Paulus roep op tot volharding op die pad van geloofsgehoorsaamheid.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-08-28
Teks: 
I Korinthiërs 10
Preek Inhoud: 

1 Korinthiërs 10:12,13

Ds C Kleyn - Sondag 28 Augustus 2005

Lees: 1 Korinthiërs 10:1-13.
Sing: Ps 86:1,3; Ps 79:5,6; Ps 25:2,4; Ps 19:6,7;
Ps 139:1,12.

Tema: Paulus roep op tot volharding op die pad van
geloofsgehoorsaamheid.

  1. Moenie jouself oorskat nie.
  2. Moenie jou God onderskat nie.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Die kerkraad het met droefheid die onttrekking van enkele
lidmate meegedeel. Hoe ervaar julle so 'n berig? Hoe diep raak
dit julle om te sien dat lidmate hul eie gang gaan en hulle nie
aan die Woord van God gewonne wil gee nie, maar hulle aan
Christus se sorg onttrek? Raak dit jou dat lidmate die geestelike
gawes wat God aan sy gemeente skenk afwys? Is jy werklik bewoë
oor die lot van lidmate wat hulle verhard op 'n heillose pad? Of
moet ons erken dat dit ons amper raak? Of sien ons dit as iets
wat die persone maar self moet uitsoek?

Ja, geliefdes, die laaste pas mooi binne die moderne gees van
individualisme. Volgens die gees van die tyd moet elkeen dit self
uitmaak watter pad hy of sy wil stap. Dis nie ons saak nie en dis
nie so belangrik nie solank die persoon self maar gelukkig
daaroor voel.

Wat dink julle, Is die lewenspad wat iemand kies werklik so
vryblywend? Staan hier nie die eer van God en ons ewige heil op
die spel nie? Laat ons daarom vir mekaar bid en mekaar bly
bemoedig. Laat ons mekaar se redding bly soek. Hulle onder ons
wat in gevaar verkeer, probeer red. Dit kan jou tog nie
onverskillig laat om lidmate in sien verongeluk nie.

Laat ons ons veral nie verhef en op ander sondaars neersien
nie. Dit kan so maklik gebeur, ook wanneer jy dink aan die
persone wat hulle onttrek het. Luister maar na wat hulle gesê
het en kyk maar na wat hulle gedoen het. Verskriklik. 'n Skande.
Maar broer, suster, seun, dogter, moenie dink: dit het hulle
oorgekom, dit sal my nooit oorkom nie. Het jy werklik 'n rede om
jouself te verhef? Wat besit jy wat jy nie ontvang het nie? Dit
kan wees dat jy jou nie aan die gemeente onttrek nie, maar is jy
daarmee werklik beter? Is so 'n stap werklik so vreemd vir jou?
Wat van die eiewilligheid in die gemeente en selfs in ons eie
lewe? Is ek ook nie geneig om my eie weg te gaan, om te doen wat
my pas, sonder om my te steur aan die goeie advies en vermaning
van ouers, medegelowiges en ampsdraers? Is ek van nature enigiets
beter as hulle wat van die kerk vervreemd geraak het? Laat ons
oppas vir die proses van vervreemding wat moontlik reeds by ons
aan die gang is. Dis 'n gevaarlike proses wat geleidelik begin en
groei na totale verwydering tensy ons tydig ingryp en onsself
regruk. En kan dit dalk ook so wees dat ons ten dele die oorsaak
van die vervreemding is?

Laat ons daarom onsself verootmoedig. Verneder jouself voor
God en voor mekaar vanweë jou sondes, bewus van jou eie gebreke
en tekortkomings. Ek weet dat ek uit myself niks beter is nie.
Laat hierdie droewige onttrekkings ons nie net tot
verootmoediging bring nie, maar ook tot dankbaarheid.
Dankbaarheid vir die groot genade van God in my lewe. Dankbaar
dat God steeds weer my hart sag en ontvanklik maak. Ek het alles
aan God te danke. Indien Hy my nie vasgehou het, my nie steeds
weer reggeruk het nie, sou ek al lank afgedwaal het.

