God roep sy kinders op om te leef in die vurige verwagting van Christus se koms.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2003-03-02
Teks: 
I Petrus 1
Preek Inhoud: 

1 Petrus 1:13-16

Ds C Kleyn - Sondag 2 Maart 2003

Lees: 1 Petrus 1.
Sing: Ps 149:1,2; Ps 130:2,4; Ps 102:8,12; Ps 1:1,2,4;
Ps 37:1-3.

Tema: God roep sy kinders op om te leef in die vurige
verwagting van Christus se koms.

Om dit te doen moet jy

  1. Op en wakker wees;
  2. Wêreldgelykvormigheid vermy; en
  3. Heiligheid najaag.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Hoe sou julle dit vind om vreemdelinge in die verstrooiing
genoem te word? Dis hoe die apostel Petrus die gelowiges in Klein
Asië aanspreek. Die christene word uitverkore vreemdelinge in
die verstrooiing genoem. ’n Betekenisvolle naam. Petrus
begin om op hul posisie te wys. Deur in Jesus Christus te glo het
hulle vreemdelinge in hul eie omgewing geword. Hulle woon en werk
nog daar, maar hulle in nie meer deel daarvan nie. Hulle het
buitestaanders, vreemdelinge geword. Op sy beste word hulle
getolereer. Hulle lewe en posisie is kwesbaar. Blykbaar het hulle
reeds baie moeilikhede ondervind, verwyte, afwysing, vervolging.
Petrus vat dit saam met die naam vreemdelinge. Hulle is
uitlanders in hierdie wêreld. Hulle het hier ’n tydelike
verblyf. Hul burgerskap is in die hemel. Dis hul permanente
woonplek. Hulle leef ook in die verstrooiing, verstrooi onder die
volke van die wêreld, weg van die beloofde land, hul hemelse
Kanaän. Daarom is hulle hier nie werklik tuis nie.

Petrus beskryf hierdie vreemdelingskap as ’n ryke saak.
Is dit hoe julle dit ervaar? Vind ons dit in die reël nie
verskriklik om vervreemd te raak van en om afgewys te word deur
mense rondom ons nie? Tog is die posisie van vreemdelingskap
’n ryke saak. Die oorsprong daarvan is God se verkiesing,
God se onverdiende guns. Die gelowiges word mos uitverkore
vreemdelinge genoem. God self het hulle, het jou op die pad van
die lewe geplaas. Daarom is jou posisie nie beklaenswaardig nie.

Die christene dreig om moed te verloor. Hulle sien hul
vreemdelingskap, hul kwesbaarheid. Hulle word bedreig en moet vir
hul geloof ly. Die apostel verruim die perspektiewe. Vanweë die
moeites sien hulle nie meer die groot prentjie nie. Petrus
herinner hulle aan die groot prentjie. Die oorsprong van die
situasie is God se verkiesing en die doel is die wederkoms van
Christus.

In hoofstuk 1:3-12 beskryf Petrus die voorregte van die
gelowiges. Ons het totaal ander mense geword. Deur die opstanding
van Christus het ’n nuwe wêreld vir ons oopgegaan. God het
ons die wedergeboorte geskenk tot ’n lewende hoop , tot
’n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis. Ons
is op pad na die beloofde land, ons ewige erfenis.

Op grond van hierdie werklikheid vermaan Petrus ons in die
verse 13vv om ons oë op die heerlike toekoms te vestig en ons
lewens daarvolgens in te rig. Ek vat die teks as volg saam: God
roep sy kinders op om te leef in die vurige verwagting van
Christus se koms. Om dit te doen moet jy

  1. Op en wakker wees
  2. Wêreldgelykvormigheid vermy
  3. Heiligheid najaag.

"Daarom, omgord die lendene van julle verstand, wees
nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die
openbaring van Jesus Christus." Let op die eerste woord:
daarom. Petrus vermaan die christene nie voordat hy eers gepraat
het van die wonder van God se verlossing in Jesus Christus nie.
Die indikatief van wat God vir en in jou gedoen het, gaan aan die
imperatief van wat jy moet doen vooraf. Sonder die indikatief van
wat God gedoen het sou die imperatief ’n hopelose saak wees.
Dan word dit ’n gebod wat jou verpletter of dit dryf na
ydele en vermetele aktivisme. Jou hoop is God se gawe, ’n
erfenis wat vir jou geskep is deur Christus se opstanding. Daarom
word jy ook opgeroep om daarin te lewe.

