Die triomfantlike aankondiging van Christus se koms na Jerusalem toe.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-03-20
Teks: 
Matthéüs 21
Preek Inhoud: 

Matthéüs 21:1-11

Ds C Kleyn - Sondag 20 Maart 2005

Lees: Matthéüs 20:29-21:17.
Sing: Ps 24:1-3; Ps 2:6; Ps 24:4,5; Ps 118:12-14;
Ps 72:10,11.

Tema: Die triomfantlike aankondiging van Christus se
koms na Jerusalem toe.

Christus nader sy stad as koning, as priester en as profeet.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die Here Jesus is op pad na Jerusalem. Hy is reeds ’n
tydjie op pad na Jerusalem. Sedert die eerste aankondiging van sy
lyding. Beskryf in Mt 16:21. Die Here Jesus moet na Jerusalem toe.
Waarom? Om daar te ly, gedood te word en op te staan. Christus se
lydingsweg word nou bittere erns. Binne ’n week begin die
Pasga van die Jode. Die beslissende Pasga. Die Pasga waarop Jesus
Christus Homself aanbied as die Lam van God om die sonde van die
wêreld weg te neem.

Jesus Christus gaan vir die laaste keer na Jerusalem toe. In
die derde aankondiging van sy lyding bevestig Christus nadruklik
die bestemming. Lees Mt 20:18-19.

Jesus Christus gaan dus na Jerusalem toe. Jerusalem, die stad
van Dawid, die koninklike stad. Jerusalem die stad van God, die
tempelstad, waar die bloed van die offers daagliks vloei. Jesus
Christus gaan Homself aan sy stad voorstel as koning, priester en
as profeet.

Gemeente, hierdie geskiedenis word dikwels voorgestel as die
triomfantlike intog in Jerusalem. As ’n mens egter goed kyk
dan sien jy dat dit eintlik nie praat van ’n triomfantlike
intog nie, maar van ’n triomfantlike aankondiging van sy
koms. Die hulde wat aan Christus gegee word, word gegee terwyl hy
Jerusalem nader, nie terwyl Hy Jerusalem binnetrek nie. Tydens
die laaste kilometers van die pad na Jerusalem word alle aandag
op Jesus se koms gevestig. Daarop volg egter ’n koue
ontvangs in die stad self.

Ek verkondig vir julle die woorde van die teks onder die tema:
Die triomfantlike aankondiging van Christus se koms na Jerusalem
toe.

Christus nader sy stad as koning, as priester en as profeet.

By hierdie geskiedenis word dikwels baie aandag gegee aan wat
die mense doen of dink. Jy sien die mense in beweging kom. In hul
entoesiasme roep hulle skielik uit: Hosanna vir die Seun van
Dawid. Hulle bring Christus hulde as hul koning. Die entoesiaste
skare bring die hele stad in opskudding. Vrae wat opkom is: wat
het die mense met hul hulde bedoel? Het hulle dit opreg gemeen?
Hoe kan verskeie van hulle dan enkele dae later uitroep: Kruisig
Hom, kruisig Hom? So word dikwels veral gelet en gespekuleer oor
die optrede van mense. Die skare word as die aktiewe party
voorgestel, terwyl Jesus die ontvangende, passiewe party sou wees.

Maar, gemeente, hoe praat die Skrif self hieroor? Wie is veral
die aktiewe party? Wie neem die inisiatiewe? Het die skare uit
hulleself tot die koninklike huldiging gekom? Die teks laat sien
dat die Here Jesus hier veral die aktiewe party is. Hy begin. Hy
berei alles voor. Alle inisiatiewe gaan van Hom uit. Hy werk
bewus en opsetlik na die hulde toe. Dis werklik nie toevallig dat
die skare in huldebetoon uitbreek nie. Christus lok dit uit, wil
dit uitlok. Volgens God se plan. Ooreenkomstig die profetiese
woord.

Let in hierdie geskiedenis dan ook veral op jul Heiland,
gemeente, op jul Heiland wat die laaste trajek van sy lydensweg
volg. Verwonder julle oor sy dade.

Die spanning bou op in die dae voor die groot fees. Mense kom
orals vandaan na Jerusalem toe. Hulle hoor allerlei wonderlike
gerugte oor die Jesus van Nasaret. Het Hy nie onlangs Lasarus uit
die dood opgewek nie, in Betanië, naby Jerusalem? Die gerug
hieroor versprei onder die feesgangers en sorg daarvoor dat Jesus
van Nasaret in die kollig staan. Bowendien is dit algemeen bekend
dat daar ’n konflik is tussen Jesus en die Joodse leiers.
Mense wonder of Jesus dit sal waag om vir die Paasfees Jerusalem
toe te gaan. Sal Hy terugskrik vir die dreigemente van die
owerpriesters en skrifgeleerdes? Maar nou word verneem dat Jesus
reeds in die omgewing is. In Betanië. En dat Hy na die fees sal
gaan. Julle kan voorstel dat die spanning met die dag toeneem.

