God word geprys as diegene wat sy goedheid wys in antwoord op gebed.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-05-01
Teks: 
Psalms 65
Preek Inhoud: 

Psalm 65

Ds C Kleyn - Sondag 1 Mei 2005

Lees: Psalm 65.
Sing: Ps 65:1; Ps 65:2; Ps 104:17-21; Ps 147:1-4;
Ps 85:3,4.

Tema: God word geprys as diegene wat sy goedheid wys
in antwoord op gebed.

Hy word geprys:

  1. As die God van redding
  2. As die God van die wêreld
  3. As die God van die oes

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Is Ps 65 wel gepas vir hierdie bidstond? Dit klink so mooi aan
die slot van hierdie Psalm. Ons ontvang ’n beeld van
oorvloed en vreugde. Jy sien die gewasse op die land en die vee
op die weivelde. Selfs die woestyn bloei. Daar is volop water en
kos. Is dit ’n passende Psalm vir ons huidige situasie in
Suid Afrika? Verskillende dele van ons land het ’n groot
tekort aan reën gehad of eers laat hul reëns ontvang.
Verskillende boere sou nie daaraan dink om hul situasie te
vergelyk met die situasie wat in Ps 65 beskryf word nie.

Tog, broers en susters, is daar baie wat ons van hierdie Psalm
kan leer. Die Psalm leer ons hoe God is en hoe Hy werk. Ook al
praat die Psalm van ’n konkrete situasie, dit word gedoen in
algemene terme. Let op die teenwoordige tyd wat deur die hele
Psalm heen gebruik word. Byvoorbeeld vers 4: U versoen ons
oortredinge Nie net u het die oortredinge vergewe nie. Vers 6:
Vreeslike dinge antwoord U ons in geregtigheid. Vers 8: wat die
gebruis van die seë stilmaak, die gebruis van hulle golwe en die
rumoer van die volke. Vers 10: U verryk die land grootliks. ... U
berei hulle koring.

Voortdurend word die teenwoordige tyd gebruik. Israel se
ervaring in daardie tyd wys God se karakter: so is Hy en so werk
Hy. Dis hoe God dit steeds weer doen. Dis wat ons van Hom mag
verwag.

Dit lyk asof die Psalmis eers droogtetyd meegemaak het. Maar
God het nou verandering in die situasie gebring. Selfs voor die
oes gereed is, loof en dank die Psalmis die Here. Die verandering
op die land is reeds die bewys van God se goedheid. Ons sien iets
vergelykbaars in dele van ons land. Deur die late reëns lyk die
situasie vir verskeie boere nou tog beter te wees as wat
aanvanklik gedink is.

Die meeste van ons is nie op ’n direkte manier by die
landbou betrokke nie. Ons kan dit dan ook vergelyk met die
ekonomiese herstel wat ons as land lyk te ervaar. Ekonomies lyk
dit met ons land beter te gaan Ons dank God vir sy goedheid.

Ek verkondig vir julle: God word geprys as diegene wat sy
goedheid wys in antwoord op gebed.

Hy word geprys:

  1. As die God van redding
  2. As die God van die wêreld
  3. As die God van die oes

“Aan U kom ’n lofsang toe, O God, in Sion.” Dis
hoe die Psalmis begin. God, U verdien lof en aanbidding. Ja, U
verdien dit in Sion. U woon onder U volk. Vanuit Sion wil U hulle
seën. Daarom kom ’n lofsang u toe in Sion. Die Psalmis noem
geloftes wat vir die Here gemaak is, geloftes wat nou betaal moet
word. God word genoem die hoorder van die gebed. Die mens het
daarvoor gebid. En God het daardie gebede verhoor. Hy het reën
gegee en oorvloed.

Dit opvallend dat die Psalmis na daardie inleidende woorde
onmiddellik met ’n skuldbelydenis kom. “Ongeregtige
dinge het die oorhand oor my gehad, maar U versoen ons
oortredinge.” Waarom noem hy hierdie sondes in ’n
lofsang op die Here vir sy goedheid?

