Die bede om vergewing.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-05-08
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 51
Preek Inhoud: 

Sondag 51a

Ds C Kleyn - Sondag 8 Mei 2005

Lees: Psalm 25, Sondag 51; Psalm 32:1-5 (1ste
tafel); Psalm 32:6-11 (2de tafel); Psalm 86:1-10 (3de tafel).
Sing: Ps 105:1,2; Ps 38:15,17; Ps 25:3,5; Ps 103:1
(voor tafel); Ps 32:1; Ps 32:5; Ps 86:3; Ps 103:2.

Tema: Die bede om vergewing.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Aan die tafel van die Here, gaan ons die fees van ons
verlossing vier. Daar bely ons: ons is verlos, God het sy genade
aan ons betoon. Ons hoop om netnou die bewyse van die verlossing,
brood en wyn te ontvang. So seker mag ons wees van die vergewing
van ons sondes deur die bloed van Christus.

Maar gemeente, as God ons reeds verlos het, is dit dan nie
vreemd om te bid: vergeef ons ons skulde nie? Wanneer al ons
sondes reeds vergewe is, waarom moet ons dan nog om vergewing
vra?

Die antwoord is geleë in die aard van die verbond. Die
verbondsverhouding behels 'n lewendige omgang tussen God en sy
kinders. In die verbond gaan niks outomaties nie. God kom na jou
toe met woorde van redding. Hy wil hê dat jy Sy woorde van
redding aanneem en dit deur die gebed na jouself toebring. God
wil langs die weg van vra aan jou gee. Bid en vir julle sal gegee
word. So lê jy jou hand op God se belofte, bring jy die belofte
na jou toe.

So is die Gees steeds besig om ons toe te eien wat ons in
Christus besit, naamlik die afwassing van ons sondes en die
daaglikse vernuwing van ons lewe. Daarom is dit nie ongevaarlik
om te stel dat ons alles reeds het. Dit is waar, in beginsel is
alles op Golgota beslis, toe Christus uitgeroep het: dit is
volbring! Maar die vergewing en vernuwing moet daagliks toegeëien
word. Jy mag dit, deur 'n lewende omgang met God glo en geniet.

In die 5de bede bid jy die vergewing na jouself toe. Die
vergewing wat jy as 'n belofte ontvang het. Dink hierby aan jou
doop. Die belofte waarvan jy seker mag wees. Dink ook aan die
Heilige Nagmaal wat ons hoop om te vier. Hier is die hartklop van
die evangelie! Want die vergewing is 'n sentrale aangeleentheid
in die lewe van God se kinders. Sonder vergewing is dit nie
moontlik om gemeenskap met God te hê nie.

Maar, geliefdes, waarom is die vergewing steeds nodig?

Christus leer ons om te bid: vergeef ons ons skulde. Hy spreek
nie slegs van skuld nie, maar van skulde, in die meervoud. Het
ons dan nog soveel skuld? Wanneer ek glo, is ek tog reeds met
Christus opgewek tot 'n nuwe lewe? Het ek, wat werklik glo, dan
nog soveel skulde?

Die bede om vergewing is blykbaar nie bedoel vir die
ongelowiges nie. In die eerste plek het Christus aan sy
dissipels, sy intieme volgelinge, hierdie bede geleer. En vandag
spreek Hy tot julle Sy gemeente: so moet julle dan bid: vergeef
ons ons skulde. Gelowiges moet dit bid en bly bid. Ons het
blykbaar skulde. Nie slegs skulde uit die verlede nie, maar ook
skulde in die hede. Onthou, ook al is jy bekeer, jy maak jou
skuld nog daagliks groter.

Maar wat is dan my skulde?

Ek leef tog oplettend? Waarin het ek my dan misgaan? Ja, ons
het geen probleem om te erken dat alle mense sondig is nie.
Daarom sal ons ook reëlmatig bid: Here, vergewe ons ons skulde.
Maar is jy dan bewus van jou skulde? Weet jy dan ook vir watter
sondes jy vergewing nodig het? Kan jy die sondes ook by name
noem? Dit blyk telkens moeilik te wees.

Op 'n keer het ek katkisante laat nadink oor hoeveel sondes
hulle op daardie dag gedoen het. Weet u wat my opgeval het in die
antwoorde wat hulle gegee het? Dat juis diegene wat 'n wêreldse
houding en gedrag getoon het, nie bewus was van enige sonde wat
hulle gedoen het nie. Hulle wou wel erken dat hulle sondaars was,
maar hulle kon aan geen enkele sonde dink wat hulle gedoen het
nie. Terwyl die ernstige katkisante wat werklik tot eer van die
Here wil lewe wel allerlei sondes van hulleself kon noem.

Dikwels soek ons die skuld in bepaalde verkeerde dade, in
groot misstappe, flaters of foute. Wanneer ons nie groot foute
begaan het nie, is ons nie bewus van enige kwaad wat ons sou
gedoen het nie. Maar, broeders en susters, seuns en dogters
beteken dit werklik dat u, dat jy geen skuld het nie? Was dit
maar waar!