Die genade waarop jy moet hoop is dieselfde as die verlossing
en die erfenis wat die voorafgaande verse genoem is. Fokus jou
aandag op die volkome redding wat by Christus se wederkoms
werklikheid sal word. Wanneer Christus in heerlikheid terugkeer,
sal Hy jou verlossing voltooi. Ja, as genade. Nie as iets wat jy
verdien, iets wat Hy aan jou verskuldig is vanweë jou goeie
gedrag nie. Nee, as genade, as ’n onverdiende guns. Dit is
die grootste guns wat jy ooit sou kan ontvang.

Wel, hoop volkome op die genade, sê Petrus. Nadruk val op die
bywoord volkome. Vanweë die huidige ervaring van vervolging en
verdrukking is die gelowiges besig om die sig op hul toekomstige
heerlikheid te verloor. Hul aandag word teveel afgetrek deur hul
aardse sorge. Hul hoop is aan die afneem. Daarom bemoedig Petrus
hulle om vol verwagting uit te sien na die voltooiing van hul
verlossing. Daarom, hoop volkome op die genade wat julle deel
word. Laat jou hele lewe daarop gerig wees. Laat die hoop jou
hele houding en gedrag bepaal, jou gedagtes, woorde en dade. Leef
in vurige verwagting.

Geliefdes, hier kan julle leer van die kinders. Wanneer ma vir
’n rukkie uit haar gesin weg is - miskien is sy ’n paar
weke oorsee - dan kan dit gebeur dat die jong kind bly vra: waar
is ma tog, wanneer kom ma terug? Jy kan dan probeer wat jy wil om
die kind se aandag af te lei, deur hom bv uit te neem en saam met
hom dinge te doen, maar na ’n rukkie kom dieselfde vraag tog
weer na vore: kom ma nog nie terug nie? Die kind is op ma gefokus,
sien verlangend uit na haar terugkeer.

Hoe is dit met julle, broeders en susters, seuns en dogters?
Leef jy in vurige verwagting van Christus se wederkoms? In ons
kring praat ons nie dikwels van ons pelgrimstog nie. Die term kan
te veel die indruk wek dat ons slegs op reis is en dat ons hier
niks te doen het nie. Tog is die Skrif wel duidelik daaroor dat
ons toekoms gerigte mense moet wees. "Hoop volkome op die
genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus."

Leef jy nog in vurige verwagting? Leef en werk jy met die oog
op die groot dag, die ontmoeting met jou Heer Jesus? Hoe wys jy
dat jy ’n vreemdeling hier op aarde is en dat jou blywende
woning by die Here is? Vestig ons onsself nie te veel hier op
aarde asof dit ons bestemming is nie? Waarop hoop jy? Rig ons ons
hoop nie dikwels op aardse skatte nie? Ons kan onsself so
inburger hier op aarde dat ons byna nie aan Christus se wederkoms
dink nie, laat staan dat ons dit vurig sou verwag. Waaraan dink
jy wanneer jy ’n studierigting of ’n loopbaan kies? Kom
Christus ook in die prentjie? Wil ons ons gawes ontwikkel en
gebruik om Christus daarmee te dien of is dit slegs ’n
kwessie van ’n aantreklike posisie en inkomste hier op aarde?
Wat is belangriker vir jou: goeie werk, ’n mooi huis en kar
of die genade wat jou wag by die wederkoms van Christus? Onthou
dat die genade, volkome verlossing, die grootste guns is wat jy
ooit kan ontvang. Sou jy jou nie daarop gaan rig nie? Het jy nie
die wedergeboorte ontvang tot ’n lewende hoop nie?