In so ’n gespanne tyd doen die Here Jesus baie opvallende
dinge. Dinge wat wel tot ’n opskudding moet lei. Die Here
Jesus stuur twee dissipels vooruit na ’n dorp reg voor hulle.
Wat moet hulle doen? Hulle moet daar ’n donkie vat saam met
’n vul wat by haar is. Hulle moet die donkies vat en hulle
vir Jesus bring.

’n Opvallende handeling. As Jesus die pakdier nodig het,
waarom vra Hy die eienaar nie self of hy dit mag gebruik nie?
Waarom stuur Hy die dissipels vooruit om die te haal? En dan moet
hulle die diere sommer vat, opeis. Die wagwoord is: die Here het
hulle nodig.

Christus lok opsetlik die koninklike hulde uit. Hy wil as
koning die stad nader. Die donkie is uitermate geskik daarvoor.
Voor die tyd van Salomo, toe daar nog geen perde in Israel was
nie, was die donkie by uitstek die rydier vir belangrike mense.
Later het dit in gebruik gebly vir vreedsame doeleindes.

Christus wil bewus as koning Jerusalem nader. Voor die oog van
alle feesgangers. By die vorige Paasfees het Hy nie openlik
opgegaan nie, maar in die geheim (Joh 7:10). Hy het mense
voortdurend verbied om rugbaar te maak dat hy die wonders verrig
het en dat hy die Christus was. Maar nou is dit anders. Geen
terughoudendheid meer nie. Op die pad van Jerigo na Jerusalem
laat hy die blindes hard uitroep: Wees ons barmhartig, Here, Seun
van Dawid. Met die “Seun van Dawid” laat Christus hulle
die uitroep wat gaan kom: Hosanna vir die Seun van Dawid
voorberei.

Te midde van die skare feesgangers genees Christus die blindes.
Openlik en publiek. Christus trek bewus die aandag van die skare.
Ook met die opvallende instruksie om die donkies vir hom te vat.
Christus wil openlik homself laat ken as die beloofde koning. Hy
wil Homself so aan sy stad voorstel.

Daarom lê Hy koninklik beslag op die donkie en sy vul. Hy eis
die diere vir Homself op. Soos konings dit mag doen. Hy laat mos
sê: die Here het hulle nodig. Hy is die Heer wat koninklik opeis
wat Hy nodig het. Hy het as Heer oor alles bevoegdheid daartoe.
En die volk kan niks anders doen as om gewillig te gehoorsaam nie.

Gemeente, blykens die ander Evangelies het dit Christus gegaan
om die vul. Die Heiland wil ’n pakdier hê waarop nog nooit
iemand gesit het nie. Dit behoort by sy koninklike waardigheid.
Die koning het eerste gebruiksreg. Deur die moederdier saam te
neem kan die rit op die jong vul rustiger verloop.

Die dissipels begryp die bedoeling van hul meester baie goed.
Sodra die diere daar is, lê hulle hul boklere daarop. Waarom? As
bewys van eerbied en onderworpenheid. Die Here Jesus moet as
’n vors daarop gaan sit. Hulle gee Hom koninklike eer. En
die skare volg hulle voorbeeld.

Waarom lok Christus nou wel hierdie hulde uit? Hy is besig met
die dinge van sy Vader. Om sy werkprogram uit te voer. Hy lees sy
program uit die Skrifte. Lees Mt 21:4,5. Die Here Jesus weet dat
sy tyd nou aangebreek het om hierdie profetiese woord in
vervulling te bring.

So stel Christus homself aan sy stad Jerusalem voor as ’n
Koning wat sit op ’n donkie. Waarom op ’n donkie? Ons
het reeds genoem dat die ry op ’n donkie ook kan wys op
koninklike waardigheid. Die profesie benadruk juis die koninklike
aspek. Hier kom jou koning. Maar Christus sou ook op ’n perd
kon geklim het. Dit was vir ’n koning ook meer gebruiklik.
Dit sou meer indruk maak. Waarom dan op ’n donkie. Dit het
alles te doen met die karakter van sy koningskap. Die hele
Jerusalem, ja die hele wêreld moet eens en vir altyd weet watter
soort koning die Here Jesus is. Watter soort koning is hy dan?
Die kinders kan dit vir ons vertel: Hy is geen vegkoning nie,
maar ’n vredekoning.

