Die Prediker wys die kerkjeug op die skone eenheid van die Christelike lewe.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-10-31
Teks: 
Prediker 11
Preek Inhoud: 

Prediker 11:9-12:1

Ds C Kleyn - Sondag 31 Oktober 2004

Lees: Prediker 11:7-12:14.
Sing: Ps 107:1,10; Ps 6:1,2; Ps 95:1,4; Ps 119:4,5,6; Ps
89:6,7; Ps 33:11.

Tema: Die Prediker wys die kerkjeug op die
skone eenheid van die Christelike lewe.

  1. Hy roep op tot lewensvreugde; en
  2. Hy roep op tot lewenserns

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Met hierdie Skrifgedeelte besluit Prediker sy wonderlike boek.
In allerlei variasies het hy die tema: alles tevergeefs, dit is
alles tevergeefs, uitgewerk. Hoe eindig hy nou hierdie boek van
lewenswysheid? Herhaal hy nog ’n laaste keer dat die lewe
’n mengeling is van lag en huil, waarin die trane die
oorhand het? Inteendeel. In die slot klink die stem van vreugde.
“Soet is die lig”, lees ons in die verse 7 & 8,
“en goed is dit vir die oë om die son te aanskou. Want as
die mens baie jare lewe, moet hy hom in die almal verheug.”

Prediker rig hom nou spesiaal tot die kerkjeug. “Verbly
jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart vrolik wees in die
dae van jou jonkheid.”

Waarom spreek hy hier spesiaal die jeug toe? Prediker het die
jeug vanaf die begin reeds in gedagte gehad. Die jeug behoort
immers by die kerkvolk wat aangespreek word. Wanneer Prediker die
jeug nou in die besonder aanspreek, dan sien hy hulle as kerklede
wat dieselfde pad moet volg as hulle wat hulle voorgegaan het.
Prediker sien die pad van ’n menselewe voor hom, die pad van
opgaan, blink en versink. Die jeug wat nog aan die begin van die
lewe staan, moet oog hê voor die pad wat voorlê.

Julle wat vandag die jeug is, is more die ouers, die mense wat
leiding moet gee en is oormore die bejaardes van wie die kragte
verminder. Daar moet julle as jeug julle op voorberei. Wat julle,
seuns en dogters, nou doen is van groot belang vir die toekoms,
vir die toekoms van eie lewe, maar ook vir die toekoms van die
kerk. Daarom kan jy hierdie lewensfase nie sommer verby laat gaan
nie. Die basis vir die toekoms moet nou gelê word. Jy word nou
gedwing om jou lewenshouding, jou lewensrigting te bepaal. Dit is
’n tyd waarin jy voortdurend keuses moet maak.

By die keuses kan die aanvegtings egter groot wees. Jy kom
skielik in die volle lewe te staan. Hoe moet jy daarop reageer?
Allerlei vrae kom op. Dit was vroeër reeds so, dit geld vandag
des te meer. Deur die moderne kommunikasie middels kom daar baie
op jou af, ook allerlei ellende in hierdie land en wêreld. Wat
moet jy van al die ellende, wat miljoene tref, dink? En dan lyk
die kerk maar soos ’n klein, verdwynende, minderheid. Wat
moet jy dan dink van God se wêreldbestuur en van sy beloftes van
herstel? Sou jy as kerkmens nie somber of pessimisties word nie?

Bowendien, is daar vandag baie geleenthede vir vermaak en
feesvier. Wat moet jy daarmee maak? Moet jy jou krampagtig
daarvan afsydig hou? Moet jy maar met ’n boekie in ’n
hoekie gaan sit, met die kans dat ander jou as ’n heilige
boontjie beskou? Of moet jy maar met albei hande die nuwe
geleenthede van uitgaan en feesvier aangryp?

