Ons glo en bely die enige God.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-06-19
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 1
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 1

Ds C Kleyn - Sondag 19 Junie 2005

Lees: Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 1;
Psalm 145; Romeine 10:8-13; 11:33-36.
Sing: Ps 90:1,9; Ps 9:1,7,8; Ps 105:1,2;
Apostoliese Geloofsbelydenis; Ps 150.

Tema: Ons glo en bely die enige God.

  1. God se natuur.
  2. God se eienskappe.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons belydenis begin met God. Ons glo en bely ’n enige God.
Is dit nie ’n waagstuk nie? Wie sê dat ons ’n regte
voorstelling van God het? Niemand van ons het ooit God gesien nie.
En wie sal na die hemel opstyg om na te gaan of wat ons sê waar
is? Ons praat oor God, maar ons woorde kan onmoontlik God in sy
volheid omvat. Watter eindige mensekind sal ooit kan vertel wie
die Oneindige eintlik is? Daarvoor is God te groot, te oneindig.

Is dit dan nie beter om oor Hom te swyg nie? Dit sou so wees
as God self ook geswyg het. Maar die Oneindige het gekies om te
praat, om oor homself te vertel, wie Hy is en wat Hy wil. Dan pas
dit om eerbiedig te luister. Eerbiedig te antwoord. Eerbiedig na
te vertel. Dan gaan jy nie volgens jou gevoel redeneer nie, so
van: ek voel of dink sus of so oor God. Maar dan hou jy jou
presies aan wat God self oor Homself gesê het. En al stamelend
kyk jy voortdurend na Hom: Here, het ek dit goed gesê?

Gemeente, die Here vra ons om te glo en te bely wat Hy vir ons
voorgesê het. Daarom begin ons artikel met die woorde: “Ons
glo almal met die hart en bely met die mond.” Hierdie
uitdrukking is ontleen aan Rom 10. Paulus praat van mond en hart.
Die woord is nie net op jou lippe gelê nie, maar ook in jou hart:
“Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart” (vers
8). Jy het die woord gehoor. Jy is daarin onderrig. God het jou
hart daarvoor oopgemaak. God het die woorde in jou hart geskrywe,
gebêre. En nou vra Hy dat jy dit met jou hart glo. Eers as jy
dit met jou hart glo, kan jy dit opreg met die mond bely.
Daarsonder sou jou belydenis net ’n leeg gebaar wees,
onpersoonlik en koud. Maar as jou belydenis uit jou hart voortkom,
dan is dit ’n persoonlike, lewende saak. Jou hele persoon is
dan daarby betrokke.

Die hart is in die Bybel die middelpunt van heel jou menslike
bestaan. Dit is die bron, die uitgangspunt van al jou doen en
late. Daarom moet jy met die hart glo. Dit moet ’n saak van
jou diepste wese wees. Nie net van jou verstand nie.

Maar wat is dit om te glo? Om te glo is om God se Woord aan te
neem, om God op sy woord te vertrou, ook al lyk dit asof die
werklikheid so anders is. Wanneer ek glo dan sê ek feitelik: God
het dit gesê, daarom is dit so. Ek is seker van alles wat Hy in
sy woord gesê het. Ek het immers te doen met God wat die
waarheid self is, die almagtige vir wie niks te wonderlik is nie.

Geliefdes, juis omdat ons met die hart glo gaan ons met die
mond bely. Julle ken die gesegde: “waar die hart van vol is,
loop die mond van oor.” ’n Belydenis het te doen met
’n mond wat oorloop. Dis ’n gebeurtenis wat nie
weggesteek kan word nie. Almal kan dit sien en almal kan dit hoor.
Soos ’n hoes wat nie onderdruk kan word nie, kan ek my
geloof in God nie verswyg nie. Dit moet uitgespreek word.

Let ook op die woord bely. Oorspronklik beteken die woord bely:
naspreek, dieselfde sê, met iets instem. As jy God bely, dan kom
jy nie met eie gedagtes nie. Dan spreek jy God na. Jou spreke is
’n antwoord.