Geliefdes, dat God die jaar met sy goeie gawes kroon, is nie
iets wat outomaties gebeur nie. Die goedheid van die Here in Ps
65 wys ’n verandering van die situasie. Baie het daaraan
voorafgegaan. Geloftes wat aan die Here gemaak is, gebede,
sondes, oortredings, genade en vergewing. Dit alles het God se
nuwe guns en goedheid voorafgegaan. Dit bring die woorde van die
Psalm nader aan ons.

God het Israel in die beloofde land Kanaän gebring, ’n
land van oorvloed, wat oorvloei van melk en heuning. God het ook
oorvloed belowe. Maar nie iets wat outomaties sou plaasvind nie.
Nee, die Here het hulle gewaarsku: as julle jul rug op my draai,
van my weë afwyk, dan sal Ek julle besoek met droogte, slegte
oeste en armoede. Dit sal my oordeel wees op sondes wat nie
versoen is nie.

Blykbaar het Israel so ’n periode van droogte meegemaak.
Die begeerde reëns het net nie gekom nie. Die saad wat gesaai
is, wou nie opkom nie en wat nie opkom kan ook nie groei nie. As
so ’n droogte sou aanbly, dan sou daar geen oes wees nie en
dan sou daar armoede in Israel wees.

Die saad is gesaai, maar daar is geen reën nie. Dit wys in
die konkrete situasie op God se toorn. En daar is rede vir die
toorn. Luister maar na die Psalmis: “ongeregtige dinge het
die oorhand oor my gehad.” Ons was oorstelp deur sonde. Ons
het aan die sonde toegegee. Daarom het ons alle regte op God se
sorg verbeur. “As U, Here, die ongeregtighede in gedagtenis
hou, Here, wie sal bestaan?” Niemand nie. Ons het niks
minder as u oordeel verdien nie.

Ons kry ’n prentjie van mense wat hulle voor God verneder.
Hulle maak geloftes vir die Here: Here, as U reën gee, dan sal
ons daardie dankoffers vir U gee. Hulle gaan met hul gebede vir
reën na die Here toe. Hulle is bewus van hul sondes en vra om
vergewing.

Geliefdes, ons kan van hierdie mense leer. Wanneer jy teenslae
of teleurstellings ondervind, gee nooit God die skuld daarvan nie.
Wanneer jy ’n droogte ervaar (in letterlike of figuurlike
sin), finansiële probleme, gebrek aan werk of inkomste,
beskuldig dan nie God van onreg nie. Inteendeel, verneder julle
voor God. Want elkeen van ons het baie erger verdien as finansiële
agteruitgang of droogte. Ons is die skuldige party. kyk maar na
ons sondes en oortredinge.

Dis veral vir ons as kerk gepas om ons voor God te
verootmoedig in die belydenis van sonde. Ons, as kerk, behoort
’n seën vir die wêreld en vir ons land te wees. Terwille
van 10 regverdiges in die stad Sodom was God bereid om die
verdorwe stad te red. Op watter manier was ons en is ons ’n
seën? Het ons nie op baie maniere ons aangepas aan die patrone
van die wêreld nie? Wat van die materialisme, die selfsug, die
jaloersie, die gebrek aan liefde en vergewensgesindheid, die
skinder en leuen? Is ons as gemeente en as Christene werklik
’n seën vir ons land en volk? Die lig van die wêreld, die
sout van die aarde? Sondes het ons ingehaal. Daar was baie
oortredinge.

Dis belangrik, geliefdes, om ten volle bewus te wees van
hierdie skuld wanneer ons praat oor werk, inkomste,
produktiwiteit, rykdom ens. Net dan besef jy dat alles, ja
werklik alles wat ons ontvang, onverdiende guns is. Hoekom is
soveel mense ontevrede met wat God vir hulle beskik? Is dit nie
omdat hulle vergeet dat hulle deur hul sondes letterlik alle
regte op God se goedheid verbeur het nie? Dan sien jy nie meer
dat alles onverdiende guns is nie.

