Die lewende God laat Henog met Hom wandel.

Predikant: 
Ds C Kleyn
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2005-09-18
Teks: 
Génesis 5
Preek Inhoud: 

Genesis 5:21-24

Ds C Kleyn - Sondag 18 September 2005

Lees: Genesis 5:1-6:8; Judas 3,4; 12-16.
Sing: Ps 63:3,4; Ps 24:2,3; Ps 16:1,2; Ps 73:10,11;
Ps 73:12.

Tema: Die lewende God laat Henog met Hom wandel.

  1. Wat die wandel inhou
  2. Waar die wandel plaasvind
  3. Waar die wandel op uitloop

 

Geliefde gemeente van ons Here Jesus Christus,

Ons het sopas ’n geslagsregister gelees. Wat sê dit vir
julle? Is dit nie hoofstukke wat ons maklik oorslaan nie?
Geslagsregisters spreek baie van ons nie aan nie. Vir die Ou
Testamentiese gelowiges is dit anders. Die Bybel neem
verskillende stambome. Waarom? Tot verheerliking van die
voorouers? Nee. As jy mooi lees, dan ontdek jy dat die lyste tot
verheerliking van God genoem word. Hulle wys die pad wat God sy
kerk laat volg. Hulle wys die voortgang van God se werk van
verlossing.

Let daarop dat die eerste geslagsregister nie eers die naam
van Kain se geslag noem nie. Net Set se nakomelinge word genoem.
Die geskiedenis van Adam, wat na God se beeld geskep is, word
voortgeset in die geslag van Set. Onder hulle wat na die sondeval
weer na God se beeld vernuwe word. Hier het jy die nuwe mensheid.
Hier sien jy hoe die Here die werke van Satan verbreek en vir
homself ’n volk skep: die saad van die vrou.

Adam en Eva kry kinders. Hulle begin om die aarde te vul en te
onderwerp. Daar kom egter ook negatiewe kragte aan die lig. Ons
lees by herhaling: “en hy het gesterwe”. Die dood het
in die wêreld gaan heers. Maar ondanks die mag van die dood, bly
daar nog wel voortgang. Voordat die dood binnetree, ontvang die
mense kinders en kleinkinders. So hoor jy deur die
geslagsregister heen ook die blye refrein: “Hy het die vader
van ...geword.” En hy het seuns en dogters gehad. Die dood
word voorafgegaan deur nuwe lewe, nuwe geboortes. God gaan verder
in die geslagte.

Vanaf vers 3 neem die geslagsregister ’n vaste patroon
aan. Jy lees eers van die aantal jare wat ’n persoon geleef
het voordat hy ’n stamhouer, ’n seun, gekry het. Daarna
word die aantal jare genoem wat die persoon geleef het na die
geboorte van die stamhouer. Daarna word die opmerking gemaak dat
die persoon ander seuns en dogter gehad het. Ten slotte word die
totale leeftyd genoem en die onvermydelike: “en hy het
gesterwe.”

Gemeente, die mees opvallende afwyking van daardie patroon
vind ons by Henog. By hom word daaraan toegevoeg dat hy met God
gewandel het. En pleks van die refrein “en hy het
gesterwe” lees ons: en hy was daar nie meer nie, want God
het hom weggeneem.

Vanoggend wil ek fokus op hierdie opvallende uitsondering in
die geslagsregister van Adam.

Ek verkondig vir julle: Die lewende God laat Henog met Hom
wandel

  1. Wat die wandel inhou
  2. Waar die wandel plaasvind
  3. Waar die wandel op uitloop

Van Henog word nadruklik gesê dat hy met God gewandel het.
Dit val op in Henog se lewe. Daarin onderskei hy hom van ander.
Dit ontvang alle nadruk. Dit word twee maal genoem. Henog het met
God gewandel. Dit tipeer Henog se lewe.