In die lig van die konkrete afleidings, is dit verstaanbaar
dat Petrus sy vermaning begin met die woorde: omgord die lendene
van julle verstand, wees nugter. "Omgord die lendene van
julle verstand," die beeld beskryf wat ’n man wat
’n lange mantel dra moet doen om in aksie te kom. Die mantel
moet opgetrek word en onder die riem vasgebind word Net soos
Israel word jy uit die slawerny geroep om die reis te begin na
die beloofde land. Die Israeliete moes die Pasga, hul laaste
maaltyd in Egipte, eet met hul lendene omgord, gereed vir die
reis. So moet jy ook omgord wees vir die reis, gereed vir aksie.

Omgord die lendene van julle verstand. Laat niks jou denke,
jou geestelike onderskeidingsvermoë verhinder nie. Die
helderheid van verstand kan deur die tydelike sorge van die
wêreld verhinder word. Jy kan so deur sekere begeertes of sorge
in beslag geneem word, dat jy blind vir God se werklikheid word.
Daarom as jy jou hoop volkome wil stel op die genade wat jou deel
gaan word, dan moet jy eers alle belemmerings in jou denke
verwyder. Moenie aardse begeertes en sorge jou denke laat
vertroebel nie, jou verhinder in die vermoë om te onderskei
tussen belangrike en onbelangrike dinge.

Daarom: omgord julle verstand, wees nugter. Ons kan so maklik
deur bepaald dinge bedwelm raak. En dan dink ons nie net en nie
in die eerste plek aan alkohol of dwelms nie. Die dinge wat jy
ervaar of doen, kan jou so maklik beinvloed sodat jy nie meer reg
kan dink nie. Jy sien nie meer die groot prentjie nie, die
volledige werklikheid van Christus en hierdie wêreld. Daarom
moet jy nugter wees, op en wakker. Realisties. Probeer nie om die
werklikheid te ontvlug deur na die fles of ander dinge te gryp
nie. Jy het tog die Gees van heerlikheid geproe?

Om nugter te wees beteken dat jy op en wakker is, wakker en
waaksaam. Jy is bewus van die werklikheid van die sonde. Jy ken
die dwaasheid van utopiese drome. Jy sien die ware essensie van
die dinge. Jy is ook volkome bewus van Christus wat besig is om
alle dinge te herstel. Jy sien die oorsprong van jou lewe en sy
doel. Dat die lyding tydens hierdie lewe net tydelik is en jou
voorberei op ’n ewige gewig aan heerlikheid. Daarom, omgord
die lendene van julle verstand en wees nugter. Bly nie steek in
jou aardse sorge of aardse ambisies nie. Bevry jou gedagtes van
onbesonnenheid, verwarring of bedwelming. Wees waaksaam. Fokus op
die toekoms. Hoop volkome op die genade wat julle deel word by
die openbaring van Jesus Christus. Ken jou oorsprong en jou doel,
jou eksodus uit die slawehuis van die sonde en jou intog in die
hemelse Kanaän. Sien die pad waarop God jou geplaas het as
uitverkore vreemdelinge in die verstrooiing.

Geliefdes, Christene wat in vurige verwagting leef, kan nie
agteloos en selfsugtig lewe nie. Daarom vervolg Petrus: soos
gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die
begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.
Dit bring ons by die tweede punt: om in vurige verwagting van
Christus te leef moet jy wêreldgelykvormigheid vermy.

Let op die woorde: soos gehoorsame kinders. Letterlik staan
daar: soos kinders van gehoorsaamheid. Hierdie uitdrukking
beteken meer as net gehoorsame kinders. Dis ’n uitdrukking
wat hulle beskryf wat deur gehoorsaamheid gekenmerk word.
Vergelyk die uitdrukking: kinders van die toorn of kinders van
ons tyd. Om ’n kind van iets te wees beteken dat jy deur die
eienskap gekwalifiseer word. Wel, christene is kinders van
gehoorsaamheid. Jou lewe is deur gehoorsaamheid gekenmerk. 1 Pt 1:2
maak duidelik dat God ons tot gehoorsaamheid bestem het. God het
jou uitverkies en geheilig sodat jy gehoorsaam sou wees.

Die woord "gehoorsaamheid" kom van die woord "hoor."
Christene is hulle wat na die evangelie luister. Jy het jou van
die sonde afgekeer om jou aan Christus as Heer en Verlosser te
onderwerp. Vers 22 wys dat dit gehoorsaamheid aan die waarheid is,
aan die woord van God.