Gemeente, met die oop op sulke vrae spreek Prediker die
kerkjeug aan. En hy gaan uit bo die dilemma wat die jeug dikwels
aangepraat word, bo die dilemma van saai en vroom wees of vrolik
wees en in alles meedoen. Om die Here te dien en om van die lewe
te geniet is geen teenstelling nie, maar hoort by mekaar, sê die
Prediker vir ons. Dis geen kwessie van of-of, maar van en-en. Dis
’n kwessie van die Here dien en geniet van die lewe. Die
twee vorm ’n skone eenheid in die lewe van ’n Christen.

So verkondig ek vir julle: die Prediker wys die kerkjeug op
die skone eenheid van die Christelike lewe.

  1. Hy roep op tot lewensvreugde; en
  2. Hy roep op tot lewenserns

“Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart
jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë
van jou hart en in die aanskouing van jou oë.” Ja, so staan
dit in ons teks. Kan dit wel? Moet en mag ons die jeug daartoe
oproep? Is dit werklik wat die Heilige Gees vir die kerkjeug wil
sê? Is dit wel verstandig en pedagogies verantwoord om dit so
vir die jeug te sê?

Baie mense het probleme met wat daar in ons teks staan. So sê
die kanttekeninge van die Statebybel dat die Prediker hier
natuurlik skertsend, spottenderwys praat. Jongmense sou gesê het:
kom, jy is maar een keer jonk, geniet van die lewe, volg die
verlangens van jou hart en oë. Prediker sou dan skertsend sê:
as dit is wat jy wil, volg dan maar die begeertes van jou hart en
oë. Maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal
bring. Jy weet dat God dit nie goedkeur nie.

Tog is, broers en susters, hierdie opvatting blykens die
verband nie aanneemlik nie. Jy moet die woorde van die teks ook
nie as ’n soort toegewing aan die jeug lees nie, so van:
okay, gaan jou gang, as jy maar onthou dat jy eenmaal voor God se
gerig moet verskyn.

In die teks word nie net per grasie iets toegestaan nie. Hier
word iets positief beveel. Prediker sê: geniet van jou jong
lewe, soveel as jy kan, want jeug en jonkheid is nietigheid. Dit
gaan vinnig verby. Voordat jy dit besef is jou jeug en jonkheid
verby. Hier word dus uitdruklik gesê: geniet van die lewe solank
as dit nog kan.

Vers 10 voeg daaraan toe: “weer verdriet uit jou hart en
hou die kwale weg van jou liggaam.” Sorg daarvoor, vir sover
dit in jou vermoë lê, dat jou liggaam fiks is. Dink aan sport
en higiëne. Dink aan jou gesondheid.

Gemeente, is dit wat ons aan ons jeug moet voorhou? En dit in
’n tyd waarin baie mense juis daarop uit is om plesier te
maak en partytjies te hou?

Ja, inderdaad, dit moet ons ons jongmense voorhou. Laat maar
rustig staan wat daar geskrywe staan. Maar dan ook in die verband
waarin Prediker dit geplaas het. Deur die hele boek klink die
oproep: geniet van die lewe, maar dan is die motief telkens weer:
want dit is ’n gawe van God. Geniet van die lewe, deur
werklik bly te wees, want dit is ’n gawe wat God in die
verbond aan sy kinders skenk.

Let maar op die tyd waarin die Prediker leef en praat. Die
kerk van sy dae leef onder die druk van ’n antichristelike
mag. Wat sien ’n mens van die vervulling van God se
heilsbeloftes? Wat sien ’n mens van God se wêreldbestuur?
Die situasie in die kerk is allermins aantreklik. Die wêreld het
juis groot aantrekkingskrag. Die Griekse kultuur is immers besig
om die wêreld te verower. Die heidense kultuur en gees is besig
om in Israel deur te dring. Jonge oë word daardeur gelok: wat is
die wêreld tog mooi. Wat kan jy daar tog baie sien en beleef.
Jou fantasie word daar baie meer geprikkel as by die tempel en
altaar, waar alles so gewoon lyk.

