Ons regverdiging.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-08-14
Teks: 
Romeine 3
Preek Inhoud: 

Romeine 3:28

Ds C Kleyn - Sondag, 14 Augustus 2005
Nagmaal

Lees: Romeine 3:21-31; Romeine 4:1-12 (1ste
tafel); Romeine 4:13-17 (2de tafel); Romeine 4:18-25 (3de tafel).
Sing: Ps 81:1,2; Ps 81:9,11,12; Ps 89:6,7; Ps
116:1,7; Ps 32:1 (1ste tafel); Ps 32:3 (2de tafel); Ps 32:4 (3de
tafel); Ps 32:6.

Tema: Ons regverdiging.

  1. Ons oortuiging van sonde.
  2. God se verlossing in Christus.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe waardig is ons om die Heilige Nagmaal te vier? Is ons
werklik goed genoeg daarvoor? Hierdie vraag kan op verskillende
maniere beantwoord word. Die een sien geen probleme nie. Ek leef
tog as ’n Christen? Ek lees reëlmatig my Bybel en bid
reëlmatig tot God. Ek gaan getrou kerk toe. In vergelyking met
ander is ek nie skuldig aan groot sondes nie. Ek leef ’n
keurige lewe. Ja, dat ander nie waardig is om aan te gaan kan ek
my goed indink. Kyk maar na hul verlede en na hul huidige lewe.

Die teenoorgestelde reaksie is ook moontlik. Jy lees dan van
die regverdige in die Bybel. Jy lees van die nuwe mens in
Christus wat geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Jy
lees van die vrug van die Gees: liefde, blydskap, vrede,
lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,
sagmoedigheid en selfbeheersing. Pragtige eienskappe. Maar wat
bring ek daarvan tereg in my daaglikse lewe. Ook as ek myself met
ander Christene vergelyk, voel ek myself minderwaardig. Ek leef
nie soos hulle nie en doen nie wat hulle doen nie. Ja, is ek
eintlik wel ’n Christen? Ek voel my nie goed genoeg daarvoor
nie.

Geliefdes, hierdie twee reaksies lyk teenoor mekaar te staan.
Die een voel hom meerderwaardig, terwyl die ander lei aan ’n
minderwaardigheidsgevoel. Tog het albei reaksies iets
gemeenskaplik. Wat dan? In beide gevalle konsentreer jy op die
vraag van heiligmaking en vergelyk jy jouself met ander. Jy voel
jouself ’n waardige of onwaardige Christen vanweë jou goeie
werke of die gebrek daaraan. Ons waardigheid sou dan afhang van
ons goeie werke. Wat is fout daarmee? Jou waardigheid of
onwaardigheid word nie bepaal deur jou goeie werke of die gebrek
daaraan nie. Wanneer jy praat van waardigheid om voor God te
verskyn, moet jy nie fokus op jou heiligmaking nie, maar op jou
regverdiging. Die regverdiging is die fondament waarop die
heiligmaking gebou word. As die fondament nie in orde is nie, dan
sal die heiligmaking, die Christelike lewe ook nie in orde wees
nie. Hoe is ek reg met God? Hoe verkry ek vrede met God en
toegang tot die HN? Net deur die geloof in Jesus Christus.

Die apostel Paulus hou nie op om dit vir ons te sê nie. Hy
benadruk dat die regverdiging deur die geloof is sonder die werke
van die wet. Onder die Jode was dit ’n probleem. Hulle het
gedink dat jy net die wet noukeurig moet naleef om reg met God te
wees. Daardeur sou jy waardig wees om deur God aangeneem te word.
Ondertussen het hulle die wet nie werklik verstaan nie en het
hulle eie sondigheid nie werklik besef nie. Soos dit so maklik
met ons gebeur, het hulle oor sonde net gedink in terme van
spesifieke dade en hulleself vergelyk met ander mense en hul
ervarings. Daarom was hulle ook nooit werklik oortuig van hul
sonde nie en van die absolute noodsaak van Jesus Christus nie.

