Die 6e bede: En lei ons nie in versoeking nie maar verlos ons van die Bose.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-05-29
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 52
Preek Inhoud: 

Sondag 52, Vraag en Antwoord 127

Ds C Kleyn - Sondag 29 Mei 2005

Lees: Jakobus 1:1-18; Sondag 52, Vraag en
Antwoord 127.
Sing: Ps 61:1,2; Ps 61:3,4,6; SB 12:1,4; Ps 46:1,3;
Ps 46:4,6.

Tema: Die 6e bede: En lei ons nie in versoeking nie
maar verlos ons van die Bose.

  1. Ons bid die versoeking van ons weg
  2. Ons bid om God se krag in die versoeking

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Vergeef ons ons skulde, so het ons in die 5e bede gebid. Die
vergewing van ons skulde beteken alles vir ons. Ons kan roem in
ons verlossing. God het ons gered. Kan ons as verloste volk dan
nie vol vertroue die eindoorwinning tegemoet gaan nie? Ons het
tog niks meer te vrees nie? Na die skuldvergewing het Satan mos
geen reg van spreke meer nie?

Tog leer Christus ons om die gebed te vervolg met die bede:
lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose. Ek
moet weet dat ek nog steeds met ’n siedende satan te doen
het. Ja, juis na Christus se hemelvaart is die 6e bede dringend
nodig. Met Christus se hemelvaart is satan se vonnis gevel. Hy is
toe, saam met sy engele, uit die hemel gewerp. In Openbaring 12
word die hemel vanweë die feit gelukgewens, terwyl die aarde
gekondoleer word. Ons lees mos: "Daarom, wees verheug, o
hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en
die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede,
omdat hy weet dat hy min tyd het." (Openb 12:12).

Julle weet wel hoe wreed en gevaarlik die vyand kan wees as hy
sy einde sien nader kom, as hy in ’n hoek gedryf word. Die
laatste dae van die tweede wêreld oorlog het dit op pynlike wyse
getoon. So gaan die satan rond soos ’n brullende leeu en
soek hy wie hy kan verslind.(1 Petr 5:8). Sy laatste kragmeting
sal nie sag wees nie. Daarom is die 6e bede so belangrik, juis in
hierdie laatste fase van die wêreldgeskiedenis.

Ek verkondig julle die 6e bede: En lei ons nie in versoeking
nie maar verlos ons van die Bose.

  1. Ons bid die versoeking van ons weg;
  2. Ons bid om God se krag in die versoeking.

Wat bid jy eintlik met die 6e bede: lei ons nie in versoeking
nie? Kan God jou dan in versoeking lei? Is dit nie in stryd met
wat ons in Jakobus 1 gelees het, dat God self niemand versoek
nie? God is tog ver bo die kwaad verhewe? Hoe kan Christus ons
dan leer om te bid: Lei ons nie in versoeking nie?

Gemeente, hier moet julle goed let op wat daar geskrywe staan.
In Jakobus word daar gesê dat God niemand versoek nie. Dit
bestaan nie dat God ooit die oorsaak van die sonde sou wees, dat
Hy iemand tot sonde sou aanhits nie. Die oorsaak daarvan lê nie
by God nie, maar by ons sondig hart, wat by die aktiwiteite van
die satan aansluiting vind. Die satan versoek ons met kwade
bedoelings. Hy wil ons tot die sonde oorhaal. Hy wil ons van God
wegtrek.

In die 6e bede staan egter die woorde: lei ons nie in
versoeking nie. Ons sou selfs letterlik kan vertaal: lei ons nie
tot versoeking nie. Hoewel die Here nie self versoek nie, lei Hy
wel jou lewenspad, en kan Hy dit so lei dat jy wel in versoeking
kom. Dink maar aan die beeld van ’n herder wat sy kudde deur
’n gevaarlike streek lei. ’n Streek waar die bedreiging
groot is. God bestuur immers al ons paaie, ook die van satan en
sy trawante. Niemand kan iets doen sonder dat God hom daarvoor
die ruimte gee nie.

