Teenoor ''n wêreld wat dink dat hy sonder God kan regkom sien ons dat die kerk -

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-09-04
Teks: 
Génesis 4
Preek Inhoud: 

Genesis 4:26

Ds C Kleyn - Sondag 4 September 2005

Lees: Genesis 4.
Sing: Ps 84:1,2; Ps 84:3,4; Ps 84:5,6; Ps 75:1,3,4,6; Ps 145:9-12.

Tema: Teenoor 'n wêreld wat dink dat hy sonder God kan regkom sien ons dat die kerk -

  1. sy voortgang van God ontvang
  2. sy swakheid voor God bely
  3. sy krag by God soek

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Het dit nog sin om bidstond vir gewas en arbeid te hou? Ons kan ons voorstel dat dit sin gemaak het in die agrariese samelewing van vroeër. Mense was toe volkome afhanklik van die weer. En die meerderheid van die bevolking het direk van die land moet lewe. Nou is dit egter nie meer so nie. Dis maar 'n klein deel van die bevolking wat vandag boer is. Die groot meerderheid leef en werk in die stede of rondom die stede in townships. En selfs die boere is nou baie minder afhanklik van reën en natuurlike vrugbaarheid. Daar is boorgate en kunsmatige besproeiingssisteme. Daar is moderne werktuie en kunsmis. Die produksie van kommersiële boere het oor die algemeen baie toegeneem. Nie as gevolg van 'n meer gunstige klimaat nie, maar as gevolg van die vordering in wetenskap en tegniek.

En is dit nie so in die hele samelewing nie? Het die mens nie meer in staat geword om vir homself te sorg nie? Kyk maar na die suksesvolle ondernemers, die groei in ons ekonomie. Hoe het die groei ontstaan? Hoe verwag ons 'n toekoms vir Suid Afrika? Is dit nie 'n kwessie van goeie bestuur, van vindingrykheid, van die ontwikkeling van wetenskap en tegniek en van harde werk nie? Ons leef ook binne 'n wêreld ekonomie waarvan ons nie kan loskom nie. Ontwikkelinge in die wêreld bepaal ook ontwikkelinge in ons land. Die mens is besig om sy eie stad en ryk te bou. En dit lyk asof hy in menig opsig daarin slaag. Het die mens daarby werklik God nog nodig? Hoe ryker die lande, hoe meer ons sien dat God die rug toegedraai word. Die mens kan tog homself red? Het dit dan nog sin om te bid vir gewas en arbeid? Maak dit werklik 'n verskil in die harde werklikheid van die besigheidswêreld? Geld daar teenwoordig nie ander wetmatighede nie?

Gemeente, hoe onderskei in so 'n wêreld die gelowiges hulle van die ongelowiges? Wat tipeer die gelowiges in so 'n situasie? Kom ons luister na die woord van die teks. Ek verkondig vir julle: Teenoor 'n wêreld wat dink dat hy sonder God kan regkom sien ons dat die kerk

  1. sy voortgang van God ontvang
  2. sy swakheid voor God bely
  3. sy krag by God soek

"En ook vir Set is 'n seun gebore" lees ons. Wanneer jy dit in ons vertaling lees, besef jy nie dat God hiermee iets besonders wil aandui nie. In die oorspronklik teks val besondere nadruk op die woorde: ook vir Set. Letterlik staan daar: en vir Set, ook vir hom is 'n seun gebore. Mense, luister goed: ook Set ontvang 'n seun. Ook Hy word vader van 'n gesin.

Waarom so veel nadruk op hierdie nuwe geboorte? Dit word duidelik as jy dit sien teen die agtergrond van wat daarvoor in Gen 4 genoem word. Kain se moord van Abel het die kerkgesin van Adam en Eva in 'n krisis gedompel. Hulle verloor skielik albei hul seuns. Abel is dood en Kain het weggevlug. Hulle kan van nie een van hulle nog iets verwag nie. Abel leef hier nie meer nie. En Kain het oorgeloop na die kamp van die vyand, die duiwel. Die lyn van die saad van die vrou loop dood. Deur wie moet die lyn nou voortgesit word? Gaan dit ooit lei tot die saad van die vrou wat die kop van die slang sal vermorsel?

