In die slot van ons gebed gee ons uiting aan ons sekerheid van die verhoring.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-06-05
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 52
Preek Inhoud: 

Sondag 52, Vrae en Antwoorde 128 en 129

Ds C Kleyn - Sondag 5 Junie 2005

Lees: Psalm 20; Sondag 52, Vrae en Antwoorde
128 en 129.
Sing: Ps 96:1,2; Ps 96:3,4; Ps 20:1,6-8; Ps 28:1,
6-8; Ps 30:1,2,3.

Tema: In die slot van ons gebed gee ons uiting aan ons
sekerheid van die verhoring.

  1. Ons pleitgrond
  2. Ons amen

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hier op aarde is dit nog volop stryd, ’n stryd om lewe en
dood. Satan het tot ons neergedaal met groot woede, omdat hy weet
dat hy min tyd het. Hy gaan rond soos ’n brullende leeu en
soek wie hy kan verslind. Wat dit so gevaarlik maak is dat ons
eie hart baie maklik ’n bondgenoot van Satan word. Daarom
die roep uit die nood van die stryd: verlos ons van die bose. Wil
ons tog staande hou en versterk.

Opregte bidders ken hulself as stryders. Dit is stryders wat
bid. Uit die nood van die stryd bid ons vir alle geestelike en
liggaamlike behoeftes. Die 6 bedes van die Onse Vader gee daarvan
’n samevatting.

Dis opvallend dat na die 6 bedes die gebed skielik ’n
loflied word. Die gebed styg omhoog uit die diepte van ons nood
en stryd tot die loflied: “want aan U behoort die koninkryk
en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid, amen.” Dit
is ’n pragtige slot wat praat van die sekerheid van die
verhoring. Midde in die stryd hef ons ons hoofde omhoog en laat
ons ons oorwinningslied hoor.

Broer, suster, besef jy altyd wel op watter hoogte jy sit by
die slot van die gebed? Kan jy die Onse Vader wel byhou as die
gebed die hoë vlug maak? Of spreek jy die woorde gedagteloos
uit? Die kategismus wil jou waarsku vir so ’n gedagtelose en
oppervlakkige besluit van die gebed. Daarvoor stel sy die vraag:
Hoe sluit jy jou gebed af? En in die antwoord voer die Kategismus
jou saam na die hoogte van die slot.

Ek wil vir julle God se woord verkondig onder die tema: In die
slot van ons gebed gee ons uiting aan ons sekerheid van die
verhoring.

  1. Ons pleitgrond
  2. Ons amen

Gemeente, die Onse Vader is nie die 1e gebed wat met ’n
uiting van die sekerheid van die verhoring eindig nie. Die
stryders van weleer, die stryders van die ou verbond, het ons
daarin voorgegaan. Die Psalms gee daarvan talryke voorbeelde.
Laat ek enkele noem.

Psalm 10 begin met die bittere klag in vers 1: "O Here,
waarom staan U so ver weg en hou U verborge in tye van
benoudheid?" Tog eindig die Psalm met die jubellied in vers
16: "Die Here is Koning vir ewig en altyd; die heidene het
vergaan uit sy land. Here, U het die begeerte van die ootmoediges
gehoor…"

Die Psalmis gaan gebuk onder die oormoed van die goddeloses,
wat God hoon en die armes verdruk. Die oormoediges gaan rustig
hulle gang. In hul veragting van God en die naaste kry hulle hier
op aarde ook nog voorspoed. Terwyl dit lyk asof God Homself nie
oor die lot van die gelowiges bekommer nie.

Ons kan dink aan alle onreg wat die gelowiges ook vandag
aangedoen word, vervolging, bespotting veragting en vernedering.
Jy kan die klag wel indink: O Here, waarom staan U so ver weg en
hou U verborge in tye van benoudheid? Maar dan val die slot van
die Psalm des te meer op. Sou jy in so ’n situasie van
uiterste nood uitroep: "Die Here is Koning vir ewig en
altyd; die heidene het vergaan uit sy land. Here, U het die
begeerte van die ootmoediges gehoor. U sal hulle hart versterk, u
oor sal luister om aan die wees en verdrukte reg te doen. Geen
mens uit die aarde sal langer voortgaan om skrik aan te jaag nie."
(Ps 10:16-18).

Sou jy dit sing terwyl jy nog midde in die nood verkeer,
terwyl God ver weg lyk en jou reg vertrap word? Terwyl jou man of
vader, seun of dogter vervolg word omdat hul die Here dien? Hoe
kan die Psalmis so spreek? Alleen deur die geloof. In geloof is
die Psalmis so seker van die verhoring dat hy dit beskryf asof
dit reeds werklikheid is: U het die begeerte van die ootmoediges
gehoor. Nooit kan die geloof te veel verwag nie. Die geloof sien
agter en bo alles God besig met die uitvoer van sy planne. En sy
planne faal nooit nie.

