Die verhoogde Christus roep sy verbondsvolk op om hulle te bekeer

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-06-05
Teks: 
Handelinge 3
Preek Inhoud: 

Handelinge 3:19,20

Ds C Kleyn - Sondag 5 Junie 2005

Lees: Handelinge 3.
Sing: Ps 42:1,5; Ps 43:3-5; Ps 146:3,5,6; Ps 103:1-3;
Ps 68:2,9.

Tema: Die verhoogde Christus roep sy verbondsvolk op
om hulle te bekeer

  1. Die noodsaak van die bekering
  2. Die gevolge van die bekering

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wie van julle worstel nie met die sonde en sy gevolge nie? Ons
ervaar die gebrokenheid en broosheid van die lewe. Siekte, pyn of
moegheid. Ons ervaar God se vloek op aarde as gevolg van die
sonde. Ons sien ook hoe die sonde verhoudings versteur. Miskien
is jou situasie na die mens gesproke baie ongelukkig. Vir jou
gevoel ondraaglik. Wie verlang nie na beter tye nie?

Gemeente, toe Christus na die hemel opgevaar het, het Hy nie
die aarde gelos nie, ook nie ons mense aan onsself oorgelaat nie.
Hy het hemel toe gegaan om te werk aan die wederoprigting of
herstel van alle dinge. Jy sien iets daarvan wanneer Petrus en
Johannes die verlamde man by die tempelpoort genees. Skielik loop
hy rond, spring hy en prys hy God. ’n Duidelik bewys dat die
Here Jesus leef. En dat Hy die lewe gee. Hy is besig om alle
dinge te herstel. Kyk maar na die verlamde man wat nou rondspring
en God prys.

Petrus sien ’n direkte verband tussen die herstel van die
verlamde bedelaar en die herstel van alle dinge, wanneer daar
geen lyding, pyn en trane meer sal wees nie, maar al God se
kinders ewige verkwikking sal ontvang, met volkome herstelde
liggame, wat God se heerlikheid weerspieël. Petrus sien Christus
besig om sy koninkryk vanuit die hemel op te rig.

Petrus wys hierop in sy toespraak na die genesing. Die mense
is baie verbaas en verwonder. Geen wonder nie. Die man was reeds
van sy geboorte af verlam en nou spring hy rond. Petrus eis die
eer nie op vir homself nie. Hy wys juis van homself weg na ons
opgestane Here. Hy verkondig die Christus. En Hy doen ’n
dringende beroep op die mense om hulle tot Christus te bekeer.

So kom God ook vandag na ons toe. Hy konfronteer ons met die
werk van Christus en so met Christus self. Hy roep ons op tot
geloof en bekering. Sodat elkeen van ons die verlossing mag
ervaar vandag, more en vir ewig.

Ek verkondig vir julle:

Die verhoogde Christus roep sy verbondsvolk op om hulle te
bekeer

  1. Die noodsaak van die bekering
  2. Die gevolge van die bekering

Geliefdes, om die diepte van Petrus se woorde te verstaan,
moet jy besef tot wie Petrus hom in eerste instansie rig. Wie
speek Petrus hier aan? Hy praat tot die volk van die Ou Verbond,
nakomelinge van Abraham, Isak en Jakob. Vers 25: Julle is kinders
van die profete en van die verbond wat God met ons vaders gesluit
het.

Wat in hierdie verband veral belangrik is: hulle is die mense
wat skuldig is aan Christus se kruisiging. Vers 13: Julle het Hom
oorgelewer en voor Pilatus verloën toe hy besluit het om Hom los
te laat. Wat ’n skande! Juis hulle wat met God se verbond en
woorde grootgeword het, wat die beloftes en die wet ontvang het,
uit wie die Christus as mens gebore is, juis hulle het Christus
oorgelewer om gedood te word. Juis hulle het Hom verwerp terwyl
die heiden Pilatus beslis het dat Hy vrygelaat moes word. Die
verbondsvolk het die middelaar van die verbond verwerp.