Satan het die eerste hou gegee. 'n Uitklophou, so lyk dit. Die saad van die vrou is verslaan. Hier sien julle, broers en susters, die stryd wat in Gen 3:15 aangekondig is en wat in Openb 12 uitgewerk word. Die groot draak, die ou slang, wat duiwel en Satan genoem word, staan voor die vrou wat op die punt staan om te baar. Hy wil die koms van die saad van die vrou verhoed. Met een hou word die lyn via Kain en die lyn via Abel afgesny. Dit lyk asof Satan wen.

En, geliefdes, let op die ontwikkeling van Kain se geslag, wat Satan vir homself gewen het. Die geslag het alles in sy guns, sou jy sê. Kain ontvang 'n seun en so ook 'n toekoms. Hy bou 'n stad. Hy maak homself sterk. Hy ontvang kleinseuns en agterkleinseuns ens. Briljante seuns gee deur hul uitvindings nuwe moontlikhede. Dit alles lei tot die selfversekerde Lameg wat vir niemand bang is nie, maar God en mens tart: wie kan hom iets maak.

Die saad van die slang het homself sterk gemaak. Hoe is dit met die saad van die vrou? Abel is nie meer daar nie. Sy lyn loop dood. Gaan daar nog iets teregkom van die belofte van die saad van die vrou wat die kop van die slang sal vermorsel? Adam het in geloof sy vrou Eva genoem. Hy het gesing van lewe, 'n toekoms. Maar nou? Alle hoop lyk verpletter te wees. Abel is nie meer daar nie. En Kain maak homself sterk teenoor die Here.

Na 'n rukkie ontvang hulle weer 'n seun, 'n plaasvervanger. Eva kan jubel: God het my 'n ander kind geskenk in die plek van Abel, omdat Kain hom doodgeslaan het. Satan se oorwinning word verydel. Die saad van die slang het nie vry spel nie. Daar is nuwe saad wat teenoor hom staan. In Set verrys opnuut die saad van God.

Maar, geliefdes, die saad van die vrou het wel agterop geraak. Dit word benadruk deur die struktuur van Gen 4. In vers 25 kom die geslag van Adam weer in die prentjie. Maar die lyn is weer terug by af, by wat in vers 2 genoem word: die geboorte van Abel. Nou is daar weer 'n seun deur wie die lyn voortgeset kan word na die saad van die vrou. Daar is weer uitsig op die vervulling van God se belofte, die oorwinning op Satan.

En dan ontvang Set ook 'n seun. Juig hemel en aarde. Die lyn loop nou deur. Daar is nou voortgang in die heilige geslag. Werklike voortgang na die saad van die vrou. 'n Kleinseun is gebore. Die toekoms is besig om hom te ontsluit. Die pad van verlossing is besig om gebaan te word. Die saad van die vrou ontvang sy voortsetting van God.

En wat is nou die naam van die seun? Ons let daarop in die tweede punt. Die saad van die vrou bely sy swakheid voor God.

Set noem sy seun Enos lees ons. Die naam Enos is in die Bybel dikwels sinoniem vir mens. Maar dan nie in die sin soos die naam Adam mens beteken nie. Die naam Adam dui die mens aan volgens sy oorsprong, gevorm uit die stof van die aarde. Maar Enos is die mens is sy swakheid en afhanklikheid. Enos dui op broosheid, verganklikheid. In Ps 103:15 lees ons: die mens - enos die brose mens - soos die gras is sy dae.

Wanneer Set sy seun Enos noem, bely hy sy swakheid en afhanklikheid. Hy bely dat die lewe van die gevalle mens broos en verganklik is.