In die teks wys Paulus op hierdie sake wanneer hy ons oproep
om te volhard. Ek vat die teks so saam: Paulus roep op tot
volharding op die pad van geloofsgehoorsaamheid.

Ons let op twee gedagtes:

  1. Moenie jouself oorskat nie
  2. Moenie jou God onderskat nie.

"Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val
nie." Hier maak Paulus 'n gevolgtrekking uit die voorgaande.
Paulus het na die konklusie toegewerk deur die geskiedenis van
Israel in die woestyn as 'n voorbeeld aan ons voor te hou. Dit
het op sy beurt weer aangesluit by die einde van die vorige
hoofstuk. Daar het Paulus gepraat oor die deelname aan 'n wedloop.
"Weet julle nie dat atlete wat aan 'n wedloop deelneem, wel
almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop
dan so dat julle die prys kan wen." Tydens hierdie lewe is
daar nooit 'n oomblik waarop jy kan sê dat jy die eindstreep
bereik het nie. Solank as jy hier leef, moet jy bly hardloop,
moet jy jouself bly inspan om die eindstreep te bereik.

Ek moet dus vorder. Stilstand is agteruitgang. Daarom, wie
meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Die geestelike
rykdom wat ek vandag besit bly nie outomaties my deel nie. As ek
dit wil behou, dan sal ek iets daaraan moet doen, myself daarvoor
moet inspan. Ek sal goed moet oppas dat ek nie val nie. Oppas dat
ek nie geestelik agteruitgly nie. Om gewoon in die kerk te bly,
kerk toe te bly gaan, katkisasies en bybelstudieverenigings by te
woon, gaan nie voldoende wees nie.

Broer, suster, seun, dogter, moenie aanneem dat jy nie gou sal
val nie. Is jy seker dat dit jou nooit sal oorkom nie? Kyk maar
na die OT iese gemeente. Om eenmaal geseën te wees, beteken nie
outomaties dat jy altyd geseën is nie. Jy, wat in die verbond en
in die kerk grootword en leef, kan afgewys word. Kyk na die
Israeliete in die woestyn. Wat 'n seëninge het hulle ontvang.
Wat 'n ervaring. 'n Wonderbaarlike uitredding uit Egipte. Die
ongelooflike versorging en beskerming in die woestyn. Tog lees
ons dat God in die meeste van hulle geen welgevalle gehad het nie.

Gemeente, dis opvallend dat Paulus daardie Israeliete ons
vaders noem. Skryf hy dalk vir Joodse Christene? Nee, die meeste
gemeentelede in Korinte is van heidense afkoms. Waarom noem
Paulus die Israeliete van die Ou Verbond dan ons vaders? Om te
benadruk dat ons aan die woestyn reisigers verbonde is. Moenie
dink: hulle is net Israeliete, vreemdes vir ons nie. Wat met
hulle gebeur het, sal ons nooit oorkom nie.

Nee, sê Paulus, hulle is jul geestelike voorouers. Julle is
as lote ingelyf in die stam Israel. Julle is kinders van Abraham,
kinders van Israel. Julle deel in die beloftes wat aan hulle
gegee is. Hul geskiedenis in die woestyn is feitelik julle
geskiedenis. Dit maak Paulus se waarskuwing des te kragtiger.
Hulle wat in die woestyn geval het, was absoluut geen vreemdes
nie. Hulle was julle vaders. En as julle vaders nie gespaar is
toe hulle gesondig het nie, watter hoop is daar dan vir my, hul
geestelike nakomeling, as ek hulle in die kwaad volg?

Paulus wys hoe God onder sy eie volk, binne die kerk, sy
oordeel vel. Waarom doen Paulus dit? Sodat nie een van ons hom
veilig sou waan, net omdat hy by die volk van God behoort nie. Om
lid van die kerk te wees, om van geestelike voorregte te geniet
is nog geen waarborg van God se goedkeuring nie.