As ek dit sien, dan leer ek om tevrede te wees met wat ek het,
ook al het ander mense dalk baie meer as ek. Selfs dit wat min
lyk, is baie in vergelyking met wat ek ten diepste verdien het.
Sondes het immers die oorhand oor my gekry. Daarom is
dankbaarheid gepas. Aan God kom lof toe. Want wanneer die
oortredinge die oorhand oor ons kry, dan versoen God hulle. By
die Here is daar vergewing. Hy verlos Israel van al sy
ongeregtighede. Hier het ons die basis van God se sorg vir ons
mensekinders. Dis vanweë sy verlossingswerk, dat daar nog lewe
hier op aarde is; dat daar in ons land nog ’n toekoms is.
Die geskiedenis van die mensheid gaan aan. Die son skyn nog en
die reëns val nog. Die menslike lewe word onderhou. Danksy God
se verlossingswerk. Wanneer God met sy redding van mense klaar
is, dan is dit ook die einde van die huidige lewe hier op aarde.

Daarom, broer, suster, wanneer jy inkomste en kos ontvang,
sien daarin God se genade en ontferming skitter. God vergewe nie
net nou en dan nie. Hy het dit nie net vir die Israeliete gedoen
in die tyd van die Psalm nie. Nee, dis hoe Hy is: Hy bly dit doen.
Onthou die teenwoordige tyd: u versoen ons oortredinge. Dis hoe U
is. U is die God van redding. U bly vergewe. Daarom bevat die
Psalm ook ’n saligspreking: “Welgeluksalig is hy wat U
uitkies en laat nader kom, dat hy kan woon in u voorhowe. Ons wil
versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u
paleis.”

Wat ’n groot voorreg om deel te hê aan die verlossing en
om dit in die tempel te vier. Jy word daarmee gelukgewens:
welgeluksalig is hy wat U uitkies en laat nader kom. Dis nie jou
eie prestasie nie. Nee, die God van redding kies jou uit en laat
jou nader kom. Terwyl die ongelowige nie by God mag woon nie, mag
jy binnekom, danksy God se uitverkiesing. Jy mag woon in God se
voorhowe en geniet van sy guns. Ja, jy mag jou verlossing vier.
Die woorde: “ons wil versadig word met die goeie van u huis,”
wys waarskynlik op die offermaaltyd waaraan die offeraar sy vrede
met God kon vier. By die tempel, aan die offermaaltyd, kon jy God
se guns en goedheid, sy liefde en vrede, proe.

So herken ons in die Psalm die evangelie van Jesus Christus.
Vergewing, verlossing, dit is volle werklikheid in Jesus Christus
wat alle geregtigheid vir my vervul het. Ek mag my daaglikse
brood, my inkomste en die oes van die land nie skei van Christus
se verlossingswerk nie. Werk en oes is nie net ’n kwessie
van sukses nie, maar van God se goedheid. In al die opbrings en
rykdom sien die Psalmis God se guns vir sy volk. Dis is alles
werd vir hom: die vrede met God. U versoen ons oortredings, sing
hy. Broers en susters, julle kan dit met nog groter vreugde en
dankbaarheid sing. Julle ken mos die kruis van Christus en sy
volbragte werk.

Danksegging vir God se onderhoud en sorg, vir werk en oes, dis
pragtig. Maar dan wel op die basis van God se verlossingswerk
deur Jesus Christus. Vrede met God is die eerste en mees
waardevolle gawe. Nie jou gevulde beursie nie, maar die
verlossing wat God vanuit Sion gee. Om deur Hom uitverkies te
wees, om in sy teenwoordigheid te woon, waar dit goed is vanweë
sy oorvloedige genade, wat deur die bediening van die versoening
tot jou kom. Dan sien jy jou inkomste en brood in die regte
perspektief. Sou Hy wat sy eie Seun nie gespaar het nie, maar vir
ons almal oorgelewer het, ons nie saam met Hom alles genadiglik
skenk nie?