Wat 'n teenstelling met die grootpratery van Kain se geslag. In Lameg bereik die geslag sy hoogtepunt van mag en hoogmoed. Met hul uitvindings het sy seuns ongekende moontlikhede geskep. Jabal, die uitvinder van die tent, maak dit moontlik om na vergeleë gebiede te reis. Dit kom hom goed van pas omdat hy hom toelê op die teel van vee. Die Kainiete kan so groot veeboere word. Hulle kan hul rykdom vermeerder en hulleself voorsien van die daagliks lewensmiddele.

Met sy musiek kan Jubal die lewe veel plesieriger maak. Dit kan help om die pyn en verdriet van die lewe op 'n vervloekte aardbodem te vergeet. Musiek kan die hart van die mens weer vrolik maak.

Tubal-Kain, die smid wat allerhande koper- en ysterinstrumente gemaak het, kon die harde werk ligter maak. Eenvoudige gereedskap kon gemaak word. Ook wapens om wilde diere dood te maak en om hulleself te beskerm.

Kain se nakomelinge lyk welvarend en veilig te wees. Dit lyk asof niemand hulle iets kan maak nie. Luister maar na Lameg se lied. Hy daag God en mense uit: "Voorwaar ek slaan 'n man dood wat my wond en 'n seun wat my kwes. Want Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewe en sewentig maal." Feitelik sê Lameg: Wie my kwaad durf aandoen, dit sal hom sy lewe kos. Kain mag dan sewe maal deur God gewreek word. Ek Lameg het God nie nodig nie. Ek sal myself wreek sewe en sewentig maal. So dikwels iemand my teenstaan. My kom die wraak toe, ek sal vergeld.

Dis hoe Lameg spog. Terwyl hy leun op sy eie mag en wapens. Terwyl hy gevul is met haat en wraaksug. Die sonde van Kain se geslag bereik sy hoogtepunt. Kain wat sy broer vermoor het, het nog voor die Here gebewe toe die Here hom vervloek het. Kain het nog die Regter van hemel en aarde gevrees. Hy het uitgeroep: My skuld is te groot om te dra. Hy het om genade gevra.

Maar in sy huis gaan dit van kwaad na erger. Met sy verlating van die Here het Kain self die koers bepaal. Die pad van Kain word verder gevolg en ontwikkel. Lameg staan op. Hy bewe nie meer nie. Hy buig nie sy kop nie. Hy het niks om God te vra nie. Hy het God heeltemal nie nodig nie. Hy tart God en mense. Hy is vir niemand bang nie. Hy vertrou op sy eie krag. In sy grootpratery sê hy: Ek sal dit en dat doen. Ja, dis die grondtoon van sy goddelose lied: ek sal die reg in my eie hande neem. Ek sal myself bevry, ek sal vir myself 'n weg in hierdie wêreld baan. Dis 'n lied van menslike arrogansie, van 'n mens wat in sy vervreemding van God spog: geen probleem nie, ek sal sonder God reg kom.

Geliefdes, is dit nie bekende klanke nie, ook in ons tyd en wêreld nie?. Die moderne mens wat God die rug toedraai volg dieselfde spoor. Die wêreld behoort tog aan die mens. Die mens met sy wetenskap en tegniek. Op watter gebied het die moderne mens God nog nodig? Die mens sal sy eie toekoms maak. Ek sal dit, en ek sal dat doen. Ek bou my eie stad of ryk. Suid Afrika sal herleef. Ja, Afrika sal herleef. Laat niemand ons daarin dwarsboom nie. Hier het jy die grootspraak van die moderne mens.

