Die mag van die woord in die gemeente van Christus.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-11-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 31
Preek Inhoud: 

Sondag 31

Ds C Kleyn - Sondag 14 November 2004

Lees: Matthéüs 16:13-20; 1 Korinthiërs 5; Sondag 31.
Sing: Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 105:1; Ps 105:2; Ps
19:5; Ps 19:6,7; Ps 141:1,5.

Tema: Die mag van die woord in die gemeente van
Christus.

  1. Die woord beslis oor die toegang tot die hemelse
    koninkryk;
  2. Die woord bepaal die omgang binne die koninkryk; en
  3. Die woord stel ’n grens aan die onderlinge omgang.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wie wil vandag nog spreek oor die sleutelmag van die kerk? Wie
durf om vandag die sleutelmag nog te bedien? Om dit te bedien
moet jy stellig wees. Maar wie durf nog te kom met stellige
uitsprake?

Baie mense vind dat hulle nie bevoeg is om tug uit te oefen
nie. Wat gee die kerk die reg om mense van die Nagmaal af te hou?
Wat gee ons die reg om mekaar aan te spreek op sondes? Wat gee
ons die reg om iemand uit die gemeente uit te sluit en om daarby
te sê dat God self die persoon uit die ryk van Christus sluit?
Is dit nie baie hoogmoedig en aanmatigend?

Gemeente, laat ons luister na wat God self hieroor sê.
Uiteindelik is nie beslissend wat mense daarvan vind nie, maar
wat God daarvan vind. In die gemeente van Christus mag nie die
gevoelens van mense die toon aangee nie, maar die woorde van
Christus. So wil ek vir U verkondig:

Die mag van die woord in die gemeente van Christus.

  1. Die woord beslis oor die toegang tot die hemelse
    koninkryk
  2. Die woord bepaal die omgang binne die koninkryk.
  3. Die woord stel ’n grens aan die onderlinge omgang

Waar sien ’n mens dat die koninkryk van die hemele
oopgaan? Daar waar die Woord van die koninkryk gehoor en
aangeneem word. Die woord open en sluit deure. Deure tot die
hemelse koninkryk.

Jesus Christus het die hemelryk naby gebring. Hy vergader die
burgers van die ryk. Hy spreek met goddelike gesag. Hy vergewe
sondes. Hy skenk lewe. Hy gaan sy gemeente bou en bewaar. Die
poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. So breek sy
koninkryk baan in hierdie wêreld.

Mt 16 wys die oomblik aan waarop Petrus in Christus se werk
volkome betrokke word. So kry God se verlossingswerk vaste voet
op die aarde, ook wanneer Christus na die hemel gaan. Die
gemeente van Christus sal op hierdie petra verrys. Via die
getuienis van die man Petrus en van die ander apostels sal God se
ryk gebou word. Niemand kan om die apostels heen nie. Hulle
ontvang as predikers van die evangelie, wat in Christus
geopenbaar is, ’n sleutelposisie. Christus beklee Petrus en
in hom ook die ander dissipels met hierdie volmag: "Ek sal
jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee."

Petrus kry die bevoegdheid om in die naam van Christus die
sleutels te bedien. Wanneer die Bybel sê dat jy van jou heer
sleutels ontvang, dan beteken dit dat jy ’n
vertrouensposisie in die huis van jou heer ontvang. Jy ontvang
dan groot seggenskap oor die sake van jou Heer. Niemand kan om
die sleuteldraer heen nie. Die kontakte met die Heer en die
toegang tot sy skatte loop via die een persoon. So word Petrus
aangestel tot beheerder van Christus se ryk. Hy word nie slegs
’n soort portier nie. Hy is God se intieme kneg, sy
saakgelastigde. Hy kan die skatkamers van sy Heer open en sluit.
As jy daaraan wil deelhê dan moet jy by hom wees. Christus het
vir hom die sleutelbos gegee.

Petrus ontvang geen maklike taak nie. Veral nie as die Here
straks in die hemel sit. Daarom bemoedig die Here sy dissipel met
die belofte: "wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die
hemel gebonde wees, en wat jy ook op die aarde ontbind, sal in
die hemel ontbonde wees." Christus verseker Petrus: jou
woorde sal voor God geldig wees.

