Christus se versekering van redding.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-10-17
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 29
Preek Inhoud: 

Sondag 29 & 30, vraag en antwoord 80

Ds C Kleyn - Sondag 17 October 2004

Lees: Johannes 6:22-59; Sondag 29 & 30, vraag en
antwoord 80.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 78:8,9; Ps 116:1,4,7,10;
Ps 118:7,14.

Tema: Christus se versekering van redding.

Hy sê:

  1. kom na my toe: Ek is die brood van die lewe
  2. neem in geloof en jy sal lewe

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

By die lees van die kat oor die Nagmaal kan die vraag opkom:
waarom so 'n ophef oor hierdie saak? Is dit werklik nodig om so
uitvoerig oor hierdie saak uit te wei? Is dit nodig om op so 'n
manier oor die roomse mis te praat? Onomwonde word van die mis
gesê dat dit in wese niks anders is nie as 'n verloëning van
die enige offer en lyding van Jesus Christus en 'n afgodery wat
vervloek is. Is sulke skerp woorde werklik nodig?

'n Mens sou ook homself kan afvra: waarom was die skrywers van
die kat meer as 400 jare gelede so opgewonde oor hierdie saak?
Hulle was bereid om daarvoor hul lewe op te offer. Hulle het
verkies om deur die roomse inkwisisie gedood te word as om
hierdie belydenis oor die Nagmaal prys te gee. Wat het hierdie
mense tog gedryf? Was hier dan soveel op die spel dat hulle
bereid was om alles daarvoor op te offer, selfs hul eie lewe?

Ja, inderdaad, gemeente, hier is baie op die spel. Hier is die
sekerheid van die geloof op die spel. Hier is dit 'n kwessie van:
kan jy seker van jou redding wees of moet jy tot aan die dag van
jou dood bang wees vir 'n dreigende God? Het jy enige sekerheid
of nie?

So verkondig is vir julle: Christus se versekering van redding.

Hy sê:

  1. kom na my toe: Ek is die brood van die lewe
  2. neem in geloof en jy sal lewe

Geliefdes, waaroor gaan dit in die roomse mis? Rome leer dat
die brood en wyn metterdaad in die liggaam en bloed van Christus
verander. Sodra die priester die woorde uitspreek: dit is my
liggaam, is dit geen brood meer nie, maar werklik liggaam van
Christus. Die lidmate ontvang na hul mening dan ook werklik die
liggaam van Christus

Omdat die brood en wyn in die liggaam en bloed van Christus
verander, daarom word die breking van die brood en die vergieting
van die wyn as 'n offer gesien. Christus gee homself opnuut oor.
Wat Christus aan die kruis gedoen het, herhaal Hy by elke mis. Hy
is daar liggaamlik aanwesig en gee Homself opnuut oor as 'n lam
wat geslag word.

En dis nie net Christus wat homself daar offer nie. Die
priester bring ook 'n offer. Die priester bring die offer van die
kerk aan God. Die priester betree die altaar. In die roomse kerk
staan die altaar sentraal in die kerk. Die priesters moet elke
dag die altaar betree. Hulle moet Jesus daagliks aan God offer.
Om jou van God se genade te verseker. Jy sou as kerkvolk
afhanklik wees van die genade wat die priesters voor jou verwerf.

Selfs na die dood sou jy nog van die offerdiens van die kerk
afhanklik wees. Rome leer nog steeds "dat die lewendes én
die gestorwenes nie deur die lyding van Christus vergewing van
sondes het nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die
priesters geoffer word." Die werk van Christus op Golgota is
blykbaar nie voldoende nie. Selfs die gestorwenes het nog geen
rus nie. Eers moet die werk van Christus aangevul word. Deur
mense, deur priesters.

Hier sien julle, broers en susters, waaroor dit by die mis
gaan. Dit gaan oor die sentrale vraag: Is Christus se offer aan
die kruis voldoende óf nie? Is Christus se offer, wat Hy eenmaal
aan die kruis gebring het, die enigste grond van jou heil óf
moet daar nog iets aangevul word? Of moet die mens eers self iets
bydra aan sy verlossing? Dit gaan oor die sentrale vraag: waar
vind ek rus vir my siel? Ja, kan ek wel rus vir my siel vind?