Daarom, broeders en susters, wat is dit wat jou lewe kenmerk?
Dit behoort tipies vir jou te wees om gehoorsaam, onderdanig te
wees. Jy is nie jou eie heer en meester nie. Jy het jou onderwerp
aan jou Heer Jesus Christus. Gehoorsaamheid is dit wat jou lewe
by die huis, in die gesin, by die skool en by die werk behoort te
beheers. Gehoorsaamheid aan Jesus Christus. Is jy nie gekies tot
gehoorsaamheid aan Jesus Christus nie? Daarom moet ons Joh Calvyn
skool anders wees as die staatsskole. Die gedrag van onderwysers
en leerlinge behoort deur gehoorsaamheid gekenmerk te wees, deur
gehoorsaamheid aan Jesus Christus. Daarom behoort jy as christen
ook so anders in die samelewing te wees. Onderdanigheid en
gehoorsaamheid aan Jesus Christus behoort op te val.

Gemeente, omdat jy tot gehoorsaamheid aan Jesus Christus
geroep is daarom sê Petrus: soos gehoorsame kinders moet julle
nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle
onwetendheid bestaan het nie. Dis soos Paulus dit in Rom 12 sê:
"Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie."

Die ongelowige wêreld het sy eie lewenstyl wat ons gelowiges
dikwels trek. Petrus waarsku jou om jou lewe nie in te rig
volgens die begeerlikhede wat in die wêreld prominent is. Wat is
die begeerlikhede? In hoofstuk 4:3 lees ons van die vroeëre
lewenstyl, ’n lewe in ongebondenheid, begeerlikheid,
dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye.
Dis die begeerlikhede van die vroeëre lewe in onwetendheid, die
lewenstyl van die voorouers. ’n Ongebonde lewe, onbeteuelde
begeerlikhede. ’n Lewe sonder God en sonder hoop.

Wanneer God nie erken word nie, is daar ’n leemte in die
lewe en in die kultuur. Die leegte word dan opgevul deur die
begeerte na mag, geld en seks. Die apostel Joh tipeer die lewe
sonder God, die liefde vir die wêreld as: die begeerlikheid van
die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van
die lewe. Dit tipeer basies ons samelewing: mense doen wat hul
eie vlees en sinne bevredig, die begeerlikheid van die vlees en
die begeerlikheid van die oë. Mense gee hulleself oor aan
allelei sondige genietinge. Daar is niks wat hulle gaan stop nie.
Hulle volg die begeertes van hul sondige hart. Hulle doen wat
hulle lus is.

Pornografiese tydskrifte, video's, godslasterlike en
mensonterende musiek en films, die nadruk op mag en geweld in
populêre lektuur, strokiesverhale en films, die aanbidding van
filmsterre en sport helde voed die uitgieting van losbandigheid
waarvan Petrus in hoofstuk 4:4 praat.

Mense suggereer dikwels dat dit ware vryheid sou wees om aan
jou hartstogte toe te gee. God wys dat die hartstogte ’n
krag in die lewe is wat jou tot ’n slaaf maak. Jy word of
gelei deur die Gees van God of deur die Gees van die wêreld. Dis
so moeilik om nee te sê wanneer die massa sê dat dit OK is.
Wanneer die meerderheid iets doen, dan doen ons maklik saam. Ek
wil mos nie graag ’n spelbreker wees nie en deur die groep
afgewys word nie. Die mening en gedrag van ander weeg swaar by
ons.

Petrus sê egter: soos gehoorsame kinders moet julle nie jul
lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle
onwetendheid bestaan het nie. Dit behoort tot die verlede, die
periode waarin jy God nie goed geken het nie. Ja, die vroeëre
periode word ’n periode van onwetendheid genoem. Jy was nog
onwetend tav God, sy woord en wil. Jy het die waarheid in
ongeregtigheid onderdruk. Maar jy het dit agter jou geplaas. Jy
is opnuut gebore deur die lewende Woord van God. Jy het die
woorde van God ontvang. Jy ken nou God en sy verlossing. Jy het
’n nuwe meester ontvang, Jesus Christus. Hy het jou
losgekoop uit jou ydele lewenswandel wat deur die vaders
oorgelewer is skryf Petrus is vers 18, nie deur verganklike dinge,
silwer of goud nie, maar deur die kosbare bloed van Christus,
soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos.

