Die middele waardeur ons God ken.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-07-17
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 2
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 2

Ds C Kleyn - Sondag 17 Julie 2005

Lees: Psalm 19; Romeine 1:18-23; Nederlandse
Geloofsbelydenis, Artikel 2.
Sing: Ps 8:1-7; Ps 18:14; Ps 19:1,4; Apostoliese
Geloofsbelydenis; Ps 86:5,6.

Tema: Die middele waardeur ons God ken.

  1. Sy skepping, onderhouding en regering van die wêreld (sy
    daadopenbaring).
  2. Sy heilige en goddelike Woord (sy woordopenbaring).

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

God is groot en goed. Dit het ons gesien n.a.v. art 1. Daar
het ons bely dat daar net een God is en watter eienskappe Hy het.
Hoe kon ons dit bely? Ja, hoe kan ons dit weet? Is dit iets wat
uit onsself opgekom het? Is dit iets wat ons deur meditasie of
refleksie bereik het? Is dit iets wat uit ons eie gevoel of
ervaring opkom? My gedagtes, gevoel of ervaring kon egter net so
goed tot die teenoorgestelde konklusie gelei het, naamlik dat
daar geen God is nie. Daar is genoeg mense wat tot die konklusie
gekom het op grond van hul eie verstand en gevoel. Hoe kon ons
dan daartoe kom om te bely dat daar een God is? Omdat dit God
behaag het om Homself aan ons mense bekend te maak. God wou hê
dat ons Hom sou ken en liefhê. Kennis van God begin dus nie by
myself nie, maar by God: Hy maak homself bekend.

Vanaand wil ons dan let op die middele waardeur ons God ken.
God maak homself bekend deur twee middele, eerstens deur sy
skepping, onderhouding en regering van die wêreld (sy
daadopenbaring) en tweedens deur sy heilige en goddelike Woord (sy
woordopenbaring).

Dis belangrik om daarop te let dat ons art begin met die
woordjie “ons”. Ons ken God deur twee middele. Ons, dit
wil sê, die gelowiges is hier aan die woord. Mense wat in God
glo. Mense wat met hul kennis van die Bybel na die natuur en die
geskiedenis kyk. Dan leer jy God nie vir die eerste keer in die
natuur ken nie. Maar dan herontdek jy Hom daar. God het jou oë
daarvoor oopgemaak. Sodat jy die mooi boek van die natuur goed
kan lees. Omdat jy God reeds ken, lees jy ook van Hom in die mooi
boek wat met klein en groot letters sy ewige krag en Goddelikheid
duidelik uitspel.

So verstaan jy die psalmis wat sê: “o HERE, onse Here,
hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U wat u majesteit gelê
het op die hemele” (Ps 8:2). Kyk jy omhoog dan weet jy:
“die hemele vertel die eer van God en die uitspansel
verkondig die werk van sy hande” (Ps 19:2). Kyk jy rondom
jou dan hoor jy die stem van die Here weerklink in weer en wind.
Jy bely dan met die Psalmis: “Dit is U wat die hemelkoepel
soos ’n tentdoek gespan het ... U wat die wolke ry ... U wat
die winde u boodskappers maak, die weerligte u dienaars ... toe U
die waters aanspreek het hulle gevlug (Ps 104). Jesus self het
verwys na wat in die natuur gebeur: “Kyk na die voëls van
die hemel; hulle saai nie en hulle bring nie bymekaar in skure
nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle” (Mt 6:28). God
laat die lelies groei en klee hulle. Hy versier die gras van die
veld met skoonheid. Ens, ens.

So sien en bely ek dit as gelowige. Dis vir my ’n
daaglikse werklikheid. In die natuur en die gebeure op aarde sien
ek God besig. Die wêreld waarin ons leef is nie net God se
wêreld in die sin dat Hy dit geskep het nie; dis ook sy
daaglikse werkplek. God regeer. Die glorie van sy mag, sy
goedheid en wysheid is orals sigbaar. Dis so helder en duidelik
dat ’n mens eintlik jou oë moet toemaak om dit nie raak te
sien nie. Die wêreld is inderdaad ’n teater van God se
glorie en heerlikheid.

