Die Heilige Gees wys die weg na die volle waarheid.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-09-11
Teks: 
Nederlandse Geloofsbel 7
Preek Inhoud: 

Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 7
Na aanleiding van Johannes 16:12-15

Ds C Kleyn - Sondag, 11 September 2005

Lees: Johannes 14:15-26; 16:5-15; Nederlandse
Geloofsbelydenis, Artikel 7.
Sing: Ps 118:12,13; Ps 143:1,8; Ps 111:1,2,4;
Apostoliese Geloofsbelydenis; SB 43:1,2,5.

Tema: Die Heilige Gees wys die weg na die volle
waarheid.

  1. Hierdie leiding van die Gees word aan die dissipels
    belowe.
  2. Hierdie leiding van die Gees is aan Christus gebind.
  3. Hierdie leiding van die Gees bind aan die Skrifte.

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Wanneer Christus sy heengaan aankondig is die dissipels
ontsteld. Moet hulle Jesus Christus kwytraak? Moet hulle sonder
Hom verder? Nee, dit kan en mag nie. Hulle wil liewer hul lewe
waag om dit te voorkom.

Christus wys op die noodsaak van sy heengaan. Sy heengaan is
nie nadelig vir hulle nie, maar juis voordelig. Want sy Hy, as Ek
nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie, maar as
Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur. So alleen kan sy groot
werk hier op aarde voortgaan. Die Gees moet immers die wêreld
oortuig. Hy moet die wêreld gereedmaak vir verlossing en vir
oordeel.

Gemeente, in hierdie verband praat Christus van die Heilige
Gees wat in die hele waarheid sal lei. Ons lees in Joh 16: 12,13:
“Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan
dit nou nie dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die
waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.”

Hierdie woorde word dikwels aangehaal wanneer oor die
Skrifgesag gepraat word. Verskeie vrae kan gestel word. Die
belofte staan in die toekomstige tyd: Sal Hy julle in die volle
waarheid lei. Beteken die toekomstige tyd dat die Gees nog steeds
met ons op pad is na die volle waarheid? Is God se openbaring
deur die Gees dan wel voltooi, kompleet? Hoe is die verhouding
tussen hierdie belofte en die Bybel soos dit aan die kerk
toevertrou is? Indien die volle waarheid nog nie bereik is nie,
dan kan ons moeilik volhou dat die Bybel met die waarheid saamval.
Dan blyk dit immers dat die Bybel nog aangevul en verdiep moet
word. Dan blyk dit nie af te wees nie.

Dit hoef ons nie te verras nie dat baie mense hierdie woorde
aangegryp het om te bewys dat die Heilige Gees nog steeds
voorgaan met nuwe openbarings, na en naas die Bybel. Die Skrif
word gesien as die eerste aanset, die beginpunt. Dit sou net
’n voorlopige karakter hê. Dit sou voortdurend gekorrigeer
en aangevul moet word. Die waarheid sou deur die leiding van die
Gees steeds weer nuut wees. Deur middel van dialoog sou die mens
steeds verder kom op pad na die waarheid.

Die Roomse kerk beroep hom ook op daardie teks in verband met
sy tradisieleer. Die belofte van die leiding in die volle
waarheid sou volgens hulle gerealiseer word in die kerklike
leergesag. Die Pous en die biskoppe sou opvolgers van die
apostels wees. Hulle sou deur die Gees gelei wees om so die kerk
tot die volle waarheid te bring. Daarom is die RK nie tevrede met
die Bybel alleen nie. Hul kerklike tradisie sou onmisbaar wees.

Ook mense van die mistiek, mense wat die innige vereniging van
die siel met God soek, en sekere Pinkster groepe meen dat daardie
woorde uit Joh 16 hulle houvas bied. Hulle benadruk die
voortgaande werking van die Gees deur nuwe openbarings. Die
geskrewe woord sou dan minder belangrik wees. As jy maar die Gees
se leiding ervaar. Hulle soek dit in besondere ervarings, in die
sogenaamde innerlike verligting. Jy beleef dan dat God jou iets
vertel buite die woord om.

Broers en susters, julle merk wel dat daar baie te doen is
rond die woorde uit Joh 16. Hier loop die wee van die Roomse kerk
en die kerke van die Reformasie uiteen. Hier loop die wee van die
Gereformeerde kerke en allerlei groepe, inklusief die moderne
teoloë, uiteen. Art 7 van ons belydenis gaan oor die
volkomenheid van die HS, sola scriptura, die skrif alleen. In
verband met hierdie belydenis is dit daarom belangrik dat ons
rekenskap gee van die woorde uit Joh 16. Lees ons daar werklik
van ’n deurgaande openbaring na en naas die Heilige Skrifte?
Is die HS dan tog nie volkome en genoegsaam nie? Is ons dan nog
steeds saam op pad na die volle waarheid?