Om te bind en ontbind wys hier op regsgeldige woorde in
negatiewe of positiewe sin. Dit is bekende rabbynse uitdrukkings.
Die wetgeleerdes het in hul onderrig ook gepraat van bind en
ontbind. Om te bind het dan ongeveer die betekenis gehad van: om
iets te verbied, terwyl om te ontbind die betekenis gehad het van
om iets te veroorloof. Jy verbied dus iets of jy staan iets toe.
Jy sluit of jy open.

Gemeente, wanneer u goed let op die woorde van Christus, dan
sal u ontdek dat daar nie gepraat word van ’n bind of
ontbind van mense nie. Die onbepaalde woord "wat" word
gebruik. "Wat jy ook op die aarde mag bind, sal in die hemel
gebonde wees." Dit gaan hier veral oor Petrus se leer
onderrig. Sy woorde sal regsgeldig wees. Die woorde wat hy hier
op aarde namens God spreek sal voor God geldig wees. Via Petrus
spreek God self, die hoogste Regter.

Maar gemeente, hoe kan die woorde van mense, in hierdie geval
van Petrus, so ’n gesag hê? Dit is moontlik omdat die
evangelie wat hierdie man spreek ’n woord van bo is. Die
evangelie van Christus, die Seun van die lewende God, kom nie van
benede uit nie. Vlees en bloed het dit nie aan Petrus
bekendgemaak nie, maar die Vader wat in die hemele is. Die
evangelie kom dus van bo. Daarom kan hierdie evangelie wat op
aarde verkondig is, in die hemel geldig wees.

So het ook die woorde van die troue kerk van Christus
geldigheid. Die woorde wat in Mt 16 aan Petrus gerig is, word in
Mt 18 op die gemeente toegepas. Christus wys immers op die
bevoegdheid van die gemeente om op te tree. As iemand nie luister
na die broederlike vermaan, dan moet jy dit aan die gemeente sê,
sê Christus. As hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom
vir jou wees soos die heiden en die tollenaar. Onmiddellik daarna
lees ons die bekende woorde: "Voorwaar Ek sê vir julle,
alles wat julle op die aarde bind, sal in die hemel gebonde wees;
en alles wat julle op die aarde ontbind, sal in die hemel
ontbonde wees." Die sleutelmag word hier aan die gemeente
toegeken. Die gemeente mag met gesag spreek. Hoekom? Omdat die
woord van God aan die gemeente is toevertrou.

Petrus het die fondament gelê, saam met die ander apostels.
Met hul apostoliese getuienis. Met die definitiewe woord van
verlossing in Jesus Christus. Die gemeente wat op die fondament
verrys, kry ook self die sleutelmag. Dit hoef u nie te bevreemd
nie. Die woord van Petrus en die ander apostels het immers die
woord van die gemeente geword. Die mag om die woord van Christus
op aarde te bedien het nie verdwyn met Petrus nie. Die mag bly
oral waar gelowiges in ooreenstemming met die apostoliese woord
vergader word en waar die woord trou bedien word. Waar die
evangelie van die koninkryk aanwesig is, daar is ook die volmag
om die toegang tot die koninkryk te open of te sluit. Die woord
wat hier in getrouheid bedien word, is geldig in die hemel voor
die troon van God.

Dit is, broers en susters, die krag van die woord wat aan ons
as gemeente is toevertrou. Hier word die deure tot die skatkamers
van God se ryk geopen. Hulle word geopen vir elkeen wat hom
bekeer en die evangelie van harte aanneem. Die prediking is geen
vryblywende saak nie. Dit het die krag van ’n ultimatum. U
het daarin te doen met die goddelike Regter op sy troon. Hier en
nou val beslissings wat regskragtig is voor God in die hemel. Wie
glo soos ’n kind en hom bekeer, tot hom word gesê: "Kom,
julle geseëndes van die Here, beërf die koninkryk van die
hemele, geniet van die skatte van die koninkryk."

Gemeente, die kragtige woord van Christus beslis nie slegs oor
die toegang tot die hemelse koninkryk nie. Dit bepaal ook die
omgang binne die koninkryk. Dis die tweede gedagte.