Wat is dan ons skulde? Om dit te verstaan is dit goed om te
kyk na die oorspronklike woord wat die meestal in die Bybel vir
sonde gebruik word. Die grondbetekenis van die woord is: om die
doel te mis, om nie te bereik wat jy sou moet bereik nie. Sonde
is dit, dat jy die doel mis. Toe God my geskep het en toe God my
in Christus weer verlos het, het Hy daarmee 'n doel voor oë
gehad. Wat is die doel van my lewe en my redding? Dit, dat ek in
volmaakte liefde en toewyding God sal verteenwoordig hier op
aarde, dat ek Sy heerlikheid sal vertoon.

Wat is dan my skuld? Dit, dat ek daardie doel nie bereik nie.
God eis nie slegs dat ek die verkeerde dade nalaat nie. Want
daardeur het ek nog nie die doel van my lewe behaal nie. Nee, God
vra ook positiewe gehoorsaamheid. Hy vra dat ek Hom sal dien met
'n volkome toegewyde hart en met vurige liefde. Slegs wanneer ek
dit goed besef sal ek iets gaan sien van my skulde. Want, is dit
nie so dat ek baie tekort skiet in die bereiking van die doel van
my lewe nie? Is my hoof, hart en hande werklik volkome aan die
Here toegewy? Kan die mense in my optrede en houding steeds God
se heerlikheid sien skitter?

Met die bekeerde Paulus moet ek bely: as ek die goeie wil doen
is die kwaad by my aanwesig (Rom. 7:21).

Selfs in my beste oomblikke is die sonde aanwesig. Hoe maklik
gebeur dit nie, dat in my ywer vir God en die naaste, daar tog 'n
bietjie selfsug, 'n bietjie bevrediging van eie gevoelens hom
laat geld nie? Ek kan in die geheim of op bedekte wyse met my eie
prestasies spog, pleks dat ek aan God die eer gee.

Wanneer ek sekere dinge opreg tot eer van God wil doen, moet
ek steeds oppas dat die sonde my nie in sy greep kry nie. As
uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, moet ons onsself
beklee met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid,
sagmoedigheid en lankmoedigheid (Kol.3:12). Maar hoe dikwels
skiet ek daarin nie tekort nie? Ook al glo ek?

Geliefdes, dit beteken nie, dat alles wat ek doen en sê
verkeerd gedoen en gesê is nie en dat daar niks in my lewe is,
wat goed is nie. Gelukkig nie! Christus is nou al reeds besig om
my lewe te vernuwe. Want dit is onmoontlik dat diegene wat
werklik in Christus glo, nie vrugte van dankbaarheid sal
voortbring nie. Wat dit wel beteken is dit: selfs as ek my lewe
rig op die doel wat God vir my gestel het, dan moet ek nog
telkens bely, dat ek die volmaakte doel nie bereik het nie. Ek
was in my doen en late nie volkome profeties, priesterlik en
koninklik nie. Dit is my skuld.

Daarom: vergeef ons, ons skulde.

Gemeente, ons praat voortdurend oor die vergewing. Juis
teenoor hulle wat hel en verdoemenis so sterk beklemtoon, gryp
ons onmiddellik na die vergewing. Is ons dalk nie te vinnig
daarmee nie? Is ons nog werklik verwonderd oor die vergewing? Of
het die vergewing vir ons goedkoop geword, omdat ons te min die
erns en diepte van ons skuld besef?

Ons het inderdaad skulde. Maar wat is nou ons grootste nood?
Dit: dat ons met ons skuld voor God se gerig geplaas word en dat
ons self niks het waarmee ons die skuld kan betaal nie. Ons is
arme sondaars. Sonder enige vermoë om te kan betaal. Hulpeloos
en hopeloos. God se oordeel en gerig kan nie uitbly nie. Dit het
ook nie uitgebly nie. Let maar op die oordeel wat oor Jesus
Christus gekom het. Die formulier vir die viering van die Heilige
Nagmaal getuig ook daarvan: "God se toorn teen die sonde is
so groot dat Hy - eerder as om dit ongestraf te laat bly - Sy
geliefde Seun Jesus Christus met die bittere en smadelike
kruisdood gestraf het." Watter groot prys moes daar betaal
word om my skulde te kan delg en so God se geskonde reg te
herstel.

Gemeente, laat ons dan tog nie te vinnig - en dus oppervlakkig
- na die vergewing gryp nie. Ken die erns van jou skuld. Ken die
diepte van jou nood. Besef goed wat dit beteken, dat jy 'n arme
sondaar is. En vlug dan as 'n bewuste arme sondaar na Christus
toe. Na sy bloed.

Reken ons, arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid
wat ons nog aankleef, terwille van die bloed van Christus nie toe
nie. Ons pleit op gronde buite onsself. Want by onsself is daar
geen grond of verdienste te vinde nie. Soos Dawid dit gedoen het
in Psalm 25:

Dink, Here aan u barmhartigheid en u goedertierenhede, want
die is van ewigheid af.
Dink nie aan die sondes van my jonkheid en aan my oortredinge
nie;
dink aan my na u goedertierenheid, om u goedheid ontwil, o Here.
En om U Naam ontwil, Here, vergeef my ongeregtigheid, want dit is
groot.

Gemeente, laat ons so die Heilige Nagmaal vier, in die besef
van eie nood maar tewens in diepe verwondering en dankbaarheid
oor God se groot genade in Jesus Christus.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)