die woord van die geloof, die woord wat geloof vra, die woord
wat ook geloof teweegbring. Die lewende en kragtige woord wat die
siel behoud. Die woord is aan jou verkondig. In jou mond gelê.
Sodat jy daaroor kan praat. Sodat jy dit kan naspreek in jou
belydenis. Dit is in jou hart gelê. Jy hoef dus nie eers
allerlei prestasies te verrig om die heil naby te kry nie. Dit is
naby gebring. Aan jou verkondig en ingeprent. Jy kan dit sommer
gryp. As jy die woord in geloof aanneem dan sal jy gered word.

Maar, gemeente, hoe kom ek daartoe om die woord gelowig aan te
neem? Die Heilige Gees gebruik daartoe die woord self. Die
gepredikte woord beweeg tot geloof. Paulus vervolg: Hoe kan hulle
Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle
in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle
hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie
gestuur word nie? … Die geloof is dus uit die gehoor, en die
gehoor is deur die woord van God (vers14,15,17). Om te glo moet
ek dus hoor, luister na die woord van God. Daarvoor is predikers
nodig, mense wat in die naam van Christus die evangelie bring.

Die geloof van die gemeente is dus nie op inisiatief van mense
tot stand gebring nie. Dit is vanuit die hemel bewerk. Deur
predikers wat deur Koning Christus gestuur is. So begin mense glo.
Daarom is die prediking so mooi en magtig. Christus, die lewe,
kom daarin na ons toe. Jesaja vergelyk die prediker van die
evangelie met ’n vreugdebode: "hoe lieflik is die voete
van die wat die evangelie van vrede verkondig." Die koms van
die bode stem die gemeente bly. Daarom wil die gemeente ook
daarby wees as die boodskapper sy boodskap verkondig. Sorgvuldig
kerkbesoek is daarom ’n geloofsaak. En nie slegs die besoek
van die eredienste nie. Wie in die kerk is, sal ’n houding
moet aanneem waaruit blyk dat hy blymoedig is. Dat hy afgestem is
op die blye boodskap. Jy kry immers niks minder as jou eie
redding aangereik nie.

Maar gemeente, waar lê die fout dan as iemand nie tot geloof
kom nie? Dit kan nie lê aan die feit dat ek dit nie gehoor het
nie. Elkeen van ons het die evangelie gehoor en hoor dit nog
steeds. Ons moet eers let op wat God sê in Romeine 10:16-21.
Paulus verwoord bepaalde verskonings wat moontlik sou verklaar
waarom nie alle Israeliete tot geloof gekom het nie. Die eerste
verskoning is: Het hulle miskien nie gehoor nie? Die verskoning
is egter ongegrond, veral vir hulle wat in die kerk grootgeword
het. Met ’n aanhaling uit Psalm 19 sê Paulus hieroor:
"alte seker het hulle gehoor. Oor die hele aarde het hulle
stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle woorde."

Daarna kom die tweede verskoning: Maar ek vra: Het Israel dit
miskien nie verstaan nie? Was dit vir hulle te moeilik, te vaag,
onbegryplik? Ook die verskoning is foutief. Hoekom dan dat baie
Israeliete nie tot geloof gekom het nie? Paulus se antwoord lui:
"Maar van Israel sê Hy: die hele dag het Ek my hande
uitgebrei na ’n ongehoorsame en teësprekende volk."
Dit is dus nie God se skuld nie, of die skuld van die evangelie
nie. Dit is vanweë hul eie ongehoorsaamheid en teëpratery.
Hulle wil nie luister nie. Hulle wil geen gehoor gee aan die
evangelie nie. Hulle wil self die toon aangee. Hulle bly hulself
die vryheid aanmeet om te praat in plaas van om eers eerbiedig te
luister na wat God vir hulle sê. Hulle is ’n ongehoorsaam
en teësprekende volk.

Nou terug na die vrae wat ons in die inleiding opgewerp het.
Wat moet ek met my twyfel? Hoe kan ek dit oorwin? Hoe kom ek weer
tot ’n vaste geloof?

In elk geval, moet ek die twyfel nie as normaal sien nie. Bly
dit sien as sonde, as ’n stuk ongeloof: in my twyfel ag ek
God nie betroubaar nie. Hy het my wel pragtige dinge gesê in sy
woord en sakramente, maar ek het daaroor my twyfels.

Maar, broeders en susters, is dit nie ’n onbarmhartige
oordeel nie? As ek twyfel dan het ek reeds moeite genoeg. Moet ek
dan nog verder ontmoedig word? Moet ek dan nog skuldiger gaan
voel? Gemeente, as God oor sonde praat, is dit dan om ons alle
moed te ontneem? Om alle hoop en uitsig op vrede weg te neem? U
weet beter. As dit so was dan sou die evangelie geen blye
boodskap wees nie. Nee, God wil deur die evangelie ons ontdek aan
die sonde. Waarom? Om ons, verslae van hart, te laat vlug na
Christus toe. Om ons te laat vlug tot Hom wat uit die mag van die
sonde verlos.