Jou vryheid is duur gekoop met die hoogste prys. Sou jy dan
jou vryheid inruil vir die ydele lewenswandel van die heidene,
vir die slawerny van die sonde? Jy ken nou God. Jy is wedergebore
tot ’n lewende hoop, tot ’n onverganklike erfenis. Jy
wil tog nie terugkeer na jou vroeëre hopeloosheid nie. Jy is op
pad na jou erfenis. Jy is op pad huis toe om ewig by die Here te
wees. Daarom, vermy alle wêreld gelykvormigheid en jaag na
heiligheid. Dis die derde gedagte van die preek.

Gemeente, as ek weet dat ek op pad is om die Here te ontmoet
dan wil ek alles doen om my lewe op Hom af te stem. God self word
my model. Ek moet navolger van God word: "Soos Hy wat julle
geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel
heilig word." God het my uit die duisternis geroep na die
wonderlike lig van sy gemeenskap. As ek in sy teenwoordigheid wil
lewe dan sal ek myself op Hom moet rig. Sy heiligheid kan enige
onheiligheid nie verdra nie. God se heiligheid word uitdruklik as
norm genoem. Soos Hy heilig is, moet julle ook heilige wees. Wat
ander doen, kan nooit die norm wees nie. Die algemene opinie mag
ook nooit my gedrag bepaal nie. Tradisie is nie die norm nie, om
dinge te doen op die manier waarop ons dit altyd gedoen het. My
gevoelens kan ook nooit die gids wees nie. Die enigste norm vir
my gedrag is God self. Weerspieël God se heiligheid. Weerspieël
God. Vertoon sy beeld.

Dit beteken dat ek alles afstem op God, my denke, my woorde,
my musiek, my dade. Wees in jou hele lewenswandel heilig. Moenie
die heilige lewe reduseer tot ’n beperkte aantal heilige
dade nie. Wys dit in jou hele lewenswandel. By die skool,
universiteit of tegnikon. By die werk, by die huis, op vakansie
ens. Kies dinge waarvan jy weet dat God dit sou kies. Weier dinge
waarvan jy weet dat God dit sou weier. Doen sy wil. Wys die styl
van die Here, nie die styl van die wêreld nie. In al jou omgang
met mense, ook in jul omgang met mekaar. Wat sou die kerk dan
’n genot wees. Die gemeenskap is dan geheilig. Jou gevoelens,
begeertes is dan gereinig, diensbaar gemaak tot eer van God en
vir die welsyn van ander.

Petrus onderstreep die bevel om heilig te wees deur uit die Ou
Testament aan te haal: "omdat daar geskrywe is: Wees heilig,
want Ek is heilig." Die opdragte van die Ou Testament was
dikwels op hierdie woorde gebaseer. Israel was afgesonder, bevry
om God se spesiale eiendom te wees. Wel, as jy die besondere
eiendom van die heilige God wil wees, dan moet jy self ook heilig
wees. Sy heiligheid kan onheiligheid nie verdra nie. So ernstig
is dit. As jy jou God wil ontmoet, wees dan heilig soos Hy heilig
is. Dit lyk ’n onmoontlike opdrag. Hoe kan ek soos die
heilige God wees?

Onthou egter God kom nie met sy bevele sonder om eers self die
heil tot stand te bring nie. Ek is uitverkore en geheilig tot
gehoorsaamheid vs 2. Ek is wedergebore tot ’n lewende hoop
vs 3. Daarom: hoop volkome op die genade wat kom. Leef in vurige
verwagting van Christus se koms. Lewe die evangelie uit. Wys die
nuwe lewe en nuwe hoop. Wees op en wakker. Vermy
wêreldgelykvormigheid en jaag na heiligheid. Hy wat jou roep is
getrou, Hy sal dit ook doen. Vertrou jouself toe aan sy genade en
krag.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)