Die duiwels en mense kan nie sommer doen wat hulle wil nie.
Hulle val ook onder God se bestuur. So kan God jou in
omstandighede laat kom, waarin mense of duiwels jou kan versoek.
Hy kan satan toestemming gee om dit vir jou moeilik te maak. Dink
maar aan Job, wat op ’n baie pynlike wyse deur Satan geterg
mog word.

As jy dan in sulke gevaarlike omstandighede voor die sonde
beswyk, dan kan jy God niks verwyt nie. Hy het jou nie verlei,
nie tot sonde gebring nie. Dat jy beswyk het, lê aan jou eie
slegte hart wat vir die sonde gekies het pleks vir God.

Broeders en susters, die gevaarlike sone kan vir elkeen
verskillend wees. Wat vir die een ’n versoeking is, ’n
uitnodiging om verkeerde dinge te doen, hoef dit nie vir ander
mense te wees nie. Dit word nie net bepaal deur die omstandighede
waarin jy verkeer nie. Daar kom ook dinge by soos die sosiale
kring waarin jy verkeer of opgegroei het, jou aanleg en karakter.
Daar is ’n bepaalde samehang nodig van uiterlike
omstandighede en innerlike gesteldheid om in versoeking te val.
Tog kom jy telkens weer voor verrassings te staan. Agteraf moet
ek dikwels teleurgesteld erken: Dit het ek nooit van myself of
van die ander persoon verwag nie. Laat niemand homself oorskat
nie.

Dit is ’n kwessie van of ons in ons swak plekke of
oomblikke geraak word. Die duiwel weet baie goed hoe om ons te
versoek. Die Bybel waarsku ons: "Daarom wie meen dat hy
staan, moet oppas dat hy nie val nie." (1 Kor 10:12).

Elkeen van ons word in sy eie begeertes versoek. Die een is
swak op hierdie gebied, die ander op daardie gebied. Die een kan
rykdom en vryhede nie op Christelike manier hanteer nie, die
ander kan ’n sekere posisie in die kerk of in die samelewing
nie hanteer nie, ens. Dinge wat op hulself goed is, kan vir jou
’n prikkel tot sonde wees.

Lei ons nie in versoeking nie. Daarmee bid jy: Vader, hou my
ver van plekke en situasies waarvoor ek te swak is, wat ek nie
goed kan hanteer nie. Broeders en susters, seuns en dogters,
watter gevolge het dit vir u, vir jou? Tog dit dat jy daardie
plekke en situasies soveel as moontlik sal vermy? Jy kan tog nie
bid: lei ons nie in versoeking nie, en tegelykertyd die vir jou
gevaarlike sones opsoek nie? Jy kan tog nie die gevare van jou
weg bid en tegelykertyd jouself in versoeking bring deur sover te
gaan dat jy dit nie meer kan hanteer nie?

Broeders en susters, besef goed wat julle bid in die 6e bede.
Jy bid die versoeking van jou weg. Jy wil nie hê dat daar maar
iets is wat jou tot sonde verlei nie. Wat doen jy dan as jy bv
lang vingers het? Dan soek jy in ieder geval geen loopbaan as
kassier, wat geld moet ontvang of uitbetaal nie. Dan gaan jy nie
onnodig rondstap op plekke waar dinge maklik gesteel kan word nie.
Byvoorbeeld in groot selfbedieningswinkels.

Wat doen jy as jy ’n swak plek vir TV kyk het, of vir
video’s, as jy steeds maar weer val vir die verleiding om
ure agtermekaar na die TV te kyk, terwyl jy jou huiswerk of ander
werk moet doen? Wat doen jy as jy steeds maar weer toegee aan die
versoeking om na films te kyk waarin God of die mens onteer word,
byvoorbeeld na godslasterlike of pornografiese films. Wat doen jy
as jy ondanks jou goeie voornemens, maar nie die baas oor die
knop kan word nie? Jy wil sterk wees, maar jy val sommer weer
neer voor die kassie. Wat doen jy dan? Durf jy die kassie nog te
laat staan in jou kamer of in jou huis? Jy bid tog opreg: lei ons
nie in versoeking nie? Hier geld die woorde van jou Here: “As
jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af.
Dit is vir jou beter om met een oog in die lewe in te gaan, as om
twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word” (Mt 18:9).
Radikale maatreëls is nodig.