Kom ons kyk wat noukeuriger na Ps 19. Op pad na die heiligdom
raak die digter onder die indruk van die hemel waaronder hy stap
en die son wat oor hom skyn. Na die besoek aan die heiligdom, wat
spreek van God se heiligheid en liefde, klink daar weer die
prediking van die son, lug en sterre. Die hemele vertel die eer
van God. Die lug en wolke spreek van die glorie van God. As jy
God wil sien, kyk dan na die hemele, luister na die geruis van
die wind. Luister na wat die hemele vertel. Jy hoor geen woorde
en geen stem nie. Tog kan elkeen daarin ’n prediking hoor
sonder geluid. Die vertelling hou nie op nie. Dit gaan deur dag
en nag, eeu in, eeu uit. Hoe straal God se heerlikheid. Hoe mooi
is die natuur, hoe doelmatig en ordelik ingerig. Die wolke, die
son, die sterre verkondig: so is God. Die hele hemelkoepel is
’n herout van die God wat leef.

Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag
deel die kennis aan die volgende mee (vers 3). Die tyd hou nie op
nie. So het God dit aan Noag en aan alle skepsels belowe: van nou
af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte,
somer en winter, dag en nag nie ophou nie (Gen 8:22). Elke dag
deel die kennis van God mee. Jy sien die son, die wolke en snags
die maan en sterre. En jy weet dit is prediking van die majesteit
van God. Op sekere tye verskyn die reënboog, die bewys van God
se liefde vir sy skepping. Dit is asof die reënboog steeds weer
predik: glo tog in God en in Christus. God is vir alle mense goed.
Dis ’n prediking sonder spraak en sonder woorde. Tog gaan
die prediking uit oor die hele wêreld.

Van die son word gesê dat dit is soos ’n bruidegom wat
soggens uit sy slaapkamer te voorskyn kom en lus vir die nuwe dag
is. Dit is soos ’n held wat met snelle tree sy pad oor God
se groot wêreld aflê. Van oos na wes. Die digter is onder die
indruk van sy warm gloed en van die lange baan wat hy aflê. Elke
dag weer. En hy loof God sy Skepper daarvoor.

Gemeente, hierdie boek van die natuur is vir alle mense bestem.
Die boodskap gaan na elkeen uit. Nie net na die gelowiges nie,
ook na die ongelowiges. God spreek daarmee alle mense aan. Dis
vir alle mense sigbaar en hoorbaar. Of alle mense dit ook
metterdaad herken en goed interpreteer is ’n ander saak. Die
nadruk lê hier op God se aktiwiteit en nie op die toe-eiening
daarvan deur die mense nie. God se bemoeienis gaan uit na alle
mense.

Ons het daarvan gelees in Rom 1: 19,20 “Wat van God geken
kan word is in hulle (dws die heidene) openbaar, want God het dit
aan hulle geopenbaar. “Want sy onsigbare dinge kan van die
skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik
gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle
geen verontskuldiging het nie.”

Jy kan iemand ken uit die woorde wat hy spreek, maar ook uit
die werke wat hy doen. So ken ons ook baie mense uit die verlede
net omdat hulle hul werke nagelaat het, byvoorbeeld Calvyn. So,
deur sy werke, is God reeds eeue by die heidene bekend.

Die mens hoef net na homself te kyk om die werk van God te
sien. Jy is immers self ’n wonderlike werkstuk van die Here:
die asem in jou neus, die krag van jou spiere, die vermoë van
jou verstand. Het die heidense volke hulle nie deur die eeue heen
verbaas oor die mag van die son, die reëlmaat van die maan, die
misterie van die lewe en die dood nie? Het hulle nie die oormag
van die weerlig en donder gevoel nie, die lieflikheid van die
lente en die krag van die wind nie? Elke dag loop ieder mens tog
te midde van die wonderlike werkstukke van God. Hy gaan daarmee
om, hy werk daarmee en leef daarmee.

So moet ons dit verstaan as Paulus sê: alhoewel hulle God
geken het. Ook die ongelowiges leef almal in God se wêreld en
God is in sy werke elke dag naby. Geen sterweling het ooit een
dag in ’n wêreld sonder God geleef nie. Dit maak die skuld
van die mense so swaar. Hulle ken, so te sê, God: op onkunde kan
niemand hom ooit beroep nie.

Calvyn skryf in hierdie verband dat God Hom in die hele
skepping van die wêreld so geopenbaar het en Hom elke dag daarin
op so ’n wyse toon dat die mens sy oë nie kan oopmaak
sonder om gedwing te word om Hom daarin raak te sien nie. Op
elkeen van sy werke het God bepaalde tekens van sy heerlikheid
ingegrif en dit so duidelik en opvallend dat alle
verontskuldiging van onkunde daardeur weggeneem is.

Mense probeer dikwels om ongelowiges/ heidene vir hul lewe
sonder God te verontskuldig. Hulle het tog nie werklik vir God
geken nie en hulle kon dit tog nie weet nie? Tog het hulle almal
die mooi boek van God se skepping onder oë gehad, waarin God se
ewige krag en goddelikheid te sien was. Daardie boek was
voldoende en oortuigend. Daarom het hulle geen verskoning nie.
Hulle het die sterre en die blomme gesien, hulle het die
wisseling van die seisoene ervaar en nog baie meer, maar hulle
het nogtans God nie erken nie.