Hoe anders is die taal van Set by die geboorte van sy seun. Hy noem hom Enos, met ander woorde: broos, swak mensekind. Set probeer nie om met die wêreld meeding in sy magswellus nie. Hy wys nie 'n vuis teenoor die vuis van die vyand nie. Nee, die eerste wat hy doen is om sy eie swakheid en onmag om homself te red, bely. Dis wat die godvresende geslag van Adam bereid is om te erken. Die Kainiet mag spog in homself. Hy mag in hoogmoed dink dat hy die pyn en moeite van die aardse lewe kan oorwin. Hy mag spog oor sy eie krag en wysheid, die mag van die vlees. Maar die gelowige Set ken homself en sy seun as 'n broos, swak skepsel. Die saad van die vrou weet dat hy uit homself niks is nie. Die saad bely sy swakheid voor God.

Maar geliefdes is hulle daarmee nie baie pessimisties nie, teenoor die optimisme en vooruitstrewendheid van die Kainiete nie. Nee, dis 'n kwessie van geloof. En geloof het niks met pessimisme te make nie. Inteendeel. Geloof is vol verwagting. Terwyl hy sy eie swakheid erken, weet hierdie godvresende geslag dat hy 'n ryke toekoms het. Ja, juis hulle het rede om te hoop. Hulle stel mos hul vertroue in God se beloftes. Hulle sê: ons kan niks van onsself verwag nie. Maar die Here sal dit doen. Hy het dit belowe. Ons verwag alles van Hom.

Dis wat ons in die derde punt wil sien: die saad van die vrou soek sy krag by God.

Die teks eindig met die woorde: Toe het hulle die Naam van die Here begin aanroep. 'n Veelseggende afsluiting. Nadruk val op die feit dat hulle in daardie tyd begin het om die Naam van die Here aan te roep.

Beteken dit dat die mens nooit tevore die Naam van die Here aangeroep het nie? Julle weet dis nie so nie. Eva noem die Naam van die Here by die geboorte van Kain. Adam het sy seuns geleer om die Here se Naam aan te roep. Hoe anders sou hulle daartoe gekom het om vir die Here offers te bring? Die offerdiens was reeds 'n kwessie van die aanroep van die Here.

Hoe kan die teks dan sê dat hulle toe, in die dae van Enos, begin het om die Naam van die Here aan te roep? Om dit te verstaan moet ons mooi kyk na die uitdrukking: die Naam van die Here aanroep. Wat beteken dit? In die OT verwys die uitdrukking dikwels na die openbare erediens. Dit word so ongeveer 'n tegniese term daarvoor. Dit is waaraan ons sal moet dink in ons teks. Die nadruk val dan op die publieke karakter van die aanbidding. Die offers van Kain en Abel was op sig reeds aanbidding. Wat het hulle dan begin in die dae van Enos? Dit is die opsetlike en gemeenskaplike daad van erediens. Hulle kom vir die eerste keer saam om die Here te loof en om sy hulp in te roep.

Waarom begin hulle daarmee in die dae van Enos? Die godvresende geslag van Adam het nou gegroei. En die goddelose geslag van Kain is besig om homself steeds meer te verhef. In die dae van Enos is die bose geslag baie voorspoedig. Adam se huis word gekonfronteer met 'n magtige geslote front van goddeloosheid. Wat doen dan die geslag? In die besef van hul eie kleinheid vlug hulle tot God. En nie net dit nie. Hulle word ook na mekaar gedryf. Jy kan dit vergelyk met skape wat saamstroom wanneer daar gevaar is. Wat doen die skape in so 'n situasie? Die skape begin nie om te veg nie, maar hulle bondel saam, by voorkeur rond die herder. Dis wat die Setiete doen. Hulle skuil. In hul bedreigende situasie soek hulle hul beskerming by God. Hulle verenig in gebed en lofprysing. So is daar die eerste openbare erediens. En hulle doen meer as dit. Hulle bely ook die enige Naam teenoor die goddelose selfversekerdheid van Kain se stad. Hulle getuig van die waarheid teenoor die leuen.