Wat doen jy, seuns en dogters, as jy op plekke gaan kuier
waarvan jy weet dat dit nie tot eer van God is nie? Dit kan baie
gesellig wees, maar die musiek wat daar gespeel word en die dinge
wat daar gedoen word pas nie by ’n Christen nie. Wat doen jy
dan? Durf jy om op te staan en daar weg te gaan, ook al vind jou
vriende dit belaglik? Durf jy om in die vervolg daardie kuier
plekke te vermy en gewoon nee vir jou vriende te sê? Waarom nie
na plekke gaan waar die Christelike styl beleef en bewaak kan
word, soos in gewone Christelike huise nie?

Wat doen jy as jy nie met geld kan omgaan nie, as jy jou geld,
wat skaars is, steeds weer uitgee aan dinge wat mooi of lekker
is, maar nie nodig is nie? Dan sny jy tog die versoeking uit jou
lewe weg? Hoe dan? Byvoorbeeld deur gewoonweg geen geld of
kredietkaarte op sak te hê nie, of deur net soveel geld saam te
neem as wat nodig is vir die inkope wat jy vantevore bepaal het.

Wat doen jy as jy maar moeilik van drank of sigarette kan
afbly? As jy daarby voortdurend die grens oorskry? Dan sorg jy
tog daarvoor dat jy die dinge nie in die huis het nie. Dit klink
maklik, maar jy wil tog vir versoeking bewaar word? Daarvoor is
radikale en pynlike maatreëls nodig soos Christus genoem het mbt
jou hand, voet of oog wat jou laat struikel. Christus praat van:
kap dit af en gooi dit weg van jou af (Mt 18:8).

Wat doen jy as die neiging het om te skinder? Jy kan daarvoor
sorg dat jy minder by mense gaan kuier. Jy kan ook daarvoor sorg
dat jy die tydsduur van die besoeke beperk en dat jy vantevore
goed nadink waaroor jy met mekaar sal praat, sodat die gesprek
sinvol en opbouend kan wees. Gaan jy tog weer jou gang sonder om
na te dink, dan val jy sommerso weer in die ou kwaad van skinder
terug. Jy sal bewus die verleiding moet inperk en bestry.

Wat doen jy as jy ’n neiging het om sekere persone as
minderwaardig te behandel en steeds negatief oor hulle te praat?
Sou jy nie jouself steeds weer moet herinner aan die feit dat
hulle saam met jou skepsels van God is en dat hulle net soos jy
volkome van genade afhanklik is om gered te word nie. As jy besef
hoe groot en goed jou Skepper en Verlosser vir jou was en is, dan
sal jy wel nalaat om sulke mense te minag, jy sal eerder hul
redding wil soek.

Wat doen jy as jou siekte, moeites, sorge of verdriet jou
geloof in God bedreig? Vlug tot God en sy woord. Gedenk die groot
dade van die Here en sy woorde van heil. Laat jou medechristene
jou ondersteun en troos. Ja, roep, in die dieptes, jou
ampsdraers, jou ouers of jou medegelowiges na jou toe. Jy bid
immers: Lei ons nie in versoeking nie maar verlos ons van die
bose. Jy wil immers die versoeking van jou weghou?