So dreig die jeug van God se volk verlore te gaan in die groot
maalstroom van die wêreld. Hulle vergeet van God se openbaring,
die grootste geskenk wat ’n mens ooit kan besit. Daarom sê
Prediker: moenie fout maak nie, as jy die mooie wêreld van God
se tempel en altaar losmaak, as jy die mooie wêreld van God se
versoening in Jesus Christus losmaak, dan is dit een groot
sirkelgang van opgaan, blink en versink. Jy vind daar geen houvas
nie. As jy die heerlikheid van hierdie wêreld soek los van God
se tempel en woord, dan kom jy nooit uit by die ware geluk nie,
dan word jou lewe nie verlos nie en gaan dit nie bloei nie. So
kan jy die lewe ook nooit aanvaar as ’n gawe van God nie.

Prediker wil sê: die eerste is dat jy tot God se volk mag
behoort, want die tempel is die enigste vaste punt in die wêreld.
Daar skyn die lig, daar woon die Here en spreek die Here. Daar
stroom die bloed van versoening en van daaruit gaan die wêreld
voor jou oop. Die lig straal die hele wêreld in. En dan sien jy
iets moois: hierdie wêreld is Vader se wêreld. Hierdie wêreld
behoort nie aan die goddeloses nie, maar aan God se kinders.
Moenie maak asof jy arm is en die ongelowiges ryk is nie. Jy is
tog God se kind en daarom erfgenaam van die wêreld? Aanvaar
alles en geniet van alles as gawe van God. Durf om te lewe. Vir
wie kan ’n mens dit beter sê as vir die seuns en dogters
wat gedoop is in die naam van die drie-enige God? Hulle is tog
kinders van die lig, tot blydskap geroep? Eers as jy God sien, sy
tempel en sy toekoms, kan jy werklik bly wees in jou jeug en
dankbaar. Die vreugde word dan geheilig deur die Gees van God.

Juis die kinders van God kan werklik van die skeppingsgawes
geniet. Luister maar na wat Paulus in 1 Tim 4 sê van die huwelik
en die genot van lekker kos. Die dinge is deur God geskape sê
Paulus, “om met danksegging gebruik te word deur die
gelowiges en die wat die waarheid ken. Want alles wat deur God
geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging
ontvang word nie.” Daarom spreek dit vanself dat Prediker
met die weë van jou hart nie aan die bose luste van jou hart
dink nie. Hy praat tot die kerkjeug wat vanuit die diens van die
versoening leef. Hy praat tot jongmense wat in die lig lewe en
dus met verligte oë na die wêreld kyk.

Vir sulke mense geld: geniet van jou lewe as verbondskind. Jy
het ’n hemelse Vader. En jy leef in Vader se wêreld. Jy het
’n ryke toekoms. Wie sou dan nie bly wees en vreugde wys nie.

Gemeente, nadat Prediker op die lewensvreugde gewys het, wys
hy ook op die lewenserns. Dis die tweede gedagte van die preek:
Prediker roep op tot lewenserns.

Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou
vrolik maak in die dae van jou jonkheid, maar weet dat God jou
oor al hierdie dinge in die gerig sal bring.

Is dit wat Prediker nou sê nie in stryd met wat hy eers gesê
het nie? Eers sê hy: jy is vry om te doen wat jou hart begeer en
nou sê hy dat jy met God se oordeel rekening moet hou. Bly daar
dan nog wel iets oor van die genieting van die lewe?

Na die voorgaande sal dit vir julle duidelik wees dat die
genieting van die lewe niks met losbandige vreugde te make het
nie. Prediker het gepraat van die vryheid en vrolikheid van
kinders van God, van hulle wat God in hul lewe ken, hulle wat in
die lig van God se vriendelike aangesig verkeer. Prediker het
gepraat oor vrolikheid en begeertes wat aan God se goeie wet
genormeer is. Hy het gepraat oor vrolikheid wat eers werklik kan
bly maak en kan bevredig.