Ons voorouers in die woestyn het ook baie voorregte geniet.
Paulus som dit op. Hulle was almal onder die wolk. Die wolk as
teken van God se teenwoordigheid, het hulle ter beskerming oordek.
Hulle het almal deur die see deurgegaan. Die water het as 'n muur
aan albei kante van hulle gestaan. Hulle het daardeurheen gegaan.
Terwyl die Egiptenare wat hulle probeer volg het, verdrink het.

In hierdie verband sinspeel Paulus op die doop. "Almal is
in Moses gedoop in die wolk en in die see." Om onder die
wolk en deur die see te gaan is soos 'n doop. Dit wys op
gemeenskap met die lewende God en die skeiding met die sondige
Egipte. Die OT iese doop word 'n doop in Moses genoem. Daardeur
tree die Israeliete so te sê in gemeenskap met Moses, die
middelaar van die Ou verbond, en so ook in die gemeenskap met God
self.

Jul vaders in die woestyn het so te sê nie net die doop
ontvang nie, maar ook die Heilige Nagmaal ontvang. Daarop word
gesinspeel in die verse 3 en 4. Aan die Nagmaal ontvang ek, as
gelowige, vandag spys en drank tot die ewige lewe. So het dan ons
vaders in die woestyn spys en drank ontvang tot onderhouding van
hul lewens. Nee, nie net tot onderhouding van hul fisiese lewe
nie. Dit was veral 'n geestelike voedsel en 'n geestelike drank.
Bedoel om hul siele, hul lewe met die Here, te voed en verkwik.
Die spys en drank was immers 'n bewys van God se mag en trou. Die
rots waaruit hulle gedrink het was in beginsel Christus. Elke
seën het van Christus, die bron van alle goeie dinge, gekom. Hy
was die onsigbare leier en versorger van sy volk.

Daarom geliefdes, moenie die situasie van die Israeliete in
die woestyn beskou as heeltemal anders as jou situasie vandag nie.
Geestelik is daar min verskil. Sê Openb 12 nie dat ons as die NT
iese kerk in die woestyn verkeer, op pad na die hemelse Kanaän
nie? Vandag moet ons ook drink uit die rots Christus, die enigste
bron van lewe.

Wat was die sondes van ons vaders in die woestyn? In beginsel
was dit die afwysing van Christus. Daarom het God in die meeste
van hulle geen welgevalle gehad nie. Hoekom het hulle geval? Nie
vanweë die Here nie. Hy het hulle alles gegee wat hulle nodig
gehad het. Hy het 'n geestelike doop gegee. Hy het hulle gevoed
met geestelike spys en drank.

Waarom dan hul val? Hulle was hardnekkig. Ongehoorsaam.
Eiewillig. Hulle het hulle nie heeltemal toevertrou aan God se
sorg nie. Hulle het sy leiding geweier. Hulle was nie tevrede met
sy geestelike gawes nie. Hulle wou dinge in eie hande neem. Hulle
het gesoek na sigbare waarborge. Ja, hulle het die gehoorsaamheid
van die geloof geweier. Hulle was nie tevrede met God se geweldig
beloftes en eise nie.

Wat 'n drastiese gevolge. God laat nie met hom speel nie. Jy
kan sy seëninge nie versmaad nie. Daarom het Hy baie van hulle
doodgemaak in die woestyn. Deur die swaard, deur giftige slange,
deur sy verderfengel. In hierdie verband skryf Paulus: "Maar
al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is
opgeskrywe as 'n waarskuwing aan ons." So dat ek en elkeen
van God se kinders sou weet dat die Here nie met hom laat speel
nie, maar dat Hy 'n verterende vuur is vir almal wat weier om na
Hom te luister.