So sou ek met die noem van konkrete versoekings kan aangaan.
Die voorwaarde om die versoeking te kan vermy, is wel: ken
jouself in jou swak plekke en wees goed bewus van die mag van die
bose. Die vraag is egter of die kennis altyd aanwesig is.
Onderskat ons nie dikwels die mag van die bose nie? En oorskat
ons nie dikwels onsself nie? Dit herinner my aan wat ek erens
gelees het oor seksuele opvoeding en wel spesifiek oor die
voorbereiding op die huwelik. Dit gebeur dat verliefde paartjies
saam op vakansie gaan, sonder dat ander mense daarby is, of dat
hulle byna dag en nag by mekaar is of selfs by mekaar gaan inwoon.
Jy wil nie op die huwelik vooruitgryp nie. Maar maak jy dit nie
baie moeilik vir jouself en vir mekaar nie? Onderskat jy nie die
mag van die sonde nie? As verliefdes is jy tog nie van klip nie.
Jy is ook geen volmaakte en gelykmatige gelowige wat geen
versoeking ken nie. Jy wil jou liggaam as tempel van die heilige
Gees heilig bewaar. Jy bid tog: lei ons nie in versoeking nie,
maar verlos ons van die bose. Dan wil julle mekaar beskerm teen
die versoeking deur die tyd by mekaar te beperk en ook deur die
intimiteite te beperk.

Ja, gemeente, soms lyk dit asof ons te doen het met ’n
stuk doperse optimisme. Volgens die anabaptiste sou ’n
verloste mens bo die mag van die sonde verhewe wees. As jy
eenmaal ’n opregte gelowige, ’n bekeerde gelowige is,
dan sou die sonde vir jou niks meer kan doen nie. Vanuit die
gedagte het hulle ook gekom tot die berugte naaklopery in die 16e
eeu.

Is ons as verloste mense werklik immuun vir die kwaad? Kan ons
sommer rustig doen wat ons wil doen sonder gevaar van oorskryding
van die grense wat God gestel het? Wat sê die bybel van die
verloste mens? Let maar op wat die apostel Paulus skrywe in Rom 7.
Paulus praat uitbundig oor die lewe deur die Gees en oor die werk
en die liefde van Christus waardeur ons meer as oorwinnaars is.
Tog weet hy ook dat daar in hom, dat wil sê in sy vlees, geen
goed woon nie. As hy – let wel, die bekeerde Paulus –
die goeie wil doen is die kwaad by hom aanwesig. Want na die
innerlike mens verlustig ek myself in die wet van God, sê hy,
maar in my lede sien ek ’n ander wet wat stryd voer teen die
wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde
wat in my lede is. (Rom 7:21-23).

Wanneer jy dan as ’n verloste kind van God vir die kwaad
immuun sou wees, waarom dan nog die 6e bede? Is die kategismus
soms outyds as dit volgens die Skrifte die 6e bede verklaar: Ons
is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly
nie? Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons
eie sondige natuur, nie op om ons aan te val nie.

Besef julle nog wel daardie werklikheid in julle lewe? Leer
ons ons kinders nog wel om hulself teen die mag van die sonde te
beskerm? Peil ons wel voldoende die krag van die sonde in ons
lewe? Die sonde is nie net so nou en dan sterk nie. Ons bely tog:
Ons doodsvyande hou nie op om ons aan te val nie. Hulle hou nie
daarmee op nie. Telkens as ek die goeie wil doen is die kwaad by
my aanwesig. En die vyande is doodsvyande. Hulle wil my
geestelike dood hê. Die doodsvyande kom nie slegs van buite nie,
maar ook van binne, van my eie, onvolmaakte gees. Die duiwel het
’n bondgenoot tot in my eie hart.

Gemeente, die besef van daardie werklikheid moet ons weerhou
van roekelose en gevaarlike gedrag, asof ons bo die versoeking
verhewe sou wees. Wie dink dat hy staan, moet oppas dat hy nie
val nie. (1 Kor 10:12). Jy is gewaarsku.

Maar moet ons ons dan deur angs laat lei? Wel, om vir die
sonde te vlug is ’n heldedaad, dit getuig juis van moed. Om
te stry teen die sonde en om daarvoor te vlug in geen saak van
angs nie. Dit is juis die werk van die Gees. Die Gees het my tot
’n koning gesalf. Waarom? Sodat ons met ’n vrye gewete
teen die sonde en die duiwel kan stry.