’n Ander voorbeeld is Ps 28. Eers word uit die groot nood
gebid (verse 1 en 2): "Ek roep U aan, o Here My rots, draai
nie stilswyend van my af weg nie … Hoor die stem van my
smekinge…" Teen die einde van die Psalm hoor ons (vers
6): "Geloofd sy die Here, want Hy het die stem van my
smekinge gehoor." Die Psalmis gee uiting aan die sekerheid
van die verhoring d.m.v. ’n dankgebed vir die verhoring asof
die reeds aanwesig is.

As laaste voorbeeld wil ek Ps 20 noem, die Skrifgedeelte wat
ons gelees het. Die Psalm is ’n gebed vir die koning. God se
hulp vir die stryd word ingeroep. Die stryd wat ons in die
inleiding genoem het, was in die Ou Testament dikwels ’n
stryd teen vyandelike leërs. Voor die stryd roep die Psalmis tot
die Here (verse 2 en 3). Maar in dieselfde Psalm hoor ons die
gemobiliseerdes sê (vers 7): "Nou weet ek dat die Here sy
gesalfde verlos; Hy sal hom verhoor uit sy heilige hemel met
magtige dade van verlossing van sy regterhand."

Broers en susters, mense probeer dikwels om die verskil tussen
die begin en die einde van die Psalm te verklaar deur te beweer
dat die slotwoorde uitgespreek is na die behaalde oorwinning. Hoe
anders kan die oorgang van hulpgeroep tot juiglied verklaar word?
Tog doen hierdie verklaring geen reg aan die Psalm nie. Die krag
van die gebed word op daardie manier ondermyn. Dit wat die slot
uitspreek is opnuut die sekerheid van die verhoring. Die
sekerheid word so geuit asof die oorwinning reeds werklikheid is.
So seker is hulle van hul saak.

Maar, gemeente, hoekom die sekerheid? Welke grond het hulle om
so seker van die oorwinning te wees? Vers 8 gee die grond aan:
"Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar ons sal
roem op die Naam van die Here onse God."

God se volk het die sterkste hulp. Die heidene mag vertrou op
strydwaens en perde – die trots van die toenmalige leërs
– die kerk stel daarteenoor die Naam van die Here, die
lewende God wat Homself as die almagtige Verlosser van sy volk
bewys het.

Hier word die wapens as sodanig nie veroordeel nie. Die nadruk
lê op die feit dat alleen God die grond van die vertroue kan en
mag wees. Die strydende bidders mag juig van die oorwinning omdat
hulle die Here God aan hul kant het. Alle aardse sekerhede –
menslike vermoëns en wapens – gee buite die Here om geen
werklike sekerheid nie. Wie daarop vertrou sal uiteindelik
beskaamd word (vers 9): "Hulle het inmekaargesak en geval,
maar ons het opgestaan en ons weer opgerig." Dit is soos
Psalm 10 daarvan gespreek het: "Die Here is koning vir ewig
en altyd." Met as gevolg: "Die heidene het vergaan uit
sy land."

Gemeente, dieselfde juigtoon vind jy aan die slot van die Onse
Vader. Dit strydende bidders roem in die Naam van die Here onse
God. "Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die
heerlikheid tot in ewigheid." Die woordjie "want"
gee aan dat ons hier te doen het met die pleitgrond van ons gebed.
Ons bid dit alles met vrymoedigheid en in vertroue want aan U
behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in
ewigheid.

Dink jou in wat dit in die felle stryd beteken om te sê:
"Aan U behoort die koninkryk en die krag." Gestel dat
jy lewe onder ’n regering wat met skynbaar onbegrensde mag
die kerk van Christus vervolg. Gestel dat jy sit met die
geweldige mag van sonde en dood in jou lewe. Kan jy dan wel sê:
Aan U behoort die koninkryk of koningskap en die krag? Kan jy dan
wel juig: God alleen heers, Hy besit alle krag? Dink nie
ligvaardig oor die woorde aan die slot van die gebed nie, want
dit beteken baie om die woorde uit te spreek. Midde in die stryd,
wat dikwels lyk asof ons dit sal verloor en soms met ons bloed
moet beseël, bely ons: nie die Satan nie, nie die maghebbers van
hierdie aarde het die leiding en die mag nie. God alleen regeer.
Hy is Koning en besit alle mag in die hemel en op die aarde. Die
vyande het nie die laaste woord nie – ook al sou hulle my
verneder of selfs doodmaak. Vader in die hemel het die laaste
woord. Dit is wat ons bely aan die einde van ons gebed. God, wat
die eerste woord in hierdie wêreld gehad het – alles is
immers deur Hom geskape – sal ook die laaste woord hê.