Daar is naamlik ook ’n ander tipe vrolikheid. Jy maak dan
alles los van God. Jy maak asof jy die lig nie ken nie en jy soek
dit in die duisternis van sondige begeertes en praktyke. Jy gaan
jouself dan uitleef. Dink maar aan die partytjies waarin
oormatige drank, oorverdowende musiek en ongeoorloofde
intimiteite voorkom. Daarvan sou Prediker sê: juis dit is
tevergeefs. Van die gelag sê hy: dit is dwaas en van die vreugde:
wat baat dit? Dan het dit ’n doel in homself geword, dan is
dit leeg. Dis net ’n skynvreugde. Daarmee weer jy werklik
nie die verdriet uit jou hart nie en hou jy nie die kwale weg van
jou liggaam nie. Inteendeel. Met die skynvreugde bring jy jouself
liggaamlik en geestelik in die verknorsing. Jy bly agter met
’n kater.

Daarom sê Prediker: weet dat God jou oor al hierdie dinge in
die gerig sal bring. Van alles wat jy graag sien en hoor, doen of
sê moet jy aan God rekenskap gee. Jy leef tog in sy wêreld. Jy
is tog sy skepsel. En jou gawes en moontlikheid is tog deur Hom
gegee. Jy is tog rentmeester oor sy goedere? Hy sal dan vra wat
jy met al die mooie gawes van hom gedoen het. Wat jy gedoen het
met die mooi gevoelens in jou hart. Het jy die Gewer, jou Skepper
en Verlosser daarmee gedien? Of het jy met die gawes geknoei tot
eer van die verwoester van die lewe, die duiwel, deur aan die
sonde toe te gee? Of het jy jou vryheid as kind van God verruil
vir die slawerny aan Satan?

So vervolg Prediker: “En dink aan jou Skepper in die dae
van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom.” Dink
voortdurend aan Hom wat jou geskep het en vir jou lewe en alles
gee. Ja, meer as dit: laat jou hele lewe deur Hom bestempel word.
Laat jou Skepper en Verlosser alles vir jou wees.

Ons ervaar dikwels ’n spanning tussen die eerste gedeelte
van die teks en hierdie woorde. Die kombinasie vreugde en erns lê
moeilik. Om bly partytjie te hou en om aan jou Skepper te dink is
dinge wat by ons dikwels moeilik saamgaan. Op die partytjie wil
jy gewoon saamdoen met alles wat die groep bepaal. As jy dit
weier omdat jy sekere dinge onverantwoord vind, dan staan jy
buite die groep as ’n vrome spelbreker. Jy word dan beskou
as te ernstig. Jy moet tog ook werklik fees kan vier, werklik
jouself kan uitleef?

So word die lewe in twee vakkies opgedeel. Jou godsdiens, jou
vroomheid sou nie pas by jou partytjies. Jou geloof is dan vir
die Sondag, vir die oomblikke waarop jy uit die Bybel lees en bid.
Daarbuite, veral as jy ’n partytjie gooi, sou ander reëls
geld.

Die Skrif praat egter ander taal. Prediker ken nie so ’n
tweedeling nie. Die lewe is een. As jy God as jou Vader ken, dan
stempel dit jou hele doen en late. Dit plaas geen rem op jou
vreugde nie. Dit laat jou juis vrolik lewe. Erns en vreugde gaan
saam. God maak geen gesplete persoonlikhede van ons nie, maar
gewone mense wat tegelyk bly en ernstig kan wees.

So sê die Prediker: verbly jou in jou jeug en dink aan jou
Skepper. Dit gaan so in een asem deur. Dit staan op een lyn.

Waarom is daar dan dikwels die spanning tussen die tweë? Kan
dit nie hierin lê dat my Christen wees te min my hele lewe
deurtrek nie? Dat my geloof te min ’n saak van my lewe is,
dat my geloof te min ’n saak van myself is? As jy ’n
Christen in die kerk is, dan is jy dit tog ook wanneer jy jou
ontspan en feesvier? Jou Christen wees bestempel tog jou hele
doen en late, jou manier van uitgaan en feesvier? Jy leef nêrens
op neutraal gebied nie. Alles is van jou Vader in die hemel.

Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die
ongelukkige dae kom, jou oudag, en die jare aanbreek waarvan jy
sal sê: Ek het daar geen behae in nie. Hier word gepraat van
ongelukkige dae omdat die ouderdom dikwels met allerlei gebreke
gepaard gaan. Die oudag is ’n tyd waarin die afbraak hom op
allerlei maniere wys.

Wel, jy is net een keer jonk, durf om te lewe, durf om te
geniet. Dit wil sê: dink aan jou Skepper, leef as dankbare kind
van Hom. Hy het jou immers gemaak met alles wat jy is en het.
Nou, dan is jou lewe tog vir Hom? Dan wil jy tog nie anders nie
as dat jou lewe Hom steeds meer dien en verheerlik? Jy moet nou
jou lewensdoel stel, die rigting van jou lewe bepaal. Dis nou die
lentetyd van jou lewe, dws die saaityd, die bloeityd. Nou nou kan
dit dalk nie meer nie en jy kan dit nie daarop laat aankom nie.
Sou jy jou jong frisse kragte aan die sonde gee en jou vervalle
kragte aan God? Gestel dat jy aan die einde van jou lewe sou kan
oorskakel van die sonde na God toe. Iets wat twyfelagtig is. Jou
jeug is dikwels beslissend vir jou hele verdere lewe. Wat jy as
jong mens leer, doen jy meestal as jy ouer word.

Hoe is dikwels die oudag? Prediker vergelyk die ouderdom met
’n Oosterse winter, die tyd van geweldige reëns wat die lig
van son, maan en sterre verduister en waarin die een groep wolke
die ander opvolg. Jy sien dit in die praktyk. Die een kwaal volg
op die ander. Die vermoëns verminder, die lewe lyk meer en meer
somber te word. ’n Mens het dan genoeg aan homself. Sou dit
die ideale tyd wees om vir die eerste keer aan die Here te dink?
Sou jy in so ’n situasie daar nog wel aan toe kom?

Jou jeug dit is die bloeityd. Gelukkig is die jongmense wat
daardie tyd gebruik om hul Skepper te soek met die liefde van hul
jong hart. Die ouderdom is die tyd van die afbraak. Prediker
vergelyk die lewe verder met ’n huis wat eers vol lewe en
bedrywigheid was: daar word gewerk, gesing en gelag, maar
langsaam loop alles dood, die huis word verlaat en vergeet, dit
is nou nou ’n ruïne.

Die hande van die bejaarde gaan bewe, sy bene begin krom, sy
tande val uit – dis die malers – sy oë verloor hul
glans. Die ore raak doof. Bowendien durf hy nie meer op die
straat te kom nie. Sy wêreld word steeds kleiner. Die man wat
vroeër so fiks was, kan nou nie meer goed loop nie. Die voedsel
smaak ook nie meer nie. Hy raak bedlêend. Straks is alles hier
verby want die mens gaan na sy ewige huis en die rouklaers gaan
rond op die straat. Daar lê die lewenswerk voor God. Niks kan
meer verander nie en sy lewensvrug kom nou nou in die gerig.

Daarom, seuns en dogters, dink aan jou Skepper as jy nog jonk
is. Wie anders het reg op jou jong lewe as God wat dit geskep het
en bewaar?

Dan kan jy werklik bly in hierdie wêreld wees en feesvier.
Die wêreld gaan oop vir jou as die wêreld van Vader. Jy sien
die pragtige skeppingsgawes van God. En jy sien die mag van die
sonde wat alles probeer bederf. Jy ken die vryheid en vrolikheid
van die kinders van God. En jy sal daarvoor oppas nie opnuut
slaaf van sonde en Satan te word nie. Jy laat jou ryke posisie
jou nie ontneem nie. Jy weet dat jy ’n kind van Vader in die
hemel is en erfgenaam van die wêreld. Met so ’n afkoms en
toekoms is ons baie ryk en kan ons werklik bly wees.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)