Dit hoort, broers en susters, tipies by die verbond met die
Here. In die verbond is immers nie die mens die eerste nie. God
is altyd die eerste. Alle inisiatiewe gaan van Hom uit. Eers
nadat God iets gedoen het, is ons in staat om iets te doen. Eers
nadat God gespreek het, kan ons spreek. Hy moet dit eers vir ons
voorsê. Wanneer ons Hom dan bely, dan sê ons na wat Hy
voorgesê het.

Die Here vra ook van ons dat ons dit nasê, navertel. Aan ons
kinders, aan ons bure, aan die mense rondom ons, aan die mense
waarmee ons saam optrek, aan ons broers en susters wat moontlik
met twyfel worstel. Ons moet dit ook vir onsself bely. In ons
aanvegtings en in ons lofprysing.

Dit noem God: “sy Naam bely”. Jy spreek in eie
woorde en in groeiende vertroue God na en vertel wie Hy is.
Teenoor ’n sarkastiese leraar of kollega. Teenoor jou vriend
of vriendin. Teenoor jou kind wat opstandig is. Teenoor die
gemeente. Teenoor mense wat jou daarvoor sal prys, maar ook
teenoor mense wat jou daarvoor sal pla. Die man wat die NGB
opgestel het (Guido de Bres) is daarvoor opgehang. Maar hy kon
nie anders as navertel wat God self aan Hom voorgesê het nie.

Ja, gemeente, ons glo en bely. Ons, dis nie
net ’n persoonlike belydenis nie, dis ’n gemeenskaplike
belydenis. Die belydenis van Christus se kerk. God het sy woord
aan sy kerk toevertrou. Hy het sy kerk dit laat glo en naspreek.
Jy bely jou geloof in hierdie wêreld as lidmate van die
Christelike kerk. Jy voeg jou by die koor wat deur die Heilige
Gees geoefen is en die Here en sy Woord lief gekry het.

“Ons glo almal...” Elkeen
van ons. Niemand kan skuil agter die ander nie. Niemand kan dit
aan ander oorlaat nie. Niemand kan sê: die kerk, die voorgangers
of die teoloë, glo wel vir my nie. Nee, elkeen van julle word
persoonlik opgeroep om te glo en te bely. Niemand kan ’n
keuse ontwyk nie. En daarom: “ons glo álmal.” Kan u,
jy dit nasê? Glo jy werklik met die hart en bely jy ook self met
die mond dit wat die kerk bely?

Ons glo en bely die enige God. Dis die tema van die preek. Ons
let op tweërlei:

  1. God se natuur.
  2. God se eienskappe.

Gemeente, ons begin ons belydenis met die woorde: “Ons
glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ’n
enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem.”
Ons begin nie met allerlei vrae oor God nie. Ons begin ook nie
met ’n poging om God te bewys nie. Nee, ons glo en bely God.
Dat God bestaan kan ons nie bewys nie. Mense het dit wel probeer,
maar nie een sogenaamde Gods-bewys kon alle mense oortuig nie.
Dis ook nie vreemd nie. God wil sy bestaan nie afhanklik stel van
menslike bewyse nie. Hy bestaan, en dít moet
ons glo.

Die Bybel gaan dan ook daarvan uit dat God bestaan. So lees
ons reeds in Gén. 1:1: In die begin het God die hemel en die
aarde gemaak. Dit moet ook ons vooronderstelling wees. “Want
hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van
die wat Hom soek” (Hebr 11:6). Van Hom getuig Paulus:
“wat alleen onsterflikheid besit en ’n ontoeganklike
lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie
toekom eer en ewige krag. Amen” (1 Tim 6:16). Hoe dwaas is
dit dan om God se bestaan te ontken omdat geen mens Hom in die
heelal kon ontdek nie, soos die Russiese ruimtevaarders jare
gelede beweer het. Sonder geloof in God se bestaan, bly die mens
en die wêreld ’n onmoontlike misterie. Sonder Hom, die
grond van ons bestaan en redding, is daar geen uitsig of hoop nie.
Soos Paulus dit ook verwoord in Rom 10. Elkeen wat in Hom glo sal
nie beskaam word nie, maar gered word.