Trouens, wat die verdrukking en vervolging betref, Christus
het ons daarop voorberei. Christus het ons nie rosegeur en
maanskyn belowe nie. Hy het gesê:. "As die wêreld julle
haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. …
"’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My
vervolg het, sal hulle jul ook vervolg." (Joh 15: 18,20).
"In die wêreld sal julle verdrukking hê." (Joh 16:33).
Onmiddellik daarna sê Christus egter: "Ek het die wêreld
oorwin."(Joh 16:33). Die geloof laat jou, selfs in die
diepste nood, sing van God se koningskap, sy krag en heerlikheid.

Ja, ook die laaste: aan U behoort die heerlikheid. As
strydende bidders sien ons deur al die vuil en bedorwenheid hier
op aarde heen. Ons herken God se heerlikheid, waarvan die aarde
nog steeds vol is. Die geleerdes en maghebbers van hierdie aarde
pronk dikwels met hul wetenskap en mag. Hulle pronk met die
heerlikheid van Iemand Anders. Hulle verdoesel die feit dat dit
die heerlikheid van God is. Hulle eien dit hulself toe asof dit
hulle eie heerlikheid is. Die gelowige sien egter verder en
herken die heerlikheid van God soos dit in die hele skepping
openbaar is.

Dit is vir die kerk, wat hier op aarde dikwels min heerlikheid
vertoon, ’n geweldige belydenis. Ook vir julle wat daagliks
met gebrokenheid en moeites te kampe het. Waar is die heerlikheid
van God se kind? In die stryd klink egter die oorwinningslied:
aan U behoort die heerlikheid. ’n Heerlikheid wat te syner
tyd volkome ons deel sal wees.

Gemeente, die heerlikheid van God maak die verlossing van ons,
God se volk, ook des te sekerder. Is dit dan nie die grond vir
die bestaan van die kerk, dat God Homself in haar wil verheerlik
nie. God vergader en bewaar sy gemeente terwille van sy
heerlikheid. So is dit nie slegs die lewe van die gelowiges wat
in die stryd op die spel staan nie, maar ook en veral die eer van
God. Daarom sal die verlossing kom, terwille van die eer van God
se Naam.

Die strydende bidders weet ook dat niks by God tydelik en
verganklik is. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die
heerlikheid tot in ewigheid. Daaraan is geen einde nie. God bly
wie Hy is, sterk en heerlik.

Gemeente, met so ’n geweldige pleitgrond moet jy wel kom
tot die amen op die gebed.

Watter waarde het die woordjie "amen" in die praktyk
van jou gebede? Kry dit soms nie die betekenis van: Klaar, dis
afgehandel, ek wonder wat van die gebed sal uitkom. En dikwels
verwag ons nie baie nie.

Gemeente, as dit so met ons amen gestel is, dan het ons gebed
min of geen waarde nie. Dan kan jy ook verstaan hoekom baie mense
op die ou end stop om te bid. Sulke gebede is nie vertroulike
gesprekke met God nie. Dan praat jy in feite in die lug en rig jy
jou nie in geloof tot die hemelse Vader, wat beloof het om na jou
te luister, nie. Wanneer amen nie meer beteken as "klaar"
nie, dan is dit waardeloos. Dan geld dit wat die Here gesê het:
"Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die
lippe, maar hulle hart is ver van My af." (Mt 15:8).

Die gelowig gebed is egter ’n gebed vol van vertroue. Is
die vertroue nie daar nie, dan beledig ek God in sy gesig. Dink
maar aan die omgang tussen mense. Wanneer jy met iemand praat en
laat agterkom dat jy hom nie vertrou nie, dan beledig jy hom in
sy gesig. Dan is ook ware omgang verhinder. Met wantroue hou dit
op. Dan het jy geen gemeenskaplike basis meer nie.

Met die gebed is dit helaas ook dikwels so. Om te bid sonder
om te glo dat God betroubaar is en nakom wat Hy belowe het, is
God in die gesig beledig. Die gebed is dan skyn. Geen wonder dat
jy op die wyse nie die krag en troos van die gebed ervaar nie.

Die woordjie amen wil my op die hoogte van die geloofs-verwagting
bring. Letterlik beteken die woord: dit staan vas, dit is geldig.
Wanneer ek die woord gebruik, dan bely ek daarmee: ek erken die
volle geldigheid en waarheid van wat ek sopas gesê het. In die
Onse Vader slaan die amen allereers terug op die lofprysing
daarvoor: want aan U behoort die koninkryk en die krag en die
heerlikheid tot in ewigheid. Die woorde staan vas. Dit is waar en
seker. Daarom is ek seker van die verhoring van my gebed. Want my
gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel
dat ek dit van Hom begeer. In my be-aming van die lofprysing gee
ek uiting aan die sekerheid van die verhoring. Ek bely: my gebed
is verhoor.