Maar wat beteken dit om met God te wandel? Dit beteken meer as
om voor die aangesig van God te wandel. Die laaste uitdrukking
word gebruik as God sy verbond met Abraham vernuwe. Die Here sê
dan vir Abraham: wandel voor my aangesig, en wees opreg. Die
wandel voor God se aangesig sien op geloofsgehoorsaamheid.

Om met God te wandel is meer intiem. Dit wys daarop dat jy
saam met God optrek. Dis ’n saak van daaglikse omgang. Jy
verkeer in mekaar se nabyheid. Jy deel met mekaar jou gedagtes en
gevoelens. So word van Henog gesê dat hy met God gewandel het.
Die lewe is vir hom om saam met God te stap. Hy leef as God se
vertroueling, as ’n ingewyde. Daarom verstaan hy God se wil
so goed. By alles wat hy doen is hy nie soseer bekommerd oor wat
mense daarvan dink nie, maar oor wat God daarvan dink.

Dis, geliefdes, die rykste gawe wat God sy kinders kan gee. Jy
kan dit vergelyk met ’n verblyf in die allerheiligste. Jy is
waar God is. Die weldaad gee God vir Henog. Die lewende God laat
Henog met Hom wandel.

Broers en susters, hier sien julle die herstel van die paradys.
In die paradys was daar die intieme omgang tussen die mens en sy
Skepper. Die mens, geskape na God se beeld, het met God gewandel.
Wat ’n glans moet dit in die lewe van Adam en sy vrou gegee
het, toe God in die koelte van die dag in die tuin kom wandel het
en hulle kom opsoek het. Die Here kom sommer hulle besoek. Hy is
tuis onder hulle.

Hoe anders het dit geword deur die sondeval. Dan sien jy die
mens hom voor God verberg. Adam en sy vrou durf nie meer om die
Here te ontmoet nie. Hulle durf nie meer om onder God se oë te
kom nie.

Van Henog word egter gesê dat hy met God gewandel het. God
gee hom ’n intieme omgang met Homself. God kom terug en
bring die mens terug. So is daar ook vandag die intieme omgang
met God weer moontlik deur die Jesus Christus. Die lewe van Henog
is ’n profesie daarvan. In geloof mag jy so te sê by God in
en uitstap. Wat ’n weelde. Wat ’n geluksaligheid. Soos
paradys. Jy mag met God wandel.

Dis nou nog onvolmaak. Dis ’n saak van geloof en nie iets
wat jy sien nie. Maar netnou gaan die verander sodat jy mekaar
van aangesig tot aangesig mag sien. Ongehinderd. Volkome.

Henog het met God gewandel. In hom sien jy die herstelde
mensheid. In teenstelling met die afvallige mensheid van sy dae.
Henog is die sewende van Adam af. Net soos Lameg die sewende is
in die afvallige linie. Maar wat ’n kontras tussen die twee.
In Lameg bereik die goddeloosheid sy hoogtepunt. Lameg wat God en
mens tart: Ek sal dit doen, ek sal dat doen. Laat niemand durf om
my teen te staan nie In Henog sien ons egter die ware godsdiens
sy hoogtepunt bereik. Terwyl die een, Lameg, in hoogmoed dink dat
hy sonder God kan regkom, wandel die ander, Henog, ootmoedig met
God.

Gemeente beteken dit dat Henog hom uit die daaglikse lewe
terugtrek om so sy verhouding met God in afsondering te geniet?
Moet ons hom as ’n soort kluisenaar sien?

Daarop let ons in die tweede punt: waar die wandel met God
plaasvind.

In die lig van die wandel met God is dit opvallend dat ons
lees: “En Henog het na die geboorte van Metusalag nog
driehonderd jaar met God gewandel. En hy het seuns en dogters
gehad.” Veral die laaste woorde sê baie: en hy het seuns en
dogters gehad. Dit wys dat sy wandel met God nie buite die gewone
lewe gestaan het nie.

In die verlede het mense allerlei dinge oor Henog bedink.
Mense het hom as ’n kluisenaar gesien, as een wat hom
onttrek het aan die normale sosiale verkeer om in afsondering te
lewe. ’n Mooi voorbeeld en voorloper van die monnike. Anders
kan jy tog nie met God wandel, is gesê. Kan jy, terwyl jy so
besig is met die beslommeringe van die gewone lewe, so ’n
intieme verhouding met God onderhou? Dit kan tog nie?