Maar gemeente, sonder die Bybel kan tog geen mens God uit sy
skepping na waarheid leer ken nie? Dis inderdaad waar. Geen
heiden het ooit die boek van die natuur so goed gelees dat hy God
se ewige krag en goddelikheid op die regte manier geken het nie.
Daarvoor is die geskrewe woord van God onmisbaar.

Tog is hierdie verskoning nie geldig nie. Beslissend is nie
hoe hulle die boek van die skepping lees nie, maar dat God aan
hulle die duidelike boek van sy skepping gegee het. Dat hulle
daardie boek nie kan en wil lees nie, is ’n ander saak. God
se boek is duidelik genoeg. Dat mense dit nie kan lees nie is hul
eie skuld. Want God het ons mense so gemaak dat ons dit wel kon
lees. Maar ons het onsself van hierdie gawe beroof. Ons blindheid
is ’n skuldige blindheid. In hul sonde het die heidene die
waarheid van God onderdruk. Ondanks die pragtige boek van God se
skepping, het hulle God nie as God verheerlik of gedank nie, maar
hulle het dwaas geword in hul oorlegginge en hul onverstandige
hart is verduister (Rom 1:21). Hulle het die aanbidding van die
ware God vervang met die aanbidding van skepsels wat hulle tot
god verhef is. So dien mense bv die menslikheid, die wetenskap,
die menslike verstand, gevoel of wil, geld, seks en mag as gode
pleks om God self te dien. ’n Skuldige misbruik van God se
goeie skepping. Daar is vir hulle geen verskoning nie.

Die volgende voorbeeld kan dit dalk verduidelik. Wanneer Jan
om 5 uur tuiskom is niemand by die huis nie. Ma is weg. Grommend
soek Jan sy eie sleutel van die huis. Hy open die deur en smyt sy
skoolsak op die kombuistafel. Hy sien geen briefie van ma nie.
Hoekom laat sy nie weet waar sy is en wanneer sy sal tuiskom nie?
Sy weet tog dat hy vanaand vroeg moet eet i.v.m. sokker oefening.
Hy kyk in die koelkas, maar vind geen bord met kos wat hy snel
kan opwarm nie. Hy eet dan maar ’n paar toebroodjies.

Wanneer Jan na sokker tuiskom is hy nog kwaad op sy ma. Ma
laat hom eers uitraas. Dan sê sy: jong, gisteraand het ek jou
vertel dat ek ouma na die dokter moes ry en dat dit waarskynlik
laat sou word. Jy het nie die moeite gedoen om jou walkman af te
doen nie. Vanoggend het ek dit nog ’n keer vir jou gesê,
maar toe was jy haastig. Dus het ek vir alle sekerheid maar
’n briefie op die kombuistafel gelê. Het jy dit nie gesien
nie? Geen wonder nie, jou skoolsak lê daarbo. In die
mikrogolfoond het ek ’n bord kos geplaas. Jy het net die
oond vir 5 minute aan hoef te sit. Hoekom het jy al daardie dinge
nie gesien nie?

So kan dit dalk ook gebeur wanneer ons mense voor God moet
verskyn. Hy het alle aandag aan ons gegee. Hoekom het ons dit nie
raakgesien nie?

Gemeente, God maak homself nie net bekend deur sy skepping,
onderhouding en regering van die wêreld nie. Hy maak homself nog
duideliker en meer volkome bekend deur sy heilige en goddelike
woord.

Vanweë die sonde is die mens nie in staat om die pragtige
boek van die natuur reg te lees en te interpreteer nie. Daarom is
die woord openbaring nodig. Deur die woord kan ’n mens die
boek van die natuur weer reg verstaan. Calvyn noem hierdie
woordopenbaring die onmisbare bril wat ons nodig het om God in
die skepping te sien.

Die goddelike woord is as openbaring nie net duideliker nie,
maar ook meer volkome. Uit die boek van die natuur kan ’n
mens nie weet van verlossing deur Jesus Christus nie. Jy leer
daar nie van die versoening van jou sondes deur Christus se
voldoening nie. Jy leer wel van God se krag en majesteit, maar
nie van God as Vader, Seun en Heilige Gees nie. Die goddelike
woord is daarin vollediger. Daaruit leer jy eers dat God die
wêreld so lief gehad het, dat hy sy eniggebore Seun gegee het
sodat elkeen wat in hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die
ewige lewe kan hê.