Die gesaghebbende woord van God is dus aan die gemeente
toevertrou. Die Woord reël die omgang binne die gemeente. Op
grond van die woord van Christus en met die woord van Christus
moet ons mekaar aanspreek, bemoedig en vermaan. In Kol 3:16 skryf
Paulus vir die gemeente: “Laat die woord van Christus ryklik
in julle woon in alle wysheid.” Op grond daarvan vervolg hy
dan: “leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en
geestelike liedere.” Die gesaghebbende woord van Christus
maak ons omgang moontlik, so kan ons mekaar werklik help opbou,
sodat ons saam op koers mag bly op pad na die volkome saligheid.

Die roeping om met die woord mekaar aan te spreek word op
talryke plekke in die Skrifte genoem. In 1 Thess 5:12-14 praat
Paulus beide oor die taak van die ampsdraers daarin en oor die
roeping van die hele gemeente. Eers is daar die oproep om die
voorgangers wat julle vermaan in liefde die hoogste agting te
bewys ter wille van hulle werk en vrede onder mekaar te hou. Die
ampsdraers het dus ook die taak om namens die Here te vermaan en
moet daarin gerespekteer word. Is dit wat ons doen? Hoeveel
respek kry die ampsdraers wat op grond van God se woord lidmate
vermaan en die gemeente leiding probeer gee? En hoe ernstig is
elke lidmate om vrede te bewaar?

Nadat Paulus gepraat het oor die ampsdraers, versoek hy in 1
Thess 5:14 alle lidmate van die gemeente: “vermaan die
onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes,
wees lankmoedig teenoor almal.” Ons het mekaar nodig. God
gee ons aan mekaar sodat elkeen opgevang, beskerm en opgebou word.
Ja, julle is werklik mekaar se wagters, mekaar se helpers. En
julle kan dit met die Woord van Christus.

Die grootste vyand van die gemeente is die sonde. Sondige
gedagtes, sondige woorde, sondige dade. Sonde in leer of lewe.
Die sonde is ook besmetlik. Dit kan ander aansteek. Dink aan wat
ons gelees het in 1 Kor 5. Daar waarsku Paulus: “Weet julle
nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie?”
Sonde wat geduld word, dring deur die hele gemeente heen. Elke
sonde wat in of deur die gemeente geduld word, laat langsaam maar
seker die geestelike vlak van die gemeente daal. ’n Mens
raak aan die sonde gewoond en beskou dit na ’n rukkie nie
meer as ernstig nie. Daarom is sonde wat geduld word, nie
onskuldig nie, maar juis lewensgevaarlik. Die hele gemeente word
daardeur besmet, ontheilig.

In die gemeente van Korinte het hulle te make met ’n baie
ekstreme misdryf, wat selfs onder die heidene ongehoord is.
’n Lid van die gemeente het ’n seksuele verhouding met
sy stiefmoeder. Wat doen dan die gemeente? Niks nie. Hulle neem
net kennis daarvan. Terwyl die heidense stad Rome sware strawwe
geken het vir so ’n bloedskande.

Ondanks dit vind die lidmate dat hulle nogal goed met
hulleself getref het. Paulus sê: “en tog is julle opgeblase
in plaas dat julle liewer getreur het, sodat hy wat hierdie daad
gedoen het, kan verwyder word onder julle uit.” Beteken die
woord van Christus wat aan julle toevertrou is, niks vir julle
nie, die woord wat in julle midde woon en daar gesag het? En gee
julle nie om vir so ’n lidmaat wat in sonde leef nie? Besef
julle nie dat die gemeente van Christus daardeur ontheilig word
nie?

Wat doen jy dan as jy ontdek dat die sonde in die lewe van
’n lidmaat ingedring het? Kan jy dit dan so los? Kan jy dan
die persoon sy ongeluk tegemoet laat gaan? Kan jy dit aansien dat
hy of sy verongeluk. Wat doen ’n mens as jy ’n kind oor
’n besige pad sien hardloop, presies voor ’n taxi? Dan
probeer jy tog om in te gryp, voordat dit te laat is? Jy wil die
ongeluk voorkom. Jy wil die kind red. Is dit hoe ons ook voel mbt
die redding van mekaar, die redding van sonde?

In Mt 18 ontvang ons die bekende reël tov sondes wat nog nie
publiek bekend is nie. "As jou broeder teen jou sondig, gaan
bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan
het jy jou broer gewen; maar as hy nie luister nie, neem nog een
of twee met jou saam, sodat in die mond van twee of drie getuies
elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê
dit aan die gemeente."