Maar die Bybel sê: dis nie onmoontlik nie. Kyk maar na Henog.
Hy het die natuurlike lewe nie veronagsaam nie. Hy het midde in
die lewe gestaan. Hy het intensief die lewe ervaar. Hy het getrou
en ’n gesin gestig. Hy het seuns en dogters gehad. Hy was
’n man en pa in ’n besige huishouding. Hy het sy vrou
en kinders liefgehad en versorg. Hy het dit gedoen met God.
Volgens die woord van God: “Wees vrugbaar en vermeerder en
vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see
en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde
kruip.” Hy was werklik ’n kulturele mens.

Dit sê iets ook vir vandag. Dis nie net moontlik om met God
te wandel te midde van die gewone lewe nie. Hierdie wandel met
God moet juis daar plaasvind, te midde van die lewe, met sy
daaglikse beslommeringe. Jou daaglikse besighede moet ’n
wandel met God wees. Jy moet in jou huwelik en gesinslewe met God
gaan. Ook in jou ongetroude lewe. Om vir ’n maat te soek, om
te trou, om kinders te kry het alles met die wandel met die Here
te make. Jou wandel met God bepaal watter maat jy soek en hoe jy
met jou maat omgaan. Die verhouding met God is nie iets net vir
die Sondag nie of vir jou privaat lewe nie. Die verhouding is
iets van elke dag, ook wanneer jy ’n partytjie gooi en
uitgaan. Dit deurtrek jou hele doen en late, jou studie en werk.
Dit bepaal al jou keuses. God wil met jou wandel reg in die
middel van hierdie daaglikse lewe en hy wil hê dat jy met Hom
daarin wandel. Jou hele lewe moet so te sê ’n Bethel word,
’n plek waar jy God ontmoet en waar jy met Hom wandel. Dis
dan nie belangrik wat mense van jou dade dink nie, maar wat God
daarvan dink, wat Hy wil hê jy moet doen. Dis om te wandel met
God. Weer moontlik deur Jesus Christus. Ook al bly dit tydens
hierdie lewe onvolmaak.

En, geliefdes, so ’n wandel met God maak die natuurlike
lewe soveel ryker. Dit gee glans daaraan. Dit heilig jou lewe en
werk, ook jou studie, jou ongetroude lewe, jou huwelik, jou
gesinslewe. Dit alles ontvang ’n hemelse glans. Dit dra die
stempel van God. Jou lewe word weer in beginsel ’n
afspieëling van God se heerlikheid.

Om met God te wandel maak jou beslis nie ongeskik vir hierdie
lewe nie. Dit hinder jou nie. Laat staan dat dit jou aktiwiteit
sou dooddruk. Inteendeel, dit rus jou juis toe vir diens hier in
God se wêreld. Hoe nouer jou band met God is, hoe meer besef jy
dat daar baie werk is om te doen. Die laste van die lewe word
ligter, jy leer om alles in God se hande te plaas. Daarom is jy
des te gelukkiger. Hoe intensiewer jy met God lewe, hoe getrouer
jy in jou natuurlike verhoudings sal wees, in die samelewing, in
jou huwelik en in jou gesin. Des te yweriger sal jy wees in die
vervulling van jou take. Jy besef immers dat die eer van jou
Skepper en Verlosser die belangrikste is. Jy wandel met God.

Henog wandel met God in die gewone daaglikse lewe. Hy gee sy
volle aandag aan sy gesin en sy werk. Die dinge wat rondom hom
gebeur, laat hom nie koud nie. Hy is aktief in die publieke lewe.
Hy weet wat aangaan en hoe om dit te beoordeel. Juis vanweë sy
wandel met God kan hy in daardie afvallige wêreld nie stilbly
nie. Hy tree op as ’n profeet van God. Hy sien die groeiende
afval raak. Hy het nie net te doen met die geniale pogings van
Lameg se geslag om hulleself te red nie, maar ook waarskynlik met
die verleiding en afval van die kerkvolk, van Set se geslag. Dan
kan hy nie nalaat om te profeteer nie, soos ons lees in Judas:
“Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle, om
gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te
straf oor hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het,
en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom
gespreek het.”