Petrus vervolg in vers 14: Julle het die Heilige en Regverdige
verloën en gevra dat ’n moordenaar aan julle geskenk sou
word, en die Leidsman tot die lewe het julle gedood. Wat ’n
wonderlike verbondsvolk. Julle het ’n moordenaar verkies bo
die Heilige en Regverdige. Julle het iemand wat mense doodmaak
verkies bo iemand wat mense lewend maak, die Leidsman tot die
lewe. Petrus rig hom dus tot God se verbondsvolk wat skuldig is
aan die verwerping en kruisiging van die beloofde Messias.

Kan jy voorstel dat God sulke mense nog opsoek en aanspreek?
Hoe groot en genadig is ons God. Wat ’n geduld en soekende
liefde. God skryf hulle nie af nie. Hy soek daardie moordenaars
nog op. Hy soek hulle redding. Namens God spreek Petrus hulle nog
aan as broeders.

Broers en susters, moenie dink dat ons beter as die Ou
Testamentiese verbondsvolk is nie. Sou ons in daardie situasie
anders opgetree het? Wie is skuldig aan die kruisiging van Jesus
Christus? Net die Jode? Is dit nie ons sondes wat Christus aan
die kruis gebring het nie? Hoe dikwels kies ons nie ’n
moordenaar, ja die mensemoordenaar van die begin af bo die
Leidsman na die lewe nie. Terwille van ons kortsigtige aardse
belange – die onmiddellike bevrediging van ons begeertes
– wyk ons af van die pad van die Here, die pad van die lewe,
om op die pad van verderf te stap. So ’n eiewillige pad
spreek ons dikwels meer aan as om Christus die outeur en
verlosser van die lewe te volg. In ’n sekere sin kan jy sê
dat ons nog daagliks Christus kruisig in ons pogings om onsself
te handhaaf en om ons eie sin te kry. Hoe reageer jy wanneer
iemand jou sondes blootlê en jou oor jou gedrag aanspreek? Hoe
maklik reageer ons nie met: ek het niks verkeerd gedoen nie.
Moenie my beskuldig nie. Ander het dit gedoen. Hulle is skuldig.

Broer, suster, dink vir ’n oomblik na oor hoe jy sou
reageer op die prediking van Jesus Christus. Die Here Jesus is
vol van ywer vir die saak van God. Daar is niemand wat soos Hy
weet hoe ryk die diens van die Here is nie en daarom ook hoe
ernstig dit is nie. Niemand ken mense so goed as Hy nie. Hy kyk
deur ons heen. Hy weet wat ons dryf, ons diepste gedagtes.
Niemand kan ons sondes blootlê soos Hy nie. Sou jy dit aanvaar?
Ja, kan jy dit verdra wanneer die volle evangelie vir jou
verkondig word in ’n baie persoonlike en direkte manier? Kan
jy dit aanvaar wanneer vir jou die volle waarheid vertel word,
ook waar jou gedagtes en gedrag verkeerd is en waarvan jy jou
daarom moet bekeer? Kom die gedagte nie maklik op: man, loop,
waar bemoei jy jou mee. Dis ten diepste dieselfde as: weg met
hom, kruisig hom. Wat ’n wonder van genade dat God nog
steeds na ons toekom en ons redding soek.

Broers en susters, die oproep tot bekering is gepas. Met so
’n slegte geskiedenis, en het elkeen van ons nie ’n
slegte geskiedenis nie, is bekering nodig. Die oproep is baie
kragtig. Die twee Griekse woorde vir bekering is in een asem
genoem. Die eerste woord wys meer op ’n verandering van
gedagte, van gesindheid, terwyl die tweede meer verwys na ’n
verandering van rigting, gedrag. Bekering moet radikaal en
kompleet wees. Dit begin by die bron: jou gedagtes, jou
gesindheid, dit moet eers verander. Dit raak jou hele lewe. Jou
houding en gedrag moet verander. Besef tog jou sondes en keer jou
van die sonde af om jou tot God te keer. Broer, suster, dink net
wat dit beteken: om werklik tot inkeer te kom – om te besef
waar jy self verkeerd gedink en gedoen het - en om jou tot God te
keer. Om die inhoud en rigting van jou gedagtes, woorde en dade
deur God te laat bepaal. Ware bekering behels altyd dat jy jou
eie sondige gedagtes en wee los en dat jy jouself deur God laat
lei.