Geliefdes, hierdie saamkom in erediens word fundamenteel vir die saad van die vrou. Dis fundamenteel vir die hele toekoms van hierdie geslag. Dis tipies vir die gelowiges. Teenoor die drukte van die Kainiete wat hul eie posisie wil waarborg en versterk, soek hulle in die eerste plek die Here in erediens. Dit is hulle, dit is ons krag in 'n wêreld wat homself sterk maak teenoor die Here en sy diens. Die ware kultus, verering van God, staan teenoor die outonome kultuur van hulle wat geen rekening met God wil hou nie. Die kerk weet dat hy van God se genade afhanklik is. Hy weet dat redding van bo moet kom. Dat jy dit nie van benede kan verwag nie. Daarom soek hulle die Here en verwag dit van Hom alleen.

Broers en susters, laat dit ook julle houding wees hier op aarde. Nee, dit beteken nie dat jy jou afsydig moet hou van die ontwikkelings in die wêreld nie, van wetenskap en tegniek nie. Inteendeel, jy word geroep om oor die skepping te heers en dit te ontwikkel. Kulturele ontwikkeling is op sigself nie sleg nie, maar 'n gawe van God, ook al word dit dikwels teen God gebruik. Die teenstelling is nie kultus en kultuur nie, maar kultus en outonome kultuur, kultuur wat onafhanklik van God opereer. Die teenstelling is die ware aanbidding van God en die aanbidding van die mens.

Vandag het ons baie moontlikhede. Julle, seuns en dogters, kan saamdoen in die wêreld. Jy het die kans om te studeer, om jou gawes te ontwikkel en gebruik te maak van moderne wetenskap en tegnologie. Ja, soos in die begin kan die gelowiges nog dankbaar gebruik maak van allerlei uitvindings van goddelose mense.

Maar broers en susters, moenie die antitese wat God gestel het, vergeet nie. Daar is 'n teenstelling tussen gelowiges en ongelowiges. Jy sien die twee lyne duidelik in Gen 4. die lyn van Kain teenoor die lyn van Set. Die saad van die slang teenoor die saad van die vrou. En wat is dan die belangrikste verskil? Dit: die ongelowiges soek hul vastigheid hier op aarde. Hulle lewe sonder God. Hulle probeer om op hul eie reg te kom. Hulle gee hul oor aan die aardse lewe met sy aardse rykdom, mag en seks.

Dit was reeds die geval in die dae van Lameg. Lameg se huis probeer om vir homself 'n toekoms te verseker deur groot besittings. Lameg het hom verlustig in vroulike skoonheid. Dis nie verniet dat twee vrou by hul naam genoem word nie. Ada beteken ornament en Silla skaduwee, 'n veelseggende naam in die warm midde ooste. En dis nie verniet dat 'n opvallende uitsondering gemaak word deur 'n dogter te noem, die dogter Naema. Haar naam beteken skoonheid, lieflikheid. So word 'n sekere tendens van die Kainietiese lyn aangedui. Die lewe gaan daar om mag, rykdom en vroue.

Dollars, mag, geweld en seks is iets wat ook ons moderne wêreld tipeer. Dink aan wat die TV, videos, DVDs dikwels bied. Joh die apostel tipeer die lewe van die wêreld so: die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe (1 Joh 2:16). En dan waarsku Joh: Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. Want die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Om die wil van die Here te doen, dit behoort ons as gelowiges te tipeer. Terwyl die ongelowiges hulleself hier op aarde soek, soek ons daarin die Here. Ons roep die Naam van die Here aan. Dis fundamenteel vir ons lewe. Laat dit broer, suster, seun, dogter blyk in alles wat jy doen, in jou studie en in jou werk dat jy alles van die Here verwag. Doen alles in biddende afhanklikheid van God, uit Hom en tot Hom. Wys dat die openbare erediens sentraal in jou lewe staan. Sodat van daaruit jou hele lewe diens aan God is. Net langs die pad is daar werklik 'n toekoms en lewe. 'n Herstelde paradys. Wanneer Petrus in sy Pinksterpreek praat van die oordeel wat oor die aarde gaan kom, voeg hy daaraan toe: en elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)