Ons bely dat daar ’n enige geestelik Wese is wat ons God
noem. In die geskiedenis was daar nogal wat kritiek teen die
woord “Wese”. Die woord kom nie uit die Bybel self nie
en sou teveel na filosofie ruik. Onthou egter dat dit nie die
bedoeling is om van God ’n definisie te gee nie, bv. met
behulp van die filosofie nie. Ons praat oor God met woorde wat
ons gedeeltelik self gekies het, maar ons probeer daarmee wel tot
uitdrukking te bring wat God oor Homself bekendgemaak het.

Met die woord “Wese” probeer ons te sê dat God
’n Iemand is en nie maar net ’n Iets nie. Ons wil sê
Hy is ’n Persoonlike Wese, Iemand wat as U aangespreek kan
word, die léwende God wat magtige dade doen. Dit is suiwer
Bybels. God se verbondsnaam bevestig dit: “Jahwe,”
“Ek ís wat Ek ís”, d.w.s. “Ek ís hier,”
“Ek is bý julle” (Ex. 3:14).

Ons God is ’n enige wese. Hy is volkome
uniek (Deut. 6:4). Hy kan met niks en niemand vergelyk word nie.
Met wie wil julle God dan vergelyk? (Jes. 40:18,25). Van sy soort,
is daar net een. Dis nie ’n saaklike konstatering nie, maar
’n loflike getuienis. Die Here ons God is die enigste God.
Hy is dus nie dieselfde as Allah, Baäl of watter gode mense ook
al bedink het nie. Die gode van die heidene is net mooie drome,
projeksies van eie verlange, nietighede, dikwels ook
vergoddeliking van kragte in die skepping. In Ps 115 plaas die
Psalmis die Bybelse en die heidense wêreldbeeld teenoor mekaar
wanneer hy skryf: “terwyl onse God tog in die hemel is; Hy
doen alles wat Hom behaag. Hulle afgode is silwer en goud,
’n werk van mensehande. Hulle het ’n mond, maar praat
nie; hulle het oë, maar sien nie; ore het hulle, maar hoor nie;
hulle het ’n neus, maar ruik nie; hande, maar hulle tas nie;
voete, maar hulle loop nie; hulle gee geen geluid deur hul keel
nie. Die wat hulle maak, sal net soos hulle word – elkeen
wat op hulle vertrou”.

Dieselfde geld vandag vir die moderne gode. Die god demokrasie
wat by meerderheid van stemme die leuen maklik kan laat seëvier.
Die god geld wat sy besitter kan vernietig. Die gode plesier, mag,
seks wat lewens kan verwoes soos ons dit bv sien met die vigs
pandemie, waardeur miljoene mense afgemaai word. Het al daardie
gode ooit gepraat? Mense het hulleself en ander wysgemaak dat dit
geluk sou bring. Die wens is moeder van die gedagte.

Daarom, broer, suster, kies dan vandag wie jy gaan dien. Die
gode wat jy self bedink het, of die Enige God wat werklik bestaan.
En werklik gepraat het. As jy Hom kies, bely hom dan, duidelik
hoorbaar vir jouself en vir ’n wêreld wat sy ondergang
tegemoet gaan.