Daarom wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.
Laat die geskiedenis van ons vaders jou waarsku om jou nie soos
hulle deur sondige begeertes te laat dryf nie. Moenie jouself
oorskat nie. Moenie te ligtelik dink dat dit met jou in orde is,
dan niks jou kan oorkom nie.

In Korinte was daar Christene wat vermetel, hoogmoedig was en
gemaak het asof hulle reeds die eindstreep bereik het. In hul
oormoed het hulle misbruik van die Christelike vryheid gemaak of
het hulle neergesien op ander. So 'n oorskatting van jou self is
baie gevaarlik. As jy op jouself, op eie wysheid en kragte
vertrou, dan vra jy om moeilikheid. "Trotsheid kom voor die
verbreking en hoogmoed kom voor die val," vertel Spreuke 16:18
ons. Die kwaad bly ons aantrek. En Satan bly werk om ons tot
sonde oor te haal. In eie krag kan ek nooit hom weerstaan nie. As
ek myself in gevaar begeef, met die gedagte dat niks my kan
oorkom nie, dan lewer ek my uit aan die mag van Satan. En die
einde kan my verderf wees. Daarom wees nugter, waaksaam, waak en
bid dat jy nie in versoeking kom nie. Weerstaan die kwaad vanaf
die begin. Leer van die talryke voorbeelde hoe listig Satan is om
mense in die verderf te stort.

Geliefdes, Paulus se oproep is dringend, veral in 'n
gevestigde gemeente. Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie
val nie. As ek dink dat ek sterk staan, moet ek des te meer op my
hoede wees. Ons het in die geskiedenis van die kerk baie
seëninge ontvang. Ons het deur stryd heen 'n verdieping gekry in
die kennis van die ware leer van die Skrifte. Ons praat van die
vrugte van die Vrymaking. Maar nou verder. Dat ons vandag nog in
die waarheid staan, is geen waarborg dat ons sal bly staan nie.
En ek kan nie begin vertrou op my verlede nie. My verlede gaan my
nie red nie. Dit maak my nie immuun vir gevaar nie.

In Rom 11:20,21 skryf Paulus: "Moenie hoogmoedig wees nie,
maar vrees. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie,
sal Hy miskien jou ook nie spaar nie." Ek kan net volhard
langs die weg van geloofsgehoorsaamheid. Die gehoorsaamheid van
die geloof sweer al die vertroue op eie mag en wysheid af. Geloof
fokus immers op God en weet dat alles van Hom moet kom. Dan ken
ek myself in my swakheid en tekortkomings. Dan is ek ook bewus
van die mag van die bose, wat al te dikwels 'n bondgenoot in my
eie hart vind. Dan weet ek ook hoe gevaarlik dit is om op myself
te bly of om myself aan die sorg en beskerming van Christus se
kerk te onttrek. Gelowiges het mekaar nodig. Om perspektief te
behou, om die regte koers te behou. Die vyand is geen grap nie.
Die sonde kry 'n mens sommerso in sy greep. En as jy Satan
eenmaal ruimte gegee het word die situasie net erger. Ons het dit
gesien in die lewens van tallose wat die Here en sy kerk verlaat
het. Wie die versorging van Christus en sy gemeente verag kom al
hoe verder in die moeras tereg.

Maar, geliefdes, beteken dit dat ons altyd onseker moet bly
oor ons toekomstig lewe met God. Moet ek dan voortdurend leef met
die gedagte: miskien sal ek ook val, selfs ewig val. Nee, Paulus
wys op die sekerheid wat ons in die pad van geloofsgehoorsaamheid
het. Dit het dan niks te doen met ydele selfvertroue nie. So van:
Ek is sterk, ek sal myself staande hou. Hier praat ons van 'n
sekerheid wat buite myself te vinde is, in God. Daarmee is ons
reeds in die tweede punt. Paulus roep ons op om te volhard op die
pad van geloofsgehoorsaamheid. Hy sê nie net: moenie jouself
oorskat nie, maar ook moenie jou God onderskat nie.