Vir die Roomse kerk was God 'n vreeswekkende God. Dink net aan
die vaevuur. Die gedagte aan 'n vaevuur na my dood is genoeg om
my bang te maak. Om onmiddellik van my sterfbed in die
verskriklike lyding tereg te kom. Om deur vuur van my sonde
gereinig te word. 'n Straf wat o.a. deur die misoffers verkort
kan word. Ook nadat ek gesterwe het, is ek afhanklik van die
verdienstelike werke van die kerk. Wanneer sal my siel rus vind?
Ja, sal my siel ooit tot rus kom? Hoe verskriklik is dit om op so
'n manier te moet glo.

Tereg wys die kat die mis af in duidelike terme. Dit is
inderdaad 'n verloëning van die enige offer en lyding van Jesus
Christus en 'n afgodery wat vervloek is. Op hierdie manier keer
mense terug na die rusteloosheid en armoede van 'n lewe sonder
Christus. Die armoede van 'n lewe wat sy sekerheid moet vind in
wat mense doen.

Geliefdes, hoe anders praat Christus self. Hy roep jou weg van
al die menslike pogings om jou redding te bewerk. Dalk onthou jy
Christus se uitnodiging van Mt 11:28: "Kom na my toe, almal
wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee." Die Here
Jesus tipeer die Jode van sy dae as vermoeide en swaar belaste
mense. Hulle gaan neergebuk onder 'n sware las wat hulle moet dra.
Hulle kan die las nie dra nie. Dis te veel vir hulle. Hulle is
uitgeput. Vir die oorbelaste, vermoeide mense sê Christus: Kom
na My toe. Jy mag jou las van jou skouer laat afgly. Ek sal jou
rus gee.

Waarom tipeer Christus daardie mense as vermoeide en
oorbelaste mense? Omdat hulle leef met die gedagte dat hulle self
aan hul verlossing moet bydra. Hulle dink dat hulle dit moet
verdien deur hul eie wetsgehoorsaamheid. Maar dit is nie moontlik
nie. Elke poging om dit te doen maak 'n mens net doodmoeg en
veroorsaak net rusteloosheid, teleurstelling en voortdurende
onsekerheid. Net Jesus Christus kan rus en vrede gee. Deur sy
offer aan die kruis. Die las is te swaar vir ons mense. Ook vir
die priesters. Die priesters, die kerk, ja, geen mens kan rus vir
jou siel bewerk nie. Die saligheid is mos in niemand anders nie,
want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die
mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie (Hand 4:12).

Broers en susters, in die Heilige Nagmaal bevestig Christus
vir ons daardie werklikheid. Daar, aan die tafel, sê Hy feitelik:
kom hierheen, hier moet jy wees. By My. Jy het my vlees en bloed
nodig. Jy het my offer aan die kruis nodig. My gekruisigde
liggaam en my vergote bloed is egte voedsel en drank vir julle
siele tot die ewige lewe.

Waarom het jy brood nodig? Om in lewe te bly. As ek nie eet
nie, gaan ek dood. Op 'n vergelykbare manier het ek Jesus
Christus nodig. As egte voedsel en drank tot die ewige lewe.

Jesus Christus noem dit ook in die skrifgedeelte wat ons
gelees het. Christus maak 'n skerp kontras tussen die spys wat
vergaan en die spys wat bly tot in die ewige lewe. Die Jode is beïndruk
met Jesus se mag om wonders te doen. Net nou het Jesus 5000 mense
gevoed met net vyf brode en twee visies tot sy beskikking. Nadat
hulle almal geëet het, is daar twaalf mandjies met brokstukke
oor. Die Jode sien iets in Jesus as die bewerker van wonders. So
'n man kan hulle aardse geluk en welvaart waarborg.