Ons glo en bely dat onse God nie net ’n enige Wese is nie,
maar ook ’n enkelvoudige Wese. Hiermee word
in alle eerbied bedoel dat God Iemand-uit-één-stuk is. So is
ons mense nie. Tussen my verstand en my gevoel kan daar spanning
wees. My verstand sê dat ek iets moet doen (bv my naaste vergewe),
maar my gevoel stry heftig daarteen. Iemand kan ook sê: laat ek
maar barmhartig wees in plaas van regverdig. Maar so is dit by
God nie. Wat God is, is Hy áltyd! Daar is in Hom geen gesplete
persoonlikheid, geen teenstrydigheid of selfs geen spanning
tussen sy eienskappe nie. God se eienskappe of deugde is in
volkome harmonie met mekaar. Daarom kan jy bv nie sê dat God
gedeeltelik liefde is en gedeeltelik geregtigheid is nie. Hy is
geheel liefde en geheel geregtigheid. Daarom mag jy ook nooit een
van sy eienskappe tot ’n allesbeheersende hoofeienskap maak
nie (bv. sy liefde of sy regverdigheid). Hoe dikwels word sy
liefde nie verhef tot die hoofeienskap van God nie? Daarby word
dan sy regverdigheid dikwels geïgnoreer. Maar God is beide en
gelyktydig regverdig en barmhartig. In sy regverdigheid ontvlam
sy toorn teen die sonde. In sy barmhartigheid vergewe Hy ons
sondes. Dit hou geen teenspraak in nie. Tussen sy regverdigheid
en barmhartigheid staan immers die kruis van Christus. Sy
geregtigheid eis straf. Hy straf ons sondes aan sy eniggebore
Seun, sodat Hy aan ons sy barmhartigheid kan bewys. So is ons God
’n enkelvoudige God in wie daar geen teenspraak of
gespletenheid is nie.

Ons bely verder dat God ’n geestelike
Wese is. In sy gesprek met die Samaritaanse vrou het Christus
gesê: God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en
waarheid aanbid (Joh. 4:24). Die Samaritaanse vrou wou weet waar
sy God moes dien: in Jerusalem of op die Gerisim. Jesus wys eers
daarop dat die ware aanbidding in Jerusalem moet plaasvind, want
die saligheid is uit die Jode. Maar dan stoot Hy deur. As jy nou
loop en twis oor die vraag waar God presies is, bedink dat God
gees is. Hy is nie liggaamlik of stoflik nie. Hy is nie aan
’n liggaam of aan ’n sekere plek gebind nie.

Dit sê broer, suster, ook iets oor die manier waarop jy Hom
moet dien. Dis nie voldoende om fisies na ’n sekere plek te
gaan nie. Ware aanbidders, aanbid in gees en in waarheid. Jy is
daar met jou gees volledig by en jy laat jou deur God se waarheid
lei.

God is Gees, Hy sit nie vas aan ’n gebou nie. Hy is oral
aanwesig. Christus het belowe: Ek is met julle al die dae tot aan
die voleinding van die wêreld (Mt 28:20). Wat ’n ryke
bemoediging. Dit kan soms dalk lyk asof God ver weg is. Dat Hy
die groot afwesige is. Maar God is Gees en daarom ook oral
aanwesig. Ons hoef nie allerlei toorformules te gebruik of
rituele te vervul om Hom hier te kry nie. Hy is Gees. Hy is
teenwoordig.

Geliefdes, ons bely dat God Gees is en dus geen liggaam het
nie. Tog praat die Skrif oor sy hande, ore, oë en mond. Dink aan
wat ons in Ps 145:16 gelees het: “U maak u hand oop en
versadig alles wat lewe met welbehae.” Die Bybel praat soms
selfs verstommend mensvormig oor God. Waarom? Anders sou ons,
nietige, beperkte, aardse wesens niks van God kon verstaan nie.
Nou word aangesluit by ons bekende ervaringswêreld en
vergelykenderwys oor God gepraat. Op hierdie manier wil die Skrif
ons oortuig dat ons ’n God het wat werklik dade verrig (Hy
het hande) en werklik betrokke is (Hy kan luister en alles sien).
Om dit so duidelik moontlik te sê, pas die Skrif hom aan by ons
menslike begrippe. Soos ’n verstandige ma haar aanpas by die
wêreldjie van haar kind.

Hierdie enige en enkelvoudige geestelike Wese noem ons God.
Wat ons daarmee bedoel, weet ons natuurlik nooit volkome nie. Die
naam sluit in alles wat ons reeds genoem het, maar nog oneindig
veel meer. Ons taal kan God nie bevat nie. Hy is daar te groot
vir. Maar Hy wat Skepper, Verlosser en Heiligmaker is; Hy wat
Vader, Seun en Heilige Gees is; Hy wat Homself so aan ons
bekendgemaak het, Hy is God. En die merkwaardige is dit, dat hoe
langer jy as gelowige met hierdie God saamleef, hoe heerliker en
hoe ryker die Naam God vir jou word. Vir wie buite die gemeenskap
met God leef, sê die Naam God nie veel nie. Maar as jy binne
daardie gemeenskap leef, kan jy met vrymoedigheid ook oor die
eienskappe van God praat.

