Deur stryd vergader en bewaar God sy kerk.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-07-17
Teks: 
Génesis 3
Preek Inhoud: 

Genesis 3:15

Ds C Kleyn - Sondag 17 Julie 2005

Lees: Genesis 3:1-15; Openbaring 12.
Sing: Ps 68:1,2; Ps 116:1-4; SB 28:2,4; Ps 46:1-4;
Ps 97:6,7.

Tema: Deur stryd vergader en bewaar God sy kerk.

  1. Die ontstaan van die stryd
  2. Die verloop van die stryd
  3. Die afloop van die stryd

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe sien julle die bestaan van die Christelike kerk in hierdie
wêreld? Is dit eintlik nog wel so besonder dat daar ’n
vergadering van ware gelowiges is? Ons kan dit as vanselfsprekend
beskou. Jy kan jou die situasie nie anders voorstel nie, as dat
daar nog ’n Christelike kerk in hierdie wêreld is nie. Maar
is dit na die sondeval wel so vanselfsprekend?

Hoe sien jy die toekoms van die kerk? Ja, het die kerk wel
’n toekoms? Ons sien in die wêreld dat steeds meer mense
van die Christelike geloof los raak. En wat van die opmars van
die Islam? Moslems kry steeds meer mag en invloed in die wêreld.
Met hul oliegeld is hulle tot baie in staat. So word in ons land
baie jongmense vir die Islam gewerf deur geld, opleiding of werk
aan te bied. So kry die Islam ’n steeds groter greep op die
samelewing. En hoe is daarteenoor die krag en invloed van die
sogenaamde Christelike kerke? Ons skrik van die vervlakking en
verswakking van die Christendom. Het die Christelike kerk dan nog
wel ’n toekoms?

Gemeente, die dag waarop ons voorouers, Adam en Mannin, in
sonde geval het, was die swartste dag van ons menslike
geskiedenis. Die mensheid het homself daar in die grootste
ellende gestort. Op daardie swartste dag spreek God die woorde
van ons teks. God praat van vyandskap en stryd. Woorde wat ons
laat huiwer. Maar vir wie in geloof daarna luister, is dit juis
ook woorde van heil, woorde van ’n God wat opnuut vir
homself ’n volk wil vergader.

Ek verkondig vir julle: Deur stryd vergader en bewaar God sy
kerk

  1. die ontstaan van die stryd
  2. die verloop van die stryd
  3. die afloop van die stryd

Het dit julle ook opgeval tot wie God in ons teks spreek? God
rig Hom allereers tot die slang. En daarby sal ons in eerste
instansie aan ’n egte slang moet dink. Die slang as dier het
tot die vrou gespreek. En het haar saam met haar man verlei.
Nadat God Adam en sy vrou ter verantwoording geroep het, vel Hy
in die verse 14 en 15 vonnis oor die slang. Ons lees in vers 14:
Toe sê die Here God aan die slang: “Omdat jy dit gedoen het,
is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op
jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou
lewe.” Hierby moet ons wel aan ’n egte slang dink. Ook
in vers 15 sou ons aan ’n werklike slang kan dink.

Tog is dit duidelik dat daarmee nie alles gesê is nie. Dit
weet ons uit ander Skrifgedeeltes. Ons lees dat Satan agter en
deur die slang gewerk het. Christus self praat van die duiwel as
’n mensemoordenaar van die begin af en dat hy nie in die
waarheid staan nie. “Wanneer hy leuentaal praat, praat hy
uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader
daarvan” (Joh 8:44). En in Openb 12 word gepraat van die ou
slang wat genoem word duiwel en Satan wat die hele wêreld verlei.
Hier word duidelik na die slang uit die paradys verwys. Die ou
bekende slang is kennelik nog altyd aktief besig om die mense te
verlei. Hierdie slang moet dus meer as ’n dier wees. Hy word
dan ook genoem duiwel en Satan. Indien ons aan ons teks reg wil
doen, dan sal ons vernaamlik moet dink aan Satan wat die slang as
sy instrument gebruik het.

En, gemeente, sou die OT iese gelowiges daar werklik so min
van begryp het as weleens gesuggereer word? Sou Adam en sy vrou
werklik nie geweet het dat die woorde wat die slang gespreek het,
nie van die dier self afkomstig was nie? Sou Adam wat al die
diere hul name gegee het, nie die aard van die diere geken het
nie? Die mens was tog geskep met uitnemende verstand? Dis moeilik
om voor te stel dat ons eerste voorouers nie verder sou gekyk het
as die werklike slang wat daar voor hulle was nie.