Die mense wat Petrus aanvanklik aanspreek, moet hulle bekeer
van die moord op die beloofde Messias. Jy moet jou bekeer van die
herhaaldelike kruisiging van Christus, so te sê. Pleks van : weg
met Hom, sy woorde pas my nou nie, moet daar bekering wees. Ek
betreur my optrede. Dit doen my leed dat ek keer op keer teen die
waarheid en teen die lewe gekies het. Ek erken dat ek verkeerd
was en verkeerd opgetree het, maak nie saak wat ander, wat die
groep, of wat leiers gedoen het nie. Ek aanvaar
verantwoordelikheid vir my eie dade. Pleks van selfhandhawing kom
daar die selfverloëning. Christus is reg. Hy ken God se wil soos
niemand anders nie. Hy het deur my heen gekyk in my sondige
gedagtes en dade. Juis vanweë die slegte geskiedenis van my wat
Hy blootgelê het, het ek Hom so hard nodig. Ek het Hom in my
sondige gedagtes verloën, maar nou erken ek Hom as my Verlosser.
Daarom het ek werklik ’n afkeer van myself vanweë my sondes.

Hierdie verandering van gesindheid sal hom wys in ’n
ander lewenstyl, gedrag. Jy fokus dan op Christus die Leidsman
tot die lewe. Bekering beteken dat jy dag na dag Christus volg,
dat jy blymoedig jou kruis opneem en Hom aanhang in ware geloof,
vaste hoop en vurige liefde.

Gemeente, die teks wys ook op die gevolge van so ’n
bekering, dis die tweede gedagte van die preek.

“Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes
uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die
Here mag kom, en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig
is, naamlik Jesus Christus.”

Drie gevolge word genoem. Wanneer jy jou sondes insien en jou
daarvan bekeer, dan sal jou sondes uitgewis word, sal daar tye
van verkwikking kom en sal God Christus vir jou stuur.

Sodat julle sondes uitgewis kan word. ’n Pragtige
uitdrukking. God vergewe nie net my sondes nie, hy wis hulle ook
uit. Vergelyk met dit wat op ’n wit skryfbord geskryf word.
Wanneer jy dit met ’n spons uitwis, verdwyn dit heeltemal.
Jy sien niks meer daarvan nie. Dis hoe God ons sondes uitwis. Ons
mag dan die sondes onthou, maar vir God bestaan hulle nie meer
nie.

Om van hierdie bevryding te geniet, moet jy wel jou sondes ken
en daaroor berou hê. Dit word in ons teks mos ’n gevolg van
die bekering genoem. As ek my sondes nie erken nie maar hulle
koester of selfs verdedig, dan het ek my blykbaar nog nie bekeer
nie, dan hoef ek nie te verwag dat God die sondes sal uitwis nie.

Geliefdes, ons het eerder reeds gepraat van na die wonder van
God se genade dat Hy hom nog bekommer oor die moordenaars van sy
Seun en dat Hy nog hul redding soek. Ons het ook onsself die
vraag gestel: is ons in sekere sin ook nie moordenaars van God se
Seun nie?

Wel, Petrus se woorde is opvallend toeskietlik vir daardie
mense, selfs vir die Joodse leiers wat vasbeslote was om Jesus te
laat doodmaak. Petrus begin deur te sê: “En nou, broeders,
ek weet dat julle dit in onwetendheid gedoen het, net soos julle
owerstes.” Julle was nie ten volle bewus van wat julle
gedoen het nie. Ons kruisig Christus ook dikwels – so te sê
– in onkunde. Ons besef nie heeltemal wat ons doen nie. Ons
besef nie goed die erns daarvan nie. Of ons hou onsself vir die
gek dat wat ons doen reg is, regverdig, veral in die lig wat
ander ons aangedoen het.