Die Here Jesus wys hulle egter tereg vir hul aardse houding.
Hy sê: "Moenie werk om spys wat vergaan nie, maar om spys
wat bly tot in die ewige lewe." Watter spys Hy bedoel, noem
Christus nie onmiddellik nie. Hy wys eers op 'n dieper nood. Wat
is my diepste nood? Nie die gebrek aan gewone brood nie. Nie die
gebrek aan welvaart, vryheid of tydelike, aardse geluk nie. Ook
al is dit in ons land 'n baie groot nood. As 'n mens onder die
broodlyn lewe, dan is dit tog die skreeuende nood wat eers
beantwoord moet word? Vergeet egter nie: Daar is 'n nog diepere
nood waarvan die gewone brood geen oplossing gee nie. Die gewone
brood gee slegs 'n tydelike verligting. Dit hef die ware nood nie
op nie. Die brood is verganklik en het slegs 'n tydelike werking.

Daarom: Pleks van die materialistiese begeertes, moet daar 'n
ernstige verlange wees na die dinge wat blywende waarde het, na
die spys wat bly tot in die ewige lewe. Spys wat uit die mag van
die dood bevry, uit die mag van die ewige dood. Spys wat die
werklike nood van die lewe aanspreek, oplos, wat die oorsaak van
al die nood, naamlik die sonde, wegneem.

Maar, waar kan ek dan die brood kry? Christus vertel ons
onmiddellik waar ons die brood kan kry. Hy sê nie: daar is sulke
brood te kry, sien maar dat jy dit vind en ontvang. Christus laat
ons nie in die kou of in die duisternis rondtas nie. Nee, Hy wys
onmiddellik waar jy dit kan vind. Hy sê: werk om die spys wat
bly tot die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee.
Vir die versadiging van my ewig honger en kommer moet ek by die
Seun van die mens wees, die Woord wat vlees geword het.

Wie is die Seun van die mens? Daaroor hoef geen twyfel te wees
nie. "Want Hom het God, die Vader, verseël." Die Vader
het Hom publiek aangewys by sy doop in die Jordaan: "dit is
my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het." En die Gees van
God het soos 'n duif op Hom neergedaal. Hierdie Seun is waarlik
diegene wat die spys sal gee wat bly tot in die ewige lewe.

Die Jode wat daar toe bygestaan het, het die voorreg gehad om
die stem van die Vader uit die hemel te hoor. Julle weet daarvan.
Dit is vir julle opgeskrywe. Hierdie Jesus is waarlik diegene wat
deur God die Vader gestuur is om vir jou spys te gee wat bly tot
die ewige lewe.

Maar wat is dan die spys? "Ek is die brood van die lewe"
sê Jesus. Ek is nie net diegene wat die brood gee nie, maar ek
is ook self die ware brood uit die hemel. Die Vader het My aan
julle gegee om julle eintlike honger te stil: "wie na my toe
kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors
kry nie."(vers 35).

Na die sondeval is ons mense van die boom van die lewe
weggedrywe. Ons het gekies vir die dood, geskei van Hom wat die
Lewe is. So sit alle mense van nature op die pad van die dood.
Dit is nie slegs 'n pad wat na die dood lei nie, maar 'n pad wat
ook self as die dood getipeer kan word, 'n pad buite die
gemeenskap met die lewende God.

Gemeente, wanneer Christus homself aanbied as die brood van
die lewe, dan wys Hy op die herstel van die gemeenskap met die
lewende God. Wie Hom as die brood van die lewe eet, besit die
lewe. Wie deur die geloof een met Hom is, het die ware lewe wat
bly in ewigheid. Ek kan weer voor die lewende God verskyn sonder
om verteer te word. Ek kan weer as mens met die lewende God
omgaan.

Christus konkretiseer sy prediking van die brood van die lewe
deur te wys op sy vlees: "Die brood wat Ek sal gee, is my
vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee" (vers 51).
'n Wonderlike gedagte. Christus se vlees is brood. Wat bedoel
Christus hiermee? Hy sinspeel op sy sterwe. 'Vlees' is die
bestaan van die sterflike mens. Jesus sal die bestaan prysgee ter
wille van die lewe van die wêreld. Sy sterwe sal 'n offergawe
wees, brood wees.