Waartoe is die Bybel vir ons gegee? Nie om ons nuuskierigheid
te bevredig nie. God het ook nie alles aan ons bekend gemaak nie.
Die Bybel gee aan ons net wat ons vir hierdie lewe nodig het tot
die eer van God en die saligheid van die mens. Dit gaan allereers
om die eer van God. In die Bybel spreek God tot die mens. Daarom
gaan Hy voorop en nie die mens nie. Dit gaan nie in die eerste
plek om my klein lewentjie nie. Nie ek met my denke en gevoel, my
skemas en planne, ja, selfs nie ek met my saligheid, kom eerste
of staan in die sentrum nie, maar wel God en sy eer. Maar nou
moet jy die twee – God se eer en die mens se saligheid
– ook weer nie van mekaar losmaak nie. Hoe word God die
beste geëer? As jy ’n sondaar tot bekering kom; as jy
Christus as jou Saligmaker aanvaar, as jy Christus as koning van
jou hele lewe erken en Hom in alles gehoorsaam. Die eer van God
en ons saligheid is nou aan mekaar verbind.

Hoe is die verhouding tussen die twee middele waardeur God
Homself aan ons bekendmaak? Natuur en Skiftuur? Daar is mense wat
die twee van mekaar skei. Sommiges sê: die natuur is nie so
belangrik nie. Dit kom aan op die Woord van die Here. Genade is
alles. Ander sê: nee, die woord spreek my nie baie aan nie. Op
’n sondagmiddag soek ek God liewer in die natuur. Daar voel
ek sterker sy nabyheid.

Gemeente, as ek so praat, beledig ek God wat homself deur
albei middele bekendmaak. Dis nie of die natuur of die woord nie.
Dit gaan in albei om die een God wat homself aan ons mense
bekendmaak. Natuur en Skriftuur vorm ’n eenheid. Dit blyk
baie duidelik uit Ps 19. Na die lofsang op die natuur hoor ons
die lofsang op die Woord van God, die wet. Die lofsang op die wet
of woord ewe belangrik as die lofsang op die natuur. Dis een
prediking wat van albei uitgaan, die prediking van ons groot en
genadige God.

Dawid het die heerlikheid van sy Verlosser gesien. Daarom
eindig hy die Ps met die uitroep: o HERE, my rots en my verlosser.
Hy het God se vergewing van skuld geproe. By God se altare. Hy
het die heerlikheid van die Skrif, die wet gesien. Die wet wat
die heil van ons sondaars beoog. Die wet wat ons leer hoe om met
die skepping om te gaan, hoe om die boek van die skepping te lees.
Die wet wat ons leer om God te loof. Die woord wat ons leer ons
God ons Verlosser, om Christus in die skepping raak te sien. Die
woord wat ons sondige blindheid, ons eiewysheid, ons opstand en
ongehoorsaamheid blootlê. Die woord wat ons die pad van ware
bevryding, geluk en seën wys. ’n Vreugde vir die hart en
’n verkwikking vir die siel. Begeerliker as goud en soeter
as heuning. Daarom is die digter van Ps 19 in ekstase oor die
luister van hierdie God van ons. Hy het die troosvolle prediking
van God se genade in die heiligdom gehoor en gelowig aanvaar.
Wanneer hy weer buite stap dan groet die skepping hom weer met sy
prediking van dieselfde God. Hy is bevry van die dwase dilemmas:
“die natuur is maar die natuur en die genade is alles”
of “die natuur is alles en die kerk met sy woord is niks nie.”

Broer, suster, seun, dogter, hier het jy dan die twee middele
waardeur God homself aan jou bekendmaak, sy daadopenbaring en sy
woordopenbaring, natuur en skriftuur. Wat doen jy daarmee? Ken jy
God ook deur sy onderhouding en regering van die wêreld? Sien jy
God raak in sy skepping en loof jy hom daarvoor? Wat maak jy met
die orde en wetmatigheid wat God in sy skepping gelê het? Ken jy
dit net in jou wetenskap? Gebruik jy dit net in jou tegniek?
Geniet jy dit net in jou spel? Of lees jy dit ook as God se boek
oor Homself? En as jy die Bybel lees, lees jy dit so dat jy God
daarin met jou persoonlik hoor praat? Gebruik jy dit ook as
’n bril waardeur jy God die Vader rondom jou des te beter
raaksien? Hoor jy nog duidelik die een prediking wat van die
natuur en skriftuur uitgaan. En laat jy dit jou ook bring tot die
aanbidding van jou God en Vader? Leer van die voëls en die
blomme wat nie ophou om te fluit en te bloei tot eer van God nie.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)