Daarom prys jy God in jou danksegging as die God van jou
redding, dit wat die eerste gedagte.

Nou die tweede gedagte: God moet ook geprys word as die God
van die wêreld.

Vers 3 sinspeel reeds daarop: tot U moet alle vlees kom. Vlees
is ’n woord wat die mens tipeer as swak, verganklik,
afhanklik. In die lig van die vervolg van die Psalm wys alle
vlees op mense van alle volke van die wêreld. Die Psalmis sien
die Jode na die tempel gaan as ’n voorspel van die koms van
die nasies tot die Here. Dis ’n voorspel op Pinkster. Die
Here beoog immers om nie net Israel nie, maar om die wêreld te
red.

Daarom kan die Psalmis sing van God as die vertroue van al die
eindes van die aarde en van die verste see. Mense van oor die
hele wêreld, sal tot Hom vlug. Hy sal hulle vertroue wees. Hy is
die magtige God wat die wêreld regeer. “Wat die berge
grondves deur u krag, wat omgord is met mag.” Die groot
berge wys hoe magtig en verhewe God is. Dis berge styg bo die
werke van mense uit. Maar God staan bo daardie berge. Hy het
hulle gemaak. En Hy alleen kan hulle beweeg. Dink net aan die
energie wat loskom wanneer ’n berg byvoorbeeld in ’n
vulkaan verander. Niemand kan die kragte wat God tot sy
beskikking het, beheer nie.

So verkondig die berge God se majesteit, soos ook die seë.
“Wat die gebruis van die seë stilmaak, die gebruis van
hulle golwe en die rumoer van die volke.” Dikwels word die
gebruis van die seë figuurlike gebruik vir die rumoer van die
volke. God beheer albei. God beskik oor die trotse golwe. Hy het
die skrikwekkende tsoenami laat opkom en lande en mense daarmee
oorspoel. Hy het ook ’n grens daaraan gestel: tot hiertoe en
nie verder nie. So beskik God ook oor die rumoer van die volke.
Ons mense kan kom met allerlei vredesplanne, maar God alleen kan
oorloë stop en vrede bring. Daarom is die vrede waarvan ons in
Suid Afrika geniet ’n gawe van God.

Wat is die gevolg van God se stilmaak van die gebruis van die
seë en van die rumoer van die volke? Ons lees: “sodat die
bewoners van die eindes vrees vir u tekens; U laat die uitgange
van die more en die aand jubel.” God se magtige dade wek
beide vrees en vreugde. Vrees, hoe vreeswekkend was die tsoenami.
Niks kon die verwoestende golwe keer nie. Behalwe God. So is daar
ook die lof op God, lofsange van bevryding.

Broers en susters, baie van julle rykdom is ’n gevolg van
die voorregte en die betreklike vrede wat God ons gegee het.
Vergeet dit nooit wanner jy byvoorbeeld die armoede rondom jou en
in ander Afrika lande sien nie. Deur vrede en ’n stabiele
regering te gee, gee God ons baie moontlikhede tot ontwikkeling.
Terwyl ander lande voortdurend gepla word deur politieke onrus en
geweld. Baie onderontwikkelde gebiede het nie die vrede, die geld
en die ervaring vir ontwikkeling wat ons ontvang het nie. Laat
ons nie daaroor gaan spog nie maar daarvoor God die lof gee wat
Hom toekom. Hy is diegene wat ons ongekende moontlikhede gegee
het ook in die geskiedenis van ons ouers en voorouers. So is ons
wat ons vandag is. God is diegene wat so ’n situasie in die
wêreld skep dat wêreldhandel moontlik is. So het ons die
huidige vlak van welvaart kan bereik.