Judas teken Henog as die boetprediker wat God se komende
oordeel aan die afvallige wêreld van sy dae verkondig. Henog
onttrek hom nie, maar gaan uit en verkondig in die naam van die
Here: bekeer julle, want die Here kom as Regter. Reken met God.

Dis opvallend dat Henog in die verlede tyd praat: die Here het
gekom met sy heilige tienduisendtalle. So seker is hy van God se
koms as Regter. Hy sien dit reeds gebeur. Dit kan nie uitbly nie.
As God se vertroueling verstaan hy God se weë. God se oordeel
kom onherroeplik oor alle goddeloosheid. Die Regter staan voor
die deur.

As profeet noem Henog die ontrou van sy dae by die naam. Hy
verswyg of versag dit nie. Tot vier maal toe herhaal hy die skerp
woord goddeloos. Die Here het gekom om al die goddelose mense
onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle
goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die
goddelose sondaars teen Hom gespreek het. Henog herken dit as
goddeloosheid. Goddelose woorde en dade.

En dit lyk nie net die geval in die afvallige geslag van Kain,
met Lameg en sy seuns, nie. Ook in die geslag van Set sien ons
’n deurbraak van goddeloosheid. Dit is baie ernstiger. Die
saad van die vrou word bedreig. Kerkmense word tot sonde verlei.
Dit lyk asof die kerk besig is om wêreld te word.

Dis opvallend dat net van Henog gesê word dat hy met God
wandel. Blykbaar is dit uitsonderlik in daardie tyd, ook binne
die kerk. Wat in Gen 6 oor die kerkmense, die seuns van God,
gesê word, is blykbaar besig werklikheid te word reeds in Henog
se tyd. Die jong manne van die kerk (die Setiete) gaan uit met
die dogters van die Kainiete (die wêreld). Daardie jong manne
word deur uiterlike skoonheid getrek. Die wêreld weet wat
aantreklik is. Gemengde huwelike ontstaan.

Na die moord van Abel is dit Satan se tweede groot aanval op
die saad van die vrou. Nou nie deur geweld nie, maar deur
verleiding. Dis verskriklik dat die kerkvolk hulle laat verlei.
Hulle verander die genade van God in ongebondenheid. Nee,
aanvanklik is dit nie so duidelik nie. Vroom woorde word gebruik.
Wie weet wat God met so ’n verhouding kan doen. Maar
langsaam word die diens aan die Here oppervlakkig en neem die
wêreldgesindheid oor. Dit bring God uiteindelik daartoe om in
Gen 6 te sê dat dit Hom berou dat Hy die mens op die aarde
gemaak het. Oor die algemeen ontken die heilige linie die
antitese en meng met die lyn van Kain. Daarom gaan die Here hulle
straf met die vloed. Henog sien reeds die straf kom wanneer hy
teen die goddelose buite en binne die kerk predik. Die Here kom
om gerig te hou oor alle goddeloosheid. As jy nie vir God se saak
stry nie maar leef soos dit jou pas dan sal jy die oordeel nie
kan ontkom nie, tensy jy jouself bekeer.

Geliefdes, daarmee profeteer Henog teen alle goddeloosheid van
alle eeue. Ook teen die vrydenkers van ons tyd. Ja, as daar iets
is waarvoor ons op ons hoede moet wees, dan is dit die vrydenkers
teen wie Judas waarsku. Die gevaar dat jy opgaan in die vermaak
van die sondige wêreld, dat jy toegee aan sondige begeertes, dat
jy leef soos jy wil, sonder rekening met God te hou, mens
gesentreer lewe. ’n Gevaar ook vir ons vandag. Henog het
reeds daarteen gewaarsku. Ons is gewaarsku. God sal alle
goddeloosheid straf, ook die goddeloosheid met ’n
Christelike sous. God sal die ongebondenheid, sedeloosheid
oordeel, al die afval van Hom en sy woord. Verlating van die Here
en aanpassing aan die wêreld bly goddeloosheid en dit sal nie
ongestraf bly nie, of dit nou buite of binne die kerk voorkom.