In hierdie wêreld is daar voortdurend die versoeking tot
sonde. Daar is tallose mense en magte rondom my wat nie God dien
nie, maar instrumente van Satan is om my tot sonde te verlei. Ek
kan daardie versoekings nie heeltemal vermy nie. Daarvoor sou ek
uit die wêreld moet stap.

God verseker my egter: "geen versoeking het julle
aangegryp behalwe 'n menslike nie." Dis net menslike
versoekings. Dit kom deur mense na jou toe. Dis afgestem op
menslike vermoëns. Wat jy hier ook al ervaar, maak nie saak hoe
groot die versoekings is nie, een ding staan vas: God is getrou.
Hy is betroubaar. Jy kan volkome op Hom staatmaak. Hy doen wat Hy
belowe. Daarom hou Hy Hom aan sy woord vir die gelowige: "Ek
sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie. Daarom kan ons met
alle vrymoedigheid sê: die Here is vir my 'n Helper, en ek sal
nie vrees nie, wat sal 'n mens aan my doen? (Hebr 13:5,6).

Die mens kan niks doen nie. Nie omdat ek van myself so sterk
en braaf is nie, maar vanweë my God. Hy is ook in beheer van die
versoekings. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek
word nie. Wat 'n geweldige troos. God het alle skepsels in sy mag.
Sonder sy wil kan hulle hulle nie roer of beweeg nie. Sonder sy
wil kan geen versoeker my bereik nie. En die versoeker kan net so
ver gaan as wat God toestaan. Die Here God bepaal die omvang van
die versoeking. En Hy hou rekening met die krag van sy kinders.
Hy sal nie toelaat dat jy bo jou kragte versoek word nie.

Geliefdes, in die geloof mag en kan jy volhard. Wanneer jy in
God en sy woord bly vertrou, wanneer jy jouself heeltemal aan Hom
toevertrou, dan kan geen mag in die wêreld jou laat val nie. In
Hom kan jou volhard. Hy laat hulle wat aan Hom behoort nie vir
goed val nie. Met die versoeking gee Hy ook die uitkoms. Hy sorg
vir 'n goeie afloop. Hy gee krag om die versoeking te hanteer. Om
weerstand te bied. Die felheid van die versoeking verdwyn. Na 'n
rukkie is die versoeking geen versoeking meer nie. Want dan kom
jy sterker daaruit te voorskyn. Die verlokking deur jou eie
begeerlikheid - die oorsprong van die versoekings volgens Jakobus
- word dan oorwin. In die beproewing leer jy om jou begeertes aan
God se wil te onderwerp, leer jy om jou hoogmoed en eiesinnigheid
prys te gee. Jy soek uiteindelik jou alles God. En satan moet wyk.

Geliefdes, dit is 'n ernstige saak in ons lewe as kinders van
God in hierdie wêreld. Jy word daagliks tot die kwaad versoek.
En jy kan dit dikwels nie verstaan dat God dit alles laat gebeur.
Nog minder kan jy verstaan dat Hy die maat van die versoeking
bepaal. Hou Hy werklik rekening met my moontlikhede? Versoek Hy
my nie bo my kragte nie? Midde in die stryd, vind ek dit dikwels
moeilik om God se plan te herken. Laat staan om God daarin te
loof. Net die geloof gee uitsig. Nie dat jy dan antwoorde op al
jou vrae kry nie. Maar die geloof vind rus in God. Die geloof
gryp na God, vind krag in Hom. Die versoeking is daar. Fel en
listig. Moenie dit in eie krag aanvat nie. Moenie jouself oorskat
nie. Anders val jy, miskien selfs vir goed. Die versoekings is
daar. Maar God is ook daar. Onderskat Hom nie. Hy het die
teenstanders in sy mag. En Hy is getrou. Wandel ootmoedig met jou
God en jy sal vorder op pad na die eindoorwinning.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)