Waarvan was die perd in die tyd ’n beeld? Dit was ’n
beeld van menslike magsvertoon en menslike strategieë. Die
maghebbers van die wêreld het perde en waens gehad. Daarop het
hulle hul vertroue gestel. Hulle het gekom met vleeslike wapens,
met ’n geweldige strydmag. Hulle het hul strydbaarheid gewys.
Hulle was so te sê vegkonings.

Dis ook die rede dat die Here in Deut 17 bepaal het dat Israel
se konings nie baie perde mag hê nie. Hulle mag nie gaan vertrou
op vleeslike wapens nie. Hulle moet op die Here vertrou. Israel
se koning mag nie soos die konings van die heidene wees nie.
Hulle moet die beeld van ’n teokratiese koning wys. Christus
het daardie verskil nou net aangedui nav die stryd onder die
dissipels om die eerste te wees. Lees Mt 20:25-28.

In God se ryk is die koning nie ’n koning wat met geweld
aankom nie, wat met geweld oor sy volk heers nie. Nee, Hy is
’n dienaar van sy volk. Geen vegkoning nie, maar ’n
vredekoning.

Dit benadruk Christus wanneer Hy op ’n donkie Jerusalem
nader. Hy bestorm nie die stad met ’n strydros nie. Hy kom
op ’n vul van ’n donkie, sonder magsvertoon, ongewapen.
Blykens die profesie van Sagaria kom hy juis om wapens en stryd
weg te doen. Lees maar Sag 9:9,10.

Hy kom as ’n Priesterkoning. Hy kom om te dien. Om vrede
te bring. Nie deur die swaard nie, maar deur sy lewe te gee as
’n losprys vir baie. Daarom word hy ook as sagmoedig
aangedui. Kyk, die koning kom na jou toe, sagmoedig en Hy sit op
’n esel. Hy is geen diktator wat Hom hoog bo sy onderdane
verhef nie. Geen tiran wat sy onderdane onderdruk nie. Nee, Hy is
sagmoedig. Hy sal nie ’n troon vir homself verwerf ten koste
van hul bloed en belasting nie. Hy sal inteendeel ’n troon
vir sy volk verwerf ten koste van sy eie bloed. Hy laat homself
’n dienaar van sy volk wees. Hy buig hom tot ons neer. Hy
maak homself een met ons. Dink maar aan sy genesing van die twee
blindes by Jerigo en aan sy besoek by die veragte tollenaar Saggeüs
kort daarvoor. Na aanleiding daarvan het Christus ook gesê: Want
die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore
was (Lk 19:10).

So wys Christus deur op ’n donkie te ry die karakter van
sy koningskap aan. Hy is die beloofde teokratiese koning, die
priesterkoning wat vrede kom aanbring deur homself as ’n
losprys vir baie te gee.

Nou die derde aspek: die Here Jesus nader Jerusalem nie net as
’n koning nie, ook nie net as ’n priester nie, maar ook
as ’n profeet.

Met sy optrede bring Christus die skare in beweging. Doelbewus.
Hy self lok die koninklik hulde uit. Sy koningskap moet
uitgeroep, verkondig word. Christus wil hê dat almal dit hoor en
weet. Na die huldiging deur die dissipels volg die huldiging deur
die skare. Die merendeel van die skare sprei hulle klere uit op
die pad as teken van hulle eerbewys. Dis die feesklere waarmee
hulle hul vir die komende Paasfees gekleed het. Die komende
koning moet daaroor ry. Met die klere lê hulle, so te sê,
hulleself aan sy voete neer en betuig hulle hul onderwerping aan
sy heerskappy.

Ander kap takke van die bome af en strooi dit op die pad.
Hulle bedui daarmee dat hulle in die oorwinning van hierdie
koning glo. Sy koninkryk sal seëvier.

Hulle voeg dan die woord by die daad. Hulle juig die Here
Jesus toe: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy
wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele.”

Christus word begroet met die seëngroet uit Ps 118. Die mense
het gewoonlik hierdie Psalm op die Paasfees gesing. Die
feesgangers het mekaar met die bekende woorde begroet: “Geseënd
is Hy wat kom in die Naam van die Here.” Dit was ’n
groet wat gepaard gegaan het met die bede: “Ag, Here, gee
tog heil; ag Here, gee tog voorspoed.” Die woorde: “gee
tog heil” vorm die Hebreeuse woord Hosanna.

Nou begroet hulle Jesus met daardie bekende woorde. Hulle roep
Hom toe as die Seun van Dawid. Hosanna vir die Seun van Dawid. In
hom sien hulle die heil werklikheid word. Die bede en die heil
kom in hom tot vervulling. Dit word ’n jubelkreet ter
huldiging van hierdie Messias koning.

Die Here laat homself nou huldig. Op die laaste reis na die
koningsstad laat Hy sy koningskap uitroep.