Maar geld onkunde dan as ’n verskoning, maak dit my vry
van skuld? Nee, bekering bly nodig. Die sonde moet bely word.
Daarom moet elkeen van ons onsself beproef en ernstig ons sondes
en tekorte oordink.

Dink jou in: Petrus roep ’n goddelike amnestie uit.
Petrus bied ’n kwytskelding aan almal wat skuldig is aan
Jesus se lyding en dood, as hulle net hul sonde erken en hulle
tot Christus bekeer. Ja, jy mag ook kwytskelding ontvang, as jy
net jou skuld erken en jy jou tot Christus bekeer. Moenie te
ligtelik oor die belydenis van jou skuld teenoor God dink nie.
Miskien ervaar jy dit as ’n teken van swakheid. Maar dit is
feitelik iets groots, want om sterk te wees moet jy swak wees. Om
jou eie skuld te erken lei tot die verwydering van jou skuld.

Bekering lei ook tot tye van verkwikking. “Sodat tye van
verkwikking van die aangesig van die Here mag kom.”

Wat word daarmee bedoel? Wanneer sal die tye van verkwikking
kom? Baie mense dink dat dit uitsluitend na Christus se wederkoms
verwys. Die tye sou net na die wederkoms wees wanneer alle dinge
herstel is. Wat sê die teks? Die teks verbind die bekering en
die koms van die tye van verkwikking nou aan mekaar. As jy jou
bekeer, dan sal jy as gevolg daarvan die tye van verkwikking
ervaar. Dis nie iets van die verre toekoms nie. Jy ervaar dit
sodra jy jou bekeer.

Die tye van verkwikking vorm ’n teenstelling met die tye
wat die hoorders van toe ervaar. Die Jode wat hulle nie tot
Christus bekeer het nie, het nog te make met ’n toornige God.
Die Judaïsme dryf hulle aan om van alles te doen om God se guns
te wen. Maar op die pad van selfverlossing is daar geen rus nie,
net blywende onrus en onsekerheid. Dis ’n ondraaglike las.
Niemand kan immers sy eie redding verdien nie. Jy kan nooit op
asem kom nie. Daar is op daardie pad geen verkwikking nie. Jy
moet maar aangaan om God te probeer versoen.

Broers en susters, hoe bevrydend is dan die evangelie van
Christus. Hy het tydens sy bediening op aarde die Jode as
vermoeide pakdraers getipeer. Hy het hulle toe genooi: “Kom
na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus
gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en
nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele” (Mt
11:28,29). By Christus is daar dus verkwikking, jy vind rus vir
jou siel, jy kan weer asem skep. Wanneer jy jou tot Christus
bekeer, kom daar tye van verkwikking. ’n Las val van jou af.
Jy het nie meer met ’n toornige God te make nie, maar met
’n genadige God. Jy is ontslaan van die oordeel van God.

Gemeente, hierdie verkwikking is nie net beperk tot die siel
nie. Jou hele bestaan word daardeur geraak. Ons sien dit met die
verlamde bedelaar wat Christus genees. Die Leidsman tot die lewe
soek die herstel van die lewe in die volste sin van die woord, na
siel en liggaam. Hy beskou jou liggaam nie as waardeloos nie. Hy
wil ook dit verlos. Hy beskou ook nie jou aardse omstandighede,
jou werk, jou huwelik, jou gesin, jou verhoudings as onbelangrik
nie. Hy wil ook daarin bevry van die vloek. Daarom is daar al die
tekens en wonders wat Christus en sy apostels gedoen het en vir
ons in die Bybel opgeteken is. Christus wil bevry van sonde en
verderf. Nie net wanneer Hy terugkom nie. Maar in beginsel reeds
hier en nou.