Gemeente, Henog wandel met God in ’n wêreld vol
goddeloosheid. As God se profeet. Waar het sy wandel op uitgeloop?
Dis die derde gedagte: waar die wandel met God op uitloop.

Ons lees: Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer
nie, want God het hom weggeneem. Op ’n sekere oomblik is
Henog nie meer daar nie. Hy kan nerens gevind word nie. ’n
Misterie. Maar God verklaar dit vir ons. God het hom weggeneem.
Ons lees in Hebr 11:5: “Deur die geloof is Henog weggeneem
om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God
hom weggeneem het.”

In vergelyking met sy tydgenote is Henog op ’n betreklike
jong leeftyd weggeneem. God bring hom huistoe. In Gen 5 lees ons
die refrein: en hy het gesterwe. Dis hoe die lewe van die gevalle
mens op aarde eindig. Een na die ander sterwe. Dit dood gryp na
elkeen. Die mens – soos die gras is sy dae; soos ’n
blom van die veld. So sterf Adam en Eva, Set, Enos ens. Hulle
lewe hier eindig in die dood. Maar by Henog word die refrein
deurbreek. Henog sterwe nie. Pleks van “en hy het
gesterwe” lees ons “en hy was daar nie meer nie, want
God het hom weggeneem.”

God wys hoe bly Hy met die wandel van Henog is. Henog ontvang
as kroon op die wandel die onverganklike lewe. Die dood kry geen
vat op hom nie. Hy wandel met God. Hy mag bly wandel met God,
reguit na God se hemelse troon.

Wat ’n voorreg. Hy ontvang vrystelling van die droewige
heerskappy van die dood. In hom, die sewende van Adam, wys God
die volheid van sy genade, ook in hierdie verband. Henog hoef nie
die ellende van die dood te deurstaan nie. Hy hoef nie die
pynlike skeiding van liggaam en siel te ervaar nie. Sy liggaam
ken geen verderf nie. Hy gaan reëlreg van hierdie lewe na
heerlikheid toe. Soos Elia vaar hy na die hemel. Hy verruil die
wandel met God in die vreemde met die volkome gemeenskap met God
in die hemel.

Deur geloof ontvang hy wat eendag alle gelowiges sal ontvang:
die ewige lewe. Hier sien julle, broers en susters, so vroeg in
die Skrif reeds ’n profesie van die oorwinning oor die dood.
Profesie van Pase, van Christus se oorwinning. En ’n
voorspel op die laaste dag. Wanneer die gelowiges skielik
weggeneem sal word die Here tegemoet in die lug om altyd by Hom
te wees.

Geliefdes, so praat Henog nog tot ons vandag. Die lewende God
kies hom uit die mense van sy dae uit om met Hom te wandel. En hy
seën die wandel hier op aarde met onverganklike lewe in die
hemel. So verkondig hy vir julle die oorwinning van die lewe,
hier en nou en ewig. Deur Jesus Christus. Wat die dood oorwin het.
Wat gesterf het en nou lewe tot in alle ewigheid. Daarom kan ons
te midde van die gewone daaglikse lewe en stryd sing:

Nogtans sal ‘k altyd by U bly;
Niks sal my van u liefde skei –
U wat my regterhand gevat het,
Vir wie ‘k van harte liefgehad het.
U sal my voortlei deur u raad,
O God, my Hulp, my Toeverlaat,
En na die dag van aardse stryd,
My opneem in u heerlikheid.

AMEN

 

Kopiereg word voorbehou.
Indien u die preek wil gebruik kontak asseblief ds C Kleyn.

Liturgie: 

(kyk in preek)