Daarom gaan ek as ’n verloste mens nie die plekke opsoek
waar my verkeerde begeertes gevoed en bevrug word nie. As die
begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde, sê Jakobus, en as die
sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

Gemeente, besef tog wat Christus daarvoor oorgehad het om jou
van jou sondeskuld te bevry – die allerdiepste smaad en angs
van die hel. Dan soek jy die sonde tog nie weer op nie? Dan
probeer jy tog, sover moontlik, om van die sonde af weg te bly?
Dan gaan jy tog nie langs die rand van die afgrond wandel nie?

Ons bid, lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van
die bose. Ons bid die versoeking van ons weg. Ons is mos in
onsself so swak dat ons selfs nie een oomblik staande kan bly nie.
Ons soek die gevaarlike sones dus nie op nie. Maar as ek tog in
gevaarlike situasies beland, dan bid ek: verlos my van die bose,
hou my staande en sterk my. Here, as u ons tog lei in situasies
wat vir ons dreigend is, red ons dan uit die greep van die bose.
Sterk ons deur die krag van u Gees.

Die onderskatting van die vyand kan dodelik wees, so ook die
oorskatting van onsself. Self-oorskatting, deur gebrek aan ware
selfkennis, het al baie ongelukke veroorsaak. Hoeveel mense het
nie te vinnig gesê: dit sal my nie oorkom nie. Dink aan Petrus,
toe die Here voorspel het dat almal Hom sou verlaat. Wat het
Petrus toe gesê? Nooit, al sal almal aanstoot aan u neem, ek sal
nooit aanstoot neem nie. Ek sal eerder saam met u sterwe.
Christus het hom vantevore gewaarsku, maar Petrus wou dit nie
hoor nie. Petrus het homself so sterk gevoel dat hy die bede: lei
ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose, nie
nodig geag het nie. Julle weet hoe dit met Petrus afgeloop het.
Hy het nog in dieselfde nag die Here Jesus drie maal verloën. Is
ek beter tydens die kritieke oomblikke van my lewe? As ek meen in
eie krag te kan staan, dan sal ek onherroeplik val.

Die 6e bede leer ons daarom om baie beskeie en nederig te wees.
Die Kategismus getuig van groot mensekennis: "Ons is in
onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie.
Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie
sondige natuur, nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur
die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk sodat ons
teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelike
stryd nie beswyk nie totdat ons eindelik die oorwinning ten volle
behaal."

Die posisies is wel baie ongelyk. Die verskriklike
bondgenootskap van die duiwel, die sondige wêreld en ons eie
sondige natuur is baie sterk. Wie kan in eie krag daarteen
staande bly? Daarom bid ons om die hulp van die Heilige Gees,
sodat ons, as ons tog in baie gevaarlike situasies beland, deur
sy krag staande kan bly. Dan word dit ’n louterende
beproewing.

Daarvan sê die apostel Jakobus dat ons dit louter vreugde
moet ag wanneer ons in allerhande versoekinge val. Dit klink dalk
vreemd.

Dit kan ek alleen so sê as ek versterk daaruit te voorskyn
kom. Die beproewing van my geloof bewerk immers lydsaamheid,
volharding. Satan blyk dan die groot verloorder te wees en God
die groot Oorwinnaar in my lewe. My geloof blyk eg te wees. Dit
blyk dan dat God seggenskap in my lewe het. So kom ek verder, so
groei ek. So kan ek volhard tot die einde toe.

Jakobus wens hulle geluk wat volhard wanneer hy sê: Salig is
die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan
het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof
het aan die wat Hom liefhet. Jy word gelukkig geprys as jy in die
strydtoneel staande bly, as God se Gees jou steeds weer die
oorwinning gee.

Gemeente, laat ons bewus en opreg die 6e bede bly bid. Leef
ooreenkomstig daardie gebed. Onderskat die doodsvyande nie.
Oorskat jouself nie. Soek die gevare nie op nie. En as jy tog
swaar beproef word, vlug tot Christus, bind die stryd aan in sy
krag. Alleen die oormag van sy Gees kan aan jou die oorwinning
gee.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)