Eerste is daar die redding van jou siel, die verkwikking, die
rus van jou siel. Jy is weer met God versoen. Ook al sou jy in
’n ellendige situasie verkeer, God is nie teen jou nie, maar
naby en vir jou. Jy mag geniet van sy vrede. Maar verbind aan die
redding van die siel, is daar ook die redding van jou liggaam,
van jou aardse ellende. Tydens hierdie lewe sal dit nooit
kompleet wees nie. God laat ons nog in die liggaam van hierdie
dood woon. By Christus se wederkoms sal die tye van verkwikking
sy hoogtepunt bereik, wanneer alle geestelike en liggaamlike
moeites definitief verby sal wees.

Hierdie tye van verkwikking sal van die aangesig van die Here
kom. Dit het ’n goddelike en hemelse oorsprong, daarom sal
dit ook blywende waarde hê. Baie mense soek verkwikking by die
verkeerde adres. Mediese en ekonomiese herstel word toegeskryf
aan menslike krag en wysheid. Wat ’n ware verkwikking kon
gewees het, word versteur deur kortsigtige en sondige
mensekinders. Mense bly struikel op die pad wat uiteindelik
doodloop.

Maar, geliefdes, wanneer jy jou bekeer tot die Redder van die
lewe, dan word die situasie anders. Liggaamlike herstel mag dan
gesien word as ’n verkwikking van die Here. Daar is ’n
lyn wat loop van jou herstelde liggame na Christus se
wederoprigting van alle dinge. Ook jou materiële versorging mag
as ’n verkwikking van die Here gesien word. Dink aan die
onderlinge gemeenskap wat die eerste Christelike gemeente
getipeer het. Binne die nuwe gemeente is ’n bedelbestaan nie
meer nodig nie. Christus verkwik dmv van die broers en susters.
Die verkwikking van die Here begin reeds hier en nou, wanneer jy
van dag tot dag uit die hande van die Here leef. Jy word nie heen
en weer gedryf nie, maar jy mag onder alle omstandighede die
vrede wat alle verstand te bowe gaan ervaar. Christus is besig om
jou lewe met liggaam en siel te verlos. Jy is in veilige hande.

Vir die wat hulle bekeer stuur God ook Jesus Christus, lees
ons in vers 20. Dit klink dalk vreemd. Dit verwys na Christus se
koms in jou lewe as verlosser van die lewe. Deur die prediking
stuur God Hom na jou toe. Wanneer jy jou bekeer, mag jy Hom sien
en lewe. Jy ontmoet dan Jesus Christus. Meer nog, Hy kom dan deur
sy Gees by jou sy intrek neem. Kort voor sy dood en hemelvaart
het Christus vir sy dissipels gesê: “Ek sal julle nie as
wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog ’n klein
tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My,
omdat Ek lewe en julle sal lewe” (Joh 14:19). Christus kom
na jou toe as die bron van krag en lewe. Met Christus staan jy
sterk. So kan Paulus sê: Ek is tot alles in staat deur Christus
wat my krag gee.

Broers en susters, hierdie woorde geld ook vir ons vandag. As
jy jou tot Christus bekeer dan kom Christus jou lewe binne as die
Leidsman tot die lewe. Jy mag dan tye van verkwikking ervaar. Wie
verlang nie na tye van verkwikking nie? Tye van rus en vrede? Nie
net as individue nie, maar ook as gemeente?

Nou is dit nog ’n tyd van genade. Die feit dat God jou
nog opsoek en met sy evangelie aanspreek is ’n bewys daarvan.
God het jou nie afgeskryf nie. Hy kom nog na jou toe met sy
evangelie van verlossing. Daar is verlossing vir elkeen wat hom
bekeer. Daarom, kom tot inkeer en bekeer jou van jou sondes na
die Leidsman tot die lewe. Dan sal God jou sondes, hoe groot en
ingrypend hulle ook al mag wees, uitwis. Dan mag jy geniet van
tye van verkwikking en dan sal Christus self by jou sy intrek
neem om ewig by jou te bly.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)