Gemeente, daar is 'n duidelike sinspeling op die Pasga. In
vers 4 van Joh 6 lees ons dat die Pasga naby was. Die
vermeerdering van die brode en die prediking van die brood van
die lewe staan in verband met die Pasga wat naby is. Christus
praat hier tot mense wat binnekort die paaslam sal eet. Christus
sinspeel op die vlees van die paaslam wanneer Hy praat van sy eie
vlees. Hy wys Homself aan as die Paaslam wat die sonde van die wêreld
wegneem. Gewoonlik het mense die paaslam geslag om daarna aan die
paasmaal daarvan te eet. Dit was 'n teken van lewe in die
versoende gemeenskap met God.

Die Jode begryp Jesus nie. Hulle vra: Hoe kan Hy ons sy vlees
gee om te eet? Sonder 'n gelowige hart kan jy Christus se taal
nie verstaan nie. Die Jode begryp Christus nie omdat hulle
eintlik die Pasga nie begryp nie, die Pasga as 'n skaduwee van
wat gaan kom, wat heenwys na die Lam van God wat moet kom.

In reaksie op hul ongeloof kom Christus tot die klimaks:
"Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees
van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle
geen lewe in julle self nie. Hy wat my vlees eet en my bloed
drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag.
Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. Wie
my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom" (verse
53-56).

Christus se vlees is waarlik spys en sy bloed is waarlik drank.
Hoe moet ek dit verstaan? Spys en drank is voedingsmiddele. Dit
hou die lewe in stand. Christus se vlees en bloed sien op sy
selfofferande aan die kruis. Juis daar is Jesus my groot
lewensmiddel. Sy dood in my brood. Sy dood is my lewe.

Gemeente, in hierdie Skrifgedeelte noem Christus nie
regstreeks die Heilige Nagmaal nie. Tog kan ons die woorde wel
deeglik op die Heilige Nagmaal betrek. Sê Christus nie by die
instelling van die Nagmaal nie: dit is my liggaam vir u en
hierdie beker is die nuwe testament in my bloed? Christus stel 'n
maaltyd in om die werklikheid van Joh 6 uit te beeld en te gedenk.
Brood en wyn word gebruik, voedsel en drank. Beelde van Christus
se selfofferande aan die kruis vir ons lewe.

In daardie alledaagse lewensmiddele herken ons sy diepe dood.
Die kruis is 'n verskriklike paal waaraan 'n mens doodbloei. Maar
die kruis van Christus is 'n boom van lewe. Want daar gee
Christus homself ter wille van sy volk. "Dit is my liggaam
vir julle."

So sien julle broers en susters dat Christus aan die Nagmaal
nie net sê: kom na my toe nie, ek is die brood van die lewe nie.
Christus gee ook homself: neem in geloof en jy sal lewe.

In hierdie lig moet jy die nadruklike taal verstaan. Dit is my
liggaam. Dit is my bloed. Of eet my vlees, en drink my bloed. Dit
klink snaaks. Maar dit is baie eenvoudig en duidelik. Christus se
taal is uitdruklike, veelseggende taal. Kort en kragtig. Vir die
wyse is 'n enkele woord voldoende. In ons daaglikse lewe gebruik
ons dikwels sulke kort en kragtige uitdrukkings. Gestel jy wys
vir my 'n foto van jou pa. Sou jy dan die foto aanbied met die
woorde: dit is 'n foto van my pa. Sou jy in die reël dit nie
kort en kragtig aanbied met die woorde: dit is my pa nie. 'n Kind
kan weet dat dit nie letterlik jou pa is nie. Dis net 'n foto van
hom. Tog sê ons sonder dat enigiemand ons misverstaan: dit is my
pa.