Om dit aan die gemeente te sê, is die uiterste maatreël
waaroor ons op aarde beskik. So kan die proses van die verharding
teengegaan word. As die persoon dan nog nie luister nie, dan het
die sonde kennelik besit van die broeder geneem. Hy wil kennelik
liewer deur die sonde as deur die Woord en Gees van Christus
gelei word. So ’n persoon kan dan nie meer verkeer in God se
heilige teenwoordigheid nie. Vandaar die noodsaak van die
afskeid, die ekskommunikasie. "Laat hom vir jou wees soos
die heiden en die tollenaar."

So kom ons by die derde punt : Die woord van Christus stel ook
’n grens aan die onderlinge omgang

In 1 Kor 5 maak Paulus duidelik wat moet gebeur met iemand wat
in sonde volhard. Hy moet onder julle uit verwyder word, sê
Paulus. Die gemeente word opgeroep om in die Naam van en met die
krag van ons Here Jesus Christus die sondaar aan die Satan oor te
lewer. Wat bedoel Paulus hiermee?

Binne die gemeente van Christus geniet jy as lidmaat ’n
sekere beskerming teen die bose planne van Satan. Jy is nie
immuun vir sy aanvalle nie, maar jy staan ook nie naak en
hulpeloos voor hom nie. Hy kan aanval, maar hy val jou aan as
’n lidmaat van Christus se leër. Om aan die Satan
oorgelewer te word beteken dat jy nie meer in gelid stry nie. Jy
staan dan op jouself, geïsoleer, sonder beskerming. ’n
Prooi van Satan.

Met watter doel word die persoon aan Satan oorgelewer? “Tot
verderf van die vlees sodat die gees gered kan word in die dag
van die Here Jesus”, sê Paulus. God laat die persoon die
dieptes van Satan proe. As ’n mens aan die volle maat van
die sonde oorgelewer word, dan kan dit jou hopelik wakker laat
skrik. Jy ontdek hopelik dat die sonde tog nie so gelukkig maak
nie. Dat dit jou eintlik ongelukkig maak en soms selfs siek. Die
ellende van die sonde kan jou weer terug laat verlang na God en
sy gemeenskap. Dink aan die gelykenis van die verlore seun. Niks
is so koud as wanneer jy terugdink aan die warmte tuis nie. Let
daarop dat hierdie uiterste maatreël van oorlewering aan die
Satan uiteindelik nie bedoel is om iemand die hel in te jaag nie,
maar juis omgekeerd om iemand tot redding te probeer bring. Dis
die enige middel wat nog oor is om tot terugkeer te bring, nadat
al die vermaan vrugteloos geblyk het.

Broers en susters, ons kan verstaan dat sulke strenge maatreëls
vir ’n ernstige sondige gedrag nodig is. Maar wat van
gevalle waar die persoon onder die tug skynbaar nog ’n vroom
lewe lei? Is so ’n maatreël wel gepas by persone wat verder
nog godsdienstig lyk te wees? Dis opvallend dat Paulus die
uitdrukking ‘oorlewering aan die Satan’ juis opnuut
gebruik in 1 Tim 1. Daar gaan dit veral oor mense wat ’n
ander leer aanhang. Hulle hou hulle besig met fabels en eindelose
geslagsregisters (1:4). Hulle vermeng hierdie fabels met die
geslagsregisters van die Ou Testament. Hulle kan geweldige dinge
beweer, wat hulle laat lyk asof hulle leraars van die wet is.
Intussen verstaan hulle niks van wat hulle sê nie en hou hulle
hul besig met onsinnige praatjies, wat net twisvrae bevorder meer
as stigting. Hierdie mense het uiterlik ’n voorkoms van
groot erns en heiligheid. Godsvrug word deur hulle voorgehou as
’n onttrekking aan hierdie wêreld.

Met hul onsinnige praatjies lei hulle egter weg van die hart
van die evangelie, naamlik dat Christus Jesus in die wêreld
gekom het om sondaars te red (1:15). Hulle lei ook af van die
doel van die evangelie, naamlik liefde uit ’n rein hart en
’n goeie gewete en ’n ongeveinsde geloof (1:5). Onder
hulle wat van die geloof afgeval het, noem Paulus Himeneus en
Alexander. Van hulle sê hy in 1:20 dat hy hulle aan Satan
oogegee het, sodat hulle kan leer om nie te laster nie. Hieruit
blyk dat die uiterste maatreël van afsnyding ook soms kan geld
vir lidmate wat uiterlik ’n voorkoms van groot erns en
heiligheid het. ’n Mens kan hier ook dink aan Jesus se
waarskuwing in Mt 7:21-23, waar dit gaan oor valse profete in
skaapsklere.