Wat moet ek dan met my twyfel? Die enigste uitweg is: vlug met
jou twyfel na God toe. Roep tot Hom in die nood. Soek Hom waar Hy
Hom laat vind. By sy woord en sakrament. Gebruik die middele van
genade. As ek honger het, wat doen ek? Gaan ek slegs skreeu vir
kos? Op die manier kom ek nie ver nie. Ek sal ook die kos moet
aanneem as dit my voorgesit word.

Wat doen ek as ek honger na die genade van God? Honger na die
vergewing van sondes, na die bevryding van my twyfel? Gaan ek dan
slegs kla: ek het honger? Gaan ek dan slegs vra: Here gee my die
lewende brood? Natuurlik, dit ook. Maar nie dit alleen nie. Want
die Here het dit al gegee. Naby jou is die woord. En in die woord
is die Here Jesus, die lewende brood, naby jou. En dit moet jy
nou gebruik.

Ja, maar in my twyfel het ek miskien juis my vrae oor die
woord: is dit werklik die woord van God. Of: is die God van die
Bybel werklik die enigste ware God? Moet ek dan gryp na die woord
van God? Ja, dit moet ek doen, bly doen, dit is die enigste
uitweg uit die moeras van die twyfel. Sou die woord vanweë my
twyfel skielik nie meer betroubaar wees nie? Sou die God van die
Bybel, vanweë my twyfel, skielik nie meer die ware God wees nie?

As ek my honger wil stil dan laat ek die kos wat voor my gesit
word tog ook nie staan nie? Daarom: neem, eet. Doen wat God sê.
Aanvaar die woord wat aan jou deurgegee word. Gaan daarmee aan
die werk. Gebruik jou doop. God weet dat ons maklik tot twyfel
gebring kan word, dat ons ondersteuning nodig het. Daarom gee Hy
naas die woord ook die sakramente. Aanskoulike onderwys. Met
sprekende beelde. Om sy beloftes ekstra duidelik te maak. Om dit
te bevestig en te verseker. Gebruik dan die tekens en seels.
Gebruik jou doop en die nagmaal.

Miskien kan ek my nie indink dat God my sou wil aanneem nie.
Ek het sonde gedoen. Na sondige dinge gekyk, vuil gedagtes of
dRomeinee gehad. Miskien ’n slegte verhouding met my ouers
of met my vrou, of man, of kinders. Miskien dink ek: gesien hoe
ek is en wat ek gedoen het, sal die Here niks meer met my te doen
wil hê nie.

Luister dan maar na die eerste woorde wat jy in elke erediens
hoor: genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here
Jesus Christus. Gebruik jou doop. Gryp die beloftes van God aan.
Christus was en reinig jou selfs van die vuilste en gemeenste
sondes. Dit is seker waar. Dit staan op jou voorhoof verseël.
God se watermerk staan daarop.

Vlug daarom met jou twyfel tot God, tot sy woord en sakramente.
Dit wil nie sê dat die probleme dan onmiddellik opgelos gaan
word nie. So gaan dit meestal nie. Aanvegtings kan lank duur.
Miskien wel ’n lewe lank. En hulle kan by tye ook baie sterk
word. Maar as jy met jou twyfel telkens weer tot die Here vlug,
dan sorg Hy dat dit jou nie onderkry nie.

Maar hoe werk dit dan as ek vir my gevoel wel wil glo, maar
dit nie kan nie? Siekte kan ’n rol speel. Psigiese nood. Ek
ervaar ’n stuk onmag. Ek het my gevoelens nie goed onder
beheer nie. Dit is asof ek die evangelie maar nie kan ervaar nie.
Ek voel dit nie. Is die evangelie daardeur egter minder reëel?
As die siekte herstel, dan sal jy ontdek dat die geloofsbelewing
weer terugkeer.

Maar, broers en susters, dat ek wel wil maar nie kan nie, kan
ook ’n heel ander oorsaak hê. Dit kan ook as oorsaak hê
wat Paulus noem: ongehoorsaamheid en teëspraak, dat ek nie wil
luister nie. Dan is dit nie ’n kwessie van onvermoë nie,
maar van onwil, ek wil nie. Nee, dikwels is ’n mens nie
bewus daarvan nie. Ek dink dat ek dit wil. Maar waarom kan ek dan
nie? Omdat ek die dinge nie wil aanvaar nie. Omdat ek dit eers
met my verstand wil begryp en beheers. Sodoende raak dit my nie.
Dan wil ek daar dus eers op my manier met my verstand mee klaar
kom. Ek wil dit eers ervaar, dan eers glo. Kan ek dan wel sê dat
ek werklik wil glo? Lyk dit nie eerder daarop dat ek eers self
omhoog wil klim, dat ek eers self een of ander kunsgreep wil
uithaal, voordat ek myself wil oorgee om te glo nie? Waar bly die
wil om die woord wat God naby gebring het gewoon te aanvaar?

Gemeente, laat ons onsself tog nie oorskat nie. Soek jou
houvas nie in jou eie lewe nie, by jou verstand of jou gevoel nie.
Soek dit by die Here, by sy woord en sakramente. Gee jouself oor
aan die evangelie van Jesus Christus alleen. Wees baie presies
daarmee. Gaan daarmee aan die werk. Gebruik die middele wat God
jou aanreik. Tot eer van God en tot jou eie heil.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)