Dit is soos ons gesien het in die Psalms 10, 20 en 28. Midde
in die nood roep die Psalmiste uit: Die Here het gehoor (Psalm 10).
Nou weet ek dat die Here sy gesalfde verlos (Psalm 20). Geloofd
sy die Here, want Hy het die stem van my smekinge gehoor (Psalm
28). ’n Gelowige gebed kan van die sekerheid van die
verhoring juig. Jy weet dit so seker dat jy dit selfs kan teken
as iets wat reeds aanwesig is.

Hoe kan jy daarvan so seker wees? Alleen deur geloof. Deur God
op sy woord te aanvaar. Deur God in sy mag en heerlikheid te
vertrou. Deur alle woorde, inklusief die beloftes, van die groot
en getroue God te glo. Hy het Homself as die Hoorder van die
gebede bekend gemaak en getoon. Het Hy jou dan nie belowe dat Hy
jou met alle goeie dinge wil versorg nie? Dit wil Hy as jou
getroue Vader, en dit kan Hy as jou almagtige Vader. Hy het die
oorwinning belowe. In my gebed lê ek my hand op sy beloftes.
Daarin vind ek my vastigheid. "Want hoeveel beloftes van God
daar ook mag wees, in Hom (dat wil sê in Christus) is hulle ja
en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons" (2 Kor 1:20).
Ons laat ons amen hoor nadat en omdat Hy eers sy ja van trou laat
hoor het.

"Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, sê
die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige."(Openb
1:8). Christus self word genoem die Amen, die getroue en
waaragtige Getuie (Openb 3:14). Alles wat Hy gesê en beloof het,
het Hy as die Amen, as die Getroue gesê. Daarom kan jy vol
vertroue amen op jou gebed sê. Jou sekerheid rus in sy trou en
sekerheid.

Gemeente, my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek
in my hart voel dat ek dit van Hom begeer. Deur my sonde is my
begeerte dikwels onsuiwer en kortsigtig. Ek laat my maklik
verblind deur my huidige nood. As ek dan nie van die konkrete
nood verlos word nie, dan dink ek al vinnig dat my gebed nie
verhoor is nie. As ek bv vir genesing gebid het en ek word nie
genees nie, het God my dan verhoor? As die moeites in my gesin of
in my persoonlike lewe erger word pleks van beter, is my gebed
wel verhoor? So bly ons sit in ons kortsigtigheid met die
sogenaamde onverhoorde gebede. Maar God verhoor baie sekerder as
wat ek bid of dink. Ons sien dikwels slegs uit na ’n
tydelike en onmiddellike vervulling. Ons kyk nie verder nie. Maar
God se planne gaan baie verder. Hy werk heen na ’n ewige
ryk, waarvan ons geen voorstelling kan maak nie, so heerlik sal
dit wees. Dit oortref ons stoutste verwagtinge.

God is ’n Verhoorder van die gebede. Op hierdie oomblik
sien ek miskien nie baie daarvan nie, die moeites kan selfs
vererger. Maar op God se tyd sal blyk dat Hy die gebede verhoor,
baie ryker as wat ek my ooit ingedink het. Die stryders van Psalm
20 het vir die oorwinning van die koning gebid. Hulle het ook
reeds van die oorwinning gesing. "Hulle het inmekaargesak en
geval, maar ons het opgestaan en ons weer opgerig." Hulle
het toe gedink aan die oorwinning daar en dan. Maar God verhoor
hul gebed bo wat hul bid en dink. Die Here het sy Gesalfde, ons
Here Jesus Christus, die oorwinning gegee. Dit het hulle toe nog
nie voor die gees gestaan nie. En Christus sal eenmaal alle
vyande oorwin. Die goddelose, die antichristelike magte sak
inmekaar en val, maar die gelowiges – ook hulle wat hul goed
en bloed in die stryd verloor het –sal opstaan en hulle weer
oprig. Hulle sal verhoog word en met ongekende heerlikheid
gekroon word.

Gemeente, laat so die einde van u gebed ’n loflied wees
op God se grootheid en trou. Gee uiting aan die sekerheid van die
verhoring – ook al verkeer jy nog midde in die nood en stryd.
Bid sonder ophou. Het geduld. Volhard in die geloof. Onthou: aan
Hom behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in
ewigheid. Die oorwinning is seker.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)