So kan Christus ook sê: dit is my liggaam en bloed. Ons noem
dit die sakramentele spreekwyse. Dis die taal van die liefde.
Wanneer Christus gereed is om sy liefde tot die dood toe te wys,
praat hy kort en kragtig. Jy hoor sy liefde daarin weerklink.
Kyk, sê Christus, Ek gee nou my lewe oor sodat julle ewig mag
lewe. En so seker as wat julle hierdie normale brood eet en
hierdie normale wyn drink, so seker ontvang julle wat ek deur my
lyding en dood verdien.

Dit lok dan die antwoord van liefde uit: Ek maak Christus se
liefdetaal my eie. Ek eet sy gebroke liggaam. Ek drink sy vergote
bloed. Ek neem dit in geloof aan. Ja, in geloof aanvaar ek
Christus se offer as my lewe. In Joh 6 praat Christus oor die
geloof. Kyk vers 28,29 : "Toe vra hulle Hom: Wat moet ons
doen om die werke van God te volbring? Jesus antwoord en sê vir
hulle: Dit is die werk van God, dat julle in Hom glo wat Hy
gestuur het." Om Christus se vlees te eet is 'n kwessie van
om te glo in Christus as die enige bron van lewe. Deur geloof
deel ek in Christus en al sy weldade. Kyk ook na die verse 35 en
47. Vers 35: "En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van
die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in
My glo, sal nooit dors kry nie." En vers 47 "Voorwaar,
voorwaar Ek sê vir julle, wie in my glo, het die ewige lewe."

Nou terug na die beeld van die foto. Jy haal die foto van Hom
in sy lyding te voorskyn. Die kwitansie, die bewys van betaling.
En in verwondering sê jy: wat 'n geweldige Verlosser het ons tog.
Hy het alles weer reg gemaak tussen God en my. Ek hoef nie meer
bang vir God te wees nie. God het in guns na my omgesien. Ek hoef
nie meer bang te wees vir sy toorn nie. Ook nie vir 'n sogenaamde
vaevuur nie. Christus het betaal. Dit is volbring, eens en vir
altyd. Die een offer aan die kruis is voldoende. Ek hoef niks aan
die offer toe te voeg nie. My redding is in Christus volkome.

Hoe ryk is ons, broers en susters, met ons eenvoudige viering
van die HN. Geen indrukwekkende rituele nie. Maar eenvoudige,
sigbare tekens en seëls. Wat alles vir ons beteken. Ons leef nog
in 'n wêreld vol van sonde. Ek het steeds weer met my eie sondes
en tekortkomings te make. Ek voel my nie gelukkig daaroor nie. Ek
wil die goeie doen, maar voordat ek dit besef het ek weer gefaal.
Het ek weer op 'n verkeerde manier gereageer. Het ek die
atmosfeer by die huis, in die gemeente, of by die werk bederf. Ek
het met baie gebrokenheid te make. Verdriet oor die dood van 'n
geliefde. Eensaamheid. Die gebreke van die ouderdom. Aanhoudende
pyn. Gebroke verhoudings. Ek sou so graag wil hê dat dit goed
is, maar dikwels lyk dit asof dit gewoon nie wil werk nie. Ek kan
soms die gevoel hê dat ek voortdurend teen 'n harde en hoë muur
aanloop. Wat kan ek daaraan doen? Dit maak my doodmoeg.

Maar broer, suster, seun, dogter, daar is geen rede om jouself
te bekla nie. Nog minder rede om God aan te kla van onreg. Al
hierdie dinge herinner ons aan ons sondeval, ons sondigheid. Wat
moet ek dan doen? Dit kan my baie rusteloos en onseker maak.

Maar dan kom Christus en maak sy tafel vir my gereed. Hy deel
brood en wyn uit. Hy sê: kom, hierheen, na my toe, Ek is die
brood van die lewe. Ek skenk die lewe. 'n Versoende God. Volkome
redding. Vergewing van sondes. Genesing van siekte. Verlossing
uit die graf. Ewige heerlikheid. Hier het jy dit: in die tekens
van brood en wyn. Jy mag seker daarvan wees. Dis ook vir jou. Jy
eet en drink tog in geloof? Christus se dood is jou lewe. Ewige
lewe. Rus vir jou siel. Nou en in die toekoms.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)