Broers en susters, in die tweede helfte van die eerste artikel
bely ons dan ook verskillende eienskappe van God. “Hierdie
God is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig,
almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste
fontein van alles wat goed is.”

Met die woorde van Ds C Byl gee ons ’n kort beskrywing
van hierdie eienskappe van God. Dit gaan hier nie net oor
teoretiese kennis van God nie. Daarom word by elke eienskap
aangedui wat dit vir ons lewendige omgang met die Here beteken.
So sal ons duidelik sien wat die uiteindelike doel van hierdie
opsomming van God se eienskappe is: naamlik, om Hom te loof!

God is Ewig: Hy is op geen enkele manier
onderworpe aan die tydelike, soos ons, nie. Hy ken geen
verjaarsdae en word nie ouer nie. Hy hoef nie te wag wat die
toekoms vir Hom sal bring nie. By alle skokkende gebeurtenisse
mag ons weet dat die ewige God alles weet (vooruitsien) en alles
in sy hand hou en volgens sy plan laat gebeur (Jes. 40:27,28).

God is Onbegryplik: Ons kan God se dade nie
volkome deursien met ons verstand nie. Tog is daar geen sprake
van ’n doolhof nie; wel van ’n diepte van rykdom. Ons
moet tevrede wees met wat God ons in sy Woord bekend maak en ons
rustig toevertrou aan sy beleid (Jes. 55:8,9 i.v.m. vers 12).

God is Onsienlik: Ons oë kan hierdie grote
God nie sien nie. Hy bewoon ’n ontoeganklike lig (1 Tim. 6:16).
Eerbiedige vreugde sal ons steeds meer vervul, omdat hierdie hoë
God binnekort vir ons sy Seun sal laat sien (1 Tim 6:15).

God is Onveranderlik: Daar kom nooit ’n
onverwagse verandering in God se raadsplan nie. Hy bly getrou aan
Homself. Hy sal ons nooit laat val nie (2 Tim. 2:12,13).

God is Oneindig: God is orals en aan geen
grense gebind nie. Hy sal ons orals bewaar (Ps. 139:5-10).

God is Almagtig: Dit beteken nie dat God dus
ook onregverdige dade kan doen nie. Ons moet “almagtig”
nie verwar met “willekeurig” nie. Hy kan alles doen wat
Hyself wil, maar Hy kan nie Homself verloën nie (2 Tim. 2:13).
Al lyk ons situasie nog so onmoontlik, God kán ons daaruit help.

God is Volkome wys: Selfs in alles wat die
mense dwaas durf noem, blink God se wysheid, veral in die manier
waarop Hy ons verlos (1 Kor. 1:18-25). Alles wat God mét en vír
ons doen, is vrugte van sy wysheid.

God is Regverdig: Hierdie strenge woord
beteken dat ons kan staatmaak op God se beloftes wat Hy aan
elkeen van ons sal waarmaak. Ook al is ons toestand vreeslik
dreigend, ons mag weet dat ons altyd by Hom veilig is. Toe Dawid
ontvlug het aan die rampsalige situasie van Psalm 22, was dit
juis te danke aan God se geregtigheid (Ps. 22:32).

God is Goed en die alleroorvloedigste fontein van
alles wat goed is
: Miskien is dit die mooiste wat ons
van God kan sê. Loof die HERE, want Hy is goed (Ps. 136:1). Elke
mens ervaar bewyse van sy goedheid, selfs die vee (Calvyn). Wat
ons van God kry, is net “goeie gawes” en
“volmaakte geskenke” (Jak. 1:17).

Gemeente, dis hierdie God wat ons met die hart glo en met die
mond bely. Wat ’n God! Onvoorstelbaar groot en goed. Hoe ryk
is dit om so ’n God te mag ken en dien. Sou ons Hom dan nie
loof en prys nie?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)