Ek wil vir julle verkondig: die Heilige Gees wys die weg na
die volle waarheid.

  1. Hierdie leiding van die Gees word aan die dissipels
    belowe
  2. Hierdie leiding van die Gees is aan Christus gebind
  3. Hierdie leiding van die Gees bind aan die Skrifte.

Gemeente, om ’n antwoord op die gestelde vrae te gee,
moet ons allereers nagaan wanneer Christus die belofte gee. Dis
duidelik dat Christus daardie woorde tot sy dissipels rig, sy
toekomstige apostels. Hy het drie jare lank met hulle opgetrek.
Hulle het dit wat Hy gedoen het gesien en wat Hy gespreek het
gehoor. Wat hulle gesien en gehoor het, moet hulle gaan uitdra,
verkondig. Ons lees daarvan o.a. in die laaste vers van Joh 15,
’n onderdeel van Christus se afskeidsrede wat ook Joh 16
insluit. Daar lees ons: En julle getuig ook, omdat julle van die
begin af met My is.

Christus se onderrig blyk nog te veel vir die dissipels te
wees. Hulle kan daardie laaste onderrig nie hanteer nie. Christus
besef dat Hy die grens bereik het van wat sy dissipels tans kan
verdra. “Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar
julle kan dit nou nie dra nie” sê Hy in vers 12. Op daardie
oomblik is dit nog te veel.

Uit die voorgaande blyk dat die dissipels daarin ook verhinder
word deur hul droefheid. Hulle staar hulle blind op die afskeid.
Daardeur het hulle geen aandag vir die doel van Christus se
heengaan nie. Die droefheid maak hulle vrywel ontoeganklik vir
nader onderrig oor die weg en werk van Christus. Bowendien is
daar by hulle nog soveel gebrek aan begrip en insig. Hulle kan
die volle waarheid nog nie hanteer nie. Nou nog nie, maar dit sal
binnekort anders word. Dan sal die Gees van die waarheid hulle in
die hele waarheid lei. Alles wat God vir hulle wil bekendmaak,
sal die Gees hulle leer. Hy sal hulle die Skrifte leer verstaan.
Hy sal alle newels laat opklaar. Hy sal die woorde van Christus
– wat hulle nou nog nie kan verwerk nie – helder vir
hulle aandag bring. Ons lees reeds daarvan in Joh 14:26:
“Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my
Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan
alles wat Ek vir julle gesê het.”

Die dissipels moet Christus se getuies wees. Maar hulle kan sy
onderrig hulle nie eie maak nie en dus ook nie onthou nie. Sal
Christus se profetiese arbeid dan na sy afskeid doodloop? Sal
Christus se woorde wat Hy van die Vader gehoor het en vir hulle
deurgegee het, nie meer gehoor word nie?

Die Heilige Gees sal daarvoor sorg dra dat God se openbaring
in Christus nog steeds gehoor sal word. Die Gees sal hulle alles
leer, die volle waarheid. Die woorde van Christus sal nie verlore
gaan nie. Want die Gees sal die dissipels daaraan herinner. En
wel tot in besonderhede. Alles wat die kerk in die toekoms moet
weet van Christus se woorde en dade, sal die Gees in hul
herinnering vaslê, terwille van hul apostoliese verkondiging.

Die apostels sal ook ’n voller en ryker openbaring
ontvang. Die Gees sal toevoeg aan wat hulle gehoor en gesien het.
Wat Christus nog nie kan sê omdat die dissipels dit nog nie kan
verdra nie, sal later wel vir hulle genoem word, deur Christus se
Gees. Alles wat Christus sy wordende kerk wil leer, sal aan die
apostels geleer word. Joh 16 noem ook dat Hy hulle die
toekomstige dinge sal verkondig. Die dinge wat nog moet kom, die
toekoms van kerk en wêreld sal aan hulle voorgehou word.

By dit alles is die Gees aan Christus verbind. Dis die tweede
gedagte. Die leiding van die Gees, wat Christus belowe, is aan
Christus gebind. Die Here laat dit duidelik uitkom. Ons hoor
Christus sê: “Hy, die Gees, sal nie uit Homself spreek nie,
maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek. Hy sal My verheerlik,
omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle
verkondig.” Die Heilige Gees doen sy werk nie op eie gesag
nie. Hy kom namens die Vader en die Seun. Daarom kom Hy ook nie
met ander en eie openbarings van die waarheid nie. Alles wat Hy
hoor sal Hy spreek. Hy verspreek Homself nie, maar Hy gee suiwer
deur wat God wil bekendmaak.