Broer en suster, wil jy praat van regverdiging, dan moet jy
eers van jou sondes oortuig wees; jouself werklik as sondaar leer
sien. Hoe kom jy tot so ’n oortuiging? Paulus werk daaraan
in Rom 3. Hy skryf: daar is niemand regverdig nie, selfs nie een
nie. Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid
van God. Wie is die almal? Paulus benadruk dat dit Jode sowel as
Grieke geld. Die Jode sou natuurlik saamstem dat die Grieke sulke
sondaars is. Maar wag ’n bietjie, sê Paulus, julle is ewe
sondig. Almal het gesondig, Jode sowel as Grieke, julle is ewe
doemwaardig voor God.

Om dit te sien moet jy ophou om te dink aan spesifieke sondes.
Luister maar na die liefdesgebod: Jy moet die Here jou God
liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele
verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat
hiermee gelykstaan is: jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Vergeet nou maar om jouself te vergelyk met moordenaars,
egbrekers, diewe en dronkaards, ens. Kan jy self die toets van
die volmaakte liefdes gebod deurstaan? Het jy God met hou hele
wese lief? Doen jy werklik alles tot sy eer? In die lig blyk jy
’n sondaar te wees net soos die ander. Jy kan wel ophou om
te roem in jou gedrag en prestasies. Waar bly die roem? sê
Paulus, dit is uitgesluit.

Gemeente, dis dan die eerste wat daar moet wees: ’n
oortuiging van sonde. Jy moet besef dat jy onwaardig voor God is,
doemwaardig, ’n volkome mislukking voor God, soos alle ander
mense op wie jy moontlik neersien of na wie jy opkyk.

Die tweede wat jy moet besef is God se verlossing in Christus.
Dis weer reg met God deur Christus. Christus het die wet volkome
vervul. Die sonde is versoen. Nou reken God die geregtigheid van
Christus toe aan elkeen wat glo. In Christus beskou God my dan
regverdig, vry van skuld. Waardig om by Hom te wees, waardig om
die HN te vier. Dit kom dus daarop aan dat ek op niks anders let
as op Jesus Christus nie. Moenie let op jou eie werke nie. Moenie
roem in wat jy as Christen doen nie. Roem uitsluitend in Jesus
Christus en sy volmaakte lewe en werk. Die Jood is in hierdie
opsig nie beter as die Griek nie. Die voorbeeldige Christen is
nie beter as swak Christen nie. Almal het gesondig en dit
ontbreek hulle aan die heerlikheid van God. Ons kyk na Christus
en na Christus alleen, en nie na onsself nie.

Maar is ek dan wel goed genoeg om by Christus te behoort en om
aan sy tafel te sit? Hou op om na jouself te kyk. Jy sal nooit
goed genoeg wees nie. Niemand was ooit goed genoeg nie. Die
essensie van die Christelike geloof is om te sê dat Hy, Jesus
Christus, goed genoeg, volmaak is, en dat ek in Hom is.

Solank as jy na jouself bly kyk en dink: ek sou dit wel wil,
maar ek is nie goed genoeg nie, ek is ’n groot sondaar,
solank sal Christus in jou nie groot wees nie. By tye sal jy dink
dat jy redelik goed doen, maar daarna sal jy weer ontdek dat jy
tog nie so goed is as jy gedink het dat jy was nie. In
vergelyking met die heiliges uit die skrif en met ywerige en
vrome Christene rondom jou, het jy nog nie ver gekom nie. Wat
gemaak?

Vergeet van jouself. Natuurlik is jy nie goed genoeg nie. Jy
sal nooit goed genoeg wees nie. Dit maak nie saak wie jy was en
wat jy gedoen het nie. Jy is nie meer hopeloos as die mees
gerespekteerde Christen nie. Vergeet jou verlede. Vergeet van jou
spesifieke sondes en tekortkomings. Vlug daarmee na Christus toe.
Besef dat jou sondes in Jesus Christus uitgewis is. Hy het
uitgeroep: dit is volbring. Dis nou klaar, weg, agter jou, eens
en vir altyd. Glo jy dit? Vier dit dan aan die tafel van die Here.
En laat jou deur Christus voed en verkwik tot ’n nuwe lewe.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)