In Titus 3:9-11 bevestig Paulus dit met die woorde: “Maar
vermy dwase strydvrae en geslagsregisters en twis en stryery oor
die wet, want dit is nutteloos en doelloos. Aan ’n man wat
partyskap verwek, moet jy jou onttrek na die eerste en tweede
vermaning, wetende dat so iemand op ’n verkeerde pad is en
sonde doen en selfveroordeeld staan.” So ’n persoon
spreek feitelik sy eie vonnis uit. Nie die ampsdraers wat
tugmaatreëls toepas is skeurmakers nie, maar die sondaar wat na
herhaalde vermaning ongehoorsaam bly. Die persoon sny feitelik
self die band met die gemeente deur.

Die skrif praat verder van die staking van normale omgang met
’n persoon wat afgesny word. “Laat hom vir jou wees
soos die heiden en die tollenaar.” Soos die ortodokse Jood
geen omgang met ’n heiden of ’n tollenaar gehad het
nie, so moet die gemeente normale sosiale kontak met so ’n
persoon verbreek. In Kor lees ons dat jy met so ’n persoon
selfs nie saam moet eet nie. Sulke sondaars moet vermy word.
Sondaars uit die kerk. Sulke sondaars is gevaarliker as sondaars
wat nooit kerk toe gaan nie. Daarom roep Paulus ons op om nie die
sondaars in die wêreld te vermy nie, maar om die sondaars uit
die kerk te vermy.

Hoever gaan ’n mens hierin? Wanneer een van jou
familielede die Here die rug toedraai, mag jy dan nie meer saam
met hom aan tafel sit nie? Dit kan ’n groot probleem wees.
Een ding is duidelik: die Here hef die huwelik nie op nie. Hy
verbreek ook nie die band tussen ouers en kinders nie. Ook
wanneer iemand volhard in sonde, bly die 7de en 5de gebod van
krag. Ons hoef daarom nie noodsaaklike kontak te vermy nie.
Paulus maak dit egter duidelik dat ons nie verder as die
noodsaaklike kontak moet gaan nie. Ons moet so ’n sondaar
nie as ’n vriend behandel nie, asof niks gebeur het nie. Ons
behoort nie met hom om te gaan soos ons dit normaalweg sou doen
nie. Hy moet sien en voel dat iets tussen julle lê, naamlik die
sonde.

Waarom so ’n isolasie? Uit liefde vir die persoon. Om hom
te red. Om die persoon tot besinning te laat kom. As dit God se
wil is, kan ons so ’n instrument tot sy bekering wees. Ons
onttrekking kan veroorsaak dat die persoon skaam kan word (2
Thess 3:14,15). Dit kan daaraan meewerk dat sy siel gered kan
word in die dag van die Here Jesus (1 Kor 5:5). Die kan die
persoon ook leer om nie te laster nie (1 Tim 1:20).

Gemeente, kerklike tug is geen pret nie. Dis baie moeilik en
hartseer. Die uiterste maatreëls het ook nie altyd die
uitwerking wat ons sou wens nie. Ons oefen dit egter nie uit
omdat dit werk nie. Ons oefen dit uit omdat Christus ons leer om
dit te doen. En ons probeer om dit te doen soos Christus dit ons
geleer het en met die doel wat Hy ons voorhou.

Broers en susters, wees dankbaar vir die woorde wat u van bo
ontvang het. Die apostoliese woorde wat nou aan die gemeente is
toevertrou. Wees dankbaar vir God se uiterste sorg vir die behoud
van sondaars. Hy wil nie hê dat een van hierdie kleintjies
verlore gaan nie. Hy soek die verlorene op. Hy roep die dwalende
terug. Bly dan die woord van Christus bewaak en hanteer. God het
dit nie verniet aan u toevertrou nie. Hy wil dat die woord gehoor
word. Dat die woord die hoogste gesag behou. Dat die woord die
onderlinge omgang bepaal. Ook dat die woord die grens aan die
onderlinge omgang stel. Sodat elkeen die skatte van God se ryk
mag bly geniet of opnuut mag terugvind.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds. C. Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)