Hier sien ons, geliefdes, die volmaakte samewerking binne die
drie-enige God. Die Heilige Gees gaan uit van die Vader en die
Seun. Die Heilige Gees spreek die woorde wat Hy van albei ontvang.
En die woorde stem volkome ooreen. Immers, alles wat die Vader
het, is myne, sê Christus. Oor Christus is reeds eerder genoem
dat Hy die woorde wat Hy spreek nie uit homself spreek nie, maar
van die Vader wat Hom gestuur het. Die Seun was besig met die
dinge van sy Vader. Al wat Hy gehoor het, het Hy gespreek. Nou
word dieselfde van die Heilige Gees gesê. Die Heilige Gees sal
neem uit wat aan die Seun behoort om dit te verkondig. Die Vader
het homself in die Seun geopenbaar en nou sal die Heilige Gees
die openbaring uitdra. Die dissipels, ons as kerk mag gerus wees:
Jesus se woorde, sy leer van volkome verlossing, sal ongerep en
ongeskonde die wêreld ingaan. Die Gees van die waarheid waarborg
dit.

Die Gees sal leer wat Jesus leer. Geen nuwe waarhede nie, geen
aparte leer nie. Die Gees bind Homself aan die Woord van Christus.
Laat niemand die werk van die Gees daarvan losmaak nie. Asof die
Gees bo die Woord uit en buite die woord om jou as gelowige nog
besondere en aparte waarhede sou laat hoor. Dit het in die
geskiedenis dikwels gebeur. Daarby het mense dikwels ontken dat
die Gees van die Vader en die Seun uitgaan. Deur die Gees los te
koppel van die Seun het mense die openbaring van die Seun, die
Woord van die Vader, agter toe geskuif. Die belangrikste sou wees
dit lig van die Gees. Hierdie dwaling steek steeds weer kop op.
Ons is ook nie ongevoelig daarvoor nie. Wie sou nie graag ’n
besondere geestes ervaring wil hê nie? ’n Innerlike stem
hoor nie? Of ’n inwendige lig sien nie? Of ’n
regstreekse openbaring ontvang nie? So ’n besondere
openbaring sou jou meer sekerheid kan gee. Dan sou jy met meer
vrymoedigheid durf sê dat jy ’n kind van God is. Dan sou jy
met meer oortuiging kan weet wat die wil van God is. Tenminste so
lyk dit.

Maar, broers en susters, die Gees bind Hom tog aan Christus?
Hy spreek niks anders as wat Hy self hoor nie. Hy neem uit wat
aan Christus behoort om dit te verkondig. Sou ek dan die woord
van Christus ignoreer en op soek gaan na ’n woord van die
Gees? Hoe dwaas sou dit wees. Die Gees kom immers juis met die
woord van Christus en wil Christus verheerlik. En daardie woord
van Christus is die evangelie van verlossing vir almal wat dit
glo, vir elkeen van julle wat dit in geloof aanvaar. Sou ek dan
die evangelie mag weier in afwagting van ’n besondere
aanraking deur die Gees? Sou ek dan in onsekerheid mag lewe
totdat ek iets besonders ervaar? Daarmee sou ek feitelik die Gees
van die waarheid afwys en ’n leuengees soek.

Broer, suster, seun, dogter, wil jy geweldige dinge sien en
hoor? Wil jy selfs ’n blik in die hemel werp, lees dan die
Skrifte. Die Gees van die waarheid bind jou aan die Skrifte. In
die Skrifte gaan die hemel vir jou oop. Dit bring ons by die
derde gedagte: Die leiding van die Gees in die volle waarheid
bind aan die Skrifte.

Die vervulling van die belofte dat die Gees die dissipels in
die hele waarheid sal lei, vind ons in die briewe van die
apostels en in die Openbaring van Joh. Die toekomstige tyd van
die belofte het vir ons die voltooide tyd geword: in die woord
wat in die Bybel te boek gestel is. Die leiding van die Gees in
die hele waarheid is definitief in die Skrifte vasgelê.