Aan God kom lof toe. Want Hy wat die wêreld en al sy
ontwikkelinge beheer, kan skielik die situasie verander. Hy kan
dit wat die volke nou nog tem, verwyder sodat ’n nuwe oorlog
uitbreek, erger as ooit tevore. Hy kan ’n einde maak aan al
ons huidige welvaart en ontwikkeling.

Onthou ook, geliefdes, dat God ook in droogtes, rampe,
teenslae besig is as die God van die wêreld, as die God wat die
redding van die wêreld soek. Hy wil die teenslae gebruik om
mense te waarsku, ja om jou en my te waarsku. Sodat ons ons voor
Hom verootmoedig. Sodat ons ons heil werklik by Hom soek pleks om
te vertrou op aardse magte en kragte. Is dit hoe julle finansiële
agteruitgang ervaar? Het ons alle materialisme en wêreldgesindheid
op hierdie gebied afgesweer? Het die spanning en teleurstellings
in ons land mense werklik op hul knieë gebring in geloof en
bekering? Of moet ons met Openb 9:20,21 konkludeer: “En
hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul
hoerery en hul diefstalle nie.” Geliefdes, laat ons die les
ter harte neem wat God deur teenslae en rampe vir ons wil leer.
En laat ons tog ons land, die mense rondom ons met daardie les
konfronteer, sodat die dinge wat ons ervaar uiteindelik tot seën
van ons nasie mag wees.

Gemeente, in antwoord op hul gebede, wys God die Israeliete sy
goedheid. Dit bring ons by die derde gedagte: God word geprys as
die God van die oes. Ons lees daarvan in die laaste verse van Ps
65. Die mense het vir reën en ’n goeie oes gebid. Die Here
het hulle gebede verhoor met vreeswekkende dade. Die Psalmis sien
die verskil op die land. Alles was dood en droog. Maar toe die
Here met sy reëns gekom het, het die dinge onmiddellik verander.
Alles het opgeleef. Die Psalmis praat van God wat die land besoek
het en dit water gegee het. God het sy volk besoek. Hierdie keer
in hul guns. Hy het met sy goeie gawes gekom.

Geliefdes, dink julle nog aan die koms van die Here, wanneer
julle die son sien skyn en die reën hoor val? Ja, wanneer die
land weer opleef en sy gewasse gee. Dat die gewasse groei is
’n gevolg van God se besoek. Die Psalmis teken dit mooi in
die laaste verse. Ek lees dit in die NV: “U maak die
ploegvore vol water en die kluite nat, U laat hulle sag word van
die reëns, U laat alles welig groei. U kroon die jaar met u
goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed! Daar is volop
weiding in die woestyn; die bulte juig, die velde wemel van die
kleinvee, die vlaktes staan vol koring; hulle juig en hulle sing.”

Laat ons hiervan bewus wees, broers en susters, ook in ons
ontwikkelde en geïndustrialiseerde samelewing. God is diegene
wat voorsien. Maak nie saak wat ons doen om die groei op die land
te bevorder of om die rykdom te vermeerder, sonder die Here sal
dit nie geluk nie. Alle goeie gawes kom van Hom. Ons daaglikse
kos, ons werk en gesondheid, ons inkomste en besittings. Dis
alles onverdiende guns van God. Want as Hy volgens ons sondes sou
optree, dan sou ons niks daarvan ontvang het nie. Daarom kom alle
lof aan Hom toe. Ons sal Hom prys as die God van redding. Sy
verlossingswerk is die basis van al sy omgang met hierdie wêreld
en land. Ons sal Hom prys as die God van die wêreld. Hy soek die
bekering en redding van hierdie wêreld. En ons sal Hom prys as
die God van die oes. Dis met die oog op sy reddingsplan dat Hy
nog die lewe in stand hou en ’n oes en welvaart gee.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)