Maar waarom het God dan die dier vervloek en nie Satan self
nie? Is dit so? Wanneer die Here met die veragtelike instrument
van sy vyand afreken, reken hy daarmee nie tegelyk met sy vyand
self af nie? Die volgende vergelyking kan dit dalk verduidelik.
Op ’n sekere dag ontdek die koning dat enkele van sy
vertrouelinge saamgesweer het om hom dood te maak. Die wapen
waarmee hy vermoor sou word is gevind. Die koning gryp die wapen,
smak dit veragtelik op die vloer neer en vertrap dit met sy voete.
Sou jy dan die vraag durf stel: maar, koning, dis tog nie die
wapen se skuld nie? Die skuldiges sal nie so praat nie. Hulle sal
eerder van angs en skrik verbleek. Wat daar op die vloer van die
paleis neergesmak lê is die bewys van hul moordaanslag.

So reken God in ons teks wel deeglik af met Satan self. Die
res van die Bybel bevestig dit.

In die oorspronklike taal begin vers 15 met die woord
vyandskap. Die woord ontvang die volle nadruk. Vyandskap sal ek
stel tussen jou en die vrou. Wat ’n verrassing! Die vrou en
Satan het mekaar gevind in hul opstand teen die Here. Hulle het
bondgenote geword. Vriende. Nou verklaar God egter vyandskap
tussen die twee. God dryf hulle uitmekaar. Die mens en die duiwel
kom weer teenoor mekaar te staan.

Hulle gaan mekaar hewig bestry. Dit word ’n stryd om lewe
en dood. Hulle sal mekaar bestry met al die middele wat hulle tot
hul beskikking het. Vir die slang beteken dit ’n beet in die
hakskeen. So ’n beet kan ook dodelik gevolge hê. Alles word
ingesit om die ander party te vernietig.

Die vyandskap tussen die bondgenote kom nie vanself tot stand
nie. Dit ontstaan nie deur ’n groeiende afkeer tussen die
twee partye nie. Soos twee vriende uit mekaar kan groei en selfs
teenoor mekaar kan kom te staan. Daar is geen sprake van berou
van die mens nie, of dat die mens op sy afskuwelike desersie
terugkom.

Let daarop dat God in ons teks die mens nie adviseer om vyand
van Satan te word nie. Die mens sou daardie advies nie kon opvolg
nie. Hier kry die mens ook geen bevel om teen die duiwel op te
staan nie. Daarmee sou die mens verantwoordelikheid gestel word
vir dinge wat hy nie kon uitvoer nie. Waarom nie? Die mens kan
sulke bevele nie nakom nie omdat jy daarvoor geestelik lewend
moet wees. Maar deur sy daad van ongehoorsaamheid het die mens
homself in sonde en ellende gestort, ja, het die mens die
geestelike dood gesterwe. Vervreemding en vyandskap van God. En
iemand wat dood is kan onmoontlik kies om na God terug te keer of
om God te gehoorsaam. Hy het geen lewe en krag daartoe nie.

Gemeente, God het alle reg gehad om so ’n bevel vir ons
mense te gee. Hoe droewig sou dit egter vir ons sondige, verlore
mense gewees het. Dit sou net ons totale verdorwenheid en
hopeloosheid benadruk het. Dat God nie so ’n bevel gegee het
nie, is een van die mees wonderlike dinge in die Bybel. ’n
Wonder van genade.

Pleks van so ’n bevel, vertel God wat Hy self gaan doen.
“Ek sal vyandskap stel”, sê Hy. In daardie eenvoudige
woorde sien ons God se onbegryplike liefde en sy soewereine
genade. God neem die inisiatief. Want as ons mense verlos wil
word, dan moet Hy die inisiatief neem. As God dit nie doen nie,
is daar vir ons geen hoop nie. Die vyandskap is uitsluitend God
se daad. Ek sal vyandskap stel. God ruk Satan en ons uit mekaar
uit.

Dis ’n groot verlies vir Satan. Sy planne word verydel.
Satan het juis gedink dat hy God se planne verydel het. Nadat hy
in die hemel verslaan is, het hy gedink dat hy op die aarde sy
oorwinning kon vier. Hy het mos in sy opstand teen God die mens
aan sy kant gekry. Maar God laat dit nie toe nie. God gryp in, in
sy genade. God wys dat Hy in beheer is, en nie Satan nie. Hy het
die teuels vas in hande. Ook die duiwel kan hom nie roer of
beweeg nie sonder God nie. Wat ’n bemoediging vir jou as
gelowige.