As ek dit ontken, as ek volhou dat die waarheid nog nie in ons
besit is nie en dat ons nog saam op pad na die waarheid is, dan
ruk ek die belofte los van sy heilhistoriese konteks. Christus
het hierdie belofte aan sy dissipels, sy toekomstige apostels,
gegee. Hy het nog baie dinge gehad om aan hulle te sê, maar
hulle kon dit op daardie oomblik nog nie verdra nie. Tog moet
hulle sy getuies wees. Tog moet hulle die leer van Christus
uitdra. Hulle moet die fondament onder Christus se kerk lê. Die
kerk moet immers vergader en gebou word op die fondament van die
apostels en profete. Die OT is reeds kompleet. Maar die NT moet
nog kom. Ons lees in Hebr 1:1: “Nadat God baiekeer en op
baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die
profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die
Seun.” Daardie woorde wys op die definitiewe karakter van
God se Openbaring in die Seun. Deur die werk van die Gees van die
Waarheid moes hierdie definitief spreke van God vir ons vasgelê
word.

Gemeente, ons sien hoe die Gees Christus se woorde by die
apostels in herinnering bring. Wat het hulle nie na Pinkster
gespreek en getuig nie. Deur die Heilige Gees gedrywe, het hulle
van God gespreek. En het hulle hul apostoliese getuienis
skriftelik vasgelê in die boeke van die NT. Ook in die laaste
Bybelboek, die openbaring van Joh. Die Gees sou die toekomstige
dinge aan die apostels verkondig. Joh op Patmos ontvang die
openbaring van Jesus Christus, wat God hom gegee het om aan sy
diensknegte te toon wat gou moet gebeur. Die apostel Joh skryf sy
evangelie in sy briewe en in sy visioene. Dit staan nou op skrif.
Die Gees het in die volle waarheid gelei. Die belofte is vervul.
Ons kan as kerk gerus wees. Ons kan en mag nou alles weet wat
nodig is. Die definitiewe spreke van God in sy Seun is vasgelê.
Die kanon is afgesluit. Die skrifte is genoegsaam. Na die
onderrig van die apostels wat deur die Gees gelei en geleer is,
het ons geen ander leraars meer nodig nie. Ons het die hele
waarheid reeds in ons besit.

As jy dink dat daar aan die leer van die Skrifte iets
toegevoeg moet word, asof dit gebrekkig en onvolledig sou wees,
dan beskuldig jy nie net die apostels van kwade trou nie, maar
dan beledig jy ook die Heilige Gees. Die Heilige Gees openbaar
vandag geen nuwe waarhede meer nie, laat staan dat Hy ander
waarhede sou openbaar. Sou die Heilige Gees in die voortgang van
die geskiedenis homself teenspreek? Sou die Gees ander waarhede
verkondig vir die moderne mens as Hy die apostels laat verkondig
het? Sou die Gees van die waarheid ’n onbetroubare en
’n misleidende Gees gewees het toe Hy die apostoliese
getuienis vir die kerk gegee het en laat vaslê het? Die
sogenaamde verligte mens van ons eeu laat hom blykbaar deur
’n misleidende gees verlig en nie deur die Gees van die
waarheid nie. Wie dink dat jy die Woord van Christus kan aanpas
aan jou eie subjektiewe insigte en gevoelens, beledig die Gees
van die waarheid, ook al roem hy in die Gees. Mense kan wel dink
dat hulle deur dialoog op pad na die volle waarheid is. Maar in
werklikheid weier sulke persone om hulle aan die waarheid te
onderwerp en kies hulle vir die leuen.

Ons mag as kerk van Christus die volle waarheid in besit hê.
Alles wat ons vir ons salligheid moet glo. Deur die Gees gelei
het die apostels God se definitiewe openbaring in sy Seun vir ons
vasgelê. So kan die kerk ook vandag in hierdie wêreld ’n
pilaar en grondslag van die waarheid wees. Ons kan en moet die
waarheid ophef en uitdra.

Dan moet ons natuurlik wel die getuienis van die Gees aanvaar.
Dit sal moet blyk dat ons die waarheid wat die Gees uit Christus
geneem het ernstig neem. As ek nie die moeite doen om daardie
woord van God te lees en te bestudeer nie, dan hoef ek nie te
verwag dat ek die Gees van die waarheid sal sien nie. Dan sal ek
’n twyfelende siel bly wat heen en weer gedryf word deur
elke wind van lering. Wil jy groot dinge sien en hoor? Wil jy
’n blik in die hemel werp? Lees dan jou Bybel. God openbaar
homself daarin aan jou op ’n ongelooflike manier. Om dit te
begryp is te wonderbaar vir my. Ek ontmoet die Gees van die
waarheid in my Bybel. Hy stel die Christus in die volle lig.
Christus se heerlikheid straal my toe. Aanvaar hierdie heil- en
troosryke woord. Vind daarin jou houvas vir tyd en ewigheid. Die
Heilige Skrif bevat immers volkomme die wil van God, tot
verlossing?

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)