Tot nou toe het Hy dit geweier. Na die spysiging van die 5000
mense, het Jesus homself in die berge teruggetrek omdat hy gemerk
het dat die mense hom met geweld koning wou maak.

Nou maak hy egter aanspraak op die hulde as die deur God
beloofde koning uit die huis van Dawid. Daarom laat Hy op die pad
van Jerigo na Jerusalem die blindes uitroep: Wees ons barmhartig,
Here, Seun van Dawid! Daarom laat Hy die skare uitroep: Hosanna
vir die Seun van Dawid. Hy wil as die Seun van Dawid, as die
beloofde Messias uitgeroep word. Sy koningskap moet nou, nou Hy
sy laaste reis na Jerusalem, die koninklike stad, maak, uitgeroep
word. Dit moet bekend gemaak word voordat Hy sterf, voordat Hy as
Paaslam homself in die dood oorgee.

As dan die Fariseërs wil verbied dat die skare so juig, sê
die Here Jesus: “Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die
klippe uitroep.” Christus se koningskap moet uitgeroep word.
Elkeen moet dit hoor. As die mense dit nie laat hoor nie, dan sal
die klippe dit doen. Die volk moet weet eers en vir goed dat Hy
die beloofde koning is.

Straks sal die kinders in Jerusalem met die verkondiging
aangaan. Hulle het met die jubelende skare saamgestap. Hulle het
van die groot mense geleer hoe jy die Koning moet eer. So roep
hulle van hul kant ook uit: Hosanna vir die Seun van Dawid. En
wanneer die owerpriesters en die skrifgeleerdes hulle daaraan
vererg, antwoord Christus: “Het julle nooit gelees: Uit die
mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie?”
Die Here sorg daarvoor dat sy koningskap uitgeroep word. Eers uit
die mond van die skare, daarna uit die mond van die kinders.

Waarom doen die Here dit? Dit is liefde wat hom beweeg. Liefde
vir sy volk, liefde ook vir jou en my. Hy maak homself nou
onomwonde bekend. Nie om daarmee homself te soek nie. Ja, dit lyk
wel fees vir hom, maar dit lui in feite sy swaarste lyding in. Na
hierdie geskiedenis sal die vyandige Joodse leiers hul plan om
hom te laat doodmaak nie langer uitstel nie. Nee, dit gaan
Christus nie om homself nie, maar om sy volk. Sy volk, jy en ek
moet weet: Hier is jou koning.

So wil Christus as profeet die onwetendes vir die laaste keer
onderwys. As profeet wil Hy vir die laaste keer ’n beroep op
die hart van die volk doen. Wil Hy oproep tot geloof en bekering.
Daarvoor maak Hy gebruik van die jubelende skare en van die
jubelende kinders. Hy bedien Homself van hul monde. Hulle moet,
ook al verstaan hulle self nie mooi wat hulle sê nie, Jesus
verkondig as die beloofde Koning, ook al is hul motiewe moontlik
aards en wêrelds.

Ongelukkig reageer die bewoners van Jerusalem nie positief op
die verkondiging van die Christus nie. Christus kry in Jerusalem
’n koue ontvangs. Ja, die hele stad is wel in opskudding oor
hom. Maar pleks van hulde en aanbidding is daar alleen die vraag
wat afstand verraai: Wie is hierdie man? Asof hulle hom nog nie
ken nie. Minagting klink daarin deur: wat is so besonder met
hierdie man? Christus kom na sy stad toe as Koning, maar die stad
wil Hom nie as koning erken nie. Wanneer Christus die tempel
binnegaan dan ontbreek daar die erewag vir hom. Die bedoeling van
die aankondiging van sy koms was volgens Ps 118:27 dat die mense
in die tempel die feesoffers sou gaan gereedmaak. Maar wanneer
Christus daar kom, ontbreek daardie offers. Jesus het daarvoor
gesorg dat mense van sy koms weet en van die beloftes wat aan sy
koms verbind is. Die verwerping deur Jerusalem val as ’n
skaduwee oor Hom heen. ’n Antiklimaks. Daar is ook niemand
wat hom gasvry ontvang nie. Teen die aand moet hy die stad
verlaat om vir homself ’n blyplek in Betanië te vind.

Gemeente, sien daar jul koning Jerusalem nader en binnetrek.
Op ’n vul. Hy is werklik geen slagoffer nie. Koninklik
beheers Hy die situasie. Lei Hy die situasie soos Hy dit wil hê.
Hy kom homself publiek meld as die beloofde koning. Op ’n
donkie. Nie met vleeslike magsvertoon nie. Maar as Priester. As
Dienaar. As Lam, wat sy lewe gee as losprys vir baie. En as
Profeet sorg Hy daarvoor dat elkeen dit kan weet. Hoe is jou
reaksie daarop?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)