Broers en susters, hierdie “Ek sal vyandskap stel”
deur God is ’n onbeskryflike weldaad vir ons mense. Deur
bondgenoot van Satan te word het ons die verbondsgemeenskap met
God moedswillig verbreek. God herstel die verbondsgemeenskap. Die
vriendskap met die duiwel het niks as dood en verderf opgelewer
nie. God verbreek die vriendskap en neem ons weer op in sy
gemeenskap, by Hom die lewende God. Die stryd en vyandskap
beteken vir ons opnuut lewe en vrede. Waar daar vir ons geen hoop
meer was nie, gee God weer hoop. Ons wat dood was, mag weer lewe.
God gee ons nie onmiddellik ons verdiende straf nie. In Christus
soek Hy ons weer op om ons te red. So begin God weer om sy kerk
rondom homself te vergader.

Is die feit dat ons hier is nie ’n bewys daarvan nie? As
God die vyandskap nie sou gestel het nie, kon hier vandag geen
vergadering van gelowiges wees nie. Ons sou nog almal aan Satan
se kant gestaan het, aan die kant van die dood, vervreemd van God,
vyande van Hom. Maar God het gekies om tog mense uit Satan se
greep te bevry en so sy kerk te vergader. Ons bestaan as kerk
bevestig die waarheid van ons teks. Dis ’n groot wonder van
genade.

En gemeente, hierdie vyandskap tussen die slang en die mens is
geen vryblywende saak nie. Dit is deur God uitgeroep en opgelê.
Ja, die bittere stryd is na die val aan die mens tot ons
verlossing opgelê. Om te stry is dus ook ’n opdrag. Solank
die duiwel nog rondgaan, solank sal die stryd, die vyandskap daar
moet bly. So word die hele menslike geskiedenis na die val
’n strydtoneel.

Daarop wil ons verder let in die tweede punt: die verloop van
die stryd.

God roep die eeuelange stryd uit. Hy maak daar ’n
permanente saak van. Dit loop deur in die nakomelinge. God praat
van saad. Die stryd is daar nie net tussen die slang en die vrou
nie, maar ook tussen die saad van die slang en die saad van die
vrou. Elkeen kry nakomelinge, ’n volk. God sien reeds twee
gemeenskappe verrys wat teenoor mekaar sal staan.

Die saad van die slang kan dui op die demone, die bose geeste
wat Satan gevolg het. In die lig van die skrif kan ons egter dit
ook breër sien. Joh die doper en die Here Jesus spreek die
skrifgeleerdes en Fariseërs aan as slange, addergeslag (bv Mt 23:33).
Hy wys dat hulle by die adder, die ou slang behoort. Wanneer
hulle hul daarop beroem dat hulle Abraham tot vader het, sê
Christus vir hulle: “Julle het die duiwel as vader, en die
begeertes van julle vader wil julle doen” (Joh 8:44). Die
saad van die slang sien dus op ’n gemeenskap van mense wat
die werke van die slang doen, wat die party van Satan kies. Joh
skryf: “Hierin is die kinders van God en die kinders van die
duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie
uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie” (1Joh
3:10).

So sien die saad van die vrou ook op ’n gemeenskap van
mense. Die kinders van Eva wat haar party teenoor Satan kies,
vorm die saad van die vrou. Dit is die gelowiges, die kinders van
God. God verklaar oorlog vir Eva en haar aanhang teen Satan en sy
aanhang. So kom die gelowiges te staan teenoor die ongelowiges,
die kerk teenoor die wêreld.

Die Bybel praat deurlopend van hierdie stryd. As jy die
Bybelse geskiedenis, ja selfs die geskiedenis van die wêreld wil
verstaan, dan moet jy daarna kyk vanuit Gen 3:15. Die hele
geskiedenis word deur daardie stryd beheers. Gen 3:15 word verder
in die Bybel uitgewerk. Openb 12 gee ons daarvan ’n
samevatting. Daar gaan die hele geskiedenis in voëlvlug aan ons
verby. Ons sien Kain se ongeloof teenoor Abel se erediens, wat
uitloop op Kain se moord op Abel. Ons sien die toringbou van
Babel en die verkiesing van Abraham. God ruk Abraham uit sy land
en familie uit. God stel die vyandskap, die antitese tot heil van
Abraham se huis. God laat hom breek met die afgode van sy
voorouers en neem hom op in sy gemeenskap.

En gemeente, omdat die saad van die vrou nie in staat is om
die stryd alleen aan te bind en staande te bly, het ons ’n
voortrekker nodig. ’n Leier, ’n Hoof. Daarom word die
aandag veral gerig op die een saad van die vrou, Jesus Christus.
Die saad van die vrou is van Hom afhanklik. Daarom is Satan se
aanslae ook veral op Hom gemunt. Hy gryp na die kind. Eers
probeer hy om die koms van die kind te verhinder. Ons sien sy
aanslae op die OT iese volk van God. Ons sien Haman in sy aanval
op Hom wat moet kom. En as die aanslae misluk en die Messias
gebore word, dan probeer hy om hom te verslind. Ons sien Herodes
met sy kindermoord te Betlehem. Ons sien die teenstand en
verwerping van Christus. En as ook dit misluk, Christus verbreek
die bande van die dood, dan keer Satan hom in felle haat teen
Christus se volgelinge in die besef dat hy min tyd het.

Al die sataniese planne en aanvalle sal die beoogde resultate
egter nie bereik nie. Want God is in beheer. God het ’n
ander plan. God stel die vyandskap en Hy gee juis via die stryd
’n ryke toekoms. Dit sien ons in die derde punt: die afloop
van die stryd. In Christus sal die saad van die vrou die kop van
die slang vermorsel. Christus sal eendag radikaal met Satan
afreken. Hy sal dodelik verpletter word.

Op Golgota het Christus Satan in beginsel oorwin. Daar het God
se reg geseëvier. Christus het versoening bewerk. Daar het Hy
volkome reg op sy volk gekry. Daarom is Satan ook definitief uit
die hemel gewerp. Hy het geen reg van toegang tot die hemel meer
nie, geen reg om God se kinders aan te kla nie. God se reg het
geskied. Maar die magsstryd gaan nog aan. Dit word vir die kerk
baie gevaarlik. Satan is op die aarde gewerp. Hy gaan rond soos
’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Met alle
middele tot sy beskikking gryp hy nog steeds na die kerk van
Christus, na die oorgeblewe nakomelinge van die vrou. Hierdie
gevaarliker verslinder word nog steeds die ou slang genoem, die
duiwel en Satan. Julle ken sy taktieke, sy metodes vanuit sy
eerste optrede in die paradys. Hy verlê die aksente, geleidelik
verdraai hy woorde, vervolgens lieg hy om eers die vrou te verlei
en via haar haar man. Satan gaan metodies te werk. As hy nie via
lis die gelowiges kan kry nie, dan probeer hy dit met geweld, met
dreigemente.

Die gelowiges, die kerk kry dit nie maklik nie. Ons moet so te
sê na die woestyn vlug. Die woestyntyd word getel na die aantal
dae, duisend, twee honderd en sestig dae lank (Openb 12:6). Wat
duur dit lank. Die einde is nog nie daar nie. Maar ons mag weet
dat ons aan die Here Jesus verbind is. In gemeenskap met Christus
en deur sy krag kan jy vol hou. Midde in die stryd mag jy meer as
oorwinnaar wees deur Hom wat jou liefgehad het.

Openbaring 20 laat ons die finale oorwinning sien: die kop van
die slang sal inderdaad vermorsel word. “En vuur het van God
uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat
hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar
die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig
word tot in alle ewigheid” (Openb 20:9,10). Dit is die
toekoms van die slang en sy volgelinge. Ons redding. Die toekoms
van die kerk is verseker.

Laat dit julle egter nooit passief en oormoedig maak nie. Bly
stry. Daar word ’n aanslag op jou lewe met God gedoen.
Onderskat die vyand nie. Die stryd kan jou jou posisie, welvaart
en veiligheid kos. Laat jou nie deur die teëstanders afskrik nie.
Dis vir hulle wel ’n bewys van verderf, maar vir julle van
redding, en dit van God (Fil 1:28).

So bly ons die antitese, die teenstelling tussen gelowiges en
ongelowiges verkondig in ’n wêreld wat praat van vryheid,
gelykheid en broederskap. In ’n tyd waarin mense die grense
tussen kerk en wêreld of tussen ware en valse kerk, wat aan die
wêreld gelyk geword het, wil uitwis. Ons bly praat van die
teenstelling wat daar moet wees: “Maar julle het Christus
nie so leer ken nie” (Ef 4:20). ’n Teenstelling wat in
ons daaglikse lewe moet uitkom.

Ons doen dit nie omdat ons dit self so graag wil nie. As dit
van ons sou afhang, dan sou ons kies vir die vriendskap met die
wêreld, die eenheid en broederskap met alle mense. Maar God leer
ons dat dit nie meer moontlik is nie. Gelukkig maar. God het tot
verlossing in die verlore wêreld ingegryp. Hy het gelukkig die
antitese gestel. Solank die sondige mensewêreld bestaan, kan jy
die teenstelling nie wegredeneer nie. Want alleen via die
antitese is daar weer vrede met God. As God die stryd nie gestel
het nie, dan was ons vir ewig verlore.

Nou mag ons egter weer via die vyandskap wat God opgelê het,
opnuut in gemeenskap met God lewe. Op pad na die eindoorwinning
wanneer alle vyandskap oorwin sal word en waarin volkome vrede
sal heers. Opdat so alles wat asem het God sal loof.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)